Читать книгу Gister is verby - Juanita Aggenbach - Страница 4
Proloog
ОглавлениеNadine hou Althea dop. Soekend na emosie, betekenis, erkentenis, énigiets terwyl die onkoloog die lêer voor haar deurblaai.
Sy vind niks. Nie goedkeuring nie. Nie afkeuring nie. Niks.
“O.” Althea frons. “Die beenflikkergram se uitslae is nog nie hier nie. Gaan maar gou vir jou bestraling. Dit help nie ons bespreek jou resultate sonder die beenflikkergramverslag nie.”
Opeens is Nadine terug in dokter Neethling se spreekkamer amper agt maande gelede. Die dag toe hy haar gestuur het vir ’n mammogram. Toe hy geweet het sy het waarskynlik kanker in haar bors, maar hy wou dit eers bevestig.
Althea tel die telefoon op. “Jy kan maar gaan. Ek sien jou ná die bestraling.”
Jelliebene dra Nadine die kantoor uit.
Enigiemand wat skoon resultate op daardie verslae gesien het, sou geglimlag het, maar Althea Laubscher se gesig het geen spoor van ’n glimlag nie.