Читать книгу Gister is verby - Juanita Aggenbach - Страница 8

Hoofstuk 4

Оглавление

Dokter Althea Laubscher knip haar oë teen die skerp ligte van die aankomende motor. Sy flikker haar hoofligte vir die selfsugtige bestuurder, maar dié ry onverstoord verby. Sy stel die radio ’n bietjie harder voor sy op die N1 draai en koers kies huis toe.

Haar weeklikse vergadering op Stellenbosch het laat klaar­gemaak en die hoofweg is stil. Die meeste padgebruikers is waar­skynlik reeds in hulle beddens. Sy kry haarself nie jammer nie; die vergaderings is deel van haar werk. ’n Deel wat sy normaalweg geniet, waar haar opinie hoog geag word deur ander spesialiste.

Net jammer dit het op vanaand geval – die aand waarop haar instink haar stu na haar seun se woonstel in Boston. Om Roelof soontoe te stuur was buite die kwessie. Sy sien nog nie kans vir sy reaksie op haar vermoede nie. Vyf maande gelede, toe Liam se verslawing op die tafel was, het hy dit duidelik gemaak dat hy die kind één kans op rehabilitasie gee. Net een.

Sy skakel haar flikkerlig aan om die Bellville-afrit te neem. Roelof se uitspraak was in elk geval weens onkunde. Waar het jy ooit van ’n CA gehoor wat iets verstaan van die mediese kompleksiteit van opioïede? Heroïen, om spesifiek te wees.

“Too many people take second best,” sing Fairground Attraction. “But I won’t take anything less. It’s got to be-e, yeah, pe-e-e-e-e-erfect.”

Voor Liam se woonstel skakel sy die musiek saam met die motor af. Van die straat af kan sy lig in die sitkamer sien brand. Dit beteken niks. Dit kan sy niksnut van ’n woonstelmaat ook wees.

’n Geniepsige Oktoberwind klap haar hare teen haar gesig toe sy uit die motor klim, ruk dit net weer los toe sy die stringe agter haar oor invou. Sy buk terug in die motor om haar baadjie van die stapel lêers op die passasiersitplek te kry en trek dit aan.

Haar hakke klak op elke trap soos sy opklim na die tweede vloer. Sy suig lug in voor sy klop. Vanuit die woonstel hoor sy beweging, maar niemand kom maak die deur oop nie.

Sy druk weer haar hare geïrriteerd agter haar oor in en klop harder. “Maak oop, dis Liam se ma.”

Die sleutel draai ’n halfminuut later in die slot. Die ketting stuit die deur en die woonstelmaat se gesig verskyn in die gleufie lig. “Hy’s nie hier nie.”

Sy vererg haar bloedig. “Maak oop die deur.”

Dit lyk of die kind dit waaragtig oorweeg om haar teë te gaan. “Nou dadelik!” grom die dier in haar.

Die niksnut gehoorsaam.

Sy probeer om nie te fokus op die varkhok wat hulle ’n woon­plek noem nie. “Wanneer laas het jy vir Liam gesien?”

“Gister. Hy’t eergisteraand hier aangekom, high as a kite. Toe ek gisteroggend hier weg is, het hy nog uitgepass gelê. Gistermiddag toe ek terugkom, was my iPod weg.”

Haar hart ruk. “En gisteraand? Het hy nie gisteraand huis toe gekom nie?”

“Hy het. Toe sê ek hy sit sy voete nie weer hier tot ek my iPod terughet nie. Toe chuck hy.”

“Wie dink jy is jy?” Sy voel sy kan die kind aan sy strot gryp. “Jy huur die woonstel by ons. Hoe kan jy my seun uit mý woonstel sluit?”

“Hy’t my iPod gesteel.”

Toornig loop sy na Liam se kamer toe. Sy bed staan onopgemaak. Klere lê die vloer vol. Sy kyk rond vir ’n naald of sigaret­aansteker, lepel of strooitjie wat rondlê, maar sien niks.

Die niksnut staan haar in die deur en dophou.

Sy tel die klere van die vloer af op en gooi dit in die was­goed­mandjie. “Van wanneer af gebruik hy weer?”

“Ek weet nie.”

Sy gaan staan reg voor hom. “Moenie vir my lieg nie.”

“Ek lieg nie. Ek was die afgelope week nie hier nie. Eergisteraand toe ek terugkom, was die eerste keer wat ek hom weer high gesien het.”

“Hoekom het jy my nie laat weet nie?”

“Ek het vergeet waar ek tannie se nommer gesit het.”

Sy veg om haar frustrasie onder beheer te kry en loop uit die kamer. By die smerige kombuistoonbank haal sy ’n notaboekie uit haar handsak en skryf haar nommer neer. Sy skeur die bladsy uit en gee dit vir hom. “Jy bel my die oomblik as jy vir Liam sien. Dag of nag. En jy sluit hom nie weer uit nie.”

“Have a heart. Hy steel my goed.”

“Sluit dan jou kamerdeur. Jy bel my, hoor jy my?”

Hy knik en druk die nota saam met sy hande in sy broeksakke.

Sy gee hom ’n laaste deurdringende kyk en loop by die voordeur uit, waar die wind weer aan haar karring. Het die kind ooit iets warms aan vanaand?

Sonder om eens daaroor te dink stuur sy haar motor af na Voortrekkerstraat, tot in die maag van Bellville. Die sypaadjies is woelig, met die naglewe van jonges, dwelmverslaafdes en pros­titute in volle gang.

Nêrens merk sy Liam se tingerige lyf nie.

Sy draai by Bellville-stasie in. Haar Audi RS5 trek aandag en sy sluit die deure terwyl sy stadig ry en Liam probeer eien tussen die swendelaars en Somaliërs. Hy is nêrens te sien nie en sy stoei tussen teleurstelling en dankbaarheid.

Hoekom het sy nie gister toe sy niks van hom gehoor het gaan kyk wat aangaan nie? Sy moes toe al geweet het daar is fout. Of toe sy vanoggend gebel het en sy foon af was. Toe moes sy besef het hy het die foon waarskynlik verkoop vir dwelm­geld. Dis immers hoe hulle die eerste keer uitgevind het hy is aan heroïen verslaaf.

Haar donkerkopseuntjie met die ondeunde glimlag. Die een wat in sy skooljare hulle huis gedurig met maats gevul het. Wat ’n onderskeiding in matriek behaal het.

Dieselfde seuntjie wat verlede jaar in sy sogenaamde gap-jaar met die verkeerde mense maats gemaak het. Wat binne ses maande elke dwelmmiddel op die mark probeer het en hom toe vasgeloop het met heroïen. The white lady het hom in haar arms toegevou en vrede gegee, die soort ervaring waarna hy só smag dat sy lyf pyn as hy haar nie het nie. ’n Smagting wat hom dryf om geen respek te hê vir homself of ander se besittings nie.

Terug in Voortrekkerstraat toet motors agter haar terwyl sy die mense op die sypaadjie deurkyk. Sy hoor hulle skaars. Waar slaap haar kind vanaand?

In Parow gee sy die stryd gewonne en stuur haar motor in die rigting van Plattekloof. Sy kan nie heelnag rondry op soek na ’n kind wat nie gevind wil word nie, sê sy vir haarself. Maar voel nogtans soos ’n verraaier, ’n opperste hensopper.

Die motorhuis se lig brand darem, sien sy toe die drieverdie­pinghuis donker voor haar opdoem. Sy druk die afstandbeheer­der en die groot gietysterhekke gly oop.

Toe sy uit die motor klim, los sy die lêers net so op die passasiersitplek. Met die eerste uitsteek van haar hand skakel sy die kombuislig aan en skop terselfdertyd haar skoene uit.

“Hallo, Ma.”

Sy kyk om. “Amara. Ek dog jy slaap al?”

“Nee, ons het eers so ’n uur terug by die huis gekom en toe het ek nog bietjie geleer. Pa-hulle slaap al. Hoe was die vergadering?”

Althea neem die lieflikheid van haar dogter in. Die reguit blik wat altyd belangstel in ’n ander se lewe. Die kind wat haar eie belange so dikwels opsy skuif. Hoe is dit moontlik dat hierdie wese ook uit haar gebore is?

“Dit was goed. Het julle iets van Liam gehoor?”

Amara se gesig verstrak. “Nee. Moes ons?”

“Hy was gisteraand laas by die woonstel. En sy foon is af.”

“Hy’s seker by ’n vriend.”

Dis duidelik dat nie eens Amara glo wat sy pas gesê het nie. Althea stap na die mikrogolfoond om die kos warm te maak wat sy weet haar moeder vir haar sou gelos het.

“Ek is as duxleerling aangewys.” Daar is geen vreugde in Amara se stem nie.

Althea swaai met skaamte om. “Ek is so jammer, ek het heeltemal vergeet van die prysuitdeling.” Sy gee haar dogter ’n drukkie. “Dis wonderlik.”

Amara maak haar los uit die omhelsing. “Pa en Ouma het my ná die tyd geneem vir ’n wafel.”

“Ek is bly.”

Iets in Althea wil huil. Dieselfde iets wat konstant kop uitsteek vandat Liam sy verslawing erken het. En die vrees wat haar van daardie dag af ry: dat sy ’n slegte ma was . . . is. Dis daardie selfde iets wat haar gedurig haar loopbaankeuse laat bevraagteken.

“Ek gaan nou maar slaap,” sê Amara. “Nag, Ma.”

Die soen wat haar dogter haar op die wang gee voor sy gang­af verdwyn, brand op Althea se wang. Nou het sy weer eens skeef getrap met Amara.

Sy haal ’n bottel wyn uit die yskas en gooi vir haar ’n halwe glas. Dan kry sy haar foon uit haar handsak en soek die polisie in Bellville se nommer.

“Van wanneer af is hy vermis?” vra die manstem aan die ander kant.

Sy trek ’n stoel by die kombuiseiland uit. “Die laaste keer dat iemand hom gesien het, was gisteraand.”

“Wat het hy aangehad?”

Sy kan haarself skop dat sy nie die niksnut gevra het nie. “Ek weet nie.”

“Wie het hom laaste gesien?”

“Sy woonstelmaat.”

“Waar?”

“By hulle woonstel in Boston.”

“Het hulle baklei?”

Die verpeste vrae. “Ek vermoed so.”

“Dan het hy seker net vir hom ’n ander plek gekry om af te koel.”

’n Mens sou reken die man het so pas die saak opgelos.

“My seun is verslaaf aan heroïen,” sê sy afgemete. “Hy was vyf maande lank skoon, maar ek het rede om te glo hy het weer begin gebruik.”

“O . . . so hy is ’n druggie.” Die stem is gestroop van alle belangstelling.

“Hy kan iewers in ’n sloot dood lê!”

“Mevrou, ons is baie understaffed.”

“Sê ten minste vir die mense op patrollie om ’n oog oop te hou vir my seun.”

Stilte.

“Hy is een komma sewe agt meter lank,” gaan sy voort, “en hy het donker krulhare. Nie teen sy kop kort nie, maar ook nie op sy skouers lank nie. Hy het groen oë. Sy naam is Liam.”

“Ek sal vir hulle sê om uit te kyk. Totsiens, mevrou.”

“Wag . . . ”

Die foon is reeds dood.

Sy sluk die laaste wyn uit die glas en bel weer die polisiestasie. ’n Ander stem antwoord.

“Ek het so pas my seun as vermis by julle aangemeld. Die man het nie my kontakbesonderhede geneem nie.”

“Hou net aan,” sê die stem.

Sy wag ’n minuut en twintig sekondes.

“Hallo?” antwoord die vorige stem.

“Met wie praat ek nou?” vat sy vlam.

“Konstabel Bruwer.”

“Konstabel Bruwer, ek is dokter Althea Laubscher. My seun is weg. Ek het nodig dat julle, as ’n diens wat julle aan die publiek lewer, kyk of julle hom kan kry. Ek het nodig dat julle my bél wanneer julle hom kry. Jy het dit nie nodig geag om my telefoonnommer te neem nie. Is daar ’n probleem met jou bereidwilligheid om my te help?”

Die man maak keel skoon.

“Is dit nodig dat ek eerder met jou bevelvoerder praat om aan te dring op die diens waarop ek as landsburger geregtig is? Of gaan jy jou werk doen, konstabel Bruwer?”

“Gee my u nommer, mevrou. Ons sal kyk wat ons kan doen.”

Sy gee die nommer, groet met soveel dankbaarheid as wat sy in haar stem kan optower en druk die foon dood.

Haar kos is koud. Sy is in elk geval nie vreeslik honger nie.

Sy sit die bord en leë glas in die wasbak neer en skakel die ligte af. Loop in die donker die trappe op en verby die twee slaapkamers in die gang voor sy by haar en Roelof se kamer ingaan.

Hy slaap genadiglik vas. Soveel soos sy iemand nodig het om hierdie las saam met haar te dra, sien sy nie nou kans vir ’n tirade oor tough love nie. Jy kan nie iemand wat weg is tough love nie, jy moet hom eers vind.

As sy hom kry én hy leef, sal sy die tough love-ding oorweeg.

Middagete bel Althea die polisiestasie uit haar spreekkamer.

“Konstabel Bruwer is nie aan diens nie,” lig ’n vrouestem haar in.

“Who am I speaking to?” leer sy uit gisteraand se fout.

“Constable Miriam Mahlangu.”

“Konstabel Mahlangu. Ek is ’n ma op soek na haar kind.”

“When last did you see him?”

Althea herhaal feitlik woord vir woord die vorige aand se gesprek.

“So he left out of free will?”

“Ja. Nee. Hy is nie toegelaat in sy woonstel nie.”

“If he left out of free will, you cannot report him as a missing person. You can only ask the police officers in the area to keep an eye out for him.”

“Dan vra ek nou weer.”

Weer beskryf sy hoe Liam lyk, weer verskaf sy haar nommer. Dis Vrydag. As sy teen vanaand nog niks van hom gehoor het nie, sal sy vir Roelof moet sê.

Toe sy die telefoon neersit, piep haar selfoon. Is ons nog aan vir vanmiddag? Dis Ilza.

Beslis, laat weet sy terug. Sy moet met iemand praat.

Heelmiddag konsentreer sy op elke pasiënt se behoeftes, vrese en vrae. Tussendeur vat sy haar foon voos om te kyk of daar oproepe of boodskappe was.

Toe dit oplaas in haar laai vibreer, skrik sy haar yskoud. “Ver­skoon my, asseblief, ek verwag ’n belangrike oproep.”

Die pasiënt, met die vreugdegloed van ’n vrou wat pas gehoor het haar kanker is in remissie, glimlag. “Geen probleem nie.”

Dis die huisfoon, sien Althea. Sy oorweeg dit om nie te antwoord nie, maar bedink haar. Vir al wat sy weet, het Liam by die huis aangekom.

“Ek is net gou in ’n konsultasie,” antwoord sy. “Kan ek terug­bel?”

“Heeltemal reg,” sê haar moeder. “Dis niks dringends nie.”

Sy druk die foon dood en kyk op in die pasiënt se belangstellende blik. Skielik wil sy die vrou so gou moontlik uit haar kantoor hê en hier wegkom.

“Het jy enige verdere vrae?”

“Nee, dokter. Baie dankie, vir alles.”

Sy staan op. “Dis ’n plesier. Ek sien jou dan weer oor ’n jaar.”

Verlig blaas Althea haar asem uit. Die laaste pasiënt vir die dag is weg. Sy skakel haar moeder terug.

“Ma is so jammer Ma het jou gepla. Ek het nie gedink nie.”

“Dis niks. Hoekom soek Moeks my?”

“Ek wou net sê die vroue by die senior klub wil vanaand gaan brug speel, so ek is nie by die huis vanaand nie.”

“Dis reg. Moeks kan mos maar kom en gaan soos Moeder wil.”

“Ek wil net nie hê julle moet julle bekommer oor my nie. Ek los die kos in die louoond.”

Haar liewe moeder. “Gaan geniet die aand, en moenie oor ons worry nie.”

Sy skryf haar prosesnotas klaar en skakel die rekenaar af. Dit was ’n lang, uitmergelende dag.

“Sien Maandag,” wuif sy met ’n geoefende glimlag vir die ont­vangspersoneel en neem die hysbak na die parkeerarea, waar haar motor haar blink en rooi inwag. Heeltemal ongepas vir die gemoedstemming waarin sy verkeer. Met die uitry slaan sy die Audi se swart opvoudak af om die lenteson op haar lyf te voel.

Ilza wag reeds vir haar by die wynplaas se restaurant.

Sy staan op toe Althea nader kom. “Ek het reeds vir jou ’n glas rooiwyn bestel.”

“Fantasties.” Althea soengroet haar. “Ek het dit nodig.”

Die kelner staan nader.

“ ’n Porsie California rolls met salmon en ’n porsie salmon roses, asseblief.” Althea kyk na Ilza. “Waarvoor is jy lus?”

“Dieselfde.”

Althea proe aan die wyn, sit agteroor en wens die dag se spanning wil wyk.

Ilza se wenkbroue lig. “Dit lyk omtrent of jy ’n rowwe week agter die rug het.”

Althea vryf oor haar stywe nekspiere. “Liam is weg, twee dae al. Die laaste keer toe sy woonstelmaat hom gesien het, was hy blykbaar – and I quote – high as a kite. Hy is met die woonstelmaat se iPod vort.”

Sy neem nog ’n sluk van haar wyn. “O nee, wag, die laaste keer toe Liam se woonstelmaat hom gesien het, het hy Liam die woonstel belet omdat Liam sy iPod gesteel het.”

“Dis verskriklik.”

“Ek vermoed Liam het sy selfoon vir dwelmgeld verpand, want dis ook al vir twee dae af. En die polisie is traag om die ma van ’n druggie te help.”

“Sjoe. Wat sê Roelof?”

“Hy weet nog van niks. Ek het besluit as ek teen vanaand nog niks van Liam gehoor het nie, sal ek vir Roelof moet vertel. Maar genoeg van my treurmares. Hoe gaan dit met jou?”

“Goed. As jy nie die twee pasiënte in ag neem wat hierdie week gesterf het nie.”

Althea skud haar kop, dankbaar vir die rigtingverandering in die gesprek. “Ek weet eerlikwaar nie hoe jy dit hou nie. Hoekom spes jy nie eerder in iets anders nie? Longe se prognose is altyd so depressing sleg.”

“En nou gaan jy vir my sê borste is beter?”

“Ten minste werk jy dan net met vroue, en vroue is fighters. Mans is so limited in hulle herstel. Vroue vat wat na hulle kant toe kom en kom sterker daar uit.”

“Praat ons nou net van kanker?”

“Amara is as duxleerling gekies,” sê Althea. Nou is sý die een wat die onderwerp verander.

Ilza se frons wyk. “Dis great!”

Althea glimlag. Die spanning gee bietjie skiet. “Niemand kan sê sy doen nie haar naam gestand nie.”

“Ja, jou onomatoloog.”

“Ek sê jou, daar is groot waarheid in die betekenis van ’n naam. Dis wat jy oor en oor hoor, dit gee inspraak in jou lewe.”

“Wat beteken Amara nou weer?”

“Sterk, vroulik en stylvol, en sy is elke liewe een daarvan.”

“Of sy het jou as haar rolmodel.”

“My moeder het die kinders grootgemaak, nie ek nie.”

“Nonsens. Jy bly hulle ma. Niemand het ’n groter impak op ’n kind se lewe as hulle ma nie. Veral nie op ’n dogter nie.”

“Yes, mother of plenty.”

Ilza trek ’n gesig. “Ja, die wysheid van die kinderlose. Ek het nie eens gebodder om hulle te kry nie. But take it from me: as Amara aan ’n rolmodel dink, dink sy nie aan haar ouma nie.”

Die kelner sit die sushi voor hulle neer.

“En . . . wat beteken Liam?” vra Ilza versigtig.

Althea sug. “Ek het nog nie die belangrikheid van ’n mens se naam besef toe hy gebore is nie. Hy is in elk geval na sy oupa vernoem. Ek het eers later uitgevind sy naam beteken ‘wil’ en ‘valhelm’.”

Ilza druk ’n salm-en-rysrolletjie in haar mond. “So hy het ’n sterk wil, maar hy het ’n valhelm op om hom te beskerm.”

“Kom ons hoop net daardie valhelm breek nie.”

Gister is verby

Подняться наверх