Читать книгу Recce - Koos Stadler - Страница 11
1
ОглавлениеDie onbekende in
IN NOVEMBER 1978 vlieg twee groepe jong avonturiers in ’n militêre vragvliegtuig na die oorlogsfront. Die een groep was vrywilligers wat na 32 Bataljon sou gaan, ’n eenheid wat deur kol. Jan Breytenbach uit oudsoldate van die FNLA saamgestel en in ’n gedugte swart gevegseenheid omskep is. Die ander een was my groep, wat op pad was na die militêre dorp Omega in die Caprivi, die tuisbasis van 31 Bataljon.
Operasionele gebied
Die leiersgroep van 31 Bataljon het uit wit offisiere en ’n kombinasie van wit en Boesman-onderoffisiere bestaan. Die eenheid is deur kol. Delville Linford gestig. Hy was een van daardie sonderlinge karakters in die weermag wat dinge op sy eie, onortodokse manier gedoen het – én daarmee weggekom het. Hoewel Linford nie meer by die eenheid was nie en ek hom nooit ontmoet het nie, was sy foto’s oral teen die mure en was sy invloed nog byna tasbaar.
Ons was ’n gemengde groep van kandidaatoffisiere en onderkorporaals vars uit die Infanterieskool. Ná ons aankoms op Rundu is ons agterop ’n Kwêvoël (’n 10-ton-vragmotor met ’n mynbestande kajuit) na Omega. Die rit was ’n heel interessante ervaring. Ons het op ons bagasie gesit en tuur na die bosse, almal ’n bietjie onseker oor wat vir ons voorlê. Voor ons teen die kajuit was sakke mieliemeel wat moes saamgaan Omega toe. Fyn meelpoeier het die hele tyd op ons neergesif. Onderweg het ’n donderstorm losgebars, wat – soos ons gou tydens operasies in die bos sou agterkom – tipies was van die Caprivi se somerweer. Ná die reën het die son weer deurgebreek en die meel op ons klere en gesigte hard gebak. Teen die tyd dat ons op Omega aangekom het, het ons soos ’n Kwêvoëlvrag vol varsgebakte brode gelyk.
Kapt. Frans “Gor-Gor” Gunther het ons verwelkom en ’n kort induksieprogram laat doen. Hy was ’n indrukwekkende figuur met ’n ewe oorweldigende persoonlikheid en ’n reuse-snor om die prentjie af te rond. Die gerug het gou die ronde begin doen dat sy snor alles oor sy gemoedstoestand verklap. As hy byvoorbeeld kwaad of ontevrede was, sou die snorpunte na onder hang, terwyl ’n reguit snor daarop gedui het dat hy tevrede was met jou prestasie. Oor die volgende drie jaar het ek en my verkenningspan die voorreg gehad om verskeie kere saam met Frans en sy C-kompanie te ontplooi. Ek kan gelukkig sê dat ek sy beroemde snor nooit in die hangende posisie gesien het nie.
Ná die week lange induksie is 18 verkenningsvleuel-kandidate geskei van dié wat by die kompanies sou aansluit. Ons 18 het met keuring vir die verkenningsvleuel begin, terwyl die ander groep ’n program gevolg het wat hulle sou voorberei om hul Boesmanpelotons in ’n teeninsurgensie-oorlog aan te voer.
In die middel-sewentigerjare het ’n behoefte aan taktiese verkenning gelei tot die stigting van verkenningspelotons by die infanterie-eenhede wat permanent in die Grensoorlog se operasionele gebied gestasioneer was. Destyds was 31 en 32 Bataljon die eerste eenhede wat verkenningspanne in Zambië en Angola ontplooi het om Swapo-basisse op te spoor in gebiede wat Swapo as “veilig” beskou het.
Aanvanklik is hierdie verkenningsvleuels deur instrukteurs van die Verkenningskommando’s (later Verkenningsregimente) in die fynere kunsies van taktiek opgelei. Die spanne het talle verkenningstake op taktiese vlak uitgevoer, baie daarvan voordat aanvalle of strooptogte op vyandelike basisse en infrastruktuur gedoen is. Sowat tien jaar lank, tussen 1976 en 1986, het die verkenningsvleuels die las van die Verkenningskommando’s verlig deur verkenningstake in die operasionele gebiede van Sektor 10, 20 en 703 uit te voer. Gevolglik kon die Spesiale Magte hulle op operasies in die strategiese sfeer toespits.
Daar is nooit ’n duidelike onderskeid tussen taktiese en strategiese ontplooiings gemaak nie. Dit is egter algemeen aanvaar dat die taktiese verkenningspanne in elke sektorhoofkwartier se direkte verantwoordelikheidsgebied sou ontplooi – dus tot sowat 60 km in Angola of Zambië in. Daar was wel verskeie uitsonderings op die reël. Talle Spesiale Magte-operasies is byvoorbeeld in die taktiese sfeer uitgevoer – soos die pseudo-guerrilla-operasies deur 51 Kommando aan albei kante van die Suidwes-Angola-grens.
Handboekdefinisies van daardie era het strategiese verkenning beskou as operasies waar ’n span onafhanklik – dus sonder enige direkte grond- of lugsteun – opereer. Die inligting wat tydens die verkenning ingesamel is, sou ook nie noodwendig tot direkte optrede teen die vyand lei nie, maar sou wel ’n strategiese uitwerking op die uitkoms van die oorlog hê. Daarteenoor is taktiese verkenningstake in die taktiese invloedsfeer van operasies uitgevoer, dus binne reikafstand van grond- en lugsteun. Dit sou ook feitlik altyd tot direkte taktiese optrede deur eie grondmagte lei.
Die modus operandi van die taktiese verkenningspelotons het van eenheid tot eenheid verskil. ’n Verkenningspatrollie wat voor ’n gevegsmag moes patrolleer, het uit vier tot ses man bestaan en moes swaar genoeg bewapen wees om hulself in ’n geveg te handhaaf. Vir ’n verkenning van ’n Swapo-basis sou ’n patrollie uit hoogstens vier manne bestaan. Indien die basis binnegedring moes word, sou dit dikwels deur twee manne gedoen word.
Selfs in die beginjare van die oorlog het die moeilike terrein en gebrek aan skuiling die gebruik van groot spanne verhinder. Dit het meegebring dat die konsep van kleinspanoperasies reeds teen die laat 1970’s met groot sukses deur die taktiese verkenningsvleuels toegepas is.
Die keuring vir die verkenningsvleuel van 31 Bataljon was die strafste wat ek nog deurgemaak het. Aan die begin van die keuring is ons ’n week lank aan die ergste liggaamsoefeninge (LO) denkbaar onderwerp, van 05:00 in die oggend tot laat in die nag. Die instrukteurs wou ons klaarblyklik vir die bosfase gereed kry, maar al wat hulle bereik het, was om ons tot die dood toe uit te put. Ons moes nog eers aan die Caprivi se warm en vogtige lug gewoond raak.
Toe is ons bos toe vir die regte keuring, maar het gou besef dat dit bloot ’n aanhoudende gesloeg deur die ruie bosse was van die een rendezvous (RV, of soms ruitverwysing) na die volgende. By elke RV het die instrukteurs ons met nóg ’n verrassing ingewag. Soms was dit ’n stywe LO-sessie in die sand en ander kere moes ons kilometers ver leopard crawl. Daarna het ons ’n nuwe kompaspeiling gekry na die volgende RV, wat gewoonlik ’n onmoontlike afstand weg was om binne die gegewe tyd af te lê. Die instrukteurs sou ons dan die volgende dag daar inwag.
Die eerste skof van ons avontuur het ons by ’n RV op die Angola-kaplyn – die grens tussen die Caprivi en Angola – uitgebring. Ons moes dit teen die volgende oggend bereik. Met rugsakke van minstens 30 kg elk het ons deur die nag gespook om by ons eerste ontmoetingspunt uit te kom. Daar is ons verwelkom met ’n stywe LO-sessie in die sand.
Teen 09:00 het ons ons volgende opdrag ontvang: Ons moes die volgende oggend 08:00 by ’n RV 30 km verder oos in die Caprivi wees. In ons fisieke toestand en met die digte Caprivi-bos was dit ’n bykans onbegonne taak, maar daar was geen ander uitweg nie – ons moes maar net aanhou.
Die instrukteurs is daar weg nadat hulle hul opdragte gegee het. Ons het geen kos gehad nie en slegs die water wat in ons rugsakke oor was. Om ons was net die nimmereindigende savanna van die Caprivi. Dit was gelukkig reënseisoen en die bos was welig en groen. In die omurambas (oop grasbedekte panne tussen die duine) was genoeg water. Ek het besluit om dadelik weg te spring en die eerste deel agter die rug te kry. Hoe korter die afstand wat ons in die nag moet aflê, hoe beter, het ek gereken.
Dit was egter makliker gesê as gedaan, want ek het dadelik voor my eerste toets te staan gekom. ’n Mede-kandidaatoffisier (KO) – ’n kêrel van wie ek nie besonder baie gehou het nie – het die leiersrol op hom geneem en verklaar dat die groep oor die hitte van die dag sou rus en teen 15:00 daardie middag sou begin beweeg. Dit sou ons kwansuis genoeg tyd gee om die 30 km voor die volgende oggend 08:00 af te lê. Ons het ’n bietjie daaroor gestry, maar almal was moeg en die KO het die argument gewen.
Hulle kan maar rus, het ek besluit. Ek gaan die pad vat. Sonder om verder te kibbel het ek omgedraai, my rugsak op my rug gekry, die kompas op sy peiling gerig en begin stap. Net een van die ander het besef hoe onsinnig dit is om te lê en rus terwyl ons met keuring besig is. Ek was enkele meters weg toe hy roep: “KO, wag, ek kom saam met jou!” Hy het al struikelend, terwyl hy beur om die swaar sak op sy rug te kry, agter my ingeval.
Die keuring het ons twee uitstekende blootstelling aan die bos gegee en dit was uiteindelik ’n wonderlike ervaring. Daardie dag het ons troppe olifante en ander wilde diere teëgekom. Ons het gou geleer waar om water in die omurambas te kry en hoe om die olifanttroppe te vermy deur onder die wind om hulle te sirkel. Ons het ook vinnig geleer om na mekaar om te sien.
Laat daardie middag het ons ’n noue ontkoming met ’n olifantbul gehad terwyl ons by ’n watergat ons watervoorraad aangevul het. Ons het dit ’n gewoonte gemaak om aan weerskante van ’n watergat stelling in te neem sodat ons die bos agter die ander persoon kon fynkam terwyl ons ons bottels vul. Terwyl ons besig was, het ’n olifant om ’n boom aan die oorkant van die watergat gestap en reg op my makker afgepyl. Ek het nie eens tyd gehad om ’n woord uit te kry nie, maar hy moes die geskokte uitdrukking op my gesig gesien het, want in ’n breukdeel van ’n sekonde het hy weggespring en half onder ’n boomstam ingeduik. Tot op daardie oomblik het die olifant hom nog nie gesien nie. Sy uitroep en vinnige reaksie het waarskynlik sy lewe gered, want die ou grote het net een snork gegee en die bosse ingestorm.
Die volgende oggend was ons twee betyds vir die RV, maar die res van die keuringsgroep het verdwaal en is eers ’n dag later opgespoor nadat hulle skote in die lug gevuur en seinfakkels gelanseer het. Hul water het reeds op die eerste dag opgeraak en sommige het begin dehidreer. Daarna het hulle verward geraak oor die afstande wat hulle afgelê het, omdat hulle nie in die nag die kaplyne, wat as hoof-navigasiehulpmiddels moes dien, kon opspoor nie. Om hulle ’n redelike kans te gee – die instrukteurs het nie werklik geweet presies wat gebeur het nie – kon almal met die keuring voortgaan. Hulle is per voertuig na ’n volgende RV geneem en het in die proses ’n veel korter roete as ons twee afgelê.
Die keuring het nog ’n week aangehou. Ek het tred verloor met die tyd en ook met die aantal kandidate wat nog oor was. Tot vandag toe weet ek nie hoe ver ons tydens die keuring gestap het nie. Ek het ook nie regtig omgegee hoeveel manne werklik die keuring slaag nie, want soos dit later sou blyk, het ons eerste operasionele ontplooiing gou die kaf van die koring geskei.
Ek het twee baie belangrike dinge daardie week geleer. Die eerste het ek reeds besef die dag toe ek die graf in Ariamsvlei se begraafplaas moes grawe: Moet nooit eens dink aan tou opgooi nie, want dan sal jy ook. Die ander: Doen wat jy glo is reg, sonder om toe te gee aan die versoeking om by ’n groep in te val. Dié twee waarhede het my rigsnoer geword tydens my latere operasionele loopbaan in die Spesiale Magte.
Deur die jare het ek drie keuringskursusse deurgemaak – die eerste een was by 31 Bataljon, die tweede by 1 Valskermbataljon (die berugte LO-kursus) en die laaste by die Spesiale Magte. Ek kan onomwonde sê dat die eerste kursus die heel moeilikste was. Ek kan ook met ’n oop gemoed sê dat ek nie gedurende een van hulle vir ’n oomblik oorweeg het om op te gee nie. Boonop was daar darem ook ’n sekere mate van pret in elke kursus.
Ná ’n week se hersteltyd op Omega het ons opleiding in alle erns begin. “Spesops”-uitrusting is aan ons uitgereik. Dit het outydse Alpine-rugsakke, Swapo-gevegsuitrusting en ’n verskeidenheid vreemde wapens, soos AK47’s, RPD’s4, RPG-7’s en pistole uit die Oosblok-lande ingesluit.
Die Maandagoggend ná die breek het ons ons by die verkenningsvleuel se hoofkwartier aangemeld en ons uitrusting op die Unimogs gelaai wat gereed gestaan het. Ons was onseker wat om te verwag terwyl ons na Fort Vreeslik, die verkenningsvleuel se opleidingsbasis, gery het. Die basis was weggesteek in die Caprivi se ruie bosse sowat 14 km suid van Omega.
Drie ervare en geharde instrukteurs van die Verkenningsregimente (soos die eenhede teen daardie tyd herdoop is) was reeds daar. Hulle het van Fort Doppies, die Spesiale Magte se opleidingsbasis langs die Kwandorivier, gekom. Dit was tawwe manne wat die Kleintaktiek-kursus vir ons sou aanbied.
Die opleiding was ’n buitengewone ervaring. Ek het vantevore baie gewonder oor die betekenis van die woord taktiek en wat ’n mens nou eintlik oor taktiek kon leer. Die kursusleier en sy twee instrukteurs het gou die skille van ons oë laat val. Vier weke lank is ons in die fyner kunsies van patrollering, spoorsny en teenspoorsny, die nadering en binnedring van teikens, kontakdril, hinderlae, ontwykingstegnieke en verkenning ingelyf.
’n Week voor die kursus amptelik sou klaarmaak, het ons dit self beëindig. Een oggend omstreeks 02:00 is ek wreed uit my slaap geruk deur AK47-skote en ’n vreesaanjaende gevloek en geskree. Ek het verskrik uit my skuiling (wat ons vroeër uit takke en gras gebou het) probeer kruip, maar een van die instrukteurs het my gekeer. Die volgende oomblik is ’n rookgranaat in die skuiling gegooi, wat my gedwing het om die hasepad te kies. In die proses het ek die een kant van die skuiling en stukke van die instrukteur se hemp saamgevat. Teen hierdie tyd was die hele basis in rep en roer.
Die instrukteurs was skynbaar ontevrede met ons vordering en het besluit om ons ’n bietjie “regte aksie” te wys. Dit is natuurlik aangehelp deur ’n gesonde hoeveelheid Red Heart-rum – jare lank die Recces se standaard-drankie. Vroeër die aand het ons sit en kyk hoe die drie hardebaarde twee bottels Red Heart tussen hulle regsien.
Die skerp reuk van die rookgranate het die naglug gevul. Nog skote het sporadies geklap. Meteens het ’n RPG-vuurpyllanseerder in die basis afgegaan en die projektiel het in ’n boom buite die kamp ontplof. Ek het net daar besluit dat dit nou ’n goeie tyd is om die ontwykingstegnieke te toets wat ons pas aangeleer het, en blindelings die bosse ingehardloop. Wes van die kamp het ek op ’n paar van die ander afgekom wat dieselfde tegniek – maak gat skoon – toegepas en in ’n oop kol hergroepeer het. Almal behalwe twee studente was daar. ’n Groot lawaai het steeds uit die rigting van die kamp gekom en ons het besluit om die res van die nag in die bos te bly. Teen sonsopkoms was die beslissing eenparig: Ons gaan terugstap Omega toe en die saak rapporteer. Almal het teen daardie tyd ’n oordosis van “regte aksie” gehad.
Die eenheid se bevelvoerder was nie baie gelukkig met wat gebeur het nie. Die instrukteurs is ingeroep basis toe en gevra om na Fort Doppies terug te keer. Voordat hulle stert tussen die bene daar weg is, het die kursusleier, ’n uiters ervare jong offisier van 1 Verkenningsregiment (toe reeds bekend as 1 Recce), na my gekom en gesê: “Stadler, ek het meer van jou verwag. Ek is uiters teleurgesteld.”
Ek was ongelukkig te jonk en onervare om hom teë te gaan en het net omgedraai en weggestap. Maar in my binneste het ek geweet wie reg was. En ek sou nie toelaat dat ’n klomp dronklappe my daarvan weerhou om by die verkenningsvleuel aan te sluit nie.
Ons bevelvoerder het die voorval ook aan 1 Recce se bevelvoerder gerapporteer – en hy was uiteraard nie baie in sy skik met sy manne se gedrag nie. Die voorval het ’n slegte nadraai gehad omdat daar baie jare daarna nog ’n ongemaklikheid tussen die twee eenhede was.
Die voorval het egter ook ’n positiewe gevolg gehad. Al die studente moes terugkeer Fort Vreeslik toe om ’n tweede Kleintaktiek-kursus onder die uiters bewame lt. Frannie du Toit – wat my aanvanklik vir die verkenningsvleuel gewerf het – en sy span instrukteurs te doen. Hierdie keer het ons die kursus saam met die Boesmans gedoen, dieselfde spanne saam met wie ons binnekort tydens operasies sou ontplooi. Vier weke lank het ons dag en nag saam met hulle geëet, geslaap en opleiding gekry – en alles ingeneem wat hulle ons oor bosoorlogvoering kon leer.
Baie van die Boesmans was al deel van die Fletchas (“Pyle”) terwyl die meeste van ons nog op skool was. Die Fletchas was spesiale eenhede van die Portugese magte wat tydens die koloniale oorlog in Angola gestig is. Hulle het uit lede van die plaaslike stamme en rebelle-oorlopers bestaan en het as peloton-grootte subeenhede in spoorsny, verkenning en pseudo-guerrilla-operasies gespesialiseer. Nadat Angola onafhanklik geword en die Portugese uit die land padgegee het, het baie van die Fletchas by die SAW aangesluit.
Ons kon geweldig baie by die Boesmans leer. Veral hul ongelooflike veldkennis was nuttig, soos ons tydens ons opleiding en latere operasies sou agterkom. Ek het elke geleentheid aangegryp om by hulle te leer. Daarmee saam was die kennis en ervaring van ons instrukteurs ’n groot bron van inspirasie. Frannie en sy span was volwasse en professioneel en hulle het ons met groot geduld deur die opleiding gelei.
Die opleiding wat ons daardie paar weke in die afgeleë bosse van die Wes-Caprivi ontvang het, is van die beste wat ek ooit in ons weermag ervaar het. Ek het elke greintjie kennis ingedrink, soveel praktiese ervaring as moontlik opgedoen en probeer om een te word met die bos.
Frannie, ’n briljante soldaat en militaris sonder weerga, het geglo die bos bied jou alles om ’n taktiese voordeel bo jou teenstander te kry – mits jou oë oop was om die geleenthede raak te sien. Hy het my aangemoedig om die klassieke werke oor ongereëlde oorlogvoering te lees en die beginsels my eie te maak. F. Spencer Chapman se The Jungle is Neutral was een van die boeke wat ons benadering gevorm en in ’n sekere sin die verkenningsvleuel se doktrine bepaal het, ten minste in die drie jaar wat ek deel van die verkenningspanne was.