Читать книгу Recce - Koos Stadler - Страница 7
1
ОглавлениеTeiken
GERUISLOOS en met berekende, stadige bewegings laat ek die rugsak van my rug glip en haal die eerste lading en twee buise met gom uit. Met geoefende vingers maak ek die gespes van die ander sakkies los en rangskik die res van die ladings só dat ek hulle maklik kan bykom. ’n Onverwagse kalmte kom oor my; ek is gereed vir die taak wat voorlê.
Die vrees van voorheen is weg. Dit het plek gemaak vir ’n koue vasberadenheid. Diep binne my weet ek dat ek goed voorbereid is en dat daar té veel op die spel is om nou te faal.
Ek sit die sak weer op my rug en hang die AMD651 aan sy dubbel-draagband in die middel van my rug sodat dit nie my bewegings belemmer nie. Toe begin ek die MiG-21 bekruip, my pistool met knaldemper gespan en gereed in my regterhand, die lading in my linkerhand en my nagsigbril op my bors.
Tien meter van die vliegtuig stop ek om deur die nagsigbril te kyk. Dit is stikdonker, soos ons gehoop het, maar dit verhinder ook dat ek onder die vliegtuig se romp kan sien. Selfs nie eens met die hulp van my flitsie se infrarooi ligstraal kan die nagsigbril die stikdonker kol onder die groot vliegtuig deurdring nie.
Om my is dit doodstil. Ek besef dat ek laer sal moet sak om beter te kan sien. Stadig en stil beweeg ek vorentoe om in die swart skaduwee van die vliegtuig te kom. Van daar behoort ek die romp beter teen die effens ligter agtergrond van die naghemel te kan sien. By die vlerk buk ek af om onder in te beweeg ...
Toe, uit die stikdonker onder die vliegtuig, kraak ’n stem deur die nagstilte.
“Wie’s jy?”
Die stem is aarselend, asof deur vrees gedemp. Dan sterker, meer uitdagend:
“Wie is jy?”
En skaars drie meter van my klap die sluitstuk van ’n Kalashnikov wat gespan word. Die geluid – vir my al oorbekend – is soos ’n geweerskoot in die nag. My ergste vrees het pas waar geword.
Jare lank was dít my wêreld, die wêreld van die spesialisverkenningspanne, oftewel Kleinspanne.
Ek was ’n soldaat vir die grootste deel van my volwasse lewe. Wanneer ek vandag terugkyk, besef ek ek was bestem om ’n lid van die Suid-Afrikaanse Spesiale Magte, beter bekend as die Recces, te word – en om uiteindelik by die elite-Kleinspan-groepering aan te sluit. Van my kinderdae af, toe ek kleinwild in die duine van die Kalahari bekruip het tot my eerste kennismaking met taktiese verkenning by 31 Bataljon se verkenningsvleuel, het ek geweet verkenning is die ding wat ek regtig wou doen.
In die drie jaar by 31 Bataljon het ek die meeste van my tyd op taktiese verkenningstake agter vyandelike linies in die suide van Zambië en Angola bestee. Deur voortdurend op patrollie te wees en guerrillabasisse te bekruip, het ek my vermoëns in die bos geslyp totdat dit tweede natuur geword het. Daarna het ek die Spesiale Magte-keuring voltooi en my lewenslange droom verwesenlik om deel van hierdie elitegroep soldate te word. Steeds het ek egter bly hunker, want dit was nog nie my eindbestemming nie. ’n Volle jaar lank het ek met my weermagbase geworstel om my toe te laat om by die spesialisverkenningspanne – wat toe by 5 Verkenningsregiment op Phalaborwa gestasioneer was – aan te sluit. Uiteindelik het dit gebeur en het ek deur 5 Recce se hekke gestap en deel geword van Kleinspanne.
Tog, ondanks die Honoris Crux op my bors en ’n hele reeks ander medaljes en aanprysings, was ek die teenpool van die stereotipe Spesiale Magte-held.
Ek was al tot die dood toe bang. Ek het al meer kere van lewensgevaarlike situasies af weggehardloop as wat ek kan onthou – en beslis meer as wat ek openlik sal wil erken. Iewers in my veelbesproke verkenningsloopbaan het weghardloop as ’t ware my voltydse tydverdryf geword. Ek het daarin uitgeblink.
Maar, met die genade van bo, het ek weldra geleer om my vrees te oorwin en sou ek altyd terugkruip – dikwels in ’n heel letterlike sin – om my opdrag te voltooi.