Читать книгу Wolwedans in die skemer - Leon van Nierop - Страница 5

Оглавление

1

Hazyview is tien kilometer ver, sê die bordjie.

Sonja Daneel knip-knip haar oë teen die moegheid. Sy trek haar selfoon nader; in die venstertjie staan die datum: 1/9/2012. Sy begin ’n nommer skakel.

Voor haar ry ’n man met ’n stapel hout agterop sy fiets. En bo-op die stapel hout lê daar iets wat lyk na ’n dooie apie.

Met die verbysteek draai die man sy gesig in haar rigting en glimlag. Hy het nie tande nie. Dit laat haar ril. Hy steek sy vinger in die lug en waai dit heen en weer asof sy verbode terrein betree.

Die skemer sak toe oor die Hazyview-vallei. Sy sal haar motorligte moet aanskakel.

Sonja onthou die waarskuwende SMS wat sy van haar toekomstige werkgewers gekry het net toe sy in haar motor klim: Ry versigtig. Daar is slaggate in die pad. Hulle werk daaraan, maar hulle werk al vir drie weke. G’n mens weet hoe lank dit nog gaan neem nie!

Om haar is daar digte plantegroei en kleur. Orals is kleur. Wit frangipani’s met hul soel, soet geur wat dik in die lug hang. Sy ruik dit deur haar oop venster. Flambojantbome met rooi kelke lyk of hulle reik na vog in die lug.

Daar is piesangbome wat hul blare soos reuse-waaiers uitstrek oor die nat aarde en liggies wieg teen die bedompigheid. Dit lyk of die blare plek-plek geskeur is, met fyn garingdraadjies wat na benede strek. Sy sien die kapokbome met hul dik doringstamme wat pienk blomme soos verspotte confetti oor die pad strooi. Welkom aan die bruid, asof dit spesiaal vir haar is! Die bome staan hier digter opmekaar as in Steiltes buite Nelspruit waar sy vandaan kom. Orals tros pers en rooi bougainvilleas wild uit die bosse. Die pers blomme hang swaar aan die lote, beur af grond toe en wieg liggies in die briesie.

En die plaasname, tipies Laeveld: Rondommooi, Vroegopstaan, Loerie, Oppihoek, Heeltyd Speeltyd.

Vroue verkoop mango’s en lietsjies langs die pad. Hulle dra kleurvolle kopdoeke en spel “lietsjies” op al wat ’n manier is.

“Help my.” Sonja sê dit saggies, sodat die woorde verdwyn in die gekreun van die motor se waaier wat teen die hitte gons. “Ek kan nie.”

Sy kyk na die groen heuwels en tropiese bome. Papajas wat pennetjie-orent soos groen apostels staan terwyl apies wat met hul halfverorberde buit rondskarrel. Macadamianeutbome in rye langs die pad. Nog padstalletjies, dié slag met avokado’s.

Accommodation available. R899 p/p per night staan langs ’n gastehuis, die ingang bedek deur bleeding heart-klimop, wulpse rooi blomme wat in dik trosse afhang. Steeds kry Sonja nie die bordjie wat sy soek nie.

Sy het dit destyds met die onderhoud ook amper misgery, maar toe omdat sy so ingedagte was. Nou is sy bedag daarop. Die ingang moet enkele kilometers hiervandaan wees, onderin die vallei.

Die rooi bougainvilleas is vir haar die mooiste. Die bloedrooies se doringtakke hang sommerso wild in die lug, asof dit wil sê: Dis mooi hierso, maar raak aan my en die bloed sal loop!

Sy het op ’n slag in so ’n bougainvilleabos verstrengel geraak. Die diep skrape het dae gevat om te genees.

En nou wil-wil dit donker raak. So vroeg, so vinnig.

Skielik is daar ’n bordjie en ’n beteuterde vlaggie voor haar.

Pad gesluit/Road closed. Detour.

Die padwerkers is besig om op te pak en wil die tydelike versperrings wegsleep, maar daar staan nog een vragmotor dwarsoor die pad getrek. Vir die oomblik is dit dus nog gesluit. Die man met die vlaggie beduie dat sy die ompad moet gebruik. Hy het pokmerke aan sy gesig en die rooi vlag herinner haar aan die bleeding heart. Gepaste naam; dit laat haar ook aan haar eie hart dink.

Sonja ry stadiger en draai haar venster verder af. Die bedompige lug tref haar opnuut soos ’n klap in die gesig. Dis baie warmer hier as op Nelspruit en die lug is steeds deurdrenk met die reuk van frangipani.

Die grondpaadjie waarop sy moet afdraai, lyk maar sleg. Dit kan egter nie anders nie. Of . . . Sy wil vir ’n sekonde stilhou en terugdraai, maar toe haar wiele die grondpad tref, besluit sy om tog maar voort te gaan. Voorlopig.

Dink, dink, dink. Dis jou laaste kans om terug te draai. Dink!

Sy gewaar hadidas wat naderkom, dan hoor sy die geluid. Aaklig. Hard en skel en lelik. Hulle vlieg hier vlak oor haar rooi motortjie.

Sonja lek oor haar lippe en kyk na die selfoon langs haar. Die hele ent pad stoei sy al met haar gewete. Sy moet bel.

Sy steek haar hand uit na haar selfoon. Sy moet egter op die vieslike grondpad konsentreer terwyl sy die nommer inpons.

Sy moet terugdraai. Nou. Dis haar laaste kans. Maar dis nes daardie besoek aan die slangpark destyds toe ’n man met ’n luislang om sy nek na haar toe aangestap het. “Jy kan maar aan hom vat,” het hy geglimlag. Sy wou nie, sy was bang. Maar die slang het haar gefassineer, toe raak sy daaraan en voel die klipharde spiere onder die vel. Dit was vreemd sensueel.

Wanneer sy ’n bordjie sien wat waarsku Geen toegang, het sy dit nog altyd geïgnoreer. En as haar ma haar gewaarsku het om nie aan iets te raak nie, het sy dit gedoen, soms tot haar eie nadeel.

Sonja maak keel skoon, soos wanneer sy met ’n klomp toeriste in ’n hotel moet praat, veral as sy ’n bietjie senuweeagtig is. Sy voel die sweet op haar voorkop pêrel, op haar bolip ook. Daar is altyd sweet op haar bolip as sy werklik bang is.

Sy konsentreer op die pad en kyk net sydelings na haar selfoon. Sy pons die laaste syfer haastig in en swaai uit vir ’n klip in die pad.

“The number you have dialed does not exist,” hoor sy ’n vrouestem. Liewe hemel, die een nommer in haar lewe wat sy amper beter as haar eie ken! Hoe kon sy dit verkeerd geskakel het? Seker in haar haas? Omdat haar aandag afgetrek is?

Sy begin weer en sê die syfers op. Sy moet omdraai. Maar hier is nie omdraaiplek nie!

Sy wou weer aan die luislang se wit lyf raak. Haar hand het nader beweeg. “Dis veilig, vat maar weer,” het die gids gesê. Die koue, glibberige vel. Die sensasie van krag onder haar vingers. Die ligte duiseligheid.

Haar motortjie wip oor ’n klomp los klippe in die pad. “Dit is die einde,” sê Sonja vir haarself. “Dit is verby. Ek draai terug. Ek sal verduidelik.”

“Recalculating. Recalculating. When possible, make a U-turn,” kom die Garmin se eentonige rasperstem.

“Die pad is te nou, idioot!” skree sy. “Ek kan nie hier omdraai nie!”

Sy huiwer voor sy die laaste syfer inpons, want sy weet dat hierdie oproep haar lewe gaan verander. Sy het die hele ent pad Hazyview toe aan niks anders gedink nie. Haar kop is eintlik seer daarvan.

Wat as sy alles nou beëindig?

Haar hart klop vinniger. Dis soos haar eerste reksprong, daardie tydlose oomblik waarin jy besef jy kan nie meer nee sê nie. Jy kan nie omdraai nie.

Sy wil nóú nee sê. Dis die bordjie in haar gedagtes wat waarsku: Privaat, geen toegang. Sy moet nou besluit, gaan sy of gaan sy nié?

Maar die gevolge! Liewe heilige hemel. Die gevolge . . .

As sy daardie laaste syfer inpons en die foon begin aan die ander kant lui, gaan alles verander.

Begin. Eindig. Begin. Eindig. Wat gaan dit wees?

Sy maak haar sitplekgordel los. Sy kan nie so in die ry praat nie, die oproep is te belangrik. Sy sal moet stilhou en die gordel knel haar nou. Sy sluk. Nóg ’n straaltjie sweet biggel teen haar wang af. Sy lig een hand van die stuurwiel en vee die sweet met die rugkant weg.

Die reuk van mos. Van bos. Van frangipani. Van verrotte blare.

En dis skemer. Die mooiste tyd van die dag. Sy skakel haar motor se kopligte aan.

Dan gebeur baie dinge tegelyk.

Daar staan ’n wolf voor haar in die pad. Sy sien hom duidelik daar in die kopligte. Sy laat die foon val en swenk uit.

Iewers tussen die donker bome flits iets blink toe sy uitswenk. Dan tuimel ’n boom oor die pad. Sy ruk die stuurwiel na links.

Snaaks waaraan ’n mens in sulke omstandighede dink. Dit is asof sy nie glo wat met haar gebeur nie. Maar ’n breukdeel van ’n sekonde later skop die oorlewingsinstink in. Dan onthou sy paniekbevange haar bestuurslesse toe sy in matriek was. Wat om te doen wanneer ’n motor gly.

Moenie die rem trap nie!

Tog doen sy dit, want sy het geen beheer meer oor haar optrede nie. En in daardie oomblik verlaat haar motor die pad.

Sy het lank gelede ’n motorongeluk in ’n rolprent gesien. Die kamera was binne-in die motor en daardie tuimel- en tolbewegings het haar naar gemaak. Sy het haar oë gesluit en gewag vir die slag op die silwerdoek. En hy het haar hand styf vasgehou, hy kon haar angs aanvoel.

Lank nadat die slag gekom het, was haar oë steeds toe. En sy hand was steeds op hare. Die ligte drukkie.

Dié slag maak sy nie haar oë toe nie. Sy hoor die slag soos die motortjie op sy dak beland. Dan tol dit terug op sy wiele met ’n rukbeweging wat haar soos ’n lappop rondgooi. Deur die newels sien sy ’n wiel hier voor haar verby tol. Klippe en gras skuur aan die ander kant van die oop venster verby. Sy kry stampe teen haar kop, ’n hou teen haar skouer, iets teen haar gesig.

Toe die motor weer omtol, hoor sy die deur met ’n kraakgeluid oopskeur. Sy sien die klip wat naderkom. Sy probeer haar hande voor haar hou. Iewers skree ’n hadida.

Dit is die laaste ding wat Sonja Daneel hoor. Die hadida.

Dan word alles swart.

Niks. Donkerte. Newels. Stilte. Pyn. Woede. Vrees. En weer donkerte. Dis donkerder as donker. Dit gitswartnag.

Kraak. Kwaak. Kwaak. Skarrel-skarrel. Die geluid van water. Stroomversnellings.

Nog geluide. Daar is iets nats en warms teen haar vel, teen een van haar wonde. Dit is tegelyk sensueel en vertroostend en seer. Sy probeer beweeg.

Iets lek haar. Liewe hemel tog. Hier is iets lewendigs by haar!

Sy maak haar oë oop. En vlak voor haar is die geel oë van ’n wolf.

Sy maak haar oë toe. Sy weet nie waar sy is of wat aangaan nie. Dis ’n droom. ’n Nagmerrie. Iewers van agter uit haar keel kom daar ’n roggelgeluid. Asem wat probeer deurstoot. Haar keel is rou en baie, baie seer.

Sy beweeg stadig en versigtig. Sy het haar lip stukkend gebyt. Sy voel die bloed teen haar ken afloop en raak opnuut bewus van die pyn in haar lyf. Dan maak sy weer haar oë oop.

Hier teen haar is ’n klip. En die geel oë. Die rooi tong. Sy oë is primitief. Wild. Die slagtande hier naby haar is skerp. En hy lek haar weer, asof hy die bloed van haar wonde af wil oplek.

Help! wil sy skree, maar sy maak nie ’n geluid nie.

Bloed. Bloed teen die bad se rand. Baie bloed.

En dan weer, oë wat uit ’n gesig peul, met die een oogbal wat grotesk aan ’n senuwee uit die oogkas hang, die mond in ’n gil vertrek.

Dit word weer donker. Sy veg teen die newels, maar die donkerte sak oor haar toe soos iemand wat ’n kombers oor haar trek. Die kombers is warm en bedompig en ruik na frangipani.

Rooikappie en die wolf. Prentjies. Die houtkapper. Sy onthou iets van Rooikappie. Die geel oë hier voor haar vervaag. Dan is alles weer swart . . .

Toe Sonja baie later vir ’n tweede keer bykom, is sy alleen. Die wolf is nie meer by haar nie.

’n Geweldige pyn skiet deur haar kop, dit klop, verblind haar. Sy kreun. Weer die droë keel. As sy gemakliker probeer asemhaal, voel sy die swelling in haar keel, sodat daar nie genoeg suurstof by haar brein uitkom nie.

Sy beweeg weer. Liewe hemel, haar kop is seer. Dis ’n verblindende witwarm-helseer wat haar laat uitroep. Maar dit is net ’n geroggel.

Die wêreld om haar kom in fokus. Voor haar is stekelrige penne. Swart en wit penne wat sidder soos ’n slang wat gereedmaak om te pik.

Krrrr. Krrrrr. Wat is dit?

’n Gromgeluid. ’n Vinnige beweging links van haar. Die ystervark laat spaander toe die wolf hom bestorm. Dan draai die wolf om, sy oë blink in die maanlig.

Sy is te bang om weer te beweeg.

Dan, na wat soos ’n ewigheid voel, kom die gevoel terug in haar ledemate. En daarmee saam die besef dat sy nie weet waar sy is nie. Sy weet nie wat gebeur het nie.

Sy weet nie wie sy is nie.

Sy probeer dink hoe sy hier beland het. Wat die wolf hier maak.

Wag. Iets wil deurskemer. Die dier voor haar in die pad. Dis vaag, maar dis daar.

Name? Plekke? Datums? Niks verder tree na vore nie. Die lei is skoon. Dit wag vir die eerste woord om daarop geskryf te word.

Maar wat is die woord?

Haar naam. Haar naam! Wat is haar naam? Wie is sy, wat maak sy hier? En wat maak die wolf hier naby haar? Dit laat haar orent beur.

Niks is gebreek nie. Sy kan haar bene beweeg. Haar arms, haar hande. Dis net haar kop wat ondraaglik seer is.

Voor haar is die klip waarteen sy dit gestamp het.

Sy sukkel tot sy regop staan, ten spyte van haar vrees vir die wolf.

’n Ent van haar af lê ’n motor op sy dak gedraai. ’n Rooi motor. Dis ingeduik. Die vensters is almal gekraak. En oorkant, agter die berg, die rooigeel gloed van die son wat begin opkom.

Sy bewe van skok en vrees. Haar hande soek na haar besittings. ’n Handsak. Enigiets wat vir haar sal sê wie sy is. Haar hand vat bossies raak. Takke. Klippies. Maar niks anders nie.

Sy kyk weer om haar rond. Die wolf is nie meer naby nie.

Wás dit ’n wolf, of dalk ’n hond? Het sy gehallusineer? Maar wie is sy? Waar kom sy vandaan? Wat maak sy hier?

Toe gee sy haar eerste tree vorentoe.

Byna oombliklik gee die grond onder haar mee en sy val. Sy rol, sy tol. Sand, dorings, blare, stukke hout, grond. Sy hoor die geluid van water wat vloei.

Dan ’n koue skok toe sy dit tref.

Sy voel hoe sy onder die oppervlak verdwyn. Daar is water in haar longe en in haar neus. Sy word deur die stroom voortgedryf. Sy beur boontoe.

Toe haar kop bo die water uitkom, sien sy ’n tak wat laag oor die water hang. Sy gryp daarna, kry dit raakgevat en klóú. Dit keer dat sy verder meegesleur word.

Haar skouer is seer, maar sy slaag tog daarin om haarself uit die water te trek en ’n graspol raak te vat. Dit gee mee, sy val terug. Die water wil haar weer saamvat, maar sy probeer weer, dié slag meer suksesvol.

Sy kreun en hys haarself op totdat sy op die sandbank lê.

Sy kyk op. Doer bo huiwer die motor gevaarlik op die rand van ’n sandbank, terwyl sy hier onder lê en hyg.

’n Ligte plonsgeluid. Sy registreer dat iets pas in die water verdwyn het – iets wat haar kan aanval. ’n Krokodil?

Sy beur orent en begin vorentoe strompel, weg van die water, weg van die iets wat in die water verdwyn het.

Vorentoe en verder vorentoe, tussen die blare deur en rondom boomstamme en verby dorings. Om haar is daar soveel bome. Sy kruip tussen die bosse deur en weet iewers moet daar ’n huis wees. Beskawing. Sy kan nie teen die skuinste uit terug boontoe sukkel nie. Daar is dalk ’n krokodil. En ’n wolf.

Sy beweeg moeisaam voort deur bosse, verby klippe. Iewers bokant haar beweeg iets in die lower. Skerp uitroepe, dit moet apies wees.

Sy struikel ’n paar keer, dan hoor sy iets. Water. Dit is nou al lig genoeg om behoorlik te kan sien.

Voor haar is ’n waterval. Sy kom tot stilstand. Die poel waarin die water stort, lyk diep en donker.

Waar is sy? Wat maak sy hier?

Sy loop soos ’n slaapwandelaar om die poel en kyk of sy iewers dalk ’n huis sien. ’n Rokie wat trek. Dalk hoor sy ’n motor? Maar al wat sy hoor, is die water en sy loop voort. Bereik ’n voetpad. Haar ledemate gehoorsaam en sy begin vinniger beweeg ten spyte van die seerheid. Haar een voet pyn kwaai, maar sy kan darem nog daarop trap.

Sy struikel oor ’n boomwortel en val, en weer tref haar kop iets, maar hierdie slag is dit verrotte hout. Nogtans bring dit die pyn weer so skerp in fokus dat sy haar kop vasgryp en begin huil.

In haar geheue is daar skielik sterk hande wat aan haar vat. ’n Sagte stem wat iets sê, maar sy kan nie woorde uitmaak nie, net die sterk lyf teen hare.

En ’n naam. Piet. Griet. So iets. Ja, dis ’n man se naam. Piet.

Wie is Piet?

Weer is daar bloed – bloed wat teen ’n bad se rand afloop. ’n Hand wat afhang en waarteen die bloed afdrup.

Maar niks meer nie, niks wat sê wie sy is nie.

Sy lê ’n rukkie om haar kragte te herwin, dan beur sy weer orent. Die son is besig om op te kom. Daar is voëls in die rondte en sy hoor ’n lang, kekkelrige roep, dit kan ’n loerie wees. Kô-kô-kô-kô-kô-kô!

Sy weet wat ’n loerie is, hoe apies klink, hoe ’n krokodil lyk, maar sy onthou niks oor haarself nie! Hoe is dit moontlik?

Die paadjie waarmee sy nou aanstrompel, raak breër. Dit moet iewers heen lei! Sy beur vorentoe en probeer die pyn ignoreer, tog sak sy twee keer inmekaar. Haar skouer pyn iets verskrikliks.

Sy kyk om. Die wolf! Waar is die wolf?

Maar daar is niks nie. Net apies wat in die bome rondskarrel.

Sy loop ’n spinnerak stukkend en voel die insek oor haar arms kriewel en teen haar nek begin opkruip. Sy klap dit weg. Bobbejaantoue sleep oor haar skouers as sy verby dit beweeg.

Toe sien sy die bokkie.

Sy gaan staan. Die ogies beskou haar eers wantrouig, dan skep-skep die bokkie se klein horinkies in die lug asof dit haar probeer wegwys – voor die diertjie tussen die ruigtes verdwyn.

Op ’n afstand hoor sy die geluid van perdehoewe.

Die son het verrys en voor haar is daar beweging. En daar is ’n pad.

Ja, daar ís ’n pad! Sy skree, storm vorentoe. Die pad kom behoorlik in fokus: ’n grondpad, en daar is ’n fyn stofwolkie. Perde wat nader galop. Ruiters.

Sy swaai met haar arms. Die perderuiters pyl reg op haar af, asof hulle haar nie sien nie. Dan ’n gerunnik. Vroue wat praat.

’n Jong vrou, eintlik nog ’n meisie, spring van haar perd af. “Bel die hotel!”

Die meisie – sy is blond – stap nader en kyk verskrik na haar terwyl die ander een op haar perd bly sit.

“Wie is jy? Wat gaan aan? Waar kom jy vandaan?”

“Wolf. Daar was . . . ’n wolf.”

Die meisie se oë is groot en geskok. “Maar . . . jy . . .” Sy knip haar oë en kyk oor haar skouer.

Die ander meisie spring van haar perd af en kom ook nader.

“Maggie, dis die nuwe ontvangsdame!”

Ontvangsdame? Waarvan praat sy?

Die stemme begin vervaag. Maar tussen die geluide deur hoor sy ’n naam. Sy besef dit moet hare wees.

Sonja Daneel.

Sy besef ook, voor die donkerte weer oorneem, dat hulle haar verwag het.

Wolwedans in die skemer

Подняться наверх