Читать книгу Kristel Loots-omnibus 1 - Kristel Loots - Страница 10
Оглавление7
Adam val haar behoorlik om die hals toe sy uiteindelik die moed het om kantoor toe te gaan en eers by hom ’n draai gaan maak voordat sy vir Koos opsoek.
“Well, well, well,” groet hy. “It’s about time. At last wys jy jou mooi gesiggie weer hier by Koekemoer Internasionaal. Ons het al begin dink jy het greener pastures gaan soek.”
“Dalk het ek ...”
“Moenie eens joke daaroor nie, doll. Koos is boos! Hy wag al dae lank vir jou. Hy kan nie sy A-team in die veld stoot nie, want die kaptein is somewhere out there trying to find herself.” Hy frons, staan ’n aks nader. “What gives? Is dit die hunk wat jou so in ’n flat spin het?”
“Die hunk?”
“Ja, man, die dish! Die heart-throb, die dokter wat jou met sy oë wou insluk by die dans daardie aand.”
“Luca de Wet?” Sy hou haar onskuldig. “Praat jy van hom?”
Adam rol sy oë. “Hoeveel hunky dokters ken jy, doll?”
“Ek gaan jou nog terugbetaal vir daardie aand, jou luis,” belowe sy.
Toe stap sy deur na Koos se kantoor en los hom om in sy nuuskierigheid te stowe. Hy verdien dit! Nuuskierigheid vreet hom op, sy weet, maar sy sal hom nie die genoegdoening verskaf om eerste alles van haar sake af te weet nie. Hoe sy haar besluit aan Koos gaan verduidelik weet sy nie, maar sy’s lankal by omdraai verby.
Koos is so kortaf soos gewoonlik toe sy by hom aanklop.
“Hoe was die tydjie in die Ooste?” wil sy met die intrapslag weet.
“Produktief genoeg.” Hy wys met sy hand na die leë stoel oorkant kom. “Sit!”
Sy gaan sit soos ’n goed afgerigte hond.
“Wat’s jou storie, Jenna? Praat dat ek hoor. Ons moes daardie kontrak van jou geteken het voordat ek weg is Ooste toe. Dan was jy vas en het jy nie nou met hierdie nonsens gekom nie.”
“Ek bedank, Koos. My bedankingsbrief sal voor die einde van die dag op jou tafel wees.”
“Sommerso?”
“Nee, glad nie. Dit was nie ’n maklike besluit nie en ek weet steeds nie of ek die regte ding doen nie.”
“Natuurlik doen jy nie die regte ding nie. Jou nessie hier by Koekemoer Internasionaal is geveer vir die res van jou lewe. Daar wag binnekort ’n bevordering op jou. Jou salaris sal aangepas word en die pakket wat daarmee saamgaan, is uiters aanloklik. ’n Splinternuwe maatskappymotor – uit die Duitse stal, natuurlik. ’n Huissubsidie waarmee jy ’n paleis kan bekostig, en nog ’n hele paar watertandvoordele waarvoor die meeste ouens hier hul oogtande sal gee.”
“Dis dalk juis daaroor, Koos,” sug sy.
“The sky is the limit, Jenna, moenie jouself in die voet skiet nie!” Hy skuif ongemaklik rond. “As dit gaan oor die Londen-storie, oor wat daar gebeur het ...” Hy vee oor sy voorkop, duidelik verleë om die onderwerp aan te roer. “Ek ken nie die storie nie – nie een van ons hier by die kantoor weet presies wat daar gebeur het nie – maar enige bobbejaan kan aflei dat dit nie vir jou maklik kon gewees het nie. Wat die man ook al aangevang het, jy moet onthou dis hoe mans maar is. Ons is gemaak en gelaat staan. Jy kan nie te veel van ons verwag nie. Get over it, my ding. Vergeet die bastard en gaan aan met jou lewe, met jou werk.”
Sy leun oor na hom en sit haar hand ’n oomblik op sy arm. Vir Koos om soveel emosie te wys, is ’n uitsonderlike gebeurtenis en sy waardeer dit. “Koos, jy’s ’n ou doring, meer van ’n vriend as ’n baas, en ek gaan jou vreeslik mis. En die res van die ou spul hier by Koekemoer Internasionaal ook. Ek praat nie eens van Adam nie – daardie ou drama queen máák my dag elke keer wat ek hier by Koekemoer Internasionaal inklok.”
Sy lig haar hand toe Koos sy arm verleë terugtrek. “Maar my tyd hier is verby,” vervolg sy. “Ek het klaar ingetrek by die kwartiere van die Hart-akademie naby Melkbosstrand. Ek en my pa.”
“Ek hoor so. Luca het my vertel toe ons laas Woensdag saam gholf gespeel het.”
“Lyk my mans skinder meer op die gholfbaan as vroue om hul teekoppies. Het jy hom op jou beurt van my skandes en skades vertel? Van Londen?”
“Ons skinder nie, ons gesels net. En nee, ek het hom nie vertel dat jy sou trou en dat alles toe op niks uitgeloop het nie. Hoe kon ek? Ek weet dan self nie werklik wat daar gebeur het nie.”
En ek is ook nie van plan om jou te vertel nie, dink Jenna.
“Ek wou daai Luca sommer donner, weet jy?” laat Koos vurig hoor. “Waar kom hy daaraan om my beste werker af te rokkel? En dit om in ’n ouetehuis te gaan bly!”
“Dis nie ’n ouetehuis nie, dis –” probeer sy hom onderbreek, maar Koos steur hom nie daaraan nie.
“Verbeel jou!” Hy gooi sy hande in die lug. “Nou sit jy daar en sente tel terwyl jy met miljoene kan werk.”
“Ja, maar snags slaap ek soos ’n baba.”
Dis nie heeltemal waar nie. Soms kom foeter Frederick se gesig voor haar geestesoog in en onthou sy van sy verraad. Dan is sy so kwaad dat sy die kussing karnuffel. En nog erger: soms dink sy aan Kareltjie en huil haar kussing nat. Dan lê sy ure lank wakker en luister na die branders wat woedend op die rotse breek of die wind wat soms droewig buite huil, die klank daarvan ’n aanklag teen haar.
Maar dis tog anders as vroeër, dis tog vir haar asof daar meer genade vir haar is vandat sy ’n paar weke gelede tydelik by die akademie ingetrek het om te sien of haar pa daar sal aanpas. Miskien nog nie vergifnis nie, maar ’n druppel genade.
“Wanneer ek in die oggende wakker word, koer die duiwe buite my venster,” probeer sy die scenario wat ’n belofte van vrede inhou vir Koos skets. “Die son skyn op my bed en daar’s bloeisels aan die bome en ek kan die branders hoor breek.”
“Idillies, ja, maar vir hoe lank? Jy’s ’n werkverslaafde, Jenna – ek weet dit en jy weet dit.”
“En as ek so sou aangaan, is dit dalk hoe ek in my spore sou neerslaan ook: in die tuig!”
“En nou? Hoe kry jy nou die dae om?”
“Ek is besig genoeg vandat ek tydelik saam met my pa by die Hart-akademie ingetrek het. ’n Deel van die woonkwartiere daar word aangewend vir die familie van hartpasiënte wat van ver af kom en verblyf nodig het terwyl hul geliefdes in die hospitaal is. Dis onder andere my plig om hulle te ontvang, tuis te laat voel en gerus te stel.”
“Luca noem dit ‘meet and greet’, ja, hy’t my vertel, die bliksem. Hy sê jy’s net die regte prop om in die voorportaal te hê wanneer iemand daar inklok. Jonk en gesond, en dan nog mooi en sexy ook. Die omies vergeet glo sommer van hul hartprobleme, en die tannies begin weer lipstiffie en parfuum dra om in tel te wees. En die tydelike besoekers kry hoop vir die toekoms as hulle jou sien. Dis glo jou agtergrond – alles wat jy hier by ons geleer het wat so handig te pas kom.” Hy grom binnensmonds. “Jy ken al die sosiale kunsies en jy kan intelligent genoeg gesels, selfs oor gesondheidskwessies.”
Hy glimlag effens. “Luca sê hy’t net probleme om jou te muilband oor sekere aspekte van die behandeling van hartprobleme, maar oor die algemeen is jy glo just what the doctor ordered.”
Sy krimp vir ’n oomblik ineen. Dis dan hoe dit is: vir Luca is sy nie veel meer as ’n rekwisiet nie. Sy dra die regte beeld uit daar waar sy agter haar rekenaar by die ontvangstoonbank sit. Op die oog af nog nie met haar een voet in die graf nie, en slim genoeg om mond-tot-mond-asemhaling toe te pas of ’n ambulans te bel as dit nodig sou raak. ’n Winkelpop sou ook doen, as die ding net kon somme maak sodat die boeke klop.
Dis mos wat ek wil hê, onthou sy dan. Professionele optrede van sy kant af, sodat alles stil en rustig kan wees en my hart nie allerhande manewales uithaal wanneer hy van tyd tot tyd daar aankom nie. Soms met ’n blommetjie in die hand wat hy buite gepluk het. “Omdat dit my aan jou laat dink het.” Vir Amanda laat hy seker duur ruikers aflewer; vir haar wat Jenna is, steel hy ’n rosie uit die tuin wat haar pa en ’n paar van die ander inwoners in stand hou.
“Luca is inherent ’n sakeman sowel as ’n medikus,” beaam sy. “Die regte props is vir hom baie belangrik. Jy moet die ontvangsdame sien wat sy sake vir hom in sy spreekkamer reël – dis ’n kolossale vrou wat jou onmiddellik verstom laat vassteek. Haar arme hart moet seker oortyd werk om daardie groot lyf van haar aan die gang te hou. Ek kan net dink hoe werk sy pasiënte se koppe: As hy háár aan die lewe kan hou, kan hy dit met enigiemand doen.”
“Praat jy van Amore?”
“Ja. Ken jy haar?”
“Baie goed. Sy’s Luca se suster, het jy nie geweet nie?”
“Sy suster? Amore van der Walt? Is jy seker?”
Hy lag. “Doodseker. Van der Walt is haar getroude van.”
“Ek het nie geweet sy’s getroud nie.”
“Sy wás getroud. Toe sy begin gewig aansit, het haar man die wyk geneem.” Hy sug effens. “Luca het ’n besonder sagte plekkie vir haar, juis omdat sy so oorgewig is en soveel probleme het. Sy het glo vreeslik verwerp gevoel en kon nêrens anders werk kry nie, toe het hy haar onder sy vlerk geneem. Hy’s baie streng met haar, sien toe dat sy gereeld oefening kry en probeer haar dieet ook beheer.”
“Maar sy noem hom nie op die naam nie, sy noem hom ‘dokter’. Ek het juis opgelet daarna omdat sy so gedienstig en gedwee teenoor hom optree.”
“Hulle hou dit glo so formeel moontlik. Ek dink die arme Amore is natuurlik baie dankbaar teenoor haar kleinboet wat haar aan die gang hou.”
Dis asof daar ’n gordyn voor Jenna oopgetrek word. “Dis dan seker waarom sy ook by die akademie bly. En waarom Luca altyd na haar vra wanneer hy ná werk of oor naweke daar kom.”
Dêmmit, dink sy, hoe moes sy dít nou raai? Dat die dekselse Luca Amore uit die goedheid van sy hart as ontvangsdame by sy spreekkamer laat werk en nie omdat hy verskuilde motiewe het nie. Miskien oordeel ek mense te gou, dink sy verleë.
Maar toe lig sy weer haar ken. Die teendeel is ook waar, want sy vertrou net so dikwels mense hopeloos te gou. Soos vir Frederick, vir wie sy haar alles wou gee. Net om uiteindelik te besef dat sy vir die gek gehou is!
“Eintlik weet ek niks van Luca se persoonlike lewe nie,” mymer sy. “Hy kom gereeld daar by die akademie, het selfs ’n oornagplek van sy eie daar, maar daar is ook dae wat ons hom nie sien nie. Ek het maar afgelei dat hy sy eie blyplek êrens het.”
“Hy het – ’n penthouse naby die Waterfront. ’n Lieflike plek.”
Koos kyk na die horlosie teen die muur. “Kyk waar staan die tyd al,” verwyt hy. Hy staan op, ’n duidelike teken dat sy haar moet skaars maak. “Is jy regtig seker hieroor, Jenna? Gaan jy nie later spyt wees nie?”
“Ek weet nie, Koos. Ek weet eerlik nie. Ek weet net my pa blom vandat ons daar is. Dis asof hy skoon vergeet het van sy siekte vandat hy weer besig geraak het. Sy lewe het weer betekenis. Hy’t nie sy huis verkoop nie, net die deur toegetrek en gesluit. Vir as hulle hom dalk by die akademie uitskop, sê hy. Dan sit hy immers nie op straat nie.”
“Maar is dit nodig dat jy jóú lewe ook op ys moet plaas?”
Sy haal haar skouers op. “Seker nie. Maar dis nie hoe ek dit sien nie – dat my lewe op ys geplaas is. Ek was in elk geval nie veronderstel om nou hier te wees nie. Ek sou in Londen gewees het, onthou? Miskien is dit hoekom ek nie meer so lekker inpas hier nie: my psige het gereed gemaak vir ’n ander leefstyl.”
’n Lewe wat sy saam met Frederick sou leef – en natuurlik saam met Kareltjie. Sy sou eerder huisvrou as loopbaanvrou wees, soveel aandag as moontlik aan Kareltjie gee. Hy het dit nodig gehad, hy het dit verdien. Vir haar sou dit ’n rustiger lewe gewees het, en sy het uitgesien daarna.
Daar is die wonderlikste parke in Londen, groen grasperke, oeroue bome, parkbanke waarop boemelaars nie beslag gelê het nie, uitgestrekte mere waarop swane sierlik dryf sonder om te vrees dat hulle dalk op ’n braaivleisvuurtjie sal beland. Parke waar ’n mens kan loop sonder om jou handsak met jou selfoon en kamera daarin onder jou arm vas te knyp en die hele tyd oor jou skouer te loer of daar nie ’n booswig of twee in die omtrek is nie. Parke waar vuilgoed en papiere nie teen jou bene vaswaai nie en waar leë kartondose nie die plek ontsier nie. Parke waarheen sy en Kareltjie sou gaan ...
Maar van haar vooruitsigte het daar niks gekom nie.
“Ek kon jou in elk geval nooit as kaalvoet en swanger in die kombuis voorstel nie,” merk Koos op. Hy steek sy hand na haar toe uit. “Dit voel of iemand my oogtande trek,” kla hy. “Sonder verdowing!” Hy skud sy kop weer ongelowig.
“Maar gaan maar jou gang, Jenna Joubert. Onthou net dat jy enige tyd weer uit hierdie fonteintjie kan kom drink as jy genoeg gehad het van die blommetjies en die bye en moedernatuur en weer ernstig wil geldmaak vir jou oudag.”
“Wat dalk nooit kom nie as ’n mens jou so doodwerk,” lag sy op haar beurt. “Dis nou wat bedoel word met ’n gejaag na wind, Koos.”
“Moenie vir my preek nie,” keer hy dadelik. “Ek hét al probeer afskaal. ’n Week of twee afgevat om by die huis deur te bring, maar ek en my vrou wou mekaar vermoor voordat die twee weke om was.” Hy wys om hom. “Nee, jong, hier’s my plek. Hier is ek gelukkig. Hier en in al die ander kantore oor die aardbol waar Koekemoer Internasionaal sy tentakels het.”
Dis juis uit daardie tentakels wat ek wil ontsnap, dink Jenna. Tentakels wat jou vasgryp waar jy jou ook al mag bevind juis omdat Koekemoer Internasionaal oor die aardbol heen versprei het. Tentakels wat jou opslurp, wat alles anders uit jou pers: jou tyd, jou belangstellings, jou liefde, jou lewe. Tentakels wat sterk genoeg is om jou uit te mergel.
Sy voel skoon lighoofdig toe sy by die kantoor uitstap, asof sy op lug loop. Sy weet beter as om by Adam in te loer. Hy sal haar van ’n kant af uitvra en om haar ore kerm totdat sy hom alles oor die nuutste verwikkelinge vertel het. En dít sal ’n drama tot gevolg hê wat ’n Griekse tragedie in die skadu sal stel. Daar sal van ’n kant af geween word, en ’n gekners van tande is ook nie uitgesluit nie. Sy kén vir Adam – hy sal haar soos ’n verraaier laat voel en die vreugde wat nou in haar borrel met skuld vervang.
Terug by die akademie oorweeg sy dit om vir Luca te bel, maar sy besluit daarteen. Sy wil hom in die oë kyk wanneer sy hom vertel van haar besluit om Koekemoer Internasionaal finaal te verlaat. Sy wil self sien of hy klaar spyt is oor sy voorstel dat sy op permanente basis hier moet kom werk, of hy steeds kans sien om daarmee saam te leef.
Daarom stuur sy vir hom ’n SMS: Kom maak ’n draai as jy weer hierlangs kom. Ek het iets om jou te vertel.
Die oomblik toe sy in haar kamer kom, skop sy haar hoëhakskoene baldadig uit. Hulle trek deur die lug en land met plofgeluide in teenoorgestelde hoeke van die vertrek. Toe trek sy haar romp, kantbloesie en snyersbaadjie uit. Van kantoorklere het sy vir eers genoeg gehad. Wanneer sy haar plek op ’n permanente basis by die akademie se ontvangs inneem, sal sy nog steeds netjies geklee wees, maar sy is vasberade om die formele beeld wat deel uitmaak van Koekemoer Internasionaal diep in haar kas te bêre.
Sy trek ’n geblomde fietsrybroek aan wat styf om haar agterstewe span, met ’n kaalmaagtoppie daarby. Nou is ek eintlik reg daarvoor om by Amanda te gaan aanmeld, dink sy toe sy voor die spieël staan. Sy kan besluit op watter martelmasjien ek moet gaan om my hart op die korrekte manier aan die klop te kry sodat my bloed behoorlik deur my are kan bruis.
Maar haar nuutgevonde vryheid maak haar roekeloos, dronk soos iemand wat van ’n rondomtalie afgeklim het, en sy het geen begeerte om van een binding te ontsnap net om haar in ’n ander te laat vasvang nie. Amanda sal aanbeveel dat sy op die trapmeul klim, Amanda sal met haar rietskraal lyfie ure lank kan oefen sonder dat daar ’n strepie sweet op haar gesig sal vorm, Amanda sal haar ver in die skadu stel en hierdie helder dag wat oor haar skyn donker maak.
Se voet! besluit Jenna. Iets wat met soveel pyn en lyding gepaardgaan, kán nie goed wees vir ’n mens nie, veral nie as jy so teësinnig is om dit te doen nie. Sy’s nie ’n donkie wat ingespan moet word om dieselfde simpele, vervelige ding oor en oor te doen net omdat dit goed is vir haar nie.
Ek gaan op die strand stap, besluit sy. Met die wind in my hare. Stap is ook oefening – van die beste wat ’n mens kan doen, as sy Luca reg verstaan het.
Die son streel oor haar kaal skouers toe sy buite kom en die see is kalm, met net ’n paar lui brandertjies wat melodieus op die strand uitrol. Daar is geen teken van die onrustigheid of die onaardse geluide van die vorige nag nie. Die brandertjies wink haar nader, lok haar om haar sandale uit te trek en met haar voete in die vlak water te stap.
Aanvanklik lek die branders speels aan haar bene, maar met ’n skielike terglustigheid kom ’n brander met meer woema op haar afgerammel en moet sy koes om nie nat te word nie. Dit raak ’n speletjie om die branders te uitoorlê, en sy betrap haarself dat sy hardop lag elke keer wat sy rats genoeg is om dit te doen.
Sy voel soos ’n kind. Asof die dag vir haar ’n verrassing inhou, asof die toekoms haar met oop arms inwag. Sy konsentreer só op die spel met die branders dat sy behoorlik skrik toe Luca skielik langs haar verskyn.
“Haai!” groet sy. “Wat maak jy hier?”
“Hoekom vra jy? Jy’t my dan laat kom.”
“Is nie, man. Ek het nie bedoel jy moet spesiaal hierheen kom nie. Ek wou jou net graag spreek wanneer jy weer akademie toe kom.”
“Maar toe maak jy my so nuuskierig dat ek nie kon wegbly nie.”
“Moet jy nie nou jou plek volstaan in die teater nie? Wat word van jou pasiënte as jy hier rondkerjakker op ’n gewone weeksdag, en dit nog voor middagete?”
“My pasiënte word verpleeg en word hopelik gesond terwyl hulle na my verlang, veral die vroue.”
Hy lag haar sorgeloos toe. Arrogante blikskottel!
Hy buk af en spat haar nat. “Nee!” gil sy. “Dis koud!”
“Kom ons swem eers,” stel hy voor.
Hy pluk summier sy T-hemp uit en gooi dit argeloos van hom af weg sodat dit op die droë sand land. Sy knip haar oë toe sy sien hy het ’n swembroek aan en lek onwillekeurig oor haar lippe toe sy sy bruingebrande borskas sien. Sy sien die spiere op sy boarms bult, sy sien die sespak, sy sien die fyn haartjies laag op sy maag en sy wil huil. Van begeerte, van heimwee na wat was en oor al haar drome wat in Londen in die vullisdrom beland het.
“Kom,” sê hy en gryp haar aan die hand, uitbundig soos ’n skoolseun wat stokkiesdraai.
“Nee, los my, ek het nie swemklere aan nie.”
Hy aarsel net ’n oomblik. “Wil jy kaal swem?” vra hy, sy stem gemaak geskok.
“Nee, man.” Sy rem weg, maar hy is te sterk vir haar, die lewenslus in hom ’n stroom wat haar wil intrek. “Ek word nat!”
“Water ís nat, my lief, het jy dit nie geweet nie?”
Hy skerts, sy weet, maar die troetelwoordjie val soos reëndruppels op dorre aarde in haar hart. As dit maar waar was! As sy maar iemand se “lief” was, veral iemand soos Luca, wat skynbaar die lewe toelag met al die selfvertroue wat saam met sy status kom.
Hoe hard sy ook al terugrem, dit help niks. Hy sleep haar dieper die see in.
“Ek kan nie juis swem nie,” waarsku sy en klou aan hom vas.
Sy is so ’n ou ellendeling, sy weet. Pas nie in ’n gim nie, kan nie eens tennis speel nie, en swem soos ’n onbeholpe hond wat spartel om nie te verdrink nie.
Sommer gou slaan die water haar van haar voete af. Die branders is steeds speels, maar nie meer so lusteloos en vriendelik soos dié wat sy vroeër getrotseer het nie. Tog is die koudheid daarvan verfrissend, en selfs die kere wat haar kop onder die water verdwyn, word sy nie deur die gewone vrees oorval nie.
Luca se lyf is styf teen hare gedruk. Dit hoort nie so nie, sy weet, maar die son op die water verblind haar sodat sy nie verder kan sien as die ligkokon wat hulle insluit nie. Sy wieg in die water, haar bene om sy heupe, haar arms om sy nek geslaan.
Toe sy voel hoe sy manlikheid teen haar du, is dit of ’n weerligstraal haar tref. Sy trek haar asem in en klem hom stywer vas. Dis ’n oomblik in ’n ewigheid van eensaamheid, ’n oomblik so volmaak dat sy dit vir altyd in haar geheue wil koester. Sy is intens bewus van haar vroulikheid, van die begeerte wat soos ’n rivier in vloed deur haar bruis. En van Luca, wat buite die water, daar anderkant op droë grond in die werklike lewe, baie ver van haar af is, maar wat vir hierdie salige, kortstondige oomblikke waarin dit voel asof tyd en ruimte gevries het, deel van haar word. Asof hul liggame saamsmelt en ’n knal veroorsaak. The Big Bang! kom ’n verspotte gedagte by haar op. Dis soos die Big Bang wat die begin van groot dinge ingelei het.
Ek behoort bang te wees, besef sy. Vir die branders wat al meer verwoed om my slaan, vir die diep, diep see wat ’n mens so maklik kan insluk, vir Luca, vir die tekens dat sy lyf ook nie onaangeraak bly teenoor my nie. Maar dis nie vrees wat van haar besit neem nie, dis ’n lewenslustigheid. Nee, eerder ’n lewensgulsigheid, dink sy. Asof sy alles wat sy verloor het met geweld wil teruggryp, alles waarna sy smag hare wil maak en teen haar bors wil druk.
Sy het laas so veilig in die water gevoel toe sy as ’n klein dogtertjie saam met haar pa in die branders gespeel het, doodgerus omdat sy in sy arms was en omdat sy hom met alles in haar vertrou het.
“Ek voel soos ’n rob!” skree sy uitbundig bo die geraas van die branders uit. “Of ’n dolfyn. Of ’n vis! Dis wonderlik!”
Gelukkig is die strand heeltemal verlate hierdie tyd van die dag, dink sy voordat die volgende brander hulle karnuffel. Almal is besig met hul dagtaak. Ook Amanda. Niemand sal weet van hierdie lawwigheid nie, niemand sal haar en Luca sien hier waar hulle in die branders baljaar nie.
Sy lag hom toe. “Die Kaapse water is ysig koud,” kla sy kamma.
“Jou lippe is blou van die koue,” beaam hy.
“Nou doen iets daaraan!” daag sy hom roekeloos uit.
Toe die volgende brander teen hulle aanspoel, verstewig hy sy houvas op haar. Toe soen hy haar. Jenna snak na asem. Omdat die soutwater in haar gesig is, oor haar kop, orals. En omdat Luca se soen haar van haar voete af sou kry al was sy ook op vaste grond vasgemessel.
Dis ’n oomblik van malligheid, sy weet, maar die malligheid neem ook van haar besit. Sodat sy hom terug soen, met alles in haar. Ons is nie dokter en pasiënt nie, besef sy. Nie baas en klaas nie. Nie Luca en Jenna nie. Ons is twee lywe in die water, twee wesens wat na die stem van die natuur luister sonder om ons aan orde of rede te steur.
Sy mond sluit met versmorende krag oor hare. Die passie waarmee hy haar soen, grens aan barbaarsheid en slaan haar asem weg. Hy kneus haar lippe met syne sodat die koue wat haar mond laat bewe het die wyk neem en met ’n kooltjie vuur vervang word.
“Luca!” roep sy uit toe sy lippe ’n oomblik van hare lig, maar hy smoor haar protes met sy mond wat weer hard op hare neerkom.
“Ek begeer jou, verleidelike meermin van die see,” prewel hy hartstogtelik met sy mond teen hare.
Dis of die see asem ophou, of die branders ’n oomblik terughou, of die verloop van die natuur kortstondig gestuit word. Daar is ’n kalmte om hulle, met branders wat skielik strelend sag strand toe rol sodat hulle net van mekaar bewus is.
Luca verlei haar verder met sy mond. Sy proe die sout seewater op sy lippe en sy snak opnuut na asem. Stadig, onverbiddelik ontlok sy lang en sensuele soene ’n reaksie by haar waarteen sy nie langer kan of wil veg nie. Sy het geen konsep van tyd of ruimte toe ’n verrukking soos die bedwelming van soetwyn oor haar spoel nie. Niks wat sy saam met Frederick ondervind het, kon haar voorberei op die brandende begeerte wat nou in haar brand nie.
Ek sal hierdie man enigiets toelaat, besef sy. As ek na my lyf luister, sal ek hom selfs sméék om my syne te maak. Haar hande is in sy hare verstrengel terwyl sy haar oorgee aan die koorsagtige hunkering, die intense honger na hom.
Sy donker oë staar intens na haar. “Jy is beeldskoon, Jenna Joubert,” hyg hy. Hy vou sy hande om haar gesig. “Gevaarlik mooi. Jy’s ’n meermin wat my dieper die see wil intrek,” verwyt hy laggend. “Sodat ek nooit weer gaan opkom vir lug nie!”
Haar hele wese vra na hom, maar asof van ver af roep iets haar terug na die werklikheid. Wat sy doen, is verkeerd; wat sy bereid is om vir hom te gee, is nie waarop hy geregtig is nie. Waarna sy vra, is ook nie hare om te hê nie.
Dis of sy swart oë verder verdonker. Hy sit sy hande op haar heupe. “Jenna ...” fluister hy.
Met ’n kreuntjie van begeerte trek hy haar weer ru teen hom aan en soen haar nog ’n keer. Hul monde smelt saam asof hulle nie die keuse het om daarteen te besluit nie. Die branders spoel steeds oor hulle, piets haar soms geniepsig, pluk haar van balans af, maar die smagting van haar lyf doof die waarskuwende geroep van haar verstand uit, sodat sy opnuut meegevoer word deur die ekstase wat sy ruwe manlikheid in haar laat opvlam. Wat hier gebeur, is wat van die grondlegging van die aarde af reeds daar is, ’n oerritueel so oud soos die mens self.
“ ’n Man sal nooit genoeg van jou kry nie,” kla hy toe hy haar uiteindelik laat gaan. Sy oë gloei in hare.
Maar iets het verander, daar is ’n skadu oor sy gesig.
“Kom ons gaan uit,” stel hy voor. “Voordat ons verdrink.”
Sy slaan haar arms oor haar bors toe hulle uit die water stap. Die toppie klou aan haar bolyf en die natheid en die koue wys meer van haar as wat betaamlik is. As sy moes raai dat sy in die water sou beland, sou sy ten minste ’n bra onder die flentertjie lap aangetrek het wat as toppie dien.
Luca kyk spottend na haar. “Niks wat ek nie voorheen gesien het nie, skattebol,” terg hy. “Ontspan gerus.”
Die “skattebol” val hard op haar ore, want sy hoor die hol klank daarin. Die betowering is verby!
Woordjies soos daardie rol van Luca se lippe af soos die waterdruppels wat nou hul pad oor sy lenige lyf vind, dit weet sy. En tog is sy nie heeltemal immuun daarteen nie.
Dis hierdie dag, dink Jenna. Hierdie helder, wonderskone, verruklike dag met Tafelberg blou in die verte en die son soos ’n seëning uit die hemel oor ons. Dis hierdie Kaap van Storms, wat ook die Kaap van Goeie Hoop is, wat ’n mens se sinne stomp maak. Wat jou ’n kykie in die hemel gee en jou van die aardse dinge laat vergeet.
Sodat jy vergeet dat jy nie veronderstel is om dit so te geniet saam met Luca de Wet nie en jy redeloos luister na die lied van jou lyf. Sodat jy vergeet dat Luca de Wet in ’n ander wêreld as jy leef en hom bloot met jou vermaak wanneer hy die dag stokkiesdraai. Wat jou net soen om dit uit sy gestel te kry ... en slegs wanneer jy daarvoor vra!
Hy herstel blykbaar gouer van hul vergrype in die water as sy. “Sies!” kla hy. “Kyk hoe nat is jy!”
“Water is nat, my lief, het jy dit nie geweet nie?” haal sy hom aan.
Sy sien die gepynigde frons waarmee hy na haar kyk. “Nou kom ons gaan sit daar anderkant op die rotse dat ons kan droog word.”