Читать книгу Wolwedans in die skemer - Leon van Nierop - Страница 10
Оглавление6
Sonja bemerk die vraende uitdrukking op Diana se gesig terwyl sy steeds vir haar wag om in te stap.
“Ek . . . ek is jammer. Dis seker maar die skok van die ongeluk, ek . . .” Sonja raak aan die pleister teen haar gesig.
Sy het gehoop dat Diana sal toegee en haar sal aanraai om liewer na haar kamer terug te gaan, maar die gemoduleerde stem dreun voort: “Ons verwág jou vir aandete, Sonja.”
Na wat soos ’n ewigheid voel, loop Sonja toe tog maar in ’n groot voorportaal in.
Dan is dít Hotel Njala se woonhuis, dink sy. Dit lyk net so indrukwekkend soos die hotel. Steeds wil die paniek haar nie verlaat nie en moet sy veg om normaal voor te kom. Diana stap voor haar uit. Daar hang orals skilderye in die voorportaal.
“Wie is die skilder?” vra Sonja, want die styl lyk vaagweg bekend. Dan onthou sy waar sy dit tevore gesien het. In haar kamer.
Diana se stem raak koud. “Dis my man, Jan Joubert. Hy . . . skilder graag.” Sy kleur die woord “skilder” asof sy nog nie behoorlik aanvaar het dat hy skilder nie.
Hulle arriveer in die eetkamer. Daar is ’n groot etenstafel, keurig gedek, amper soos iets uit ’n tydskrif. In die middel van die tafel staan ’n bos bloedrooi rose in ’n vaas.
“Jy sit hier.”
Sonja is eintlik verbaas dat sy genooi is om ’n familie-ete by te woon. Sy het dit glad nie verwag nie. Sy gaan sit ongemaklik.
Die Jouberts verskyn een na die ander, soos karakters in ’n misdaadverhaal wat opdaag om die uiteinde van ’n moordondersoek aan te hoor.
Maggie Joubert stap eerste in. Sy dra weer ’n eenvoudige rokkie, dié keer met blompatrone. Haar hare is in haar nek vasgebind en haar oë is groot en skaam. Sy vroetel senuweeagtig met haar hande toe sy die stoel uittrek en kyk vinnig na Sonja. ’n Glimlaggie plooi om haar mondhoeke.
“Hallo. Welkom weer eens. Ek is bly jy is darem op. Hoe voel jy?” Maggie gaan sit en neem dadelik die servet voor haar, wat sy styf in haar hande klem voordat sy dit oopmaak. En toe, sonder om te wag op ’n antwoord, vervolg sy: “Ek is jammer dis so warm. Selfs die lugverkoeling help nie meer nie. Dalk omdat die vertrek so groot is.”
Diana loop agter Maggie verby en druk saggies met haar hande op haar skouer. Maggie sit haar hand op haar ma s’n en gee nog ’n poging tot ’n glimlag.
“Ek voel beter, dankie, Maggie,” antwoord Sonja. “Ek . . . is jammer, ek het nie aangetrek vir aandete nie. Ek het nie besef ek is werklik genooi vir . . .”
“Ons doen dit nie gewoonlik nie.” Adéle staan in die deur, haar oë op Sonja gerig. “Maar my pa het daarop aangedring. Hy voel hy wil jou verwelkom.”
Adéle stap na die bopunt van die tafel en Sonja verwag dat sy daar sal gaan sit, maar sy trek die stoel aan die regterkant uit. Sy kyk na Sonja asof sy nie lekker ruik nie en neem dan plaas. Sy sprei haar servet met ligte irritasie op haar skoot oop, dan sug sy. “Ons moet na die lugverkoeling laat kyk. Iets werk nie. As ek reg onthou, is dit jou departement, Magdaleen.”
Maggie knik gespanne. “Hulle kom môre kyk. Ek het vanmiddag gebel.”
“Môre is nie goed genoeg nie. Ek glo dinge moet dadelik gedoen word.”
Diana kom tot Maggie se redding: “Die man vir die lugverkoeling kom van Nelspruit af. Dit is die vroegste wat hy kon kom. Hy het ander verpligtinge gehad.”
“Ons moes eintlik vir Armand gevra het. Hy kan enigiets doen,” kap Adéle terug.
Diana beduie gespanne na die oop sitplek. “Eet Armand saam met ons?”
“Nee, Ma. Hy moet môre vroeg gaste rondneem op Pendula. Hy is terug Pendula-wildtuin toe.”
’n Stilte sak oor hulle toe. Buite hoor Sonja paddas. Sommige kwaak met diep brulpaddastemme terwyl ander met skril geluidjies na mekaar roep. En tussenin is daar sonbesies, al het die son reeds gesak. Dalk besef die insekte nog nie die son het ondergegaan nie, omdat die hitte nie wil wyk nie.
Sonja neem haar servet en druk die sweet van haar bolip af.
Adéle sit regop en skud haar hare uit haar oë, haar blik streng. “Hoekom word die beste eetservies vanaand gebruik? Ons gebruik dit net as hier belangrike gaste kom.”
“Jou pa het dit goed gedink om dit te gebruik,” sê Diana en daar is iets onsekers in haar stem, soos iemand wat verwag om aangespreek te word oor wat sy kwytraak.
“Dis ongewoon.”
Maggie kyk oor haar skouer. Sy frommel weer die servet tussen haar vingers, tot Adéle skerp opkyk. “Magdaleen, asseblief, jy is nie meer in matriek toe jy gewag het vir kêrels wat dikwels nie opgedaag het nie!”
Maggie verstyf en laat die servet val. Sy buk onder die tafel en soek dit gespanne tussen die ander se voete. Dan kom sy orent, glimlag verskonend in Adéle se rigting en sprei die servet weer op haar skoot oop. Diana neem haar hand en druk dit, maar sy spreek Adéle nie aan nie.
Sonja kyk na die stywe groepie wat om die etenstafel sit. Daar is nog nie ’n teken van die kos of van wyn nie. Al waarvan sy bewus is, is die blink eetgerei en duur porseleinborde. Op sommige borde is poue se gesigte geverf, die pluimpies parmantig regop.
Stilte. Niemand praat nie, amper soos ’n klomp koshuiskinders wat wag vir die koshuisvader om te bid.
Dan hoor Sonja voetstappe. Sy sien hoe Diana opkyk en Maggie gespanne oor haar skouer kyk. Selfs Adéle ruk haar rug nog meer regop.
Die stilte is tasbaar. Sonja se hande frommel deur die servet, nes Maggie s’n so pas. Haar voorkop begin sweet en sy raak weer bewus van die dowwe hoofpyn.
Toe gaan die deur oop. Jan Joubert verskyn met ’n gebakte hoender in ’n oondbak. Daar is groente en aartappels om die hoender gerangskik.
“Ek is bly julle is almal hier. En betyds.” Hy sit die bak in die middel van die tafel neer. ’n Kelner verskyn agter hom met ’n bottel rooiwyn wat hy in elkeen se glas skink sonder om te vra of hy mag. Toe hy by Sonja kom, keer sy hom. Almal kyk gespanne na haar en dan na Jan wat plaasneem.
Jan sprei sy servet op sy skoot oop en bekyk dan sy glas. “Jy is nie ’n wyndrinker nie, Sonja?”
Sy skud haar kop. “Met al die medikasie in my lyf dink ek nie dis ’n goeie ding nie, meneer Joubert.”
Adéle, Maggie en Diana kyk al drie na Jan en dan weer na Sonja, asof sy ’n reël oortree het. En Jan kyk na Sonja asof niemand tevore geweier het om wyn te drink nie.
Buite hou die sonbesies nou op met hul trillende geluid. Selfs die hadidas raak stil. Verbeel Sonja haar, of hoor sy ’n hond iewers huil?
’n Glimlag plooi om Jan se mondhoeke. Dis ’n gerusstellende glimlag. “Dan hoef jy nie.” Hy knik met sy kop na ’n ander kelner, wat water in haar glas kom gooi. Sonja knik dankbaar.
Jan lig sy glas. Hy leun vorentoe in Sonja se rigting. As hy na haar kyk, is sy intens bewus van sy oë. Donker, grou oë wat na iets soek. “Ek wil net namens ons almal vir jou sê baie welkom op Wolwedans, Sonja.”
“Hotel Njala, Jan. Die hotel se naam is Njala,” waag Diana dit.
Jan neem ’n sluk wyn wat nat aan sy lippe bly kleef. Hy kyk van die een dogter na die ander. “Die naam Njala het nooit by hierdie hotel gepas nie. Ek het dit ontwerp as ’n luukse hotel tussen die bosse. ’n Plek waar wolwe huil en hadidas vlieg. Die naam moes Wolwedans gebly het. Dis jý wat die naam gekies het, Diana.”
“Want hier is nie wolwe nie, Jan.”
Hy glimlag effentjies en trek sy mond in ’n dun lyn. “Jy moet jouself oopstel vir die wolf, Diana. Julle moet julleself almal oopstel vir die wolf. As jy die wolf aanvaar, maak Wolwedans vriende met jou. Anders is dit maar net dooie, vervelige Hotel Njala wat agteruitgaan by die dag. Want dit het nie die wolf se seën nie.”
Die vroue loer vinnig na mekaar en Adéle kyk in Sonja se rigting. “Ek dink regtig nie ons gas stel belang in wolflegendes nie, Pa.”
“Dan beter sy begin belangstel as sy gelukkig wil wees hier.”
Die glas water bewe in Sonja se hande en haar hande sweet so erg dat sy dit laat val.
Maggie gryp dit net betyds. “Pasop!” Sonja voel die spanning in Maggie se hande toe sy die glas vir haar teruggee. “Dit is nog van my ouma se porselein.”
Jan glimlag. “My ma sou net opgestaan en ’n ander glas gaan haal het. Aardse goed, Maggie. Aardse goed. Dis wat hier in jou hart is wat saak maak.”
“Ek dag Pa glo nie in die hiernamaals nie,” sê Maggie.
“Natuurlik glo ek nie daarin nie. Elke mens het sy hel hiér. Soos ek,” met ’n vinnige blik na Diana.
Diana se mond trek vasbeslote. “Welkom by Hotel Njala, Sonja.” Sy lig ook haar glas en kyk eers na Jan, dan na Sonja. “Dis goed om jou hier te hê. Ek hoop jy is gelukkig by Njala.” Sy beklemtoon die hotel se naam.
Sonja skrik vir die uitdrukking in Jan se oë. Hy kyk na Diana asof hy sy vrou wil doodkyk. Asof sý die indringer hier is.
Maggie se hand bewe effens. Dan lig sy haar glas. “Welkom, Sonja.” Maar sy noem nie die hotel se naam nie.
Almal se oë draai na Adéle. Sy lig ook haar glas en glimlag half toe sy na Sonja kyk. “Jy weet die pos van ontvangsdame beteken meer as net gaste verwelkom en besprekings maak. En nou hoor jy jy moet ook met wolwe dans. Sterkte.”
Jan slaan skielik hard met sy hand op die tafel, sodat die borde daarvan rinkel. Almal ruk soos hulle skrik, behalwe Adéle. Haar oë ontmoet Jan s’n koel en vreesloos. Toe hy praat, is sy stem baie sag. “Julle sal Sonja laat welkom voel in hierdie hotel. Wolwedans het lankal nuwe bloed nodig.”
Stilte. Maggie blaas haar asem stadig uit. Diana se skouers trek nog regopper. Adéle sit roerloos.
“Soos ek gesê het. Welkom, Sonja. Die werk by ontvangs is taai. Jy sal moet uithaal en wys,” sê Adéle.
Die spanning tussen Jan en dié dogter van hom is tasbaar. Dit is duidelik dat Jan tog ’n mate van respek vir haar het, want Adéle is skynbaar die enigste persoon wat dit waag om hom teen te gaan.
Na ’n lang ruk lig Jan sy glas vir ’n tweede keer in Adéle se rigting. “Jy moet met die wolf in die skemer dans, Sonja. Dis wanneer hy uitkom. Dis wanneer hy sy prooi soek.”
“Kan ons nou ophou met hierdie wolwe-snert!” Diana se senuwees laat haar in die steek en sy sit haar glas hard neer.
Die ander klink glase en Jan neem ’n groot sluk sonder om sy oë vir ’n oomblik van Sonja af te neem. Dan, skielik, sê hy in Adéle se rigting: “Ek sien Armand dwaal al weer hier rond. Dis nie sy hotel nie. Hy is heeltemal te tuis hier.”
“Ons raak een van die dae verloof, Pa.”
“Dit is jou probleem. Jy weet ek het nog nooit van die man gehou nie, of hy van my nie. Regte klein pierewaaier.” Jan neem nog ’n sluk.
Sonja dink daaraan dat sy daardie uitdrukking lank laas gehoor het. Lank laas? Of dalk voordat sy haar geheue verloor het?
“Het iemand jou al ooit geskilder, Sonja?” vra Jan skielik.
Sy kyk verbaas op.
Adéle kom dadelik tussenbeide. “Sy kan dan nie eers onthou wie sy is nie, Pa, wat nog of sy al geskilder is.”
“Want jy verdien om geskilder te word.” Hy trek liggies met sy vinger oor sy glas se rand sodat dit ’n hoë skreegeluid maak.
“Jan, asseblief,” sê Diana.
Maar Jan kyk steeds na Sonja. “Jy is baie, báie mooi.”
Sonja neem ’n groot sluk water. Sy wonder hoe sy die ete gaan oorleef. Jy kan die atmosfeer met ’n stomp bottermes sny – hoe gaan sy die kos afgesluk kry? Sy gee ’n stywe glimlaggie. “Wel. Uhm. Soos . . . Adéle gesê het, ek onthou so min, meneer Joubert. Ek twyfel egter of iemand my al geskilder het!”
“Miskien moet ék jou skilder.”
Adéle beduie na die hoender in die middel van die tafel langs die rose en wink die kelner nader. “Sal jy vir ons inskep, asseblief?”
Die kelner kom en begin inskep.
Tydens die ete praat niemand vir eers ’n woord nie. Al waarvan Sonja bewus is, is die klank van messe en vurke op fyn porseleinborde. Sy sien hoe Maggie haar kos inwurg. G’n wonder sy is so maer nie.
Adéle eet hare argeloos, dit is maar net nog iets wat sy moet doen. En Diana krap lusteloos deur haar kos.
Net Jan val weg asof hy nog nie vandag kos ingekry het nie. En toe, terwyl hy nog eet: “Ek is so jammer oor jou ongeluk, Sonja. Die paaie het na die reën vreeslik verspoel. Ek is net bly jy het nie seerder gekry nie. Jammer oor jou geheue, maar,” hy steek ’n vurk vol kos in sy mond, “dit moet eintlik bevrydend wees om vir die oomblik nie te weet wie jy is nie.”
Niemand reageer hierop nie.
Die kos raak dik in haar keel en toe dit begin voel of dit haar gaan verwurg, sit sy haar mes en vurk hard neer, met skaars die helfte van haar kos geëet.
Die nagereg word ingedra.
“Ek . . . voel regtig nog nie goed nie. Baie dankie, die kos was heerlik. Ek moet dalk liewer gaan slaap. My . . .” Enige verskoning. Enigiets! “My kop is nog seer.” Sonja staan op voordat iemand haar kan keer.
Adéle plaas haar mes en vurk op haar bord en vee die punte van haar mond met haar servet af. “Jy moet asseblief môreoggend halftien aanmeld. Maggie sal tot dan diens doen om al die gaste wat vertrek en die rekeninge wat betaal moet word te akkommodeer. Daarna begin jou opleiding. En terloops, ons eet elke aand hier as familie saam. Vanaand was maar net om jou te verwelkom.”
“Sonja is welkom om elke aand saam met ons te eet,” dreun Jan se stem.
“Pa, ek weet nie of ek gemaklik is hiermee . . .”
Jan slaan weer met sy hand op die tafel en staan stadig op. Hy gluur Adéle met woede aan. “Ek is darem nog die baas in hierdie huis, al is ek nie die baas van die hotel nie. Sonja Daneel sál elke aand saam met ons hier eet. Is dit duidelik?” Elke woord afgemete en strak.
Adéle kyk steeds vreesloos na haar pa. Dan kners sy die woorde deur haar tande soos iemand wat iets kwytraak wat haar folteraar haar gedwing het om te sê: “As dit dan moet.”
“Ek wens jy was net so heftig in jou keuse van ’n verloofde, Adéle, in plaas van om hierdie klein metroseksuele mannetjie te gekies het op wie se kop jy gaan sit.”
Sonja verlaat die eetkamer sonder ’n verdere woord. Die kos is besig om in haar keel op te stoot. Sy hardloop deur ontvangs na buite, en daar gooi sy op. Sy hoes en huil en bring op, alles tegelyk.
Baie later eers bedaar sy. Sy loop na ’n gastebadkamer toe en spoel haar mond uit, was haar gesig en raak liggies aan die pleister oor haar wang.
Sy stap haastig met die rivierklippaadjie af in die rigting van die swembad, maar sy loop verby dit en ook verby die bamboesriete wat ’n gordyn vorm teen die res van die tuin tot op die groot grasperk.
Onder ’n papajaboom sak sy inmekaar. Haar enkel is weer seer en haar skouer pla haar steeds, maar dis die hoofpyn wat nou oorweldigend is.
Sy lê later op haar rug en kyk na die sterre tussen die boomtoppe. Selfs hier krioel dit steeds van apies wat van tak na tak spring. Insekte swerm om die ligte. Iewers vlieg ’n uil op. Tyd gaan verby. Dalk ’n kwartier, dalk ’n halfuur.
Sonja haal weer ’n slag diep asem. Sy ruik aanhoudend frangipani en verrotte blare en maanblomme.
Die volgende oomblik hoor sy ’n spuitgeluid reg langs haar. Toe reën fyn druppeltjies oor haar neer. Die sproeiers het aangegaan, maar sy gee nie om nie. Dit koel haar af.
Sy lig haarself op en vou haar arms oop. Die druppels is genadiglik koel en maak haar weer behoorlik wakker.
Toe eers merk sy hom op. Ryno Lategan staan by die kraan waaraan ’n tydsmeganisme gekoppel is wat die sproeiers laat aangaan. Hy verstel daaraan en glimlag.
“Kry jy nou lekker?” Sonja voel hoe die druppeltjies teen haar voorkop afloop.
“Lekker is verskillende dinge vir verskillende mense.”
“Nou wat is vir jou lekker, Ryno?”
Hy grinnik en kyk op na die sterre. “O sherbet, ek kan jou báie, baie lank daarmee besig hou.”
“Gee my die kort weergawe.”
“Ek kry lekker as ander mense like wie hulle is. As hulle net hulleself is. En as hulle lag. Of smile. Soos jy, nou.” Hy maak sy mond groot oop en lag terselfdertyd.
Hy stap nader en lag steeds. Dis die glimlag van iemand wat sorgeloos deur die lewe gaan en nie ’n duiwel omgee wat hy doen of hoe hy dinge sê of wat enigiemand van hom dink nie. Hy stap rustig deur die sproeiers tot by haar.
En kom kniel langs haar. “Koel genoeg, Skiewies?”
Sy wil hom iets toevoeg. Sy wil vir hom skree dat sy voel of sy in die hel was netnou by die Jouberts en dat dit meer as koue water sal vat om haar te troos. Maar sy gesig is naby hare en sy oë raak bekommerd toe sy nie antwoord nie. Ten spyte van alles wat sy wil sê, knik sy.
“Ja. Dis . . . koel genoeg.”
Hy kom orent en steek sy hand uit, dan trek hy haar orent. Vir ’n oomblik staan sy teen hom en raak bewus van sy hart wat vinnig klop en die warmte van sy nat lyf.
Hy los haar en stap weg. Hy hou sy kop oor een van die sproeierkoppe sodat die water sy hare papnat maak en oor sy gesig stroom.
“Het jy al gewonder hoe haal visse asem? En wie die eerste toebroodjie gemaak het?”
Sy skud haar kop. “Ekskuus?”
“Dis waarvan ek hou, om sommer kaf te praat en te jol en berge te klim en te vergeet van reëls en regulasies. Dis ongeflippenlooflik lekker om in ’n ballon te ry of op ’n quadbike te wees of te river-raft. Ons moet dit alles eendag doen.”
“As dit my sal help om my geheue terug te kry, miskien, ja.”
Ryno vee oor sy hare sodat dit oor sy voorkop val. Dit maak sy gesig sagter. “Wat sê jy ek word jou bodyguard?”
“Ryno. Ek is nie op die spyskaart nie.”
“Ek weet, Skiews. Ek wil ook nie op jou spyskaart wees nie. Ek vra net. Ek wil jou beskerm.”
“Hoekom? Is ek dan in gevaar?”
“Hier was aanvalle op die lodges. Adéle laat veiligheidshekke insit by die ingang. En jy is . . .” Hy skud die water uit sy hare, sy gesig nat en vriendelik. “Klein. En baie fyn. En baie, baie mooi.”
“Lyfwagte vra geld,” glimlag sy terwyl die spanning stadig uit haar vloei.
Hy stap terug na haar toe. En as hy oorkant haar gaan staan, vee hy die water wat uit haar hare loop van haar wang af. Saggies, baie versigtig. Hy raak aan die pleister op haar wang.
“Vir jou, mahala, Skiewies.” Hy los haar skielik.
Hulle staan lank so in die sproeierreën. Elke keer as die straal omtol en hulle tref, grinnik hy. “Moet net keer dat daai straal my nie op die verkeerde plek tref nie. Kan ’n man onkant vang.” Hy lag lekker.
Iewers skrik ’n klomp hadidas in ’n boom naby hulle en krys. En vir die eerste keer sedert sy met hom deur haar kamervenster gepraat het, voel Sonja ’n klein bietjie gelukkig.
“Ek sal op die matjie voor jou bed slaap. Ek sal nie aan jou raak nie, ek belowe. Maar iemand moet by jou wees vannag.”
“Ai, Ryno.” Sy steek haar hande uit na hom en krap sy nat hare deurmekaar.
“Ja, Skiewies?”
“Gaan terug koshuis toe en vra jou maats om vir jou beter pick-up lines te leer.”
Hy raak ernstig. “Is nie ’n pick-up line nie, ek sweer. Ek weet jy dink ek is stjoepit en jy vertrou my so min soos ’n underdone steak. Maar ek is genuine bekommerd oor jou, sonder intensies. Die ander girls by ontvangs het ook gesuffer. Iets hier is nie lekker nie.”
Die ander ontvangsdames wat so skielik hier weg is . . .
“Wat het met hulle gebeur?”
Dit neem lank voor hy antwoord. “Hulle het iets gepraat van ’n spook, maar ek dink hulle was net nie taf genoeg nie.”
“Wel. Ek is oukei en ek bang nie spoke nie.”
“Ek slaap op die matjie. En ek snork nie. Al die girls verseker my ek snork nie. Ek sal buitendien nie slaap nie want ek sal jou oppas.”
Sy voel meteens bewoë, sy weet nie hoekom nie. Na die aggressiewe atmosfeer netnoumaar tydens die ete, wil sy eintlik huil van verligting dat hier iemand is wat haar wil help op só ’n manier.
Hemel, sy hou van Ryno. Sy hou van die gees in hierdie lyf wat lankal dié van ’n man is, maar wat nog seun wil bly. Sy hou van sy opregtheid en sy jeug en sy vriendelikheid en sy eerlikheid.
“Ek sal jou oppas, Skiewies.”
Sy skud haar kop en vee saggies oor die ligte stoppels aan sy wang. Hy gee ’n hartseer glimlag, asof hy geweet het sy gaan weier.
Die hadidas fladder in die boom. Iewers skree ’n nag-apie.
“Lekker slaap, Skiewies. Kyk na jouself.”
“Lekker slaap, Ryno. Kyk na jouself.”
“Ag, ek’s oukei. Niks en niemand worry my nie, Skiews. Ek het op straat leer baklei en maande in die bos survive. Mense sukkel nie met my nie.”
Sonja kyk hoe hy deur die sproeiers terugstap na die kraan toe. Hy draai dit toe en ’n stilte sak oor Hotel Njala toe.
Met die wegstap, met sy rug na haar, lig Ryno sy regterhand. Toe verdwyn hy tussen die bosse op pad na sy kamer toe.
Sonja bly staan in die middel van die grasperk. Die nagapie roep weer. Dis ’n aardige geluid soos dié van ’n baba wat seergemaak word.
Die paddakoor het ontwaak hier digby haar. Hulle begin weer kwaak en die hadidas gee af en toe ’n gesteurde roep waar Ryno verbystap.
Dan raak alles stil.
Sonja kyk om haar rond. Niks beweeg nie. Daar is nie ’n verdere geluid nie.
Die gras is nat van die sproeiers en water drup liggies uit die groot rubberboomblare en die varings en parasietplante wat aan die stamme vasklou, die wortels nat en ontbloot en die blare blink en groot. ’n Reuse-slak, so groot soos Ryno se skoen, sukkel oor die gras na ’n klip toe.
Toe Sonja haar kop in die rigting van die bos draai – die bos waarin Ryno pas verdwyn het – sien sy duidelik ’n wolf se geel oë in die lig blink.
Vir ’n tydlose oomblik kyk hulle na mekaar.
Haar keel trek toe en sy soek rondom haar na hulp en uitkoms, maar daar is niemand nie. Net die water wat liggies om haar neerdrup. Drup-drup-drup in haar nek, op haar kop, op haar skouers. En dan weer yskoud in haar nek.
Die wolf kyk na haar. Hy hou haar dop en rig sy oë stip op haar. Sy wag dat hy moet storm.
Toe verdwyn hy tussen die riete.
En die paddas begin weer te kwaak.