Читать книгу Wolwedans in die skemer - Leon van Nierop - Страница 6

Оглавление

2

Die verdomde moordenaars.

Luitenant Conrad Nolte vee die sweet van sy voorkop af. Hy trap versigtig tussen die dooie piesangblare en die vrot vrugte wat om hom lê. Sersant Berta van Schalkwyk loop agter hom en hy weet sy kyk na sy agterstewe.

“Dis die mooiste ding aan jou, luitenant. Jy bly mooi in proporsie.” Dit is wat sy gesê het nou die dag toe hulle saam gegim het.

Vroumense.

Dit is die eerste keer dat hy agtergekom het die groot, blonde meisie met die houding en die alewige sonbril sien hom dalk as meer as net ’n kollega. Sy beskou hom moontlik as troumateriaal en daardie gedagte laat hom ongemakliker voel as enige moord wat hy die afgelope paar maande tussen Bosbokrand en Hazyview ondersoek het.

Conrad Nolte soek nie geselskap nie. Hy soek veral nie ’n vrou nie, of nie nou al nie. Sy werk is te belangrik.

“Dis dan die paradys, seun!” het sy ma geSkype toe hy haar die eerste Sondagaand in sy kothuisie op die plaas van Hazyview vertel het. Sy het gepopel oor die skoonheid. “Dis waar ek en jou pa destyds ons wittebrood deurgebring het. Toe was die Bushman Rock Hotel nog daar. Vandag het dit ’n ander naam, Petra Inn, dink ek. Oppas maar vir slange, seuna. En skerpioene. Die wêreld is vrot van die goed, soos jy weet.”

Dinge het verander, wil hy vir haar sê. Hazyview word beleër. Inbrake is aan die orde van die dag; boere en gastehuis- en lodge-eienaars word feitlik daagliks beroof. Renosterstropers sypel uit die wildtuin na die distrik en terroriseer mense. Hazyview is amper in ’n staat van oorlog en dit lyk nie of die situasie gaan verbeter nie, want die misdadigers het geen respek vir die polisie of sekuriteitsmaatskappye nie.

Die paradys het toegemaak.

Conrad hurk by ’n lyk. ’n Toeris het teen skemer gaan stap – dis lekker om hier teen skemer te gaan stap, baie mense doen dit. Hy was by die lodge ingeboek, toe dwaal hy af om mango’s en piesangs te gaan pluk. Hy is met ’n panga vermoor, grusaam. Koelbloedig. Nog ’n nommer, een van talle aanvalle op onskuldige mense. Soms is dit net vir ’n selfoon, soms seker bloot om aan te val.

Hierdie keer is die arme toeris se kamera gesteel. Sy selfoon ook. En soos vele ander mense onlangs in dié omgewing, het dit sy lewe gekos. ’n Lewe vir ’n kamera en selfoon.

Maar die moord het van woede getuig. En minagting. Conrad kyk na die dooie man se bokbaardjie waarin die bloed gekoek is. Vir daardie mense is ’n lewe minder werd as ’n slaksleepsel op die grond na reën.

Die fotograaf wat deel vorm van die forensiese span, se kamera hou aan klik soos hy die lyk uit verskeie hoeke afneem. Hy mag net loop in die nou ruimte wat Conrad uitgestip het, sodat die omgewing nie versteur word nie.

Daar is baie voetspore om die lyk. Die moordenaars het swaar stewels gedra. Die spore lei deur die piesangplantasie tot by die teerpad, waar dit verdwyn asof ’n voertuig die misdadigers opgelaai het.

Dit is die derde aanval op lodges dié week. Eers het een van die mees vooraanstaande lodges deurgeloop – vier aanvallers, helder oordag, toe die toeriste onder die maroelabome langs die huisie sit en eet het. Die toeriste is beveel om gesig na onder op die gras te gaan lê en toe is hul selfone, paspoorte, juwele, iPads en geld afgeneem. Toe het dinge wreder en meer gewelddadig geword. Geweerkolwe teen gesigte. Die vroue rondgegooi asof hulle mieliesakke is. Aanmerkings, verkleinerings.

Een van die aanvallers het selfs ’n slagyster op die stoep gelos. Mooi netjies voor die deur, om sy minagting aan te dui.

Toe verdwyn hulle.

’n Week gelede was daar nog ’n aanval, dié slag op ’n gastehuis. Een van die toeriste wou nie saamwerk nie, toe skiet hulle hom, vierkantig tussen die oë. Morsdood. En daarna, volgens sy vrou, maak hulle hul buit rustig bymekaar. Verwaand, doelgerig. Toe slaan hulle haar met ’n geweerkolf deur die gesig en laat haar vir dood agter.

Conrad kon ten minste ’n beskrywing van die hoof-indoena kry: ’n man met sliertige toutjieshare. Dreadlocks. En ’n wrede gesig met oë diep in hul kasse gebed. Elke keer, net voor hy aanval, ’n ligte grynslag.

Conrad Nolte skryf vinnig in sy swart boekie. Hy raak daarvan bewus dat Berta na hom kyk. “Die baaiskoup is in die piesangplantasies, sersant.”

“Nee, ek dink maar net. Luitenant lyk partykeer na een van daai speurders uit die ou moewies wat hulle laat in die nagte wys, altyd met ’n sigaret. En sulke mooi hande wat die sigaret beskerm teen die wind.” Berta kyk na sy klere. “Hoekom dra luitenant altyd swart?”

“Want swart werk vir my.” Kortaf, sodat sy nie verder moet uitvra nie.

Magtag, die vroumens kan baie vrae vra! Maar sy is skerp. Sy sien soms dinge raak wat hom ontglip en sy dink met die gevoel en begrip vir emosie van ’n vrou. Sy verstaan motiewe, veral die modus operandi van mense wat moor vir wraak. Sy kyk altyd so ingedagte na hom. Dan gee sy ’n laggie asof dit gaan oor iets wat net sý weet. Iets van hom, iets wat sy raaksien en waarvan sy hou, maar sy verklap nooit wat dit is nie. Dit is haar private grappie en dit irriteer hom meer as die verdomde muskiete wat snags om sy kop zoem. Hier is meer muskiete as op enige ander plek waar hy al was, en die dêm goed is so groot soos foksterriërs.

Berta van Schalkwyk knik en begin tussen die piesangbome rondloop. Sy hurk by ’n boomstam, voel met haar pen aan iets en vroetel ingedagte aan die vrot blare.

“Luitenant.” As sy daardie stemtoon gebruik, het sy iets belangriks gesien. Dit is anders as wanneer sy hom peper met vrae.

Hy loop tot by Berta. Sy lig iets met die fyn tangetjie wat sy altyd in haar handsak dra en kyk teen die lig daarna. ’n Sigaretstompie, onlangs gerook en daar weggegooi. Sy gooi dit in ’n buisie.

“Goeie werk, sersant.”

“Dankie, luitenant.”

Berta het ’n mooi stem. Hy het al gewonder hoe dit sou klink as sy sing. Daarby het sy ’n droë sin vir humor. Hy het al een of twee keer vir haar gegrinnik, maar dan kyk sy hom verstom aan en sê sy is doodernstig, sy maak nie ’n grap nie.

Hadidas vlieg oor hul koppe.

“Raasgatte.” Conrad kan die voëls nie verdra nie. Hulle skree hom elke oggend wakker in sy kothuisie op die plaas. Wei gedurig op die grasperk en sodra iets roer, vlieg hulle op met daardie geskree wat deur murg en been sny.

“Luitenant weet wat hulle van die hadidas sê, nè?” Berta hou haar hand by haar oë terwyl sy die gillende voëls agternakyk.

“Dat hulle ’n verpesting geword het?”

“Dat hulle skree omdat hulle hoogtevrees het.” Sy buk weer en krap met haar tangetjie tussen die vrot blare rond.

“Hmm.” Conrad se droë laggie is skaars hoorbaar, maar klaarblyklik hoor sý dit. Want sy glimlag net so effentjies, asof sy bly is sy het guns in Conrad se oë gekry.

“Het luitenant nog nooit gewonder hoekom hulle so ’n helse lawaai opskop nie?”

“Nog nie dit geGoogle nie. Maar ek is seker jý het.” Hy loop terug na die lyk toe.

“Hulle hits mekaar aan, nes leeus wat brul of olifante wat trompetter. Dis hoe hulle kommunikeer, luitenant.”

Berta staan op en tel ’n piesang op, die skil gedeeltelik afgetrek. Sy beskou die tandmerke in die sagte witgeelvleis, dan bag-en-tag sy dit. Haar oë dwaal weer oor die terrein toe sy terugstap na die lyk toe.

’n Rukkie later praat hulle met die lodge-eienaars, ’n man en ’n vrou wat uit die Karoo hierheen getrek het omdat hulle van die rustige omgewing gehou het, net om hulle vas te loop in nog misdaad.

“Julle sal voornemende toeriste moet waarsku,” sê Conrad. “Julle lodge is hier aan die buitewyke van die vallei Bosbokrand toe. Die gevaar het nog altyd van hierdie kant af gekom.”

Die lodge-eienaar knik. “Ek en my vrou dink nou aan verkoop, veral na al die inbrake rondom ons. Nou die aand dwaal ’n paloeka op my grasperk rond. Ek skiet ’n skoot oor sy kop. Gaan kla hy my wragtag aan dat ek hom wou vermoor het. Hy het maar net ’n kortpad gekies, sê hy, en toevallig op my grond beland.”

Conrad vee die sweet van sy voorkop af. “Hier is ’n bende wat die wêreld platloop. Hulle is goed georganiseer. Hulle breek ook gereeld in. Dieselfde manier van doen. Hulle steel dieselfde elektroniese goed, en wapens. Hulle soek wapens. Maar as hulle lodges takel, moor hulle, want dan kry hulle publisiteit.”

Sy selfoon lui. Syne en Berta s’n het dieselfde luitoon – ’n hiëna wat lag. Berta soek in haar handsak, maar merk dan dat Conrad regmaak om te antwoord.

“Ons moet die lui verander, luitenant. Maar ek hou van die hiëna. Trek altyd my aandag.”

Dalk moet hy ’n dêm hadida se skree laai as sy selfoondeuntjie, dink hy. Dit sal hom vinniger laat antwoord, net om die gegil stil te kry.

“Nolte.”

Dis die superintendent. Hy praat altyd, áltyd Engels moet hom, al is hy heel bedrewe in Afrikaans.

“Luitenant. Accident scene in your vicinity. Young woman’s car left the road. Could be that she saw the palookas. Could be another reason. She’s in the Pink Palace. Investigate. Ask a few questions. Find out what happened. Apparently the car is on the Mowena Road.”

“I will do so.” Hy klik sy selfoon af. “Sersant. Ons moet Pink Palace toe.”

Berta se mond val oop. “Is hier wraggies nou al ’n Teazers op Hazyview, luitenant? Cool!”

Hy trek sy mond in ’n stram posbusglimlag. “As hier ’n Teazers was, was ek lankal daar, sersant. Die talent is maar dun gesaai. Ek praat van Hotel Njala op die R536, daar oorkant die kwadfietse wat altyd so raas op ’n Saterdag.”

“O. Die Jouberts se plek.” Sy druk haar donkerbril terug op haar neus. “Snaakse fandamily, luitenant, met ’n baie sexy toergids. So ’n lekker boerseun. Sterk. Gemaklik in sy eie lyf met daai look van moenie laat ek my moer strip nie, maar as ek jou smaak, sal jy sing.”

Conrad knip-knip sy oë. “Sersant. Waar val jy nou uit?”

“Almal praat van hom, luitenant. Sy naam is Ryno. Sexy naam. En elke girl in die distrik is agter sy lyf aan. En wat ’n lyf! Pierre Spies kan gaan slaap. Ryno is absoluut in proporsie en hy’s nie een van daardie pretty metro-sexuals nie. Hy is pure man.”

Conrad klap sy sakboekie toe. “Wat moet ek met daardie inligting maak, sersant?”

“Luitenant sê altyd alle inligting is belangrik. Dis juis die klein stukkies detail wat dikwels die saak oplos.”

“En Ryno se liggaamlike attribusies moet my help?”

“Wat is attribusies, luitenant?”

“Google dit, sersant.”

Dis die nadeel van ’n vroulike kollega: die onnodige detail. Die blomryke uitbreiding op feite. Sy wil altyd alles weet. En Berta het ’n oog vir die manne; hy het al gesien hoe sy na die Hazyviewse boere kyk. Maar dan kyk sy natuurlik veral na hóm op daardie manier wat hom ongemaklik maak.

Hy wink vir haar. “Buya lapa wena. Ons moet toer.”

Hulle ry in sy negentien-voertsek-motortjie terug be-skawing toe. Stokou meisie. Lavinia, noem hy die motor. Maar boeta, kan sy ry oor Hazyview se slegte grondpaaie! Nie eers slaggate stuit haar in haar vaart nie. Sy hop oor hulle soos die Paashasie op pad om eiers te gaan wegsteek.

By die skewe bordjie wat een kant Hazyview toe wys en die ander kant na Mowena, draai Conrad af.

“Wat soek ’n mens op só ’n goor pad, luitenant?”

Hy beduie. “Hulle werk mos aan die slaggate op die R536 net langs Hotel Njala. Jy kon die afgelope twee dae bedags net met ’n ompad by die hotel uitkom.”

Hy sien die rooi motortjie tussen die bosse blink. Gertinus se insleepdiens het dit pas vasgehaak om uit te sleep.

Conrad hou stil en klim uit. Hy praat vinnig met Gertinus, wat gelukkig kort en bondig die nodige inligting gee. As almal maar so ekonomies met hul feite was, sonder die langdradige gesnater tussenin.

“Ons weet dit was ’n girl, luitenant. Of so sê die mense by Hotel Njala. Glo ’n lelike stamp teen die kop. Nou’s daar moerse fout. Soos in, die girl het nie ’n koekieng kloe wie sy is nie. Haar handsak is ook weg met al haar ID’s in. Sad case.”

“Jy bedoel soos in geheueverlies?”

Gertinus knik. “Dis die storie wat rondlê.”

Berta is reeds by die motor. Sy hurk en kyk na die motorspore wat die pad verlaat en ’n ruimte deur die gras oopgeploeg het.

Gertinus sug. “Die girl was dêm gelukkig, luitenant. As sy vinniger gery het, het die skedonkie in die Sabierivier geval.”

“Wag. Voor jy uitsleep . . .”

Conrad stap tot by die motor en ruk aan die kattebak. Dit het gedeeltelik oopgebars van die ongeluk.

“Wag, luitenant. Ek help,” sê Berta.

As sy tog nie altyd so hulpvaardig wou wees nie! Sy is partykeer meer in die pad as wat sy help. Maar sy is sterk. Daar is meer krag in haar voorarms as wat jy sou verwag.

Die kattebak kraak oop. Agterin is twee tasse. Conrad lig een uit.

“Wag, luitenant, laat ek oopmaak. Dis ’n vrou se tas, dit werk anders.” Berta hurk langs die tas. Gertinus rol sy oë.

“Hmm.” Weer Conrad Nolte se poging tot ’n laggie.

Die tas se knippe spring oop. Daar is vroueklere, netjies ingepak. Bo-op lê ’n swart rokkie. “Fyn lyfie wat hierin pas,” lig Berta haar wenkbroue. Daar is ook briewe – korrespondensie met Hotel Njala se logo daarop.

Conrad bestudeer dit. Hy sien die naam Sonja Daneel. Sy het ’n adres is Steiltes, Nelspruit, ’n uur hiervandaan. Sy begin volgens die datum vandag as ontvangsdame by Hotel Njala werk. Daar is ook besonderhede oor haar onderhoud en pligte.

Die ander tas het ook klere in. Mooi klere, die meisie het smaak. Hy wonder hoe lyk sy.

Hy draai om: “Ek sal soontoe gaan. Ek neem die tasse sommer saam.”

Gertinus knik. Conrad sien hoe Berta na sy agterstewe kyk en dan liggies glimlag asof sy dit goedkeur. Gertinus knipoog terug.

Conrad laai die bagasie agter in sy motor en loop dan terug na die ingeduikte rooi motortjie. Hy soek na ’n selfoon, ’n handsak, enigiets. Maar daar is niks.

Hy loop weer na die plek waar die motor oor die randjie van die sandbank gehang het, kyk rond, maak aan-tekeninge. Lyk beslis vir hom na ’n doodgewone ongeluk. Baie toeriste misgis hulle met Hazyview se grondpaaie, dan moet Gertinus hulle kom uitsleep. Maar hierdie meisie is nie ’n toeris nie, sy bly in Nelspruit en kom hier werk.

“Hmm.”

“Hmm wat, luitenant?” vra Berta.

Sy regteroog spring. En as sy regteroog spring, is daar moeilikheid.

Conrad het egter nou belangriker sake om op te los as ’n meisie wat nie gekyk het waar sy ry nie. Daardie aanvalle vra onmiddellike aandag.

“Magtag. Iemand het weer Hazyview se oonddeur oopgelos,” sug Berta.

“Sersant, as jy nie die hitte kan vat nie, vra vir ’n verplasing Ermelo toe. Dis lekker koel daar.”

“Ek kla nie, luitenant, ek sê net. Ons vroue voel hitte vinniger as julle mans. Ek weet g’n hoe luitenant dit hou met ’n baadjie aan nie. Net die cops in ou moewies dra sulke swart baadjies in sulke hitte.”

Berta waggel teen die skuinste uit terug na die motor toe. Sy het ’n stewige agterstewe, merk Conrad vir die soveelste keer – sy sal moet waak teen die baie koeksisters. Die superintendent het hoeka verlede week gepraat van “the ass-brigade with the giant Boere buns. Go on a diet, guys!” terwyl hy na Berta gekyk het. Maar sy het geglimlag asof sy glad nie vermoed het dis veral op haar gemik nie.

“Kom, sersant. Die Pink Palace wag.”

“Ek like daai naam, luitenant. Dit sê soveel lekkerder. Hotel Njala is so half . . . ek weet nie, hardlywig.” Sy klim in die motor wat effens sak toe sy gaan sit.

En oor hulle koppe vlieg daar weer ’n paar hadidas.

Conrad verander onmiddellik van plan. Hy sal dan eerder “The good, the bad and the ugly” as sy nuwe selfoondeuntjie kies. Hy kan hierdie verdomde hoë gegil nie meer uithou nie.

Wolwedans in die skemer

Подняться наверх