Читать книгу Kristel Loots-omnibus 1 - Kristel Loots - Страница 4

Оглавление

1

Dokter Luca de Wet, lees Jenna op die muurbord by die ingang na die mediese sentrum. Kardioloog. Kamer 320.

Nogal ’n fênsie naam, dink sy. Italiaans, as sy dit nie mis het nie. Lekker pretensieus ook, pas nie by sy Boeregeneraal-van nie.

“Luca,” prewel sy. Daar’s ’n sagte klank aan, ’n strelende vioolnoot gevolg deur ’n besliste staccato akkoord. Sy wonder hoe lyk dié nommer – seker ’n bleeksiel met ’n bril, wat leef van spinasie, knoffel en uie sodat daar nie ’n krieseltjie cholesterol in sy are kan aanpak nie.

Sy wíl nie na dokter Luca de Wet, befaamde kardioloog in kamer 320, gaan nie; sy wil nie hê hy moet in haar hart probeer kyk wat daar aangaan nie. Sy kan hom die moeite spaar.

“My hart,” sou sy vir hom kon sê as hy haar sou vra, “is gebreek. Flenters! In skerwe! My hart is ’n bouval en die stukke wat nog daar rondlê, het vlymskerp kante. Hou jou daaruit as jy weet wat goed is vir jou.”

Maar natuurlik het sy nie ’n keuse nie. As jy vir Koekemoer Internasionaal werk, hou jy jou mond en dans na hul pype.

“Koekemoer Internasionaal?” het sy laggend gevra toe Adam haar die eerste keer aangemoedig het om vir ’n pos daar aansoek te doen. “Is jy seker? Hoe op aarde bied ’n mens jou dienste wêreldwyd aan as jy jou firma Koekemoer Internasionaal noem? Niemand sal jou ernstig opneem nie!”

“Bite your tongue, doll,” het hy gewaarsku. “Moenie dat onse Koos Koekemoer jou so hoor praat oor die naam van roem en faam nie. Die ou het ’n chip op sy skouer daaroor. His name is his claim to fame, my dear, en hy stel dit graag oor die aardbol bekend.”

Sedertdien het sy al meer as een keer in haar mou gelag wanneer sy hoor hoe oorsese tonge oor dié Afrikaanse naam struikel. Maar sy spot nie meer daarmee nie, daarvoor betaal Koekemoer Internasionaal haar hopeloos te goed. Dan maar maak soos hulle sê, al is dit ook om ’n draai by ’n kardioloog te maak voordat die septer in haar guns geswaai kan word.

Sy was glo vreeslik gelukkig om ’n afspraak by dokter De Wet te kry. As sy reg verstaan het, is dié vermaarde dokter in die eerste plek ’n pediatriese hartchirurg wat kan spog met ’n hele spul suksesse op daardie gebied. Sy volwasse pasiënte pas hy net op sekere dae van die week in. Dokter Luca de Wet het duidelik voor in die ry gestaan toe talente uitgedeel is, besluit Jenna. Gebore met ’n silwer lepel in die mond.

Sy sug toe sy op die derde vloer uit die hysbak stap.

“Dokter De Wet is ’n dierbare man,” het haar pa se buurvrou, tannie Ralie Rademan, haar verseker toe sy hom aanbeveel het. “Hy behandel jou met waardigheid en hy vra nie uit oor jou gewig nie. Ander dokters laat jou op die skaal klim en kla dan vreeslik oor jy te vet is. Laat jou skoon simpel voel. Wat verwag hulle miskien? Ek is al ’n vrou in my jare. Ek kan nie meer ’n jongmeisielyf hê nie.”

Haar stem het versuiker. “Maar nie dokter De Wet nie. Nee, hy vat nie nonsens nie, hy ondersoek jou en hy boek jou in vir jou operasie en dis al.”

Jenna raak sommer weer kriewelrig toe sy aan die gesprek dink. Behalwe vir die arme ongelukkige babas en die kinders met hartprobleme wat deur dokter De Wet behandel word, is dit ou vroue soos tannie Rademan wat by hom, of enige ander kardioloog, behoort aan te klop. Tannies met vals tande, pers hare en blou spatare, nie meisies soos sy wat nog in haar prille jeug is nie. Wel, so half en half in elk geval ...

Die spreekkamer lyk soos iets uit House & Home, sien sy die oomblik toe sy instap. Persiese matte, skilderye van serene tonele teen die mure, meubels met krulle en draaie, en glanstydskrifte wat normale mense nooit koop nie omdat dit te duur is. Selfs die Gideons-Bybeltjie wat op die houttafeltjie in die hoek lê, het ’n leeroortreksel, sien sy.

Jenna skrik effens toe sy die ontvangsdame agter die toonbank sien sit. Goeie genade, die vrou is nie oorgewig nie, sy’s kolossaal! Vet, vreeslik vet! Haar ogies verdwyn feitlik bo haar bolwange en haar boude hang ver oor die kante van die stoel waarop sy sit.

“Goeiemôre. Kan ek help?” vra sy saaklik.

“Asseblief, ja. My naam is Jenna Joubert. Ek is hier om dokter De Wet te spreek.”

“Ek is Amore van der Walt,” sê die vrou vriendelik genoeg. “Aangename kennis.”

Jenna knik met die kop, te stomgeslaan om te antwoord. As daar ooit iemand was wie se naam nie by haar voorkoms pas nie, is dit hierdie vrou met die tentrok en die mosbolletjievoete wat by haar swart hoëhakskoene uitrys.

Behalwe miskien Adam, dink Jenna met ’n giggel wat sy gou onderdruk. Hy wat, sy oernaam ten spyt, beswaarlik beskryf kan word as ’n macho man wat ’n leeu met sy kaal hande kan aanpak as dit die dag nodig sou raak.

Die vrou skuif ’n ronderaambrilletjie oor haar neus en kyk in die afspraakboek. “Dis reg, ja. Jou afspraak is vir tienuur, maar dokter loop ’n bietjie laat. Hy moes ’n noodoperasie doen. Sies tog, een van sy pasiënte het ’n hartaanval gehad.”

Jenna wil nie hoor van hartaanvalle nie. Sy ken die verskrikking wat daarmee saamgaan. Die bleekwit gelaat, die pyntrek, die gehyg na asem, die inmekaarsak. Sy ken die vrees, die afwagting, die koue asem van die doodsengel ...

Sy ril. As een van dokter De Wet se pasiënte ’n hartaanval gehad het, wat sê dit van hom as dokter? En van sy behandeling?

Die ontvangsdame stoot ’n vorm in Jenna se rigting. “Sal jy dit vir ons invul en onderteken, asseblief?”

“Ek maak so.”

Sy neem die vorm gelate by Amore. Wegkomkans is daar nie meer nie.

Hierdie dokter De Wet is iemand wat slim sakeskuiwe maak, of haar naam is nie Jenna Joubert, ervare sake-analis, nie. Om iemand soos Amore van der Walt die poorte na sy spreekkamer te laat bewaak, is om die hart te wen van elke vrou wat haar voet oor die drumpel sit. Vroue met hartprobleme het gewoonlik ook gewigsprobleme, maar wanneer hulle verdwerg word deur die formidabele figuur van hierdie amasone, voel hulle natuurlik dadelik tuis en selfs beter oor hulleself.

En dan, volgens tannie Rademan, kla hy ook nie oor hul gewig nie. Slim man! Weet beslis iets van sielkunde af. Kry die vroue om uit sy hand te eet en lag al die pad bank toe.

Geen wonder hy kan sulke duur Persiese matte in sy spreekkamer bekostig nie. Sy pasiënte se mediese fonds betaal seker vir nog ’n paar ander luukshede ook. Gelukkig word Koekemoer Internasionaal se werknemers deur ’n uitstekende mediese fonds gedek, want as sy uit háár sak vir hierdie ondersoek moes betaal, sou die pil eens so bitter wees om te sluk.

Sy gaan sit op ’n stoel in die hoek met die vorm op haar skoot. Eers vul sy haar volle naam in: Jenna Gertruida Engelina Joubert. Is sy ’n mevrou, ’n mejuffrou, ’n dokter of ’n professor? wil die vorm weet. Jenna snork innerlik. Sy’s ’n mejuffrou! Enkellopend en alleen. Nie uit vrye keuse nie, maar omdat daar blykbaar iets in haar is wat van haar so ’n gerieflike vloermat maak dat mans nie anders kan as om hul vuil voete aan haar af te vee nie.

Die ergernis stoot opnuut in haar op. Nie goed vir die hart nie, sy weet. As dokter De Wet nóú haar bloeddruk moet neem, gaan hy skrik. Maar sy worstel nog elke dag met die woede in haar.

My trourok was al gemaak en aan die lyf. Kraletjies by die duisende, valletjies en kant, spesiaal in Suid-Afrika ontwerp, dêmmit! wil sy uitroep. My gastelys opgestel. My drome vir die toekoms omraam. Ek was ready, able and willing om ’n mevrou te word toe daar ’n Brutus-aanval op my gemaak is, toe ’n mes in my rug beland het.

Haar hand bewe, maar sy vul haar woonadres in, die adres van haar werkgewer, Koekemoer Internasionaal se telefoonnommer, haar eie landlynnommer, haar selfoonnommer, faksnommer, identiteitsnommer, mediesefondsnommer. Sommer ’n nommer, dink sy bitterbek. Ek is sommer ’n nommer.

Behalwe miskien vir my pa – vir hom is ek ’n anker in ’n stormsee. Net jammer ek wil sélf soms vergaan as die stormwaters oor my slaan.

Sy hoor ’n manstem met Amore praat. Dis ’n diep stem, ’n basstem, die stem van ’n man wie se woord wet is.

“Het jy vir mevrou Bekker gereël vir ’n angiogram Maandag?” wil hy weet.

“Ja, dokter,” reageer Amore gedwee.

“En bevestiging gekry dat die teater beskikbaar sal wees?”

“Nee, dokter. Nog nie.”

“Nou doen dit dan asseblief so gou moontlik.”

“Goed, dokter.”

Aarde tog, al wat nou nog nodig is, is dat Amore Watsenaam met daardie logge liggaam van haar opstaan en ’n kniebuiging voor die man maak, dink Jenna.

Sy kyk van die vorm af op om te sien hoe lyk die wese wat so ’n uitwerking op sy ontvangsdame het.

Mmm, dan is dít nou die befaamde dokter De Wet. Sjoe, waar bevind ek my? In die land van die reuse? wonder sy toe sy die man se imposante gestalte waarneem. Hierdie man met sy donker hare en koninklike profiel hét heel moontlik Italiaanse bloed van sy voorsate geërf, maar hy leef beslis nie op ’n paar verlepte slaaiblare, afgeroomde melk en ’n huisie knoffel nie. ’n Saul-gestalte wat kop en skouers bo die gemiddelde man sal uitstaan. En so gepraat van skouers ... dié man se skof sal ’n paar sakke koring kan dra. Hy sal ’n vrou ook oor sy skouer kan gooi om haar slaapkamer toe te dra, kom maak ’n onwelkome gedagte nes in haar.

Jenna skud haar kop. Sy verstaan nie die rou emosies en verspotte fantasieë wat deesdae so uit die bloute by haar opkom nie. Sy behoort so hatig teenoor mans te wees dat sy die spesie in sy geheel wil verdelg. En sy ís ook! Maar die geheime begeertes van enige warmbloedige vrou kom foeter tog van tyd tot tyd in haar gedagtes.

Toe die dokter weer in die binnekamers verdwyn om te doen wat hy ook al daar met sy pasiënte doen, gaan gee sy die vorm vir Amore. Hierdie keer kies sy ’n ander stoel om op te sit sodat sy die res van die wagtende mense om haar kan bekyk.

Nes sy gedink het. ’n Paar oues van dae wat seker pille by die hand vol moet sluk om hul harte aan die klop te hou, ’n taamlik verpiepte vroutjie met vrees in haar oë en ’n hygende man met ’n pens wat op sy knieë hang en wat senuagtig voel-voel na die pakkie sigarette in sy bosak.

Ek weet hoe voel hy, ek weet ook hoe voel die vreesbevange vroutjie, dink Jenna. Ek wil ook nie hier wees nie. Ek kan nie dink dat daar regtig fout is met my hart nie, maar die twyfel is altyd daar. Sit soos die duiwel self op jou skouer en fluister allerhande bangmaakgoed in jou oor. Steel die stukkie lewensvreugde waaraan jy nog probeer vasklou om te sorg dat jy nie aldag met ’n dikbek rondloop nie.

Daar is selletjies in die hart wat in voorkoms en werking ooreenstem met breinselle, het sy iewers gelees. Daarom kan die hart nooit net as ’n pomp beskou word nie. Elke emosie, elke gevoel wat by jou opkom, het ’n direkte invloed op die hart. Sy weet nie hoe wetenskaplik hierdie waarnemings is nie, maar sy weet wat sy aan eie lyf voel. Sy weet van die bokspronge wat haar hart kan maak, sy ken die gevoel wanneer haar hart met haar wil weghardloop, en bowenal weet sy hoe voel ’n hart wat deur die wrede voete van ’n man vertrap is.

Die hygende man word volgende ingeroep, en ook vir hom moet daar ’n angiogram gereël word. Maar toe dokter De Wet selfs die verpiepte vroutjie vir ’n angiogram stuur, begin Jenna ongemaklik rondskuif. Wat het ons hier? wonder sy. ’n Worsmasjien? ’n Maklike manier van geldmaak? So ’n angiogram bring seker ’n hele paar duisend rand in vir ’n hospitaal, en die doktertjie se sak bult heel moontlik ook wanneer hy daar wegstap.

Enigiemand met ore aan die kop kan hoor dat daar groot fout is met die sigaretroker. Geen hart kan klopdisselboom werk teen ’n oormag soos daardie nie. Maar die maer vroutjie wat lyk of sy uit ’n konsentrasiekamp ontsnap het? Sy is tog nie jou stereotiepe hartlyer nie, of hoe? Dit wil al vir Jenna begin lyk asof ’n patroon hier gevolg word waarvan sy nie deel wil wees nie.

Sy kyk verlangend na die deur. Wat sal gebeur as sy haar handsak gryp en daar uitstap? Hoe sal sy vir Koos verduidelik waarom sy die hasepad gekies het? Hoe sal sy dit regkry om vir Koekemoer Internasionaal te werk sonder om die stempel van goedkeuring te kry wat haar kwalifiseer om dit te doen?

Tot dusver het die dokter skaars in haar rigting gekyk. Nou stap hy met haar nuut geskepte lêer in sy hand op haar af en steek sy regterhand na haar toe uit.

“Goeiemôre Jenna,” groet hy ewe eie. “Die naam is Luca. Luca de Wet. Aangename kennis.”

“Môre, dokter,” groet sy terug.

Sy weet nie of dit so aangenaam gaan wees om hom te leer ken nie en sy wil nie ’n moordkuil van haar hart maak nie. Sy wil so gou moontlik deur die ritueel gaan en hier wegkom. Vir ’n valse sosiale voetjie-voetjie-spelery sien sy nie kans nie.

“Stap maar deur, Jenna,” nooi hy. “En noem my sommer Luca.”

“Luca.” Sy proe die naam in haar mond, maar sy doen dit sag.

Onhoorbaar sag, hoop sy. Daar is iets so intens strelend aan die klank, so opwindend trillend dat sy dit vir ’n oomblik oorweeg om hom so te noem. Luca, o Luca! praat die stem in haar wat haar deesdae op die onmoontlikste tye en plekke fantasieë laat optower. Hoe moet dit wees om sy naam in ekstase uit te roep? wonder sy.

Dan ruk sy haar reg. Sy’s seksueel gefrustreerd, sy weet. Haar lyf het reggemaak vir passievolle nagte in die arms van ’n man, maar die wortel is voor haar neus weggeraap voordat sy daaraan kon smul. Dis hoekom haar gedagtes haar deesdae in die steek laat, dis dié dat sy drome droom en gesigte sien wat ’n streng ouderdomsbeperking behoort te hê. Sy skaam haar!

’n Mens mag tog nie sulke gedagtes oor jou kardioloog koester nie. Dis siek! Ook nie oor jou apteker of jou predikant nie. Of oor die oulike getroude diaken wat anderdag by haar kom kollekteer het nie. Daar is grense aan die fantasieë wat jy in jou kop mag toelaat.

Hierdie mense is daar om jou siel en jou liggaam gesond te hou, herinner sy haarself. Jou gees ook! Sodat jy sal weet waar om die streep te trek en juis nié sal dink hulle is flippen sexy nie. Nie eens wanneer hulle spog met ’n stewige agterstewe soos die een wat tans voor haar uitloop nie.

“Dankie, dokter,” prewel sy, maar sy kan nie meer mooi onthou waarvoor sy veronderstel is om dankie te sê nie.

Hou jou kop bymekaar, Jenna Joubert, baklei sy met haarself. Hou die vlag hoog en gedra jou.

Dokter De Wet moenie dink sy’s ’n paloeka nie. Hulle het miskien nie uit dieselfde boeke gestudeer nie, maar sy weet sélf iets van sielkunde af, al is dit nou bedryfsielkunde. Die beginsel bly dieselfde: noem ’n persoon op sy naam, so dikwels as wat jy kan. Só vestig jy ’n vertrouensverhouding met hom of haar.

Wel, jammer vir hierdie doktertjie, maar sý gaan nie daarvoor val nie. Sy verkies dat hul onderonsie so formeel as moontlik bly. Sy bloos by voorbaat as sy daaraan dink dat hierdie man haar gaan ondersoek, dele van haar lyf gaan sien wat tot dusver nog net vir ’n handjie vol uitgesoekte mans se oë beskikbaar was.

Hy wys met die hand na die stoel voor sy lessenaar. “Sit gerus,” nooi hy. “En vertel my waarom iemand met ’n gesonde blos op die wange soos jy hier by my kom aanklop.”

O, hy gebruik die heuningkwas in oormaat, maar nie baie kundig nie, dink Jenna beterweterig. Om haar te laat verstaan sy’t ’n gesonde blos op die wange kan hom later suur bekom as hy haar dalk wil oortuig dat sy siek genoeg is vir behandeling. En dan? Wat word dan van sy geldmaakfoefies?

“Ek is hier omdat my werkgewer dit van my verwag.”

“Werkgewers is gewoonlik tevrede met ’n standaard- doktersondersoek. Daar moet ’n rede wees waarom jy na ’n kardioloog verwys is.”

“Daar is. Ek werk vir Koekemoer Internasionaal.”

“Koekemoer Internasionaal? Die sakekonsultante? Werk jy vir ou Koos?”

Jenna knik. Dít ook nog! Hulle ken mekaar – hierdie man en Koos Koekemoer. Sy sal dus nie met halwe waarhede kan wegkom as dit dalk nodig raak nie.

“Ons speel Woensdae saam gholf,” verduidelik hy. “Koos werk hard en hy speel net so hard. En soos ek verstaan, verwag hy ook van sy personeel om hul kant te bring.”

“Ja, en ons werk gaan met heelwat stres gepaard. Twee van my kollegas het onlangs hartaanvalle gehad.”

“Ek weet daarvan, Koos het my vertel. Tragiese gevalle. Jong manne nog, in die fleur van hul lewe. Gelukkig het hulle dit oorleef, maar daar is helaas skade aan hul harte. Dis altyd beter om so iets te voorkom as om dit agterna te probeer regstel.”

“Dis hoekom ek hier is – meneer Koekemoer se bevel. Ek is pas terug van Londen, waar ek twee jaar lank gewerk het.” En deur ’n man misbruik is, sou sy kon byvoeg. Maar sy ploeg dapper voort: “My kontrak het verstryk, en voordat meneer Koekemoer bereid is om dit te hernu, wil hy weet dat ek gesond is.”

Wel, dink sy, ten minste na liggaam gesond is. Wat in my kop en hart aangaan, kan hom nie regtig skeel nie. Solank ek Koekemoer Internasionaal se stinkryk kliënte tevrede stel en nie langs die pad die emmer skop nie, is hy tevrede. Dis ’n oerwoud daar buite en Koos Koekemoer van Koekemoer Internasionaal is nie meer of minder genadig as die sakemanne wat die miljoene versamel nie – dikwels ten koste van hul werknemers.

“Het jy dan ’n familiegeskiedenis van hartprobleme?” vra hy.

Sy wil nie daardie vraag beantwoord nie. “Meneer Koekemoer vereis van al sy werknemers om ’n kardioloog te besoek wanneer hul nuwe kontrakte ter sprake kom. Dis die beleid by die maatskappy vandat die twee ouens hartaanvalle gehad het.”

Sy wenkbroue boog vraend toe hy na haar kyk. “Dit beantwoord nog nie my vraag nie.”

“Ek wil graag ’n objektiewe opinie hê,” keer sy. “Nie een wat gekleur word deur vooroordeel weens die gene wat ek dra nie.”

Sy voel hoe haar wange warm word, maar sy’s moeg daarvan om op die sondes en die siektes van haar voorgeslagte veroordeel te word. Sy wil nie gedurig aangekyk word asof sy ook in haar spore gaan neersak nie. Dood soos ’n mossie soos haar ouma aan vaderskant toe sy op ’n lieflike lentedag gaan blomme pluk het. Of soos haar oom en sy seun wat al twee ná ’n nag se gerinkink in hul slaap oorlede is. Of soos nog ’n klomp Jouberts wat deur hartprobleme platgetrek is. Of soos haar pa ...

“Dis natuurlik ’n erkende risiko wat ’n mens loop om hartprobleme te hê. Jou gene, jou familiegeskiedenis. En daaraan kan jy nie veel doen nie.”

Vertel my iets wat ek nie weet nie, wil sy vir hom sê. Dis hoekom my pa en ma my so opgepiep het. Maar toe ek uit die huis is en vir Koekemoer Internasionaal begin werk het, was daar geen genade vir my nie. Ek moes inval by die res of ek moes my goed pak en loop. Vir swakkelinge na liggaam of gees is daar nie plek in die korporatiewe wêreld nie. Dis vir aanhou en uithou, dis vir uithaal en wys wat in jou steek.

“Hoe lyk dit, rook jy?”

Sy’t verwag hy sou dié vrae vra, dat hy so sou probeer bepaal wat haar risiko vir ’n hartaanval is, maar sy vererg haar tog daarvoor. Kan die man nie net na haar hart luister en haar dan met ’n geruste gemoed wegstuur nie? Dis tog duidelik dat sy jonk en gesond is, dan nie? Wat ook al in haar gene skuil, dis anderdag se probleme. Anderdag wanneer sy oud en gedaan is. Sy wil nie nou al voel asof sy ’n toets skryf ... en hopeloos daarin vaar nie.

“Nie ... nie meer nie,” erken sy stamelend.

“Maar jy het?” Hy kyk na haar asof sy al sewe doodsondes gepleeg het.

“In my studentedae, ja. Lankal nie meer nie.”

Behalwe ... behalwe in uitsonderlike gevalle, behalwe wanneer die lewe haar só druk dat doodgaan nie na so ’n slegte uitkoms lyk nie. Behalwe wanneer sy soos ’n weggooiding behandel word, wanneer haar hart gebreek of haar lewenslus geblus word. Maar dit hoef hy nie te weet nie.

“Ek is bly om dit te hoor,” sê hy. “Rokers se risiko om hartaanvalle te kry is hoog. Veral as hulle ook hoë bloeddruk en cholesterol het.”

Sy wil nie raai wat haar bloeddruk is nie. Sy kan haar deesdae so vererg dat sy self daarvoor skrik.

Eintlik hou sy deesdae nie baie van mense in die algemeen nie. Die enigste probleem is dat sy nie op ’n eiland woon nie en dus noodgedwonge met hulle moet klaarkom.

Kristel Loots-omnibus 1

Подняться наверх