Читать книгу Recce - Koos Stadler - Страница 5

Skrywersnota

Оглавление

EK HET HIERDIE BOEK geskryf om iets weer te gee van die wêreld waarin ek langer as tien jaar van my 24 jaar lange loopbaan in die Spesiale Magte geleef het – die relatief onbekende wêreld van die Kleinspan-operateur. Ek het daardie tien jaar in verkenning gespesialiseer, dit geleef, geëet en geslaap.

Die ervaring wat ek tussen November 1978 en Desember 1981 in die verkenningsvleuel van 31 Bataljon (’n Boesmaneenheid in die destydse Caprivi, vandag die Zambezistreek) opgedoen het, het my karakter gevorm en my voorberei vir ’n loopbaan by 5 Verkenningsregiment. Daar het ek van 1984 tot 1989 as Kleinspanoperateur gedien. My latere loopbaan, sowel in die Spesiale Magte as elders, is gegrond op die streng kode en beginsels wat oor daardie tydperk gevestig is.

Deur die jare het ek ’n passie vir die kuns van verkenning ontwikkel. By 31 Bataljon se verkenningsvleuel het ek met die geheimenisse van taktiese verkenning kennis gemaak. Daarna het ek die keuringproses vir die Suid-Afrikaanse Spesiale Magte ondergaan. Toe kon ek uiteindelik my lewensdroom vervul om deel te word van Kleinspanne, oftewel die strategiese verken­nings­vermoë van die Verkenningsregimente, alombekend as die Recces. Dit is miskien nie algemeen bekend nie dat daar verskillende Recce-eenhede was, elk met ’n toegekende spesialis­veld. Min mense was ook bewus van die bestaan van die hoogs gespesialiseerde Kleinspanne en die buitengewone rol wat hulle in die Grensoorlog gespeel het. Destyds was daar wel talle wan­opvattinge oor die Spesiale Magte en het etlike gekke, opgemaakte stories oor die Recces die ronde gedoen.

Hierdie boek is oor die bestek van twee dekades geskryf. Om so ’n akkurate prentjie as moontlik te skets, moes ek staatmaak op aantekeninge wat ek oor jare bygehou het, op my geheue, kollegas se herinneringe en beperkte dokumentasie. Deur my storie te vertel, hoop ek om lig te werp op sowel die konsep as die vermoëns van die spesialisverkenningspanne van die Spesiale Magte. Die boek probeer nie om ’n volledige geskiedenis van Kleinspanne te verskaf of om die fases te beskryf waardeur hierdie vermoë oor die jare ontwikkel is nie.

Omdat dit ’n persoonlike verhaal is, kan ek slegs erkenning gee aan individue saam met wie ek ontplooi het. Dit is onmoontlik om die name van al die operateurs te noem wat met spesialisverkenning gemoeid was, maar ek gee graag erkenning aan die vaders van Kleinspanne in Suid-Afrika, individue soos Koos Moorcroft, Jack Greeff, Tony Vieira en Sam Fourie. Manne soos Homen de Gouveia en Justin Vermaak het uitstekende werk as Kleinspan-operateurs by 1 Verkenningsregiment gedoen. As ek enige Spesiale Magte-operateur uitgelaat het wat in sy loopbaan met verkenning gemoeid was, is dit bloot omdat ek nie die voorreg gehad het om saam met daardie persoon te ontplooi nie.

Belangriker nog, omdat daar nog altyd ’n mate van professio­nele jaloesie tussen Kleinspanne en die offensiewe Spesmagte-­kommando’s was, wil ek dit onomwonde stel dat ek nog nooit aan hul vermoëns getwyfel het nie. Ek ontken ook nie hul uitsonderlike vernuf en uitmuntende prestasies in die bos nie. Inteendeel, ek was nog altyd beïndruk deur die vlak van professionaliteit wat talle Spesiale Magte-soldate openbaar het.

Laastens is ek dankbaar dat ek iets van die lekkerkry en die swaarkry wat ek met my kollegas beleef het, kan deel. Ek is trots daarop om die unieke kode waarvolgens ons by 31 Bataljon se verkenningsvleuel en 54 Kommando geleef het, sowel as die band van wedersydse respek wat ons aan mekaar gebind het, in herinnering te roep.

KOOS STADLER

Recce

Подняться наверх