Читать книгу Wolwedans in die skemer - Leon van Nierop - Страница 4

Оглавление

PROLOOG

Die wolf lig sy ore – die snoet spits in die rigting van ’n geluid.

Onder hom lê die Hazyview-vallei gesluier in die mis. Dit is sý plek hierdie. Sy speelplek. Sy jagplek.

En soms sy moorplek.

Die wolf draai sy kop. Hy kyk af op die hotel wat tussen die misflarde uitsteek. Van hier af is die rivierklippaadjie net-net sigbaar. Agter staan die huis wat deel van die hotel uitmaak.

Destyds het hier nog ’n verdwaalde njala rondgeswerf wat uit die wildtuin ontsnap het. Nou is daar weinig prooi meer. ’n Bokkie miskien. Of ’n boerbok wat afgedwaal het en apies. Maar hulle is te vinnig. Die wolf se prooi is dus beperk. Daar is darem ook soms rooikatte. Of dassies en muishonde.

Maar hy het nog nooit ’n mens gevang nie. Nog nie.

Dis skemer. Dit is wanneer die wolf ander van sy soort die meeste mis.

1967. Die Hazyview-vallei.

Die klein meisietjie het die wolf die eerste gewaar. Sy was sewe jaar oud. Sy het op die plaas met die pad langs geloop na haar pa wat in die mangoboorde opdragte uitgedeel het. Sy het haar mandjie by haar gehad, met haar pa se kos in. Haar ma het haar gereeld met kos na die mangoboorde gestuur.

Toe gewaar sy die rooi blom tussen die bome. Dit was die mooiste blom wat sy nog gesien het. Maar om dit te kon pluk doer tussen die digte bome, sou sy van die grondpad moes afdwaal. Haar hartjie het woes geklop, maar die blom was onweerstaanbaar met sy rooi blare oopgesper soos ’n bek wat na iets wil hap.

Van ver af, iewers, die geluid van ’n byl wat bome kap. Ver. Baie ver. Maar sy kon dit tog hoor.

Die dogtertjie het versigtig tussen die digte bome deurgeloop na die blom toe. Brandnetels het haar geskraap, maar sy het net die seerplekke gekrap en verder geloop.

Toe sy egter haar hand uitsteek, het ’n reuk soos iets wat dood is in haar neusgate opgestoot. Sy kon nie meer die blom pluk nie.

Toe raak sy bewus van iets in die bos naby haar.

Hadidas het bokant haar verby gevlieg en sy het opgekyk.

Vir haar was die skel roepe mooi; vir ander mense was dit bloot ’n lawaai. Sy het onthou wat haar ma altyd gesê het. As die hadida oor ’n plek vlieg en skel, gee hy ’n doodsdreigement, want daardie nag sal iemand sterf.

Sy het haar ma nooit daaroor uitgevra nie – sy het net altyd van die waarskuwing gehoor, maar dit nooit ervaar nie.

Agter haar ’n ritseling. Met die omkyk sien sy die wolf.

En agter die meisietjie was ’n bokkie met skerp horings en wakker ogies.

Die hadidas het bly skel. Hul vlerke het saam met die bylhoue die stilte aanhou versteur.

Sy het gevries. Sy was tussen die wolf en die bokkie. Die dogtertjie het staan en wag vir die naels wat na haar lyfie sou krap, soos in die prenteboek waaruit haar ma altyd vir haar sprokies gelees het.

Toe storm die wolf.

Sy het haar mandjie laat val. Dit was verskriklik, die pikswart wolf wat op haar afpyl met sy geel oë en tong wat uithang. Sy kon die honger in daardie oë sien. En bokant haar was daar steeds die hadida se gekrys.

Die wolf het sy kop laag gehou en sy pote het grts, grts, grts deur die gras gemaak.

Maar toe, op die laaste oomblik, swenk hy verby haar.

Sy het verskrik omgekyk na waarheen hy gestorm het. Die bokkie was die slagoffer. Die soenoffer, die diertjie wat in haar plek gesterf het – want die wolf, kon sy sien, was honger.

En toe die sterk kake wat om die keel sluit. Die ogies wat oopsper. Die pote wat in die grond ploeg. Die voorpote wat knak soos die vuurhoutjies wat haar pa buig elke keer as hy sy pyp opsteek. En die laaste vreeslike geblêr. Die derms wat uit die bokkie se karkas geruk word. Die hart wat nog pols en die keeltjie wat agteroorbuig en oopkelk soos die rooi blom netnoumaar nog onder haar vingers.

Sy sien die bloed – so baie bloed. En die uitmekaarskeur van vleis met tande wat gemaak is vir dié soort werk. Die geel oë wat haar kort-kort wantrouig beskou.

Dit het gelyk of die wolf sê: Bly weg. Dis myne. Ek is die wolf, dis mý vallei. Hierdie slag was jy gelukkig en is jy gespaar. Ek het die bok in jou plek geneem.

Die verstikkende reuk van die rooi blom, van die mos teen die stamme naby haar, van vrot blare. En van bloed.

Die wolf het sy prooi gevang tussen vier dennebome wat ewe ver van mekaar geplant is, soos die hoekstene van ’n huis. Daar gevang en daar verorber.

Sy het weer van die houtkapgeluide bewus geword. ’n Slag. Dan stilte. Weer ’n slag. En stilte. Ver. Baie ver.

Toe tel sy haar mandjie op met handjies wat bewe. Stap wankelrig aan met voete wat kort-kort onder haar wil swik. Sy het weggestap van daardie bloedbevlekte dennenaalde. Haar bene was nat, want sy het beheer oor haar blaas verloor. Dit was effens branderig.

Vorentoe. Verder deur die bos, weg van die wolf se skuilplek.

Toe sy uiteindelik deur die bougainvilleas druk, het die dorings haar gekrap. Maar sy het nie omgegee nie, sy moes net wegkom van die moordtoneel. Die dogtertjie het blindelings aanhou loop.

Skielik was die waterval voor haar.

Sy het al daarvan gehoor, maar dit nog nooit gesien nie. Haar ouers het haar altyd daarteen gewaarsku, want hulle was bang sy sou in die water beland.

Die waterval was nie so hoog nie. En doer bo, op ’n rots, was daar ’n figuur. ’n Lang, maer man met ’n bruingebrande lyf en woeste hare. Hy het ’n byl vasgehou.

Die houtkapper – dit was die man wat hout kap in die bos. Dis die geluid wat sy altyd hoor as sy van die huis af wegdwaal.

Die seun was seker ’n jaar of drie ouer as sy. Dis reg, hy was nog nie ’n man nie, net ’n seun. Maar hy was mooi! En sterk ook, hy moes wees. Die sweet het geglim op sy kaal bolyf. Hy was baie aantrekliker as die houtkapper wat sy altyd in die prentjie by die storie van Rooikappie gesien het.

Hy het daar gestaan soos ’n standbeeld wat uit vleis en been gekap is. Hy het stip na haar gekyk. Hy het die byl langs hom op die rots neergesit. Toe strek hy sy hande uit en duik.

Sy lyf het ’n harde plonsgeluid gemaak toe hy die water tref. En daar langs die diep poel het sy staan en wag vir die seun om uit die dieptes te voorskyn te kom. Maar die poel het net so donker gebly. Sy kon nie beweeg nie. Die rimpelings het al bedaar, toe wag sy nog dat hy moet verskyn.

Haar hart het vinnig geklop en vir die tweede keer het dit gevoel of sy alle beheer verloor.

En toe: die kop bo die oppervlak, die snak na asem. Die donker, gitswart hare wat nat oor sy voorkop hang.

Hy het uit die water geklim en na haar toe gestap. Dit het gevoel asof ’n prins na haar toe aankom. Hy het baie seker van homself gelyk.

Hy het tot by haar geloop en sy het gedink dat hy mooier en sterker was as enige prins wat sy al in ’n storieboek gesien het.

“Ek is Jan,” het hy gesê.

Sy is geleer om nie met vreemdes te praat nie. Maar daar was iets in sy oë, iets in sy houding wat haar laat praat het. Sy hande het oop en toe gemaak asof dit na die byl soek wat hy daar bo op die rots gelos het.

“Arista.” Sy het haar tweede naam gebruik omdat sy nog nooit van haar doopnaam gehou het nie. Sy is na haar ouma vernoem, en dit was vir haar ’n nare naam. Arista het na ’n prinses geklink.

Jan het lank na haar gekyk. Vir ’n oomblik het dit gelyk soos die wolf se oë. Dit was net nie geel nie, maar groot, blou, mooi.

En van iewers tussen die bosse het iets hulle bespied. Dalk die wolf, wat klaar was met sy maaltyd?

“Arista.” Dit het vreeslik mooi geklink as hy haar so noem. “Ek en jy gaan nog eendag trou. As jy groter is.”

Hy het aan haar hand gevat en dit liggies gedruk.

Toe draai hy om en klouter terug op teen die rotse na waar sy byl gelê het – rats, vinnig, behendig.

Bo aangekom, het hy haar naam teen die waterval uitgeroep.

“Arista du Randt!” het sy teruggeskree. “Ek is Arista du Randt van nou af!”

Toe was hy weg, nes die wolf.

Sy het vinnig aangestap tussen die digte bome deur, tot sy die grondpad na die mangoboord gekry het. Die groenvel-vrugte met hul rooi wange het swaar en trots al om haar gehang.

Toe sy in die oopte uitgeloop kom, het haar pa op haar afgestorm. Hy was tegelyk kwaad en angstig. Wat het sy in die bosse gesoek? Sy weet mos sy mag nie soontoe loop nie. Dis wild en woes. Daardie deel van die plaas was so ruig dat dit nog nie skoongemaak kon word vir mangobome nie. Sy moes daar wegbly!

Teen haar pa se bors het sy vertel van die wolf wat gelyk het of hy dans toe hy die bokkie gevang en om en om met die spartelende diertjie gerol het. En die hadidas. Maar veral van die brutale dans en die bokkie wat al spartelend gesterf het. Dit was amper asof hulle verlief was, het sy gedink, twee diere wat dans tot in die een se laaste oomblik.

En sy het gedink aan Jan se oë. Maar sy het nie ’n woord oor hom gerep nie.

“Die wolf dans as hy doodmaak, Pappa.”

En weer het sy aan Jan gedink. Jan met daardie oë en die lang, maer lyf. Die prins met die woeste hare wat haar Arista genoem het.

Vir haar pa het die gepraat oor die wolf nie veel sin gemaak het. Wolwe wat dans, waar het jy van so iets gehoor? Maar die naam het bly vassteek en toe die plaas se naam verander en haar pa dit moes registreer, heet dit voortaan Wolwedans.

Mooi naam. Wolwedans. Net so mooi soos Arista. En sý het daardie naam uitgedink. Arista het dit altyd vereenselwig met die wolf wat so na haar staan en kyk het.

En met Jan. Pragtige Jan wat vier jaar ouer as sy was, het sy later uitgevind. Sy sou hom nooit vergeet nie.

Wolwedans met sy mangobome en bobbejaantoue en apies wat rondskarrel. Waar die hadidas langs die rivier nesmaak en skree. En die paddas in kore die reën besing en die donderwolke roep.

Elke padda het ’n ander stem gehad. Daar was dié wat geklink het soos borreltjies in die modder, fyn geluidjies wat soos ligte tromslae deur die stilte tamboer. Plop-plop-plop! Ploing-ploing-ploing, met skril, hoë stemmetjies, byna soos sonbesies.

Ander paddas het gekwaak asof hulle met mekaar kommunikeer. Ja, kwaak, nes hulle op skool by die juffrou geleer het. Hulle moes dit in die graadtweeklas namaak. Toe het party kinderstemmetjies van die een kant af geskree: “Kwaa-aa-aak, kwaa-aa-aak!” En van die ander kant, die res van die klas wat antwoord: “Kwaa-aa-aak, kwaa-aa-aak, kwaak!”

Maar sy het geskree: “Ploing-ploing-ploing!” Want dit was hoe Wolwedans se paddas geklink het.

Op die plaas was die geluide ook partykeer diep en donker, sonder die ligtheid wat dit in kinders se monde het. Kwaa-aa-aak, kwaa-aa-kwaak: basklanke, donker klanke, tot diep in die nag.

Maar doer gunter, iewers in die diepste bos, was daar altyd die enkele brulpadda wat sy heerskappy oor die gebied bevestig het, maar nes die wolf amper nooit gesien is nie. Dit was ’n kwaak-brul met ’n oerklank so diep dat g’n onderste noot op haar ma se klavier dit eers kon raakvat nie.

Dan, eensklaps, het alles stil geword asof die natuur asem ophou en wag. En Arista weet: Die wolf sluip by die dam verby. En alles is morsdoodstil uit respek en vrees.

Of dalk het die wolf weer ’n bokkie gevang, die bloed spuitend. Dan sal die paddas wag tot die dodedans verby is en die laaste roggel bedaar het.

Op haar agtste verjaarsdag het haar pa, Hannes du Randt, vir Arista ’n juwelekissie present gegee – ’n Rooikappie-kissie omdat sy so dol was oor die Rooikappie-storie. Al het sy altyd meer van die wolf gehou.

Die juwelekissie was pragtig. Binne-in, op ’n spieël, was daar ’n poppie met ’n rooi rokkie en ’n rooi kappie wat om en om gedraai het, al in die rondte. Maar eers het daar ’n deuntjie gespeel.

Sy sou dit kon gebruik wanneer sy haar ma se juwele erf. As Wolwedans hare is.

“Rooikappie se ouma is sommer simpel. Sy verdien om opgeëet te word!” het sy op ’n keer gesê nadat haar ma die storie die hoeveelste keer vir haar gelees het.

Haar ma was eers verbaas, toe het sy haar kop geskud. “Jy moet eendag stories skryf, my pop. Met daardie verbeelding kan jy al die sprokies herontwerp!”

Later het Arista die poppie so dikwels laat draai, dat die deuntjie hees geraak en uiteindelik stil geword het. Maar die poppie het bly draai.

Arista het ure lank met haar gespeel en gekyk hoe sy altyd in dieselfde rigting draai. Kloksgewys. Oor en oor en oor. Die poppie het haar beste vriendjie geword.

En altyd, diep vanuit die bosse, die geluide van hout wat gekap word.

Op ’n dag het sy teruggegaan na die plek waar die wolf die bokkie gevang het. Toe sien sy dit – Jan was besig om daar ’n houthut te bou. Sy sterk bolyf het weer in die son geblink terwyl hy die hout in latte kap en dit sorgvuldig bo-op mekaar plaas tot die hut begin vorm kry.

Arista was toe in matriek.

Sy het Jan die vorige paar jare partykeer met vakansies in die kerk gesien. Dan het hy so styf-regop tussen sy ouers gesit en was dit duidelik hy wou nie daar wees nie. Hy het ontuis in die kerk gevoel, nes sy. Dan knipoog hy vir haar.

Een keer het hulle na die tyd vinnig met mekaar gepraat. Dan glimlag hy: “Haai, Arista. Wanneer trou jy met my?”

“Nes ek klaar is met skool,” was haar antwoord.

“En dan?”

“Dan bly ons lank en gelukkig op Wolwedans.”

Jan het stip na haar gekyk. “Arista du Randt.”

“Ja, Jan?”

“Ek en jy gaan Wolwedans baie mooier maak as jou simpel pa en ma. Hulle verstaan niks van die wolf nie.”

Sy het geskrik. Iemand behalwe sy wat die wolf gesien het!

Sy het later gehoor dat Jan se ouers oorlede is. Hy was op universiteit en het net vakansies huis toe gekom. Sy het hom net van ver af gesien en hy het nie nader gekom nie. Dit was asof hy wou wag dat sy ouer is, dalk dat sy meer van die lewe af kan weet, voordat hy vir haar kom kuier.

Toe het sy hom ’n jaar lank glad nie gesien nie.

Toe sy klaar was met matriek, het sy haar ma op die plaas gehelp. Daar was nie geld om verder te gaan leer nie. En sy het gewag dat Jan terugkom.

Toe kom daar die dag dat sy hom weer by die waterval kry. Hy het op dieselfde plek as tevore gestaan en in die poel geduik. Toe hy uitklim, het hy na haar toe gestap en haar in sy arms geneem.

Jan het haar gesoen. Lank en innig en met soveel krag dat sy gedink het sy gaan flou word daarvan. Daarna het hy haar na die boshut toe gevat. “Ons s’n,” het hy geglimlag.

Daar het hulle ure lank bo-op die dennenaalde in mekaar se arms gelê en gepraat en gedroom. Hy het haar partykeer ’n bietjie gesoen, maar nooit verder gegaan nie.

Hy het as argitek in Nelspruit begin werk en net naweke Hazyview toe gekom. Dan het hulle piekniek in die boshut gebou.

Eendag het hy ’n stuk papier saamgebring en haar geteken. Sy sou nooit vergeet hoe hy haar naam gesê het nie. “Arista van Wolwedans. Dis ons twee se plaas. Net ons verstaan hierdie plek.”

En sy oë. Die oë wat nes die wolf s’n gelyk het.

Die oë wat haar gehipnotiseer het.

Op haar negentiende verjaarsdag het Jan gesê dis tyd dat hy haar ouers formeel ontmoet.

Hulle was ingenome met hom.

Jan het op Wolwedans rondgeloop asof hy die plek besit. Asof hy opmetings met sy oë doen. Asof hy die huis en die grond wou omdolwe.

Toe breek die dag aan dat hy Arista vra om met hom te trou.

Dit is meer as vier dekades later. 2012.

Die wolf spits weer sy ore. Iewers is daar ’n diep, onheilspellende bromgeluid. Hier in die donker, afgeleë gedeelte van die bos is daar selde só ’n geluid.

Hy begin draf in die rigting van die geluid.

Tussen die bome staan ’n mens. Dit is die een wat deesdae so dikwels hier ronddwaal en na hom kyk, nes daardie ander klein mensie lank gelede. Maar hierdie een se lippe beweeg en daar kom geluide uit.

Eienaardige geluide, sagte geluide wat soos sy eie gegrom klink.

Die wolf raak weer bewus van die vreemde dreungeluid wat naderkom.

En sien die ding wat blink in die mens se hand.

Wolwedans in die skemer

Подняться наверх