Читать книгу Kristel Loots-omnibus 1 - Kristel Loots - Страница 5

Оглавление

2

“Kom saam, Jenna,” nooi dokter De Wet nadat hy haar gesondheidsvraelys voltooi het.

Hy trek die gordyntjie na sy ondersoekkamer oop. “Trek maar uit bolangs dat ons kan luister wat sê jou hart. Daar’s ’n japon agter die deur wat jy kan aantrek. Ek is nou weer by jou.” Hy stap uit.

Ag, berge val op my, wens sy toe sy alleen in die ondersoekkamer agterbly. Sy pluk haar top oor haar kop en gryp na die japon. Sy weet sommer die ding gaan net vir ’n Barbie-pop pas en slegs die helfte van háár bolyf toemaak. Dis wat gewoonlik in dokters se spreekkamers gebeur. Die japonne en jakkies wat hulle beskikbaar het, is gewoonlik net geskik vir rietskraal vroue wat elke dag niks meer as ’n ertjiekorrel en ’n baba-aartappeltjie eet nie.

Maar tot haar verligting vou die japon feitlik dubbel om haar lyf. Natuurlik! onthou sy. Die vroue wat hier by dokter De Wet aanland, is gewoonlik formidabele vroue met waatlemoengrootte-boesems. Haar eie spanspekke verdwyn behoorlik onder die dubbellaag materiaal. Sy trek die gordel styf om haar lyf en bind dit in ’n strik vas.

Daarom is sy genadiglik ten volle geklee toe die dokter weer sy gesig wys, hierdie keer gewapen met ’n stetoskoop om sy nek en ’n bloeddrukapparaat in sy hand. “So ja, Jenna, ontspan jy nou net,” probeer hy haar gerus stel.

Makliker gesê as gedaan met hom hier by haar. Sy verwens haar dat sy na tannie Rademan geluister het. Hoekom het sy nie verder uitgevra oor dié dokter De Wet nie? Hoekom nie seker gemaak dat dit ’n vaal ou fossiel is wat haar op haar gemak sal laat voel nie?

Maar nee! Sy storm op die eerste, die beste kardioloog af wie se naam sy by haar pa se oor-die-muur-buurvrou hoor omdat sy nie oor genoeg kennis in dié verband beskik nie. En omdat niemand haar gewaarsku het nie!

Sy wou natuurlik nie na die kardioloog gaan wat haar pa behandel het nie. Kyk wat het daar gebeur! Hy was gou met die mes, maar dis waar sy belangstelling opgehou het. Hy’t haar pa in ’n woestyn van wanhoop en disinformasie gelos en met sy lewe aangegaan asof haar pa se lewe nie van belang was nie. Van hóm wou sy so ver as moontlik wegbly.

Die ander werknemers van Koekemoer Internasionaal wat al deur Koos gestuur is om na hul harte te laat kyk, was hoeka almal by dieselfde persoon in die middestad. Adam ook. Glo werklik ’n vaal fossiel, as sy hom kan glo. “Sy hande is yskoud en hy bewe asof hy ’n babelas het,” het Adam kom vertel toe sy hart getoets en sterk genoeg vir Koekemoer Internasionaal bevind is.

Sy haat koue hande, en vir ’n gebewe het sy ook nie kans gesien nie. Tannie Rademan se voorstel het na net die regte ding geklink. Een of ander ouerige dokter wat hom soos ’n gentleman gedra, het sy gedink toe tannie Rademan hom beskryf.

Nou troon hier ’n man oor haar teenoor wie geen vrou onaangeraak kan bly nie. Hy neem haar hand in syne om haar pols te voel en hou sy horlosie dop.

“Polsslag is ’n bietjie vinnig,” lewer hy kommentaar.

Wat verwag hy dan ook? dink Jenna. Hier sit sy in ’n pienk satynjapon met hom só na aan haar dat sy bewus is van die geur van sy naskeermiddel. Sy is nou wel toegevou tot by haar kuiltjie, maar nogtans!

Ook toe hy haar bloeddruk neem, frons hy. “Bietjie hoog,” mompel hy.

Hy buk oor haar, kyk in haar oë. “Dit kán natuurlik die witjas-sindroom wees wat dit so opjaag, maar ek is nogtans nie tevrede daarmee nie.”

“Die witjas-sindroom?”

“Ja. Mense is geneig om gespanne te wees wanneer ’n dokter hul bloeddruk neem. Daarom is hul bloeddruk dan heelwat hoër as normaalweg.”

Dis nie noodwendig vrees wat ’n vrou se bloeddruk sal opjaag as dié man dit neem nie, dink sy. Sy probeer so rustig as moontlik asemhaal.

“Hoë bloeddruk is gevaarliker as wat ’n mens dink,” sê hy. “Dis een van die grootste risiko’s vir hartsiektes en miljoene Suid-Afrikaners ly daaraan. Weet jy dat voorspel word dat daar binne ’n klompie jare meer Suid-Afrikaners aan hartsiektes sal sterf as aan vigs?”

Hy probeer praatjies maak om my op my gemak te stel, maar hy misluk klaaglik. Dis eerder bangmaakstories, dink Jenna vies.

“ ’n Mens se bloeddruk word bepaal deur die hoeveelheid bloed wat die hart met elke sametrekking uitpomp, en hoe maklik dié bloed deur die heel kleinste bloedvate kan vloei. Hoe nouer die bloedvate, hoe hoër die bloeddruk natuurlik.”

Sy weet dit, elke mens met gesonde verstand weet hoe dit werk. En oor hartaanvalle en soortgelyke rampe is sy ook nie heeltemal onkundig nie.

“Wat word as ’n normale bloeddruk beskou?” vra sy nogtans, sodat hy belangrik kan voel en hopelik daarna sal ophou praat.

“Ongeveer 130 oor 85. Enigiets bo 140 oor 90 word as hoë bloeddruk geklassifiseer.”

“Net deur dokters wat paranoïes is daaroor,” probeer sy ’n grappie maak.

“Deur navorsers wat die gevolge van hoë bloeddruk ondersoek het,” reageer hy ernstig.

Hy haak sy stetoskoop om sy ore. “Maak ’n bietjie oop dat ek na jou longe kan luister.”

Sy laat glip die japon oor haar skouers af, maar hy is nie tevrede nie en skuif dit verder af. “Jou longe is skoon,” laat hoor hy na ’n rukkie. “Jy’s gelukkig. Mense wat gerook het ... dalk nog steeds rook ... het gewoonlik probleme daarmee.”

Sy bloos. Hy laat voel haar soos ’n skoolkind wat skelm gerook het. Ek gedra my oor die algemeen soos ’n skoolmeisie, besef sy. Dis tog laf om skaam te wees voor Luca de Wet. Die man is professioneel. Vir hom is dit net nog ’n doodgewone dag in die spreekkamer. ’n Vrou se lyf, énige lyf, is vir hom soos ’n grafiek op papier vir haar is. Dis werk! Blote roetine.

Hy beduie dat sy agteroor moet lê sodat hy na haar hart kan luister. Hy knoop self haar japon los en vou dit oop sodat hy die koue stetoskoop op haar bors kan laat rus.

“Daar’s ’n effense ongereeldheid in jou hartritme,” merk hy mymerend op. “Is jy bewus daarvan?”

“My hart het ’n knou weg,” sê sy sonder om te dink.

Hy kyk haar ondersoekend aan. “Hoe so?”

Sy skrik vir haar los mond. “Ag, sommer iets wat gebeur het.”

“ ’n Liefdesteleurstelling?”

’n Liefdesteleurstelling beskryf kwalik waardeur sy is, dink Jenna. Oor ’n liefdesteleurstelling skryf ’n mens gedigte en gaan vra jy raad by een of ander sielkundige wat jou sal probeer oortuig om die verlede te vergeet en die lewe aan die keel te gryp. Sy’s hopeloos te kwaad om gedigte te skryf, en as iemand haar nou in ’n soet stemmetjie sou aanmoedig om die glas as half vol te sien, nie as half leeg nie, gaan sy nie verantwoordelik wees vir wat sy doen nie. Wat haar betref, is die glas nie alleen leeg nie, die flippen ding lê aan skerwe voor haar voete.

“Vergeet dit,” sê sy. “Ek was sommer laf om daarna te verwys.”

“Daar is baie medici en filosowe, ek inkluis, wat glo aan die noue verband tussen persoonlike belewenisse en die reaksie van die hart daarop.”

Hy glimlag skielik en Jenna se hart slaan bollemakiesie. Liewe hemel, maar die man is aantreklik. Geen hart sal dit naby hom kan hou nie!

“Daar kan natuurlik ook ’n heeltemal logiese verklaring wees vir die effense versteuring van jou hartritme. Dit kan selfs ’n tekort aan kalium wees.”

“Wat moet ek eet om meer kalium in te kry?”

“Blaargroente, volgraanprodukte, piesangs, selfs peulvrugte, en natuurlik avokadopere. ’n Tekort lei tot moegheid, spierswakheid en onreëlmatige hartklop. Dis maklik genoeg om reg te stel, maar ons sal verdere toetse moet doen om seker te maak.”

“Toetse?” vra sy versigtig. “Soos wat?”

“My assistent, die tegnoloog, sal ’n EKG op jou doen, en miskien ook ’n stres-EKG as jy daarvoor kans sien.”

“Op ’n trapmeul?”

Hy knik. “Dan sal ons sien hoe fiks hierdie meisie is.”

“Hierdie meisie is nie vreeslik fiks nie,” waarsku sy.

“Hoe dan so? Kry jy nie oefening nie?”

“Wanneer? Waar? Ek was vir twee jaar in Londen, onthou? Daar waar meer reën val as op enige ander plek op aarde. Of altans, dis hoe dit voel. Selfs in die somer is die son maar traag om kop uit te steek.”

En natuurlik, vandat sy terug in die land is, het sy haar dae min of meer in haar bed deurgebring. Eintlik wou sy ónder die bed inskuif, saam met die stofbolletjies wat daar vergader het in ’n bondel onder die bed lê en haarself bejammer.

“Hoekom dan nie maar gim toe gaan nie? Dis tog onderdak.”

“Omdat ek nie die tyd daarvoor gehad het nie, dokter,” maak sy verskoning. “By Koekemoer Internasionaal werk ons tot sestien uur per dag om die pas vol te hou.”

“Dis hoekom julle hartaanvalle kry.”

Sy kan nie regtig met hom daaroor stry nie.

Sy wikkel haar skouers om die japon teruggeskuif te kry toe dit lyk asof hy klaar is met sy ondersoek, maar hy skuif dit weer van haar skouers af. Sy hande kom lê warm op haar skouers. “Hierdie spiere is so gespanne soos ’n wildsbok wat gevaar geruik het,” merk hy glimlaggend op. “Ontspan, Jenna, ek sal jou nie seermaak nie.”

Sy is dadelik bewus van die lamheid in haar onderlyf en sy wriemel onder sy hande uit. Sy wend ’n wilspoging aan om haar skouers te laat ontspan, maar slaag nie daarin nie.

“Ek beveel altyd aan dat my pasiënte oefening kry, veral dié wat soos jy hul dae voor ’n rekenaar deurbring.” Hy stap na ’n rak en kom met ’n pamflet in sy hande terug. “Hier is ’n besoekerskaartjie wat jou gratis toegang sal gee tot die Health & Fitness-gim hier onder in die straat. Gaan beproef dit gerus, dalk raak jy nog verslaaf aan oefening soos so baie ander mense.”

“Die kans daarvoor is skraal,” verseker sy hom, maar sy vat nogtans die kaartjie by hom. “As ek verslaaf raak, sal dit aan sigarette of kafeïen wees.”

Hy kyk na haar met kwaai oë. “Sigarette en ’n oormaat kafeïen is beslis verbode,” herinner hy. “As jy bloot wil ontspan, wat baie nodig is vir ’n gesonde leefstyl en beslis vir iemand met sulke gespanne spiere soos jy, is dans natuurlik ook aan te beveel. Dis miskien nie die beste oefening wat jy kan kry nie, maar dis beter as om agter ’n lessenaar te sit en stoel.”

“Behalwe as jy ’n muurblom is en in elk geval droëbek langs die kant gaan sit en stoel.”

“ ’n Mooi meisie soos jy sal beslis nie ’n muurblom wees nie,” lag hy. “Behalwe as jy nie kan dans nie, en daarvoor is daar ’n oplossing. Al die ouens met twee linkervoete tou deesdae na die nuwe dansskool in Bloubergstrand. Die ateljee is op die boonste vloer van die Elizabeth Hotel en spog met ’n wonderlike uitsig op Tafelberg. Saterdagaande hou hulle sosiale danse en almal is welkom, of jy nou in styl kan dans of heelaand net sakkie-sakkie.”

Sy kán nogal dans. Miskien nie professioneel nie, maar sy het ’n paar lesse in Londen geneem sodat sy nie sou skandes maak wanneer sy en haar bruidegom die dansvloer open nie.

Verniet! Alles verniet!

“En sal ’n gedans by die see nie my hartritme verder versteur nie?” vra sy.

“Dit hang seker van jou dansmaat af.” Hy glimlag. “As dit ’n vurige vryer is wat jou oor die dansvloer stuur, sal jou hartritme beslis versteur word, maar dit sal nie noodwendig ’n slegte ding wees nie.”

Dokters kom met moord weg, dink Jenna stilweg. Wat in ander professies as seksuele wangedrag beskou sal word, word by die witjasse beskou as ’n vriendelike bedside manner. Eintlik sou sy verkies dat hy nie sulke suggestiewe grappies maak nie. Dit maak haar ongemaklik.

“Ons sal kyk wat ons met medikasie aan jou hartritme kan doen,” stel hy haar gerus. “Maar eers wanneer ons alle moontlike inligting bekom het oor die werking van jou hart.”

Hy klink skielik taamlik saaklik en sy onthou waarom sy eintlik hier is. Nie om haar flikkers vir Luca de Wet te gooi nie, maar om gesond genoeg verklaar te word om voort te gaan met haar werk by Koekemoer Internasionaal.

Sy skrik toe hy ’n aantekening op haar lêer aanbring. O hel, hier gaan ons! dink sy benoud. Hy gaan my in dieselfde drukgang plaas as al die ander pasiënte wat hy vanoggend ondersoek het. Hy gaan sy ontvangsdame vra om vir my ook ’n bed in die hospitaal te bespreek waar ek gekarnuffel en gekneus gaan word, en hy gaan nóg ’n paar duisend rand daarvoor in die sak gestop word. Sommerso vir ’n werkie wat hy binne ’n paar minute sal afhandel.

Sy is beslis nie gretig om nommer hoeveel in die honderd te wees wat hy hierdie week of maand onder hande neem nie. Sy sit regop en swaai haar bene oor die kant van die ondersoektafel.

“Ek wil nie graag vir ’n angiogram gaan nie,” keer sy.

“Nou wie’t gesê jy moet?”

“Niemand nie – nog nie. Maar ek waarsku net vroegtydig. Ek is nie daarvoor te vinde nie.”

“ ’n Angiogram is nie ’n operasie nie, Jenna,” verseker hy haar. “Jy hoef nie daarvoor bang te wees nie.”

Dis waar jy die fout maak! dink sy.

Hy trek ’n stoel nader en kom sit oorkant haar. “Dis ’n taamlik eenvoudige proses. Jy meld so teen halftwaalf by die hospitaal aan. Jy kry iets om jou te laat ontspan, maar nie narkose nie – ons maak gebruik van plaaslike verdowing. Jy is die hele tyd wakker en kan kyk hoe dit gedoen word.”

“Ek hét al gesien hoe ’n angiogram gedoen word. Dit was nie ’n mooi gesig nie.”

“O ja? Hoe so?”

“My pa is op ’n stadium daardeur. Ek is toegelaat om by hom te bly om hom te probeer kalmeer.”

“Dit ís nogal noodsaaklik dat die pasiënt so kalm as moontlik gehou word.”

“My pa was vreesbevange, en nie sonder rede nie. Daar is sekere risiko’s verbonde aan ’n angiogram.”

“Dit ontken ek nie, maar om dit nié te laat doen nie, kan in sekere gevalle groter risiko’s inhou. Om ’n kateter in die slagaarstelsel te plaas is dikwels die enigste manier waarop blokkasies in die kroonslagare sigbaar word,” verduidelik hy. “Soos dit seker in jou pa se geval ook gebeur het, werk ons gewoonlik deur die slagaar in die lies. Die kateter word met die hulp van x-strale gelei tot binne die mond van die kroonslagare waar dit uit die aorta kom. ’n Kleurstof word dan ingespuit wat die teenwoordigheid van ’n blokkasie duidelik uitwys.”

“En wanneer die kleurstof deur die are gaan, ervaar die pasiënt ’n warm gloed in die lyf,” vul sy aan.

Sy onthou haar pa se naakte vrees. “Dit voel of ek doodgaan,” het hy geprewel en vreesbevange na haar hand gegryp.

“Rustig nou, oupatjie,” het die verpleegsuster hom probeer kalmeer, maar hy wou nie gekalmeer word nie.

“Ek is niemand se oupatjie nie,” het hy kapsie gemaak, en Jenna het gehoop dat daar genoeg veglus in hom oor was om die doodsengel weg te jaag. Maar sy kon nie seker wees nie. Die hele ervaring was vir hom ’n nagmerrie – en vir haar. Wat deur die dokters en verpleegkundiges as blote roetine afgemaak is, was allesbehalwe dit.

“Ek weet wat gebeur as ’n mens ’n slapende hond met ’n stok in die ribbes steek,” het haar pa probeer keer toe daar vir hom verduidelik is hoe ’n angiogram gedoen word. “Nou wil julle dit met my hart ook doen. Dis moeilikheid soek, dis wat dit is.”

En dit was. Sy glo vas haar pa se gesondheid het daardie dag ’n terugslag gekry.

“Ook kan die kleurstof nadelige gevolge vir die niere inhou,” merk sy sugtend op.

Sy onthou die liters water wat haar pa ná die tyd moes drink om van die kleurstof in sy are ontslae te raak. Sy onthou hoe sy hom aangemoedig het om dit te doen terwyl hy plat op sy rug lê, hoe sy die strooitjie by sy mond gehou het. Sy onthou die ongemak, die opstand in hom en hoe hy na haar gekyk het asof sy skuld daaraan gedra het. Toe al het sy persoonlikheid verander en was hy nie meer die man wat haar as kind op sy skouers gedra het nie.

“Koronêre angiografie is nog nie vervolmaak nie,” gee Luca de Wet toe. “Maar dit het al baie mense se lewenskwaliteit verbeter wanneer ’n ballonnetjie die opbou van plaak in die are teen die wande terugdruk, of wanneer ’n stent ingeplaas word om dit so te hou.”

Dis wat deesdae gedoen word, sy weet. Stente word links en regs ingeplant. Sonder dat die ontvangers daarvan behoorlik ingelig word oor die gevare daaraan verbonde.

Sy weet sommer iemand soos Luca de Wet sal nie erken dat die mediese professie nog lank nie al die wysheid in pag het nie. Hy dra ’n sweem van arrogansie met hom saam en lag heel moontlik vir haar beperkte kennis in dié verband.

“As ons natuurlik nie ’n verstopping in die are van die pasiënt met ’n ballonnetjie of ’n stent kan regstel nie, moet ons ongelukkig ’n hartomleiding doen.”

Sy hou haar hande afwerend voor haar uit. “Oor ’n hartomleiding wil ek niks hoor nie! Dít sal ek letterlik net oor my dooie liggaam toelaat.”

Hy kyk haar vraend aan. “Jy voel baie sterk hieroor, nè?”

“Ja, en met goeie rede wat nie nou ter sake is nie.”

“Wel, Jenna, die kanse dat jy enige van hierdie behandelings hoef te kry, is uiters skraal. Maar selfs al sou dit moet gebeur, bevind jy jou by een van die beste hospitale in die land daarvoor, indien nie dié beste nie. By die kardiologie-afdeling is daar 24-uur-toegang tot angiogramfasiliteite, en ons gebruik van die nuutste kateterisasietegnologie ter wêreld. Ons intensiewe-sorgeenheid by kardiologie word beman deur hoogs gekwalifiseerde personeel, en ons bied ’n kardiale rehabilitasieprogram onder leiding van Amanda van der Merwe, ’n opgeleide biokinetikus wat beurtelings hier en by die Hartkliniek in Blouberg diens doen. Elkeen van die kardioloë hier het ten minste vyf jaar ondervinding. En ons het ons eie elektro-kardiofisioloog, een van net ’n paar in die land.”

“Jy moes ’n verkoopsman geword het, dokter,” probeer sy spot. “Jy sal sand aan die Boesmans in die Kalahari kan verkoop.”

“Dis nie nodig dat ek ons fasiliteite verkoop nie, Jenna. Die suksesse wat ons hier behaal, spreek vir hulleself.”

Met hierdie man se selfbeeld skort daar niks, hoor sy weer.

“Ek gee nie om of julle die beste in die wêreld is nie,” waarsku sy nogtans. “ ’n Hartomleiding laat baie beursies bult, maar dis nie altyd die beste vir die arme ou wat op die operasietafel lê nie.”

“En as dit ’n saak van lewe en dood is?”

“Dan is dit nog nie te sê ’n hartomleiding gaan iemand langer laat leef nie.”

“Wat laat jou so dink?”

Jenna sluk. Sy waag dit om ’n spesialis op die gebied van kardiologie aan te vat, sy wat haar lewe maak uit syfertjies rangskik totdat dit ’n wins wys en wat van die mediese wetenskap net weet wat sy aan eie bas gevoel het.

“Ek weet daar word jaarliks duisende hartomleidingsoperasies gedoen, maar soos ek dit verstaan, word dit hoofsaaklik gedoen om pyn te verlig. Net ’n klein persentasie lewens word werklik daardeur verleng.”

Hy kyk na haar met ’n frons op sy hoë voorkop.

“Ek gee toe dis nie maklik om so iets te bepaal nie en statistiek is nie altyd betroubaar nie, maar –”

“As jy statistiek wil praat, kan ek jou ook ’n paar getalle voor die kop gooi, hoor,” onderbreek hy haar. “Die moderne mens se eetgewoontes en hele leefwyse werk hartaanvalle in die hand. Die moderne mens skarrel soos ’n malmier rond terwyl evolusie nog nie die werking van ons harte verander het om hierdie frenetiese pas vol te hou nie.”

Hy beduie met die hande in die lug en sy stem dawer. Jenna skrik. Sy verwag amper dat die ontvangsdame of iemand hier ingestorm sal kom om te kyk wat sy met die dokter aanvang om hom so opgewonde te kry.

“Die hart is ’n wonderlike orgaan, Jenna.” Sy stem draal, raak minder bombasties. “Dit hou aan met klop vandat dit in die baarmoeder begin het totdat jy die dag jou laaste asem uitblaas. In my loopbaan kry ek gereeld te doen met babas wat met ’n hartdefek gebore word en dadelik behandeling of chirurgie nodig het om te oorleef, maar die meeste ander mense leef sewentig, tagtig jaar lank sonder om werklik aandag te gee aan die hart wat so geduldig in hul borskas klop. Sekonde na sekonde ...”

Dit klink asof hy ’n gedig voordra, soveel passie, soveel gevoel is daar in sy stem, dink sy verstom.

Dan verander sy stemtoon. “Tog sal een uit elke drie Westerse mans en een uit elke vier Westerse vroue in Suid-Afrika voor hulle sestigste verjaarsdag ’n hartaanval kry. Elke jaar word sowat vyftigduisend Suid-Afrikaners hierdeur getref. ’n Kwart van hulle, met ander woorde omtrent twaalfduisend, sterf onmiddellik.”

Jenna se hart raak soos ’n blok ys in haar borskas.

“Dis skrikwekkend, ek weet,” sê sy nogtans, “maar ek weet ook daar is baie mense en instansies wat hierdie mode-operasie van die eeu begin bevraagteken.”

Hy draai sy kop skuins. “Lyk my die meisie was ure lank op die internet.”

Hy kan maar spot as hy wil. Sy het nie al haar kennis tweedehands uit die kuberruim gekry nie. Sy was daar toe haar pa by die teater ingestoot is vir sy hartomleiding, en sy was daar toe hy ure later uitgestoot is. Sy’t gesien wat ’n hartoperasie aan iemand kan doen.

“Ek weet dokters haat gewoonlik die internet omdat hulle baie pasiënte daardeur verloor. Maar die internet help om die sogenaamde ‘geheime’ van die mediese professie vir die man en vrou op straat te ontsluit.”

Sy teken die aanhalingstekens met haar vingers in die lug en glimlag op haar mooiste vir hom. Sy wil Luca de Wet nie werklik kwaad maak nie, hom net laat verstaan dat sy haar nie aan die neus sal laat lei nie.

“Daar is niks so gevaarlik soos ’n leek wat glo hy ken al die antwoorde op ’n sekere gebied nie, Jenna. Kardiologie is my veld, dis waarin ek jare lank studeer het en steeds navorsing oor doen, omdat daar altyd nuwe ontdekkings gemaak word. Dis ook die passie in my lewe en ek probeer altyd om nie my pasiënte, of die ouers van my jong pasiënte, te mislei oor die uitkoms van ’n operasie nie.”

Daar’s ’n wit kring om sy mond toe hy na haar kyk.

Sy skrik. Wie weet, miskien is sy verkeerd oor hierdie man se motiewe.

“Ek gee toe hartomleidings het amper ’n statussimbool geword,” laat hoor hy nadenkend en sy streng mond ontspan effens. “Die ouens by die gholfklub spog nogal onder mekaar daaroor.”

“ ’n Dubbele hartomleiding is lankal nie meer genoeg om indruk te maak nie,” spot sy saam. “Hoe meer bloedvate van jou voor die omleiding verstop was, hoe meer is jy in tel.”

Hy staan op. “Kom ons doen nou gou eers die EKG. Sodra die uitslae bekend is, kom jy terug na my toe, dan gesels ons verder.”

Jenna lê soos ’n ysblok met haar arms styf langs haar sye terwyl die tegnoloog die EKG doen. Hy’s vol grappies en probeer om haar op haar gemak te stel, maar sy is hopeloos te gespanne om sy vriendelikheid te waardeer.

“So ja,” sê hy na ’n rukkie. “Nou nog net jou op die trapmeul kry.”

“Ek is nie besonder fiks nie,” vra sy vroegtydig verskoning.

“Dis nie ’n kompetisie nie. Eintlik wil ons net sien hoe reageer jou hart wanneer daar meer van hom gevra word as wat normaalweg die geval is.”

Sy voel ellendig. Haar hare hang in haar oë en die japon is heeltemal oopgeknoop om plek te maak vir die drade wat aan haar borskas geheg is.

“Gee vir ons lekker groot treë,” vra die tegnoloog toe hy die trapmeul aanskakel en die ding onder haar voete begin beweeg.

Aanvanklik het sy geen probleme nie, sy stap soos sy dit normaalweg sou doen, behalwe dat haar skootrekenaar nie in haar linkerhand is nie en haar sware skouersak nie oor haar regterskouer hang nie. Ook trippel sy nie op hoëhakskoene rond nie.

Maar iewers langs die pad raak die opdraand te veel vir haar. Sy sug ’n slag diep en laat sak haar kop ’n aks laer.

Sommer gou voel sy die sweet op haar voorkop uitslaan en hoe haar bene lam word. Sy haal diep asem, vies vir haarself omdat sy so gou moeg word. Met ’n ongeduldige haal van haar hand vee sy die sweet uit haar oë.

Toe die deur oopgestoot word, gryp sy vervaard na die gapende japon, maar moet toe net so gou weer laat los om haar balans te behou. Dis hy! Dis Luca de Wet wat ingestap kom en belangstellend na haar kyk terwyl sy soos ’n moeë os voortbeur op die trapmeul. Skielik is daar lood in haar voete, soveel so dat sy beswaarlik haar linkervoet voor haar regtervoet kan sit.

“Ek ...” hyg sy. “Ek ... ek is taamlik moeg.”

“Nog net ’n paar minute,” moedig die tegnoloog haar aan.

’n Paar minute kan ’n ewigheid duur. Sy slaag slegs met die uiterste wilskrag daarin om nie soos ’n lappop op haar knieë op die trapmeul te beland nie.

“So ja, dis genoeg,” hoor sy Luca de Wet se stem deur die newels wat om haar vou. “Nou klop jou hart soos ’n Russiese balletdanser s’n in volle vaart. Dis pragtig! Kom lê nou weer sodat ons kan sien hoe lank dit jou vat om te herstel.”

Sy hyg na asem en wonder of sy die ondersoektafel sal haal. Daar word onderling gepraat oor wat die twee mansmense alles op haar EKG waarneem, maar sy is te moeg om te probeer afluister. Een ding weet sy: hulle kry haar nie weer op daardie trapmeul nie! Sy sug verlig toe hulle by die deur uit is. Nou kan sy in privaatheid lê en sleg lyk.

Sy is doodbenoud toe sy kort daarna, ten volle geklee, by Luca moet aanmeld soos ’n kind wat na die skoolhoof se kantoor ontbied is. Wat sou sy bevinding wees? wonder sy bang.

“Daar is op die oog af nie rede om bekommerd te wees oor jou hart nie, Jenna,” word sy genadiglik gerusgestel. “Maar ek stel tog voor dat jy voorsorg tref om dit so te hou.” Sy stem raak streng. “Dit sluit in ’n verandering van leefstyl. As jy saamwerk en jou sondige plesiertjies laat staan, behoort dit op hierdie stadium nie nodig te wees om vir jou medikasie voor te skryf nie.”

Haar ore suis. Alles wat sy hoor, klink na goeie nuus. Haar gemoed lig. Vir ’n oomblik voel dit vir haar of sy aan die huppel kan gaan. Of vir Amore om die nek kan gaan val. Of sommer die dokter op sy mond kan soen. Of selfs die tegnoloog, wat ook nie te onaardig is nie. Of net verspot kan uitbars van die lag. Of teen die trapreling kan afseil ondertoe.

“Ja, dokter. Goed, dokter,” antwoord sy gehoorsaam.

Enigiets om net hier weg te kom!

“Dankie, dokter,” sê sy vir oulaas en gryp haar handsak. “Totsiens, dokter.”

En daarmee is sy by die deur uit.

Kristel Loots-omnibus 1

Подняться наверх