Читать книгу Kristel Loots-omnibus 1 - Kristel Loots - Страница 6

Оглавление

3

Toe sy in haar motor klim wat voor die hospitaal geparkeer staan, besef Jenna weer presies hoe alleen sy is. Hoe graag sy ’n lewensmaat sou wou hê by wie sy kon gaan kla as die lewe haar stief behandel, of as daar die slag iets goeds met haar gebeur.

Sy gaan maak ’n draai by haar pa.

“Ek was by die kardioloog, Pa,” vertel sy toe sy hom uiteindelik sover kry om van die kombuis af nader te slof om vir haar die voordeur te kom oopsluit. “Die hartdokter.”

Hy kyk haar kwaai aan. “Jy moet wegbly daar. Jy weet wat met my gebeur het.”

“Ek onthou, Pa. Maar gelukkig het alles toe goed uitgewerk op die ou end,” probeer sy hom uit die put kry waarin hy hom duidelik weer bevind.

“Watwou! Alles goed uitgewerk? Ek moes dood gewees het. Ek wás ook dood. ’n Masjien het vir my asemgehaal. My hart het loop staan, die dokters het my hart in hulle hande gehou. Daarmee gespeel soos met ’n rugbybal.”

“Dis darem nie heeltemal wat gebeur het nie, Pa,” keer sy.

“Ek moes nooit na jou geluister het nie, nooit in die eerste plek dokters toe gegaan het nie. Hulle het my net loop opneuk.”

“Maar hulle hét darem ook Pa se lewe gered ná die hartaanval.”

“Wat húlle my laat kry het, ja.”

“Hoofsaak is dat Pa nie dood is nie.” Sy probeer dit so vrolik as moontlik sê. “Is Pa nie bly nie?”

“Is ek?” vra hy. “Ek kon by jou ma gewees het. Ek wás daar. Vir ’n kort rukkie was ek daar, maar toe sit hulle my hart terug in my borskas en hulle kry hom weer aan die loop ...”

“En toe kom Pa terug na ons toe.”

“Na wie toe moes ek terugkom? Hier is niks meer vir my nie.”

Sy weet depressie kom algemeen voor by hartpasiënte, maar soms maak haar pa haar moedeloos-moeg. Miskien, dink sy taamlik droewig, miskien as hy kleinkinders gehad het, wás daar vir hom iets om voor te leef. Maar daar is nie. Daar is net ek, en ek is duidelik nie die moeite werd om voor uit die dood terug te keer nie.

“Wat ook al, Pa,” redeneer sy tog nog met hom. “Dit was nie ons besluit om te neem nie. Dit was ’n Hoërhand wat besluit het dis nog nie Pa se tyd om te gaan nie.”

“Was dit, my kind? Was dit die Hoërhand se besluit, of het ons gaan foeter waar g’n mens behoort te neuk nie?”

Haar pa het te veel tyd op hande, dink Jenna. Te veel tyd om te dink, om oor goed te wonder waarvoor daar nie antwoorde is nie.

Sy wou haar goeie nuus met hom deel, vir hom vertel dat die kardioloog geen fout vind met haar hart nie, maar haar pa is nog nie gereed vir goeie nuus nie. Sy wou vir hom vertel van Amore, van die lywigste vrou wat sy in haar dag des lewens gesien het. Sy wou hom selfs vertel het van Luca de Wet ... Maar haar pa se wêreldjie het klein gekrimp en daarin is nie meer plek vir haar en haar belewenisse nie.

Sy kuier nog ’n rukkie, maak vir hom tee, bak vir hom ’n tjoppie sonder vet en smeer vir hom brood sodat sy aandete nie net uit droë brood en koffie sal bestaan nie. Sy voel skuldig toe sy kort daarna na haar woonstel toe verkas, maar dit voel of die mure van haar ouerhuis op haar wil val sodat sy nie asem kan kry nie.

Toe bel sy maar vir Adam, omdat daar niemand anders is wat sal belangstel om te hoor nie.

“Ek het my toets geslaag,” vertel sy opgewonde. “Die uitslag word glo binnekort vir Koos gefaks en hy kan maar daardie kontrak uit sy laai haal. Ek is reg vir hom.”

“Dit sal nie vandag of môre wees nie, ou girl,” antwoord hy. “Koos is boots and all in die Ooste. Gister weg on the spur of the moment. Hy wheel en deal daar tot die einde van volgende week.”

“Ag nee, man! Wat is ek nou veronderstel om te doen?”

“Jy kan natuurlik in die meantime by my team aansluit, of jy kan afvat en sorg dat jy jou beauty sleep inkry voordat die rat race weer vir jou begin. Ná wat daardie vark jou aangedoen het, kan jy doen met ’n lucky break.”

“Ek wil nie nou oor die vark praat nie,” keer sy voordat Adam behoorlik op dreef kan kom. Hy kan so lekker bitch oor iets dat sý by hom kan leer. Sy wil ook nie saam met hom in dieselfde groep werk nie, dis net te veeleisend. Praat van ’n drama queen! Elke ou dingetjie wat verkeerd loop, word opgeblaas tot ’n ramp. Sy’s baie mal oor Adam, maar sy verkies om hom as ’n vriend te hê, eerder as ’n kollega.

“Nou waaroor wíl jy dan praat dat jy my oor lunch-tyd bel? Wat wil jy my vertel?”

“Van my hart, man. En van die nommer wat my hart geclear het.”

“Let me guess – hy’s ’n hunk!”

“Wat laat jou so dink?”

“Wel, die man moet iets hê om jou gedagtes af te lei, want dis die eerste keer vandat jy jou lyf runaway bride gehou het dat jy nie oor die vark wat jou dit laat doen het, wil praat nie.”

“Ja, wel, die hartman ís nogal ’n hunk. ’n Arrogante beer van ’n man wat hom verbeel hy’s spesiaal gekies en hierheen gestuur om harte heel te maak.” Of te breek, kan sy nie help om te dink nie. “Eintlik het die man my van die begin af verkeerd opgevryf.”

“Jong, jy hét maar ’n paar serious hang-ups as dit by dokters kom, veral hartdokters. And who can blame you? Ná wat met jou pa gebeur het.”

“Ek was nou net weer by my pa. Hy gaan by die dag agteruit.”

“Daai ou ballie van jou moet uit sy groef kom of hy gaan jou ma in die graf join, hoor wat ek jou sê. Hy’s hopeloos te morbid om te survive, en hy trek jou ook af tot diep down in the dumps.”

“Moenie so praat nie, Adam. Hy’s al wat ek het.”

“En wat van my? Jy’t darem nog vir my ook.”

“Net totdat jy weer ’n liefde in jou lewe het. Dan gooi jy my opsy.”

“Wel, lovey, op die oomblik gaan ek deur ’n droogte soos wat die Karoo nie ken nie. Daar’s sweet nothing op die horizon.”

“Fine! Dit pas my!”

“How can you be so cruel, doll?”

“Kom dans Saterdag saam met my. Daar’s glo ’n nuwe plek in Blouberg. In die Elizabeth Hotel.”

“En hoekom sal ek en jy nou all of a sudden gaan dans? Pray tell!”

“Dis wat my kardioloog aanbeveel het. Vir my senuwees, jy weet?”

“Come again! Jou senuwees? As jý aan jou nerves ly, speel ek skrumskakel vir die Springbokke. Niemand wat jou al sien operate het, sal dit glo nie. Jy’t senuwees van staal, doll.”

“Ek is nie meer wat ek was nie, Adam,” herinner sy hom.

“Nee, seker nie, nie nadat die vark met jou gemors het nie.”

Nou is Adam behoorlik op dreef. Sy laat hom begaan, sy laat hom afpak oor wat Frederick haar alles aangedoen het en oor alles wat hy Frederick sou aandoen as hy van die bakleierige soort was.

Asof hy dit sal waag om ’n vinger teen Frederick te lig, dink Jenna. Daar sal net ’n nat kolletjie van hom oorbly. Maar dis goed om te weet daar is iémand wat aan haar kant is.

“Sal jy nou saam met my gaan dans?” vra sy toe hy stoom afgeblaas het.

“But of course. Jy weet ek verf graag die stad rooi saam met jou. Only a pleasure, my dear, only a pleasure.”

“Fine. Dan sien ek jou Saterdagaand.”

“Wat trek ons aan? Black tie?”

“Ek het nie ’n cookin’ clue nie.”

“Wel, ek is lus om ’n bietjie op te dress. Let’s go for it, doll. Kom ons maak ’n behoorlike entrance, ek en jy!”

Sy kan nie onthou wanneer laas sy moeite gedoen het met haar voorkoms nie. Toe sy reggemaak het vir die troue, ja, toe het sy vir elke skoonheidsbehandeling moontlik gegaan in die tye wat Koekemoer Internasionaal haar nie besig gehou het nie. Haar van kop tot toon laat doen. Manikuur, pedikuur, bikiniwaks, alles wat beskikbaar was. Sy wou Frederick se voete onder hom uitslaan en hom op sy knieë dwing. Aan háár voete, vir die res van haar lewe ...

Onnodig moeite gedoen. Geld gemors. Verniet! Alles verniet!

“Ja, ja,” sug sy net en groet.

Daardie aand gaan krap sy tog in haar going-away tas, wat vandat sy in Suid-Afrika geland het nog net so onaangeraak in die hoek van haar slaapkamer haar staan en koggel. Sy blaai deur die sexy nagkabaaitjies wat sy vir haar wittebrood aangeskaf het en smyt die flentertjies lap wat as onderklere moes dien eenkant toe.

’n Mens sou in elk geval dubbele longontsteking kry as jy dié goed in die hartjie van die winter in Londen sou dra, besluit sy grimmig. Sy behoort dankbaar te wees – sy’t ’n noue ontkoming gehad.

Onder in die tas, netjies opgevou en in plastiek toegedraai, kry sy die aandrok wat sy sou aantrek wanneer sy en haar nuwe eggenoot saans sou gaan dans. Dis ’n spogrok, ’n feëverhaalrok wat haar opnuut na haar asem laat snak.

Die hemelsblou materiaal vou sag om haar lyf toe sy die rok aanpas. Dit wys net genoeg been by die splete langs die kante om ’n mens nuuskierig te maak. What a waste, dink sy bitterbek, om hierdie rok aan te trek om saam met Adam te gaan dans. Mind you, hý sal dit juis waardeer, dalk meer as enige ander man. En beslis meer as Frederick, wat haar nie na waarde geskat het nie en dit beslis ook nie met haar rok sou doen nie.

“Jy lyk stunning!” laat Adam dan ook hoor toe sy Saterdagaand die deur vir hom oopmaak. “You’re a knock-out, girlfriend!”

“Jy lyk self nie te sleg nie,” antwoord sy en staan opsy om hom in sy spierwit pak klere behoorlik te bekyk.

By die hotel aangekom, trek hulle nogal heelwat aandag toe hulle na die hysbak stap om na die boonste vloer te gaan. Dis ’n spoggerige plek met koninklike rooi matte en ’n aura van geld en ouwêreldse glans. Daar roer iets in Jenna se binneste, iets soos ’n vrolikheid, ’n dankbaarheid om hier te wees. Sy is nou wel nie aan die sy van die man met wie sy gedink het sy ’n nuwe lewe gaan begin nie, maar ten minste saam met ’n vriend wat haar nie in die rug sal steek nie.

Sy haak by Adam in en leun met haar kop vertroulik teen sy skouer. “Dankie dat jy saamgekom het,” fluister sy.

“Ag, jy kén my mos. Born to be of service.”

Hulle hoor die musiek van ver af, maar dis ’n gedempte klank. Sag, absorberend. Soos die weelderige wegsak-matte waarop hulle stap. Haar maag trek op ’n opgewonde knop – asof daar iets opwindends anderkant die deur na die danssaal vir haar wag.

Ek leef nog, dink sy verwonderd. Ek voel nog. En my voete jeuk nog om op die maat van die musiek aan die dans te gaan.

Gelukkig is Adam besonder vlugvoetig – so het sy hom op skool en later op universiteit geken. ’n Voordanser en ’n voorsanger, veral wanneer die voggies sy stembande geolie het.

“Ons gaan vanaand pret hê – ek en jy,” belowe sy toe sy styf ingehaak by hom oor die drumpel tree. Die klank van ’n baskitaar weergalm in haar kop en die huilende tone van die viool tower ’n bittersoet verlange by haar op. Na wie of wat weet sy nie werklik nie.

Sy’t skaars haar aandsakkie aan die leuning van ’n stoel gehaak of Adam wink haar nader. “Kom, ons gaan dans nou dadelik voordat dit ’n issue raak om op te staan.”

Sy stap in sy arms en kyk vrolik op na hom. “Laat waai,” moedig sy aan.

Sy voel die musiek deur haar lyf gaan, sy vind die ritme van die stadige wals en laat toe dat Adam haar oor die vloer lei.

Toe die laaste note van die wals wegsterf, mik sy na haar stoel, maar iemand tik haar op die skouer. Sy kyk nuuskierig op – en haar kop ruk orent.

“Luca!” roep sy verbaas uit. “E ... dokter De Wet, ek het nie verwag om jou ... om u hier te sien nie.”

Sy bloos. Die mansmens kry dit reg om haar soos ’n idioot te laat optree, hoekom weet sy nie. Sosiaal is sy tog goed aangepas – almal by Koekemoer Internasionaal is. ’n Mens wheel en deal nie met die grootbase van firmas vanoor die hele wêreld sonder ’n goeie kwota sosiale vaardighede nie. Dis net ... dêmmit, sy het hóm nie hier verwag nie. Sy kan nie dink dat dit eties korrek is vir ’n kardioloog om saam met sy pasiënte op dieselfde dansvloer te wees nie. Iets daaraan voel net nie reg nie.

Daar’s ’n meisie by hom – ’n blondine. Wat anders het sy dan ook verwag? Luca de Wet kan natuurlik kies en keur tussen die mooiste vroue in die Kaap, en dié een tel beslis onder hulle. ’n Perdebylyf gegiet in ’n goue rok wat aan haar kleef asof sy daarin gebore is. Slaappopblou oë en hare wat tot aan haar skouerblaaie strek.

“Ek kom gereeld hier dans,” antwoord hy onverstoord. “Ek hou van die atmosfeer en die verskeidenheid musiek wat hulle speel.” Hy draai na die blondine. “Amanda, laat ek jou voorstel aan ... e ... aan Jeanette. Jeanette, ontmoet Amanda van der Merwe, ons puik biokinetikus van wie ek jou vertel het.”

“Moenie alles glo wat hy jou vertel nie,” laat hoor die blondine laggend. “Luca oordryf graag as dit by enigiets kom wat met sy werk te doen het.”

Haar stem is suikersoet, die glimlag waarmee sy na Jenna kyk ook.

“My naam is eintlik Jenna,” korrigeer sy toe sy haar hand na Amanda uitsteek.

Nie dat dit werklik saak maak nie, dink sy. Nie wanneer ek teenoor iemand soos Amanda van der Merwe te staan kom nie. Dan tel dit nie, dan tel ék nie.

“Jenna! Dis reg!” Luca lag. “Ekskuus, ek het vir ’n oomblik vergeet.”

Adam kug en Jenna trek hom dadelik nader. “Dis Adam,” sê sy. “My ...”

“Haar boesemvriend,” vul Adam aan. “The one and only.”

Daarna is daar niks meer te sê nie, en Jenna begin trap ongemaklik rond.

“Nou maar geniet die aand,” maak Amanda ’n einde aan die ongemaklikheid voordat sy en Luca wegstap na die teenoorgestelde hoek van die saal.

Dis duidelik dat Adam skaars kan wag om buite hoorafstand te kom. “Wiedehel is dit? Moenie vir my sê dis dear doc nie! Hy’s ’n dish as daar ooit een was!”

“En het jy sy meisie gesien?”

“Sy’s ’n beauty, orraait, but you can take her on, Jenna, old girl. Met ’n paar boobs soos joune you can do anything.”

“Ek het geen begeerte om met haar mee te ding nie. Hoekom sal ek dit wil doen?”

“Because of die dokter, wat anders? Toe hy gemaak is, is die mold beslis weggegooi. Hy’s ’n once-off, take my word for it! Tall, dark and very, very handsome.”

Jenna oorweeg dit om dadelik te loop, maar sy weet dit sal nie ongemerk by Luca verbygaan nie. En sy sal hom nie die genoegdoening gun om te weet dat hy so ’n radikale invloed op haar het nie. Dis vreemd, dink sy, sy’s tog nie man-verskrik nie.

Dit net omdat hy my ’n paar dae gelede in ’n oopgaap-japon gesien het, besluit sy. ’n Mens behoort nooit sosiaal saam met jou dokter of kardioloog of – die hemele behoed – jou ginekoloog te verkeer nie. Dis net te weird vir woorde.

Dan vererg sy haar. Luca de Wet behoort nie hierdie plek by sy pasiënte aan te beveel as hy self hier gaan wees nie. Dis ’n blatante skending van die dokter-pasiënt-verhouding as sy haar nie misgis nie. Maar sy ís nou hier en sy is lus vir dans, besluit sy.

Daarom bly sy nie lank sit nie. Toe Adam haar weer nooi om te dans, val sy by hom in. Hulle dans totdat die dorstigheid hulle tafel toe dwing.

“Ek gaan gou my neus poeier,” sê sy hygend.

“Oukei. Dan maak ek ’n draai by die bar.”

Sy klad water oor haar warm gesig en knap haar grimering op. Sy verstom haar aan die blos op haar wange. “Nog nie dood nie,” prewel sy binnensmonds. “Allesbehalwe!”

Toe sy terugloop na die hoek waar sy en Adam sit, loop sy haar trompop teen Luca vas. “Aa!” roep hy uit. “Net die meisie na wie ek soek. Hoe lyk dit? Sal ons dans?”

Dans? Met hom? In sý arms? Die arrogansie daarvan! Waar is Amanda van der Merwe dan? Hoekom dans hy nie met háár nie? Watter verskoning kon hy daarvoor kry om met een van die afvlerk-voëltjies wat met ’n hulpbehoewende hart by hom kom aanklop het te dans?

Nee, wil sy sê, ek wil nie met jou dans nie, Luca de Wet. Ek soek nie onnodig moeilikheid nie.

“E ... my handsak.” Sy lig die aandsakkie sodat hy kan sien sy is beslis nie paraat daarvoor om met hom te dans nie.

“Ek sit daardie knapsakkie van jou sommer in my baadjiesak,” maak hy ’n plan, en voeg sommer die daad by die woord voordat sy kan keer.

“Nee!” keer sy en steek haar hand uit om die aandsakkie terug te neem. “Ek wil nie eintlik nou dans nie.” Sy voel die warmte in haar wange opstoot.

“Hoekom nie? Is jy bang?” Daar dans ’n tiental duiwels in die donker oë wat in hare kyk.

Ja. Sy ís bang. Sy’s vir Luca de Wet so bang soos vir die duiwel self – en sy weet nie waarom nie. Die man het tog geen houvas op haar nie. Hy’t na haar hart geluister, met sy masjiene gekyk wat in haar hart aangaan en besluit sy is fiks genoeg om haar volle gewig by Koekemoer Internasionaal in te gooi.

Sy’s klaar met hom, sy moet net sorg dat sy nie weer by plekke opdaag waar hy ook kan wees nie. Dan hoef sy hom nooit weer in die oë te kyk nie. Daarom lig sy haar kop ’n aks hoër en kyk hom vas aan.

“Jy’s aanmatigend, dokter Luca de Wet,” sê sy. “Ek het al met groter mans as jy gedans.” Laat hom daaruit aflei wat hy wil!

“Nè?” Sy wenkbroue lig spottend. “Kom,” nooi hy gul en trek haar sonder meer nader. “Kom ons kyk of jy ’n tonetrapper is wat daardie groot ouens gepynig het en dringend danslesse nodig het.”

Daar is iets betowerends aan sy glimlag. Betowerend en ook baie, baie gevaarlik. Jenna weet sy behoort dit nie te doen nie, maar sy aanvaar die uitdaging. Sy beweeg asof vanself nader na hom toe. Net hierdie een dans, beloof sy haarself. Net om te voel hoe dit voel om met hierdie arrogante blikskottel te dans. Uit pure nuuskierigheid.

Sy versluierde blik speel oor haar gesig toe hy sy hand om haar middel laat gly. Haar wang raak aan die growwigheid van sy baadjie. Die man lyk soos ’n prins in sy tuxedo, registreer dit by haar. Hy ruik lekker en hy voel goed teen haar lyf. Groot en stewig en standvastig. Soos ’n rots! Vir ’n oomblik voel sy gekoester teen alle gevare, veilig, geborge, asof hierdie man haar met sy groot, warm liggaam sal beskerm teen wat haar ook al wil aanval. Sy stry verbete teen die lekkerkry-warmte wat deur haar sprei.

Hierdie man sal soos ’n dwelm op ’n mens inwerk, waarsku Jenna haarself. Hy sal ’n waansin in jou wakker maak wat jou aan die hemel sal laat raak. Hy is net te aantreklik, te sterk, te gevaarlik om goed te wees vir die hart wat in ’n vrou se borskas klop.

Hou jou kop bymekaar, spreek sy haarself ernstig aan. Onthou die musiek, hierdie heerlik meesleurende musiek wat jou wil wegvoer na ’n fantasieland, sal weer ophou. En die koue, kliniese klanke van die werklikheid gaan nugterheid bring wat jou verleë sal laat.

Maar sy verloor die stryd ...

Dis of hulle liggame saamsmelt toe hy haar oor die dansvloer begin stuur.

“Dis ’n tango,” fluister hy in haar hare.

“Ek weet.” Haar stem is skor.

“Kan jy die tango dans?”

“So op ’n manier.”

As my hart dit sal hou, sou sy kon byvoeg. Want die tango is die dans van die liefde. En die lus. Die tango is gemaak vir verleiding, vir warm, polsende passie. Wanneer ’n vrou die tango dans, gee sy haar oor aan ’n man, dans sy willoos, gehoorsaam, waar hy haar lei. Met haar rug na die gevaar. Wanneer ’n vrou die tango dans, speel sy met vuur.

Sy voel sy spierkrag onder haar hande. Soos ’n renperd met ingehoue energie. Daar is ’n dierlike drang in haar wat haar dwing om op te kyk in sy donker oë waarin daar ’n vuur brand wat sy nie in sy spreekkamer gesien het nie. Dis asof iemand anders die bewegings van haar lyf oorneem, asof haar voete die ritme van die dans gehoorsaam sonder dat sy beheer het daaroor.

Vir ’n oomblik druk hy sy gesig in haar hare. ’n Sug ontsnap uit sy liggaam. “Die tango is ’n wonderlike dans,” sê hy met sy mond teen haar slaap.

“Ja,” stem sy saam. “Dit is.”

Sy wil meer sê, iets slims sodat hy sal weet sy is nie so onnosel soos wat sy klink nie, maar sy vertrou nie haar stem nie. Sy’s bang dat die begeerte wat asof van nêrens af in haar lyf kom klim het, daarin gehoor sal word. Dat hy sal weet ...

Ek wíl so vasgehou word, dink sy begerig. Deur ’n man soos hierdie. ’n Man met ’n borskas waarteen jy kan skuil, ’n man met ’n adamsappel soos hierdie, ’n man soos hierdie ...

Vir ’n klein ewigheid vergeet sy van alles. Van haar pa wat teen ’n afdraand afgly sonder dat sy hom kan keer, van Frederick en sy verraad, van Koekemoer Internasionaal wat soms meer van haar vra as wat sy het om te gee, en selfs van Amanda wat iewers op hierdie man wag om na haar terug te keer.

“Die tango het ’n ryk geskiedenis,” hoor sy hom sê.

“ ’n Mens is nie veronderstel om te praat terwyl jy die tango dans nie.”

“Maar fluister is seker toelaatbaar.”

Sy skrik vir die intimiteit waarmee hy na haar kyk.

“ ’n Mens is ook nie veronderstel om te glimlag nie,” sê hy en glimlag af na haar. “Dis ’n baie dramatiese dans.”

“Die man en die vrou ... is ook nie veronderstel om mekaar ... in die oë te kyk nie,” stamel sy.

Veral nie met die intensiteit waarmee hy dit doen nie.

“Nee, hulle moet verby mekaar kyk, doer ver die toekoms in.”

Hy pluk haar nader aan hom. “Reëls is gemaak om gebreek te word,” fluister hy in haar oor, sy asem warm teen haar wang.

Ja, dink sy. Net hierdie één keer. Net vir ’n oomblik.

Sy hou haar blik versluier, gee haar oor aan die towerkrag van die oomblik. Met die vaste wete dat dit nie vir altyd kan aanhou nie, dat hierdie droommooie oomblik ’n hersenskim is wat binnekort in die niet gaan verdwyn.

Tot haar verbasing voel sy trane agter haar oë brand. Wat gaan met haar aan? Wat wil sy van hierdie man hê? Hy’s ’n vreemdeling. ’n Dokter! Háár dokter! Die kardioloog wat vroeër die week met ’n kennersoog na die werking van haar hart gekyk en na haar ander organe geluister het. Sy probeer die kliniese atmosfeer van die ondersoekkamer herroep sodat nugterheid kan terugkeer, maar tevergeefs. Daarvoor is die musiek te mooi, oorspoel die ritme haar te gewelddadig en is die man in wie se arms sy dans, hopeloos te oorweldigend.

Toe sy skielik ’n koue luggie teen haar warm wang voel, kyk sy op. “En nou?” vra sy sag toe sy sien hulle bevind hulle op die balkon van die danssaal.

Hy antwoord nie, wys net met sy hand na die toneel voor hulle – die moederberg, die fosforblink branders wat soos wilde perde na die strand toe aangerol kom.

“Daar is iets wat ek vir jou moet sê,” laat hoor hy na ’n rukkie. “En dit kan nie langer wag nie.”

Sy kyk op na hom, kom dan agter dat sy arm nog steeds om haar middel rus.

“Ek wil jou nie langer as ’n pasiënt hê nie. Ek kan nie. Ek sal jou na een van my kollegas verwys en jou lêer na hom stuur. Onthou dus wanneer jy vir ’n opvolgbesoek kom dat dit nie by my sal wees nie.”

Sy weet nie wat sy verwag het nie, maar dis asof hy haar met ’n emmer koue water in die gesig gooi. Is dít hoekom hy met haar gedans het? Om haar sag te maak sodat sy nie ’n bohaai daaroor sal maak dat hy haar na ’n ander dokter skuif nie?

“Hoekom nie?” vra sy en ruk van hom af weg. “Is dit omdat ek dit gewaag het om jou teë te gaan? Omdat ek nie saamstem met die manier waarop jy jou pasiënte blykbaar die een na die ander slagpale toe stuur nie? Wat het geword van vrye keuse? Mag jou pasiënte nie self oor hul behandeling besluit nie? Is dít die probleem?”

“Hokaai!” Hy hou sy hand in die lug. “Dit het niks daarmee te doen nie, Jenna.”

“Ek dink dit het. Ek dink jy’s nie gewoond daaraan dat iemand jou, of enige van jou medeslagters se metodes bevraagteken nie. En ek dink dis baie onregverdig van jou om nou ’n koue skouer in my rigting te draai net omdat ék dit gewaag het.” Sy sit haar hande in haar sye. “Ek dink ek het die volste reg gehad om dit te doen.”

“Wag nou, Jenna, ek wil nie met jou baklei nie.”

“Nee, seker nie. Don’t rock the boat! Dis wat almal glo. Die dokter se woord is wet en almal aanvaar dit so. Almal vertrou hul geneesheer, want hy’t mos daardie wonderlike Hippokratiese eed afgelê en dit maak outomaties van hom ’n edele man. Ek het ook vroeër so gedink, ek het geredeneer dat ’n dokter nie soos enige ander sakeman sal optree nie, dat die edelheid van sy beroep hom daarvan sal weerhou. Maar ek was verkeerd. Dit het ek gesien toe my pa in die hospitaalgange beland het, en eers vrygelaat is nadat sy mediese fonds behoorlik gemelk is en hy na liggaam en gees versnipper is.”

“Jy verstaan my heeltemal verkeerd.”

Maar sy laat haar nie stilmaak nie. “Vir maande, nee, jare al word daar angiogramme gedoen wat miskien nie eens nodig was nie, en links en regs word stents vir hartpasiënte ingesit. As jy ’n draai by ’n kardioloog gemaak het, kon jy maar weet dat dit jou voorland sou wees. Want soos ek verstaan van my kollegas wat ’n sake-analitiese studie daaroor gedoen het, moet ’n kardioloog ’n sekere aantal angiogramme per jaar doen om toegelaat te word om die fasiliteite by ’n hospitaal te gebruik.”

Hy plaas sy hand op haar arm. “Dit is so, Jenna, ek kan nie stry nie. Die mediese beroep gaan soos alle ander beroepe basies oor wins en verlies. As die hospitaal ’n verlies ly, gaan dit die voortbestaan daarvan bedreig. Dis so eenvoudig soos dit, en niemand behoort dit beter te verstaan as ’n sake-analis soos jy nie.”

“Nee!” Sy skud haar kop hewig. “Jy sal my nie oortuig van die toelaatbaarheid daarvan nie. Wanneer dit gaan om menselewens, of die kwaliteit van hulle lewe wanneer hulle uit die hospitaal ontslaan word, mag die winsgrens nie relevant wees nie. Die mediese beroep ís nie ’n beroep soos enige ander nie. Om geld te maak uit die weerloosheid van mense kan nie geregverdig word nie.”

“Dis ook nie wat ek bedoel nie. Natuurlik moet die pasiënt se welstand die deurslaggewende faktor wees, en daar behoort nooit onnodige operasies of ander behandelings toegepas te word nie.”

“Veral as daar nie behoorlik navorsing gedoen is nie.”

“Dis vanselfsprekend.”

Sy stem is nou allesbehalwe strelend – hy bulder. Hulle mag in die maanlig staan met die sout van die seelug op hulle lippe en met Tafelberg wat oor alles troon, maar van ’n romantiese atmosfeer is daar nie sprake nie. Dit voel eerder of sy haar in ’n oorlogsone bevind.

“Dis nié so vanselfsprekend nie!” blits sy. “Omdat metaalstents soms verwerping tot gevolg het, word daar sedertdien gebruik gemaak van middel-vrystellende stents, soos jy natuurlik baie goed weet. Sonder om in ag te neem dat die komplikasies daaraan verbonde baie gevaarlik kan wees.”

“Hoe weet jy al hierdie dinge?”

“My pa ...” Sy hoor hoe haar stem breek. “Hy moes ’n antistolmiddel drink nadat ’n stent by hom ingeplant is.”

“Dis noodsaaklik, ja.” Sy hoor die skielike onsekerheid in sy stem. “Aanvanklik is daar gemeen dit sal net vir ’n tyd lank nodig wees, ses maande, miskien ’n bietjie langer ...”

“Presies. En niemand waarsku jou dat jy dit dalk vir die res van jou lewe sal moet gebruik nie. Of dat jy sonder die bloedverdunningsmiddel die gevaar loop om ’n hartaanval te kry.”

Hy draai na haar, sit sy hande op haar skouers. “Wat het gebeur?” vra hy. “Vertel my.”

Sy skud haar kop. “Ek wil nie nou daaroor praat nie. Kom ons sê maar net my vertroue in die mediese professie het heelwat afgeneem.”

“Soveel so dat jy my ook van allerhande duistere motiewe verdink omdat ek jou nie meer as pasiënt wil hê nie.”

Sy sluk aan die knop in haar keel. “Wat anders kan die rede wees?”

“Dit, Jenna. Dít.” Hy trek haar nader. “Ek wil jou in die maanlig soen en ek mag dit nie met een van my pasiënte doen nie.”

Sy gee ’n hulpelose uitroep toe sy mond oor haar wang beweeg om op hare tot rus te kom. Eers is dit net ’n teer veeg oor haar lippe, maar die intensiteit daarvan laat haar na asem snak.

“Wat doen jy?” fluister sy.

“Wat ek al die hele aand wil doen terwyl jy en die ou met die wit pak dans asof julle dit al ’n leeftyd lank doen.”

“Ons doen dit feitlik al ’n leeftyd lank,” prewel sy. “Vandat ons saam op skool was.”

Hy snoer haar lippe met sy mond op hare. Hierdie keer gloei sy lippe van ingehoue passie. Sy mond verg meer van haar, word hard en besitlik op hare.

Sy steier op haar voete, haar gedagtes ’n warboel, haar lyf ’n kraaines van begeerte en skok. Wat dóén ek? vra sy haarself af. Waarom laat ek toe dat hierdie man, hierdie kansvatter, hierdie geldwolf, hierdie ... vreemdeling my soen?

Toe die soen verder verinnig, klou sy aan hom vas met ’n redelose oorgawe, onbewus van waar hulle hulle bevind. Dis asof sy in ’n spiraal beland wat haar insluk, wat haar nader en nader aan Luca trek sodat sy in ’n maalstroom van ekstase meegesleur word.

“So ja,” sug hy toe hy haar uiteindelik laat gaan. “Nou het ek dit hopelik uit my gestel gekry en kan ons normaalweg voortgaan.” ’n Glimlag krul om sy mooi mond.

Jenna moet aan die muur vashou om nie om te val nie. Die swernoot! dink sy wrang. Die ellendeling het ’n proefneming met haar gedoen. Haar gesoen omdat hy nuuskierig was oor hoe sy sou reageer. Haar gesoen sodat hy dit uit sy gestel kon kry. Sonder dat dit vir hom enigiets beteken het ...

Sy meisie alleen in die saal gelos, haar van Adam af weggerokkel, haar op ’n slinkse manier tot hier gekry. Hier waar jy die stem van die see kan hoor, waar die toorkrag van die maanverligte strand met jou emosies goël. Haar gesonde verstand is stom gemaak. En toe het hy haar gesoen soos sy nog nie voorheen gesoen is nie – ’n soen wat sy nooit sal vergeet nie, deur ’n man wat haar vrouwees in haar diepste kern aangeraak het.

Sy behoort hom te klap. Dramaties hier weg te storm, vir Amanda te gaan vertel wat haar geliefde doen wanneer sy nie in die omgewing is nie, hom te laat aankla vir seksuele teistering. Of iets! Maar haar bene is lam, die res van haar lyf ook.

Sy bly soos ’n vergete speelding op die balkon agter toe hy haar handsakkie vir haar aangee en sy rug op haar draai om binnetoe te gaan. By die ingang na die dansvloer huiwer hy ’n oomblik. Sy blik brand op haar.

Dan sug hy en lig sy hand in ’n afskeidsgroet.

Ek sal nooit weer met hom dans nie, besef sy. Nooit weer in sy arms wees nie. Daardie bittersoet marteling sal nooit weer myne wees nie.

Ek was ’n dwaas, raas sy met haarself. Ek het hom ’n kykie in die geheime hoeke van my wese gegee. Nou weet hy van my; hy ken my swakheid. Dat my diepste begeerte na ’n man is ...

Kristel Loots-omnibus 1

Подняться наверх