Читать книгу Recce - Koos Stadler - Страница 8

2

Оглавление

’n Jong avonturier

EK IS OP UPINGTON GEBORE as die seun van ’n onderwyser, maar het toe ’n predikantskind geword nadat my pa op die rype ouderdom van 44 besluit het om sewe jaar lank teologie aan die Universiteit van Stellenbosch te gaan studeer. Ek en my twee­lingsuster, die jongste van ons ses kinders, was nog klein toe die gesin sak en pak Stellenbosch toe verhuis het.

My wonderlike, gelukkige kinderjare het ek grotendeels aan my ouers te danke. My pa was ’n jagter en avonturier. Ek kan maklik ’n prentjie van hom in sy toga op die preekstoel in herin­nering roep, maar sal hom altyd onthou as ’n man van die natuur.

Hy het ’n intieme liefde en ’n passie vir die veld gehad, veral vir die Kalahari, oftewel die Kgalagadi, en hy het veral in die fauna en flora van die streek belanggestel. Hy was versot op die buitelewe en het as jagter nog in die tradisionele manier van doen geglo. Jag van voertuie af, wat in daardie tyd in die Kalahari gewild geraak het, was vir hom taboe. Hy sou sy prooi eerder probeer uitoorlê of die wild vir ure geduldig in die skadu van ’n N’Xoibos inwag.

My pa was ook lief vir sy God. Ek het menige keer op hom afgekom waar hy agter ’n bossie in die veld sit en bid het.

My ma was ’n pragtige mens, ’n stil en uiters lojale predi­kants­vrou. Maar op haar unieke, beskeie manier het sy die fondament van ons gesinslewe gevorm. Sy was my pa se inspirasie, het die nodige roetine en dissipline vir ons kinders verskaf en het troos uitgedeel aan elkeen wat dit nodig gehad het. Ek het my afkeer van groot groepe mense en raserige partytjies aan haar te danke. Ek kan ook met trots sê ek het die spesifieke temperament wat nodig is om ’n Kleinspan-operateur te word, van haar geëerf.

As jong seun het ek gereeld saam met my pa, toe predikant van die NG gemeente op Ariamsvlei in Suidwes-Afrika (later Namibië), na bidure op plase gery. Dié uitstappies het altyd een of ander avontuur meegebring. Ons het dikwels op een van die plase gaan kamp of jag en uitdagings het gereeld oor ons pad gekom wat dit vir my in ’n onvergeetlike ervaring sou omskep.

Op een so ’n uittog in die International – die agtsilinderbakkie wat die gemeente aan my pa gegee het – het die voertuig gebreek. Dit was op ’n verlate plaaspad hoog in die klipkoppe op die ruwe terrein noord van die Oranjerivier. My ma en sussie was saam met ons en daar was net een uitweg: Ek sou moes stap om hulp te kry terwyl my pa-hulle by die International agterbly. Pa het die roete aan my verduidelik. Dit was ’n kortpad tussen die heuwels deur en al met die valleie langs. Met ’n vermaning dat ek my kosbare water moes spaar en my rigting met behulp van die son moes hou, het my pa my laat gaan.

Ná vier uur se loop het ek by die plaasopstal uitgekom. ’n Voer­tuig is gestuur om my pa-hulle te gaan haal. Boere van om­liggende plase het vinnig ’n herwinningspan saamgestel en die International binne ’n paar uur by die opstal gehad. Ek was uitgeput maar nogal in my skik, want ek het geweet my alleentog deur die berge sou heelwat respek by die omgewing se plaas­seuns afdwing.

Dit was 1972 en ek was 12 jaar oud.

Daardie jare op Ariamsvlei was hemels vir ’n kind van my ouderdom. Ons het voortdurend allerlei avonture op die plase rondom die dorp gehad waar ons in die sementdamme geswem en kleinwild bekruip het. Ek het op ’n baie jong ouderdom leer skiet en het byna elke dag met my windbuks duiwe gejag of skyf­geskiet. Dit was ’n heerlike, sorgvrye lewe.

My kinderjare was in baie opsigte streng, maar ek het as ge­volg daarvan ongelooflik waardevolle lesse geleer.

Een aand laat het die dorp se polisiesersant by die pastorie kom klop: Twee jong manne uit die gemeenskap was in ’n trompop-­botsing op ’n grondpad buite die dorp. Dit het later geblyk dat die een ’n vragmotor wou verbysteek, maar nie die aankomende voertuig in die vragmotor se stofwolk gesien het nie. Toe my pa en ma in die International op die toneel aankom, was al twee jong mans sterwend, maar daar was nog tyd vir my pa om vir hulle te bid.

Die gemeenskap was geskok deur die nuus dat twee van sy belowende jong seuns deur die dood weggeraap is. Die een is op sy ouers se plaas begrawe, terwyl die ander in die dorp se begraafplaas ter ruste gelê sou word. Tot vandag toe weet ek nie of my pa gevoel het dat ons as gesin op ’n tasbare manier ons medelye moes betoon deur die graf te grawe en of hy my doelbewus ’n les wou leer nie. Dit het in elk geval my werk geword om dit te doen.

Ek het nie teëgestribbel nie, want onbewustelik het ek waarskynlik my pa se gevoelens gedeel. Buitendien het die uitdaging van ’n bietjie fisieke uitputting my nog nooit afgeskrik nie. Ge­wapen met ’n pik, ’n graaf en ’n bottel water is ek by die begraaf­plaas buite die dorp afgelaai. Nadat my pa my instruksies gegee het oor die ligging en afmetings van die graf, is hy daar weg.

Binne ’n skamele uur of twee was my hande vol blase en die graf beswaarlik ’n meter diep. Die klipharde aarde en die snik­hete son van die droogtegeteisterde Suidwes het begin om sy tol te eis. My pa het daar aangekom met nog water en my ma se tuisgemaakte gemmerbier. Toe hy my hande sien, is hy dadelik daar weg om Ballistol te gaan haal, ’n geweerolie wat as salf vir omtrent enige seerplek aangewend is. Die Ballistol het als in ’n glibberige gemors omskep – nie net die blase en stukkende plekke op my hande nie, maar ook die pik, graaf en my gesig soos ek die sweet probeer afvee het.

Daardie nag het elke spier in my liggaam gepyn. Die son het my so rooi soos ’n tamatie gebrand en my hande was in ’n toestand. Ek was doodmoeg, maar vasberade om die volgende dag die volle ses voet diep te grawe. Die volgende oggend was my hande só geswel en vol blase dat ek nie eens ’n paplepel kon vashou nie, wat nog te sê ’n graaf. My ma het vasgeskop en geweier dat ek verder gaan grawe. Sy het my pa met allerhande soorte straf gedreig as hy dit sou waag om my weer na die begraafplaas te vat. Toe sy besef dat ek geensins van plan was om op te gee nie, het sy my hande in verbande toegedraai en my handskoene laat aantrek.

Ek het die tweede dag nog ’n hele paar uur gegrawe. In die namiddag was die graf vier voet diep, maar my hande kon net nie meer die graaf vasvat nie. Die graf moes egter klaar, want die begrafnis was oor twee dae. Ek het toe besluit om dit een stukkie op ’n slag tot die volle diepte te grawe totdat die hele graf diep genoeg was.

Hierdie ondervinding het my geleer dat waar ’n duidelike en eerbare doel ter sprake was, ek alles in die stryd moes werp om dit te bereik, ondanks swaarkry. My pa het daardie middag ’n ervare arbeider daar aangebring wat die oorblywende twee voet in minder as twee uur gegrawe het. Dit het my egter nie gepla nie, want ek het geweet ek sou my opdrag uiteindelik wel voltooi het. My moeë liggaam en hande vol blase was ’n bittersoet herinnering aan die ure se grawery – en my stille eerbetoon aan die twee jong manne wat gesterf het.

In 1973 is ek en my tweelingsussie na die koshuis op Upington om ons hoërskoolloopbaan te begin. As die enigste predikants­kind tussen die Kalahari se plaasseuns moes ek heelwat spot ver­duur en is spoedig herdoop tot “Dominee”, soms “Dissipel” of “Priester”. Maar ek het ook goeie maats gemaak en die aanslae heel maklik oorleef.

Langnaweke en vakansies het ek en my sussie by my ouers in Suidwes deurgebring. As 15-jarige was my geliefkoosde tydverdryf steeds om in my ou jagvelde rondom Ariamsvlei rond te swerf, kleinwild te bekruip en gedurende die jagseisoen saam met my pa te gaan jag. Ek het ook begin om met ’n verslete ou rugsak lang staptogte op grondpaaie na plase aan te pak. Ek het dan dikwels by boere van die gemeente tuisgegaan.

Die jaar 1974 het ook ingrypende verandering na ons ander­sins stil dorpie gebring. Skielik het groot konvooie militêre voer­tuie noordwaarts deur die dorp begin beweeg. Hulle het dikwels gestop om brandstof aan te vul of op die dorpsmeent langs die BSB, oftewel Boere Saamwerk Beperk (die koöporasie vir vee­boere van die distrik), te oornag. Tientalle weermaglorries en verskeie gepantserde voertuie het dan in rye langs die meent parkeer, terwyl honderde soldate op die dorp rondgehang, in die kamp bal gespeel of met die enkele nuuskierige inwoners gesels het.

Ek het gou agtergekom dat daar ’n oorlog aan die gang was in Ovamboland, aan Suidwes se noordelike grens met Angola. Sedert 1966 het Swapo-insurgente Suidwes uit Angola binne­gesypel. Soos Swapo sy stryd om onafhanklikwording vir Suidwes uitgebrei het, is talle landmyne geplant en was daar sporadies plaasaanvalle in die noorde van die land. In 1974 het die Suid-Afrikaanse Weermag (SAW) die verantwoordelikheid vir die beveiliging van die 1 680 km lange grens tussen Suidwes en sy noordelike bure, Angola en Zambië, by die Suid-Afrikaanse Polisie oorgeneem.

Hoewel ek nie toe daarvan bewus was nie, is die 22-jarige lt. Fred Zeelie daardie jaar dood, die eerste Suid-Afrikaanse soldaat wat in die Grensoorlog gesneuwel het. Zeelie was ook die eerste Spesiale Magte-soldaat wat in die oorlog gesterf het.

Wat ek ook nie in 1974 geweet het nie, was dat Angola aan die vooraand van ’n grootskaalse, uitgerekte burgeroorlog gestaan het. In April daardie jaar het Portugal aangedui dat hy afstand wou doen van sy koloniale bestuur van die land. Dit het meegebring dat die drie bevrydingsbewegings – Holden Roberto se FNLA, Jonas Savimbi se Unita en die Marxistiese MPLA van Agostinho Neto – feitlik onmiddellik oor die beheer van die land begin stry het. Gevegte het in November 1974 in die hoofstad, Luanda, uitgebreek en spoedig na die res van die land versprei.

Elkeen het daarna ’n gebied in Angola oorheers: die FNLA die noorde, Unita die sentrale dele van die suide en die MPLA die kuslyn, die verre suidooste en natuurlik Cabinda, wat hulle in November 1974 verower het. Op 15 Januarie 1975 het vredes­onder­handelinge tot die ondertekening van die Alvor-verdrag gelei. Ingevolge die verdrag is ’n oorgangsregering van nasionale eenheid ingestel en sou verkiesings in Oktober gehou word. Die land sou dan op 11 November 1975 onafhanklik word. Die oor­eenkoms het dalk ’n einde gebring aan die stryd om onafhanklikwording van Portugal, maar het ongelukkig tot die eskalering van die burgeroorlog gelei. Skaars ’n dag nadat die oorgangs­regering op 15 Januarie sy werksaamhede begin het, het gevegte tussen die drie bevrydingsbewegings in Luanda uitgebreek. Die koalisieregering wat deur die Alvor-ooreenkoms in die lewe ge­roep is, het spoedig tot ’n einde gekom.

Ek het eers van hierdie gebeure bewus geword toe wit Portugeessprekende vlugtelinge in konvooie deur Upington begin ry het, hul motors tot oorlopens toe vol gelaai met hul oor­bly­wende aardse besittings. Die MPLA, gesteun deur die Sowjet-­unie en Fidel Castro se Kuba, het op 9 Julie 1975 in Luanda beheer oorgeneem. Baie wit Portugese wat voorheen die koloniale regering gesteun het, het bedreig gevoel en het die meeste van hul besittings net so agtergelaat en in aller yl uit die land gevlug. Min het ek geweet dat ek binne ’n paar jaar in die Grens­oorlog sou veg – en dit nogal skouer aan skouer met oud-­Angolese burgers.

Einde 1975 is Operasie Savannah, ’n grootskaalse offensief deur die SAW, tot diep in Angola geloods. Die operasie het op 14 Oktober in die geheim afgeskop toe Taakmag Zoeloe, die eerste van ’n reeks SAW-kolonnes, die Angolese provinsie Cuando-­Cubango binnegedring het. Die operasie was daarop gemik om die MPLA in die suidelike grensgebied en daarna in die suidweste te elimineer. Daarna sou die SAW na die sentrale gebiede en uiteindelik na Luanda opruk.

Met die Angolese bevrydingsbewegings wat in ’n stryd met mekaar gewikkel was, kon die SAW vinnig vorder. Taakmag Foxbat het middel Oktober 1975 by die opmars aangesluit. Die suidelike gebiede wat vroeër deur die MPLA verower is, is gou deur die Suid-Afrikaners ingeneem. Vroeg in Oktober het Suid-­Afrikaanse adviseurs en tenkafweerwapens gehelp om ’n MPLA-­aanmars op Nova Lisboa (die huidige Huambo) te stuit. Taakmag Zoeloe het Villa Roçadas (Xangongo), daarna Sá da Bandeira (Lu­bango) en uiteindelik Moçamedes (Namibe) voor einde Oktober 1975 verower.

Die opmars is kort voor Luanda gehalt en Suid-Afrika het sy magte einde Januarie 1976 uit Angola begin onttrek.2 Talle redes word vir die onttrekking aangevoer, maar in wese kom dit daar­op neer dat Suid-Afrika alleen gestaan het in die stryd teen kommunistiese uitbreiding in Suider-Afrika. Gematigde Afrika­state soos Zambië en die Ivoorkus wat Suid-Afrika oorspronklik versoek het om in Angola in te gryp, was nie in staat om enige steun te verskaf nie. Westerse lande soos Amerika en Frankryk wat aanvanklik hulp belowe het, het nie woord gehou nie. Die Amerikaanse steun aan sowel die FNLA as Unita was sporadies en onbetroubaar en dit het finaal opgedroog op die kritieke oomblik toe Suid-Afrika gereed was om Luanda aan te val. Daar­by was nóg Unita nóg die FNLA polities voldoende gevestig om ’n oorname van Luanda vol te hou.

Recce

Подняться наверх