Читать книгу Gister is verby - Juanita Aggenbach - Страница 5
Hoofstuk 1
ОглавлениеDie muurhorlosie in die sonarvertrek tik in duidelike slae die sekondes af.
Nadine sluk. “Kan ek net eers my man bel?”
Dokter Neethling vang die sonar-tegnikus se oog voor hy simpatiek na haar kyk. “Natuurlik, neem jou tyd.” Hy krabbel iets in sy notaboek en hou die papier na haar toe uit. “Dokter Van Zyl wag vir jou by hierdie kantoor.”
Met snel gedagtes en trae hande trek Nadine die bra en bloes wat sy in die aantrekhokkie gelos het aan. Haar hart klop angstig in haar ore. Sy hang haar handsak oor haar skouer en stap nikssiende tot by haar motor in die parkeerarea.
Die motor is warm van heelmiddag se staan in die son.
Sy draai die venster af en bel vir Pierre wat bly klink om haar stem te hoor.
Die groeiende vrees vir die draaikolk wat haar intrek kry die oorhand en sy snik ’n groet uit.
“Wat gaan aan? Was jy in ’n ongeluk?”
“Die ginekoloog het my vir ’n mammogram gestuur en . . .” Nog ’n snik smoor verdere woorde.
“Nadine?”
Sy vee haar nat hande aan haar broek af. “Hulle wil ’n biopsie doen. By ’n chirurg. Nou.”
“Ek is op pad.”
Nadine kyk na die foon wat skielik stil geword het in haar hand. Pierre is op pad, eggo dit terwyl sy die venster weer toedraai en terugstap hospitaalgebou toe, na die onbekende dokter Van Zyl toe wat haar haar bloes en bra laat uittrek.
“Kom ons begin by die begin,” sê dokter Van Zyl. “Het jy enige trauma, soos ’n harde stamp op jou bors, gehad?”
Nadine hou die dun jurkie wat hy haar gegee het om haar mee te bedek toe waar sy op die ondersoekbed sit. Dokter Neethling het dieselfde gevra voor hy haar vir die mammogram gestuur het. “Nie wat ek kan onthou nie. Kan ’n stamp so iets veroorsaak?”
“Trauma van die bors veroorsaak nie kanker nie, maar dit kan lei tot vetnekrose in ’n gebied waar die weefsel beseer was. Die vet in die selle word dan vrygestel in die weefsel en veroorsaak ’n inflammatoriese respons wat as ’n knop gevoel word. Jy kan maar plat lê, asseblief.”
Sy maak haar oë toe toe hy die bietjie bedekking wegneem.
“Ek gaan eers doodspuit. Dis gevoelig, ek is jammer.”
Skok stol in haar keel toe sy die eerste brandsteek langs haar tepel voel. Nog ’n steek laat haar die laken in haar linkervuis vasgryp.
Nog ’n keer. En weer. Dis sigaret-teen-die-vel-dooddruk-seer.
Sy is uitasem toe die naald ’n vyfde keer haar liggaam binnedring. “Doen jy al die biopsie?”
“Nee, ek spuit nog net dood. Ek is jammer, ek weet dis seer.”
Sy klem haar kake saam en kry eers ordentlik lug in haar longe toe hy ná die sesde keer die inspuitnaald eenkant sit.
“Ons gaan ’n trucut-biopsie doen.” Hy tel ’n dik naald op. “Hiermee verwyder ons ’n strooitjie weefsel uit die knoppie in jou bors en stuur dit na ’n patoloog om te bepaal of dit kankerselle bevat. Is jy reg?”
Toe die dikker naald deur haar vel breek, gryp sy die laken met haar linkerhand vas en draai haar kop na die muur toe.
Pierre blaas gefrustreerd sy asem uit toe die parkeeraanwyser beduie dat al die plekke gevul is. Die hartklop wat in sy keel hamer, het nog nie bedaar vandat hy Nadine se oproep gekry het nie.
Verwoed maak hy ’n driepuntdraai en stuur die motor na die dakparkering die verste weg van die hospitaal se ingang. Hy parkeer skeef in die eerste oop plek en sluit die motor met die afstandbeheerder toe hy al ’n paar tree daarvan weg is.
Daar is niemand by die ontvangstoonbank nie. Die klerk by die fotostaatmasjien neem ’n ewigheid om om te draai van waarmee sy ook al besig was.
Hy tik met sy vingers op die toonbank. “Ek soek na die ginekoloog by wie my vrou was.”
“Hier is vier ginekoloë by ons.” Sy kyk oor haar bril na hom. “Het u dalk die dokter se van?”
“Nee.”
“Ek skakel hulle sommer gou. Wat is u vrou se van?”
“Duvenhage.”
“U vrou was by dokter Neethling,” sê die klerk toe sy die foon neersit. “Sy is nou by dokter Van Zyl, die chirurg. Volg net die gang, draai regs en weer regs, sy spreekkamer is aan die linkerkant.”
“Dankie.”
Pierre haas hom die gang af. Hy het geweet daar is fout. Die eerste keer toe hy bloed op Nadine se bra gesien het, het hy vir haar gesê om by ’n dokter uit te kom.
Maar toe weet sy mos beter, wil vir hom vertel dis weens haar baie oefening. Watse snert.
Die vrou by die chirurg se ontvangs lyk of sy reeds opgepak het vir huis toe gaan. “Middag, meneer. Kan ek help?”
Hy laat rus beide sy hande op die toonbank. “Ek hoor my vrou is by dokter Van Zyl. Nadine Duvenhage?”
Die vrou knik. “Sy behoort nie meer lank te wees nie. U kan gerus sit.”
Hy kies ’n sitplek in die verlate wagkamer en tel die boonste van die stapel tydskrifte op. Hoe lank neem ’n biopsie? Wat behels ’n biopsie?
Blindelings blaai hy deur die tydskrif. Maak dit toe en sit dit neer. Wie probeer hy bluf?
“Ons is klaar.” Dokter Van Zyl lyk verlig toe hy die naald neersit.
Nadine vou die jurk oor haar borste toe. “Wanneer kry ek die uitslag, dokter?”
“Ons behoort jou teen môre al te laat weet.” Hy trek die handskoene van sy hande af. “Gaan nou huis toe en ontspan. Jy het ’n lang middag agter die rug.”
Om haar bors wat so seer klop te lawe skuif Nadine dieper onder die water in. “Ek moes ná die mammogram werk toe bel om die middag af te vra. En dít drie weke nadat ek daar begin het.”
Pierre leun oor om nog warm water in die bad te tap. “Het jy vir hulle gesê hoekom?”
“Ja. Hannah het net gesê: ‘You gotta do what you gotta do.’”
“Ek is seker hulle sal nie ’n issue hê nie.”
Sy vee met haar nat hande oor haar gesig. “Ek kan nie gló wat vandag gebeur het nie. Hier gaan ek vir my gewone jaarlikse ondersoek ginekoloog toe en om met dokter Neethling te praat oor ons wat met ’n gesin wil begin. Toe kry ek nie eens kans om hom te vra oor die Pil wat ek vandag wou los nie.”
“Hy het duidelik belangriker dinge gehad om te hanteer.” Pierre begin sy lyf inseep, ’n seker teken dat hy nie verder daaroor wil praat nie.
Sy steek haar hand uit om aan hom te raak. “Ek is jammer.”
“Waaroor?”
“Oor ek nie na jou geluister het nie . . . toe jy gesê het ek moet by ’n dokter uitkom.”
Hy antwoord nie, maar hy hoef ook nie: sy stywelyn lippe spreek duidelik genoeg.
Sy kyk af na haar bors vol steekmerkies. “Sê nou dis kanker?”
“Moenie spoke opjaag nie.” Hy spoel sy lyf af, staan op en begin afdroog. “Ek het besluit ek gaan nie meer môre Pretoria toe nie.”
“Danie is jou beste vriend, jy kan nie sy bachelor’s mis nie.”
“Ek kan nie in Pretoria sit en jy hier in die Kaap met al dié dinge nie. Jou ma-hulle is negentig kilometer weg in Villiersdorp.”
“Jy sien al maande uit na julle kuier. En dis net ’n naweek. Gáán, Pierre. Jou hier-wees kan nie die uitslag verander nie, selfs al is dit slegte nuus.”
Hy vou die handdoek om sy lyf en sak op die bad se rand neer. “Ek wil hier wees vir jou.”
“Jy gaan net ’n oproep ver wees.”
Hy kyk haar stip aan voor hy opstaan en uitloop.
Sy sit regop en neem die seep. Hoekom stuur sy hom weg Pretoria toe? Sy wil hom tog nêrens anders hê as hier by haar nie.
Sy was haar lyf, vermy haar bors. Miskien hoop sy dat as hulle aangaan met hulle lewe soos hulle dit beplan het, sal die biopsie se uitslag nie alles omvergooi nie.
Sy weet nie. Sy weet nie meer wat sy weet nie.
Toe die sein in die vliegtuig opklink, maak Pierre sy sitplekgordel los. Hy skakel dadelik sy selfoon aan en sien verlig daar was nog geen oproep van Nadine nie. Of is dit juis ’n slegte teken? Sy het so ’n gewoonte om eers self oor iets te tob voor sy met ander daaroor praat.
Nee, sy sal hom dadelik bel. Hierdie ding was gisteraand te swaar op haar gemoed. Heelnag het hulle lê en rondrol. Later het hy dit oorweeg om op te staan en in die studeerkamer te gaan werk, maar dan sou hy aan Nadine te kenne gee dat die ding hom ook bang maak.
Hy ry met die rolband tot in die aankomsaal om sy naweeksak tussen die ander bagasie uit te soek en glimlag breed toe hy Danie raaksien. “Is jy reg vir jou groot naweek?”
“Is ’n man ooit nie reg nie?” Danie klap hom op die skouer. “Die manne wag by my huis vir ons. Ons val sommer dadelik in die pad.”
“Die manne” is ’n vrolike lot, sien Pierre toe hulle by Danie se oprit intrek.
’n Groot man steek eerste sy hand uit om te groet. “Anton is die naam. Sit sommer jou sak hier in.”
Die kattebak waarna hy beduie, lyk vir Pierre of hulle ’n wegneem-sjebeen wil begin.
“Hier is vir jou en Danie elkeen ’n bier,” sê Anton, “julle bestuur mos nie. Dikhololo, hier kom ons!”
Pierre draai die bottel se prop af en klink dit teen Danie s’n toe Anton agter die stuur inklim.
Hulle skuif op die viertrek se agtersitplek in. Die musiek is hard en die bier verfrissend. Hy kan hom amper verbeel hulle is weer tieners, in Danie se ouer broer se kar op pad Menlyn toe om te gaan fliek; Danie agter een of ander blondekop aan en hy wat saamgesleep word vir morele ondersteuning.
“Hoe gaan dit met Nadine?” vra Danie en sluk aan sy bier.
“Goed. Sy het as regsadviseur by Fashion Corp begin werk so drie weke terug. Sy love dit.”
“Nice. Sy het mos altyd gesê sy wil vir hulle werk.”
“Jy moet haar sien. Dit lyk elke dag of sy uit ’n modetydskrif stap as sy werk toe gaan.”
“Snazzy vrou wat jy vir jou losgeslaan het. Nie dat ek verstaan wat sy in jou sien nie.”
“Ja, ja. Geen mens sal ook weet wat Lienka in jou sien nie, en nou staan julle op trou.”
Danie klink sy bottel teen Pierre s’n. “Can you believe it.”
Pierre lag. “Hoog tyd ook. Dis die beste ding wat jy ooit kan doen.”
Nadine kyk op toe Hannah langs haar in die oopplankantoor verskyn.
“Did you hear anything from the gynae yet?”
“Nog niks,” sê sy so neutraal moontlik sonder om na Hannah te kyk. Gelukkig wys haar lessenaar muur toe, sodat sy nie heeldag die ander se kyke hoef raak te sien nie.
“Riana says you must let her know as soon as you hear anything. And you can go home immediately if it’s bad news.”
“Dankie.” Sy konsentreer op die kontrak voor haar. Sy wil regtig nie nou hieroor praat nie. Die feit dat die dokter haar steeds nie gebel het nie, is besig om haar tot raserny te dryf.
Hannah leun teen haar lessenaar aan. “Why do they take so long?”
“Hannah.”
“Sorry. I’m just so stressed for your sake. And you look so cool, calm and collected.”
“Ek probeer om nie daaraan te dink nie.”
Maar sy dink daaraan. Vandat sy vanoggend haar oë oopgemaak het, is dit al waaraan sy dink. Elke aksie wat sy uitvoer, elke iets wat sy as vanselfsprekend aanvaar, laat haar wonder hoekom sy die eenvoud daarvan voorheen nie meer waardeer het nie.
En elke oomblik dink sy: Hoekom bel dokter Neethling nie? Het hy haar nommer verloor? Moet sy hóm bel? Het haar biopsiemonster weggeraak? Het gister regtig gebeur, of was dit net ’n nare droom?
Dan voel sy haar gekneusde bors en weet ’n nagmerrie maak nie fisiek seer nie.
Toe die Durbanville-nommer uiteindelik oor haar selfoonskerm flits, wil sy nie meer weet wat die uitslag is nie. Met ’n donderende hart loop sy badkamer toe vir meer privaatheid voor sy antwoord.
“Middag, mevrou Duvenhage, dis dokter Van Zyl wat praat. Is jy al by die huis?”
“Nee, ek is nog by die werk.” Sy stut haar kloppende lyf teen die muur.
“Ai, dis nou jammer. Ek het spesifiek tot nou gewag omdat ek gehoop het jy is al tuis.”
Sy druk haar handpalm teen haar bors. Sy wil dit nie hoor nie.
“Mevrou Duvenhage, daar is nie ’n maklike manier om dit te sê nie . . .”
Haar verstand slaan toe en sy wil met alle geweld die foon van haar oor af wegskeur, maar haar hand bly bewegingloos.
“Daar is veelvuldige selle wat positief toets vir kanker.”
Haar knieë knik en sy sak stadig met haar rug teen die muur af. Haar gedagtes hardloop rond om die regte vraag te gryp, maar kry nie een raakgevat nie.
“Oukei, dokter,” sê sy oplaas.
“Ek wil jou so gou moontlik sien om oor ’n behandelingsplan te praat. My kantoor sal jou bel vir ’n afspraak. Gaan jy nou net huis toe, ons praat Maandag.”
Sy druk die foon dood en sit vir ’n ruk net so.
Gaan jy nou net huis toe . . .
Sy skuur teen die muur regop en haal diep asem. Nou weet sy.
“What did the doctor say?” loop Hannah haar trompop toe sy die badkamerdeur oopmaak.
“Dis kanker.”
“Oh no! I’m so sorry.”
Hannah druk haar te styf vas en maak haar bors seer. “Sê asseblief vir Riana ek gaan huis toe.”
“Will you be alright? Must I take you home?”
“I’ll be fine.”
Met bewende vingers skakel sy die rekenaar af en neem haar handsak. Dit voel of sy buite haar liggaam uit die kantoor stap en in haar motor klim, dit aanskakel en wegtrek.
Die verkeer kruie op die gewone Vrydagmiddagmanier. Die nuusleser struikel oor ’n woord, vra verskoning en lees die res van die berig. Sy sit die flikkerlig aan en neem die afrit huis toe.
Heeltyd het sy gedink daar moet ’n ander verklaring wees vir die knoppie in haar bors. Heeltyd was sy oortuig dit kan nie borskanker wees nie. Dit kan nie, want sy is te jonk. Sy is te fiks. Heeltyd soek sy die sondebok tussen digte borsweefsel, melkklierontsteking en te harde oefening. Leen sy haar ore uit aan haar ma en Adri.
Hoe kon sy so dom gewees het?
Adri het wel ook gesê sy moet vir die wis en die onwis ’n mammogram laat doen. Maar Adri is ’n suster by ’n hospitaal waar sy daagliks in die verkeerde kant van diagnoses vaskyk, natuurlik sal sy meer paranoïes wees. Die digteweefselteorie het Nadine beter gepas. Dit was minder vreesaanjaend.
Sy moet Pierre bel.
Vandat hy die eerste keer die bloederige afskeiding op haar bra gesien het, het hy gekarring dat sy daarna moet laat kyk. Maar sy wou nie. Sy het beter geweet. Die afskeiding het in elk geval gekom en gegaan.
Sy trek voor die huis in en kyk na die motorhuisdeur voor haar. Met ’n steekpyn in haar binneste onthou sy hoe Pierre met uitgestrekte arms daar gestaan en “Surprise!” geroep het ná haar eerste dag by Fashion Corp. Toe het hy haar uitgeneem vir ’n bord garnale om haar nuwe pos te vier.
Sy klim uit toe die nostalgie haar wil beetkry. Die sleutel knars in die veiligheidshek, dan in die voordeur. Sy sluit weer agter haar toe.
Is dit die einde?
Swaartekrag trek haar vloer toe. Vrees neem van haar besit en loop oor haar wange tot op haar skoot. Gaan sy nie oud word saam met Pierre nie? Gaan sy nooit haar eie kinders sien nie?
Toffie kom skuur teen haar.
“Kom hier.” Sy snuif en tel hom op. Die kat se lyf is vertroostend teen hare terwyl sy oor sy sagte pels streel.
Gister was die dag dat die dokter vir haar moes sê sy kan die Pil los. Hy moes sê hulle kan met ’n gesin begin. Hy moes sê alles lyk goed.
Gister is verby.