Читать книгу Die Reuk van koffie - Koos Kombuis - Страница 14

môre gaan ons hartenbos toe

Оглавление

’n Retrospektiewe artikel

Dis net ’n huisie langs die spoorlyn, maar dis ons huisie.

Ons gaan môre weer soontoe, want skool is klaar, en dis die begin van die Desembervakansie.

Dis net ’n huisie met vier vertrekke, sonder ’n toilet of badkamer, maar dis ons strandhuis wat my pa vir ons gekoop het. Nooit weer hoef ons Desembervakansies in die gehuurde rondehuisies onder by die strand te bly nie.

Goed, die rondehuisies was lekker naby die see, maar hulle was net een kamer, en daar was spinnekoppe bo in die rietdakke. Die spinnekoppe het snags afgesak aan draadjies as ons slaap. Almal was bang een van hulle sak by my pa se oop mond in, want my pa lê op sy rug as hy snork.

Ons eie strandhuisie langs die spoorlyn het ’n kombuis, ’n eetkamer en twee slaapkamers. Dis die jaar 1967, en ons weet nog nie asbes is sleg vir jou nie. Af in die straat met die grondpad tussen die ander asbeshuisies deur is die gemeenskaplike storte en toilette. Die ander asbeshuisies is almal vrolike kleure geverf, maar ons s’n is nog die oorspronklike asbeskleur.

Ek kan nie wag om môre in die kar te klim nie. Goed, dis ’n hele ent van Stellenbosch af soontoe, dis ure se ry, mens moet verby Riversdal en Albertinia gaan en dan eers as jy die see sien by Mosselbaai weet jy jy’s amper daar, en as jy die see sien, weet jy die vakansie het begin.

Ek droom al weke lank van ons strandhuisie langs die spoor, en ek tel die dae af totdat ons in ons Volvo kan klim en kan ry tot by daardie asbeshuisie langs die spoor!

Aan die voorkant van die huisie is ’n groot grasperk vol duwweltjies – dis nie ons grasperk nie, dis sommer net ’n grasperk – en aan die oorkant van die grasperk loop die spoorlyn verby. Elke aand met sononder kom daar ’n fluitende trein verby, en partykeer deur die dag ook.

Ek dink dis sommer baie ghrênd om so naby aan die spoorlyn te bly. Dan kan ’n mens al langs die spoor hardloop en waai vir die mense agter die vensters. Hulle waai altyd terug. Die wit mense ry in die voorste trokke, en hulle glimlag net so half en half. Maar in die agterste trokke kerjoel dit van die bruin mense. Hulle lag met oop tande en waai en fluit, want hulle is meer jollie as die wit mense.

Af in die pad, aan die ander kant as die toilette en storte, is daar ’n snoepwinkeltjie wat lekkergoed verkoop. Vir net twintig sent kan jy ’n hele handvol niekerbols en drop en ’n paar toffies koop.

Agter die snoepwinkeltjie is die Groot Amfiteater. Die Groot Amfiteater is net vir Ernstige Kuns. Dis groter as ’n rugbyveld, en elke aand wanneer hulle ’n toneelstuk daar gaan opvoer, ry daar voor die tyd twee ooms in ’n kar met ’n megafoon deur die dorp. Hulle verduidelik vir die mense oor die megafoon waaroor die toneelstuk gaan, hoe laat dit is, en hoeveel dit kos om te gaan. ’n Mens kan glad nie hoor wat die ooms sê nie, want die megafoon eggo te erg. So niemand weet ooit voor die tyd wat presies daai aand gaan gebeur by die Amfiteater nie, maar almal gaan anyway. Dis gewoonlik toneelstukke oor die Boereoorlog of die Groot Trek.

Die laaste toneelstuk wat ek daar gesien het, was baie hartseer. Dit was van ’n man wat terugkeer nadat hy die Kakies gejaag het en toe hy by sy eie opstal kom, is dit afgebrand tot op die grond en sy vrou en kinders is weg. Dit was seker minder moeite so, om te sê die opstal het afgebrand, want anders moes hulle ’n hele opstal bou. Maar al wat hulle toe nodig gehad het, was ’n paar stukkies steenkool en die akteur met sy breërandhoed en sy bandolier. Die akteur het snikkend uitgeroep: “Hulle het alles gevat … alles.” Later het dieselfde akteur gevra: “Besef Pa hoe lank is ’n slapelose nag?”

Ek het al baie daaroor gewonder, oor hoe lank ’n slapelose nag is, want ek het nog nooit in my lewe ’n slapelose nag gehad nie. Dis seker omtrent net so lank soos ’n slapelose dag, maar natuurlik voel dit baie langer, want jy rol vreeslik rond in jou bed en worry oor jou vrou en kinders in die konsternasiekamp.

Sjoe, dis baie erg, die toneelstukke wat die mense daar by die Amfiteater gaan kyk. Gelukkig gaan my ma-hulle nie meer nie. My ma-hulle verkies die flieksaal onder in die dorp.

Die flieksaal onder in die dorp is van wit plankies gebou, en dit behoort aan die ATKV.

Wel, noudat ek daaraan dink, álles op Hartenbos word mos gereël deur die ATKV – dis ’n soort kafee, maar hulle verkoop nie lekkers soos die snoepwinkeltjie nie. Dis ’n baie groot kafee, want die hele dorp behoort aan hulle. Ek dink God het hulle gemaak, en toe maak hulle vir Hartenbos. Hulle het alles gedoen: die rondehuisies, die storte en toilette, die asbeshuisies wat mense deesdae kan koop, die Amfiteater, die Indraf-winkel, en die flieksaal. Ek dink dis omtrent net die duwweltjies wat hulle nie gedoen het nie. Dit was seker God. Of dalk die Duiwel, want duwweltjies steek baie seer.

Ek hou baie van die flieksaal. Daar eet mens pannekoek en spookasem. Die spookasem is eintlik niks, maar dit smaak na iets. Maar as jy dit probeer hap, verdwyn dit. Tog kos dit geld. Gelukkig nie baie nie.

In die flieksaal doen hulle ook toneelstukke, maar dis meer laggerige toneelstukke. Ek het verlede Desember ’n toneelstuk daar gesien met die naam Die rooi lêer. Dis geskryf deur ’n skrywer met die naam Mikro, dieselfde ou wat die Sias en Mias-reeks geskryf het. Ek het al Mikro se boeke al gelees. Dit het prentjies in, maar die prentjies is maar lelik. Ek kan beter teken as dit. Maar ek hou baie van sy stories. Die rooi lêer was ’n vreeslike snaakse toneelstuk. Dit gebeur in die Staatsdiens, en gaan oor iemand se lêer wat wegraak.

Hulle wys flieks natuurlik ook in die flieksaal, dis waarvoor dit eintlik is. Lekker flieks, soos Oom Piet se tante. Swart-en-wit flieks, nie technicolor soos die Cliff Richard-flieks in die dorp nie. Afrikaanse flieks.

Daar was eenkeer ’n fliek waarin ’n meisie kaal geswem het. ’n Mens kon eintlik niks sien nie, sy’t vreeslik vinnig geswem in daardie plaasdam en die water was so donker soos Coke, maar my broers het daai fliek oor en oor gaan kyk, en elke keer as die fliek by die plek kom waar die meisie swem, het hulle vreeslik hard gefluit. Dan het die hele ATKV-saal gedreun en geëggo soos al die ooms en boeties hulle voete stamp op die vloer en fluit en goeters skree soos: “Jissie!” en “Kyk daar!”

Ja, van môre af begin die vakansie. Ons gaan Hartenbos toe vandat ek kan onthou. Dis die enigste lekker seeplek wat daar is. Soos ek sê, aan die begin moes ons in die rondehuisies bly. Dis daar waar ek ’n nuwe woord uitgedink het sonder dat ek dit eers besef het. Vakansies het my ma-hulle altyd koffie gemaak in plaas van tee soos by die huis op die dorp. Toe eendag besluit my ma om hier by ons huis ook koffie te maak. Toe sy my dit laat proe, sê ek: “Haai, dis dan rondehuisie-tee!” Van daai dag af noem die hele familie koffie “rondehuisie-tee”.

Ons heel eerste vakansie in die nuwe huis was die heel beste van almal. Ons het toe nog saans domino’s gespeel by die kombuistafel, die hele familie by die gaslamp. Domino’s is die lekkerste speletjie in die hele wêreld! Dis sulke plat swart houtblokkies met wit kolletjies op, en as jy dit op die tafel neersit, maak dit so kaplaks. Ek kon nie die reëls verstaan nie, maar hulle het my laat saamspeel in Mamma se span.

Later het ons opgehou domino’s speel, en deesdae weet ek nie meer wat om saans met myself te doen in die asbeshuisie nie. My broers is oud genoeg om rond te loop of die kar te steel, en my ma-hulle lees net moordstorie-biblioteekboeke waarop staan CRIME CLUB.

Ek onthou hoe bang ek verlede jaar was om alleen saans af te stap in die donker grondpad om te gaan piepie, want die toilette is mos ’n ver ent van die huis af. Toe ek by die toilet kom, sukkel ek om die deur oop te kry. Toe ek dit eindelik oopdruk, met ’n groot gesteun, lê daar ’n dooie ou.

Ek het my amper vrek geskrik en huis toe gehardloop, gelukkig was ek al in my pantoffels en kamerjas so ek hoef nie te geworry het oor die duwweltjies nie, en my ma-hulle gaan roep: “Mamma, daar lê iemand dood in die toilet!” Toe vat my pa die flitslig en stap om te gaan kyk. Dit was toe nie ’n dooie ou nie, maar ’n swart vrou. Sy was nie dood nie, sy was toe al die tyd siek. Langs haar op die sement was ’n glasbottel wat uitgesteek het uit ’n bruinpapiersak. My pa het haar wakker gemaak en haar weggejaag en gesê sy moet nooit weer hier kom nie.

Van toe af was ek ekstra bang om toilet toe te loop, veral in die aand. Ek piepie liewer op die gras buite die venster waar my pa en ma lê en stry.

Partykeer wens ek mens kan elf jaar oud bly vir altyd, en elke Desember Hartenbos toe ry vir die vakansie vir ewig en ewig, al speel ons nie meer saans domino’s nie.

wegbreek

Die Reuk van koffie

Подняться наверх