Читать книгу Gister is verby - Juanita Aggenbach - Страница 6

Hoofstuk 2

Оглавление

Haar lyf voel styf en koud wanneer Nadine van die vloer af opstaan. Sy strompel in die gang af badkamer toe.

Die afspoel met koue water help niks vir haar opgehewe oë nie, sien sy in die spieël. Sy droog haar gesig af en gaan soek haar foon in haar handsak. Pierre moet weet.

Manstemme bulder in die agtergrond toe hy antwoord. “Hey, Dienks, het jy iets gehoor?”

Haar stembande kraak. “Dis kanker.”

Die geraas in die agtergrond verdwyn. “Hoe ver is dit ge­vor­der?” kom sy stem duideliker deur.

“Ek weet nie. Ek kon nie myself sover kry om iets te vra nie.”

“Is jy by die huis?”

“Ja.”

“Ek kom so gou ek kan.”

Pierre druk die foon dood. Meer as ’n maand gelede het hy vir haar gesê om vir ’n ondersoek te gaan, toe wil sy niks daarvan hoor nie.

KANKER.

Hy moet by haar uitkom, sy is waarskynlik buite haarself van vrees.

Hoe ver het dit teen dié tyd al versprei? Sou hulle dit kon keer as sy vroeër gegaan het? As sy net vir ’n verandering na hom wou luister!

Verwyte gaan hom nêrens bring nie.

Hy bel die lugdiens by O.R. Tambo.

“Jammer, meneer, die eerste beskikbare plek op ’n vlug Kaap toe is eers môreoggend.”

“Is jy seker? Ek moet baie dringend in die Kaap kom. Is daar nie ’n bystandlys nie?”

Dit sal nie werk nie, tref dit hom, die ouens hier se alkohol­vlakke is beslis almal oor die limiet en selfs met Uber is hy ’n uur en ’n half se ry van die lughawe af, veels te ver om op kort kennisgewing daar uit te kom.

“Los maar. Hoe vroeg is die eerste vlug môreoggend?”

Met die bespreking afgehandel gaan hy traag terug na die geselskap. Hy het sy lus vir partytjie hou verloor. Wat het hom besiel om Pretoria toe te kom, terwyl hy moes geweet het dis ’n slegte idee?

Dan onthou hy: Nadine was so absoluut oortuigend.

Dis mos wat sy doen. Volg haar eie kop en weier om na sy raad te luister.

Nadine spartel om kop bo water te hou. Kanker, bórskanker, hamer die woorde aanhoudend in haar brein.

Haar ouers. Sy moet haar ouers bel. Sy soek haar ma se nommer in haar foonlys.

“Hoe klink jy só?” vra haar ma. “Is jy siek?”

“Ek het vanmiddag gehoor ek het borskanker.”

Dit blerts net uit. Haar ma se snak na asem is hard in haar ore.

“Dit kan mos nie wees nie?”

“Dit is.”

“Is Pierre by jou?”

“Nee, hy is in Pretoria.”

“Luister, Nadine . . . Ek bel jou weer later.” Die telefoonlyn gaan dood.

Sy vee haar gesig met ’n sneesdoekie droog. Wat het sy ge­dink? Haar ma was nog nooit goed met emosie nie. Veral nie met siekte nie. Vir seergevalde knieë was die pleisters in die kombuiskas laag genoeg vir hulle drie kinders om self uit te haal en op te plak indien nodig. En as een van hulle siek was, het dit nie gehelp om by haar ma in die bed te gaan klim nie, want dié het geglo jy gaan nie minder hoes omdat jy in ’n ander bed lê nie.

Sy haal nog ’n sneesdoekie uit die boks. Sy is heeltemal alleen.

Tot haar verbasing bel haar ma ’n rukkie later terug. Sy antwoord dankbaar.

“Ai, my kindjie. Is jy oukei? Wat sê die dokter presies?”

Dis haar pa. Om sy stem te hoor maak die hartseer oorwel­digend.

“Ek weet nie, Pappa, ek het niks verder gevra nie. Al wat hy gesê het, is dat ek kanker in my bors het.”

“Ek is so jammer, Dienkie.”

“Ek ook, Pappa.” Haar kop ruk op van die onverwagte klop. “Hier is iemand by die deur. Ek moet gaan.”

Sy is stomgeslaan toe sy haar broer by die voordeur sien. “Ferdi . . .”

“Ma het my gebel.” Hy vou haar in sy arms toe en streel oor haar hare.

Dís haar ma, die praktiese Madel van Breda wat alles hanteer soos sy haar naaldwerkbesigheid hanteer. As ’n naat skeef gestik is, huil jy nie daaroor nie, jy trek dit los en stik dit reg.

Die trane in Ferdi se oë tref haar diep toe sy uit sy arms wegtrek. In die twee-en-dertig jaar van haar leeftyd het sy haar broer nog nooit bewoë gesien nie.

En sý is die oorsaak.

Haar foon lui. Sy vee haar trane met die rugkant van haar hand af. “Dis Pierre.”

“Dienks, die eerste vlug is eers môreoggend sesuur.” Sy stem is gelaai met frustrasie.

“Dis oukei. Ferdi is hier.”

“Dis goed.” Vir ’n oomblik is dit stil. “Ek het my ma gebel. Sy is in ’n toestand en ek het vir haar gesê sy moet jou nie bel nie.”

“Oukei.”

“Ek sal al die vriende laat weet, moenie daaroor worry nie. Ek sal vra dat hulle jou eers nie pla nie . . . Of wil jy met hulle praat?”

“Nee, nie vanaand nie.”

“Is daar enigiets wat ek nou vir jou kan doen?”

“Niks nie.” Sy voel skuldig oor die desperaatheid in sy stem.

In die kombuis, terwyl sy vir hulle tee maak, lui haar foon weer.

“Hallo, Margo,” antwoord Ferdi. “Ja, ek is hier by haar. Hou aan.”

Sy neem onwillig die foon.

“Ek is só sorry, Dienkie! Ek gaan nóú reël om op ’n vliegtuig te klim!”

Tipies haar suster met haar histrioniese geaardheid.

“Nee, dis oukei. Jy het ’n gesin om na om te sien en hier is niks wat jy kan doen nie.”

“Ek kan nie glo dat dit met jou gebeur nie,” huil Margo. “Hoe­kom? Hoekom? Hoekom? Jy is so jonk! Hoekom was dit nie eer­der ek nie?”

Sy laat sak haar voorkop in haar handpalm. “Ek dink nie dit sou beter gewees het as dit jy was nie.”

“Ek weet nie wat om te doen om dinge beter te maak nie,” snik haar suster.

Ná die derde koppie tee stuur Nadine Ferdi huis toe: “Dis al negeuur en Amé en Mia wag vir jou.”

“Ek bly by jou.”

“Dis regtig nie nodig nie. Ek wil in elk geval gaan bad en gaan slaap.” Sy jok, maar dis nodig. Sy wil nie ’n las vir hom wees nie.

“Is jy seker? Want ek het jare laas op ’n bank geslaap en my liggaam smag daarna.”

“Ek is seker. En selfs al het jy oorgebly, sou jy in ’n bed moes slaap in die spaarkamer.”

“Dan slaap ek eerder in my eie bed.” Hy staan op en neem sy motorsleutels. “Is jy seker jy sal oukei wees?”

“Ek sal fine wees.”

“Fine staan eintlik vir freaked out, insecure, neurotic and emotional.”

“Dan is ek beslis fine én oukei. Gaan nou.”

Die oomblik toe die ontkleedanseres haar bloes op maat van die musiek oopruk en haar borste ten toon stel, draai Pierre sy kop weg en maak sy oë toe. Hy kan waaragtig nie hier bly en na die vrou sit en kyk nie.

“Ek gaan kamer toe,” fluister hy vir Danie en maak hom uit die voete. Tog vee sy oë oor die naakte borste voor hy teen die trap op loop. Dit kom nie naby Nadine s’n nie.

Hy maak die kamerdeur met mening agter hom toe. Bly staan met sy hande in sy sye. Wat nou?

Hy haal sy selfoon uit sy sak en stig ’n whatsapp-groep. Tik: Nadine het vandag uitgevind sy het borskanker. Vee dit dadelik uit.

Hallo julle, begin hy oor. Ek het die groep begin, want Nadine het vandag uitgevind sy het borskanker.

Hy hou op tik. Haal ’n paar keer diep asem om sy hartklop te laat bedaar.

Dis beter as julle haar nie nou al bel nie, sy wil nog nie met iemand praat nie. Ek sal julle op hierdie groep op hoogte hou van alles.

Hy lees die boodskap ’n paar keer deur. Voeg by voor hy stuur: Bid vir haar asseblief.

Toffie is al om Nadine se voete terwyl sy deur die stil huis kamer toe draal en op haar bed gaan sit. Sy vryf oor die kat se kop toe hy opspring en teen haar op die bed kom lê.

In die alleenheid van die kamer wel die trane weer op. Sy staan op. Sy moet iets kry om haar mee besig te hou.

By die gastekamer se deur steek sy vas toe sy soos manna uit die hemel van die lentehoed onthou. Sy moet dit namens die regsafdeling vir ’n kompetisie by die werk maak, deels omdat sy die groentjie is en deels omdat die regsafdeling elke kwartaal teen die ander afdelings verloor. Hopelik sal sy iets beters regkry as wat hulle tot dusver kon.

Met die plastieksak vol benodighede gaan sit sy by die kombuistafel. Sy haal die pienk en wit karton uit, saam met die verskillende groottes helderkleurige kunsblomme en klimopblare wat sy vir ingeval ook gekoop het, en begin knip.

Sy meet en plak, voel of die lang pienk silindervorm ste­wig aan die breë wit rand geheg is. Dis nogal ironies, dink sy terwyl sy wit en pienk polkakolle daarop aanbring, hier is sy besig om ’n lentehoed te skep in die middel van haar donkerste winter.

Net toe sy die voltooide hoed op haar kop pas, begin haar selfoon in die kamer na haar roep. Dit kan net Pierre wees.

“Ek kan nie slaap nie.” Hy klink miserabel.

“Ek ook nie.” Sy is bly sy is nie die enigste een nie. “Toe maak ek die lentehoed waarvan ek jou Woensdag vertel het.”

“Jy is nie ernstig nie.”

“Ek gaan nou probeer slaap. Wat maak jy?”

“Ek lê en rol rond.”

Haar skuld. “Waar is die manne?”

“Hulle kuier nog. Ek is jammer ek is nie by jou nie. Ek moes nooit gekom het nie.”

Sy druk haar gesig teen die kussing om die intense verlang wat wil uit te keer. “Nee, dis goed dat jy gegaan het.”

’n Effense drukking op haar wang maak haar wakker en sy ruik Pierre se naskeermiddel voor sy hom sien. “Jy is hier.”

Hy vou haar in sy arms toe. “Hoe voel jy?”

“Beter noudat jy hier is.” Sy vee die trane af wat weer begin stroom. “Hoe het jy by die huis gekom?”

“Ferdi het my kom drop.”

“Ek is bly.” Sy sak terug teen die kussing en trek hom saam met haar af sodat hy langs haar moet lê.

“Ek ook.” Hy draai na haar en trek met sy wysvinger ’n lyn al langs haar slaap tot by haar ken.

“Ek weet nie hoe ek hierdeur gaan kom nie.”

“Ek is by jou. Ek sal saam met jou hierdeur kom.”

“Kanker maak dood.”

“Nie altyd nie. En jy is Lucky Lucy. Geluk was nog altyd aan jou kant. As jy inskryf vir ’n kompetisie, dan wen jy. As daar geloot word, is dit altyd jou nommer wat getrek word. Alles sal uitwerk, jy sal sien.”

“Ek weet nie.” Sy strek vir ’n sneesdoekie. “Ek het ’n gevoel hierdie keer is dit anders.”

Hy soen haar saggies op die voorkop en staan op. “Ek gaan maak vir ons ontbyt.”

Alles sal uitwerk. Dit raak ’n refrein terwyl Pierre gangaf vlug. Dit móét net.

Jy het geen idee waarvan jy praat nie. Hy onderdruk die stem in sy gedagtes, maar dit bly opspring.

Hy hét geen idee waarvan hy praat nie. Nadine het kanker. Sy het ’n siekte wat elke jaar duisende mense doodmaak. ’n Siekte waarvoor jy chemo kry wat jou hare laat uitval en jou siek maak tot die dood toe.

En hy het geen idee wat hy kan doen om dit beter te maak nie.

Hy sou dalk nog geweet het as Nadine Nadine was. Maar die vrou daar in hulle bed is nie sy vrou nie. Die vrou wat hy so pas wakker gesoen het, is broos en huilerig. Nadine is nie broos en huilerig nie. Nadine gryp enige ding sonder aarseling by die horings en ruk dit in die rigting waar sy dit wil hê.

Die massiewe pienk keil met wit polkakolle op die bed in die gastekamer laat hom in sy spore stop. Vreemde hoed. Mooie­rig ook. Hoop flikker in hom. Dís sy vrou. Die een wat só ’n kuns­werk kan prakseer selfs wanneer dit sleg gaan. Nie die een wie se oë nou net so weerloos na hom gekyk het nie.

Hy loop kombuis toe, skakel die ketel en ’n stoofplaat aan, haal die pan en kookolie uit. Hoe gaan hy haar ondersteun as dit hom so erg vang? Wat is die volgende stap? ’n Dokter kan mos nie net ’n kankerbom laat ontplof en dan eers twee dae later met die opruimingswerk begin nie? Kanker vat mos nie die naweek af nie?

Vrees gooi kookwater oor sy kop uit. Wat as die kanker hier­die naweek só ver groei dat dit haar lewe kan neem? Hoekom het die dokter nie dadelik met ’n aksieplan begin nie? Hoekom tot Maandag wag?

Hy dwing homself om diep asem te haal. Meet koffiepoeier in die bekers af, haal eiers uit en breek dit in die pan, glip twee snye brood in die rooster. Die dokters weet seker wat hulle doen; dinge móét net uitwerk. En dit sal sý werk wees om Nadine daaraan te herinner, maak nie saak wat hy dink of hoe hy daar­oor voel nie.

Hy mag nie hierdie vrese en verwyte wat hy in hom ronddra met haar deel nie. Sy dra reeds swaar genoeg.

Hy dek op die agterstoep en gaan haal Nadine uit die bed toe die kos gereed is.

“Jy sal nie glo nie,” hou hy sy stem lig terwyl hy sy roosterbrood smeer. “Omtrent almal vir wie ek laat weet het, ken iemand wat kanker het of gehad het.”

“Nou ken jy ook iemand.”

Die wind is uit sy seile. Hy kyk af na sy foon wat fluit om nog ’n boodskap aan te kondig.

Sy sit haar mes en vurk hard neer. “Wie whatsapp jou so die hele tyd?”

“Ek het ’n groep begin met al ons vriende en familie op. Ek het gesê ek sal hulle op hoogte hou en het gevra hulle moet vir jou bid.”

“O.” Trane wel in haar oë op en haar lyf begin ruk.

Hy los sy kos en gaan hou haar vas. “Ons sal hierdeur kom, Dienks.”

Haar sagte snikke teen sy lyf laat die trane in sy oë brand en laat hom oneindig onbeholpe voel.

Nadine eet haar ontbyt klaar verby die knop in haar keel. Toe haar foon lui, wik en weeg sy eers of sy moet antwoord. Dan sien sy dis Adri.

“Antwoord,” moedig Pierre haar aan.

Sy druk die groen knoppie. “Hallo, Adri.”

“Amper dog ek jy wil jou oudste vriendin ook reduseer na ’n whatsapp-groep toe.”

Sy kyk skuldig op na Pierre. “Darem nie.”

“Ai, my vriendin. Ek is verskriklik jammer om van die kanker te hoor. Hoe gaan dit daar?”

“Ag, maar so-so.”

“Ai, man. Wie is jou chirurg?”

“Dokter Van Zyl.” Sy is dankbaar vir Pierre dat sy geantwoord het. “Hy het my gister gebel met die uitslag. Hy sê hy wil my so gou moontlik sien om oor ’n behandelingsplan te praat.”

“Ja, hy sal moontlik wil opereer om die alien uit jou bors te kry. Gelukkig vir jou ken ek people in high places. Ek sal vir jou ’n privaat kamer organize wanneer jy kom vir die op.”

“Dis regtig nie nodig nie.”

“Natuurlik is dit. Ons kry ’n lekker lazyboy daar binne sodat Pierre by jou kan hang. En dat jy net bietjie meer pri­vaat­heid het.”

“Dankie, Adri. Kom ons hoor maar eers wat die dokter sê.”

Toe sy groet en die foon neersit, wonder sy hoekom sy so teen Adri se aanbod skop.

“Kom ons ry bietjie uit Waterfront toe,” stel Pierre voor.

“Ek is nie lus vir crowds nie.”

“Dit sal goed wees om bietjie uit te kom.”

Hoekom wil hy so graag ’n koers in skiet? “Ek wil liewer net hier bly. Asseblief. Kom ons neem eerder ’n paar DVD’s uit.”

Heeldag kyk hulle DVD’s en by tye kry die stories dit reg om haar in te trek, maar nooit om ten volle te vergeet nie.

Sy gaan slaap vroeg, met Pierre wat styf agter haar rug lê en neem haar voor om die volgende dag kerk toe te gaan.

Hulle was lanklaas in die kerk. Met dié dat sy gereeld Saterdae voor sonop ’n wedloop van vyf of tien kilometer gaan hard­loop, het Sondag die enigste dag van die week geword wat sy ’n bietjie kan laat lê.

Maar nou het sy ’n boodskap van die Here nodig. Een waar Hy sê alles sal ten goede uitwerk. En sy wil Hom vra hoekom. Miskien weet sy hoekom. Miskien is dit omdat sy so lanklaas in die kerk was dat Hy haar straf met kanker.

Môre moet sy gaan regmaak. Gaan jammer sê. Die Here moet weet sy het nie van Hom vergeet nie. En sy wil Hom vra om haar gesond te maak.

Gister is verby

Подняться наверх