Читать книгу Ballade vir ’n enkeling - Leon van Nierop - Страница 10

7

Оглавление

MAANDAG 7 APRIL 2014, 10:30

Die middestad is in chaos. Terwyl Mysi en Carina deur die oorvol strate ry, merk Carina ’n jong swart meisie met wegstaanhare en ’n vrolike Afrika-lap wat om haar gedraai is. Sy is besig om ’n muurskildery te verf. Dit is ’n duif, maar ’n bloue met ’n rooi pet op. Next president! staan daaronder.

Hulle is gelukkig genoeg om parkering te kry, waarna vier parkeerwagte aangestorm kom. Die mans verdring mekaar om by die motor te kom. Die een druk ’n swart cowboyhoed in haar hande.

“Yours. My gift to you!”

Carina skud haar kop. “I don’t wear hats.”

“Just give me something for it. Anything!” soebat die man. Carina druk geld in sy hand en gee die hoed terug.

“Thanks. Thanks for being so nice to me!” sê hy en dit laat haar ’n oomblik lank skerp opkyk. Die man stap weg. “You are a good person.”

“Eish! Ê-ê!” skreeu die jongste parkeerwag omdat Carina nie aandag aan hóm gegee het nie.

Tien minute later sit Carina en Mysi oorkant luitenant Soon Alberts, ’n ondersoekbeampte wat die Jacques Rynhard-verdwyning hanteer. Hy het ’n gemaklike en “gerieflike” verhouding met Carina. Wanneer hy voel daar is iets waarvan sy moet weet, gee hy dit vir haar.

“So wat kan jy my vertel, luitenant?” begin Carina. En wanneer luitenant Alberts lostrek, klink dit asof hy ’n resitasie opsê. Toe weet Carina. Dié reaksie is ingeoefen. Sy sal op ’n ander manier by die waarheid moet uitkom.

“Ons het Jacques Rynhard se ma gebel en na sy woonstel toe gegaan. Sy tikmasjien is weg en hy het bietjie klere saamgeneem, maar nie sy selfoon nie. O ja, en sy fiets ook nie.”

Sodat niemand hom kan opspoor nie, skryf Carina in haar notaboek. Maar sy vra: “Met wie het hy die laaste keer kontak gemaak?”

Hy maak sy notaboekie oop. “ ’n Paar joernaliste het hom …” hy soek rond, “Saterdag geskakel om te probeer om onderhoude oor die prys te reël, maar hy het nie geantwoord nie.”

“En Vrydagaand die vierde?”

Die luitenant kyk na sy lysie. “Hy het nie sy selfoon dikwels gebruik nie. Maar hy het halftien Saterdagoggend ’n SMS aan Lena en Jan-Paul gestuur.”

“En die boodskap, luitenant?” Dis erger as om tande te trek!

“Vriende vir altyd.”

Carina onthou dat dit sy belofte aan Jan-Paul was. Hy het dus moontlik Jan-Paul se ondersteuning nodig gehad. “En toe stuur hy sy laaste SMS aan Trudie Linde.”

Carina skryf die naam haastig neer.

“Wie’s sy as sy by die huis is?”

“ ’n Tante wat in Kleinbegin bly.” Luitenant Alberts kyk na sy notaboekie. “Die SMS het gelees: Onthou Punda’s.”

“Punda’s?”

“Ons het die tante gevra wat dit is, maar sy weet nie. Dit was sy laaste SMS Saterdagoggend om 11:23.”

“Wanneer gaan julle weer na sy woonstel toe?”

Soon kyk op sy horlosie. “Later vanmiddag saam met Lena Aucamp om te bevestig watter items nog weggeneem is. Maar dit is duidelik dat daar nie ’n kaping of gewelddadige ontvoering was nie. In elk geval nie waarvan ons weet nie.”

Sy haat dit as polisiemanne so formeel praat. Dit voel of sy op aandag moet staan!

“Ons praat nog met sy vriende oor die omstandighede waaronder hy vermis geraak het.” Hy blaai deur ’n lêer. “Hy het geen misdaad gepleeg nie. Maar daar is ’n merk teen die muur en ons wil by juffrou Aucamp hoor of dit tevore daar was.”

“ ’n Merk?” Dus het hulle die woonstel goed deursoek.

“Ja. Ons wil uitvind of die merk onlangs gemaak is en of juffrou Aucamp daarvan weet.”

Hy blaai weer deur die lêer.

“Wat is julle teorieë, luitenant?”

“Wie weet? Dalk was hy moeg vir al die aandag en wou ’n punt maak omdat sy eie naam teen hom begin tel het in die vermaaklikheidsbedryf. Dalk het iemand hom gevolg.”

“Jy bedoel ’n stalker?”

Die luitenant knik. “Maar ons kon nog geen bewyse daarvan opspoor nie, veral nie op sy selfoon nie. Ons het sy ouer selfoonrekords by die selfoonmaatskappy aangevra, maar voorlopig weier hulle om dit te gee. Kliënte-privaatheid glo.”

Nog ’n plek waar Carina kontakte het. Sy kan maar net probeer! Die luitenant se stem dreun voort: “Ons probeer nou ’n hofbevel kry om sy rekords te kry, maar omdat geen misdaad gepleeg is nie en omdat hy van niks verdink word nie, is dit moeilik. Ons kon egter fisiek op sy selfoon ingaan en na onlangse oproepe kyk, maar dit was almal oor werk. Of hy het met sy vriend Jan-Paul geskakel oor gimnasium-afsprake. Of kuiers, maar niks meer nie.”

Carina hoor al hoe Gavin op haar skreeu as sy met hierdie inligting na hom toe gaan. Mysi por haar aan deur liggies aan haar enkel te skop.

“Mense twiet, Facebook, bel, e-pos, en die meeste,” Alberts boots aanhalingstekens met sy vingers na, “dink hulle het hom gesien.” Hy druk ’n paar sleutels op sy sleutelbord en draai die skerm na Mysi en Carina. Dit wemel van spelfoute, veral Jacques se naam en van.

Ek kan sweer ek het Jack Reinhaart op die Kimberleyse lighawe gesine. Hy het byte gerook en toe verdwein.

Alberts soek deur die talle e-posse wat soortgelyke stellings maak: Hy’s bang vir trou, man, toe skedaddle hy moerland toe na ’n ander squeeza. Weet julle hoeveel meisies vrek oor hom? Hy kan enige tyd sy nommer twaalfs onder my katel bêre, lees ’n ander.

Jacue kan nie meer tussen die werklikheid en sy stories onderskei nie. Hy leef vir sy stories. Gaan soek op die plekke waar sy stories afspeel, stel ’n ander voor.

En die SMS’e. Hordes: Djaak is in die Tankwa Karoo. Ek het ’n dude met ’n rigsak langs die pat gesien wat nes hy lyk.

En:

Vra bietjie die ouens wat nog stoomtreine dryf. Hy dryf dalk saam!

Mysi neem die SMS’e met haar selfoon af. “En ek dag ek kan nie spel nie!”

Carina lees nog e-posse en SMS’e van mense wat seker is hulle het Jacques Rynhard, of iemand wat soos hy lyk, op vier verskillende lughawens gesien, selfs op ’n vliegtuig na Dubai, dan weer in die Menlyn Park-winkelsentrum, iewers op ’n strand naby Richardsbaai, in ’n bordeel in Pretoria, en in die bosveld op ’n heuwel met ’n rewolwer teen sy kop. Die res is blote herhalings van die plekke wat reeds genoem is, maar met geringe variasies.

“Ons het die mees waarskynlikes opgevolg, maar dit blyk vals leidrade te wees.”

Die laaste SMS wat na die vermiste-persone-nommer gestuur is, noem dat Jacques en ’n beeldskone meisie op ’n duin in Swakopmund opgemerk is. Ek dink hy en die meisie maak nou mooi musiek tussen die sand. Dalk doen hy hier navorsing in Sossusvlei vir ’n nuwe roman. En ek sweer daar gaan weer ’n trein en ’n stasie in wees.

“Hy het nie deur ’n grenspos beweeg nie, nog minder is hy iewers op ’n sekuriteitskamera gesien. Ons is egter steeds besig om deur footage te soek en ons kyk ook na al die tolhek-kameras. Maar sy motor staan veilig in sy woonstel se parkeerarea in Newtown en sy fiets is steeds in sy woonstel. Niemand het hom ook deur die hekke by sy woonstel sien beweeg nie. Ons het ook by groot hotelle navraag gedoen, by stasies, hawens. Niks. Die sekuriteitskameras het Jacques wel Saterdag by sy woonstelblok sien inkom.”

“Wanneer Saterdag?”

“Die oggend halftwee. Toe Saterdagoggend omtrent tienuur. En hy is weer terug om en by middagete.”

“Die oggend halftwee. Dis laat.”

“Hy het dalk partytjie gehou, want hy het glo sleg gelyk, asof hy in ’n bakleiery was – vandaar dalk die bloedstreep teen sy woonstel se muur. Hy het moontlik geval of uitgepaas toe hy ingestap het, want hy was onvas op sy voete.”

“Wat sê sy vriendin Lena hieroor?”

Die luitenant leun agteroor en Carina kan sien hier kom ’n ding.

“Wat is dit?” vra sy toe hy nie voortgaan nie.

“Lena het haar verhouding met Jacques Vrydagaand verbreek.”

Carina sit regop. “Wat? Maar sy … Ek bedoel … Niemand …”

Selfs Mysi maak nou aantekeninge.

“Hulle wil dit seker geheim hou.”

Carina skryf dat dit klap in haar notaboek.

“Maar hoekom het Lena ons nie daarvan gesê nie?”

“Sou jý ’n joernalis vertel het?” grinnik Mysi.

“Dit kan dus wees dat hy Saterdag gewag het dat Lena terugkom. En toe sy nie terugkeer nie, het hy sy moer gestrip en wou hy ’n punt bewys.”

Carina maak steeds aantekeninge. “Dus sou Lena nie noodwendig geweet het waarheen hy Vrydagaand is en hoekom hy Saterdagoggend in daardie toestand teruggekom het nie.”

Soon knik.

“Wie het Jacques dus laaste gesien? Lena Vrydagaand? Dalk die bure Saterdag?” vra Carina. “Waar was hy Saterdagoggend?”

“Ons het navraag by die bure gedoen, veral sy buurman, Fineas Guliwe. Hy vertel dat hy Jacques Saterdagoggend negeuur laas gesien het. Ons het geen bewyse dat Jacques Rynhard by iemand in ’n ander woonstel wegkruip nie, maar ons doen steeds navraag. Van die ander inwoners hou van hom en Lena. Hulle was glo …” Die luitenant kyk in sy boekie, “model-inwoners. Hulle het nie geweet Jacques en Lena Aucamp is uitmekaar nie. Maar Fineas Guliwe sê hy het hom nog om kwart voor vier die middag in sy woonstel hoor rondbeweeg.”

Carina skryf sy naam in haar aantekeningboek: Fineas Guliwe, buurman.

Soon Alberts se vingers beweeg weer oor die sleutelbord en hy klik op Facebook. Hy open Jacques Rynhard se profiel. Daar is tientalle boodskappe en inskrywings deur “vriende”. Carina lees die belangrikste inskrywings:

Ek wens ek kan ook soos jy verdwyn, pella. Hoe oorleef mens in ’n brutale bedryf waar niemand van niemand hou nie maar voorgee om jou vriende te wees? Moet net nie agteroorval nie, bra. Die messe in jou rug sal dalk deur jou ribbes steek.

En dan: Sukses te veel geword vir jou grootkop?

Ook: Dis wat gebeur as mens ’n dubbele lewe leef, Jacques. Of soveel vyande maak soos jy. Nou betaal jy.

O hel. Ek hoor Jacques is vermoor. Is dit waar? word in ’n ander Facebook-boodskap gevra.

En in nog een word aangevoer: Hy het soos die sanger Rodriguez in daai moewie gemaak en homself aan die brand gesteek waar Oppikoppi altyd gehou word. As julle daar gaan soek, sal julle sy as kry.

Ook Carina neem van die goed nou op haar selfoon af.

“Ons volg elke leidraad op. Maar die meeste is vals of wishful thinking. Of hulle sien iemand wat nes Jacques Rynhard lyk. Jy moet onthou daar is honderde ander vermistes na wie ons ook soek.” Hy wys na die koerante wat op sy lessenaar lê: “Ek weet sy storie is op al die voorblaaie, maar ons het ander werk ook. Weet jy hoeveel mense raak per dag hier in Gauteng weg? En dis maar net dié wat aangemeld word.”

Alberts tik weer en maak dan ’n bladsy oop met dosyne twiets wat onlangs oor Jacques verskyn het. Van gelukwense met sy dapper stap tot moontlike plekke waar hy gesien is tot voorstelle dat hy navorsing vir sy volgende storie doen of dalk dood is.

“En dan die foonoproepe.” Hy maak ’n boek oop waarin boodskappe en telefoonnommers staan van mense wat doodseker is hy skuil in die huis langs hulle, of dat hy by die tolhek duskant Middelburg gesien is, of waspoeier in ’n supermark op Oudtshoorn gekoop het.

“Die Weekblad is reeds besig met ’n storie oor wie hom almal waar gesien het. Weet nie of jy daai joernaliste ken nie?”

“Ek ken party van hulle,” knik Carina. Die tydskrif verskyn Woensdae.

“Dalk moet jy met hulle praat. Hulle het teen dié tyd seker meer inligting as ons.”

“Ek moet my eie inligting op my eie manier versamel,” antwoord Carina wanneer Mysi vinnig na haar kyk. “Myne gaan beslis nie oor veronderstellings of sensasie of ander mense se siening van hom nie. Myne gaan oor die waarheid.”

“Dus begin die storie jou nou werklik interesseer?” vra Mysi terloops. Die luitenant kyk stip na Carina.

Sy knik. “Ek dink hier steek meer agter as iemand wat net uit die publieke oog wou verdwyn. Dan sou hy die verdwyning ná die prys gedoen het, want ek dink hy het baie te sê gehad. En die aand op die verhoog was die aangewese plek om byltjies te slyp en sy verbroke verhouding aan die groot klok te hang.”

“Ek dink die slimste stelling wat hy ooit gemaak het, is om niks te sê nie, want dan sê jy die meeste,” antwoord Mysi.

Alberts antwoord sy telefoon. “Yes, bru. Fine. Okay. Will see you.” Hy kyk op. “Jammer. Ek moet oor ’n kwartier uitgaan.”

“Mag ons bietjie in sy woonstel gaan rondkyk?” waag Carina.

“Dit sal julle vir sy vriendin, Lena Aucamp, moet vra. Sy het die sleutel.”

“Maar ek moet ook jou toestemming kry, luitenant.”

Alberts kyk vinnig na sy uitgedrukte SMS’e vol vierkantjies en halwe sinne en spelfoute en halfklaar boodskappe. “Nee. Nie sonder dat ek of ’n ander offisier by is nie.”

“Ons gaan hierna na Lena toe,” verduidelik Mysi.

Carina se vinger beweeg oor die res van die boodskappe en nommers van mense wat Jacques iewers sou gesien het. Geen name van die afsenders is bekend of maak vir haar sin nie. “Interessant dat nie een van hierdie name uit die vermaaklikheidswêreld kom nie.”

“En dat daar feitlik geen negatiewe kommentaar oor hom is nie,” beduie die luitenant na die rekenaarskerm. “Seker goed 90% van die inskrywings oor hom is positief en spreek die wens uit dat hy weer iets moet skryf … Maar die ander tien persent – dís waarin ek belangstel. Soos hierdie een: Jy neuk met meisies se harte, nou neuk jou eie hart met jou.”

Sy beduie na die inskrywing van ene Robert: Jis ou gabba. Tyd dat ons weer bietjie ballas saam bak en oor die verlede praat. Of hoe swaer?

Die luitenant klik op Robert se naam. Oomblikke later verskyn ’n kennisgewing: Facebook page closed.

Carina maak aantekeninge. Die res van die boodskappe is neutraal of vleiend. En dan: Het Alicia se koekie toegeklap vir jou, of het sy jou wêreld so warm gemaak dat jy moes vlug?

En nog ’n Facebook-boodskap: Dalk bly jy in een van Alicia of haar pa se huise iewers in die land. Bel my, ons soek jou vir ’n storie. Jy kan al jou navorsing op my kom doen he he he.

En dan ’n interessante twiet. Ek ken jou ander skuilname. Jy gaan braai, my maat.

Soon Alberts vroetel aan sy snor. “Waarom nie vir sy beste vriend Jan-Paul Otto of sy ma sê waarheen hy is nie? Waarom sonder sy motor padgee en die motorsleutels in die huis los? Sy woonstel se sleutels is ook aan sy motorsleutels. Hy het nie eers die deur gesluit nie.”

“The plot thickens,” sê Mysi. “So. Waarheen moet hierdie twee Gehasi’s nou gaan?”

“As ons leidrade kry, kan ons selfs met ’n lugsoektog begin.” Die luitenant klink asof hy hierdie inligting al dikwels gegee het. “As sy naasbestaandes dus dink dat sy lewe in gevaar is of dat hy ’n gevaar vir homself of ander mense is, moet hulle dit aanmeld. Maar tot dusver het niemand nog met enigiets nuuts gekom nie.”

Poliesman-speak.

“Waar het julle nóg gesoek?”

“Ons het hospitale gebel, ook ander polisiestasies, onder meer in Kleinbegin waar sy ma bly. Hy is nie in ’n hospitaal nie. Of nie waarvan ons weet nie.”

Carina se instink sê vir haar dat Alberts nou in ’n meer spraaksame bui is en inligting gee wat hy dalk tevore sou verswyg. Sy gooi die lokaas uit.

“Presies wat sê Lena Aucamp alles?”

Alberts maak weer ’n lêer oop. “Juffrou Aucamp het ’n SAPS 55A-vorm ingevul. Sy het presies beskryf hoe Jacques Rynhard lyk. Dis nie die gewone beskrywings wat almal gee wat hom van foto’s af ken nie.” Hy kyk op asof hy wonder of hy tog nie maar die inligting moet verswyg nie.

Carina lig haar wenkbroue om hom aan te moedig.

“Dalk vind julle dít interessant.”

Mysi blaai saam met Carina deur Lena se beskrywings.

Carina steek vas by: Merke, geboortevlekke of tatoeëermerke: Sy lees: Daar is ’n tatoeëermerk – DB.”

Carina onthou dat sy dit op een van die weinige kaalbolyffoto’s van hom gesien het en skryf dit in haar notaboekie. Sy kyk na die lys vrae wat aan Lena gestel is.

Die vermiste se gewoontes: Jacques het gereeld in Newtown se strate rondgeloop of die middestad besoek. Dit was sy geliefkoosde kuierplekke. Onder meer Café Hu! in Newtown en Daleahs in Braamfontein. Ook die Arts On Main-kompleks in Fox- en Mainstraat. Hy het gereeld in restaurante daar op sy tikmasjien gesit en werk of saam met vriende gekuier. Dit was egter nie vriende uit die bedryf nie. Hy het altyd genoem dat ’n mens nie eintlik vriende in die bedryf kan maak nie. Hy het met doodgewone mense uitgehang. Hy het saans saam met sy vriend Jan-Paul gegim en dikwels ver ente deur die stad gehardloop om fiks te bly, of met sy fiets gery.

“Watse doodgewone mense?” vra Carina.

“Volgens juffrou Aucamp …” Die luitenant blaai weer tussen sy dokumente rond. “Gimvriende, kunsstudente, bedelaars. Hy het straatkinders glo gevoer en een of twee leer lees en skryf. Ook liefdadigheidswerk gedoen en by ’n sopkombuis gewerk.”

Carina maak weer ’n aantekening in haar oorvol boekie.

“Hy bly vir my net te goed om waar te wees,” sê Mysi. “Dis onmoontlik dat iemand net,” Carina skop haar onder die tafel, maar Mysi gaan volstoom voort, “nice kan wees. In elk geval. Nie in die joernalistieke wêreld of die vermaaklikheidsbedryf nie. My ma het altyd gesê oppas vir mense wat te … wat’s die Afrikaans vir nice?”

“Seker maar ‘goed’. Hoe ook al. Dis die voorlopige inligting wat ons oor Jacques Rynhard gekry het. Intussen …” Die luitenant beduie na ander sake oor vermiste kinders en nuwe gevalle. Die stapel dreig om van sy lessenaar af te skuif, so hoog is dit.

Alberts staan op en neem sy baadjie.

Carina kyk weer na die wyse waarop Lena Jacques Rynhard se gemoedstoestand beskryf het. Veral die woorde reg aan die einde tref haar amper as ’n nagedagte: Jacques was verskriklik romanties.

Interessant dat sy die verledetydsvorm gebruik het.

Vermoedes van vyande? Individue wat sy lewe sou bedreig? het Lena geskryf. Carina blaai om. Daar is baie mense wat jaloers is op hom en wat sy loopbaan gedurig probeer verongeluk of saboteer. Maar in sy onmiddellike vriendekring is ek van niemand bewus nie.

Verhoudings: staan daar en Carina trek haar oë op skrefies, want Lena het hier duidelik vinnig geskryf, asof sy moeg geraak het om inligting te gee. Ek en Jacques is reeds sedert skooldae in ’n verhouding en hy het my verseker dat hy my nooit verkul het nie. Ons is Vrydagaand doodgewoon uitmekaar sonder ’n rusie. Ek het by vriende gaan bly. Kort en kragtig. Niks verder nie.

Ander vroeëre verhoudings/vriendskappe: staan op die vorm.

Carina merk dat die volgende twee sinne hard en byna met aggressie geskryf is. Die letters is dikker gevorm as hoër op die bladsy. Alicia Francke, die uitgewer, was vies omdat hy sy jongste roman, wat uiteindelik Die enkeling geword het, nie na haar uitgewery geneem het nie. En hy het ’n jaar lange verhouding gehad met Cynthia Olive in New York terwyl ons nie saam was nie, toe ek by Wits gestudeer het en hy buiteland toe is.”

En by Ouers: kom haar pen tot stilstand. Liebet en Klaus Rynhard. Jacques is nie besonder na aan sy ma, Elizabeth, nie. Sy pa is oorlede toe hy 16 was. Húlle was destyds baie na aan mekaar.

Carina en Mysi staan op. “Ek skuld jou, luitenant.” En met ’n glimlaggie: “Soon.”

’n Kwartier later hou hulle voor Jacques se woonstelgebou stil. Carina sê vir die hekwag dat sy met Fineas Guliwe wil praat, en hy laat weet vir Fineas. Hulle word deurgelaat.

Carina voel vreemd tuis in hierdie boheemse omgewing. Newtown het beslis ’n gedaanteverwisseling ondergaan sedert sy twee jaar laas by die Markteater was. Sy het die nuwe winkelsentrum wat in aanbou is al dikwels gesien, en sy verkyk haar aan die straatkuns. Naby Jacques se woonstel is ’n klomp trappe en langs elke trap, op ’n wit muur, is ’n mansfiguur geteken wat met die trap opklim of wat val met die stappery.

Die mure reg oorkant Jacques se woonstel is vol kleurvolle graffiti geverf. Nie aggressiewe bende-graffiti nie, maar mooi tekeninge van Newtown – straatkinders, taxi’s, alles baie kleurryk.

Carina en Mysi loop teen die trappe uit waar Jacques en Lena seker honderde kere geloop het. Waar hulle haastig met hul fietse af is om die stad te deurkruis.

Hierdie is Jacques se wêreld. Sy gemaksone, ver verwyderd van die kitsch rykmanslewe van Alicia Francke. Om die waarheid te sê, laat hierdie omgewing haar nogal aan New York dink. Sy was daar op haar negentiende verjaarsdag gedurende haar oorgangsjaar tussen matriek en universiteit.

Dié omgewing en gebou het dieselfde gevoel. Dit is dalk hoekom hy nog steeds hier bly. Omdat dit vir hom ’n klein New York is. Die stad waar hy leer skryf het. Waar hy onder Cynthia Olive ’n paar intieme skryfgeheime op die lyf geloop het. Letterlik.

Hulle loop verby Jacques se woonstel. Mysi neem foto’s vir ’n vale, maar Carina stap verby en klop aan die buurman se deur.

“Môre. Ek is Fineas Guliwe.”

“Aangename kennis,” sê Carina. “Kan ek inkom?”

Hy knik, wag dat Mysi klaar foto’s neem (ook onder meer van hom) en laat hulle in.

Carina merk al die sketse teen die mure van tatoes – sommige boheems, ander sober, en dan die aggressiewes en die vulgêres.

“Ek was goeie vriende met hom, ja,” sê Fineas later, maar sy oë is behoedsaam, asof hy nie eintlik wil praat nie. “Maar ek weet niks verder van hom nie.”

Hier gaan hulle nie maklik regkom nie.

“Die polisie sê hy het skynbaar nie weer deur die sekuriteitshekke hier onder uitgegaan nie. Hy het wel Saterdag ingekom, maar is nie weer gesien nie.”

“Ek het hom Saterdagoggend laas gesien. Ons het soms gaan fietsry Saterdagoggende, en hy het soos die hel gery. Ek het Saterdagoggend aan sy deur geklop. Hy het negeuur oopgemaak en gesê hy wil heeldag werk,” sê Fineas.

“Hoe het hy gelyk?”

Fineas lig sy skouers. “Soos altyd. Slaapbroekie, hare deurmekaar, oë dik van die slaap.”

“Enige wonde?”

Fineas kyk op. “Wel, sy gesig was bietjie geswel.”

Indien daar dus ’n bakleiery was, weet Fineas nie daarvan nie of wil nie daaroor uitwei nie.

“Weet jy wat ‘Punda’ beteken?”

Fineas huiwer en skud toe sy kop.

“Het jy hom daardie tatoe op sy boarm gegee? ‘DB’?” vra Carina.

“Nee.”

“Wat beteken ‘DB’?”

“Ek weet nie.”

“Tot wanneer was jy hier Saterdagmiddag?”

“Ek is net na vieruur weg. Ek het hom tot ’n rukkie voor dit hoor rondbeweeg. Verder weet ek niks.”

“Die polisie sê daar is ’n bloedstreep teen die muur. Was dit tevore daar?”

Sy sien hoe Fineas momenteel skrik, maar hom weer regruk. “Ek weet niks daarvan nie.”

“Dankie, Fineas.”

“Hoor hier, hoeveel vra jy vir ’n tatoe?” vra Mysi en beduie na haar liggaam: “Want hier is baie free space!”

“Hang af wat jy wil hê.”

“Waar het jy so goed Afrikaans leer praat?” vra Mysi.

“Jacques het my geleer.”

Carina is verras. “Dus ken julle mekaar al lank?”

Fineas knik. “Hy het my van die straat af ingeneem. Hy en Lena al twee.”

“Hoekom is hy en Lena uitmekaar? Was hier ’n rusie?”

Weer die huiwering. Dit is duidelik dat Fineas nie inligting gaan gee nie. “Toe ek weer hoor, is sy weg. En ek het geen rusie gehoor nie.”

“Dankie, Fineas. Ons waardeer dit.”

Mysi en Carina stap uit. En toe, skielik: “Ek het hom een keer uitgevra oor die tatoe. Hy het my nie geantwoord nie.”

Interessant.

Carina en Mysi loop by Jacques se woonstel verby, maar Fineas het sy deur oopgelos en kyk hulle agterna asof hy wil seker maak dat hulle nie daar gaan rondkrap nie. Mysi beduie met haar oë na die woonstel, maar Carina skud haar kop en sê: “Later.”

Naby die trappe wys sy vir Mysi om te gaan staan. Carina plaas haar vinger op haar lippe en draai om. Sy loer om die hoek, net betyds om te sien hoe Fineas die sleutel in ’n gleuf net onder die vensterbank wegsteek.

Toe hulle in Montage se motor klim, lui Carina se foon. “Hoe ver is jou storie?” vra Gavin kortaf.

“Ons het met die polisie gepraat, met sy beste vriend, Jan-Paul Otto, en met sy buurman, Fineas Guliwe. Ek gaan binnekort sy woonstel probeer deursoek.”

Daar is ’n ligte huiwering aan die ander kant. “Ons begin reeds reklame op radiostasies maak oor die groot storie in Saterdag se Montage. Jy beter spark, juffrou!” Hy sit die foon in haar oor neer.

Mysi staar vererg na Carina. “Hoekom werk jy nog vir die vark?”

“Miskien is hierdie storie die skop wat ek nodig het om na iets beters te soek.” Sy skakel die motor aan. Sy kyk na Jacques se balkon, besonder na aan die straat buite die kompleks. Sy sien die straatkinders, die karwassers, die taxi’s – almal deel van ’n dag in die lewe van Jacques Rynhard. Jacques, wie se Die enkeling sy vanaand begin lees. Dalk is daar leidrade in oor die skrywer. Want hulle sê mos skrywers skryf eintlik maar oor hulleself. Hulle gee net ander name aan hul alter ego’s.

Mysi babbel intussen voort. “Hou al jou haarnaalde styf vas, girlfriend!”

Carina is so diep in gedagtes versonke dat sy nie eers antwoord nie.

“Ek en Styfan gaan vanaand uit,” blaker Mysi uiteindelik uit.

“Jy bedoel Stefan, die nuwe joernalis.”

“Met daai stywe broeke het hy nou ’n nuwe bynaam gekry wat ek hoop hom later goed te pas gaan kom.”

Carina sug. “Ai, Mysi.”

“Iets sê vir my Styfan is Die Een.”

“Elke man is vir jou Die Een.”

“Dalk is Jacques Die Een,” lag Mysi.

“Moet in Vadersnaam net nie op ’n skim verlief raak nie!”

“Ek praat van jóú, my liewe vriendin.”

Jacques. Die Een. Hmf. Sou hulle vriende geword het as sy hom persoonlik geken het? Want daar is ’n paar raakpunte.

Sou Jacques van háár gehou het?

Die SMS’e en Facebook-inskrywings oor Jacques spoel skielik deur haar kop. Mysi klap met haar vingers voor Carina se neus. “Planeet Aarde na Planeet Carina. Hallo!”

Carina trek so vinnig weg dat Mysi teen die sitplek terugdeins.

“Die Een!” snork Carina. “Watse snert!” En sy draai links.

Ballade vir ’n enkeling

Подняться наверх