Читать книгу Recce - Koos Stadler - Страница 13

3

Оглавление

Kamerade

DAARDIE JARE op Omega in die Caprivi was vir my as 21-jarige tweede-luitenant een groot avontuur. Ek was spanleier van ses manne – aanvanklik twee wittes en vier Boesmans – wat ek op verkenningstake die bosse ingelei het. Ek het genoeg vryheid gehad om my eie ding te kon doen, maar sonder die verantwoor­delikheid van ’n meer senior rang. Dit was sorgvrye dae en ek het geleef vir die oomblik – en vir die operasies wat kort op mekaar gevolg het.

Teen daardie tyd het ek al vir kortdiens aangesluit, wat beteken het dat ’n bykomende tweejaar-kontrak by my twee jaar diensplig gevoeg is. Dit het ook gesorg vir ’n gesonde salarispakket, omdat die operasionele gevaartoelaag (danger pay) my salaris omtrent ver­dubbel het.

Meer as 4 000 Boesmans het op Omega gewoon. Hiervan was 800 soldate en die res hul familielede. Die soldate is in vier kompa­nies verdeel: A-kompanie (bestaande uit Barakwenas, ’n inheemse stam uit die Cuando-Cubango-provinsie van Angola), B- en C-­kompanie (Vasquelas – Boesmans wat wydverspreid in die suidelike streke van Angola en die noordoostelike dele van Suidwes voorgekom het), en D-kompanie (‘n mengsel van Barakwenas en Vasquelas). Elke kompanie se soldate het saam met hul gesinne in houthutte in die kompanie se toegekende gebied gebly, met elkeen se hoofkwartier voor die wooneenhede.

Omega was as ’t ware ’n groterige dorp en moes so bestuur word. Noodsaaklike dienste moes gelewer word en die basis in stand gehou word. Die skool het meer as 300 leerlinge gehad en die meeste onderwysers was nasionale dienspligtiges wat hul onderwysers­opleiding voltooi het. Daar was sowat 250 wit mense op Omega, van wie die meeste enkellopende mans was wat in houthutte of kimbo’s in die middel van die basis gewoon het. Drie of vier het in ’n kimbo gewoon, meestal dienspligtiges wat as leiersgroep by die hoofkwartier, die kompanies of die verkenningsvleuel gewerk het. Die getroude offisiere, adjudant-offisiere en onderoffisiere en hul gesinne is gehuisves in 15 gerieflike houthuise of woonwaens wat spesiaal vir die doel ingerig is.

Die daaglikse roetine in die basis het om die kroeë en menasies van die offisiere, adjudant-offisiere en onderoffisiere gewentel. Dit was ’n klein en intieme gemeenskap en ’n gesonde gees het in die eenheid geheers. Elke Saterdagaand het almal by die kroeg, eintlik maar die sosiale middelpunt van die eenheid, vir ’n braai byeen­gekom. Sondae het die bevelvoerder die kroeë gesluit sodat almal eers die kerkdiens kon bywoon. Ná die diens is die kroeg weer oopgemaak en het almal, ook die getroudes, saam ’n heerlike laat­oggend ontbyt geniet. Ons het gereeld konserte gehou waaraan feitlik almal deelgeneem het en dikwels het besoekende kunstenaars ook die basis se inwoners kom vermaak.

Fort Vreeslik, die verkenningsvleuel se opleidingsbasis, was in ’n digte stuk bos in ’n afgeleë deel suid van Omega. Min mense het dit ooit besoek. Wanneer ons nie op operasies was nie, het ons die meeste weekdae daar deurgebring. Die basis was in die middel van die Caprivi se ongerepte, welige groen bos.

In die middel was ’n groot hut wat ons as vergadersaal en lesing­kamer gebruik het. Daar was ’n besondere gevoel van eienaarskap onder die manne omdat ons self die hutte gebou het en almal het gehelp om die basis skoon en versorg te hou. Elke keer wanneer ons Fort Vreeslik besoek het, het ons ’n nuwe struktuur opgerig of onderhoud op die bestaande hutte gedoen. Dit was vir almal ’n baie spesiale plek.

Die Boesmansoldate saam met wie ek in die verkenningsvleuel gewerk het, het die bos ongelooflik goed geken. Hulle het geweet waarvoor elke plant gebruik kon word, het elke dierespoor herken en elke dier se gewoontes verstaan. In die bos was hulle onmisbaar want hulle kon sekere tekens in die veld lees, afleidings uit die geringste versteuring maak en die vyand se optrede voorspel deur byna onsigbare tekens te interpreteer. Die ouer mans was meer ervare in die bos, maar die jongeres het vinnig geleer en was net so bedrewe in die fyner kunsies van dié veldwerk.

Vir my was die Boesmans veel eerder jagters as vegters. Tydens ’n verkenningsoperasie het hul waarde gelê in hul vermoë om die vyand se spoor te volg, hom te bekruip of hom te uitoorlê. Hierdie talente, gekombineer met hul buitengewone kennis van die bos en hul vermoë om te oorleef, het van hulle uitstekende vennote in ’n verkenningspan gemaak.

Die Boesmans het alles van die bos geweet, maar hul taktiese vermoëns was nie goed ontwikkel nie. Tydens hul opleiding het ons dus op taktiese maneuvrering en wapenopleiding gefokus. ’n Kleintaktiek-kursus sou tipies taktiese beweging in verskillende patrollieformasies insluit, asook hinderlaagtegnieke, kontakdrils gegrond op die vuur-en-beweging-beginsel en natuurlik verkenning, observasieposte, luisterposte en bekruiptegnieke.

Eendag, terwyl ek ’n lesing by Fort Vreeslik aangebied het, be­sluit ek en my makkers om die Boesmans ’n streep te trek. Ons het vooraf ’n luidsprekerstelsel aan die ander kant van die basis opgestel, dit aan die kragopwekker gekoppel en ’n kasset met diere­geluide ingesit. Die lesing was net mooi aan die gang toe my kollegas die kasset speel. Op die agtergrond kon jy jong leeus hoor grom, maar ek maak asof ek van niks weet nie. Ek kon wel sien hoe ’n vraagteken op die gesigte voor my vorm en het gehoor hoe ’n paar fluister: “Leeu, leeu.” Ek het hulle egter gerusgestel: “Julle weet mos daar’s nie leeus hier nie.”

My sin was skaars klaar toe ’n onaardse gebrul die namiddagstilte skeur. Die Boesmans het blitsig opgespring en op hul wapens afgestorm wat vroeër buite die lesingkamer staangemaak is. Sekondes later het hulle in ’n ry buite die hut gestaan, gespande wapens in die hand en gereed om die leeu te trotseer. Geeneen wou dit te ver waag om te gaan kyk waar die leeus is nie. Met elke brul het hulle teruggeskarrel. Teen daardie tyd kon ek beswaarlik my lag hou. Eers toe die leeu se gebrul deur ’n olifant se getrompetter gevolg word, het hulle besef hulle is uitgevang. Sommige was só kwaad dat hulle hul wapens neergegooi en geweier het om met die dag se opleiding voort te gaan.

Tango Naca is in die verkenningsvleuel opgeneem lank voordat ek by die eenheid aangekom het en het al vele spesiale take op sy kerfstok gehad. Die Vasquelas én die Barakwenas het baie respek vir hom gehad. Die wit leiersgroep het swaar op hom gesteun, nie net tydens opleiding en operasies nie, maar ook om huishoudelike probleme onder die Boesmans uit te stryk. Hy en Dumba Katombela het ’n onverbeterlike span gevorm en ek het tydens die eerste operasies saam met hulle alles opgeslurp wat hulle my kon leer.

Later, nadat ek die eerste groep Barakwenas gekeur en opgelei het, het Xivatcha Shekamba en Chimango Kanyeti my heeltydse makkers geword. Ek het weldra agtergekom dat die Barakwenas net so goed vir verkenningswerk toegerus was as die Vasquelas, aangesien hulle aan dieselfde vyandige omstandighede in Angola blootgestel was. Ek was daarna op vele verkenningstake saam met dié twee en erken ruiterlik dat ek my oorlewing aan hulle te danke het.

’n Makkerpaar het gewoonlik uit ’n wit spanlid en ’n Boesman bestaan omdat die Boesman onontbeerlik vir die span was. Die meeste Boesmansoldate was egter nog ongeletterd en hul kennis van Engels en Afrikaans het veel te wense oorgelaat. Hulle kon ’n radio opstel en elementêre boodskappe oordra, maar nie verslae skryf of ingewikkelde boodskappe saamstel, kodeer en stuur nie. Daarvoor was ’n wit spanlid nodig.

Praktiese oorwegings het destyds die grootte van die span be­paal. Ons wou spanne so klein as moontlik hou, aangesien die konvensionele sesman-span te lomp was en te veel spore gelaat het. ’n Vierman-span was ’n beter keuse vir verkenningstake.

Makkerpare kon ook onafhanklik optree indien nodig. Wanneer ’n teiken genader word, kon een paar in ’n skuilplek agterbly om die HF-radio te beman en as deurgeestasie vir die verkenningspan op te tree. Die verkenningspan kon voorts die swaar rugsakke by die RV-posisie los. Die skuiling het ook as nood-rendezvous (nood-RV of crash RV) gedien as die voorste span moeilikheid sou optel. Die spanne sou dan in verbinding bly deur baie hoëfrekwensie-radiokommunikasie (BHF-radiokommunikasie).

As die verkenningspan nie die teiken kon opspoor nie, moes hulle na die skuilplek terugkeer, waarna die hele span dan nader aan die teiken sou beweeg tot by die volgende RV. Hierdie prosedure, bekend as die kruiptrekkertegniek, of caterpillaring, sou dan herhaal word totdat vasgestel kon word of die vyand daar is of nie.

Stadig maar seker het ek my kennis van guerrilla-operasies uitgebrei. Die taktiek en aanleg wat verkenningstake vereis het, het mettertyd tweede natuur begin word. Uiteindelik het ek my eie filosofie en ’n unieke konsep vir dié soort operasies ontwikkel. Hier­die taktiese grondslag het my goed te pas gekom in my latere loopbaan in die Spesiale Magte en sou uiteindelik die basis vorm van die nuwe doktrine waarvolgens ons opleiding aangebied het.

Dit het ’n uitdaging gebly om ongemerk deur vyandige en dikwels bewoonde gebiede na die teiken te infiltreer en ons het voortdurend nuwe idees getoets en tegnieke ontwikkel om die vyand te uitoorlê. Die metode van infiltrasie was dus altyd ’n faktor om tydens die beplanningsfase te oorweeg. Valskerminfiltrasies is dikwels bespreek, maar nooit uitgevoer nie omdat die Boesmans nie daaraan blootgestel is of die opleiding ondergaan het nie.

Dit is waarom ek einde 1979 met ses Boesmans gestuur is om die Basiese valskermkursus by 1 Valskermbataljon in Bloemfon­tein te doen. Ons het onsself baie goed voorberei en was topfiks toe die kursus begin het. Die tydjie in Bloemfontein het gesorg vir ’n ongelooflike ervaring, want die manne van die bos was nog nooit in ’n stad nie en het nog nooit ’n hoë gebou, hyser of roltrap gesien nie. Vir die meeste was ’n teerpad ’n luukse wat hulle selde ervaar het, terwyl die baie winkels en besighede vir hulle oorweldigend was. Wanneer ons naweke stad toe is, moes al sewe hande vashou as ons strate oorsteek.

Apartheid was op sy hoogtepunt en ek het hulle vooraf probeer waarsku om die ergste te verwag. Maar selfs ek was geskok deur die manier waarop mense met ’n ander velkleur hanteer is, hetsy deur winkeleienaars, treinkondukteurs of selfs net deur mense op straat. Meer as een keer moes ek in winkels tussenbeide tree en aan die persoon agter die toonbank verduidelik dat die Boesmans saam met my was en dat ek die items vir hulle wou koop. Dit het my erg in die verleentheid gestel want op Omega was rassisme onbekend. Ek het gespartel om aan hulle te verduidelik hoe ons kon toelaat dat so ’n stelsel ons samelewing oorheers.

Die Boesmans het nie goed gevaar in die valskermkursus nie. Hulle was uitsonderlik fiks, maar kon nie die kragoefeninge baas­raak van die befaamde twee weke lange LO-kursus wat as keuring vir die valskermkursus gedien het nie. Ek was teleur­gesteld want ons het saam bloed gesweet op Omega, en ek het die kursus as relatief maklik ervaar. Ek het selfs energie gehad om by Bloemfontein se wulpse jong meisies te kuier.

Vier Boesmans het uiteindelik tot die valskermopleidingsfase deurgedring, maar tot my verdere teleurstelling kon hulle nie die landingsdrils bemeester nie. Net een het uiteindelik die kursus geslaag en as valskermspringer gekwalifiseer. Terug in die Caprivi het ons in elk geval dikwels die res van die groep laat spring.

Aan die einde van die kursus is ons per trein terug na Pretoria. Op Germiston se stasie moes ons op ’n voorstedelike trein oorklim. Ek het hulle vooraf gewaarsku dat die trein net vir enkele oomblikke stop. Hulle moes nie tyd mors nie en hul bagasie so vinnig moontlik aan boord kry. Met die trein se aankoms het ons op die perron gereed gestaan. Toe die deur oopgaan, het ek my bagasie saam met van die Boesmans s’n ingegooi en ingeklim. Twee het my gevolg, maar toe die trein wegtrek, het hulle skielik uitgespring en by hul makkers agtergebly. Daar sit ek toe op die trein met die helfte van ons bagasie. Deur die venster het ek net gesien hoe die Boesmans in ’n bondel aan mekaar vasklou terwyl hulle die trein grootoog agternastaar.

Ek was baie bekommerd want ek het geweet die Boesmans het geen benul gehad waarheen om te gaan nie. Ek het ook nagelaat om op ’n nood-RV ooreen te kom waar ons mekaar sou kon ontmoet. Die trein het eers vier stasies verder gestop en ek het op ’n trein terug Germiston toe geklim. Gelukkig kon ek die bagasie by ’n ander soldaat los wat ook op pad was na Pretoria, met die versoek dat hy dit by die stasiepolisie afgee indien ek nie opdaag nie. Terug op Germiston se stasie was daar geen teken van die manne nie. Ek het oral navraag gedoen, maar niemand kon sê waarheen die Boesmans verdwyn het nie.

Germiston was ’n rangeerstasie van waar treine letterlik na oral aan die Witwatersrand vertrek het en hulle kon dus enige plek wees. Baie mismoedig het ek die volgende trein na Pretoria gehaal. Maar wie wag my toe in later die aand toe die trein op Pretoria se stasie aankom? Die manne het vol bravade op die perron gestaan en al laggende vir my gewaai. Hulle wou net weet hoekom ek so sukkel om in my eie land oor die weg te kom!

Terug by die eenheid het ons vinnig weer in die gewone roetine ingeval van opleiding, heropleiding en wag vir die volgende operasieorders, waarna jy wegspring met voorbereidings en inoefening vir die taak. Die padkonstruksiebasis op Chetto, sowat 60 km van Omega, was ideaal vir talle van ons inoefeninge, want dit was soos ’n werklike teiken in ’n digbeboste gebied.

Tydens een so ’n inoefening – ’n verkenning op Chetto wat ek en Xivatcha Shekamba sou onderneem – het ek ’n voorval beleef wat my goed laat wakker skrik het. Ons het die basis lank dopgehou en toe besluit om daardie nag te infiltreer deur onder die dubbele heining deur te kruip. Ons wou ’n omgekeerde boot in die middel van die kamp as skuiling gebruik, van waar ons die kampbedrywighede sou dophou en die roetine kon aanteken. Die infiltrasie in die vroeë oggendure het vlot verloop en ons het ons skuiling sonder voorval bereik. Wat ons nie besef het nie, was dat ons ’n spoor so duidelik soos dié van ’n stoot­skraper onder die heining deur gelaat het. Ons het ons skuil­plek onder die boot so gerieflik moontlik ingerig en gewag dat die dag breek om te sien hoe die kamp ontwaak.

Kort voor lank is ons rus versteur toe die kamp se sekerheids­patrollie, wat toevallig ook uit Boesmans bestaan het, ons spore ontdek en tot by ons skuilplek gevolg het. Die volgende oomblik hoor ons uitroepe van “Lui bliksems!” en “AWOL!” Hulle het waarskynlik gedink ons is troepe van die padboukamp wat nie wil werk nie. Binne minute het die hele gemeenskap om die boot vergader en ons het geen ander uitweg gehad nie en moes voor die klein skare uit ons skuilplek kruip.

Ons was erg verleë, veral omdat die bevelvoerder, ’n jong offisier van die geniekorps, gemaak het asof hy niks van die oefening geweet het nie. Hy het inteendeel voorgegee dat hy daarvan oortuig is dat ons die vyand is en het sy troepe toegelaat om ons vas te bind en ons neuse spreekwoordelik ’n bietjie in die grond te vryf. Die oefening het darem ’n gelukkige einde gehad toe die bevelvoerder ons uiteindelik vrygelaat het. Hy het ons vir ’n drankie genooi en ons daarna, ter wille van goeie buur­manskap, persoonlik op Omega gaan aflaai.

Met hul taktiese verkenningsvermoë was 31 Bataljon se verken­ningsvleuel hoog in aanvraag om inligtinginsamelingstake in die verantwoordelikheidsgebiede van Sektor 20 en Sektor 70 uit te voer. Ons mandaat was om vyandelike basisse en ontplooiings in die “naby” gebiede, tot sowat 60 km oor die grens, op te spoor, terwyl die veronderstelling was dat Spesiale Magte op strategiese take moes konsentreer. Hierdie reëling is egter nie konsekwent gevolg nie, omdat die Recces, oftewel die lede van die Verkenningsregimente, ontplooi is waar daar ’n behoefte was.

’n Sektorbevelvoerder het vertroulik aan my gesê dat hulle veel eerder 31 Bataljon se verkenningspanne gebruik het as om die moeite te doen om ’n span van die Recces daar te kry. Ons was immers die hele tyd daar, het so te sê in die bos geleef en was deurentyd by taktiese verkenningstake betrokke. Patrollierapporte en inligtingsverslae wat deur die verkenningsvleuel se spanleiers opgestel is, was deeglik en op die man af. Boonop was ons altyd beskikbaar en gereed om op kort kennisgewing te ontplooi. Ons het nooit oor ’n gebrek aan ondersteuning gekla nie en nooit op buitengewone steun aanspraak gemaak nie. Ons het bykomende rantsoene as ’n luukse beskou, terwyl ’n heraanvulling in die bos of hulp van ander weermagsdele altyd met dankbaarheid aanvaar is.

Aan die begin van die oorlog sou ’n tipiese ontplooiing in Zambië gedoen word vanaf Katima Mulilo, op die walle van die Zambezi­rivier oorkant die Zambiese dorpie Sesheke. In daardie stadium, vroeg in die 1980’s, het pres. Kenneth Kaunda kategories ontken dat daar Swapo-opleidingskampe in Zambië was. As dit dan rugbaar geword het dat Suid-Afrikaanse soldate in Zambië was, is die res van die wêreld wysgemaak dat ons die Zambiese weermag en burgerlikes teiken. Zambië was in die onbenydenswaardige posisie dat hy as lid van die Statebond sy Westerse bondgenote tevrede moes hou, maar ook aan die Suider-Afrikaanse bevrydingsbe­wegings getrou moes bly.

Die verkenningsvleuel het dus nie openlik in Zambië ontplooi nie.6 Die meeste van ons operasies was klandestien en die modus operandi, taktiek en selfs ons uitrustings is aangepas om te ver­seker dat die ontplooiings nie direk na Suid-Afrika teruggespoor kon word nie. Ons het derhalwe neutrale olyfgroen of kamoefleeruniforms gedra wat maklik met Swapo s’n verwar kon word en stewels met gladde sole wat nie ’n duidelike spoor sou laat nie. Taktiek en teenspoorsnytegnieke wat daarop gemik was om die vyand en plaaslike bevolking te vermy, is deurentyd toegepas.

Kmdt.7 Gert Opperman het in hierdie tyd bevel van Sektor 70 oorgeneem. Sy bynaam was Rooi Gert, klaarblyklik nie net oor sy rooi hare nie, maar ook weens sy vurige temperament. Die 2IB, maj. Fred Oelschig, was ’n gesoute soldaat en ’n briljante taktikus. Al twee offisiere was uitstaande leiers en rolmodelle. Hulle het ook die noodsaaklikheid van verkenning ingesien en verstaan waarom daar ’n klein groepie hoogs gespesialiseerde en gemotiveerde manne moes wees om die vuil werk te doen, veral die veeleisende operasies agter vyandelike linies wat nie deur gewone troepe uitgevoer kon word nie.

Sodra ons die waarskuwingsorder op Omega ontvang het, sou ’n voorlopige waardering gedoen word om te bepaal hoe lank die operasie sou duur, wat die grootte van die span moes wees, watter wapens en uitrusting saamgeneem moes word en die logistiek wat nodig was om dit te ondersteun. ’n Hoofkwartier-element sou dan vooruit gestuur word na Katima Mulilo, Rundu of Oshakati (na gelang van watter sektor betrokke was) om die taktiese HK op te stel, skakeling met die ander weermagsdele en steundienste te koördineer en inligting in te samel.

Vir ontplooiings in Zambië moes die spanne as ’n sekerheidsmaatreël in ’n afgeleë, geheime plek bly – gewoonlik was dit in ’n ou, omheinde gebou naby die aanloopbaan op Mpacha, die lugmag­basis sowat 20 km van Katima af. Die spanleiers sou hul beplanning by die sektorhoofkwartier op Katima doen, terwyl die res van die span onder leiding van die senior onderoffisier die uitrus­ting gereed sou kry. Rantsoene en water is voorberei en verpak, radio’s getoets, batterye gelaai en spesiale toerusting soos nagsigbrille getoets. Die senior spanleier het die finale voorligting aan die hoofkwartier gedoen in die teenwoordigheid van die lugskakeloffisier (LSO) en vlieëniers.

Geskrewe orders en ’n ontsnap-en-ontwykingsplan (O&O-plan) is ingedien, waarna die span op Mpacha sou bymekaarkom vir finale voorbereidings. Die ondersteuningspersoneel het buite sig rugsakke in die helikopters gelaai terwyl die spanne ander klere aangetrek het. As standaard-prosedure het die spanne dan in ’n verlate hut aan die einde van die aanloopbaan gewag, swart gesmeer en met hul wapens gereed. Die helikopters sou op die aanloopbaan uitry terwyl die vlieëniers deur die voorvlugprosedures gaan. By die hut sou hulle omdraai en ’n oomblik talm om die span kans te gee om aan boord te spring.

Tydens een ontplooiing het ons in twee Alouette-helikopters uitgevlieg nadat ons dieselfde prosedure gevolg het. Die vlieëniers is ingelig dat die span uit twee wit en twee Boesmanlede sou bestaan en dat daar ’n swart en wit makkerpaar in elke helikopter sou wees. Die wit spanlid wat in die tweede helikopter sou klim, was ’n stoere plaasseun van Suidwes. Teen die tyd dat hy in die helikopter moes klim, was hy reeds swart gesmeer en het hy sy Afro-pruik opgehad om die prentjie af te rond. Die helikopter waarin ek was, het reeds opgestyg, maar die ander een het op die grond gebly. Nadat ons ’n paar keer gesirkel het, het die boordtegnikus vir my ’n radiokopstuk aangegee: Die vlieënier op die grond wou weet waar die tweede wit spanlid was. Volgens hom was daar net twee Boesmans aan boord. Ons kon eers vertrek nadat ek verduidelik het dat die tweede “Boesman” eintlik die boerseun van Suidwes was.

Tydens ’n ander verkenningstaak moes ons Swapo-ontplooiings oos van Sesheke oorkant die Zambezirivier soek. Die terrein was vreemd en baie moeilik om in te werk. Die Zambezi-vloedvlakte – wat ver aan weerskante van die rivier gestrek het – het uit groot, oop gebiede met kolle tropiese woud (sowat 100 m in deursnee) bestaan. Die kolle tropiese bos het voldoende dekking gebied en die span kon daar skuil, maar moes eskaders muskiete en hordes bosluise verduur. Dit was onmoontlik om in die dag te beweeg, omdat die vyand ons van ’n afstand af sou kon sien. ’n Ander gevaar was dat die span maklik in so ’n boskol geïsoleer kon word. ’n Mobiele vyand sou ons kon omsingel en weens die oop vlaktes sou ontsnapping byna onmoontlik wees.

Die span het weer uit vier lede bestaan, twee wittes en die baie betroubare tweemanskap van Xivatcha en Chimango. Ons het dag­lig nodig gehad om tekens van die vyand te vind, maar dit was natuurlik ’n risiko om bedags in die oop gebiede te beweeg. Ek het besluit om vroegoggend, met dagbreek, en weer in die laatmiddag, ’n bietjie daglig te steel om die gebied vir spore te fynkam. Ons het Swapo se tipiese, maar onortodokse styl van patrollering – enkelgelid en met wapens oor die skouers gehang – nageboots in die hoop dat ons op ’n afstand vir ’n Swapo-patrollie aangesien sou word. Ná donker het ons ons stewels uitgetrek en kaalvoet na ’n skuilplek ver van die dag se bedrywighede beweeg.

Laat die middag van die vierde dag het ons skielik stemme voor ons gehoor – dit het gekom uit dieselfde kol bome waar ons pas inbeweeg het. Terwyl ons dekking soek, sien ons oral om ons stewelspore en besef dat ons letterlik in die leeu se bek ingestap het. Die volgende oomblik gewaar ons soldate wat die kol bome aan die oorkant verlaat. Dit was egter nie duidelik of hulle ons gesien het nie.

Omdat die terrein nie veel beweegruimte toegelaat het nie en ons onseker was oor die vyand se sterkte en posisie, het ek onmiddellik die taktiese HK laat weet. Ek het nie eens die boodskap probeer enkodeer nie, net maj. Oelschig na die radio laat kom, ons posisie gegee en hom vinnig oor die situasie ingelig. Ek het hom laat weet dat ek oor 30 minute weer ’n vorderingsverslag sou stuur.

Toe het ons ’n skuiling ingeneem sodat ek ’n behoorlike waar­dering van die kaart af kon doen. Ons het pas ons rugsakke af­gehaal toe ons voertuie hoor nader kom. Ek het begin bid dat hulle verby die klein woudkol waar ons geskuil het, sou ry, maar helaas, so gelukkig was ons nie. Russiese Ural-vragmotors het aan die ander kant van die kol bome tot stilstand gekom en ons kon dui­de­lik hoor hoe bevele geskree word, deure toegeslaan en die bakke van die voertuie oopgegooi word.

Dit was tyd om spore te maak. Ek het Xivatcha naby my gehou omdat ek al geleer het om sy intuïsie in sulke situasies te vertrou. Ons het ons rugsakke opgesit en laag in die bosse gebly, gereed vir aksie, want ’n stil onttrekking was buite die kwessie.

Daar was vier voertuie vol soldate wat ’n helse lawaai opgeskop het. Sommige het gevloek en allerlei snedige opmerkings oor die “Boere” in Kwanyama, die lingua franca in Ovamboland, gemaak. Hulle het klaarblyklik vermoed dat ons SAW-soldate was. Die soldate is in ’n linie opgestel om ons te soek, maar om die een of ander onverklaarbare rede – waarskynlik omdat hulle die spore van die kleiner groep wat ons vroeër in die kol bome teëgekom het, met ons s’n verwar het – het hulle in die teenoorgestelde rigting, weg van ons af, begin beweeg.

Ek het besef hulle het geen benul waar ons skuil nie. Die geraas en geskree was duidelik daarop gemik om ons uit ons skuilplek te verdryf. Dit sou egter nie lank duur nie voordat hulle besef dat ons iewers aan die teenoorgestelde kant van die bos is. Ek het net daar besluit dis genoeg opwinding vir een dag en die span beveel om gebukkend weg te beweeg met die kol bome tussen ons en hulle om ongesiens te bly.

Ná ’n paar minute het Xivatcha, wat deurentyd voor my gehard­loop het, sy kop opgelig en met ’n glimlag na my gekyk: “Vlieg­tuig ...” het hy gesê. “Boere-vliegtuig!”

Ek het vinnig die UHF-radio (ultra-hoëfrekwensie-radio, vir kom­munikasie met vegvliegtuie) aangeskakel en die vlieënier se stem het dadelik oor die lug gekom: “Kilo Sierra, this is Cheetah. Do you read me?”

“Cheetah, this is Kilo Sierra,” kon ek uitasem uitkry. “Angels from heaven. You come as if you were sent!”

Ter wille van misleiding was kommunikasie met die lugmag altyd in Engels8 want die vliegtuie se radioseine het natuurlik weens die hoogte bo grondvlak veel verder gedra.

“We have indeed been sent. Thought you were in trouble. Where’s the enemy?” wou die vlieënier weet.

Die volgende oomblik het twee Impala-vegvliegtuie oor ons koppe geskeer en ons spannetjie het mekaar byna van blydskap omhels. Ek het die vlieëniers deur middel van peiling en afstand gerig op die gebied waar ons die vyand laas gesien het. Hulle kon egter niks opspoor nie want teen daardie tyd het die soldate die voertuie waarskynlik diep in die tropiese bos versteek. Die vlieëniers het wel ’n paar sarsies spekulatiewe vuur op moontlike skuilplekke gevuur om die vyand te ontmoedig om ons verder te agtervolg.

Tydens die nabetragting op Katima het dit aan die lig gekom dat maj. Oelschig die vliegtuie laat opstyg het kort nadat hy met my gepraat het, sonder om te wag vir my tweede oproep 30 minute later. Hulle kon nie bekostig om Suid-Afrikaners aan die verkeerde kant van die rivier te verloor nie, want Suid-Afrika was immers nie in ’n oorlog met Zambië gewikkel nie, het hy gesê. Vir die span was dit ’n riem onder die hart dat ons ’n missiebevelvoerder met visie én ’n gut feeling gehad het.

Op ’n praktiese vlak sou ek baie nuwe dinge gedurende my jare op Omega leer, nie net oor oorlewing in die bos nie, maar ook oor my kamerade. Hoewel ons Boesman-makkers onmisbaar was in die bos, het hulle ook swak punte gehad. Een hiervan was dat hulle hoegenaamd nie kon swem nie. Om ’n rivier oor te steek, was altyd ’n resep vir ’n chaos.

Dit het ek besef toe ons tydens ’n ingewikkelde ontplooiing die Cuandorivier moes oor om by ons teiken uit te kom. Die Cuando vloei suid vanaf die Angolese sentrale hooglande en vorm die grens tussen Angola en Zambië. Dit sny deur die Caprivi (waar dit die Kwandorivier genoem word) en mond uit in die Linyanti-moeras in Botswana.

’n Vegpatrollie van die verkenningsvleuel is opdrag gegee om Swapo se vernaamste logistieke toevoerroete na sy basisse in die suidwestelike hoek van Zambië te ontwrig. Ons sou ’n hinder­laag op die pad lê om ’n logistieke voertuig te vernietig. Die gevangeneming van ’n Swapo-offisier was ook nog hoog op die agenda.

Om te verseker dat die span die pad ongemerk bereik, is besluit om die Luiana- en Cuandorivier te voet oor te steek en dan uit ’n westelike rigting na die pad te beweeg. Dit het gou geblyk dat net enkele van die Boesmans kon swem. Ons moes opblaasmatrasse saamvat en seker maak dat iemand wat goed kon swem elke nie-swemmer bystaan. Om sake nog ingewikkelder te maak, was die Cuando by die oorgangspunt sowat 5 km breed.

Snelvloeiende strome is afgewissel met eilande en moerasse wat meestal met riete toegegroei was. Ons kon tydens die oortog op die baie eilandjies rus, maar is genadeloos deur die mus­kiete toe­getakel. Die rugsakke is dryfbaar gemaak deur hulle in grond­seile toe te draai en toe te bind. Ons wapens en gevegs­uitrusting is bo-op vasgemaak.

Toe ek om ’n draai in ’n breë deel van die rivier kom, was João Antonio, die Boesman wat die span se RPG-7 gedra het, al spartelend besig om sy uitrusting kant toe te trek. Sy pak het omgekantel en was vinnig besig om te sink. Nadat twee van ons hom tot op droë grond gehelp het, het ons agtergekom dat die RPG-lanseerder en al die hulpladings (wat die vuurpyl aandryf wanneer dit afgevuur word) op die bodem van die rivier lê. Ons moes ’n paar keer duik om alles te herwin en sy uitrusting weer dryfbaar te maak. Die middag het ons die RPG se hulpladings in die son uitgepak om droog te word, maar was bekommerd dat dit dalk te erg beskadig was om te werk.

Ná 36 uur van spartel en ploeter deur moerasse het die span uiteindelik die oostelike oewer bereik. Ons het die uitrusting droog gemaak en ’n nag se rus ingekry voordat ons die operasie hervat het. Sowat 2 km van die beplande hinderlaagposisie het die span in twee verdeel: Die spanleier het die hinderlaaggroep na die pad gelei en ek het met ’n klein reserwemag by die uitrusting gebly en die HF-radio beman.

By die hinderlaagposisie het sake ’n interessante wending geneem, soos ons ná die tyd gehoor het. Op die tweede dag het ’n swaargelaaide Swapo-vragmotor in ’n suidelike rigting op die pad aangekom. João, die man met die RPG wat in die rivier beland het, het doodluiters in die middel van die pad gehurk om ’n beter skoot in te kry. Sy eerste skoot het egter net ’n onwel­kome “klik” opgelewer – die wapen het geweier om te vuur. Met die tweede probeerslag was dit dieselfde ding.

Teen dié tyd het die groot vragmotor reg op ons man afgestorm. João het hom nie van stryk laat bring nie. Koel en kalm het hy sy ander wapen, ’n 9 mm-pistool, uitgepluk en op die voertuig losgebrand, wat toe reeds so te sê op hom was.

Gelukkig het die res van die hinderlaaggroep nie vir João gewag om die voertuig tot stilstand te bring nie, maar met elke denkbare wapen begin skiet. Die bestuurder is in die proses getref en die voertuig is van die pad af die bosse in. João het net betyds uit die pad gespring en die vragmotor het hom net-net gemis.

Die span het vinnig korte mette gemaak met die laaste weerstand, foto’s van die voertuig en vier dooie Swapo’s geneem en die vragmotor aan die brand gesteek. Toe het hulle onttrek en na ons posisie terugbeweeg. My span het intussen ’n landingsplek voorberei en die taktiese HK laat weet. Toe die hinderlaaggroep by ons aansluit, was die helikopters reeds op pad. Die hele span is die middag opgepik en na Omega teruggeneem.

Recce

Подняться наверх