Читать книгу Die Reuk van koffie - Koos Kombuis - Страница 4
die nag toe ons vergeefs 10111 gebel het
ОглавлениеDit het begin soos sulke dinge altyd gebeur: iewers in die buurt het ’n hond begin blaf.
Ek het rondgerol in my slaap, in die middel van ’n nagmerrie oor Helen Zille in ’n dominatrix-uniform wat my herhaaldelik met ’n swepie piets.
Net toe ek by die klimaks van die droom kom – die oomblik toe sy haar bril afhaal – word ek wakker, en voor ons bed staan drie onbekende mans.
“Ons soek jou selfoon,” sê die een met die balaklawa. “Ons wil jou vrou verkrag,” sê die een met die tattoos. “Dis niks persoonliks nie,” verduidelik die een met die Black Labour White Guilt T-shirt. “Dis slegs deel van ons inisiasie as bendelede.”
“As jy ’n nuwe selfoon wil hê, waarom kry jy nie net ’n upgrade nie?” vra ek die een met die balaklawa.
Intussen het my vrou ook wakker geword. “Gee vir my die telefoon aan, ou man,” sê sy, “ek sal solank 10111 bel.”
Ek gee vir haar die koordlose telefoon aan, en kyk na die een met die tattoos. “Jammer, jy sal nie nou my vrou kan verkrag nie,” sê ek beleefd. “Sy is besig met ’n oproep.”
“Dis oukei,” sê nommer drie vir sy maat. “Los eers die vrou. Dis anyway deel van die nuwe speletjie wat hulle vir ons inisiasie uitgewerk het. Die victims bel 10111, dan kyk ons of ons klaarkry voor die polisie kom.”
My vrou gee die foon vir my aan. Ek hou die gehoorbuis teen my oor. Al wat ek hoor, is instrumentele musiek. “Love is Blue.”
“Kan ons julle solank vasbind?” vra nommer een terwyl hy ongeduldig op die vloer tik-tik met sy gesteelde Nike-tekkie. “Daai ouens vat partykeer baie lank om te reply.”
“Terwyl my man wag dat die polisie antwoord, sal ek gou vir julle wys watter vorms om in te vul vir julle eie selfoon-upgrade,” sê my vrou. Sy staan op en trek haar japon aan.
Intussen stap ek ongeduldig heen en weer met die gehoorbuis teen my oor. “Hulle speel darem nie meer ‘Love is Blue’ nie,” sê ek. “Dis nou daai dobby-dooby-liedjie.”
“Van Freshly Ground? Dis my favourite!” sê die ou met die tattoos. “Kan ek bietjie luister?”
Ek gee die gehoorbuis vir hom terwyl ek solank vir nommer drie gaan wys waar ons bankkluis is. Hy mag dit wel nie oopbreek voor die polisie geantwoord het nie, verduidelik hy, maar dit sal tyd spaar as hulle solank die plan van die huis memoriseer. “Veral as ons ’n quick getaway moet maak.”
Terwyl ek solank die ketel aansit vir koffie, hoor ek die ou met die gehoorbuis in die kamer kla: “Hulle sê net heeltyd your call will be answered. En hulle speel nou ‘Pampoen’ van Steve Hofmeyr.”
“So kan dit nie aangaan nie!” sê die balaklawa woedend. “Besef hulle nie tyd is geld nie?”
Ek loop kamer toe. “Gee my die foon,” sê ek. “Ek wil daai mense ’n slag behoorlik uitkak wanneer hulle eendag besluit om op te tel.”
Ek druk die gehoorbuis teen my oor. “You are number five hundred and twelve in the queue,” deel ’n blikkerige stem my mee voor “Pampoen” plek maak vir “Lisa se klavier”.
“Kom ons waai liewerster,” sê die balaklawa. “Waar’s jou karsleutels?” vra hy vir my.
“Jou stupid!” sê nommer drie. “Ons het mos met ons eie kar gekom!”
Ek slaak ’n sug van verligting, want my kar het ’n tracker device in, en almal weet daai goed werk glad nie.
“Is julle seker julle wil nie bly vir koffie nie?” vra ek.
“Ons het melktert,” sê my vrou.
“En dié tyd van die nag is daar gewoonlik ’n lekker stout moewie op TV,” probeer ek hulle ompraat.
Maar hulle hou Nike-tekkie by stuk. Die nag is nog lank, daar is ander mense om te rob, en hulle kan nie langer vertoef nie.
“SMS ons julle nommer, dan maak ons volgende keer by julle ’n draai,” sê my vrou.
“Weet jy,” sê ek vir haar terwyl ons op die stoep staan en wuif terwyl hulle met hulle gesteelde kar by die bure oorkant die straat se oprit inry, “sulke dinge gee my weer hoop vir ons land en sy mense.”
rapport