Читать книгу Recce - Koos Stadler - Страница 9
3
ОглавлениеDie saad word gesaai
ONDANKS DIE NUWE BESOEKERS aan ons dorp, was die Grensoorlog nie voorop in my gedagtes nie. Ek was in ’n ander soort geveg vasgevang – my eie stryd om oorlewing in die koshuis waar die lewe allerlei uitdagings na my kant toe gegooi het.
Ek is op die té jong ouderdom van sestien, toe ek in standerd 9 (graad 11) was, tot die skool se leerlingraad verkies. As die enigste skoolprefek wat in die seunskoshuis tuisgegaan het, moes ek daagliks my man staan teen die belhamels van die omgewing.
Pragtige groot moerbeibome het al langs die heining in die koshuis se voortuin gegroei. In die somer het die lieflike, ryp vrugte ’n welkome afwisseling tot koshuiskos gebied. Die moerbeie was egter ook ’n aantrekkingskrag vir bruin kinders van die buurt. Hulle was meestal kinders van huisbediendes wat in die wit woonbuurte gewerk het. Vir ’n paar juniors in die koshuis het dit ’n naskoolse tydverdryf geword om die bruin seuns te omsingel, een of twee van hulle te isoleer en hulle dan goed op te foeter omdat hulle kwansuis die moerbeie steel.
Die bruin kinders het gou die gevaar ingesien en besluit om nie moerbeie te pluk nie, maar slegs die ryp vrugte wat op die grond gelê het, te vat. Die koshuisseuns het hulle nie aan hierdie nietige puntjie gesteur nie: Die vrugte was hulle s’n, ongeag of dit op die grond gelê het of steeds aan die bome was. Die praktyk om die bruin seuns te teiken het dus voortgeduur. Gewoonlik sou ’n groep seniors terselfdertyd op die treetjies voor die koshuis se hoofingang sit en die jonges aanhits deur bevele te skree sodra die aanval geloods is.
Ek het dit aanvanklik as onskuldige pret afgemaak totdat ek eendag op pad terug van die kafee op ’n bruin kind afgekom het waar hy buite die koshuisheining lê en huil. ’n Paar van sy aanvallers het om hom saamgedrom terwyl hulle hom al vloekende probeer verjaag. Die seun was bebloed en nie in staat om op te staan nie. Op die koshuistrap het die groepie seniors getrou gesit. Enkeles het steeds aanmerkings geskree of die juniors bly aanmoedig.
Ek het na die seun gestap en hom opgehelp, maar toe ek die bloed met my sakdoek van sy gesig probeer afvee, het hy weggeruk en sy kop met sy arms bedek. Hy was te bang om selfs na my te kyk. Uiteindelik het hy moeisaam weg gehinkepink.
Ek het teruggedraai koshuis toe en na die groep aanvallers gestap. Hul houding was uitdagend: Hoe kon ek hulle verraai deur hul slagoffer te help? Ek het egter nie teruggedeins nie en hulle uitgetrap oor hul patetiese gedrag om ’n klein seuntjie aan te val en so te verrinneweer. Ek het hulle teruggejaag koshuis toe en na die ingang gestap waar die seniors steeds op die trap gesit het. Toe ek verbystap, kon ek gedempte aanmerkings hoor oor hoe ek die “verkeerde kant” kies. Nie een van hulle het egter die moed gehad om my openlik uit te daag nie, maar ek moes daarna dikwels hoor dat ek ’n “kafferboetie” is.
Ná die voorval het ek uit gesprekke met ander seuns afgelei dat die meeste koshuisseuns nie die aanvalle gesteun het nie, maar nie kans gesien het om die skuldiges uit te daag nie. ’n Klein minderheid het die aanvalle steeds as “onskuldige pret” beskou.
In daardie tyd het ek ook ’n onaangename onderonsie met een van die koshuis se inwonende onderwysers gehad. Hy was die personeellid aan diens en ek het twee seuns wat hulle oor die naweek aan drank vergryp het, aan hom gaan rapporteer. Die twee was al “gewoontemisdadigers” en almal in die koshuis was bewus van hul manewales.
Later daardie aand het die onderwyser my ingeroep en my in die teenwoordigheid van die twee seuns gekonfronteer. Hy het my uitgedaag om voor hulle te verklaar dat hulle dronk was, waarop hy hulle onmiddellik uit die skool sou laat skors, het hy gesê. Ek het geweet dat die onderwyser goed bevriend was met albei se ouers en dat die twee geensins slegs op grond van my verklaring uit die skool geskors sou word nie.
Ek is met ’n swaar gemoed uit die onderwyser se kantoor nadat hy my gedwing het om te erken dat ek nie self gesien het hoe die twee alkohol drink nie en dat hulle eintlik onskuldig was. Ná hierdie voorval het sommige seuns die wêreld baie moeilik begin maak vir my. Die betrokke onderwyser, wat ook die vak landbou gegee het, het my begin blameer vir enigiets wat by die koshuis verkeerd geloop het. In sekere kringe het ek die bynaam “Dropper” gekry omdat ek glo die twee seuns se “goeie naam” deur die modder wou sleep.
Aan die einde van my derde jaar in die koshuis het my pa ’n beroep na die Nederduits-Gereformeerde Kerk in Afrika, die swart gemeente op Upington, aanvaar. Ons het in een van die wit woonbuurte gebly, maar my pa se kerk was in Paballelo, die oorwegend swart woonbuurt buite die dorp, van waar hy die swart en bruin gemeenskappe bedien het. Ná al die drama in die koshuis was dit nogal ’n verligting om weer by my ouers in die huis in te trek.
Ek het elke geleentheid benut om saam met my pa na die kerkdienste en -byeenkomste te gaan en op dié manier het ek die omgewing se swart en bruin mense goed leer ken. Die politieke klimaat in Suid-Afrika was op daardie tydstip hoogs vlambaar en enige menging van rassegroepe was ongekend. Die blootstelling wat ek aan mense van ander rasse gehad het, was ongewoon vir die era en veral vir ’n kind van my ouderdom.
My pa het van my verwag om dieselfde respek te betoon teenoor die moruti, die swart dominee wat sy kollega by die kerk was, as teenoor enige wit predikant wat by ons aan huis gekom het. Mnr. Xaba, hoof van Paballelo se hoërskool, was ’n ouderling in die kerk en ’n huisvriend van my pa. Die swart mense wat ek as tiener leer ken en respekteer het, was nie minder intelligent, menslik of opreg as die wit mense wat ek geken het nie. As ek vandag terugkyk, besef ek dat hierdie ervarings as ’n kind in ’n groot mate my lewensuitkyk gevorm het en later in my lewe ook my houding teenoor individue en kollegas van ander rassegroepe.
Op skool het die onderwysers vroeg al besef dat ek nie in ’n akademiese reus sou ontwikkel nie. Ook op die sportveld het ek nie te waffers gevaar nie. My balvaardigheid was omtrent op die vlak van dié van ’n Kalahari-plaashek. Ek was hopeloos op sowel ’n rugby- as ’n krieketveld (hoewel ek so nou en dan ’n daad van dapperheid op die rugbyveld sou pleeg – mits ek nie aan die bal hoef te geraak het nie!). Maar mettertyd het ek my sterk punt ontdek: In die langafstandnommers kon ek almal in die omtrek op hul neus laat kyk. As 17-jarige het ek die 80 km lange Karoomarathon in 7 uur 19 minute en 48 sekondes – ’n rekordtyd vir my ouderdom – kafgedraf en oornag ’n held by die skool geword.
Dit was in ’n klaskamer by die skool waar ek vir die eerste keer van die Recces gehoor het. Dit was so bestem dat ek een oggend in 1976 in die landbouklas was, want ek het nie landbou as vak geneem nie. Boonop was dit die klaskamer van die onderwyser met wie ek die onderonsie by die koshuis gehad het. Ek moes ’n boek by een van my maats gaan haal en het in die landbouklas ingestap waar ’n groep seuns aandagtig na ’n mede-leerling, Piet Paxton, geluister het. Hy het hulle van die Recces, die Spesiale Magte van die weermag, vertel. Volgens hom was hulle die allerbestes, gekeur en opgelei om op land, uit die lug en ter see toe te slaan. Ek het vasgenael gestaan en luister. Al het ek dit nie hardop gesê of selfs teenoor myself erken nie, glo ek dat ek daardie dag al besluit het om ’n Recce te word.
Nasionale diensplig is in die middel-sewentigerjare van een tot twee jaar verleng as gevolg van die Grensoorlog se toenemende eise. Alle wit mans is ná skool opgeroep vir diensplig en ek was geen uitsondering nie. Op 2 Januarie 1978 het ek van my familie afskeid geneem en op die troepetrein na die 4de Suid-Afrikaanse Infanteriebataljon, algemeen bekend as 4 SAI, op Middelburg vertrek. ’n Nuwe era in my lewe het aangebreek.
’n Gewilde grappie daardie tyd was dat die manne van Upington weermag toe is sodat hulle lang hare en stewels mag dra. Vir my was basiese opleiding inderdaad ’n geweldige kultuurskok. Ek het byvoorbeeld nooit verwag dat daar soveel Engelssprekendes in my peloton sou wees nie. Die troepies se gemor en gevloek het my dwars in die krop gesteek en die eksplisiete prentjies en graffiti op die toiletdeure het my verstom. Dan was alkohol tot in daardie stadium vir my ook totaal taboe.
Maar ek was superfiks! En ek kon raak skiet. Met veldoefeninge was ek in my element. Sommige dienspligtiges se halfhartige houding en voortdurende gebrek aan toewyding was egter vir my net een te veel. Diep in my het die drang begin groei om bo die gewone swak dissipline, traak-my-nie-agtige houding en onvermoë van die gemiddelde dienspligtige uit te styg.
Toe die geleentheid hom voordoen om ’n offisier te word, was ek slaggereed. Een naweek tydens my basiese opleiding moes ons die offisiersmenasie op Middelburg as deel van strafdienste skoonmaak. Ek was oorbluf deur die luukse wat soldate skaars ’n jaar ouer as ek gehad het. Hulle is deur kelners bedien en is soos konings behandel. In daardie jare is junior leiers tydens basiese opleiding geïdentifiseer sodat hulle in hul eerste dienspligjaar by die Infanterieskool as luitenante of korporaals opgelei kon word. Ná die junior leieropleiding is hulle dan as peloton- en seksieleiers na die onderskeie infanterie-eenhede uitgeplaas.
As ’n skaam en teruggetrokke 19-jarige is ek in Maart 1978 na die Infanterieskool op Oudtshoorn oorgeplaas. Al was die Infanterieskool vir die meeste van ons nie juis ’n Sondagskoolpiekniek nie, het ek die opleiding terdeë geniet, veral die tye wat ons buite in die veld gebly en die instrukteurs se ongenaakbare houding teenoor ons ’n bietjie verslap het. Die vars, yskoue wintersoggende met die sneeu wit op die Swartberg het die beste in ons na vore gebring. Ons peloton het spoedig ’n sterk samehorigheidsgevoel en ’n gesonde gees ontwikkel.
Die jaar by Oudtshoorn was ryk aan ervarings. Ek het die geleentheid gebruik om my eie sterk en swak punte te ontgin. Gou het ek agtergekom dat ek, in vergelyking met my mede-dienspligtiges, die druk maklik kon hanteer, veral wanneer die skroewe aangedraai word. Ek het geleer om my mond te hou en vas te byt. Ek het net stilletjies gelag wanneer die instrukteurs kunsmatig druk op ons toegepas het om ons te toets.
Aan die einde van die jaar was dit tyd vir die veelbesproke Vasbyt 5 – ’n vyf dae lange roetemars deur die Swartbergreeks om ons uithouvermoë te toets. Ek moet toegee, dit was nogal straf. Op die tweede aand het die hele kompanie bymekaargekom om ’n tydelike basis (TB) in ’n dennebos in te rig. Die instrukteurs was eers ’n bietjie geheimsinnig, maar dit het gou geblyk dat hulle ons ’n werwingsfilm vir die Recces wou wys met die titel Durf en Daad. Dit het só ’n indruk op my gemaak dat ek daardie nag finaal besluit het om ’n Recce te word.
Die derde aand het dit begin sneeu net toe ons peloton die kruin van een van die spitse bereik. Die paniekerige instrukteurs het begin planne maak om ons van die berg af te kry want die toerusting wat die weermag aan ons uitgereik het, was nie geskik vir temperature onder vriespunt nie. Al die pelotons is inderhaas bymekaargebring en op lorries teen die berg afgeneem na Die Hel, ’n afgeleë en moeilik bereikbare vallei in die Swartberg.
Teen die laaste dag van die roetemars was ons almal taamlik gedaan. Nie een van die manne wou meer die Bren-masjiengeweer of die swaar en ongemaklike hoëfrekwensie-radio (HF-radio) dra nie. Die laaste aand het die een wat die Bren gedra het, dit eenvoudig by een van die ruspunte laat lê sonder om dit aan iemand te oorhandig. ’n Fris en baie sterk boerseun in my seksie het die radio opgetel, skalks na my gekyk en gesê: “Tough shit, Jakes, jy wil mos Recces toe gaan” en begin stap.
Tussen die twee van ons het ons die Bren en die radio tot by ons bestemming, ’n plaashuis in ’n afgeleë vallei in die berg, gedra. Iewers deur die loop van die nag het ons onder ’n laning bome deur- gestap en het die geur van vars lemoene die lug gevul. Ek het in die donker na die takke bo my gereik en ’n lemoen vasgevat. Sonder om eens ons rugsakke af te haal, het ons elkeen ’n paar lemoene gepluk en die heerlike, ryp vrugte so in die loop sommer met skil en al verorber. Dit het ons so opgekikker dat ons die laaste paar kilometer met hernieude geesdrif afgelê het.
’n Paar jaar later en onder ietwat ander omstandighede sou ek ’n soortgelyke ervaring hê tydens ’n baie sensitiewe Kleinspan-operasie naby Lubango, diep in Angola.
Toe die verskillende leëreenhede in Oktober 1978 nuwe junior leiers by die Infanterieskool kom werf, het ek my keuses mooi oorweeg. My kamerade het geen geheim daarvan gemaak dat hulle my nie as Recce-materiaal beskou het nie. Volgens hulle was die Recces kille, vreeslose vegters met ’n heel ander uitkyk op die lewe.
Ek was rietskraal met ’n puisiegesig wat my selfs nog jonger laat lyk het as wat ek was. My maats het prontuit gesê dat ek nie by die Recces sou inpas nie.
’n Wonderlike geleentheid, wat ek later besef het ’n sleutelgebeurtenis in my loopbaan was, het hom voorgedoen toe ’n werwingspan van 31 Bataljon die Infanterieskool besoek het. 31 Bataljon was in die westelike deel van die Caprivi gestasioneer en het toevallig ook ’n baie suksesvolle verkenningsvleuel gehad. Die verkenningsvleuel was verantwoordelik vir taktiese verkenning in klein groepies, terwyl die gewone kompanies in ’n offensiewe soek-en-vernietig-rol ontplooi is.
Frannie du Toit, ’n vuurvreter van ’n luitenant wat in beheer van die werwingspan was, het my onmiddellik oortuig toe hy vertel dat ons in die Caprivi-bos sou woon en verkenningsoperasies saam met die Boesmans sou doen. Die volgende drie jaar by 31 Bataljon sou inderdaad van die beste tye van my lewe wees.
Die operasies by 31 Bataljon was van ’n taktiese aard en het miskien nie dieselfde professionele status geniet as dié wat ek later in die Spesmagte sou ervaar nie, maar dit het my as soldaat gevorm. Ek moes nou en dan ’n paar koeëls systap en het vir die eerste keer die dood van naby ervaar. Ek het mense raakgeloop wat nie die druk van die oorlog kon hanteer nie, maar het ook nou saamgewerk met manne wat koel en kalm onder vuur kon optree. Ek het meestal met uitstekende soldate te doene gekry, manne wat ’n blywende indruk op my gemaak het. Die belangrikste aspek van daardie tyd was egter die blootstelling wat ek aan verkenning gekry het – en die unieke konsep wat ons tydens die uitvoering van talle verkenningstake ontwikkel het.