Читать книгу Wolwedans in die skemer - Leon van Nierop - Страница 9

Оглавление

5

Klippies teen haar ruit. Dit is die eerste ding waarvan Sonja bewus raak toe sy wakker skrik. Sy sit regop en kyk op haar horlosie. Dit is sesuur en besig om skemer te word.

Sy het gevra dat die luike en gordyne oopgelaat moet word sodat die lig kan inkom. Sy is moeg daarvan om in die donker te lê met slegs haar eie gedagtes as geselskap – en in die donkerte lyk alles buitendien vir haar spookagtig. Elke geluid, elke voorwerp lyk vir haar bedreigend.

En nou die klippies teen haar ruit.

Sy staan op. Sy voel darem aansienlik beter as vanoggend toe luitenant Conrad Nolte hier was. Het steeds hoofpyn, maar dit is nou net ’n sporadiese geklop in haar agterkop. Toe sy haar voet neersit, is haar enkel steeds effens pynlik, maar dit kan al haar volle gewig neem.

Weer die tip-tip-geluidjies, reëlmatig, asof iemand daar onder met gereelde tussenposes na haar venster toe mik.

Sy loop tot by die venster. Dit is besig om skemer te word oor Hotel Njala en die eerste ding waarvan sy bewus word, is die apies wat in die bome rondskarrel buite haar kamervenster.

Sy maak die venster oop. En ’n neut tref haar teen haar bors. Sy kyk af.

Hy staan onder haar venster. ’n Jong man met pikswart hare en ’n vriendelike, oop gesig. Hy is sterk gebou met breë skouers en swaar wenkbroue. Hy is aantreklik, maar nie popmooi soos die mannetjies wat altyd naweke by hotelle rondhang nie. En hy is manlik. Sterk. Gesaghebbend.

Hy lyk bekommerd. Hy kyk oor sy skouer soos iemand wat bang is hy word betrap, dan lig hy sy hand en mik weer ’n neut na haar venster.

Toe sien hy haar.

“Wat is jou probleem?” vra Sonja.

Hy laat sy hand sak. Hy dra ’n moulose T-hemp en sy sien die bruingebrande vel en T-hemp wat styf oor sy borskas span. En sy maag wat liggies op en af beweeg soos iemand wat gespanne is.

Dit neem lank voordat hy praat. Hy kyk net eers na haar. En toe is sy stem donker, mooi en vreemd. Hy praat ’n bietjie te vinnig.

“Is jy die nuwe skiewie?”

“Die nuwe wat?”

“Die skiewie. Die girl wat by ontvangs sit, man?”

“Moenie vir my man sê nie.”

Hy staar haar sprakeloos aan, dan: “Sorry!”

“Wie is jy?” vra Sonja.

“O. Ek is Ryno. Ryno Lategan. Ek’s die toergids.” Hy vryf oor sy gesig en krap deur sy hare, amper soos ’n skoolseun wat met ’n mooi meisie praat en wie se woorde hom in die steek laat.

“Ek is glo Sonja Daneel.”

“Wel, jy is of jy is nié. Watter een is dit?”

Dit klink so ongelooflik melodramaties as sy dit só sê: “Ek ly aan geheueverlies. Ek was in ’n ongeluk, nou probeer ek onthou wie ek is.”

“Jy bedoel soos in die soaps?” grinnik hy, maar sy oë lag nie saam nie.

“Seker. Nie dat ek een van hulle onthou nie, maar ek weet darem wat ’n soap is.”

Hy kyk na haar op ’n innemende, sagte manier. “Kan jy regtig niks onthou nie?”

“Hoekom sal ek jok, meneer?”

“Hei. Ryno. Sommer pleinweg Ryno.”

Sy maak keel skoon. “Goed. Ryno.”

“Nee, ek bedoel, dit klink so half, ek weet nie, onmoontlik.”

“Ek was in ’n motorongeluk. Ek het ’n helse stamp teen my kop gehad. Dus is ek bietjie . . . deurmekaar.”

Hy kyk ondersoekend na haar.

“As jy dink ek maak of ek siek is, het ons niks verder vir mekaar . . .” Sy wil die venster toemaak

“Whoa-whoa-whoa, girl. Chill. Ek joke! Vir wat’s jy so uptight? Laat loop jou battery bietjie af, man!”

Sy skep asem. “Sou jy nie ook gespanne gewees het as jy in ’n motorongeluk was en skielik onthou jy niks nie?”

’n Ongemaklike stilte sak tussen hulle neer en hy kyk na haar asof sy ’n wese van ’n vreemde planeet is.

“Bliksem,” sê hy saggies.

“Ekskuus?”

“Nee, ek sê maar net . . . Jy is, uhm, baie mooi.”

Sy kyk lank na hom. Hy krap weer deur sy hare. Al ken sy hom nog net ’n paar oomblikke, hou sy meer en meer van hom. Hier is darem iemand wat glimlag, wat vriendelik en informeel is in hierdie donker kasarm van ’n hotel.

“Nice try, Ryno.”

Hy lag weer. “Hulle het jou teen my gewaarsku, het hulle nie?”

“Moes hulle?”

“Ek’s nie soos hulle sê ek is nie.”

“En hoe sê hulle is jy?”

Hy trek sy skouers op. “Losgat. Guy met die girls. Gryp enigiets wat ’n rok dra, daai soort tjol. Maar ek is nie so nie.”

Hy laat haar weer dink aan ’n skoolseun en hy praat boonop soos een. “Ek vat jou woord daarvoor.”

“Sê my naam. Toe. Sê my naam.”

Sy glimlag. “Ryno.”

Hy krap weer deur sy hare en draai ’n slag in die rondte. “Flippit. Niemand het dit nog ooit só gesê nie. Waar val jy uit, girl?”

“Steiltes in Nelspruit. Ek wil binnekort teruggaan en kyk presies waar ek vandaan kom.”

“Nee, man, ek bedoel . . .” Hy lag en trek sy skouers op, dan steek hy sy hande in sy kortbroek se sakke. Hy kyk voor hom op die grond en speel met sy voet oor die klippies in die rivierklippaadjie.

“Onthou jy rêrig niks,” en dan amper as ’n nagedagtenis, “uhm, Sonja?”

“Hoekom sê jy my naam só?”

“So . . . hoe?”

Sy sug. “Asof jy nie daarvan hou nie.”

“Nee, ek bedoel, dis so half . . . jy weet, formeel. En buitendien, jy sê self jy weet nie of dit regtig jou naam is nie. Dis te formeel vir jou.”

“Nou wat moet my naam dan wees, meneer Lategan?”

Hy lag uit sy maag. Dis ’n halwe heserige, sexy laggie. “Nou klink jy nes in die outydse radiostories. Meneer Lategan. Lyk ek vir jou soos ’n meneer?”

“Is jy ’n meneer?”

Hy vee met sy hand oor sy bors. “Toe ek netnou in die stort gekyk het, ja, baie beslis. En met ’n moerse houding.”

“Te veel inligting, Ryno!”

“Sorry, man. Ek’s maar so gemaak en gelaat staan. Ek’s meer saam met my buddies in die veld as hier, dan vergeet ek partykeer hoe om met vroumense te praat.”

“Wel, lyk nie vir my of jy probleme het nie.”

Hy lag. “Sê jou wat, Skiewies. Ek kom gou op daar na jou toe.”

Die hoofpyn is skielik weg. Sy kyk verbaas af. “Wat het jy my genoem?”

“Skiewies. Jy gaan mos by ontvangs werk en dis ’n skiewie-job. Buitendien, jy’s mos ’n vrou sonder naam. Nou gee ek jou ’n cool naam wat by jou pas.” Hy gee weer die hees, mooi laggie. “Skiewies.” Hy vryf oor sy ken. “Hmm. Pas by jou. Mooi naam vir ’n cool girl. So, wat sê jy, Skiewies? Ek kom gou op daar na jou toe en ons chat. Ek help jou om die verlede uit te sort. Ek karnuffel jou kop so bietjie – ek’s goed daarmee – en als is weer in posisie.”

Vir die eerste keer vandat sy hier aangekom het, lag Sonja hard.

Hy skud sy kop en kyk om hom rond. “Is ek so stjoepit?”

“Nee, man, ek . . . lag sommer.”

Die woorde vloei nou makliker – vir die eerste keer kan sy ontspanne en informeel praat, nie die strak sinne wat tot dusver uit haar mond gekom het nie. As dit is hoe sy wás, hou sy baie meer van hierdie Sonja. Die een wat hierdie ou met sy swart hare en sterk arms en fris lyf en stewige bene in haar wakker maak.

Skiewies.

Sonja kyk na hom. Agter hom gaan die rivierklippaadjie se liggies een vir een aan. En soos hulle aangaan, klap hy sy vingers. “Sien jy? Ek maak magic, Skiewies. Jy moet glo aan magic. Laat jouself net gaan, dan lag die engeltjies vir jou.”

Die laaste liggies gaan agter hom aan, dan buig hy vir haar. En sonder dat sy haarself kan keer, klap sy hande.

Hy kyk verbaas op. “Wow. Ek dag jy is ’n kloosterkoek en hier . . .” Hy lag. Hy kyk om asof hy wil seker maak die liggies is almal aan.

En sy hou op met handeklap en wonder: Wat besiel my? Hoekom doen ek dit? Is dit hoe ek was? Op vyf-en-twintig soos ’n skoolmeisie op haar eerste koshuisafspraak? Maar wie is hierdie ander meisie dan? Die een wat so formeel praat en wroeg en haar bekommer oor elke geluidjie wat sy hoor?

“Kan ek opkom, Skiewies?” vra Ryno.

Sy skud haar kop. “Ek dink nie dis ’n goeie idee nie. En buitendien, ek is in genoeg moeilikheid. As Adéle jou in my kamer kry, is ek hier uit nog voordat ek hier begin het.”

“Ag, ek kan Adéle hanteer, man. Sy eet soos ’n budjie uit my hand.”

“Nee.” Sy glimlag. “Soet wees.”

“Sorry, girl, dis in my genes. Ek kan nie soet wees nie. Die lewe is te kort daarvoor en dis heeltemal te boring.”

“Koebaai, Ryno.”

“Naait, Skiewies.”

Sonja maak die venster toe. Haar hart klop vinnig. Daar is ’n gloed oor haar wange soos ’n koshuisdogter wat pas deur die skool se rugbykaptein raakgesien is en uitgevra is na ’n dans toe.

Sy staan lank so langs die venster met haar rug teen die muur. Sy glimlag. Hemel, sê sy vir haarself, wat het hier gebeur? Ek ken die man skaars! Hy is duidelik ’n sjarmeerder en sulke ouens behandel alle meisies dieselfde.

Sy gaan stort en dink onder die loom water aan hom. Sy kyk na die merke aan haar lyf, wat nou stadig besig is om gesond te word, en raak aan haar liggaam asof sy raak aan dié van ’n vreemde mens. Ook aan haar borste, ferm en regop. Sy het beslis na haarself gekyk; haar liggaam is in proporsie en haar hare is volgens die jongste mode gesny.

Sy soek tatoeëermerke, ’n ring deur haar naeltjie, enige teken uit haar vorige lewe. Maar haar liggaam is ’n lei waarop haar lewe nou weer begin. Skoon.

Sy staan weer ’n rukkie aan Ryno en dink. Hoewel sy hom net van ’n afstand gesien het, is dit asof hy langs haar in die stort staan.

Sy skrik vir haar eie gedagtes en draai die krane toe.

Daarna gaan maak sy een van haar tasse oop wat intussen in haar kamer afgelewer is. Sy kyk na die klere van ’n vreemde vrou. Sy kies ’n koel rokkie, want al is die lugverkoeling aan, is sy intens bewus van die bedompige hitte wat deur die venster ingesypel het.

Sy beskou haarself in die spieël. Die swelling aan haar lip begin sak. Sy voel aan die verband om haar kop en raak aan die pleister oor haar gesig.

Net voordat sy by die vertrek uitloop, kyk sy na die skaakbord. Die swart pion het ook intussen twee blokke vorentoe beweeg.

Die spel het begin. Maar wie de hel . . .?

Sy verlaat die vertrek. Sy weet nie eers behoorlik hoe die hotel lyk nie. Al wat sy onthou, is die groot, wye trappe buite wat soos ’n halfmaan gebou is, waarteen iemand haar uitgedra het op pad na haar kamer toe. En die welige plantegroei. Die breë blare wat oor die paadjies hang. Die soel reuk van frangipani. Die verdwaalde hibiskusblomme wat op die grasperk gelê het. Die reuse-bome wat sambrele gemaak het oor die parkeerterrein.

Sy is nou in die gang. “Skiewies,” sê sy vir haarself. Sy hou daarvan. Skiewies. Om een of ander rede pas dit by haar. En net vir ’n oomblik hoop sy dat Ryno tog opgekom het en in die gang staan.

Maar daar is niemand nie.

Doer aan die onderpunt is ’n groot ou staanhorlosie. Selfs hier waar sy aan die bopunt van die gang staan, kan sy die spokerige tik-tak-geluide hoor. Tik-tak, tik-tak, asof dit die laaste minute aftel na ’n mens se dood toe.

Of die laaste minute na die herwinning van haar geheue?

Sy loop stadig na die horlosie toe, dit trek haar aan. Weerskante van haar in die gang hang portrette van wat moontlik die Jouberts se voorsate was, ou mense in swaar portretrame wat humorloos na haar kyk en elke beweging volg wat sy maak.

Sy ril. Dit voel soos ’n begrafnisstoet – al hierdie dooie mense wat na haar kyk asof na ’n doodskis wat tussen hulle deurgedra word.

Of sou daar van hulle wees wat nog lewe?

Op elke gesig is daar ’n verwytende uitdrukking, asof hulle haar hier weg wens.

Liewe hemel. Wat het sy in haar vorige lewe gedoen? Het sy van iets af weggevlug?

Dit voel soos ’n ewigheid voordat sy die onderpunt van die gang bereik, dan gaan staan sy voor die horlosie. Dit is halfsewe. In die glas sien sy haar eie weerkaatsing. Een van die gloeilampe het geblaas, dus is die horlosie se gesig swak verlig.

Sy ril. Hier is iets verkeerd. Dit voel of iemand ’n koue vinger teen haar rug aftrek en sy kry hoendervleis. Sy kyk na die pendulum wat meedoënloos tik. Tik-tak, tik-tak, tik-tak.

Toe sy opkyk, sien sy die wit, benerige gesig langs hare in die horlosie se venstertjie. Sonja gil en swaai om.

Jan Joubert staan in die skemer agter haar.

“Ek wou jou nie laat skrik nie.” Sy stem is amper doods, nes tevore toe hy met haar gepraat het.

“Ek . . . ek is jammer, meneer Joubert. Ek het nie iemand agter my verwag . . .”

Hy skud sy kop. “Dit maak nie saak nie. Aandete is halfagt in die eetkamer van die hoofhuis. Jy stap deur ontvangs by die deur in waarop staan Privaat. Dis die ingang na ons huis. Ons wil jou graag almal daar verwelkom.”

Haar keel trek toe en sy verstaan glad nie hoekom nie. “Goed, meneer Joubert.”

Hy loop verby haar, maar kyk terug. “Jy moet oppas. Een van die trappe is los. Mens kan maklik jou nek daar breek.”

Dan is hy weg. Sy hoor hoe hy versigtig teen die trappe afloop.

Sonja staan lank by die horlosie. Dit is skielik soos ’n lewendige ding. Iets wat asemhaal. Wat met haar praat. Tik-tak-wie-is-jy? Tik-tak-wat-maak-jy-hier? Tik-tak-gaan-weg-indringer, tik-tak-wie-is-jy-regtig?

Sonja loop na die trappe toe waar Jan om die draai verdwyn het. Sy vou haar arms om haar lyf en loop vinnig met die trappe af.

Sy onthou te laat van die los trappie en swik amper, gryp net betyds die reling om staande te bly.

Dit neem ’n rukkie om haar asem terug te kry. Toe loop sy tot onder.

’n Swart man sit by ontvangs. Hy knik in ’n groet en Sonja glimlag gespanne en knik terug. Dan loop sy na buite.

Voor haar strek ’n tropiese tuin asof tot in die oneindigheid. Ver agter is groen plantegroei teen berge waaruit misvingers lui opstyg. Kiaat- en flambojantbome trek haar aandag aan die linkerkant. Sproeiers is besig om die groot grasperke te lawe. Luukse motors staan onder rubber-bome geparkeer en apies swaai van een tak na ’n ander.

Iewers kloek kalkoene en ’n gelag klink op. Sy kry die reuk van ’n braaivleisvuur.

Sy loop met die trappe af tot by die helderverligte parkeerterrein. Die skoonheid van die omgewing slaan haar asem weg. ’n Loerie maak iewers sy kô-kô-kô-kô-geluid en dit weergalm in die skemer vallei. Toeriste loop hand aan hand oor die grasperk.

Sonja vorder tot by ’n digbegroeide paadjie met ’n bordjie wat sê: Swimming pool. Residents only. Daar draai sy regs.

Parasiete klou aan boomstamme vas, die wortels ontbloot teen die moederboom se stam. Wit wortels en grypende armpies peul uit elke skeur in die stam. Iets skarrel tussen die groot blare rond. Wit maanblomme hang swaar langs haar oor die paadjie. Een val met ’n plonkgeluid voor haar voete en sy kneus die blare met haar skoen.

Sy raak aan een van die blomme bokant haar en voel die sagte, rubberagtige tekstuur. Dit voel soos wanneer sy wakker word in die nag en sy haar arm verlê het; dan is dit asof sy aan iemand anders se vel raak.

Ja. Dít onthou sy! Onbenullige inligting. Maar die belangrikste kan sy nie herroep nie.

Dalk is daar niks om te onthou nie. Dalk is sy net ’n doodgewone mens wat lus gevoel het om in ’n luukse hotel te kom werk. Dalk het sy ’n doodgewone lewe gehad met een of twee kêrels wat sy afgesê het (of wat haar verlaat het?) en wou sy net ’n blaaskans neem.

Sy moet daardie Pietman bel van wie Diana gepraat het. En sy moet teruggaan na haar oorspronklike blyplek sodra sy vrye tyd het.

Of dalk hét daar iets gebeur. Iets so verskriklik dat haar geheue dit doelbewus van haar af wegsteek. Dalk is haar geheueverlies indirek ’n manier om haar te beskerm.

Maar teen wát?

“Goeienaand. Ek neem aan jy is die nuwe ontvangsdame.” Dis ’n mooi, jong stem en toe sy omkyk, staan daar ’n blonde man langs haar. Sy oë is waaksaam. Hy is, soos almal hier rond, bruingebrand en sy hare is netjies in ’n moderne styl gejel. Hy dra ’n oopnekhemp en ’n kortbroek wat tot onder sy knieë strek. Maar daar is iets geforseerds aan sy vriendelikheid. Hy steek sy hand uit. “Ek is Armand. Armand Naudé.” En dan, soos almal op Hotel Njala, kry hy ’n titel by: “Ek en Adéle raak binnekort verloof. Ek besit Pendula-wildtuin naby Sabi-Sabi, links op die Skukuza-pad.”

Sy neem sy hand en skud dit. Dit is ’n pap handdruk, asof hy aan haar raak maar ook nié.

“Aangename kennis. Ek is Sonja Daneel. Of so sê my aansoekvorm.”

Hy glimlag styf. “Ek het gehoor, ja. Ek is só jammer oor wat met jou gebeur het.”

Sy lig haar skouers. “Ek kon net nie langer in daardie kamer bly nie. Ek was moeg daarvoor om myself jammer te kry, toe kruip ek uit my skuilplek!”

Armand lag. “Skuilplek? Klink of jy ’n roofdier is?”

“Wie weet? Dalk is ek soos ’n wolf of ’n ding.”

Die glimlag verdwyn van sy gesig af. “Dan het jy ook gehoor?”

“Wat gehoor?” vra Sonja.

“Dat hier glo ’n wolf in die bosse is.”

“Ek het hom gesien,” sê Sonja.

Armand kyk ondersoekend na haar. “Gesien?”

“Dis al wat ek onthou van voor my ongeluk. Daar het ’n wolf in die pad gestaan.”

“Maar daar is mos nie wolwe in Hazyview nie.”

“So sê luitenant Nolte ook, maar ek weet wat ek gesien het.”

Armand knik. “Goed. Interessant. Maar, uhm . . .”

“Jy glo my nie?”

Hy skud sy kop. “Dis nie wat ek gesê het nie. Oom Jan het ook dikwels van die wolf gepraat. Hý sien hom gereeld as hy nie te suur is nie.” Armand praat sagter. “Ons dink almal die oom is bietjie koekoe. Maar hy hou vol dat hier ’n wolf is. Dit is immers hoekom die plaas se naam eers Wolwedans was.”

Twee toeriste stap verby en Armand groet hulle op Duits. “Goeienaand. Die toer Pendula toe vertrek môreoggend halfvyf. Mens sien die beste diere voor die son opkom. Ons kry mekaar by ontvangs.”

Die man en vrou vra ’n paar vrae en verwys na die toerbrosjure in hulle hand. Sonja verskoon haar.

“Ons sien mekaar weer! En sterkte met die gesond word. Ek hoop jy onthou vinnig!” roep Armand agterna.

Armand. Adéle se verloofde. Sy het haar Adéle se toekomstige eggenoot anders voorgestel – ’n sterker man wat haar kan beheer. Wat die leiding kan neem. Soos Ryno.

Sy skrik vir haar eie gedagtes. Soos sy Adéle opgesom het, sal sy haar nie met toergidse ophou nie. Hulle is seker te ver benede haar. Of dalk is haar indrukke van Adéle verkeerd.

Sonja kyk na die swembad. Sommige gaste dwaal nog daar rond en ’n kroegman dra drankies aan. Daar is ’n gazebo net bokant die swembad waar enkele mense rondtalm met drankies in die hand. Iemand vee met sy vinger oor ’n iPad. Alles spreek van luukse gemak en sofistikasie.

Sy stap oor ’n houtbruggie waaronder varings groei en ’n klein stroompie kabbel. Op die bodem van die stroompie wat uitgesement is, is daar rivierklippies ingelas. Tropiese plante hang breëblaar in die water en ’n naaldekoker met bloedrooi vlerke sit op een van die blare wat liggies heen en weer beweeg.

Dan arriveer Sonja by die rivierklippaadjie wat ook onder haar kamervenster verbyloop. Sy gaan staan.

Van hier af lyk dit nog meer indrukwekkend as van daar bo. Alom tros bougainvilleas met rooi, pers en pienk blomme oor die mure en hier en daar staan ’n piesangboom. Daar is orals ligte langs die paadjie, sodat dit ’n sprokiesatmosfeer het. Sy onthou hoe Ryno die ligte kamtig “aangeskakel” het netnou, en glimlag. Links draai daar kort-kort paadjies na bungalows en ander dubbelverdiepinggeboue af, en aan die regterkant is daar nog kamers. Dit is regtig ’n geweldige groot hotel.

Diana Joubert kom van voor af aangestap, haar houding gespanne. Sy kyk vinnig links en regs, pluk hier aan ’n takkie, tel daar ’n papiertjie op en gee opdragte aan werkers wat vinnig met handdoeke oor die arm of skinkborde vol sjokolade die kamers gereed maak vir die aand.

“Maar kyk wie het opgestaan! Ek is bly jy loop ’n bietjie rond, Sonja.” Diana kom nader gestap. “Die dokter kom weer môreoggend. Ek neem aan jy sal nog tot môreaand buite aksie wees.”

“Nee, mevrou Joubert. Ek wil graag môreoggend begin werk.”

“Jy hoef nie.”

“Ek wil graag. Dit sal my aandag aftrek. Ek is seker die pleisters sal môre afkom. Ek sal julle darem nie in die skande steek deur soos ’n zombie te lyk nie.”

Diana haak by haar in en hulle stap saam in die rigting van die woonhuis wat grens aan die hotel. “Ek weet dit klink dalk vreemd, maar . . .” Sy gaan staan. “Onthou jy darem nog wat die pligte van ’n ontvangsdame is?”

Sonja knip-knip haar oë. Die pligte van ’n ontvangsdame. Dit wat sy skynbaar die afgelope vier of vyf jaar by ander hotelle gedoen het. Onthou sy dít darem?

“Ek moet gaste verwelkom, ek hanteer besprekings, ek teken gaste in en ken kamers toe, ek neem boodskappe en gee dit aan gaste, bespreek toere en help toeriste om hul dae te beplan. Ek beantwoord enige vrae oor die hotel en hanteer probleme. Ek moet ook nog roetes . . .”

Diana haak weer by haar in en kry saam met haar koers na die woonhuis toe. “Genoeg. Jy het dít darem nie vergeet nie. Hoewel die werk van ’n ontvangsdame by Hotel Njala meer vereis as net die gewone – soos ons destyds met jou bespreek het tydens jou onderhoud.”

“Al wat ek van die onderhoud onthou, is . . . vaagweg . . . julle vier gesigte voor my. En Jan Joubert . . . uhm, u man, wat na die tyd gesê het ek het die werk.”

Sy voel hoe Diana verstyf. “Wel. Ja. Dit is nie eintlik hoe ons dinge hier doen nie, maar . . . my man het destyds seker besluit om die kar voor die perde te span. Terloops, jou getuigskrifte is indrukwekkend. Jy het die regte kwalifikasies, jou lektore het goeie verslae oor jou geskryf en jou punte was hoog. Jou werkgewers is ook vol lof oor jou. Maar jy was glo maar baie op jou eie. ’n Eenkantmens, volgens sommige briewe.”

“Ek sal hulle graag wil skakel en uitvra oor myself.”

“Hulle nommers is op jou aansoekvorm.”

Wie was in haar lewe? wonder sy. Net Pietman? Die vreemde naam op die aansoekvorm onder “vriend”. Sy dink aan die hand in hare met die ring met die rooi steen – langs die graf.

“Stap voor.” Diana beduie na die deur waarop staan: Private/Privaat.

Dit is meteens asof ’n angs Sonja beetpak en ’n hand om haar keel sluit. Paniek neem van haar besit, wil haar versmoor.

Diana merk skynbaar niks op nie. Sy maak die deur wat uit ontvangs lei oop en wag dat Sonja moet instap. Maar al probeer sy hóé, sy kan haarself nie sover kry om dit te doen nie.

Wolwedans in die skemer

Подняться наверх