Читать книгу Die Reuk van koffie - Koos Kombuis - Страница 6

die groot stilte

Оглавление

Toe ek die nuus van P.W. Botha se dood hoor, was dit soos die geluid van ’n honderd watervalle in die verte.

En daarna: stilte.

Dit was anders as die dood van enigiemand anders wat ek geken of van geweet het.

Etienne van Heerden van LitNet het vir my ’n SMS gestuur kort na seweuur die oggend. Ek was besig om ProNutro met melk te meng vir my sesjarige seun se ontbyt voor ek hom aantrek en na sy preprimêre klas neem. Pienk ProNutro.

En toe: die SMS.

En toe: die suising van baie water.

Dit was asof alles stil gaan staan het op daardie oomblik, asof alles wat ek is, wat ek glo en waarvoor ek gewerk het, alles om my, my huis en my tuin en my stoele en my TV en my computer en die prente in my gang, nuwe betekenis gekry het.

Alles was meteens leeg.

Dit was asof Tafelberg in die see ingesak het.

Ja, dit was soos om een oggend in jou kar te klim en stad toe te ry in die spitsverkeer, en Tafelberg is nie meer daar nie.

Tafelberg is … weg.

Waar hy gestaan het, is net blou lug. Asof dit nog altyd so was. Asof dit die normaalste ding in die wêreld is.

Die gesuis.

Ver weg.

En dan, lank en ver terug, die herinneringe, herinneringe aan liedjies wat ons gesing het in die donker skoolsale van apartheid toe ons nog stout seuns was …

Liedjies teen P.W.

Ons het toe nog ons wynbottels stukkend geslaan teen die wand van die berg. Die berg wat nou nie meer daar is nie.

Ek weet daar sal iets kom na die stilte.

Ek besef ek sal iets voel wat amper soos berou is.

Ek weet daar sal weer woorde in my kop spring, woorde van vergifnis miskien, selfs woorde van humor.

Want die blou lug moet besing word.

P.W. is nie dood nie, hy’s net uitgepaas.

Die draak het ophou vuur spuug. Die haatfabriek het gesluit.

Die geraas in my kop het verdwyn. En die angs. En die skuld. En die woede van my jeug.

Ek trek my kind se klere aan vir skool, en laai hom in die kar, en terwyl ek oor sy hare vryf en kyk of daar snot aan sy neus vassit, weet ek: hierdie kind hoef nie eendag op die grens te gaan veg soos my generasie nie.

Hy sal dalk teen ander Bothas moet veg, maar nie teen hierdie een nie.

Toe ek die kardeur toeslaan agter my, en agteruit by my eie garage uitry, is die lug oral blou, en die strate is vreemd rustig, en Suid-Afrika het ’n nuwe naam.

litnet

Die Reuk van koffie

Подняться наверх