Читать книгу Kristel Loots-omnibus 1 - Kristel Loots - Страница 9
Оглавление6
Toe Jenna Maandagoggend wakker word, strek die dag weer lank en leeg voor haar uit. Sy’s nie gewoond daaraan om niks te doen te hê nie. Inteendeel. Normaalweg het sy skaars tyd om haarself in die spieël te bekyk. Dis ’n goeie ding. ’n Gedraal voor die spieël laat jou te veel dinge raaksien, veral as daar nie fout is met jou oë nie. Maar wel met jou lyf ...
Ek is nie so slank en so soepel soos wat ek kan wees nie, besluit sy toe sy skuins draai voor die lang spieël en haar kurwes van die kant af bekyk. Slank en soepel genoeg om met niks meer as ’n vyeblaar in Sports Illustrated te poseer was sy nog nooit, maar tot dusver was daar oor die algemeen niks verkeerd met haar lyf nie.
Vra maar vir Frederick. Hy sou beslis nie met ’n paal aan haar geraak het as dit anders was nie. Frederick se standaarde is hoog – hy hou van sy vroue slank en sexy. Verder is hy nie vreeslik kieskeurig nie. Of hulle nou vir ’n korporatiewe reus soos Koekemoer Internasionaal werk en of hulle geld verdien deur uit koeke te spring, maak nie vir hom veel verskil nie.
Ek moet ophou om aan Frederick te dink, besluit sy vir die soveelste keer. Want saam met die gedagtes aan hom kom die herinnering aan Kareltjie – en aan die onreg wat sy hom aangedoen het. Sy krimp ineen as sy daaraan dink. Eendag, eendag sal sy nog verantwoording daarvoor moet doen, sy weet. Sy sal haar straf moet dra, want daar is geen regverdiging voor om ’n kind seer te maak nie.
Sy keer die snik wat oor haar lippe wil bars.
“Ek moet iets met myself aanvang, of ek raak van my verstand af,” spreek sy haar spieëlbeeld streng aan. “Miskien moet ek maar my lendene omgord en gim toe gaan.” Sy kreun. “Selfs al wil ek eerder oor gebreekte glas loop as om na Luca de Wet se raad te luister en soos ’n getroue en redelose werkesel in ’n gim te gaan swoeg en sweet.”
Sy gaan krap in haar kas op soek na iets om aan te trek. Gelukkig kry sy ’n swart leotard wat sy soms onder haar toppies dra wat te deurskynend is. Koos het nie veel te sê oor hulle kantoordrag nie, maar sy is versigtig om nie die verkeerde boodskap oor te dra nie. Wat sy in haar werk regkry, is nie aan vroulike verleiding of ’n deurskynende bloesie toe te skryf nie. Sy kan, ten volle en ordentlik geklee, met die beste van die mans op die personeel meeding as dit by sake-analise kom.
Heel onder in haar kas kry sy ’n sweetpakbroek wat sy soms in die winter voor die televisie dra. Al bietjie wollerig van baie was, maar die mees geskikte kledingstuk om by die leotard aan te trek vir ’n gimsessie.
“Dis nou ’n nuttelose vermorsing van energie,” mompel sy toe sy minute later by die deur uitstap. “Maar dis ’n manier om die dag om te kry.”
Gelukkig is dit nog vroeg. Almal wat ’n werk het, almal wat ’n lewe het, is óf op pad om hul brood in die sweet van hul aangesig te gaan verdien, óf is reeds besig daarmee. Die gim behoort taamlik leeg te wees.
Toe sy die deur na die gim oopstoot, ruik sy die chloor van die swembad, vermeng met die sterk geur van ’n salfie wat as doepa dien vir seer spiere. Dis ’n ander wêreld hierdie, besef sy. ’n Wêreld waar sý nie inpas nie. Sy oorweeg dit om in haar spore om te draai, maar ’n ou met ’n surfer-kuif wat by die ontvangstoonbank staan, het haar klaar raakgesien en wag op haar om nader te stap.
Sy wys die besoekerskaartjie wat Luca vir haar gegee het vir hom.
“Is dit dokter Luca wat jou gestuur het?” wil hy weet.
Sy knik. “Ek wil op hierdie stadium net waarneem wat julle alles aanbied,” verduidelik sy.
“Net ’n oomblik.”
Hy draai weg om eers ’n oproep te maak. Jenna kan haar ore nie glo nie. Sou hy eers vir Luca bel om seker te maak dat sy wel welkom is hier? Vertrou hy haar nie?
Dis die sweetpakbroek, dink sy. Die wollerigheid op die knieë. Sy moes vir haar state of the art-klere gaan koop het voordat sy hier opgedaag het. Dan was dit nie nodig om haar eers onder ’n vergrootglas te plaas nie.
“Jy is welkom om enige van ons apparate uit te toets,” verseker die jong man agter die toonbank haar toe hy die oproep beëindig het. “Ek kan jou rondwys as jy wil.”
Hy stap saam met haar na waar ’n aërobiese klas aangebied word. Dis ’n gehuppel en ’n getrippel vir die vale, en sy weet sommer sy sal nie by hierdie klomp springhase kan byhou nie. Verder is die instrukteur ’n mannetjiesagtige vroumens met ’n skril stem wat na ’n sersantmajoor op steroïede klink.
Jenna kan haar skaars voorstel dat sy haar sal laat hiet en gebied deur ’n vroumens soos hierdie. In háár wêreld, daar waar sý koningin kraai, is dit sý wat bevele blaf, sý wat delegeer en beheer.
“Hoe lank duur so ’n oefenklas?” wil sy weet.
“ ’n Uur, maar die oefeninge word elke kwartier afgewissel.”
Sy lag verleë. “Ek twyfel of ek genoeg asem het vir ’n volle uur se work-out.”
“Maak nie saak nie. Jy kan ophou net wanneer jy wil.”
En die grap van die dag wees, ja, dink sy.
“Sodra jy aansluit, stel ons vas hoe fiks jy is, en dan word daar vir jou ’n program uitgewerk. Spesiaal om aan jou behoeftes te voldoen.”
Oor my dooie liggaam, besluit sy. Dis nie nodig om toetse te doen om uit te vind hoe fiks sy is nie. Sy weet! Die strafste oefening wat sy die afgelope paar jaar gekry het, was om die loopbaanleer te klim – en hier tel dit net mooi niks. Hier is sy aan die verloorkant.
Sy weet goed wat sal gebeur: sy sal ingedeel word saam met die lammes en die kreupeles, die oues van dae wat eintlik al op die stoep moet sit en hekel maar wat, tot haar verbasing, in hul tientalle met sakkerige lywe in gimklere hier rondloop asof hulle dit geniet. Ooms met boepense en tannies wat soos meelsakke lyk. Ou mense wat gewoonlik oor pille, grille en brille gesels, trap hier rond dat die sweet spat.
Sy vermoed die meeste van hulle is heelwat fikser as sy en sal langer as sy kan volhou. Vir daardie vernedering sien sy nie kans nie. Eintlik wil sy van hierdie jongeling ontslae raak sodat sy op eie stoom kan sien waartoe sy in staat is – indien enigiets.
Sy kyk na die stel trappe wat voor haar uitstrek. Om teen daardie trappe op te stap, is eintlik al genoeg oefening vir haar vir die dag, maar die trapmeule is op die boonste verdieping en sy wil soontoe. Sy wil aan haarself bewys dat die vertoning wat sy in Luca se spreekkamer gelewer het, nie die beste is waartoe sy in staat is nie.
“Sal jy vir my wys hoe om die trapmeul se spoed te stel?” vra sy op pad soontoe.
Die ou met die surfer-kuif is maar net te gretig. “Hoe vinnig wil jy stap?”
“Nie té vinnig nie.” Sy bloos. “Ek is bevrees ek is nie juis fiks nie.”
Hy hou hom met die kontroles besig. “Kom ons kyk hoe goed kom jy hiermee reg,” stel hy voor.
Jenna klim op en begin stap.
“Dankie,” sê sy met ’n glimlaggie. “Ek sal self verder regkom.”
“Roep maar as jy hulp nodig het, hoor.”
En daarmee is hy weg. Die musiek dawer uit die luidsprekers teen die mure. Genoeg om ’n mens ’n hoofpyn te gee, dink sy, wat normaalweg nie na hierdie lawaaierige musiek sal luister nie al betaal jy haar. ’n Mens kan jouself nie hoor dink nie. Wat dalk ’n goeie ding is, besluit sy, want anders gaan jy jou dalk skaam omdat jy jou hier op speelgoed vir grootmense bevind en sowaar betaal vir die marteling waaraan jy jou willens en wetens blootstel.
Ek kan dit doen, dink sy na ’n rukkie toe sy besef dat sy steeds die pas volhou. Ek kán ten minste darem ’n paar kilometer ver stap sonder om flou te val, a nee a! Hierdie is nie die moedswillige martelmasjien waarop ek in Luca se spreekkamer beland het nie. Hierdie is ’n meer genadige ding wat ek kan baasraak.
Maar toe sy opkyk, val sy in elk geval amper flou. Sy knip haar oë. Hallusineer sy nou van dié bietjie oefening, of wat gaan aan? Maar nee, dit kan net Luca de Wet wees wat die trappe twee-twee uitgedraf kom.
Jenna moet alles uithaal om in pas te bly. Hier moet ek wegkom, besef sy, en sommer gou ook. Voordat hy my sien. Maar daar is soveel kontroles voor haar dat sy nie kan uitwerk hoe om die ding te stop nie. Sy weet nie of sy net kan afspring nie en haar verstand wil nie werk nie. Dis net haar voete wat trap, trap, trap ... Bult-op, aanhouer wen, stap soos ’n besetene – sonder om verder te kom. Dis of haar lyf oorgeneem het waar haar kop agtergebly het.
En buitendien waai hy al van ver af in haar rigting.
“Haai!” groet hy joviaal toe hy langs haar op ’n trapmeul inval. “Ek is bly om jou hier te sien.”
“Wat soek jý hier? Hierdie tyd van die oggend?” vra sy moedeloos.
“Ek het ’n uurtjie vry voordat ek met my operasies begin.”
En jy kon aan niks beters dink om te doen nie, dink Jenna vies. Sy’s nie ’n bobbejaan nie. Daar is natuurlik gekonkel. Daardie telefoonoproep was nie verniet nie; hy’t geweet sy is hier. En hy’t besluit om te kom kyk hoe sleg sy vaar. Hom daarmee kom vermaak!
“ ’n Mens sou dink ’n besige kardioloog het dringender sake om hom mee besig te hou as om agter een van sy koppige pasiënte aan te loop,” merk sy op. “Eks-pasiënt, om die waarheid te sê.”
“As ek vir my pasiënte – of eks-pasiënte – preek om oefening te kry, moet ek dit sélf ook doen,” lag hy.
Maar was dit nou regtig nodig dat jy dit hier en nou moes doen? vra Jenna haarself af. Hier waar ek vir die eerste keer in jare dit waag om my lyf te probeer regruk.
“Smiddae na werk gaan oefen ek gewoonlik by die Hart-akademie,” vertel hy. “Die gim daar is een van die beste in die stad. Maar as daar ’n kansie deur die dag opduik, val ek sommer hier in.”
Hy loer na die kontroles van die trapmeul waarop sy haar bevind voordat hy op die trapmeul langs hare klim.
“Jy moet altyd onthou om jou polsslag dop te hou terwyl jy oefen,” gee hy ongevraag raad toe hy teen ’n heelwat sneller pas as hare aan die drafstap gaan.
Hopelik gaan die mansmens nie met haar ’n gesprek probeer voer terwyl sy hier staan en sweet nie, dink Jenna. Sy’t skaars asem om aan die gang te bly; vir praatjies maak sien sy nie kans nie.
Sy bloos. Sy lyk aardig, sy weet. Haar hare is in ’n klossie op haar kop vasgemaak en sy het nie ’n greintjie grimering aan nie. Haar sweetpakbroek moes lankal afgetree het en die leotard wys te veel cleavage. As Luca se lus om haar te soen nie voorheen uit sy gestel geweer was nie, sou dit beslis intussen soos mis voor die son verdwyn het. Elke keer wanneer hy haar sien, lyk sy sleg. Óf sy lyk soos ’n lui huisvrou, óf soos iets wat deur die kat by die gim ingedra is.
Sy loer tersluiks na hom hier langs haar. Hy’t ’n help-my-sterk-wees-hempie aan, maar enigiemand kan sien dat hy dit nie nodig het nie. Sy boarms en kuitspiere bult op die maat van die dansmusiek wat soos brekende branders oor hulle spoel.
Hier broei seker heelwat onheil in dié plek uit, dink sy toe sy om haar rondkyk. Hier met al die halfkaal lywe wat enigiets sal doen om gifstowwe uitgesweet te kry. Hier waar alles so op die fisieke fokus. Hier moet sy wegkom, veral wanneer iemand soos Luca de Wet langs haar staan en trap.
“Geniet jy dit?” vra hy bo-oor die gedruis van tromme en simbale.
“Nee!” skree sy. “Ek hou nie van oefening nie. Ek het nog nooit.”
“Nie eens op skool nie?”
“Nee! Ek was ’n bloukous. ’n Slim kind wat uitstekende punte in my rekenkundige vakke behaal het, maar wat uitgesak het wanneer ons liggaamsoefening gedoen het. Niemand wou my in hul span hê nie, want ek het hulle elke keer laat verloor.”
Hoekom sy dít vir hom vertel terwyl sy skaars asem in haar lyf oor het, weet sy nie. Miskien sodat hy moet verstaan dat sy haar glad nie tuis voel hier nie en dat sy nie weer gaan kom nie. Daar móét ’n ander manier wees waarop sy haar lyf kan regruk, ’n makliker manier.
Tog kom sy ná ’n rukkie agter dat sy ritmies op die maat van die musiek beweeg en dat dit glad nie sleg is nie. Don’t worry, be happy! sing sy later in haar gedagtes saam. Dis asof haar liggaam by haar oorgeneem het, of die trapmeul haar baas geword het, en dis nie ’n slegte gevoel nie.
Ek voel soos wat ek laas as kind gevoel het, dink sy. Soos ’n kaalvoetkind wat buite speel totdat die moegheid jou op die grasperk laat neerval om die wolke bo jou dop te hou.
“Don’t worry, be happy!” sing sy hardop saam toe die refrein van die bekende deuntjie herhaal word.
Sy sien hoe Luca in haar rigting kyk; sy sien die glimlag op sy bakkies. Hy dink natuurlik hy’t gewen, dink sy terwyl sy nog trap, trap, trap om by te bly. Dat ek nou ’n bekeerde is, dat ek aldag en heeldag hier gaan kom oefen totdat my hart soos dié van ’n jong meisie klop. Maar hy sal sy fout gou genoeg agterkom.
Toe die musiek eensklaps ophou, is dit of sy effens tot verhaal kom, maar sy hou aan met trap. Ná nog ’n paar minute kry sy dieselfde gevoel wat haar in die spreekkamer in die stof laat byt het. Of daar lood in haar voete is, in haar bene; asof haar hele lyf in lood verander. Die sweet tap haar af, brand in haar oë sodat alles voor haar in ’n waas verander.
“Nou’s ek moeg,” hyg sy. “En ek weet nie hoe om die ding te stop nie.”
Luca wip van sy eie trapmeul af om die regte knoppie vir haar te kom druk.
“Dis nie wat ek bedoel het nie,” hyg sy toe sy van die trapmeul afklim. “Nou het jy jou eie work-out onderbreek.”
“Maak nie saak nie. Ek moet in elk geval binnekort teruggaan. Net eers iets te drinke kry. Kom jy saam?”
Hoekom nie? dink sy roekeloos. Hy het my nou al op my slegste gesien. Wat maak dit tog saak? Buitendien, sy is dors van al die oefening.
“Ek sal seker gestenig word as ek koffie bestel,” merk sy op.
“Nee, net uitgelag word, of geïgnoreer word. Koffie is nie op die gim se spyskaart nie.”
“Seker net mineraalwatertjies.”
“En vrugtesap,” troos hy.
Sy is dankbaar dat hy die bestelwerk doen. Sy het skaars genoeg energie oor om tot by die kiosk in die hoek te stap en by ’n tafeltjie neer te sak. Eers teen die derde, vierde sluk bessiesap hou haar bene op met bewe.
“Lekker, nè?” vra Luca. “So ’n work-out?”
“ ’n Mors van tyd,” verseker sy hom. “Tyd wat soveel beter bestee kon word, tyd wat produktief aangewend kon word.”
“Hoe so?”
“In die tyd wat ek hier verwyl het, kon ek ’n paar duisend rand vir Koekemoer Internasionaal verdien het. Of een van ons kliënte raad gegee het wat sy firma op die lange duur miljoene rande kon spaar.”
“Of jy kon in jou spore dood neergeslaan het.”
Sy kyk verskrik op. “En nou? Wat het geword van positiewe denke?”
“Dit het plek gemaak vir nugtere denke. Oefening help om die nadele van ’n verkeerde leefwyse teë te werk. Buitendien: oefening werk juis positiewe denke in die hand.” Hy glimlag stout. “Onthou jy nie wat ons op skool geleer het nie? ’n Gesonde liggaam ...”
Sy rol haar oë. “... huisves ’n gesonde gees,” voltooi sy.
“Die beste oefening wat jy natuurlik kan doen, is dié wat deur ’n opgeleide biokinetikus vir jou uitgewerk word.”
“Soos deur Amanda van der Merwe?” vis sy.
“Enige biokinetikus wat weet wat hy of sy doen. In so ’n sentrum is daar voortdurend toesig oor die oefensessies, en jou aksies en reaksies word gemonitor en geëvalueer om aan jou besondere vereistes te voldoen.”
“En daarvoor betaal ’n mens seker ’n klein plasie se prys?”
“Jy betaal vir wat jy kry, Jenna,” antwoord hy streng. “En vir ’n mens se gesondheid is geen prys te hoog nie.”
Hy staan op. “So kan ek nog heeldag by jou sit en gesels, maar nie almal van ons se tyd is ons eie nie. Party van ons moet harte bewerk sodat die geldkoffers vol kan bly. Ek moet gaan stort sodat ek voor aandete ’n paar hartomleidings kan kafdraf om my rekeninge te betaal. Dis waarvoor mediese fondse daar is – om gemelk te word!”
Hy spot met my, besef sy. Hy’s seker van sy saak en van wat hy doen, en hy laat hom nie stuit deur my getjommel oor die nodigheid daarvan al dan nie.
Sy staan lank onder die stort in die gim se goed toegeruste badkamer en laat die water oor haar gaan. Sy is deesdae ’n vreemdeling vir haarself. Al wat sy ken, is om van douvoordag tot laat die rotresies te hardloop. Van kantoor tot kantoor te hardloop, van lughawe tot lughawe. Om vergaderings te hou, om analises te doen, werkskemas op te stel en toe te sien dat haar voorstelle verstaan en uitgevoer word.
Om skielik twee hande te hê wat nutteloos in haar skoot lê, om agteroor te sit en ’n beker koffie te drink sonder dat sy haar mond brand, is ongekend.
Dis sommer nonsens, hierdie ding dat ’n mens tyd moet hê “to smell the roses”, besluit sy terstond toe sy haar begin afdroog. Om deur die lewe te jaag, hou jou só besig dat daar nie veel tyd vir ’n gewroeg is nie. Ledigheid is inderdaad die duiwel se oorkussing.
Sy gaan maak ’n draai by haar pa omdat sy nie aan ’n verskoning kan dink om dit nié te doen nie. En darem ook omdat sy na hom verlang – na haar pa soos sy hom onthou, nie na hierdie koponderstebo-man wat ineengedoke in sy leunstoel sit nie.
“Watse lelike skoene het jy aan jou voete?” brom hy toe sy oorkant hom plaasneem.
“Ek kom nou van die gim af, Pa. Ek het ’n bietjie oefening gaan doen.”
“Tekkies laat jou voete stink.”
Sy sug. “Daar’s heelwat ouer mense ook by die gim, weet Pa? Hulle oefen en hulle lag en gesels en dit lyk asof hulle dit vreeslik geniet. Dít alleen moet baie goed wees vir ’n mens se hart.”
“Skimp jy nou dat ek ook soos ’n mal ding moet gaan staan en rondspring? Jy weet wat die dokter gesê het.”
“Die dokter het gesê Pa kan maar ’n bietjie oefening kry, Pa moet net versigtig wees. Om die waarheid te sê, hy’t gesê dit sal Pa goed doen.”
“Wil jy nou my dood verhaas of wat?”
Sy voel ’n hoofpyn aankom. “Hoekom sal ek dit wil doen, Pa?”
“Dan is jy mos van my ontslae, dan kan jy met jou lewe aangaan sonder om elke af en toe hier by my aan te kom.”
“Daar’s ’n grootskerm-televisie ook,” probeer sy nog. “En weet Pa wat? Hulle wys net sportprogramme.”
“Seker net sokker. Ek stel nie belang in sokker nie.”
“Nee, Pa, rugby ook. En krieket en motorresies. En sokker,” voeg sy in alle eerlikheid by.
Maar haar pa wil niks weet nie. Hy verkies om hom hier te sit en verknies en die lewe daar buite te ignoreer.
Jenna onthou skielik van Luca se aanbod: dat sy by die Hart-akademie moet begin werk – en haar pa moet saamvat soontoe.
“Onthou Pa nog dat ek by ’n kardioloog was?” probeer sy die onderwerp aanroer om sy reaksie te toets.
“Jy moet wegbly daar,” waarsku hy dadelik.
Sy ignoreer die onderbreking. “Ek het hom weer raakgeloop.”
“Onthou wat met my gebeur het.”
“Dokter De Wet is betrokke by ’n huis waar ’n klomp mense met hartprobleme saambly. Hulle noem dit die Hart-akademie.”
“Soos ’n oumenshuis? Waar almal wat gekrok is ingeprop word tot hulle die emmer skop? Daar kry jy my nie solank daar darem nog asem in my lyf oor is nie.”
“Pa het nog nie eens gehoor wat ek te sê het nie en Pa skiet dit al klaar af,” verwyt sy.
“Ek bly net hier waar ek is. Hier dra julle my voete eerste uit. Hoe dink jy, wat sou gebeur het as ek destyds agter jou aangefoeter het Engeland toe soos jy wou hê? Waar het ek dan nou gesit?”
“By my, Pa. Ek sou Pa saam met my teruggebring het.”
Sy sluk. Miskien is dit tog nie so vanselfsprekend nie; miskien sou sy nie aan hóm gedink het die dag toe die pôpô die fên gestrike het nie. Sy het Kareltjie aan die genade oorgelaat – ’n kleuter wat haar só nodig gehad het. Wie sê sy sou dit nie met haar pa ook doen nie? Sy’s nie ’n goeie mens nie, sy’s selfsugtig en wreed teenoor ander.
“ ’n Mens flenter nie die wêreld vol rond soos ’n voël sonder nes nie,” brom haar pa nog.
Jenna moet haar oë knip om van die trane ontslae te raak. “Ek het ’n fout gemaak, Pa. Ek het verkeerd gekies toe ek Frederick gekies het, en ek moes daar wegkom voordat ek die res van my lewe spyt sou wees daaroor.”
“En die kind? Wat van die kind van wie jy my vertel het?”
“Ek kon hom nie saambring nie, Pa. Ek hét mos verduidelik. Hy was nie myne om saam te bring nie.”
Daar is ’n fisieke pyn in haar bors. “Daardie dinge is verby,” kry sy dit met moeite uit. “Nou moet ek en Pa die skerwe optel en aangaan met ons lewens.”
“Jou ma is dood, Jenna. Ek is alleen,” kla hy.
“Ek weet, Pa, maar Pa leef nog.”
Hy snork. “Met ’n hart wat op genade klop. Met bloed wat ’n ompad loop.”
“Maar hy klop nog, Pa.”
Soos myne, sou sy kon byvoeg. Soos myne waaroor ’n paar manspote in Londen geloop het, maar wat nog met tye onverklaarbaar aan die huppel kan gaan.
“Ons moet probeer om daardie hart van Pa aan die klop te hou,” stel sy voor.
“Hoekom sal ons dít wil doen? Vir wie sal dit saak maak?”
Haar geduld raak op. “Vir my, Pa! Dit sal vir mý saak maak! Pa is al wat ek het, en ek het Pa lief.”
Sy het baie gelees oor depressie vandat haar pa daaraan begin ly het. Sy weet van die donker kombers wat depressielyers toeval. Sy besef dat logika sulke tye by die deur uitvlieg en dat niks meer sin maak nie, maar soms kry sy lus om hom aan sy skouers te skud totdat hy weer toelaat dat die son oor hom skyn.
Asof dit so maklik is! Asof sy dit sélf aldag regkry!
“Niemand kan my liefhê soos ek nou is nie,” merk haar pa op.
Sy leun op die ingewing van die oomblik oor en soen hom op die voorkop. “Ek moet sê, dis nie maklik nie,” lag sy. “Maar ek het nie juis ’n keuse nie, of hoe?”
Toe hy opkyk na haar, sien sy vir ’n oomblik die pa van haar kindertyd in sy oë.
“Kom ek vertel Pa van hierdie Hart-akademie,” stel sy voor. “Pa hoef nie nou al ’n besluit daaroor te neem nie, luister net na my en dan dink Pa daaroor.”
“Nou goed dan, laat ek tog maar hoor wat jy met my wil aanvang. Waarheen jy my wil stuur om genadebrood te eet vir die res van my lewe, hoe lank of kort dit ook al mag wees. Miskien moet ek dankbaar wees dat jy my dít ten minste nog gun. They shoot horses, don’t they?”
Verbeel sy haar, of is daar ’n glinstering in sy oë?
Sy vertel hom alles wat sy by Luca gehoor het. Van die gesellige samesyn, van die hulp wat altyd beskikbaar is, van die mediese sorg wanneer dit nodig is. Maar ook van die bingo-aande en die rolbalbane.
“Daar was ’n tyd toe Pa mal was oor sport, onthou Pa? Nie net om vanuit ’n leunstoel waar te neem nie, maar om daaraan deel te neem ook.”
“Ja. Dit was toe ek nog nie die gevaar geloop het om enige oomblik dood neer te slaan nie.”
Sy neerslagtigheid val haar toe soos ’n grys tronkkombers, maar net vir ’n oomblik.
“Ek het nou so gedink: as Pa in elk geval nie omgee of Pa lewe en of Pa doodgaan nie, is dit miskien maar beter om dit daar te doen,” gaan sy vasberade voort. “Dalk verras die plek Pa nog. Dalk is dit nog pret om daar te gaan afsaal. Soort van.”
Hy antwoord haar nie dadelik nie.
“Wil jy regtig hê ek moet dit doen, Jenna?” vra hy ná ’n rukkie. Hy kyk na haar met ’n skaars helderheid in die seegroen oë in sy verweerde gesig.
“Ek weet nie, Pa,” antwoord sy eerlik. “Ek weet nie regtig wat om daarvan te verwag nie. Luca ... dokter De Wet, die kardioloog ... het voorgestel dat ek my werk by Koekemoer Internasionaal bedank en daar inval. Dan is ek sommer naby Pa ook.”
“Hoekom sal jy dít wil doen? Jou lewe gaan staan en opmors om by my te wees? Koekemoer Internasionaal betaal jou mos ’n vet salaris. Behandel hulle jou nie meer goed nie of wat?”
Dis so lanklaas dat hy haar oor iets wat haar raak uitgevra het dat sy verras na hom kyk.
“Daar’s nie fout by Koekemoer Internasionaal nie, Pa. Dis net ...” Sy aarsel. “Dis asof die projekte wat ons aanpak nie meer vir my dieselfde uitdaging as vroeër inhou nie. Of ek nie meer soveel plesier daaruit kry nie.”
Sy bly verbaas stil. Dalk is dít wat haar deesdae pla: die knaende onsekerheid of sy regtig weer by Koekemoer Internasionaal wil inval. Eers toe sy dit sê, toe sy die vae gedagte verwoord, besef sy dat dit inderdaad so is.
Sy het aangeneem sy wil teruggaan Koekemoer Internasionaal toe omdat dit al is wat sy ken, al is waarop sy kan terugval noudat haar toekomsdrome daarmee heen is. Maar miskien ... miskien is daar vir haar ’n ander uitweg. Miskien hoef sy nie weer deel van Koos Koekemoer se span te wees nie.
Sy kyk haar pa in die oë. “Ek is nie meer aldag seker of ek nog daar wil werk nie.”
“Vandat jy van Londen af teruggekom het?”
Haar pa verstaan dalk meer as wat hy wys. Sy knik.
“Almal weet daarvan – dat ek sou trou, maar nooit sover gekom het om dit te doen nie. Dis so vernederend.”
“Dink jy nog aan hom, daardie mansmens wat jou voete onder jou uitgeslaan het? Verlang jy nog na hom?” Sy stem is sag, simpatiek.
Sy probeer Frederick se beeld voor haar oproep. Die bonkige gestalte, die sandblonde hare, sy bruin oë agter die brilglase, sy dik nek, sy skouers, borskas, hande ...
“Ek verlang nog, Pa. Na dit wat ons gehad het – of eerder, wat ek gedink het ons gehad het. Maar na Frederick?” Sy skud haar kop ontkennend. “Nee, ek kan nie sê dat ek na hom verlang nie.”
“En die kind?”
Sy draai haar kop weg. “Die kind is elke oomblik van die dag in my gedagtes, Pa,” antwoord sy skor. “Die verlange na hom is soos ’n messteek in my bors. Soms voel dit vir my of my arms lam word, nutteloos langs my sye hang omdat die hunkering om hom teen my vas te druk nooit weer bevredig sal word nie.”
“En hy dan, Jenna? As jý so verlang, wat van hom?”
Die woorde kom soos glasskerwe oor haar lippe. “Ek kan nie myself toelaat om daaraan te dink nie, Pa. Asseblief, ek is nie sterk genoeg daarvoor nie. Dis te seer.”
“Maar dan moet jy dit gaan regmaak, my kind.”
“Hoe, Pa? Hoe kan ek dit regmaak? Daar is nie ’n manier nie. Ek sal vir die res van my lewe met hierdie skadu oor my gedagtes leef. Daar is niks wat dit kan beter maak nie.”
“Hulle sê tyd heel alle wonde.”
“Húlle sê baie dinge, Pa.”
“Is so,” stem hy saam. “Maar nie alles is waar nie.”
Sy spring op. “Nee, o blikskottel, Pa. Hier sit ons al twee nou in ’n put van depressie en kerm. Dit bring ons nêrens nie.”
“Wil jy hê ons moet gaan kyk wat gaan by daardie huis vir verflenterde harte aan?” vra hy met ’n klein glimlaggie.
Sy trek haar skouers op. “Ons kan netsowel. Ek sal bel en reël dat daar iemand sal wees om ons rond te wys. Hoe klink Sondagmiddag vir Pa?”
“Nee, dis maar goed so. Sover ek weet, het ek nie ’n ander afspraak nie.”
Weer kyk sy verras na hom. En ja! Sy verbeel haar nie. Daar is iets van sy ou humorsin te sien in die glimlag wat aan sy mondhoeke pluk.
Sy wil sommer tjank. Omdat sy na haar pa verlang, die pa van haar kindertyd, die pa wat nog diep binne-in hierdie afgetakelde man voor haar skuil.
“Ek gaan kyk gou of daar vir Pa ’n skoon hemp in die kas is,” sê sy voordat ’n tranedal haar oorval. “Pa moenie te gehawend lyk as ons daar aankom nie. Hulle moet dink ons het geld in die bank sodat hulle Pa ordentlik kan behandel.”
My pa het werklik iemand nodig om vir hom te sorg, besef sy toe sy voor sy kas staan. Daar’s ’n muwwe reuk aan al sy klere. Asof dit lanklaas lug gekry het, lanklaas gedra is omdat hy dag na dag dieselfde bruin broek en uitgerafelde trui met die paisleypatrone aantrek en daarmee in die huis rondslof. Van oggend tot aand, sewe dae ’n week.
Miskien is dít die rede waarom my trouplanne op so ’n volslae fiasko moes uitloop, dink sy. Sodat ek terug Suid-Afrika toe moes kom en meer aandag aan my pa moes gee, my verantwoordelikheid teenoor hom moes nakom. Wat ek met Kareltjie verbrou het, kan ek dalk met hom probeer regmaak. Dalk sal dit in ’n mate vergoed vir my skande, my sonde en die verskriklike onreg wat ek teenoor ’n onskuldige kind gepleeg het.
“Kareltjie ...” prewel sy sag.
Net die noem van sy naam is genoeg om die trane opnuut in haar oë te laat opwel.