Читать книгу Kristel Loots-omnibus 1 - Kristel Loots - Страница 8

Оглавление

5

Teen Sondagmiddag raak die niksdoen vir Jenna te veel. Sy bel Koos op sy selfoon, iets wat hy nie sommer toelaat nie.

“Julle sal dat my vrou my skei,” kla hy wanneer hulle dit wel doen. “As ek nie oor naweke aandag aan haar gee nie, gaan ons mekaar later nie meer herken nie.”

Maar Koos is in die Ooste en Jenna twyfel of hy vir vroulief sou saamvat. Wanneer Koos oorsee gaan, werk hy tot laatnag en is daar gewoonlik nie tyd om aan sy wankelende huwelik te werk nie.

“Die dokter sê my hart is oukei,” val sy met die deur in die huis. “Wanneer begin ek met my volgende opdrag?”

“Jy weet mos hoe werk hierdie dinge – sodra ons die kontrak geteken het.”

“En wanneer gebeur dit?”

“Wanneer ek terug is, Jenna. Seker ’n week of twee.”

“Kan ons dit nie sommer telefonies reël nie? Jy kan vir my die nodige vorms e-pos.”

“Nie nou nie, meisiekind. Ons moet sekere stipulasies aanbring en daaroor moet ek en jy eers gesels. Iets waarvoor ek nie nou die tyd het nie.”

“Wat moet ek in die tussentyd doen? Met my tone speel?”

“Sluit voorlopig by enige van die ander spanne aan,” gee hy raad voordat hy aflui.

Maar sy wil dit nie doen nie, veral nie by Adam se span aansluit nie. Sy sal as ’n buitestander beskou word en meer kwaad doen aan die samehorigheidsgevoel as wat haar bydrae gewaardeer sal word. Ook sal sy natuurlik van voor af die vrae oor Frederick moet beantwoord en die simpatie – of die spot – in die oë van haar kollegas sien.

Om op iets of iemand te wag terwyl sy ledig is, is vir haar ’n vreemde ondervinding. In die dae wat volg, is sy min of meer in ’n dwaal. Die oomblik wat sy wakker word, tref dit haar dat sy nie hoef op te staan om kantoor toe te gaan nie.

Ek voel nie meer tuis in my vel nie, besef sy. Dis al wat ek ken: om te werk totdat ek soos ’n sak sement saans op my bed neerval. Nou is daar te veel ure in die dag en sukkel ek om saans aan die slaap te raak.

Dan pak ek maar my kaste reg, besluit sy. En maak my woonstel ’n slag van hoek tot kant skoon. Maar dis nie waarvoor sy in die wieg gelê is nie en sy gooi gou genoeg handdoek in.

Sy probeer, maar sy kry nie die gevoel van onvergenoegdheid afgeskud nie. Sy probeer in die oggende so laat as moontlik slaap sodat die dag nie so lank moet wees nie.

Daarom is sy sommer vies toe sy vroeg een oggend wakker geklop word. Adam! Dit kan net Adam wees wat so onbedagsaam is om haar te kom pla. Hy’s natuurlik op pad werk toe en gee nie ’n duit om vir haar wat wou laat slaap nie. Kom haal seker iets wat hy hier vergeet het. Die luis! Hy kan bly wees sy laat hom weer in haar woonstel toe ná hy haar Saterdagaand alleen met Luca gelos het.

Sy doen nie eens die moeite om haar hare te kam nie, slof net so in haar pantoffels en pajamas voordeur toe.

Maar dis nie Adam wat voor haar staan toe sy die deur oopruk nie – dis hý! Luca de Wet in al sy glorie! Uitgevat van sy blinkleerskoene tot by die kraag van sy hemp wat om ’n bruingebrande nek sluit.

“Hoekom is jy hier?” vra sy half deur die slaap. “Hierdie tyd van die oggend?”

Hy kyk op sy horlosie. “Hierdie tyd van die oggend?” vra hy, sy wenkbroue spottend gelig. “Die son sit al hoog. Die vraag is eerder hoekom is jy nog in jou nagklere hierdie tyd van die oggend. Probeer jy my al weer verlei?” Hy lag. “Dan moet jy harder probeer, skattebol. Flennienagklere doen nie veel vir my libido nie.”

Sy maak seker dat haar winterspajamas tot by haar kuiltjie toegeknoop is en ignoreer sy simpele aanmerkings. “Hoekom is jy enigsins hier?”

Hy hou ’n bruin koevert na haar toe uit. “Ek het hier verbygery op pad spreekkamer toe en het jou verslae vir jou gebring. Amore het dit vir jou netjies uiteengesit en uitgedruk. Dis alles daar: bloeddruk, polsslag, EKG, alles wat jy nodig het om weer by Koekemoer Internasionaal in te val.”

“Dit was nie nodig dat jy dit self bring nie. Jy kon dit per e-pos gestuur het.”

“Ek kon, ja, maar dan het ek nie ’n verskoning gehad om hier by jou om te kom vir ’n koppie cappuccino nie.” Hy gee ’n tree nader. “Gaan jy my nie innooi nie? Nie eens ná al die moeite wat ek gedoen het om die dokumente persoonlik vir jou te bring nie?”

Sy staan opsy. “En vir my vertel jy cappuccino is gif. Vreeslik ongesond.”

“Dit is. Dis soos sonde. Heeltemal verkeerd, maar vreeslik lekker.”

“Het jy tyd daarvoor?” Sy wys na buite. “Kyk waar sit die son al.”

“Amore het gebel – die pasiënt wat ek vroegoggend sou sien, het gekanselleer.” Hy kyk haar skielik intens aan. “Het jý dalk iets daarmee te doen gehad?” vra hy terglustig. “My gesaboteer? Hom banggepraat oor my behandeling?”

“Moenie laf wees nie, Luca. Ek bevraagteken dalk die metodes waarmee hartpasiënte behandel word, maar dis nie tot jou beperk nie.”

Hy stap saam met haar kombuis toe – waar die wasbak hoog gepak staan van die vorige aand se skottelgoed. Vetterige borde waarin die spaghetti-dis wat sy in ’n ommesientjie aanmekaargeslaan het opgeskep was, vuil glase, ’n leë wynbottel.

“Dit lyk aardig hier,” laat hoor hy dan ook dadelik.

“Ek was te moeg ... te vaak om gisteraand ... eintlik vroeg vanoggend die skottelgoed te was.”

Sy bloos. Dan vererg sy haar. Sy hoef nie verskoning te vra vir haar kombuis nie. Nie teenoor Luca nie – hy hoort nie hier nie, veral nie douvoordag op ’n Donderdagoggend nie. Wel, douvoordag vir iemand wat nie meer opstaan voordat die hane begin kraai nie.

“Dit lyk of hier behoorlik gekuier is.”

Sy lag sag. “Dit wás nogal ’n marathon-kuier.”

“En wie was die gelukkige man?”

Sy kyk hom verbaas aan. “Dit het sekerlik niks met jóú te doen nie, dokter De Wet,” herinner sy hom.

Laat hom dink wat hy wil. En as hy vermoed dat dit een of ander viriele jong man was wat by haar gekuier het, des te beter. Die soen van Saterdagaand was ’n fout, een wat sy graag wil regstel. Luca de Wet moenie weet hoe uitgehonger sy is vir die liefkosings van ’n man nie.

En hy het geen belang by haar persoonlike sake nie. Hy hoef nie te weet dat dit Adam was wat hier by haar aangesit gekom het nie – en dat daar natuurlik hoegenaamd geen sprake van liefkosings was nie.

Die twee van hulle het oor alles en nog wat gesels. Oor Koekemoer Internasionaal en oor Koos wat sy belange na die Ooste uitbrei, oor die ekonomie in die algemeen, en die politiek, die diaspora van hoogs opgeleide jong mense wat baie vir die land se produktiwiteit kon doen, oor die moontlikheid van lewe op ander planete, oor enigiets onder die son – behalwe oor hóm, hierdie man wat met sy groot lyf en sy skoongeskeerde gesig die ruimte van haar kombuis vul.

Sy het Adam stilgemaak die oomblik toe hy begin uitvra het oor die gebeure van Saterdagaand nadat hy hom skaars gemaak het.

“En toe?” wou hy weet. “Uit daarmee! Wat het jy vir die dokter vir brekfis gegee? Bacon and eggs?” Hy’t gegiggel. “I suppose not! Nie gesond genoeg nie, nie met al daai cholesterol nie.”

“Ons het nie saamgeslaap nie, as dit is wat jy wil weet, Adam. En jy het my in ’n baie moeilike posisie geplaas toe jy hier weg is en die man by my gelos het. Wat moes hy dink? Dat ek en jy gekonkel het omdat ek aspirasies met hom gehad het?”

“Dit het nie vir my gelyk asof hy sou omgee as dit die geval was nie, I promise you.”

“Hierdie gaan ’n sinnelose gesprek wees,” het sy hom stilgemaak. “Ons praat nie verder daaroor nie.”

Sy het dit duidelik tot verbode onderwerp verklaar en Adam het hom vir ’n wonder daarby gehou. Maar nogtans het hulle so lekker gesels dat hy eers teen twee-uur hier weg is.

Dis ’n taamlik tydsame proses voordat sy die twee bekers cappuccino op die kombuistafel neersit. Sy oorweeg dit nie eens om Luca sitkamer toe te nooi nie. Veral nie terwyl sy met haar deurmekaar hare en in haar pantoffels en haar pajamas voor hom paradeer nie. Dit sal net nie rym nie. Dan maar eerder hier in die kombuis sit, waar alle romantiese gedagtes summier nek omgedraai sal word in die blakende, wrede oggendson wat genadeloos deur die venster skyn. Hier waar die helder lig van ’n nuwe dag maar te duidelik uitwys hoe ver sy tekort skiet as huisvrou.

“Hoe gaan dit met jou pa?” vra Luca uit die bloute. “Het jy al met hom gepraat ná daardie onsamehangende boodskap wat hy op jou antwoordmasjien gelos het?”

“Hoekom wil jy weet?”

“Ek stel belang in alle hartlyers, Jenna, hetsy volwassenes of kinders. Dis my studieveld. Ek het jóú lêer oorgegee aan my kollega, Pieter Smit, maar daar is niks wat my verhoed om jou pa te behandel nie. As hy dit natuurlik sal toelaat.”

Dis nou ’n mooi manier om my daaraan te herinner dat hy klaar is met my, dink sy wrang. Die verslag van sy ondersoek word in my hande geprop en my lêer is in iemand anders se liasseerkabinet.

“Of my pa sal toelaat dat jy hom behandel?” Sy snork sinies. “Ek twyfel baie sterk daaraan.”

“Wel, iémand moet. Iemand behoort dop te hou dat sy hart nie verder verswak nie. Of dat hy – die gode behoed – ’n hartaanval kry.”

“Hy het al,” sê sy sag. “My pa was amper dood van ’n hartaanval.”

Sy wil hom nie regtig daarmee belas nie, sy is seker hy hoor genoeg sulke snikstories in die normale verloop van sy werk, maar die herinnering aan daardie dag is skielik net te sterk om te ignoreer.

“My pa was nie gesond nadat hulle vir hom ’n stent ingesit het nie,” vertel sy. “Hy was glo veronderstel om soveel beter te voel en om meer energie te hê as voorheen, maar dit was nie die geval nie. Boonop het hy toe iewers gehoor dat die middel-vrystellende stents, soos wat by hom ingeplant is, nie heeltemal veilig is nie en enige tyd ’n hartaanval tot gevolg kan hê. Hoe waar die gerug was, is nooit regtig vasgestel nie, maar dis nie werklik hier ter sake nie.”

“Seker nie. Jou pa se vertroue was toe al daarmee heen,” sê Luca en hy klink taamlik moedeloos. “Dis hoekom dit so gevaarlik is wanneer joernaliste wat nie insae in die volle prentjie het nie dit waag om oor gesondheidsake te skryf. Die publiek gaan behoorlik op hol. Hulle glo eerder wat hulle daar lees as wat hulle dokters hulle vertel.”

“Wel, my pa was woedend. Vir die dokters, die kardioloë en veral vir my omdat ek hom omgepraat het om dit te laat doen.”

“Sy tipe stent word soms verkies omdat dit ’n middel vrystel wat veronderstel is om te keer dat daar weefsel op die stent groei en ’n verdere verstopping veroorsaak,” verduidelik hy.

“Dis hoe ek dit ook verstaan het, maar niemand het ons ingelig oor die komplikasies wat daardeur kan ontstaan nie. Dokters is gou om jou onder hande te neem, maar hulle stel nie noodwendig soveel belang in jou nasorg nie.”

Hy weerlê nie haar stelling nie, hy laat bloot die verwyt oor hom spoel. “Wat het toe gebeur?” vra hy, sy ryk heuningstem soos salf vir haar hart.

“By al sy ander kwale het my pa toe nog tandpyn ook gehad. Hy’s tandarts toe om die tand te laat trek. Hy wou nie hoor van ’n stopsel nie, hy wou net van die pyn ontslae raak. Daar was ’n paar kiestande wat getrek moes word.”

Luca kreun. “Laat ek raai: toe stel die tandarts voor dat hy die antistolmiddels tydelik staak.”

“Dis reg. Hy’t my pa huis toe gestuur en gevra om later terug te kom wanneer die antistolmiddels uitgewerk is.”

“Die tandarts was natuurlik bang vir oormatige bloeding. Dis verstaanbaar.”

“Maar nie verskoonbaar nie.”

Sy kan nie langer stilsit nie. Sy gaan staan voor die volgepakte wasbak, kyk by die venster uit. Sy moet vergeet wat gebeur het, dit uit haar gedagtes sit sodat sy nie meer snags daarvan droom nie.

“Ek het die middag saam met my pa gegaan en in die wagkamer gesit terwyl hulle met hom besig was. Ek het gehoor dinge loop verkeerd daar binne. Toe my pa die tweede keer naar word en braak, het ek opgestaan om te gaan kyk wat aangaan. Toe ek daar kom, het hy langs die tandartsstoel inmekaargesak.”

Sy onthou die skrik, die vrees, die verwarring, die onsekerheid oor wat om te doen. Sy onthou ook dat die tandarts nie besonder bekwaam gelyk het om die situasie te hanteer nie, en dat sy assistent hand voor die mond uitgehardloop het omdat sy sélf naar was.

“Het Pa pyn?” het Jenna bang gevra.

Hy’t geknik. “Ja,” het hy gehyg en na sy nek gewys. “Hier en af in my arms,” het hy kortasem gesê. Hy’t in die lug gegryp. “Ek dink ek gaan dood, Jenna!”

Sy het haar pa opgehelp sodat hy teen haar kon leun en half regop kon sit. Toe het sy vervaard in haar handsak begin soek na die nitrogliserientabletjies wat sy orals met haar saamgedra het wanneer sy by haar pa was en een onder sy tong gesit. Dalk, so het sy gehoop, was dit bloot ’n angina-aanval wat na ’n paar minute sal verbygaan. Die tandarts het haar pa se pols en bloeddruk gemeet. Hy’t niks gesê nie, maar sy gesig het boekdele gespreek: hy was net so bekommerd soos sy.

“Voel Pa beter?” het sy hoopvol gevra, maar hy het sy kop ontkennend geskud. “Dit voel of ek doodgaan,” het hy weer gekla. Daar was vrees in sy oë, en sy gelaat wás die kleur van die dood. Sy het die sweet van sy gesig afgevee en met haar hand aan sy wange gevoel. Sy gesig was koud en hy het geveg vir asem.

Sy het hulpsoekend na die tandarts gekyk, maar die mannetjie was jonk – en meer as net ’n bietjie verskrik.

“Ek dink ... ek is byna seker daarvan dis ’n hartaanval,” het sy gefluister. “Ons moet my pa by ’n hospitaal kry.”

“Ek sal hom vat,” het die tandarts voorgestel.

“Nee, bel ’n ambulans. Verduidelik vir hulle wat die simptome is.”

Sy het by haar pa bly sit terwyl die tandarts bel, sy hand in hare geneem. “Toemaar, Pa, ek is hier by Pa.”

Asof dít sou troos, asof dít iets werd was.

Sy hoor iets van die reddeloosheid van daardie dag in haar stem toe sy vir Luca vertel hoe die paramediese span beheer geneem het toe hulle uiteindelik daar aankom. Hulle het haar pa probeer gerusstel, maar die beklemming om sy hart was te sterk om te ignoreer. Haar pa het besef wat besig was om met hom te gebeur en sy oë bo die suurstofmasker het in Jenna s’n geboor.

“Ek wou sterf van ellende,” sê sy, die trane vlak in haar stem. “My pa is al wat ek het en ek was niks werd toe hy my nodig gehad het. Dit het vir my gevoel ek het hom gefaal. Eers het ek hom verkeerde raad gegee, en toe kon ek niks doen om te keer dat hy verder teen die afgrond afgly nie. Dit was verskriklik!”

“Daar was niks meer wat jy kon doen nie.”

Luca se stem is oneindig teer, so teer dat sy nie langer die trane kan keer nie.

“Met sy aankoms by die hospitaal het my pa ... wel, my pa het ’n ventrikulêre fibrillasie gehad,” vertel sy hortend.

“Ai!” Hy klik sy tong. “Dit moes baie ontstellend vir jou gewees het.”

Dit was. Sy onthou die spoed waarmee die elektrodes op haar pa se borskas aangebring is. Die dokter wat diens gedoen het in ongevalle het ’n knoppie gedruk om die defibrillator te laai. Sy het die nare geluid gehoor en vrees het die asem uit haar lyf gepers. Sy het die dood leer ken en sy het geweet: haar pa was besig om te sterf. Soos haar ouma en haar ooms en haar ma. Besig om haar te verlaat. Om nooit weer terug te keer nie.

Dit was asof sy na ’n film gekyk het. Die dokter wat beveel: “Staan opsy!” Die skok wat toegedien word, haar pa se uitgeteerde lyf wat ruk en die verpleegpersoneel wat hoopvol na die monitor kyk. Van haar het hulle heeltemal vergeet. Sy’t eenkant gestaan, ’n buitestander wat niks kon doen om haar pa te help nie. Hulle was besig om hom te verloor en daar was niks wat sy kon doen om hom hier te hou nie. Die magteloosheid van daardie oomblikke sal haar altyd bybly.

Eers ná die tweede skok, eers toe sy die tweede keer moes sien hoe haar pa se maer liggaam ruk, het die monitor met ’n biepgeluid gereageer.

“Daar’s hy!” het die dokter verlig gesê. “Dis beter. Hou dit so, hoor.”

Jenna was nie seker of haar pa hom kon hoor nie, maar sý het. Sy het nader gestaan. “Pa!” het sy dringend by sy oor gesê. “Pa moet vashou, hoor. Ek het Pa nodig!”

“My pa was by sy volle bewussyn toe hy teater toe is,” vertel sy, haar stem soos skuurpapier. “En hy was bang, sy naels het in my handpalms ingesny. My groot, sterk pa wat voorheen nie vir die duiwel sou stuit nie, my pa wat my siek ma haar lewe lank op die hande gedra het, wat my op sy skouers gedra het selfs toe ek eintlik al te groot en te swaar was daarvoor, my pa wat enigiets wat stukkend was kon regmaak ... hy was daardie dag so afhanklik soos ’n baba, en net so vreesbevange ook.”

“Dis een van die bekendste simptome,” sê Luca. “Die angstigheid, die vrees ...”

Hy kom staan langs haar, sit sy arm om haar skouers. “Jy hoef nie verder te vertel nie.”

Maar sy wil! Sy wil elke oomblik van daardie dag herleef omdat sy dit nog nie kon regkry om dit te begrawe nie.

Sy skud haar kop. “Ek moes vorms teken dat hulle kan opereer, moes bevestig dat hy ’n siekefonds het. Daarna het ek in die wagkamer gesit en die tyd het stilgestaan. Daar was mense om my, maar ek kan nie onthou wie nie. Of wat hulle gesê het nie. My pa se predikant het ook opgedaag, maar ek was net vaagweg bewus van sy teenwoordigheid. Ek het nog nooit in my lewe presies só alleen gevoel nie.”

Sy kyk skielik vraend na Luca. “Wat presies gebeur daar in die teater?” Sy frons. “Ek het al so baie keer gewonder waarom my pa se persoonlikheid so radikaal verander het ná sy hartomleiding. Ek weet daar is mense wat beweer dat so iets wel na ’n hartóórplanting kan gebeur, al is daar natuurlik nie wetenskaplike bewyse daarvoor nie. Maar in my pa se geval was dit tog sy eie hart waaraan daar gewerk is. Waarom dan die vervreemding, asof sy liggaam nie meer sy hart wou aanvaar nie?”

Luca knik nadenkend. “Ek is feitlik my hele volwasse lewe nog besig met ’n studie oor die korrelasie tussen die mens se gees en sy liggaam,” sê hy ernstig. “En al wat ek weet, is dat daar nog steeds so baie verborge is vir ons as medici. Wat weet ons in werklikheid van die verband tussen liggaam en gees, of van die skeiding tussen liggaam en siel, selfs wanneer die dood intree?”

“En ’n hartoperasie is ’n klein dood,” prewel sy. “ ’n Menslike ingryping om die lewe terug te gee.”

“Dis basies wat daar gebeur, ja,” sê hy.

“My pa het dit oorleef,” vertel sy verder. “Maar hy sou nooit weer dieselfde wees nie. Hy het sy oë oopgemaak en die sny oor sy bors gesien, die stekies waarmee dit vasgeheg was en die wete van wat met hom gebeur het, het vir hom werklikheid geword. Sedertdien is hy swak. Of dit net sy gees is en of sy liggaam self nog nie heeltemal herstel het nie, weet ek nie.”

“Dis heel moontlik ’n kombinasie van die twee.”

“Ek moes by hom gebly het, hom versorg het, maar Koekemoer Internasionaal het my Londen toe gestuur.” Sy onthou die tweestryd in haar, hoe sy later daarmee vrede gemaak het dat tannie Rademan ’n ogie oor haar pa sal hou en haar sal laat weet wanneer dinge verkeerd loop.

Maar toe ontmoet sy vir Frederick – en die liefde blom en haar kuiertjies in Suid-Afrika word minder en minder. Sy wou Frederick nie vir ’n oomblik alleen los nie, nie vir ’n dag of ’n naweek nie, en beslis nie vir ’n week nie. Miskien was sy toe al bewus van die krake in hul verhouding, miskien het sy toe al begin vermoed dat sy hom nie kon vertrou nie. Maar sy wou nie haar twyfel teenoor haarself erken nie.

Aanvanklik het sy hom opgepas soos ’n baba, agter hom aangery wanneer hy naweke op seminare moes gaan of sommer vir die plesier die Engelse platteland gaan verken het. Maar later kon sy nie byhou nie. Frederick het al verder weggedwaal en haar werk was veeleisend. En natuurlik was Kareltjie ook daar ...

“Ek moes meer aandag aan my pa gegee het,” bieg sy nou. “Maar my werk ... my eie lewe ... was vir my te belangrik.”

“Dis nog nie te laat om iets daaraan te doen nie,” troos Luca terwyl hy na sy sleutels begin soek om te loop. “Solank as wat ’n mens se hart klop, is daar hoop. En die Hart-akademie kan hom daarmee help. Dink gerus daaroor.”

Dit voel skielik vir haar asof die sware las wat sy tot dusver alleen gedra het, gedeeltelik van haar skouers af is. Hoe wonderlik sal dit nie wees as iemand soos Luca haar daaraan kan help dra nie!

Sy val langs hom in om saam voordeur toe te stap. Sy pluk haar pajamabroek hoër op en is meteens skaam vir haarself. “Ek lyk soos ’n afgesloofde huisvrou,” maak sy verskoning. “Al wat ek kort, is krullers in die hare, ’n sigaret in die mond en my tande in ’n glasie langs die bed.”

“Ek sê al lankal vir jou jy moet die sigarette los.” Die kreukels om sy oë verdiep.

“Ek kan nie onthou wanneer ek laas ’n sigaret tussen my vingers gehad het nie,” verseker sy hom.

Maar hoe lank sy nog van die nare gifpyltjies sal kan wegbly as haar hande so ledig gaan bly, weet sy nie.

“En so gepraat van ’n afgesloofde huisvrou ...” Hy beduie tergend met sy hand: die vuil skottelgoed in die kombuiswasbak, die kussings wat in die sitkamer oor die mat gestrooi lê, die opgefrommelde kniekombersie waarmee sy haar die vorige aand toegegooi het toe dit begin koud raak, die leë bekers op die koffietafel. “Die vrug van jou arbeid is nie juis sigbaar nie, hoor.”

Hy frons. “ ’n Mens kan nie help om te wonder wat gisteraand alles hier aangegaan het nie. The mind boggles!”

Sy kan hom gerusstel, die prentjie van ’n orgie of iets ergers wat in sy gedagtes gevorm het met ’n paar woorde uitwis, maar iets weerhou haar daarvan. Soos sake staan, weet Luca de Wet hopeloos te veel van haar persoonlike lewe. Veral noudat sy haar pa se probleme ook teenoor hom gaan staan en uitblaker het. Laat hom gerus maar raai oor haar liefdesake – wat inderdaad glad nie bestaan nie!

Kristel Loots-omnibus 1

Подняться наверх