Читать книгу Wolwedans in die skemer - Leon van Nierop - Страница 7
Оглавление3
“My naam is Diana Joubert. Ek is die eienaar van Hotel Njala.”
Sonja kyk na die vrou wat in die stoel langs haar bed sit. Goed versorg met ’n gladde vel waarop daar nog feitlik geen plooie is nie. Maar haar oë verraai haar. Dit is oë waarin die lewe oud geword het. “Jou naam is Sonja Daneel. Jy het ’n ruk gelede aansoek gedoen om die pos as ontvangsdame by ons.”
Diana se hand bewe liggies toe sy aan haar ken raak en aan daardie enkele beweging kan Sonja sien dat sy nie die volle waarheid praat nie. “Ons het jou aansoek aanvaar en ek en my man het jou aangestel. Jy begin vandag hier werk.”
Sonja kyk na haar aansoekvorm. Sy merk uit die hoek van haar oog dat die vrou ’n houertjie met pille oopskroef. Haar hand bewe weer liggies toe sy die glas water langs die bed optel, haar kop agtertoe gooi en die pil afsluk. Diana Joubert se lang hare is agter in ’n netjiese bondel vasgebind.
Sy moes op haar dag ’n besonder mooi vrou gewees het – en is steeds, maar haar senuweeagtige bewegings en die manier waarop sy kort-kort na die deur toe kyk, dui op ’n hele paar neuroses.
Sonja kyk na haar eie foto wat aan die bokant van die aansoekvorm vasgespeld is. Daaronder, inligting oor haar. Sonja Daneel. Adres: Verduyne-singel 21, Steiltes, Nelspruit. Ouderdom: 25. Ma: Riana Daneel. Pa: Albertus Daneel. Vorige ervaring: Ontvangsdame by Fig Tree Hotel op Barberton, Bougainvillea Hotel te Kaapsche Hoop, Viergewels Hotel op Machadodorp, die Country Lodge op Malelane en die Juggernaut Inn op Nelspruit. Briewe van verwysing ingesluit. Opleiding: Diploma in Toerisme, TUT-Universiteit, Pretoria. Stokperdjies: Swem, bergklim, tennis, atletiek en rekspring. Ongetroud.
Ingesluit is ook ’n brief van haar ma, Riana, waarin sy verduidelik hoekom Sonja sterk vir die pos oorweeg behoort te word, en bykomende inligting soos haar mediese nommer, ’n polis wat sy uitgeneem het en haar bankbesonderhede by die tak in die Riverside Mall in Nelspruit.
Die ander naasbestaande is haar broer, Albertus. Sy huidige adres is in Sydney, Australië. Daar is ook drie name van vriende, met telefoonnommers by.
“Wil jy steeds hier werk?” vra Diana.
Wat anders kan sy doen? Waarheen anders kan sy gaan? Hier kry sy ten minste ’n salaris en ’n dak oor haar kop!
En dalk, dálk is hier leidrade oor presies wie sy is.
“Mits u my nog wil hê, mevrou Joubert.”
“Natuurlik wil ek jou nog hê.”
“Die twee meisies wat my in die pad gekry het, wie is . . .”
“O,” val Diana haar in die rede. “Adéle bestuur die hotel, onder my toesig natuurlik. Sy is die oudste van my twee dogters. En Magdaleen is onderbestuurder. Ons noem haar sommer Maggie. Sy maak seker al die kamers word gediens, dat die kombuis vlot verloop, en so aan.”
“Wie gaan by ontvangs werk terwyl ek hier lê?”
“Vir die oomblik Maggie. En ’n jong man wat tydelik hier werk, Japie.”
Sonja voel skielik weer ’n spanning in haar. “My ouers. Ek moet met my ouers praat. My vriende. Is daar telefoonnommers wat ek kan skakel?”
“Ons het reeds jou ma geskakel en . . .” Diana kyk stil na haar. “Ek . . . weet eintlik nie hoe om die nuus aan jou oor te dra nie.”
Vrees neem skielik van Sonja besit. “Wat bedoel u, mevrou?”
“Jou, uhm . . . jou ma is onlangs oorlede, Sonja. En jou pa is sewentien jaar terug oorlede.”
Dit voel of al die bloed haar gesig verlaat. Dit neem haar ’n ruk om die nuus te verwerk. Sy kan haar ouers glad nie onthou nie. Daar kom nie eers ’n gesig in haar gedagtes op nie.
Diana se stem is baie sag toe sy weer praat. “Ons probeer jou broer in Australië opspoor. Jy het ook ’n vriendin se nommer gelaat vir verwysingsdoeleindes, maar toe ons dit skakel, blyk dit nie meer haar nommer wees nie. Verder het jy ’n ene Pietman Malherbe as referent gegee en ons het hom geskakel, maar . . .”
“Maar wat, mevrou?”
Diana maak keel skoon. “Hy, uhm, hy noem dat julle betrokke was, maar dat jy die verhouding verbreek het.”
Sy is dus alleen. Heeltemal, stoksielalleen.
’n Stilte sak tussen hulle.
Sy raak bewus van ’n skaakbord wat in die hoek staan. Die stukke daarop wag, gereed vir ’n volgende spel.
Eers ’n minuut of wat later kry Sonja haar stem terug, terwyl Diana deur haar aansoekvorm en verwysings-briewe sit en blaai. “Hoekom is die ander ontvangsdames weg?”
“Wel, niemand hou baie lank hier nie.” Diana kyk nie in haar oë nie. “Die hitte. Die lang ure, die harde werk. Hulle is nie taai genoeg nie.”
In die deur verskyn die blonde vrou wat eerste van haar perd afgespring het. Sy is klein gebou, maar aan haar houding kan Sonja sien dat sý eintlik die baas is hier. Sy kom nader.
“Ons het nog nie formeel gesels nie. Ek is Adéle Joubert.” Sy kyk betekenisvol na haar ma. “Ek bestuur die hotel. Ek weet nie of my ma jou gesê het nie.”
“Ek het haar reeds gesê, Adéle.” Diana se antwoord is net ’n bietjie te skerp.
“Hoe voel jy?” Adéle se stem is koel en onbetrokke, asof sy die vraag vir ’n toeris vra wat ’n lang rit agter die rug het.
“My kop is nog baie seer. En my skouer. Maar verder . . .”
“Ons wonder of jy nog kans sien om hier te werk. As jy eers iewers wil gaan uitrus . . .”
Sonja skud haar kop. “Ek . . . dink ek sal môre kan begin.”
Iets soos ’n glimlaggie speel om Adéle se mondhoeke. “Môre. Is jy seker?”
“Sy lyk nie vir my gesond genoeg nie,” keer Diana.
“Ek dink dit is vir juffrou Daneel om te besluit, Ma.” Weer die onverbiddelike klank in Adéle se stem. En aan haar toon kan Sonja duidelik hoor dat Adéle haar nie hier wil hê nie.
“Dis . . . vir die dokter om te besluit,” sê Diana.
Adéle skud haar hare van haar voorkop weg. “Hmm,” sê sy soos iemand wat van beter weet.
“Buitendien dink ek ons moet juffrou Daneel laat rus. Die dokter gaan haar weer ’n inspuiting kom gee.”
“Is u doodseker u wil nog hier werk, juffrou Daneel?” vra Adéle met klem op feitlik elke woord. Diana kyk op en vir ’n oomblik meet ma en dogter mekaar met die oë. Dit is Diana wat eerste wegkyk. “Of dalk wil Ma in Sonja se plek werk tot ons iemand anders gekry het?”
Sonja verwag half dat Diana vir Adéle gaan aanspreek oor die onbeskofte manier waarop sy met haar praat, maar die vrou laat dit verbygaan.
“Ek sê mos ek wil graag hier werk,” antwoord Sonja. “Dis tog seker hoekom ek aansoek gedoen het. En daar . . . bly eintlik niks anders vir my oor nie.”
“Ek hoop jy onthou nog ’n ontvangsdame se pligte, juffrou Daneel?”
Dan tref die beelde Sonja onverwags. Dit is drie maande gelede. Sy, Sonja, sit voor vier mense terwyl ’n onderhoud plaasvind. Daar word vrae gestel. Sy probeer dink waaroor die vrae gehandel het, maar kan nie. Net deeltjies van die onderhoud hier by Hotel Njala, dit onthou sy.
Sonja sit regop. Sy onthou ook nou vir hóm – die ou man met die baard en die kuif, ’n kuif heeltemal te lank vir sy ouderdom, en die manier waarop hy na haar gekyk het.
“Ek onthou ’n ouer man wat saam met my motor toe gestap het. En . . . my motor. Ja. My rooi motortjie.”
Daar was apies bo in die bome, onthou sy ook nou. Baie apies. Dan kom dit vaagweg, die ou man se stem: “Ons skiet die apies partykeer met ’n kettie om te keer dat hulle kwaaddoen.” Sy stem was sag terwyl hy die motordeur vir haar oopmaak.
Sy voeg by: “Dit was die ouer man wat gesê het ek het die pos.”
Diana en Adéle kyk albei na mekaar.
“Wel. Hy het geen reg gehad om dit vir jou te sê nie. Nie toe al nie,” sê Adéle.
“Wie is hy?”
Diana neem ’n sluk water en vou haar hande bewerig om die glas. En toe Adéle praat, stort van die water op haar rok.
“Ma. Ek dink dis tyd dat die voorskrif hernu word.”
Diana kyk vinnig van Sonja na Adéle, en beduie met haar oë: Nie voor die besoeker nie. Maar Adéle steur haar nie daaraan nie. “Hy is Jan Joubert. Hy is my pa.” En dan, moedswillig, amper as ’n nagedagtenis: “My ma se man.”
Waar al die ander familielede met ’n titel vereer is, merk Sonja dat Jan Joubert geen titel kry nie. Daarom vra sy: “Dus behoort die hotel aan meneer en mevrou Joubert?”
Diana sit skielik regop, asof Sonja aan ’n senuwee geraak het. “Nee. Die hotel behoort aan mý.” Sy beklemtoon die laaste woord skerp.
Adéle se oë skiet vuur en Sonja kan sien dat sy nie verder durf uitvra nie.
“Jy sal hom wel die een of ander tyd te siene kry, juffrou Daneel, wanneer hy terug is.” Weer die effense moedswilligheid in Adéle se stem: “Weet Ma waar Pa op die oomblik is?”
Diana skud haar kop. “Seker,” en die ouer vrou kyk vinnig na haar dogter, “in die bos besig om te skilder.”
Adéle steek haar hand uit en trek haar ma uit die stoel op. “Ons verwag die Duitse toeriste enige oomblik. Ma sal hulle moet verwelkom en ek sal die inboekwerk doen.” Opdragte, kort en strak, wat dit redelik duidelik maak dat Adéle nooit teenstand kry nie. “Ons sal elke nou en dan kom kyk hoe dit met jou gaan. Ek wil ook hê jy moet deeglik besin oor jou werk hier, juffrou Daneel. Ek gee jou vier-en-twintig uur om te besluit, want as jy eers hier begin werk, moet jy uithaal en wys. Ek duld nie laksheid nie.”
Die jong vrou lei haar ma uit die kamer uit. En met die uitstap: “Ons moet Hazyview toe gaan sodat Ma se voorskrif hernu kan word. Ma se senuwees is al weer besig om in te gee.”
Dan maak Adéle die deur hard toe.
Sonja lê vir ’n oomblik half verdwaas, amper asof sy nog ’n stamp teen die kop gekry het. As sy die werk gekry het na ’n onderhoud met Adéle, moes sy baie goed gewees het! Maar dit was mos Jan Joubert wat gesê het sy het die werk, skynbaar voor dit volledig deur die Joubert-gesin bespreek is.
Sy lê nog ’n ruk in die skemerte. Die gordyne is toe en skynbaar die luike aan die buitekant van die vensters ook, want feitlik geen lig kom die kamer binne nie.
Sy maak haar oë toe. Dink, sê sy vir haarself. Dink. Dink!
Sy dink aan Jan Joubert wat die motordeur vir haar oopgemaak het en wat oor die apies in die bome gepraat het. Hoekom onthou sy sulke onbenullighede, maar nie wat vooraf met haar gebeur het nie? Steek haar onderbewussyn dalk sekere goed weg omdat sy dit nie wil onthou nie? Of durf onthou nie?
Haar kop word seer van die baie dink. Wat het gebeur voor sy hierheen gery het?
Sonja raak aan die slaap. Dit is ’n onrustige slaap waarin daar beelde is, meestal in skakerings van rooi. Rooi blomme, haar rooi motor. En bloed. Baie bloed.
Haar oë vlieg oop. ’n Geluid moes haar wakker gemaak het. Sy is vir ’n oomblik te bang om te beweeg, dan raak sy bewus van ’n beweging vlak langs haar. Hier is iets, iémand in die kamer!
Sy voel hoe sy yskoud word. Ons skiet die goed partykeer met ’n kettie om te keer dat hulle kwaaddoen. Sy hoor weer Jan Joubert se stem, asof hy nóú met haar praat. Oor en oor. Ons skiet die goed partykeer met ’n kettie om te keer dat hulle kwaaddoen.
Dan draai sy haar kop na die bedtafeltjie. Daar staan ’n oop kissie. Op die kissie se sykant is ’n bos uitgekerf. Sy merk die noukeurige detail van die bome se stamme, dan beweeg haar oë op tot by die poppie in die juwelekissie. Sy dra ’n bloedrooi jassie met ’n rooi kappie oor haar kop.
Sy draai in die rondte. Om en om en om en om.
Die beweging hipnotiseer Sonja.
Sy beur regop. Die oomblik toe sy haar hand uitsteek, gaan die poppie staan.
Sy huiwer. Stadig, baie versigtig, steek sy haar hand uit na die poppie. Dit is asof sy aan ’n slang gaan vat, soos die luislang destyds.
Maar sy onthou dit dan!
Sy hou haar wysvinger gepunt. Dit beweeg nader en nader aan die poppie. Haar hand bewe nou, soos Diana s’n tevore.
Toe raak sy aan die poppie. Sy voel die sagte fluweeljassie onder haar vinger. Die figuurtjie maak ’n vinnige draaibeweging asof sy skrik vir die skielike aanraking, en vir ’n oomblik kan Sonja sweer dat die piepklein ogies skerp na haar kyk. Dat hulle blits.
En die poppie begin weer beweeg.
Sonja gooi die komberse van haar af. Voor haar voete val ’n rooi roos. Dit moes op haar bed gelê het – iemand het ’n rooi roos op die bed neergesit!
Sy buk en tel dit op, en ’n doring prik haar. Sy kyk na die klein druppeltjie bloed wat op haar vingerpunt vorm.
Bloed. Sy onthou weer die bloed. Baie bloed.
Sy plaas die blom op haar bedtafeltjie langs die juwelekissie. Sy soek na pantoffels, vir die koue vloer. Daar is nie.
Sy skakel die bedlampie aan.
Dan loop sy hinkepinke na die spieël toe en bekyk haarself. Sy kyk na dié gesig asof sy dit die eerste keer sien. Sy kyk na haar groot oë, haar lang, swart hare, hoe bleek sy is, die merk aan haar lip en die wit verband wat die dokter omgedraai het vir waar sy haar kop seergemaak het. Daar is ’n pleister op haar wang, wat seker ’n skraap bedek. Sy raak daaraan en kyk weer na die vreemde gesig.
Sy probeer onthou wie sy is en waar sy vandaan kom, maar sy sien net donker kringe om vreemde oë wat bang na haar terugstaar.
Sy onthou ’n skaakbord.
Toe, ’n hand op haar skouer. Sy gil en swaai om.
Hy staan agter haar, dieselfde man wat gesê het sy het die werk.
Hy kyk bekommerd na haar. Sy swart hare met die bietjie grys in val oor sy voorkop. Ook sy baard is gevlek soos sout en peper.
“Sonja.” Hy sê dit so sag en teer dat sy dit amper nie hoor nie. “Welkom op Wolwedans.”
Haar mond is kurkdroog, maar sy kry tog die woord uit. “Hallo.”
“Ek is Jan Joubert. Welkom op Wolwedans,” sê hy weer.
“Hotel Njala seker?” waag sy.
Hy skud sy kop. “Wolwedans. Dit word een van die dae weer Wolwedans.” Hy kyk lank en stil na haar, sy oë vol simpatie, maar ook pyn.
Daar is iets anders ook. Herkenning? vra sy haarself af. Herken hy my van die onderhoud?
“Wie . . . is ek?”
“Sonja. Sonja Daneel.” Jan steek sy hand uit en lei haar na haar bed. “Slaap nou.”
Hy help haar in en gaan sit dan langs haar op die bed. Hy plaas sy hand op haar voorkop, streel liggies daaroor. Sonja bewe toe Jan die roos van die bedtafeltjie af optel en na haar uithou.
“Dis joune.”
Sy steek haar hand bewerig uit.
“Oppas vir die dorings,” maan hy. “Die mooiste rose het altyd die skerpste dorings.”
Sy draai haar kop en kyk na die Rooikappie-poppie. Dit draai nog steeds.
Jan kyk ook daarna. “Eendag was daar ’n dogtertjie met ’n bloedrooi rokkie en ’n mandjie. Eendag, lank gelede. En daar was ’n houtkapper in die bos wat ’n houthuis gebou het.”
Jan staar ’n hele ruk na die poppie, dan draai sy oë na Sonja. Trane loop oor sy wange sonder dat hy ’n spier trek. Hier langs haar sit ’n ou man en huil, só dat sy skouers daarvan skud. Sy weet nie wat om te doen nie. Sy kyk na die poppie asof sy hulp van haar af kan verwag, maar die poppie staar net met haar geverfde ogies na Jan soos ’n onbetrokke toeskouer wat geen simpatie het om te gee nie.
Jan vee die trane met die agterkant van sy hand weg. Hy steek dieselfde hand uit en raak aan die poppie – en weer, asof op bevel, begin sy te draai. Om en om en om en om.
Hy begin kalm word. Vee die laaste trane af.
En die newels begin weer oor Sonja toesak. Sy wil vir Jan Joubert vrae vra, maar daar is so baie dat sy nie weet waar om te begin nie.
Hy staan op en skakel die bedliggie af. “Rus. Hier is baie werk.” Dan loop hy na die deur toe en maak dit oop.
“Nee, wag,” probeer sy keer. Hy staan daar in die deur en kyk na haar met soveel hartseer wat sy nie verstaan nie. Agter hom beweeg ’n skaduwee verby, baie vinnig. Net ’n skaduwee.
Dan maak hy die deur toe.
Sonja lê onbedaarlik en bewe in die bed.
Tog raak sy aan die slaap.
Hierdie keer droom sy nie veel nie. Daar is nie weer die oormaat verwarrende beelde in haar onderbewussyn nie. Sy bly egter bewus van die hoofpyn, en sy sien ’n wolf voor haar motor in die pad. Skielik, onverwags.
Sy word wakker van ’n klop aan die deur en sit dadelik regop. As dit weer Jan Joubert is! As hy weer met daardie oë na haar kyk . . .
Die jongmeisie wat tevore op die perd bly sit het, kom ingestap. Dit moet Maggie Joubert wees, Diana en Jan se jongste dogter.
Sy lyk nog kleiner as vroeër, met ’n weerloosheid en ’n ingetoë houding wat Sonja van haar laat hou. Sy is pragtig, met blonde hare wat los oor haar skouers hang en groot oë wat knip-knip terwyl sy aan die skemerte in die vertrek gewoond raak.
“Hallo, Sonja.” Sy het ’n sagte kleinmeisietjiestem – Adéle oorheers haar seker maklik. Sy stap nader en steek haar hand uit. “Ek is Magdaleen Joubert. Hulle sê sommer vir my Maggie. Eintlik omdat ek so klein is. Of,” sy lag senuweeagtig, “omdat ek Adéle se jonger sussie is. In elk geval, die polisie wil jou sien. Kan ek die vensters oopmaak vir ’n bietjie vars lug? Die ergste hitte is verby.”
Sy het ’n skugter manier van praat en haar bewegings is onseker, soos ’n hond wat gewoond is om slae te kry. En daarby die inligting wat reëlmatig gegee word, asof dit dialoog is wat sy uit haar kop geleer het.
Toe Sonja orent kom, slaan die hoofpyn haar weer. Sy kreun.
“Ek is jammer. Het jy pyn? My ma sukkel net so met haar senuwees. Sy drink gedurig pille. Ek sê altyd vir haar om nie so baie te drink nie, maar sy is al so gewoond daaraan . . .” ’n Gespanne laggie. “O ja, die dokter kom sien jou weer sodra die polisie klaar is. Kan ek dus maar die vensters oopmaak?”
Sonja knik. In hierdie stadium is dit te veel inligting om op een slag te verwerk, veral met die hoofpyn. En dan die seerplek aan haar lip wat voel of dit weer opswel. Sonja voel oor die pleister op haar gesig waar die skraap is, en wonder of sy ’n permanente letsel gaan oorhou. En dan is daar die verband om haar kop.
“Jy kan maar oopmaak, dankie, Maggie.”
Die meisie knik en trek die gordyne oop, en daarna die luike. Lig stroom die kamer binne. Buite hoor Sonja hadidas oor die hotel vlieg en sy dink: Dít onthou ek. Die storie oor die hadida wat iemand se dood voorspel.
Nou, met die lig, lyk haar kamer nie meer so spokerig nie en selfs die poppie vertoon amper vriendelik op die tafeltjie langs haar.
“Jou . . . pa was netnou . . . hier.” Sonja besef sy hakkel. Haar mond is weer verskriklik droog.
Maggie kom skink water in haar leë glas, oorhandig dit aan Sonja en glimlag. Dis ’n warm glimlag, maar ook sag, vriendelik en skaam.
“Jy moenie jou aan hom steur nie. My pa is ’n kunstenaar. Skilder die een skildery na die ander. Hy is eintlik ’n argitek, jy weet. Hy het jare lank mense se huise in die omgewing ontwerp. Selfs gastehuise. Maar nou nie meer nie.” Sy vee senuweeagtig oor haar mond. “Nou skilder hy net. Verdwyn soms in die bosse. Dan kom hy twee, drie dae later terug met nog ’n skildery.”
Daar is ’n ligte kloppie aan die deur. “Klop-klop!” Dis ’n vrou se stem. ’n Mooi, welluidende stem. Vriendelik ook.
“O.” Maggie loop versigtig deur toe. “Dit is sersant Berta van Schalkwyk.” Sy maak oop. “Sersant, kom binne. Juffrou Daneel verwag u.”
Die blonde vrou stap nader. Sy het nogal ’n groot liggaamsbou, amper moederlik, maar daardie paar oë, besef Sonja dadelik, sien alles raak. Dit flits van die poppie na die portrette teen die muur na die oop venster en na die lêer, in vier kort bewegings.
Berta tel die lêer op.
Toe verskyn nog ’n figuur.
Die lang, maer man dra ’n swart pak klere, en dit in hierdie hitte! dink Sonja. Sy pikswart hare is styf teruggekam. Daar is merke op sy gesig, soos iemand wat al in talle gevegte betrokke was. En wat baie geleef het.
Ook sy oë speel oor die vertrek en kom dan op Sonja tot rus. Hulle bly op haar, soos ’n jagter wat ’n bok in sy visier gekry het en besig is om aan te lê. Vir ’n oomblik beweeg niemand nie. Selfs Berta staan doodstil asof sy bang is om dit te doen voordat die man praat. Sy beweeg agteruit en stamp die kerse om wat op ’n lae tafeltjie staan.
“Sersant, asseblief!” Die man se stem is donker. Hy praat afgemete, in ’n monotoon wat Sonja ontsenu.
“Ek . . . ek is jammer, luitenant.”
Sonja kan nie haar oë van die luitenant af neem nie. Dis asof hy dwarsdeur haar kyk. “Ek is Nolte. Conrad Nolte van Hazyview. Veertig grade, en dis in die skaduwee.”
En dan Berta se poging tot ’n grappie: “Iemand het Hazyview se oonddeur weer vandag oopgelos, luitenant.”
Geen reaksie nie. Hy gaan sit in ’n stoel oorkant haar, maar neem sy oë nie vir ’n sekonde van Sonja af nie.
“En jy is Sonja. Sonja . . .” Berta is dadelik daar met ’n lêer en luitenant Conrad Nolte maak dit oop. “Daneel.” Sy oë glip oor die inligting. “Wat het gebeur?” Steeds kyk hy nie weg nie. Fyn sweetdruppeltjies vorm op sy bolip en die lig wat deur die venster val, beklemtoon die merke op sy gesig.
Sy kyk na die ruie wenkbroue. Die manier waarop hy liggies aan sy neus raak asof hy vir iemand ’n teken gee. En die gitswart oë.
“Ek . . . kan nie behoorlik onthou nie. Ek weet nie wie ek is nie, ek . . . weet net wat in my lêer staan. En van die wolf.”
Dit is die eerste keer dat Conrad sy oë van haar afneem. Hy kyk vinnig na Berta. Nou eers besef Sonja dat Maggie nie meer in die kamer is nie.
“Hier is nie wolwe nie,” help Berta haar reg.
“Behalwe die tweebeensoort.” Daar is nou ’n effense glimlag om Conrad se mondhoeke. “Maar die wolf is soos die Vlieënde Hollander. Mens hoor net van hom. Jy sien hom nooit.”
Berta frons. “Vlieënde Hollander? Maar ek . . .”
“Google dit, sersant.” Conrad se stem bly monotoon.
“Luitenant bedoel soos die Rooikappie-storie? Net ’n legende waaroor mense praat, maar min kan sê waar dit vandaan kom?”
Weer die effense glimlag om Conrad se mondhoeke, en in daardie glimlag kan Sonja sien daar is iets tussen die twee. ’n Professionele verhouding wat moontlik al oor baie jare strek. “Ek is bly jy ken jou letterkunde, sersant.”
Berta glimlag. “Luitenant weet dan!”
Conrad wend hy hom weer tot Sonja. “ ’n Wolf, sê jy?”
“Dít onthou ek.”
Conrad Nolte haal sy boekie uit. Hy maak ’n vinnige aantekening. Steeds die intense staar.
Sy selfoon lui. “Nolte,” antwoord hy. Hy kyk na Berta. “Ons is nou daar.” Hy staan op. “Nou ja. Lyk my nie hier’s werk vir ons nie. Jy het heel moontlik uitgeswaai vir . . .” Hy sê nie die woord wolf nie en anders as Berta wat liggies daaroor geglimlag het, toon hy geen reaksie nie. “Vir ’n hond of ’n ding. Ek dink jy het dalk ’n sielkundige nodig vir die geheueverlies, maar ek dink nie óns kan verder help nie.”
Hy huiwer en kyk na die Rooikappie-poppie in die juwelekissie. Hy steek sy vinger uit en raak daaraan. Anders as tevore, beweeg die poppie nie. Hy oorhandig sy kaartjie aan Sonja. Daar is ’n polisie-embleem op en in die regterkantste hoek staan: Luitenant Conrad Nolte. Speurder. Suid-Afrikaanse Polisiediens. Met telefoonnommers en die adres van die Hazyview-polisiestasie.
“Die Engels is aan die ander kant,” kom dit van Berta.
“Bel my as u iets onthou. Enigiets.”
“Net nie oor naweke nie,” glimlag Berta verskonend. “Want dan gim die luitenant. Of hy kyk rugby.”
’n Kis wat sak. Daardie indruk doem skielik, onder Conrad se stip kyk, in Sonja se bewussyn op. Dit kom iewers vanuit die donker newels waar daar beelde is van apies in die bome en hadidas wat vlieg en wolwe.
Die kis sak stadig af in ’n oop graf. Daar is ’n hand wat styf oor hare geklem is. Sonja sien ’n ring met ’n rooi steen aan daardie hand.
“Ek glo nie . . . dit sal nodig wees nie,” sê sy halfhartig. Maar sy weet Conrad Nolte het iets opgemerk.
Sy blik rus op haar. “Tot siens, juffrou Daneel. Sterkte.”
“En hou die luike toe. Dan is dit nie so warm nie,” voeg Berta by. Sy glimlag en knipoog, dan verlaat hulle die vertrek.
Teen die muur, nou duidelik in die lig wat deur die vensters val: ’n groot skildery van Hotel Njala, met Jan Joubert se naam pertinent daaronder geteken.
Sonja kyk terug na die skaakbord. ’n Wit pion het twee blokkies vorentoe beweeg.
Maar sy kan nie onthou dat enigiemand naby die skaakbord was nie!
Tog staan die pion en wag vir die swarte om die uitdaging te aanvaar.
En ’n swerm hadidas vlieg krysend voor haar venster verby.