Читать книгу Gister is verby - Juanita Aggenbach - Страница 9

Hoofstuk 5

Оглавление

Nadine kyk om haar rond. Sy sien Adri nêrens nie, net die aan­geplakte glimlagte op haar drie vriendinne se gesigte toe sy deur die menigte Gun Run-entoesiaste nader stap. Sy moet nog die nuus aan Adri breek dat sy haar, die enigste vriendin wat die moeite gedoen het om ’n foon op te tel en te hoor hoe dit met haar gaan, vandag in die steek gaan laat oor ’n seer bors.

Met haar eie aangeplakte glimlag groet sy die drie sogenaamde vriendinne.

“Hallo,” koor hulle oorvriendelik saam.

Dit laat haar soos ’n buitestander voel.

“Die weer is darem lekker vandag, nè?” Tania glimlag ongemaklik.

“Dit is.” Janine gooi haar gewig van die een voet na die ander.

Nadine kyk oor die skare en trek die koel oggendlug diep in haar longe in. As sy net vir Adri kan vind.

“Daardie kleur pas uitstekend by jou.” Salomé wys na haar uitgewaste pienk oefentop.

Dis die laaste strooi, ’n mens kan net sóveel oppervlakkigheid hanteer van mense wat nie eens die ordentlikheid het om ’n bietjie ontferming te wys nie.

“Sorry, julle, ek moet gaan.”

Sy vleg tussen die mense deur, verby Pierre en sy makkers. Met groot verligting sien sy Adri waar dié staan en strek en loop soontoe.

Adri kom regop. “Ek dog jy het besluit om my te versaak.”

“Nooit nie.”

“Hoe voel jy? Jy is spierwit om die kiewe.”

“Ek voel fine. Ek het gedink om eerder te stap vandag, want my bors is nog seer van die biopsie, maar ek het van plan ver­ander.”

“Mooi, man.”

Toe die skoot klap, hardloop sy soos iemand wat die duiwel jaag. Pyn is beter as die niksseggende, ongemaklike gesprekke. Dis beter as die malheid wat die afgelope week om haar kop losgebars het. Dis beter as die aanhoudende gehuil.

Sy hardloop tot haar asem in haar bors begin brand.

Sy moet in haar ritme kom, praat sy haarself aan om te bedaar. Maar sy wil nie stadiger nie, sy wil wegkom.

Weg van alles. Weg van hierdie onsekerheid. Weg van die operasie wat haar bors gaan vat.

Weg van die dood.

Ná die wedloop kry sy Pierre by die motor soos hulle afge­spreek het.

“Sal ons sommer die pelle nooi vir ’n braai vanaand?” vra hy.

“Nee, asseblief nie.” Dis erg genoeg dat sy letterlik van hulle vrouens af moes weghardloop. “Ek is te moeg.”

“Sorry. Ek het nie gedink nie.”

Dadelik voel sy sleg. Hier is haar man bereid om een-en-twintig kilometer te hardloop – vir haar. Hy is bereid om sy werk te los en saam dokter toe te piekel – vir haar. Sy moet seker hierdie toegewing maak; hy sal die geselskap geniet.

Maar sy kry haarself nie sover nie. Nie met hierdie groep mense wat haar siekte soos die pes vermy nie.

Hulle braai alleen en klim vroeg in die bed. Die slaap ontwyk haar en terwyl sy na Pierre se rustige asemhaling luister, blaai sy vir die soveelste keer deur die Sarie. Al die artikels waar die pienk lintjie boaan die bladsy pryk, het sy reeds gelees. Maar sy kyk steeds na die foto’s, van die vroue wat dieselfde deur is waardeur sy nou gaan . . . nog móét gaan.

Het hulle vriende ook ongemaklik rondom hulle geraak? Was hulle ook bang en onseker? Alleen?

Die een vrou het begin fietsry. Twee keer die Argus-fietstoer voltooi. Dis sy wat oorlede is.

Sy maak die tydskrif toe. Sy wil nie ophou hardloop nie. Sy wil nie so bang wees nie.

Uit haar handsak langs haar bed haal sy haar tablet en tik Mastektomie op Google in. Kennis is mag, sê die spreekwoord mos. Opskrifte rol oor die skerm. Rekonstruksie ná mastektomie lyk interessant. Sy klik daarop.

. . . rekonstruksie het werklik verkeerd afgeloop, vang haar oog die middel van die artikel. Ek het een bors wat hard en misvorm is en ’n ander wat vol duike is.

Sy maak die blad toe, skakel die tablet af. Hoekom plaas mense sulke goed op die internet?

Nee. Sy moet iets positiefs ook lees, anders gaan sy nooit slaap nie.

Sy skakel weer die tablet aan. Hierdie keer tik sy Breast reconstruction in en hou haar asem op.

Dit lyk beter. Sy klik op die eerste artikel en is verbaas om te sien dat daar ’n opsie is vir verskillende borsrekonstruksies. Sy klik op die opskrif. Silikooninplantings of dorsale flap? Sy kies dorsale flap; dis tog waarvan die ongeskikte dokter gepraat het.

Die sketse verbyster haar: daar is geen tepel nie. Stom sit sy terug. Hoekom het niemand haar gesê nie?

Trane brand in haar oë. Hoe gaan sy vir Pierre vertel?

Weer kyk sy deur alles omdat sy nie kan glo wat sy sien nie. Toe merk sy die opsie vir tepelrekonstruksie en kies dit dadelik. Hulle bevestig die areola en tepel word verwyder. Sy skud haar kop in ongeloof.

Some women might be able to have a nipple-sparing mastectomy, where the nipple is left in place.

Dis wat sy sal doen. Sy skakel die tablet af.

“A nee a, Nadine. Dis mos nie wys om nou wedlope te hardloop nie,” gaan haar ma die Sondagmiddag gal af.

“Dit was nie beplan nie, Ma.” As sy geweet het van die tsoenami wat haar gaan tref, het sy eerder stilgebly oor die Gun Run.

“Snert. Wat anders het jy daar loop soek? Jy sal moet begin konsentreer daarop om gesond te word.”

“Ja, Ma.”

Sy het niks om verder te sê nie. Hulle gaan haar bors afhaal. Meer kan sy nie doen om gesond te word nie.

Haar ma het blykbaar ook niks om verder oor te raas nie.

“Hoe gaan dit met Pappa?” verbreek sy die stilte.

“Ag, maar so-so. Jy vang nie weer sulke nonsens aan nie.”

Laat Sondagmiddag teug Althea aan haar limonade op die uitslaanstoel langs die swembad. Die hemel weet, ’n naweek was nog nooit so lank nie. Toe sy Vrydagaand seweuur by die huis gekom het, het sy eers Roelof se bui bepaal. Dié was ’n ligte skakering van geel danksy ’n kollega se verjaarsdagviering ná werk.

Hy het vir hulle elkeen ’n glas wyn geskink en hulle het haar moeder se kos voor die televisie sit en eet. Amara was by ’n vriendin. Toe sy die leë borde wegneem en koffie terugdra sitkamer toe, was die uitstel verby.

“Liam is weg.”

Sy het beplan om iets te sê soos dat sy bekommerd is oor hulle seun en dat sy graag met Roelof daaroor wil praat, maar dis nie hoe dit van haar tong af gerol het nie.

“Hoe bedoel jy weg?”

“Sy selfoon was gisteroggend al af. Ek het onraad vermoed en gisteraand na sy woonstel toe gery. Toe sê die woonstelmaat Liam het Woensdagaand al nie daar geslaap nie.” Wat sy nie oor haar lippe kry nie, is die nuus oor die gesteelde iPod.

“En jy sê my nou eers?”

“Jy het gisteraand al geslaap toe ek hier kom.” En tydsbereke­ning is altyd van onskatbare waarde.

Hy skud sy kop. “Ons moet seker die polisie bel sodat hulle hom kan begin soek.”

“Ek het al.”

“Waar sal hy wees?”

Toe raak haar tong los en sy vertel hom alles: van die deurmekaar woonstel en die polisie se onwilligheid om tyd aan ’n dwelmverslaafde af te staan tot haar soeke laataand by Bellville-­stasie.

Wat in retrospek ’n fout was, want net daar slaan die man soos ’n pêreloester toe. En sy kry hom om die dood nie weer oop nie en loop die hele naweek met ’n skuldgevoel, want Roelof is haar man. Hy sou wou hê dat sy hom as hoof van die huis moes vertrou, sy hulp moes inroep.

Die hele idee dat Roelof en Liam se verhouding, wat net aan die heel was, nou weer aan flarde is, skaaf haar rou. Gister was daar só ’n atmosfeer in die huis dat sy haar moeder ook oor die verwikkelinge moes inlig. Haar arme moeder wat so vas geglo het die kind het weer reggekom.

Maar veel meer as haar ontstigte man en haar moeder se teleurstelling broei die angswekkende gedagte dat haar kind iewers dood lê. So erg dat sy ’n oproep van die polisie vrees.

Gisteraand het sy uit pure radeloosheid die hospitale gebel. Niemand met Liam se beskrywing of naam is sedert Woensdag­aand opgeneem nie. ’n Skrale troos.

“Wat dink Ma hiervan?”

Althea skuif regop in haar stoel en kyk na Amara wat plotseling voor haar staan in ’n seegroen rokkie wat sy nie ken nie.

“Dis mooi. Waar kom dit vandaan?”

“Ciske het dit vir my gegee. Dis te klein om haar borste. Wat dink Ma, pas dit by my?”

“Dit lyk mooi, ja. Ons moet haar seker iets gee daarvoor. Hoe­veel het dit haar gekos?”

“Sy wil nie iets daarvoor hê nie, Ma. Sy’t dit vir my gegee.”

“Daardie rok is maklik seshonderd rand werd. Vind by Ciske uit hoeveel ons haar daarvoor kan gee.”

Amara draai afgehaal om. Althea kan haarself skop. Hoekom het niemand haar vertel dat dit onmoontlik moeilik is om kin­ders te verstaan nie?

“Amara.”

Sonder om na haar te kyk, gaan staan Amara stil.

Sy steek haar hand na die kind uit. “Kom hier.”

Amara ignoreer haar hand, maar stap darem twee tree nader.

“Het ek iets verkeerds gesê?”

“Nee.” Uitdrukkingloos kyk Amara haar aan.

“Ek vermoed ek het. Ek weet nie wat dit is wat ek verkeerd gedoen het nie, maar jou pa is klaar kwaad vir my. Ek wil jou nie ook nog kwaad maak nie.”

Toe Amara haar mond oopmaak, lui die interkom in die huis. Sy draai haar kop deur toe. “Verwag Ma-hulle iemand?”

Althea se hart begin hoopvol bons. “Nie sover ek weet nie.”

Sy staan op en volg Amara binnetoe. Roelof is reeds by die monitor in die voorportaal. Op die skerm sien Althea Liam se moeë gesig.

“Hallo, Liam,” sê Roelof in die luidspreker.

Althea kan hom verwurg dat hy nie summier die hek oopmaak nie.

“Hallo, Pa. Maak asseblief die hek oop, Pa.”

Roelof druk nie die knoppie nie. “Waar was jy?”

Liam kyk grond toe. “Maar hier rond.”

Althea mik na die knoppie, maar Roelof keer haar hand. “Los.”

“Laat die kind inkom, asseblief.”

“Asseblief, Pa.” Liam het haar waarskynlik gehoor. “Ek’s hon­ger.”

Roelof vee oor sy gesig. Hy druk die knoppie en stap weg.

Oorstelp maak Althea die voordeur oop. Sy loop Liam op die oprit tegemoet.

Hy is vuil. Hy stink. Sy pupille is speldekopklein in die groen irisse, maar hy is hier. Hy leef.

“Kom, hier is genoeg kos. En dan moet ons jou in ’n bad kry. Of nee, wat.” Nou-nou verdrink hy in die bad. Sy beduie na die gastebadkamer op die grondvloer. “Stort gou. Ek kry vir jou skoon klere.”

Liam gehoorsaam genadiglik gedwee. Hy trek die smerige hemp oor sy kop en laat dit op die vloer val. Sy trek die badkamerdeur agter haar toe en kyk vas in haar moeder en dogter se vraende blik.

“Ek gaan kry vir hom skoon klere,” sê sy vinnig.

Sy het nie antwoorde op hulle vrae nie. Sy weet nie waarnatoe nou nie. Moet hy hier bly of reguit rehabilitasiekliniek toe gaan?

En wat van Roelof? Gaan hy Liam terugjaag na sy woonstel sodra hy klaar geëet het?

Al wat sy weet, is dat haar kind hier is. En hy moet skoon kom, want hy stink, en hy moet kos kry, want hy is honger. Vir nou is dit al wat sy kan hanteer.

Opgebeur klim sy die trappe op na sy kamer op die derde verdieping. Dis waar hy wou intrek toe hy in graad nege besluit het dat dit sy identiteit inperk om ’n gang met sy ouers en suster te deel. Sy het vir hom ’n nuwe duvetstel gekoop en die kamer is versier met plakkate wat hy self uitgekies het. Tot hy gekom het met prente van meisies, platvloers in karige bikini’s, toe trek sy die streep. Dit was darem té.

Op sy versoek het sy ’n tafel met ’n ketel en koppies in die kamer gesit, sodat hy nie al die pad kombuis toe hoef te loop om koffie te maak nie. Later het ’n kroegyskassie gevolg, om dieselfde rede. Altyd vol koeldrank, water en ’n bederfie.

Dit was vir haar swaar toe hy aan die begin van verlede jaar uit die huis getrek het, maar Roelof het gereken hy moet sy eie man word en het die woonstel gekoop.

Sy maak die klerekas oop en haal ’n kortbroek en hemp uit wat nie by Liam se grootmanstatus gepas het toe hy die huis verlaat het nie. Hoe ver verwyder was hy nie van die mens wat vanmiddag hier aangekom het nie.

O, hoe wens sy hy kan weer in sy eie bed slaap vanaand. As Roelof tog net wil rede insien.

Toe sy weer onder in die huis kom, praat Amara en haar moeder gedemp in die kombuis. Roelof is nêrens te sien nie.

Sy klop sag aan die badkamerdeur. “Is jy oukei?”

Die krane loop nog. Sê nou hy het omgekap in die stort? Sy stoot die deur oop.

“My magtag, Ma!” Liam se hande keer voor sy privaat dele.

Sy los die klere op die stoel. “Jammer, ek het net bekommerd begin raak. Kom eet as jy klaar is.”

Op pad kombuis toe sukkel sy om die glimlag om haar mond te keer oor sy oorreaksie. Asof sy nie sy boude skoongemaak het toe hy ’n baba was nie.

“Gaan hy bly, Ma?” vra Amara toe sy die kombuis binnekom.

“Ek weet nie.”

Althea vermy haar moeder se oë. Sy is nog nie reg vir die wysheid wat sy weet van haar af sal kom nie.

Toe Liam uit die badkamer kom, lyk hy gedaan, maar amper weer soos haar kind. Dis net die pupille wat nog klein is.

Sy trek vir hom ’n stoel by die kombuiseiland uit. “Kom sit.”

Hy sak neer asof sy lyf te swaar is vir sy bene om te dra. “Ek wil bietjie gaan slaap.”

“Wil jy nie eers eet nie?”

Hy skud sy kop. Dit lyk of hy net daar op die toonbank aan die slaap gaan raak.

Sy loop nader en neem hom aan die hand. “Kom, jy kan in jou eie bed gaan lê.” Help hom op en ondersteun sy lyf, wat veel swaarder is as wat dit lyk.

Teen die tyd dat hulle in sy kamer is, is sy uitasem. Hy val op die bed neer en sy trek die deken oor hom. Dit lyk nie of hy dit eens agterkom nie.

Toe sy die deur agter haar toetrek, is sy dankbaar dat hy in sy eie bed slaap. Skoon gewas, soos dit hoort.

Roelof ontplof. “Hy moet hier uit! Ek soek nie ’n mens wat op drugs is in hierdie huis nie.”

“Wat is fout met jou?” Althea is buite haarself. “Hy is jou kind! Hy het jou hulp nodig, jy het gesien hoe lyk hy. Wil jy jou seun op straat hê?”

“Geen kind van my is op drugs nie. Ek sal dit nie duld nie!”

“Maak oop jou oë! Net omdat jy nie daarvan hou nie, bete­ken dit nie dit is nie so nie. Jy kan hom nie net wegjaag omdat hy nie in jou prentjie pas nie. Dis juis hierdie verdomde houding van jou wat help maak het dat hy is waar hy is vandag. Hy wou nie rugby speel nie, toe gaan kyk jy nie na sy hokkiewedstryde nie. Hy het nie in die tuin belanggestel nie, toe stel jy nie belang in sy kitaar nie. Dis heeltyd tit for tat met jou. In sy hele lewe was niks wat hy gedoen het vir jou goed genoeg nie!”

“Bly stil! Dink jy regtig jy kan hierdie ding voor my deur kom gooi? Jy? Jy wat nooit by die huis is nie, wat altyd besig is om high en mighty op jou leer van sukses te klim. Wat dink ander mense se siektes is belangriker as jou eie gesin!”

“Jy kla nie as ek die groot geld inbring nie.”

“Ag, asseblief, moenie my laat lag nie. Dit het nooit vir jou oor geld gegaan nie, dit gaan daaroor dat jy nog altyd die beste wou wees. Almal moet die high en mighty dokter Althea Laubscher raaksien en beny. Dis hoekom jy Liam altyd so opgepiep het, hom tot in die afgrond in bederf het, hom altyd sy sin gegee het. Want jy oorkompenseer.”

As sy nog ’n woord verder hoor, sal sy Roelof te lyf gaan. “Ek praat nie verder met jou nie.”

“Ja, loop weg as iets ongemaklik raak. Dis mos wat jy doen.”

Sy stap by die trappe af, kombuis toe. Haar moeder en Amara het seker na hulle kamers gevlug. Sy neem hulle nie kwalik nie. Roelof is ’n onmoontlike mens om mee huis te hou as hy nie sy sin kry nie.

Sy skink vir haar ’n glas wyn en gaan sit buite by die swembad. Die water skyn blou van die swembadlig en skep die illusie van genot, maar sy weet daar is geen genot in daardie koue water nie.

Op hierdie oomblik haat sy vir Roelof. Hoe kan hy so iets vir haar sê? Hoe kan hy so verskriklik gemeen wees om háár te verwyt vir Liam se verslawing? Sy het nog altyd net die beste vir haar seun gedoen. Met Roelof wat geen moeite met die kind gemaak het nie, het enige moontlike aandag op haar neergekom. En ja, sy hét min tyd gehad om aandag te gee. En ja, as Liam iets gevra het en sy kon dit bekostig, het hy dit gekry. Maar sy het nie van hom ’n dwelmverslaafde gemaak nie.

Of het sy?

Sy neem ’n groot sluk wyn, gooi die res op die gras uit en kies koers na Liam se kamer toe.

Daar hou sy haar oor teen sy mond soos toe hy ’n babatjie was. Sy asemhaling is totaal onreëlmatig. Dis normaal, onthou sy iewers uit haar studies van duisende jare gelede. Maar dit stem haar nie minder bekommerd nie.

Toe sy in hulle kamer kom, is Roelof al in die bed. Sy klim langs sy rug in en draai haar rug op hom ook. Sy sal om die uur moet gaan seker maak of Liam nog asemhaal. Sy stel haar armhorlosie vir twaalfuur en maak haar oë toe.

Haar oë sper dadelik weer oop. Sê nou Liam word deur die nag wakker en loop weg? Sy sal die deure se sleutels moet wegsteek.

Vinnig staan sy op en loop voorportaal toe waar die huis se sleutels hang. Sy haak alles om haar wysvinger en voel of die buitedeure gesluit is voor sy terugstap kamer toe. Bêre die sleutels onder haar kopkussing.

Weer staan sy op en gaan luister of Liam nog asemhaal. Tevrede dat sy hart sterker klop, gaan klim sy terug in die bed. Stel haar horlosie vir kwart voor een. Dit gaan ’n lang nag wees.

Gister is verby

Подняться наверх