Читать книгу Kristel Loots-omnibus 1 - Kristel Loots - Страница 7

Оглавление

4

Jenna geniet nie die res van die aand nie. Elke keer wat sy en Adam dans, voel dit vir haar of Luca se blik in haar nek inboor. Dalk verbeel sy haar. Waarom sal hy dit doen? Hy’s terug by sy tafel, waar hy oorkant Amanda van der Merwe sit en langsaam aan sy drankie teug. Wat hom ook al genoop het om haar te soen, is nou uit sy gestel.

Teen middernag loop die danssaal leeg. “Dis after all nou Sondag,” herinner Adam haar. “En ’n mens dans nie op ’n Sondag as jy in ’n Calvinistiese huis grootgeword het nie.”

“Wel, dit pas my. My voete is gedaan.”

Op pad motor toe gaan staan sy eers stil om haar silwer hoëhaksandale uit te trek. Die gruisklippertjies steek seer in haar voete, maar sy probeer van graspol tot graspol spring.

Toe hulle by die motor kom, gee Adam ’n gilletjie. “Oh no!” Hy slaan sy hand oor sy mond. “Wat doen ek nou?” Hy trek sy asem in. “Oh no, oh no, oh no!”

“Wat nou weer? Wat’s fout, ou drama queen?” wil sy weet.

“Jy moenie nog spot nie, doll. Kyk! Kyk daar!” Hy beduie met ’n gemanikuurde wysvinger. “Flat tyre! Dis ’n disaster. Kyk!” Hy gooi sy hande in die lug. “Oh gosh! What to do, what to do?”

Jenna sal nie normaalweg weet hoe lyk ’n pap wiel nie, maar hierdie een is tot op die staalrand afgeblaas. “Jy sal die wiel moet omruil, Adam. Dis net logies. Wat anders?”

“Wie? Ek? Jy joke seker!”

“Wel, ék gaan dit nie doen nie. Ek weet nie hoe nie.”

“En wat laat jou dink ék weet?”

“Komaan, Adam! Moenie so hopeless wees nie.”

Haar geduld raak op. Haar kleintoontjie is seer gedruk en sy’t baie om oor te dink. Sy wil in die bed kom, die komberse oor haar lyf trek en hierdie aand en veral die soen wat Luca haar gegee het, vergeet sodat sy kan slaap. Sy’s nie in die bui vir ’n scene of om in die koue aandlug met ’n pap wiel te sukkel nie. Adam moet nou uithaal en wys. Hy moet sy fieterjasies laat staan, sy pretensies op ys plaas en hierdie ryding van hom aan die loop kry, of sy gaan begin gif spoeg.

Sy stap om die motor en gaan staan by die kattebak. “Kry uit jou spaarwiel en jou gereedskap dat ons kan sien wat aangaan,” gee sy raad.

“Gereedskap? Soos in tools?”

“Ja, man, spanners en goed. Om die wiel los te draai. Dink ek.”

Adam sluk. “Ek ry nie tools saam met my rond nie, doll. Dis so ... so macho, jy weet. Dis nie my styl nie.”

“Wel, dis ook nie my styl om langs die pad gestrand te sit nie,” blaf sy. “Maak ’n plan. Jy’s die man, dis jóú afdeling.”

Sy sien hoe Adam se mond begin bewe en sy wil-wil skuldig voel, maar sy stry daarteen. Waddejoos moet sý aan die situasie doen? Dit was nog nooit vir haar nodig om ’n wiel om te ruil nie. Daarvoor is daar die AA of behulpsame buurmans of kêrels. Selfs Frederick, die vark, het sy deel gedoen en gesorg dat die motortjie wat sy in Londen bestuur het in goeie werkende toestand gebly het.

Nou staan Adam hier met ’n verdwaasde uitdrukking op die gesig en met sy slap handjies gevou. Dis laat en dis donker en dis koud. Die straat waarin hulle geparkeer het, is taamlik verlate. “As ons vanaand nog hier aangeval word, praat ek nooit weer met jou nie,” kerm sy.

“Oukei, doll. Ek sal ’n plan maak. Relax!”

Adam trippel ’n paar keer om die motor en kyk toe vervaard om hom rond. “Aa!” roep hy verlig uit. “Thank goodness! Problem solved!” Hy draf tot in die middel van die straat. “Koe-ieee ...” roep hy luidkeels. “Here! Over here!”

Toe Jenna sien wie dit is wat hy nader wink, storm sy halsoorkop vorentoe om hom in sy spore te stuit. Maar sy’s te laat.

“Koe-ieee!” roep hy weer. “Haai! Jenna se dokter! Over here! Ons het jou hulp nodig.”

“Nee!” fluister sy hard. “Los hom. Hy’s nie meer my dokter nie. Hy’t my afgesê.”

Hoekom sy Adam nou met dié nuttelose inligting belas, weet die duiwel alleen. Want sy kry hom in elk geval nie betyds gemuilband nie.

Luca het hom gehoor en kom met lang treë nader gestap.

“Het julle probleme?” wil hy weet.

“Flat tyre!” Adam se stem het ’n kermklankie in. “Plat soos ’n pannekoek!”

Luca buk by die wiel, voel met sy vingers daaroor. “Gesny,” lewer hy kommentaar. “Seker die straatkinders wat hulleself vermaak het.”

“Die maaifoedies!” Adam klik sy tong. “Honestly, you know! As ek hulle in die hande kry ...”

Sal hy in elk geval niks doen nie, dink Jenna, maar sy sê nie ’n dooie woord nie. Sy wens net om in die aarde weg te sink, diep, diep in die aarde in sodat Luca nie van haar sal weet nie.

“Is jou spaarwiel styf?” vra Luca.

“Jy sal moet voel.” Adam gee ’n giggellaggie. “Ek het nie ’n clue nie, weet jy?” Hy waai met sy hande deur die lug. “Ons ouens by Koekemoer Internasionaal weet nie van sulke dinge nie.”

“So jy is ook ’n Koekemoerder soos Jenna?” vra Luca.

“Guilty as charged,” antwoord Adam. “Behalwe dat onse Jenna werkloos is totdat die baas haar weer ’n kontrak aanbied.”

“Dis net tydelik,” keer sy vir haar eer. “Totdat Koos van die Ooste af terugkom.”

“Want ek het na haar hart gekyk en sy kan maar ingespan word,” verseker Luca vir Adam. “Mits sy na haar gesondheid omsien en veral haar stresvlak laag hou.”

Sê jy wat my totaal ontsenu het! dink sy vies.

“Sy’t nerves van staal, daardie girl,” laat Adam hoor. “Maar stres is mý middelnaam.”

“Dan moet jy seker ook ’n draai by my kom maak,” sê Luca droog.

Adam lag. “Been there, done that, got the T-shirt. Ek en nog ’n paar van my buddies. Ons was by ’n Joodse dokter in die stad, maar Jenna wou nie soontoe gaan nie.”

“En hoekom nie?” Luca lig sy wenkbroue en kyk haar vraend aan.

“The poor guy is so oud soos ... soos daai oukêrel in die Bybel, en Jenna sê sy gril vir koue hande op haar lyf. Toe hoor sy van jou en is daar geen keer aan haar nie.”

Luca draai na Jenna. “Was mý hande toe darem warm genoeg?”

Sy wil hom antwoord, maar om haar lewe te red kan sy nie gou genoeg aan iets slims dink om te sê nie. Sý wat normaalweg geen probleem het om op haar voete te dink as sy tydens ’n vergadering of voorlegging in ’n hoek gedryf word nie.

“Kan ons probeer konsentreer op die probleem hier voor ons?” vra sy. “Ek wil graag by die huis kom voordat die son opkom.”

“Om die son oor die see te sien opkom, is die moeite werd om voor wakker te bly, hoor,” verseker Luca haar.

En om dit saam met hom te doen, sal seker ’n betowering van sy eie inhou, dink Jenna. Ag nee, al weer ek met my fantasieë wat niks met die werklikheid te doen het nie!

Teen dié tyd het Adam ten minste die kattebak oopgesluit. Luca leun dadelik oor om te bepaal of die spaarwiel gebruik kan word. “Ook maar net-net,” sug hy. “Dis een van daardie Mariebeskuitjie-bande. Jy sal net kan ry tot by die naaste garage, waar jy die wiel moet laat pomp.”

“Ek stop nie in die middel van die nag by ’n garage nie,” kerm Adam. “Netnou mug hulle my en dan is hierdie suit van my ook daarmee heen. Gelukkig is Jenna se flat nie baie ver nie.”

Luca trek sy baadjie uit. “Hier, Jenna,” sê hy. “Hou vir my vas, asseblief.”

“Nee,” keer sy, maar die baadjie word summier in haar hande geprop. “Jy kan nie –”

“Natuurlik kan ek. Dit sal nie die eerste keer wees dat ek ’n band omruil nie.”

“Ag, thanks, dis baie nice van jou,” haak Adam af.

“Dis nie nodig nie,” maak Jenna kapsie. “Ek is seker daarvan ons sal regkom.”

“No ways,” veto Adam haar. Hy sprei sy hande voor hom uit. “Hierdie hande ken nie van bande omruil nie, doll. A grease monkey I am not.”

“Luca ook nie!” Sy gluur Adam aan. Sy brand om ’n hele kan motorolie oor sy kop uit te gooi, opportunis wat hy is! “Hy is ’n chirurg! Hy moet sy hande skoon hou.”

“Seep en water doen wondere,” stel Luca haar gerus.

“Maar ... maar ek is seker daarvan jy het ander dinge om te doen,” probeer sy nog keer dat Luca de Wet, vermaarde kardioloog, hom verwerdig om Adam se vuilwerk vir hom te doen.

Sy kyk om haar rond. “Amanda?” vra sy. “Wat van Amanda? Sy sal ongeduldig raak. Sy kan nie die hele tyd alleen in die motor vir jou sit en wag nie.”

Jenna sweet behoorlik. Hier ontstaan ’n situasie wat sy nie kan hanteer nie.

“Moenie jou oor Amanda bekommer nie. Sy’t met haar eie motor gekom en sy is al huis toe.”

Hy kom nader en soek na sy selfoon in sy baadjiesak. Jenna se hart mis ’n slag toe sy arm teen hare skuur. “Ek sal net gou bel om te hoor of sy veilig by die huis aangekom het. Sy behoort al daar te wees.”

Hulle ry met twee motors, registreer dit by Jenna. Dis ’n ou, vertroude verhouding – ’n verhouding waarin elkeen met sy eie motor kan ry as hul skedules so volgeprop is dat hulle aanpassings moet maak om tyd saam deur te bring.

Sy probeer agterkom wat die trant van die gesprek tussen hom en Amanda is, maar sy kan nie veel aflei uit wat sy hoor nie.

“Is jy al by die huis?” vra hy en wag vir ’n antwoord.

“Jammer dat ek nie agter jou aangery het nie. Daar was ’n effense oponthoud.”

Jenna skaam haar. Dis húlle, dis sy en Adam wat hom ophou, terwyl Amanda seker op hom wag om by haar aan te sluit.

Huis toe, het hy gesê. Amanda is al by die huis. Wie se huis? wonder sy. Luca s’n? Het Amanda solank gaan inkruip, wag sy daar vir hom? In sy bed? In ’n nagkabaai soos dié wat sy wat Jenna is vir haar wittebrood saam met Frederick aangeskaf het? Deurskynende goetertjies met kant en lintjies?

My nuuskierigheid – en my verbeelding – gaan nog my ondergang beteken, bestraf sy haarself. Dit het hoegenaamd niks met my te doen wat Luca met sy lewe aanvang nie. Behalwe miskien wanneer hy afhaak en my soen ...

Om dit uit sy gestel te kry, herinner sy haarself.

Sy kyk woordeloos toe hoe Luca die moue van sy spierwit hemp oprol, sy gereedskap uit sy eie motor gaan haal en toe die noodwiel uit die kattebak lig. Sy sien die spel van die spiere op sy voorarm en haar mond word droog.

Sy staan ’n entjie opsy, maar raak gou aan die bewe. Sy ril. Daar’s ’n koue windjie wat van die see se kant af waai en haar enigste verweer daarteen is ’n baie kaal rok met twee lang splete langs die kante. Selfs haar voete is kaal, maar sy sien nie kans daarvoor om weer die silwer sandale aan te trek wat haar tone so verniel het nie.

“Jy kry koud,” merk Luca op. “Trek my baadjie aan.”

“Dis nie só koud nie,” probeer sy sê, maar sy klappertand so erg dat die wind haar woorde wegwaai.

“Of jy kan in die motor gaan sit,” stel hy voor. “Ek jack jou sommer saam met die motor op.”

Jenna oorweeg dit nie eens nie. Sy moet wag staan, waaksaam wees, keer dat die ellendige Adam nie verdere bogtery kwytraak nie, ingryp en red as daar dalk nog iets te redde is.

Daarom gehoorsaam sy Luca bibberend. Sy glip haar kaal arms by die moue van sy baadjie in en voel dadelik hoe die warmte om haar vou. Sy knip haar oë. Om die een of ander onverklaarbare rede wil sy aan die huil gaan.

Sy laat haar kop sak, streel met haar wang oor die growwigheid van die baadjie se lapelle. Dis kwaliteit, weet sy sommer. Dalk nog deur een van die land se voorste ontwerpers, of van oorsee af ingevoer.

Ek het waardering vir kwaliteit, besluit sy opnuut. In klere, in motors, in mans, in ’n verhouding. Ek begeer kwaliteit. Egtheid. Iets waarop ek kan staatmaak. Dis hoekom ek my nie aan Frederick kon verbind nie. Net jammer dat ek met my ondeurdagte optrede ’n kind se hart gebreek het.

Die pyn wat in haar borskas kom sit, is só fel dat sy haar asem skerp intrek. Kareltjie se beeld verskyn voor haar. Sy vraende ogies, die glimlaggie wat soms die onseker trek om sy mondjie vervang het, die klein krokodiltandjies, die sagtheid van sy mollige nekkie – daar waar sy hom graag gekielie-soen het totdat hy dit uitgeskater het.

Sy onthou die blinde vertroue waarmee hy sy hand in hare geplaas het toe sy uiteindelik daarin kon slaag om hom gerus te stel dat sy hom nie kwaad wil aandoen nie. Vertroue wat sy met een wrede hou vernietig het. Hoeveel skade het sy die kind tog nie aangedoen nie! In háár was daar geen kwaliteit te vind nie, geen egtheid, niks van waarde nie.

Nee, sy kan nie aan Kareltjie dink nie, sy mág nie. As sy enigsins daarin wil slaag om met ’n sinvolle lewe voort te gaan, moet sy haar gedagtes keer wanneer dit soos ’n span weghol-osse op ’n ramp afstuur. Sy ken haarself, sy weet waartoe sy in staat is en waartoe nie. As sy moet toegee aan haar melancholie oor Kareltjie, gaan sy vou. Sy sal in ’n inrigting beland, afhanklik van ander mense. Sy sal niks werd wees nie. Nie vir Koekemoer Internasionaal nie, en ook nie vir haar pa nie.

Sy voel hoe warm trane in haar oë vorm en ’n blos van skaamte in haar nek opstyg. Gelukkig is dit donker en kan niemand anders dit sien nie. Sy snuif hard en krap in haar aandsakkie na ’n snesie, maar kry niks.

“Daar’s ’n sakdoek in my binnesak,” sê Luca van waar hy op sy hurke langs die motor sit en werskaf.

Dít ook nog! dink sy moedeloos. Daar gaan ook niks by hierdie mansmens verby nie. Sal ek nou nog aan die grens en aan die snuif ook gaan terwyl ek my in dokter Luca de Wet se baadjie bevind?

Maar sy wil nie sy sakdoek gebruik nie. Dis darem net te Middeleeus na haar smaak. Sy kan raai dat dit ’n spierwitte sakdoek sal wees. Met presisie gestryk sodat selfs die hoekies nie omkrul nie. En sy reuk sal daaraan kleef, soos aan die baadjie wat haar teen die nagkoue beskerm.

Toe Luca die band omgeruil het, kom hy orent en skud sy hande af. Jenna vis die sakdoek uit die baadjie se binnesak. Spierwit, soos sy verwag het.

“Hier,” sê sy. “Vee jou hande daaraan af.” Sy aarsel. “Dis skoon. Ek het dit nie gebruik nie.”

“Dankie.”

Toe hy die sakdoek by haar vat, raak sy hand vir ’n oomblik aan hare. Jenna ruk haar hand terug. Ek’s laf! dink sy vies. Ek gedra my soos ’n simpele, verliefde bakvissie.

“Ek is baie jammer hieroor,” sê sy en skil sy baadjie van haar skouers af. “Dankie vir jou hulp.”

“Ek ry agter julle aan om te sien dat julle veilig by die huis kom.”

“Ag, jy’s ’n darling,” smeul Adam.

Jenna gee hom ’n kyk wat melk sou laat suur word. “Dis regtig nie nodig nie,” keer sy.

“Ek sal meer gerus voel as ek dit doen. Daardie band is nie besonder styf opgepomp nie,” sê Luca.

“Dis nou ’n nice ou daardie,” sê Adam toe hulle in die motor klim. “Jy moet iemand soos hý kry om sy skoene onder jou bed in te stoot.”

“Hou jou in, Adam!” roep sy uit. “Jy het genoeg skandes vir een aand gemaak.”

“Wie? Ek?” vra hy die ene onskuld en trek sierlik weg.

“As ek nou met jou praat, gaan ek nie verantwoordelik wees vir wat ek sê nie,” keer sy dikbek. “Kom ons los dit tot môre.”

Maar dit was ’n fout. As sy hom eerder sy fortuin net daar vertel het, sou hy besef het hoe die wind waai en nie verdere kanse gevat het nie. Want toe hulle voor haar woonstel stilhou en Luca uitklim om te groet, skok Adam haar weer eens met sy voorbarigheid.

“Wil jy nie inkom vir ’n koffietjie nie?” vra hy. “Jenna maak ’n mean cappuccino.”

“Normaalweg raai ek my pasiënte af om cappuccino te drink,” sê Luca terwyl hy dadelik sy ruit opdraai en sy motor sluit.

“Wel, gelukkig is ek nie meer een van jou pasiënte nie,” blits Jenna terug.

“Ek hoor dié ding,” het Adam ’n eiertjie te lê. “Jenna sê jy’t haar afgesê.”

“Het sy jou gesê hoekom?” wil Luca tergend weet.

“Kom ons sê maar net daar was ’n botsing van persoonlikhede,” gooi sy wal. “Daar is te veel dinge waaroor ons nie saamstem nie.”

Sy sal nie daarmee wegkom nie, sy weet sommer. Een of ander tyd gaan Adam haar in ’n hoek keer en sal sy moet please-explain, maar dit sal heelwat makliker wees as Luca nie teenwoordig is nie.

Sy verskoon haar om kombuis toe te gaan. Wat ek nodig het, besluit sy, is ’n sterk dosis kafeïen, sterk genoeg om my kop oop te kry en my hart skade aan te doen.

Maar toe sy met die stomende bekers cappuccino in die sitkamer terugkom, staan Adam by die deur.

“En nou?” vra sy benoud. “Waarheen gaan jy nou?”

“Ek los my motor hier by jou,” sê hy. “Ek sal môre iemand stuur om die ding te kom haal en te fix. Ek het ou Barry gebel om my hier te kom haal en hy’s al op pad.”

“Maar ... maar jou cappuccino?”

Wat, as dit vertaal word, beteken: Maar jy kan my nie alleen hier saam met Luca los nie! Vat hom saam met jou. Of bly! Tot die hane begin kraai, as dit dan nodig is.

Sy’t skaars gepraat of hulle hoor die sagte getoeter in die straat. “Daar’s ou Barry nou. Hy’s haastig. Hy werk môre en wil nog ’n bietjie shut-eye inkry.” Adam stap nader en soen haar op die voorkop. ’n Judaskus, dink Jenna, ’n verskoning vir sy verraad!

“Sorry, doll, some other time. Got to love you and leave you.” Hy gaan skud Luca se hand. “See you!”

Jenna is skoon stom toe hy die voordeur agter hom toeklap. Die luis! Wat sou in hom gevaar het? Hoe durf hy haar in hierdie situasie laat beland?

Sy sug innerlik. Dalk probeer die arme ding haar nog ’n guns bewys. Dink seker in sy onkunde hy hou sy lyf matchmaker en dat sy hom daarvoor sal bedank. Wel, hy kan nie verder verkeerd wees nie!

Luca kom neem die skinkbord by haar.

“As jy ... as jy ook haastig is, kan jy maar gaan, hoor,” piep sy.

“Nadat jy al die moeite gedoen het om my met jou sondige maar heerlike heksebrousel te vergiftig? Nooit gesien nie.” Hy neem ’n beker van die skinkbord. “Dit ruik heerlik, en ek wil dit graag drink voordat dit heeltemal koud is.”

Sy neem self groot slukke sodat die gehamer van haar hart tot bedaring kan kom. Kafeïen kan haar beslis nie meer kwaad doen as hierdie ontsteltenis nie. Sy gaan sit so ver as moontlik van hom af weg, maar dan sien sy die liggie op haar antwoordmasjien flikker.

“Verskoon my,” sê sy. “Ek wil net gou hoor waaroor dit gaan.”

Soos sy verwag het, is dit haar pa se temerige stem wat deur die masjien opgeneem is.

“Jenna? Waar’s jy? Wat help dit jy’t ’n foon en jy’s nooit daar om die ding te antwoord nie? Ek sit nou hier met my pille in die hand. Hande vol pille, dis mos al wat my aan die lewe hou. As ’n mens dit ’n lewe kan noem.” Sy kan hoor hoe haar pa deur sy pille krap. “Ek kan nie onthou of ek al die klomp wat ek vanaand moes drink in my keelgat afgegooi het nie. Drink ek te veel, vrek ek, en drink ek dit glad nie, vrek ek ook. Nou hoe de hel moet ek nou weet wat om te doen?”

Sy sug toe sy omdraai. “Ek is jammer,” sê sy toe sy besef dat Luca hierdie gekerm moes aanhoor. “My pa weier om op die selfoon te bel.” Sy trek haar skouers op.

“Van die bietjie wat ek van hom weet, klink jou pa na ’n ideale kandidaat vir die Hart-akademie. Jy moet sê as julle belangstel daarin dat hy opgeneem word. Ek dien in die bestuur en kan iets reël.”

Jy weet nie waarvan jy praat nie, Luca de Wet, wil sy sê. Jy ken nie my pa nie.

“Ek het al gehoor van die Hart-akademie. ’n Artikel daaroor in die koerant gelees ook,” sê sy neutraal. Sy gaan sit weer op haar stoel en teug aan haar cappuccino, wat nou sy smaak vir haar verloor het.

“Die hele idee daaragter is om ’n ware studie te maak van hartprobleme. Tot dusver is dit ’n klinkklare sukses. Ons het sowat ’n honderd inwoners, almal met een of ander hartsiekte onder lede. Hulle word op alle vlakke behandel, insluitend sielkundig ...”

“... wat my pa nodig het,” voltooi sy.

Sy plaas haar beker terug op die skinkbord en leun vorentoe. Dis skielik vir haar belangrik dat hy moet verstaan wat met haar pa gebeur het.

“Ek wens jy kon my pa geken het soos hy eers was,” sê sy. “Adam sou vir die waarheid van my woorde kon instaan as hy nog hier was. My pa was ’n allemansvriend, het selfs met Adam gebond. Toe hy al op hoërskool met sy eienaardighede begin het en almal wye draaie om hom geloop het, het my pa hom nader getrek. Hy’t nooit juis vir Adam verstaan nie, maar hy’t hom aanvaar net soos hy is.” Sy glimlag effens. “Al my maats was mal oor my pa, van skooldae af al. My pa was ’n prettige omie, vol grappe, die ene terglus en so aktief, ons kon skaars byhou met alles wat hy vir ons gereël het. Hy was voorsitter van ’n hele paar verenigings en baie aktief in die gemeenskap. Sportbyeenkomste, feeste, noem maar op – jy sou hom daar kry, gewoonlik in die voorste gestoeltes.” Sy aarsel ’n oomblik. “Ek weet nie of hy hom daardeur ooreis het nie, ek weet net hy het elke oomblik daarvan geniet, want hy het voluit geleef.”

“En jou ma?” vra hy.

“Vandat ek kan onthou, was my ma se gesondheid swak. Sy’t asma-aanvalle gekry en ons het haar op die hande gedra, veral my pa. Sy was die queen bee in die huis, verstaan jy? Pragtig om na te kyk, en ons het haar liefgehad met iets soos verering amper.

“Toe sy dood is, het my pa natuurlik ’n knou gekry. Maar ná ’n ruk het hy tog sy kop gelig. Die moeilikheid het gekom toe hy vir sy jaarlikse ondersoek by ’n hartchirurg gaan aanklop het. My pa was natuurlik altyd bewus van die risiko’s. Daar was hartprobleme in sy familie – ’n paar gesinslede wat voortydig dood is aan hartaanvalle, sy ma ook. Hy’t van die kwale oorgeërf: hoë bloeddruk, cholesterol, ’n mate van oorgewig – die gewone bangmaakfeite.”

“Wat was die kardioloog se bevinding toe?” Hy kyk belangstellend na haar.

“Hy het blykbaar ook soos jy geredeneer: ’n angiogram kan nie kwaad doen nie. En buitendien, wie kla nou as jy ’n ekstra paar duisend rand in die sak kan steek vir ’n halfuur se werk?”

“Nou’s jy onregverdig, Jenna. Hartprobleme is vreeslik onvoorspelbaar en selfs met al die kennis wat die afgelope paar dekades versamel is, kan ons as medici steeds nie vir ons pasiënte ’n helder prentjie in ’n kristalbal voorhou nie. ’n Hartvatsiekte kan op een van ’n paar maniere manifesteer. Die pasiënt kan natuurlik ook sonder enige simptome wees. ’n Inspannings-EKG kan wys dat ’n kroonaar of twee verstop of vernou is. Dis selfs moontlik dat die pasiënt op daardie stadium reeds hartaanvalle gehad het sonder dat hy daarvan weet, maar wat skade aan sy hartspier veroorsaak het.”

Luca is nou behoorlik op dreef. Sy arms swaai en sy hande praat saam terwyl hy verder verdedig en motiveer waarom hy en sy kollegas ’n pasiënt so graag vir verdere toetse stuur.

“Derduisende mense kry byvoorbeeld van tyd tot tyd angina-aanvalle. Hulle skrik vir die borskaspyn wat skielik toeslaan, veral terwyl hulle aktief is. Dan sit hulle ’n pilletjie onder die tong en die pyn bedaar en hulle steur hulle nie verder daaraan nie. Dit raak deel van hul lewens, en dis ook goed so. ’n Mens moenie toelaat dat die vrees vir ’n hartaanval jou lewe oorneem nie. Maar as aanvalle soos daardie te dikwels voorkom of vir te lank aanhou, verhoog die risiko vir ’n hartaanval. En natuurlik, soms slaan ’n hartaanval toe waar en wanneer ’n mens dit die minste verwag.”

“Soos ’n dief in die nag,” merk sy op.

Hy knik. “Baie hartlyers sterf onmiddellik. En dié wat dit oorleef, het hartspierskade, afhangend wat watter deel van die hartspier nie meer bloed gekry het nie en hoe groot die deel van die hartspier is wat daarsonder moes klaarkom. Dís wat ons ten alle koste probeer vermy, en ’n angiogram kan in sommige gevalle lig op die saak werp. Maar natuurlik is dit ook nie die finale antwoord nie.” Sy skouers sak effens. “Ons ken maar ten dele ...”

Dis waar, dink sy skaam. Die slimste mens op aarde het nie al die antwoorde nie – ook nie die wyse witjas-filosowe wat om ’n tafel sit met jou toetsuitslae voor hulle om jou lot vir jou te bepaal nie.

“Jy veralgemeen sonder dat jy die ware feite ken,” verwyt Luca nog.

“Die feite wat ek wel ken, is dit wat ek saam met my pa deurleef het. Die bloedverdunningsmiddel wat hy ná die tyd moes neem, het nie met hom geakkordeer nie en sy niere het skade gekry. Maar meer nog as dit: sy gees het ’n knou gekry. Skielik was hy nie meer die sterk man wat sy gesin teen alle aanslae van buite kon beskerm nie. Hy’t oornag in ’n ou man verander. En dit het net erger geraak ...”

Sy is skielik moeg. Moeg vir die storie, moeg vir die gevoel van verlies elke keer as sy onthou hoe daardie enkele doktersbesoek haar pa se lewe beïnvloed het. “Pa glo vas hy moes nooit dokter toe gegaan het nie,” sug sy.

“Kom sit hier by my,” sê Luca en klop op die leë sitplek op die rusbank langs hom.

Sy wil nie. Maar as sy weier, gaan hy weet hoe hy haar met sy teenwoordigheid ontstem. Sy staan op en gaan sit versigtig langs hom.

“Dis juis vir mense soos jou pa dat ons die Hart-akademie gestig het – hoofsaaklik middeljarige mense wat aan die nagevolge van ’n hartsiekte ly en wat geneig is om vir die dood te gaan sit en wag omdat hulle nie oor genoeg kennis beskik nie.”

“Hoe betrokke is jy?”

“Soveel as moontlik soos my praktyk my toelaat. Daar ís personeel wat op die perseel inwoon, verpleegsters en selfs ’n kardioloog. En natuurlik ons voorslag-biokinetikus.”

“Amanda?” Jenna hou asem op.

“Dis reg. Sy het sak en pak by die akademie ingetrek. Sy verkies om op die perseel te woon sodat sy maklik beskikbaar is wanneer die inwoners haar nodig het.”

Ag, as-se-blief, dink Jenna. Die selfopofferende soort!

“Die personeel woon in een vleuel van die gebou, en die inwoners kan so privaat wees as wat hulle wil. Elke wooneenheid het ’n badkamer en ’n eie kombuisie waar daar gebak en gebrou kan word. Maar die meerderheid van die inwoners maak gebruik van die diens wat deur die akademie aangebied word: die regte kos vir ’n gesonde hart word deur dieetkundiges in die gesamentlike kombuis voorberei en daar word drie etes per dag in die eetsaal voorgesit.”

“My pa leef van brood en koffie,” merk sy op.

“Nie die ideale dieet vir ’n hartlyer nie,” laat hy lakoniek hoor.

“Ek weet, ek weet, ek besef dit. Ek hét al probeer om hom anders te oortuig, het al hoeveel keer vir hom vrugte gaan koop – wat dan op die tafel staan en vrot word. My pa is ’n hardekop.”

“Die ondersteuningsgroepe by die akademie bied aan hartlyers en hul familie die geleentheid om met ander in dieselfde situasie kontak te hê. Gedeelde smart is halwe smart. Daar word aandag gegee aan emosionele behoeftes en die motivering om na jou hart om te sien na die beste van jou vermoë.”

Dis nes sy gedink het: hierdie man het vele talente. Nie alleen kan hy met harte toor nie, hy sal glad nie ’n slegte verkoopsman uitmaak nie. Glad van bek, en met ’n stem wat jou sal ompraat om al jou beginsels oorboord te gooi en agter hom aan te loop soos agter die fluitspeler van Hamelin.

Maar sy hét dit al gedoen, een keer: ’n man blindelings gevolg – die afgrond in! Sy wat Jenna is, moet van Luca de Wet af wegbly, maar haar pa kan dalk baat by die behandeling wat deur sy akademie aangebied word.

“Dis dalk net wat my pa nodig het,” gee sy eindelik toe. “Broeders en susters in die verdrukking. Geselskap. Mits die geselskap nie net om een onderwerp draai nie ...”

“Ek kom gereeld daar en die atmosfeer is allesbehalwe stroef.”

“Seker om vir Amanda te gaan kuier?”

Sy kan nie glo dat sy dit gevra het nie. Sy bloos dadelik en skuif skuldig van hom af weg.

“Onder andere, ja, maar ook in my professionele hoedanigheid as kardioloog. Al die nodige apparaat is beskikbaar om standaardtoetse in ’n vertroude omgewing te doen. Vir my is elke kuiertjie daar soos ’n miniatuur-vakansie.”

Hy wei verder uit oor die grasperke, die bome, die uitsig oor die see, die rolbalbane, die rustigheid van die natuur. Jenna luister met een oor. Sy’s vaak en sy sak al dieper in die rusbank in.

“Jy laat dit soos ’n utopia klink.” Sy onderdruk ’n gaap.

“Dit ís nogal, ’n oase in die stadsrumoer. Dis jammer jý kan nie ook sommer daar gaan werk nie. Ons verkies gewoonlik personeel met ’n mediese agtergrond, maar ons het iemand nodig wat die administrasie kan behartig. Iemand met ’n slim sakebrein soos jy, wat ook vir die fondsinsameling verantwoordelik kan wees en sal sorg dat die inrigting teen ’n wins bedryf word. Ons wil dit moontlik maak vir pasiënte wat dit nie normaalweg sou kon bekostig nie om daar in te trek met die hulp van borge en sakeondernemings se welwillendheid.”

Hy leun nader aan haar. “Dit sal jou goed doen om rustiger te leef. Hoe lyk dit? Wil jy nie maar vir Koekemoer Internasionaal vaarwel toewuif nie?”

“Is jy ernstig? Maak jy my ’n aanbod?”

“Ons kan daaroor gesels as jy belangstel.”

Maar sy dínk nie eens daaraan nie. Waarom sal sy? Waarom alles wat Koekemoer Internasionaal haar bied opsy stoot om vir ’n klomp krankes die boeke te laat klop? Daar waar Luca ook soms gesig wys, waar sy hom gereeld saam met Amanda sal sien?

“Ek sal my pa probeer pols en hoor wat hy sê,” belowe sy halfhartig. “Maar die kans dat hy sal belangstel, is skraal.”

Toe Luca uiteindelik aanstaltes maak om te vertrek, loop sy saam voordeur toe. Vir ’n oomblik lyk dit of hy haar gaan soen. Sy maak haar oë onwillekeurig toe. Maar niks gebeur nie. Sy sper haar oë verleë oop. En skrik! Sy gesig is enkele sentimeters van hare af en daar is ’n onpeilbare uitdrukking in sy oë.

“Wat probeer jy doen, Jenna?” vra hy gesmoord. “Wil jy my verlei om jou te soen?”

Sy ruk haar kop weg. “Nee, natuurlik nie. Ek wou net doodseker maak dat ek uit jou gestel is.”

“Nee, jy is nie. Dis juis die probleem,” sê hy met iets soos woede in die trek om sy mond. Toe draai hy op sy hakke om en stap weg.

Hy gaan huis toe, dink sy. Heel moontlik na Amanda toe.

Kristel Loots-omnibus 1

Подняться наверх