Читать книгу Wolwedans in die skemer - Leon van Nierop - Страница 8
Оглавление4
“Nog ’n toeris is beroof, luitenant. Dié slag by een van die stalletjies.” Berta staan in Conrad se kantoordeur en stap nader met ’n bordjie met een koeksister daarop.
Hy huiwer en neem dan die koeksister wat Berta self gebak het. Dikwels staan daar sommer vroegoggend al ’n bordjie gelaai met koeksisters op sy tafel, dan weet hy hy moet vanaand weer ’n ekstra gimsessie probeer inpas as sy werk dit toelaat. Naweke se maagoefeninge en kilometers se draf op die R536 is nie meer genoeg nie.
Dit is hoekom hy haar gerantsoeneer het: “Jy moet net een koeksister hier neersit, sersant. Jy weet ek eet nooit twee van die goed na mekaar nie.”
Daar is iets ekstra lekker aan Berta se koeksisters. Sulke lang smulpaap-dunnes wat nie swem in die stroop nie. Sy gebruik ’n resep wat nie dinge oordoen nie. Sy ouma se koeksisters het so ’n verwurg-soet gehad wat soos nat watte in sy keel saamgebondel het sodat hy een keer ’n galaanval daarvan gekry het. Hy het van toe af nooit weer koeksisters geëet nie – tot hy Berta s’n geproe het.
Sy glimlag en maak weer daardie hmm-geluidjie asof sy sy reaksie deerniswekkend snaaks vind.
Conrad neem die koeksister en byt daarin. ’n Loom soetheid vul sy sy mond. Lekker. Dêm lekker.
“Wanneer is die toeris aangeval?”
“Vanoggend, luitenant. Dié slag kom die slagoffer van iewers uit Namibië. Die jafel het alleen gaan stap teen sonsopkoms. Die hadidas was nog nie eers behoorlik wakker nie, toe loop hy na ’n padstalletjie toe wat in elk geval nog gesluit was, en toe takel die menere hom.”
“Is hy aangerand?”
Sy skud haar kop. “Hulle’t net sy Rolex gevat. Hoekom mense met sulke parafernalia in die bosse gaan stap, sal net hulle weet.”
Conrad-hulle het op skool ’n voorgeskrewe boek bestudeer met verhoogstukke in, en in een was daar ’n Mrs Malaprop. Sy was ’n snaakse vrou wat altyd haar uitdrukkings en woorde deurmekaar laat raak het. Berta laat hom soms aan Mrs Malaprop dink.
“Nie parafernalia nie, sersant. Dis iets anders daai.”
“Ek bedoel goeters. Bling. Dinges. Watchimacalits, gadgets! Katoeters! Ons het nie ’n lekker Afrikaanse woord daarvoor nie.”
Conrad neem sy baadjie en sy motorsleutels. “Ons gaan seker heeloggend uit wees. Kom ons kry gou Mma Marukane se boereworsbulle hier in Hazyview by die taxi’s. Ons gaan dit nodig hê as ons bos toe gaan. Jy weet hoe honger jy raak.”
Sy lag en skud haar kop. “Dis luitenánt wat elke keer vra of ek nie iets in die motor het nie – veral as luitenant se sigarette op is.” En terwyl hulle met die gang afloop: “Nou kan luitenant darem gou ’n dampie maak voor ons die pad vat. So ek dink nie dit gaan net om die boerewors nie.”
Sy ken hom heeltemal te goed. Dit laat hom soms beklem voel. “Ja, jong, wat ook al. Ek sweer jy sal nog eendag ’n Happy Meal hartseer maak, Sersant.”
Minute later is hulle midde-in die chaos van Hazyview se taxi-area. Dit is die enigste plek waar daar sulke formidabele boereworsrolle verkoop word. Mma Marukane, wat net hier anderkant in Mkuhle bly, se boerewors is lekkerder as enigiets wat Conrad al op ’n Hazyview-boerebraai geëet het en die manne in die omgewing weet hoe om te braai! En rugby te speel.
Hulle speel gewoonlik op Donderdagmiddae by die laerskool. Baie van die spelers kom uit die Sabie-distrik. Dit is die hoogtepunt van die week as die klomp manne bymekaarkom en kan praat oor alles wat eintlik nie saak maak nie.
Alles behalwe werk.
’n Menigte mense, sommiges met helderkleurige kopdoeke, bondel saam by die taxi’s onder die groot bord wat Maputo aandui. Twee seuntjies kom vol hoop aangedraf met houtvoëls wat in ringe aan hul hande rondswaai. Nog een staan nader met vyf grasgroen avokado’s in ’n sakkie. “Special! Two rand for one avo! Hazyview special. But for you, one rand for one avo! Support the locals! God bless you and your fandamily,” rammel die seuntjie sy rympie af. “Nice birds, local birds!” kekkel die ander twee seuns met die houtvoëls.
“Solank dit net nie hadidas is nie. Netnou begin die verbrande houtvoëls ook te skree!” brom Conrad. “Toe, laat wiel, ouens, ons is van hierdie vallei. Ek kom hier van die polisiestasie af.”
Die twee seuntjies maak gatskoon.
Conrad gaan staan onder die selfoon-advertensie en langs die vroutjie wat op die grond sit met skape wat van krale gemaak is. Dan draai hy na Mma Marukane se stalletjie met die tafeltjie wat al skeef trek van daardie grote paar elmboë wat daagliks daarop rus.
Agter haar is ’n vuurtjie van mopaniehout. Sy het nie ’n gasstofie soos die ander smouse nie, dan kry ’n mens daardie houtgeur in die boerewors wat Conrad seker is uit oom Kallie se slaghuis kom. Regte, egte boerewors!
Hy steek haastig ’n sigaret aan en trek die rook diep in sy longe. Dit en die mopaniegeur meng so lekker.
Op die vrou se tafeltjie, bloot op genade aangesien dit dreig om te swig voor swaartekrag, staan haar mango-blatjang wat sy soos ’n verematras tussen die brood en die wors gooi. Elke keer wanneer sy gooi, dril die velle aan haar boarms. “Spesenjaal vir jou, generaal!” Mma Marukane noem hom altyd só en praat die mooiste Afrikaans, met r-klanke wat sy hard en soepel in haar mond rondrol. Dan skrik die tsotsi’s hier rond, het sy al gesê, want sy ken mos ’n generaal!
“Twee wors-specials, dankie, Mma,” sê Conrad terwyl hy kyk na ’n ou vroutjie wat met puimstene na hom toe aangewaggel kom. Hy skud sy kop maar druk tog ’n paar rand in haar hand. Sy knik dankbaar.
Agter haar is daar drie deftige jong dames met heeltemal te veel grimering wat op hoë spykerhakkies oor die ongelyke grond probeer regop bly, op pad na die koelte van ’n kiaatboom. Hulle praat Engels met ’n Amerikaanse aksent, gepeper met Sjangaan-woorde tussenin.
Naby Conrad staan ’n kissie op die grond met oorryp papajas en vlieë wat gedurig weggewaai word deur ’n vrou met ’n geel kopdoek. Sy word terloops dopgehou deur twee mans wat op die vis-en-tjipswinkel se stoepie sit en eet.
Conrad kyk op sy horlosie. “By watter lodge praat ons met die man wat beroof is, sersant?”
“Ek moet hom bel as ons ry. Ek weet nie wat de hel die man makeer het om douvoordag rond te loop sonder ’n siel in visier nie.”
“Siel in sig, sersant.”
“Ja, dit ook, luitenant. Maar ons moet daai paloekas nou vang. Hulle gee ons dorp ’n slegte naam.”
Mma Marukane kyk op. Sy gooi weer die mango-blatjang mildelik tussen twee broodjies in. Die reuk van die wors wat oor die houtvuur gebraai is, maak Conrad ekstra honger. Terwyl sy Sjangaan praat, kyk die ou vrou vinnig rond: “Daar anderkant by my praat die mense baie oor die tsotsi’s. Dis ’n bende wat hier rondhang. Mosambiekers. Daar’s mos nie meer drade in die wildtuin tussen ons en die Masbiekers nie. Daarom sien ons hulle gereeld.” Sy plaas die wors tussen die brode en druk dit dan in ’n papiersakkie.
Conrad neem dit. “As jy nog iets weet, Mma, moet jy my sê.”
Die vrou doen dieselfde met Berta se worsie en gee dit aan. Berta hap sommer dadelik sodat die sous teen haar wange afdrup.
“Ek sal luister wat die mense sê,” belowe die ou vrou. “En ek sal kyk, generaal. Dis net nie goed as ons so baie saam gesien word nie. Hier is mense wat rondkyk. Maar ek sal vir generaal kontak as ek weer van iets hoor.”
“Dankie, Mma.”
Conrad en Berta loop terug polisiestasie toe terwyl hy sy sigaret klaar rook. ’n Klomp wit hoenders wat saamgebondel agter op ’n bakkie in ’n piepklein hokkie staan, kekkel vererg.
Hy klim in sy motortjie. Die vere kraak toe Berta gaan sit. “Luitenant moet die skedonkie laat olie, man. Ek voel altyd soos Miss Plopsiewoeps as die vere so raas.”
Wie de hel is dit? Seker die een of ander karakter uit ’n sepie.
Conrad skakel die motor aan, trek weg en draai links op die R40. Taxi’s jaag roekeloos aan sy linkerkant verby. Ten spyte van die oorbrug hang daar steeds mense langs die pad rond. ’n Lywige dame met ’n trollie steek die pad vlak voor hom oor, sodat hy haar amper raak ry. Seuns met macadamianeute in plastieksakkies hardloop saam met die motor.
Daar staan drie viertrekkers wat by die stopstraat wil regs draai Phabenihek toe, asook twee toerbusse volgepak met Japannese toeriste wat ywerig foto’s neem van die geordende chaos voor die Spar. Oorkant die pad staan hordes kleipotte by ’n stalletjie, langs wit hane met bloedrooi kamme wat uit hout gekerf is en ’n rits kleurvolle grashandsakke. Dit is waarheen die bus op pad was, en die toeriste peul uit voordat dit behoorlik tot stilstand kan kom. Oral is jeeps en voertuie met die embleme van privaat wildtuine en name van gastehuise op. Conrad wonder altyd waar die gastehuiseienaars aan al die name kom. Soos Al-dee-la en Pretville. Twee koekoekies skrop langs die pad by die aanmekaargetimmerde stellasie wat as ’n ou oompie se lepelwinkel dien. En orals is bondels braaivleishout te koop. Rooshout, herken hy.
Toe Conrad en Berta links draai by die vierrigtingstop langs Perry’s Bridge, koop hy vinnig ’n Laevelder op die hoek. Op die koerant se voorblad word verwys na die aanval op die lodge en daar is ’n foto van hom.
“Sjoe. Luitenant lyk bietjie disfigured hier.”
“Ek hoop jy bedoel distinguished.” Hy maak keel skoon. “Dit beteken waardig, sersant. Waardig.” Hy onderdruk ’n glimlag.
“Eksaktement. Presies wat ek wou sê, luitenant vat die woorde so uit my mond. Want ek sê vir my sus, luitenant het nog daai outydse moewiestar-look van die polisiemanne met die hare so styf teruggeplak. Nie daai ystervark-Bostik-kuifies van vandag se poeliesmanne nie.” Berta blaai vinnig deur die koerant.
Reuse-vragmotors met hout en vrugte agterop donner agter Conrad verby.
“Hmm. Niks van die poppie wat verongeluk het nie,” merk sy op.
“Ek dink nie daar is veel om te rapporteer nie. Toeriste gly gereeld in die sand. Dis wat Gertinus se insleepdiens aan die gang hou.”
Hulle ry met die R536 verby Hotel Njala, Idle & Wild, Ant and Elephant en Indoena. Conrad draai ’n paar kilometer verder in by die bordjie wat sê White river rafting, terwyl Berta die toeris skakel.
“Oe, ek haat voice-mail. Luitenant weet, daai voice-mail wat sê jy hoef nie ’n boodskap te los nie, want ’n SMS sal na die mens toe gestuur word wat te flippen lui was om sy foon te beantwoord!”
“Kalmeer, sersant. Dis negeuur en die kwik staan al op ses-en-dertig. Jy moenie ook nog staan en oorkook nie.”
“Ja, maar ek raak so die flippen duiwelsdrek in, luitenant.”
“Gaan nie help nie, sersant. Chill.”
Sy kollegas vind dit interessant dat hulle mekaar nog “luitenant” en “sersant”, maar hy hou daarvan. Dit werk vir hom.
Hulle ry met die grondpad tot by die parkeerterrein, waar Conrad stilhou. Daar sien hy Hotel Njala se bussie staan. Hotel Njala – beter as die groot 5! staan op die deur geskryf.
“Dus kry die toeris ons hiér, sersant?”
“Ja. Hy wil river rafting doen, luitenant. In die bleddie hitte.”
Met die uitklim sien Conrad vir Adéle Joubert en haar suster Maggie by die rivier staan. Adéle dra ’n lang romp wat haar liggaam perfek komplementeer. Sy lyk vir hom baie sexy met die rok wat effens deurskyn en haar lang bene beklemtoon. Maggie, wat ’n mooi dagrokkie dra, se hare is netjies vasgemaak en sy is selfs nog maerder as haar suster.
Berta skakel weer die toeris se selfoonnommer, maar aan haar houding kan Conrad sien dat hy steeds nie antwoord nie.
Om die draai, waar die water wit skuim, kom ’n boot aangehop. Op die boot sit ’n jong man met swart hare, kaalbolyf, en agter hom twee meisies wat gil van plesier en om lewe en dood vasklou. Die man lag en beduie na waar Adéle en Maggie staan.
“Ryno rules!” roep een van die meisies bo die geraas en maak ’n lang klank wat vir Conrad amper klink na ’n wolf wat huil. ’n Hittige wolvin, sou sy ma gesê het.
Berta skakel nogmaals die toeris, dan hoor hy haar sê: “Ons is hier by die bote en die piekniekplek. U kan maar hiernatoe kom, meneer, want ons moet met u praat. Ons wag vir u.”
Conrad gaan sit by een van die tafels naby Adéle en Maggie, wat nie aandag gee aan die twee van hulle nie. Van waar hy sit, het hy ’n onbeperkte uitsig op die susters en die jong man wat die meisies uit die boot help.
Hy herken hom as Ryno Lategan. Hy het hom al by Papa’s Pizzeria by Perry’s Bridge gesien. Ja-nee, dis die toergids wat meisies laat omkap as hy by hulle verbystap en waaroor Berta en die ander meisies so popel. ’n Mens sou sweer hy is Brad Pitt soos hulle aangaan.
Conrad kyk vinnig na sy selfoon. Geen boodskappe nie. Hy sien hoe die een meisie net ’n bietjie te lank aan Ryno vasklou terwyl hy haar uit die bootjie help. Afluister wil Conrad nie, maar hy kan nie help om te hoor nie:
“Ryno. Jy is laat.” Adéle se stem is koud, kortaf.
“Hei, relax, girl. Die rapids is omgekrap! Ek kan tog nie die meisies se lewens in gevaar stel nie.”
Die twee meisies giggel selfbewus en die jonger een trek haar bra se streppie reg waar dit onder haar nat bloes uitsteek. Conrad merk ook oop hoe Adéle skerp na die meisie kyk wat Ryno so lank vasgehou het. Dan dwaal haar oë oor sy borskas. ’n Stewige borskas. Conrad sien hoe Maggie ook daarna kyk, maar half onderlangs, asof sy nie wil laat blyk dat sy hou van wat sy sien nie.
Adéle hou ’n kakiehemp uit met ’n Hotel Njala-embleem. “Trek aan. Ons het al gepraat oor hierdie halfkaal lopery van jou.”
“Dis frieken bakoondwarm, Adéle – chill, girl!”
“Maak nie saak nie. Trek aan.”
Ryno loop tot by haar en skud die water uit sy hare. Dit reën oor Adéle, wat haar oë knip maar geen verdere reaksie toon nie. Maggie staan eenkant en onderdruk ’n glimlag.
En langs Conrad kyk Berta ook nou skaamteloos na Ryno. “Jeez. Hy mag maar.”
Conrad reageer nie. Hy hou net die klein drama dop wat voor hulle afspeel.
Ryno neem die hemp stadig uit Adéle se hande. Met die neem, raak hy liggies aan haar hand en streel met sy wysvinger oor haar regterhand se kneukels. Adéle trek haar hand vinnig opsy. Maggie sien dit en kyk weg. Ryno trek die hemp tydsaam aan, sy lyf nog nat, sodat dit aan sy bolyf vaskleef.
“Ryno.” Adéle kyk stip na hom. “Jy is nog net hier omdat ek jou beskerm. Oortree weer ’n reël en jy is geskiedenis.”
Ryno draai na Maggie, wat bloos. Hy knyp haar aan haar neus en gee ’n breë, eerlike glimlag. “Mags. Oortree ek reëls? Ek bedoel, rêrig, girls! Kry ’n flippen lewe!”
“Nee, Ryno. Jy moet by die reëls hou!”
Ryno draai terug. “Weet jy wat, Adéle? Jy moet jou hare ’n bietjie laat los hang. Relax. Dis die slowveld hierdie. Ons ry hier in vyfde rat.”
“Ek weet presies hoe die Laeveld werk. En ek waarsku jou: daag weer laat op, en jy kry jou tweede en laaste waarskuwing. Julle moes al op Graskop gewees het. Amper moes ék die mense vat! Die toeriste wag by Njala. Gelukkig het hulle verslaap. Dit terwyl jy jong meisietjies omklits en wie weet wat met hulle aanvang?”
Ryno lag. “Jaloers, Adéle?” Hy beklemtoon die “êl”-klank in haar naam, Adêh-êhl.
Sy vee die druppels van haar gesig af. “Niemand is onvervangbaar nie.”
Ryno kyk na haar, dan leun hy vorentoe en met sy hemp se los punte vee hy die res van die water van haar wange af. Sy bolyf raak kortstondig aan haar borste. Adéle verroer nie ’n spier nie.
Toe stap hulle na waar die meisies in die Hotel Njala-voertuig wag. Conrad hoor Ryno vra: “Ek hoor hier kom nuwe talent?”
“Sy is reeds hier,” sê Maggie met die wegloop. “Maar sy was in ’n ongeluk.”
Langs Conrad verskyn daar skielik ’n man met ’n donkerbril en ’n merk aan sy gesig. “Luitenant. Ek is Petrus Lundie. Ek is vanoggend hier beroof. ’n Sersant Van Schalkwyk het my gebel?”
Berta, wat Ryno nog steeds goedkeurend agternastaar, steek haar hand op. “Guilty as charged!”
Conrad frons toe Berta terugkyk na waar Ryno in die voertuig klim om te bestuur. “Sersant, die trailer is altyd beter as die fliek. Los die rondkykery en konsentreer,” sê hy onderlangs sodat die toeris nie moet hoor nie.
Berta sug en sit haar hand op haar hart. “Hy kan soos warm botter deur ’n mes sny.”
“Ons is hier omdat meneer Lundie aangerand is.” Conrad draai om en lig sy stem. “Sit, meneer Lundie, sodat ons kan gesels.”
Die voertuig verdwyn om die draai. En iewers, hier diep in Conrad se agterkop, pla iets hom. Maar hy is nie seker wat nie.
Sonja Daneel het gesê daar was ’n wolf in die pad. Hy het al tevore gehoor van ’n wolf, maar niemand wat hy ken het die gedierte al ooit gesien nie.
En toe hy gister by Sonja Daneel was, het sy gelyk soos iemand wat wil praat.
Sy moet oppas. Ryno is ’n wolf op twee bene. Hulle is partykeer gevaarliker as die regte dier. Hy moet tog miskien weer die een of ander tyd ’n draai by Hotel Njala maak. Iets trek hom daarheen terug.
Maar eers is daar belangriker sake. Hierdie aanvalle op die toeriste moet stopgesit word. Dit is nou sy prioriteit.