Читать книгу Gister is verby - Juanita Aggenbach - Страница 7

Hoofstuk 3

Оглавление

Maandagoggend sluk Nadine Rescue Remedy voor sy uit haar motor klim om die dag aan te pak. Sy hoop dit hou haar oë droog vir die volgende paar uur.

Hannah lyk uit die veld geslaan om haar én die lentehoed in haar hande te sien. “What are you doing here?”

“Ek werk hier,” hou sy haar moedig, al wil sy veel eerder in die fetusposisie in haar bed opkrul.

Toe haar foon lui, tel sy dit dadelik op, voor Hannah haar huis toe kan jaag.

“Nadine, dis Riana. Kom sien my in die conference room, asseblief.”

“Ek is nou daar.”

Sy slaan hoendervleis uit. Haar departementshoof het haar nog nooit raadsaal toe geroep nie. En raadsaalgesprekke is gewoonlik nie ligte agtergrondmusiek nie.

“Riana wil my sien.” Sy prop die lentehoed in Hannah se hande.

Fashion Corp sal haar nie kan afdank nie, bespiegel sy op pad raadsaal toe, sy ken haar regte. Maar hulle kan begin fout vind met haar, dit weet sy ook. Dis die eeue oue manier om iemand uit te werk. Die Rescue Remedy trek swaar teen die trane wat wil uit.

Riana staan by die tafel toe sy die raadsaal se deur oopmaak. En toe sy die trane in die ouer vrou se oë sien, verloor die Rescue Remedy die geveg.

“Ek het nie beplan om te huil nie.” Riana blaas haar neus. “Jou nuus van Vrydag lê my baie na aan die hart. My beste vriendin is agtien jaar gelede met borskanker gediagnoseer. Kom sit.”

Sy gehoorsaam dankbaar. Wens sy het haar handsak by haar gehad om ’n sneesdoekie daaruit te kry.

“Ek wil hê jy moet weet daar is hoop, Nadine. My vriendin wat borskanker gehad het, is ’n apteker hier naby. Haar naam is Lerine. Bel haar, sy wil graag met jou gesels en jou help waar en hoe sy kan.”

Sy knik en neem die visitekaartjie.

Riana staan op. “As jy enigsins siek voel, gaan huis toe. Of bel as jy nie kans sien om in te kom werk toe nie.”

Sy volg die ouer vrou by die deur uit. By haar lessenaar gooi sy die visitekaartjie in die boonste laai. So lief en dierbaar soos dit van Riana is, is daar geen manier dat sy ’n vreemde vrou gaan bel om oor haar kanker te praat nie.

Wat moet sy sê? Hallo, my naam is Nadine en ek het bors­kanker? Sy is nie ’n alkoholis by ’n AA-vergadering nie.

Sy begin werk en konsentreer harder as ooit tevore. Maak seker sy vergeet nie een komma of punt in die kontrak waarmee sy besig is nie. Maak seker sy dink nie aan die kanker nie, sodat sy nie wonder hoekom die dokter nog nie gebel het nie. Sy bel kliënte en dink sy moet dalk eerder die dokter bel. Begin tik ’n brief om besig te bly.

Eindelik kom die oproep van dokter Van Zyl se spreekkamer. “Sal môremiddag drieuur jou pas?”

Môremiddag! wil sy die vrou toesnou. Sy wag al van Vrydag af dat iemand haar moet vertel hoe hulle die kanker gaan weg­kry en hulle wil haar eers môre sien?

“Môremiddag is reg.”

Pierre glimlag onwillekeurig toe hy sy motor by die onderdakparkering intrek. Basson & Vennote is ’n vinnig groeiende regs­praktyk en as hy sy kaarte reg speel, hoop hy om self oor ’n jaar of twee hier ’n vennoot te word.

Hy kan nie ontken dat hy vanoggend uiters verlig was om van die huis af weg te kom en net weer terug te keer na die nor­maliteit van sy werk nie. Na ’n kankervrye sone waar hy nie oor die siekte hoef te dink of te praat nie. Waar hy nie konstant deur Nadine se vreesbevange, rooigehuilde oë aan die woord KANKER herinner word nie.

“Hoe was jou naweek?” vra Cynthia by ontvangs. “Het jy die bachelor’s oorleef?”

“Dinge het nie heeltemal uitgewerk soos ek beplan het nie.”

“Hoe so?”

Hy oorweeg dit ’n oomblik om te jok en te sê dat hy net gegrap het en dat die naweek onverbeterlik was, maar hy kry dit nie reg nie.

“My vrou is Vrydag met borskanker gediagnoseer.”

Cynthia se hand vlieg na haar hals waar die oop stukkie vel bokant haar bloes uitsteek. “Ag nooit.”

“Wat nou?” vra Johan, Pierre se direkteur, in die verbygaan.

“Sy vrou het borskanker,” sê Cynthia.

Johan staar hom aan.

Pierre kan homself skop dat hy hierdie kankervrye sone so vinnig gekontamineer het. “Dis maar hoe dinge is. Nou moet julle my verskoon. Die werk wag.”

Hy loop vinnig na sy kantoor en trek die deur agter hom toe. Gaan sit op die hoërug-leerstoel. Laat sy hartklop net eers bedaar.

Toe hy Vrydag sy ma gebel het, was die nuus nog semi-onwerk­­lik. En die whatsapp-groep hou dinge op ’n gemaklike afstand. Dis ten minste iets sinvols wat hy kan bydra tot die situasie. Maar hier by sy werksmense, hier voel hy blootgestel.

Die man wie se vrou kanker het.

Shame.

Hy wil nie daai ou wees nie.

Hier wil hy wees wat op die bordjie op sy deur staan: PIERRE DUVENHAGE, PROKUREUR.

En dis wat hy sal sorg hy sal wees. Niks van Nadine se siekte gaan hier ’n rol speel nie. Dit stop nóú.

Drie uur later staan hy hoed in die hand by Johan. Dankbaar dat Nadine se nuus vanoggend al gebreek het, sodat hy nie nou hoef te verduidelik nie.

“Kan ek asseblief afkry môremiddag? My vrou het ’n afspraak by die chirurg.”

“Sure! Vat af enige tyd wanneer sy die dokter moet gaan sien.”

Hy skud sy kop. “Ek glo darem nie dis nodig nie.” Dit sal net te verskriklik wees.

Toe hy laatmiddag by die huis kom, is Nadine reeds daar. “Gaan jy nie draf nie?”

Hy sit sy aktetas op die gewone plek neer en soen haar skrams op die wang waar sy op die bank met ’n tydskrif sit. Toe sy opkyk, kan hy sien sy het gehuil.

“My bors is nog te gevoelig.”

Hy maak die das om sy nek los. “Wat lees jy?”

“Dis borskankermaand, Sarie is vol artikels daaroor.”

“O.” Hy mik kamer toe, maar sy kom agter hom aan.

“Die een vrou se ma het borskanker gehad toe sy tien was,” vertel sy. “En toe sy besluit sy wil ’n dubbele mastektomie kry om borskanker te voorkom, diagnoseer hulle dit by haar ook.”

Hy wil regtig nie dié stories hoor nie.

“’n Ander vrou is gediagnoseer toe sy nog geborsvoed het. Sy is sewe en ’n half jaar later dood.”

“Moenie, Dienks.”

“Sorry.” Sy blaas haar neus.

“Jy hoef nie jammer te sê nie.” Nou voel hy soos ’n skurk. “Ek dink net nie dis ’n goeie idee om ander mense se sad stories te lees nie. Hulle stories is nie noodwendig op jou van toepassing nie.”

Dan besef hy wat hom pla vandat hy by die voordeur ingestap het: die geur van kos hang gewoonlik in die lug as hy by die huis kom. “Het jy al gedink aan iets vir aandete?”

Sy kyk af na die tydskrif in haar hand. “Nee, ek was nog heel­tyd besig.”

Nadine hou Pierre se hand stywer vas toe hulle in die hospitaal­gang af loop. ’n Paar dae gelede het sy hier geloop met die effense hoop van ’n misverstand; nou is daar net die waarheid van die kankerpad wat sy moet trotseer.

Dokter Van Zyl groet vriendelik. “Kom sit. Hoe gaan dit nou met jou?”

“Ek is fine, dokter.” Freaked out, insecure, neurotic and emo­tional, soos Ferdi dit sou stel.

“Dis goed om te hoor.” Hy maak ’n aantekening op die skryf­blok voor hom. “Ons gaan eers bietjie na jou agtergrond kyk voor ons enige besluite neem rondom behandeling. Is dit reg so?”

Sy knik, vermy Pierre se oë.

“Kom ons begin by die begin. Is daar enige kanker in jou familie?”

“My pa se suster is oorlede aan kolonkanker.”

Dokter Van Zyl skryf. “Goed. Enigiemand anders?”

Sy skud haar kop en neem Pierre se hand.

Die dokter sit sy pen neer. “Eerstens moet jy nie bekommerd wees nie.”

Die trane kriewel agter haar ooglede met die aanraak van daardie seer punt.

“Vir nou gaan ons eers die bors verwyder waarin die kanker voorkom.”

Verbouereerd klou sy aan Pierre se hand. “Kan dokter nie net die knop uithaal nie?”

“Dis nie so eenvoudig nie. Volgens die histologieverslag het jy ’n infiltrerende buiskarsinoom wat soos ’n fyn spinnerak deur die borsweefsel versprei. Jy was gelukkig dat jy ’n knoppie gevoel het en ons kon ondersoek instel. By ’n buiskarsinoom in situ kom die kankerselle in ’n buisie voor en is dit nie klinies tasbaar nie. In jou geval het dit deur die buisie gebreek en ’n tasbare knoppie gevorm, wat ons ’n infiltrerende buiskarsinoom noem. Dis egter vinnig groeiend.”

Pierre vryf oor haar handrug terwyl sy magteloos die trane met haar ander hand probeer afvee.

“Wat van chemo, dokter?” praat Pierre vir die eerste keer.

“Ons eerste prioriteit is om die kanker te verwyder. Daarna gaan chemo, selfs bestraling, nie noodwendig nodig wees nie. Ons gaan tydens die operasie ’n okseldisseksie doen om vas te stel of die kanker na die limfnodes onder die arm versprei het. Hier het jy ’n keuse: ons kan net die sentinelnode uithaal en laat toets, of ons haal almal op een slag uit. As ons net die sentinel uithaal en dit bevat kanker, sal ons weer moet opereer om die res van die limfnodes uit te haal.”

Sy skud haar kop. “Nee, haal maar alles uit, dan is dit uit.” Die man gaan haar bors vat, wat maak ekstra limfnodes saak?

“Jy moet net weet, as ons al die limfnodes verwyder, gee jy die senuwee onder jou kieliebak vir ten minste drie maande prys – as alles goed verloop. Dit beteken jy gaan geen sensasie onder jou arm oorhê nie. Maar dit spaar jou nog ’n operasie en voorkom dat die kanker wel op ’n later stadium daarheen kan versprei.”

“As dit die beste is, dan doen ons dit,” besluit Pierre namens haar.

Dokter Van Zyl skryf. “Wil jy dadelik rekonstruksie doen, of wil jy wag? Vroue vind dit oor die algemeen minder traumaties as om met geen bors ná die operasie wakker te word.”

Sy kan net knik.

“Daarvoor sal ek jou na dokter Kruger verwys. Hy is ’n uitstekende plastiese chirurg en ons werk in tandem – ek haal af en hy bou op.”

Sy vee die trane van haar wange af. Dit klink of die man van die omruil van ’n fietswiel praat.

Die dokter staan op en steek sy hand uit. “Ons sal jou bel met ’n afspraakdatum vir dokter Kruger. Hy is werklik een van die bestes.”

“Wat het die dokter toe gesê?” wil haar ma die aand weet.

“Dis ’n buiskarsinoom wat soos ’n spinnerak in my borsweefsel groei. Hy wil ’n mastektomie doen en al die kliere onder my regterarm verwyder.” Dis vreemd hoe kalm haar stem dit oordra.

“Ma?” vra sy toe die stilte so lank rek dat sy wonder of die sein onderbreek is.

“Wanneer?”

“Ek weet nie . . . so gou moontlik. Ek het môre ’n afspraak by die plastiese chirurg, en dan sal ons seker goedkeuring by die mediese fonds moet kry.”

Weer stilte.

“Moet ek kom?”

Ja, natuurlik moet sy kom! Watter kind het nie in hierdie tyd haar ma nodig nie?

Maar sy sê dit nie, want sy weet dis nie in haar ma se aard om siekes op te pas nie. Sy sal buitendien net later ’n versko­ning kry oor hoe haar ma nie nóú haar kosbare naaldwerkwinkel en toekomstige bruide en matriekafskeidpoppies in die steek kan laat nie. En vir daardie teleurstelling is sy nie lus nie.

“Ag nee wat. Daar is tog niks wat Ma hier kan kom doen nie.”

Die vrou by dokter Kruger se ontvangs vyl eers haar pienk naels klaar voor sy die knyperbord oor die toonbank stoot. “Vul dit in.”

Vies neem Nadine die bord en pen. Die vrou neem natuurlik aan sy is hier om haar borste te laat vergroot.

Die dokter bly agter sy lessenaar sit toe sy en Pierre in sy hei­ligdom toegelaat word. “Middag, middag,” groet hy sonder om op te kyk, sy aandag by die verslae wat voor hom oopgesprei lê.

Hulle nooi hulleself om te sit. Die vertrek vol spieëls herlei haar irritasie.

“So, jy sê daar’s geen familiegeskiedenis van kanker nie?” Steeds sonder om op te kyk.

“Nee.” Sy gaan die man beslis nie van haar tannie vertel as die chirurg dit nie belangrik geag het nie.

Hy skryf iets en sit sy pen neer. “Goed, trek maar uit.”

Asof hy verbaas is dat sy dit nog nie gedoen het nie. Kan ’n mens ’n dokter by die mediese raad verkla vir swak maniere?

“Hier?” Sy kyk vinnig na Pierre.

Dokter Kruger sit verveeld terug. “Waar ook al.”

Sy kan hom net aanstaar.

Hy sug. “Jy’s by ’n plastiese chirurg, wat het jy gedink gaan jy hier doen?”

“Ek sal daar binne gaan uittrek.” Sy wys na die aangrensende vertrek en loop onder sy ongeskiktheid uit.

Tot haar ontsteltenis is daar geen jurk nie. Noodgedwonge vou sy haar arms oor haar borste en wag vir die man om in haar nagmerrie in te stap.

“Laat ek sien.”

Skaam laat sy haar arms sak.

Hy bekyk haar borste met ’n diep frons tussen sy oë. “Sjoe, maar dis ’n paar treurige borsies wat jy het.”

Die vertrek duisel om haar. Sy voel soos ’n ongewenste insek.

Hy kom regop. “So, watter cup size wil jy wees?”

“Ek weet nie.” Sy byt hard op haar tande om nie aan die huil te gaan nie.

“Moet ek die afspraak maak vir ’n ander dag?”

“’n A. Ek is ’n A-cup.”

“Dit werk nie so nie. Sit stil dat ek kan foto’s neem, dan sal ek verduidelik.”

Waar is Pierre? Hoekom bly hy in die spreekkamer sit as sy hom hier nodig het?

“Draai muur se kant toe dat ek jou van die kant af kan afneem.”

Sy gaan sweerlik sterf van verleentheid met die kamera so naby aan haar dat dit amper aan haar bors raak.

“So ja. Trek maar aan, dat ek met jou en jou man kan praat.”

Haar vingers kan nie vinnig genoeg haar bra vaskry en haar bloes oor haar kop trek nie.

Pierre neem haar hand toe sy weer langs hom gaan sit.

“Ons kan nie vir jou ’n A-cup gee nie,” begin die dokter. “Want ’n normale bors en ’n prostese lyk verskillend – die een hang en die ander staan op aandag. Die kleinste wat ons kan gaan sodat dit eweredig kan lyk, is om in die gesonde bors ’n A-cup te sit sodat dit ’n B-cup kan vorm en dan maak ons ’n B-cup aan die ander kant. ’n A-cup plus ’n A-cup maak ’n B-cup. Jy verstaan?”

Sy knik vir die-dokter-wat-sy-nooit-weer-wil-sien-nie.

“Jy het niks om die lyf nie, so ons gaan ’n dorsaleflap-operasie doen.” Hy teken ’n prent van ’n rug op die bladsy voor hom. “Dit beteken ons gaan vel, weefsel en spier hier uithaal.” Hy wys na die gedeelte net onder die regtervlerk. “Ons plaas dit oor die prostese sodat dit soos ’n natuurlike bors voel.”

Sy kyk onderlangs na Pierre. Hoe voel hy hieroor?

Die dokter skuif die tekening eenkant toe. “Dis dan al. As ek jou weer sien, is dit wanneer jy kom vir die prosedure. Totsiens.”

Sy hou haar in tot hulle buite die hospitaal is. “Ek haat daar­die man! Ek soek ’n ander dokter.”

“Hy het met my gepraat terwyl jy aangetrek het.” Pierre se oë bly op sy skoenpunte.

“Het hy jou vertel dat ek treurige borsies het?” Sy voel simpel dat sy al weer trane moet afvee.

“Hy het gesê hy weet hy kom hard oor, maar hy het self ver­lede jaar kanker gehad en hy het gevind dat simpatie nie werk nie.”

“Ek gee nie om of hy al sy ledemate verloor het nie, ’n dokter kan nie so optree nie.”

“Ek weet.”

“Ek wil nie teruggaan na hom toe nie.”

“Nadine, dokter Van Zyl het hom aanbeveel. Jy hóéf nie van hom te hou nie. Hy moet net sy werk reg doen.”

“Hy is ongeskik.” Sy druk haar vingers teen haar oë toe haar voete nie verder wil loop nie.

Pierre se arms vou om haar. “Toemaar, toemaar. Dit sal ook verbygaan.”

Hy lei haar motor toe, maak die deur vir haar oop en laat haar inklim voor hy omloop en agter die stuurwiel inskuif.

Sy kyk na die stompgesnoeide bloekombome langs die pad. Seker dekades oud. Ontneem van hul blare. Ontneem van die groen wat hulle mooi bome maak. Al wat oor is, is stompe. Kaal stompe. En dit laat haar van voor af huil.

Pierre trek besadig weg nadat hy Nadine by die huis afgelaai het. Hy ry af in die stil straat tot waar hy dink sy nie meer die motor se dreuning kan hoor nie en dan gee hy vet. Blindelings, asof hy sy frustrasie oor die aaklige doktersbesoek op die voertuig kan uithaal.

’n Rooi lig stuit hom. Die woede in sy gemoed bou só op dat hy eers besef hy is besig om die enjin se toere op te jaag toe die mense in die motor langs hom vererg na hom kyk.

Toe die lig groen slaan, trek hy met ’n spoed weg. Hy klim op die snelweg en jaag die spoednaald op . . . 130, 140, 160 vlieg hy verby die verkeer in die rigting van Kaapstad. Hy skree diep uit sy keel toe hy besef hy kan nie wegjaag van die gevoelens wat in hom maal en kolk nie en verminder spoed.

Hoe kan al hierdie dinge met hulle gebeur? Hoe is dit moont­lik? Hoe moet hy sy vrou beskerm teen hierdie dokters wat haar borste bekyk en bevoel en bevat en hy sit net daar, soos ’n stom pop, tot in sy breinstam verlam van skok?

Hy neem die naaste afrit en ry met die brug oor die snelweg om die motor terug in die rigting van die huis te stuur. Vanmiddag kon hy daai verdomde man wat homself ’n dokter noem se vingers breek. Die ribbes in sy borskas een vir een stukkend skop, sy nek omdraai van woede toe hy so onsensitief teenoor Nadine was.

Sy voet trap die petrolpedaal weer dieper in. Wat weet daai kwak? Wat weet hy van hoe mooi Nadine se borste vir hom is? Hoe mooi sý vir hom is? Wat weet die man? Niks!

Die naald draai weer by 160 en hy moet vinnig rem toe ’n wit Toyota voor hom inswenk. Sy hart klop wild toe die motor skeef trek en hy met moeite weer beheer daaroor kry. Hy moet stadiger.

Hy trek oor na die linkerbaan en draai af na die naaste kos­plek vir ’n wegneemete. Nadine het hom nodig. Maar hy weet waaragtig nie of hy dit in hom het om haar deur hierdie ding te help nie.

Ná ete gaan draai hy die badkrane oop. Nadine kom in en was haar gesig met die buisie gesigseep wat sy altyd in die badkamer­kassie bêre.

Hy hou haar stilweg dop. Sy is ’n mooi vrou. Lang blonde hare, hoë wangbene. Móói.

“Die water,” ruk sy hom terug na die werklikheid.

Hy draai die krane toe en klim in. Toe sy haar kamerjas uit­trek en ook inklim, reageer sy lyf instinktief op haar naakte liggaam. Al kan hy nie die bloupers merke op haar regterbors ignoreer nie.

“Is dit nog seer?”

Sy knik. “Baie. Ek weet nie wat om te maak omtrent die Gun Run Saterdag nie. Ek kan nie dink dat ek een-en-twintig kilometer met hierdie seer bors kan hardloop nie.”

“Jy kan later weer races hardloop.”

“Dis juis die probleem: ek kan dit nie los nie. My seeding-­tyd vir die Two Oceans hang van die Gun Run af.”

“O.” Dis goed om weer ’n normale gesprek met haar te hê.

“Wat is die kans dat ek ná die operasie ’n een-en-twintig in ’n goed genoeg tyd sal kan hardloop?”

Hy het geen idee nie. Hoe lank is die hersteltyd ná so ’n operasie? Hoekom het hy nie gevra nie?

Miskien is daar tog iets wat hy vir haar kan doen. “Moet ek dit vir jou gaan hardloop?”

Sy lag vir die eerste keer in dae. Dit laat hom goed voel.

“Jy hardloop dan nie eens om die blok nie.”

“Ek is van nature fiks.”

“Dis teen die reëls.”

“Dis vir ’n goeie doel.”

“Ek love die Gun Run. En wat van Adri? Sy het kliphard saam met my geoefen.”

“Ek sal die ouens vra om saam met my te hardloop, dan stap jy en die girls ’n vyf kilometer as jy wil. Adri kan mos saamstap.”

“Adri sal tien dode sterf voor sy stap op ’n Gun Run. Sy hardloop die Gun Run vir ’n goeie seeding-tyd. En ek kan my nie indink dat Salomé, Tania en Janine vyf kilometer sal stap nie.”

“Hulle sal as ek sê dis vir ’n goeie doel.”

Sy staan op en begin haar afdroog. Hy lê nog ’n rukkie in die water en klim dan ook uit.

Toe hy in die bed agter haar inskuif, wonder hy of sy sal wil liefde maak. Hy streel met sy hand langs die kontoer van haar sy. Oor haar maag.

“Nie vanaand nie, Pierre.”

Natuurlik nie. Wat het hy gedink? Simpel idioot.

Gister is verby

Подняться наверх