Читать книгу Ballade vir ’n enkeling - Leon van Nierop - Страница 7

4

Оглавление

SONDAG 6 APRIL 2014, 10:00

Carina draai links by die verkeerslig in Craighall vanaf Jan Smutslaan en ry tussen die woonhuise deur. Sy was nog nooit hier nie en wonder of dit dalk Alicia Francke se gunsteling-restaurant is. Hoekom juis hier ontmoet? Sy het ’n restaurant in Sandton of Morningside of Hyde Park verwag. Maar hiér? Sou dit luuks genoeg vir Alicia wees?

Sy het uit haar maag gelag vir Agata se strokie in vanoggend se Sondagkoerant, wat slegs ’n klein laatberiggie oor Jacques Rynhard se verdwyning gehad het. Liefde is as hy vir jou ’n liefdesbriefie skryf sonder ’n enkele cliché in. Nie so snedig soos Agata gewoonlik is nie, dus moes die skepper daarvan dalk ’n ongewone emosionele oomblik ervaar het. Waar is die dae toe Agata bitterbek gesnater het Geluk is as jy weet hy dra nie Crocs nie?

Die Corner Café sit nou aan haar regterkant langs ’n paar klein winkeltjies. Sy herken Alicia dadelik waar sy by ’n tafel buite die restaurant sit.

Alicia dra ’n korterige broekie wat haar mooi bene beklemtoon en ’n rooi toppie span styf om haar borste. Sy het hoëhakskoene aan en is besig om op haar iPhone te werk.

“Hallo. Carina Human. Ons het ’n …”

Alicia hou haar wysvinger in die lug. Carina is nie seker of sy toestemming het om te gaan sit nie. Alicia tik haastig op haar slimfoon se venstertjie en druk Send. Sy kyk op en haal haar sonbril af.

“ ’n Uitgewer se werk is nooit klaar nie. Jong upstart wat sy eerste roman by my publiseer het probleme met my kritiek. Sy selfoon is af, want hy kan glo nie kommunikeer wanneer hy skryf nie. Nou moet ek per SMS kommunikeer. Hy sal sy heiland gou leer ken.” Sy beduie na ’n stoel. “Ekskuus. Ons is nie hier om oor my probleme te praat nie. Môre. Sit.”

Dit is ’n opdrag, nie ’n vriendelike versoek nie.

Carina bestel tee terwyl Alicia vir ’n pot groentee vra.

“Daar’s net een klein beriggie in vanoggend se koerante oor Jacques. Sy verdwyning het seker op saktyd gebeur, anders was die storie groter, wat sy ego nog verder sou laat swel.”

“Wat het gebeur?” Carina beduie na haar iPad. “Mag ek die gesprek opneem?’

“Ek word nie opgeneem nie.” Sy swaai haar vinger heen en weer. “En ek praat nie op rekord nie. Ons het net ’n doodgewone gesprek.”

Carina sit haar iPad terug in haar handsak.

Alicia sit terug en steek ’n sigaret aan. Haar vingers bewe en sy lyk gespanne.

“Kom jy gereeld hierheen?” vra Carina, net om die gesprek aan die gang te kry.

“My en Jacques se gunsteling-restaurant.”

“Hoekom het hy verdwyn en weet jy waar hy is?”

“As ek geweet het waar hy is, sou ek die polisie reeds gesê het. Ek kom nou net van die ondersoekbeamptes af. En hoekom hy verdwyn het?” Sy trek aan haar sigaret. Dan draai sy na Carina en maak gereed om te praat. Uit jare se ervaring sien Carina dat Alicia iets belangriks wil sê. Sy maak haar mond oop om te praat, maar dan lui haar slimfoon. Sy gryp dit en haar hand bewe. Maar dan sug sy en skakel dit af. “Verbrande skrywers wat mens nie eers jou eie Sondag toelaat nie!”

“Wat kan jy my oor Jacques vertel?” vra Carina.

“Ek wil jou net bietjie agtergrond gee, to set the record straight, want ons kon nie gisteraand behoorlik praat nie.” Alicia leun weer vorentoe soos iemand wat ’n intieme belydenis gaan maak, maar dié slag lyk sy meer behoedsaam, asof sy vooraf uitgedink het wat sy gaan sê. “Want noudat die meneer soos die Skarlaken Pimpernel verdamp het, gaan die stories begin rondvlieg, veral oor my en hom, en ek wil net sekere feite regstel sodat ék nie die vark in die verhaal is vir sy reklamefoefie nie.” Sy druk haar sigaret dood. “Ek was dalk die vark in die verhaal, maar moontlik besef hy nou eers wat hy aan my gehad het.”

Haar oë huiwer net te lank op die sigaret, asof sy iets herleef. “Goeie dinge gebeur met hulle wat lank wag.”

“Wat bedoel jy?”

Alicia skud haar kop. “Net dat Jacques seker, tussen al sy ander sondes, besef het hy is by die verkeerde uitgewer. Meyer de Necker mag nou op die kruin ry. Maar hy verstaan Jacques nie.”

“Maar Jacques het ’n prys gewen!”

“En tog is Die enkeling nie sy beste werk nie. Ek is die enigste wat hom kan motiveer en inspireer om sy beste te lewer noudat hy in die diepste put van ellende is. En ek dink nou sal hy na my luister.”

“Wat bedoel jy?”

“Net dat mens nooit weet wat jy gehad het voor jy dit verloor het nie. En dit is op Jacques en my van toepassing. In daardie volgorde.”

Carina stoot die asbakkie verder van haar af weg. “Dink jy dis ’n reklamefoefie?”

Alicia kyk weer na haar slimfoon. Dan druk sy dit in haar handsak. “Hierdie storie moet jy ongesteur hoor. En ek gaan dit vir jou vertel soos dit gebeur het. Maak daarvan wat jy wil.”

“Hoekom vertel jy dit juis vir my?” waag Carina.

“Omdat dit tyd is dat Jacques Rynhard ontmasker word. Ek is gatvol vir sy hoflike-boerseun-van-die-volk-beeld.”

Maar iets val Carina ook op. Nou, met al die reklame wat Jacques kry, gaan dit natuurlik die verkope van sy vorige romans by die Francke-Uitgewery bevoordeel, wat moontlik nuwe oplae kan beteken. Alicia gaan dus tog voordeel hieruit trek.

Dalk is Alicia se belydenisse nie so eerlik of pynlik soos sy wil voorgee nie. Maar om te besluit, moet Carina eers haar weergawe hoor, en dit dan vergelyk met ander mense se sienings daarvan.

’n Saak het altyd meer as een kant.

Toe Alicia begin, praat sy soos ’n masjiengeweer, aanhoudend en intens. Maar Carina hoor alles vanuit Alicia Francke se oogpunt. Die meisie wat hom nooit gehad het nie.

18 NOVEMBER 2003, 12:30

Alicia het toe uiteindelik ingestem om Jacques by Daleahs Restaurant in Braamfontein te ontmoet, en nie in een van haar glansrestaurante waar almal haar ken en hand en voet bedien nie. Die besluit was uiteindelik hare: Dalk moet sy hom aanvanklik op sy eie terrein sien voordat sy hom na haar hand begin grootmaak. Sy hoop net dat mense haar nie hier sal opmerk nie, want dit is nie haar soort restaurant nie.

Jacques Rynhard se kortverhale toon belofte. Meer as belofte. Dit is opwindend en anders as wat sy nog ooit tevore gelees het. Vars, byderwets, met ’n nuwe invalshoek en sonder die selfvertroeteling en selfbewustheid wat nuwe kortverhaalskrywers soms kenmerk. Of die doelbewuste nabootsing van die Afrikaanse kortverhaalmeesters.

Rynhard se werk is bedrewe sonder om vertonerig te wees, met ’n tikkie sinisme en donker humor waarvan sy hou. Hy het ’n sin vir galgehumor wat haar hardop laat lag en soms haar hand voor haar mond laat plaas omdat dit so vars is. Waar sou hy aan soveel oorspronklikheid kom? En hy kan boonop romanties skryf sonder om in clichés te verval. Sy verhale is ver bo die standaard van die res in dieselfde tydskrifte.

Maar waarvan sy die meeste gehou het, is die “immigrasie na die self”-motief, soos ’n vriendin dit so raak gestel het. Asof Rynhard met elke nuwe kortverhaal toenemend bewus raak van die gebreke aan die eie ek, sodat hy hom tot immigrasie en soms selfs emigrasie moet wend om ’n storie te vertel wat buite vertroeteling val. Want een ding is seker: hy ken en verstaan mense asof hy van meet af aan verby vertonerigheid en valsheid kyk. En in sy werk merk sy iemand wat al ten volle gelewe het. En dalk baie meer ervaar het as wat sy stories tans verklap.

Hy het maar nog net aan die oppervlak van sy talent geskraap.

Met elke verhaal haak Rynhard donker temas oor vrees en selfbetwyfeling soos ’n trein se waens aanmekaar. Die een lei tot die ander, het die ander se krag nodig, en kan nie sonder die ander bestaan nie. En om die stories en temas almal teen die berg uit te sleep, is ’n kort novelle nodig wat al die temas sal saambind – nie ’n 1500-woord kortverhaal nie.

Tog sien Alicia ook, op haar eie selfsugtige manier, die moontlikhede vir finansiële gewin raak. Herdrukke, voorgeskrewe werke vir skole. Merk sy ’n ongedwonge skryfstyl wat sy maklik meer kommersieel kan rig en wat dan kan aanleiding gee tot populêre vermaak, maar tog met ’n literêre inslag.

Dit is wat haar eintlik na Jacques Rynhard se werk aantrek. Sy kan lekker geld maak uit hom.

Sy kyk deur die venster, merk die skeefgetrapte Braamfonteinse sypaadjies, smouse wat verstikkende enerse ware uitstal – soms vyf langs mekaar met dieselfde groteske figure uit klip en hout. Afrika-kitsch, vertroebelings van voorvaderstories en gesigte. Almal se pryse is dieselfde, almal se voorkoms is dieselfde. Hoe verwag die mense om iets te verkoop as alles eners lyk?

Dit is wat die Francke-Uitgewery tussen die ander laat uitstaan. Haar moed om kanse te waag en nuwe onderwerpe aan te vat waaraan ander uitgewers nie wil raak nie, maar dan met helder boekomslae waar die inhoud en die literêre styl mekaar komplementeer. Sy het ook romans gepubliseer wat die grootste gemene deler trek – die leser wat na gehalte soek, maar wat tog ook vermaak en iets meer diepsinnig verlang, anders as “boy meets girl, boy loses girl, boy wins girl back”.

So het sy al dikwels nuwe, belowende skrywers opgespoor en opgelei. En daarom het sy navorsing oor Jacques Rynhard probeer doen nadat sy sy kortverhale gelees het. Maar selfs op die internet is daar min oor hom, sonder foto’s, wat raar is, en hy is glad nie op Facebook nie. Dit is net sy ses kortverhale wat op ’n vreemde manier met haar praat.

En daar is ’n sensuele ondertoon wat haar warm laat voel.

Terwyl Alicia vir haar tee wag, dwaal haar oë vinnig oor die tekste wat sy tans ontwikkel: ’n aksieroman deur Friedel Bredenkamp, ’n donker romanse deur Fanny Krynauw. (Alicia het haar gevra om haar naam te verander want dit kry altyd vulgêre kommentaar, maar die skryfster het geweier.) Ook ’n intellektuele digbundel deur Maria Ysel, en ’n opvolg op Pieter Crous se blitsverkoper-riller Vaderland. Maar sy het nuwe talent nodig. En dringend.

Skielik, buite die restaurant, ’n geraas. Sy kyk deur die venster en verwag karwassers of parkeerwagte wat slaags raak.

’n Jong man op ’n resiesfiets met ’n helm op kom teen ’n geweldige vaart aangery en stop vlak voor die deur, sodat die lui duiwe gesteurd opvlieg. Hy groet iemand oorkant die straat deur sy vuis in die lug te druk. Die man wys vir hom ’n vredesteken.

“Hey, your dudeness!” roep die swart man oorkant die straat.

Selfs die smouse groet hom, almal op ’n ry soos ’n stel domino’s wat effens wankel maar met genade nie omval nie.

Die fietsryer haal sy veiligheidshelm af, maar hou sy rug op die venster gekeer. Hy sluit sy fiets, druk sy vingers teen sy mond en plaas dit dan op die fiets asof hy dit soen. Net dit laat Alicia haarself oplig om hom beter te kan sien. Sy merk die vry, los bewegings, die gemaklike toesluit van die fiets, die oorbuk om ’n wiel te toets, die stewige boude onder die geskeurde jeans. Sy merk ’n rooi onderbroek wat wys en ’n rek wat sê: Urban.

Op daardie oomblik lui haar selfoon en word haar aandag vir ’n oomblik afgetrek. Dit is ’n bel-my-asseblief-boodskap en sy skakel haar selfoon af.

Dan kom die fietsryer ingestap.

Mense kyk om, want hy wil van geweet wees. Dit is asof die restaurant tot stilstand kom as hy instap en alle aandag op hom vestig sonder dat hy iets doen behalwe glimlag. Twee meisies lig hul wenkbroue vir mekaar en ’n ouer vrou lig haarself om effens beter te sien. Maar as hy bewus is van die aandag wat hy trek, wys hy dit hoegenaamd nie.

Magtag, maar die man is aantreklik.

Hy is mooi op ’n boertige maar gesofistikeerde manier. Daar is iets anders aan hom, iets selfversekerds en vriendeliks, maar terselfdertyd is hy terughoudend asof hy waarsku: jy kan kyk, ek sal vir jou glimlag, maar moenie vat nie.

Sy jeans sit goed aan hom, beklemtoon sy smal heupe, en die T-hemp wys dat sy maag plat is. En die broek bult op presies die regte plek.

Sy het nog altyd gehou van die gemaklike manier waarop ’n man loop. Maar hierdie man loop asof hy elke duim ruimte waardeer en dit met ’n moeitelose, los stappie syne maak.

’n Kelnerin stap nader en hy druk haar teen hom vas met albei arms. Hy is duidelik ’n gereelde en gewaardeerde kliënt. Hy praat in ’n swart taal met haar en sy antwoord opgewonde.

Hy vuisstamp die eienaar, wat hom op die skouer klop.

Tussen die gebabbel ontsyfer Alicia die naam Jacques. Hy gesels ’n rukkie met die meisie en gee dan ’n lag wat sy hele gesig laat ophelder. Nie die aangeplakte glimlagte van nuwe skrywers wat haar probeer beïndruk nie. ’n Lag wat woorde op sy gesig skryf.

Alicia neem haar selfoon, kies haar beste vriendin se naam en SMS na haar: Ek ontmoet ’n nuwe skrywer met die mooiste boude nog. Word vervolg.

Sy druk Send.

Jacques druk die kelnerin weer vinnig en soek dan tussen die etende kliënte na Alicia. Hy moet seker weet hoe sy lyk, want sy is immers bekend. Alle skrywers weet hoe sy lyk. Maar hy bly soek.

Uiteindelik lig Alicia haar hand gedwonge. Jacques knik, maar sien weer iemand wat hy ken. Hulle gee die Afrika-groet – ’n uitvoerige klap van hande en sleep van vingers terwyl Jacques weer lag en iets in ’n swart taal sê.

Ongekunsteld. Hoe graag het sy nie rooi kringe om daardie woord in Fanny Krynauw se tekste getrek nie. “Ek het later opgehou tel aan die uitroeptekens!” het Fanny gelag. Maar dit is al manier om Jacques te beskryf. Die skrywers met wie sy werk is tog so bewus van hulle kunstenaarskap en trek dienooreenkomstig aan (of nie aan nie). Maar Jacques lyk doodgewoon en gemaklik – nie opgetert vir die ontmoeting met ’n weerligstraal-kuifie nie. Om die waarheid te sê, sy hare is deurmekaar.

Die manier waarop hy nou nader stap, verraai weer ’n gemaklike manlikheid.

Jacques dra sandale en ’n rugsak oor sy skouer. (Sy sal vir hom ’n meer gesofistikeerde skouersak moet kry, dink sy skielik.) Sy merk weer die smal heupe soos ’n swemmer, en breë skouers – die outydse soort waaroor prulskrywers so soetklinkend kon raak.

Hy gaan staan langs haar tafel.

Ordentlik. Vriendelik. Sjarmant. Drie woorde wat sy ook met rooi uitroeptekens in tekste veroordeel, maar wat nou soos lastige klonte in deeg deur haar gedagtes flits.

“Juffrou Francke?” Sy stem is soos fluweel.

“Jacques?”

“Dis reg, ja.” Hy steek sy hand uit. “Hallo.”

“Hallo.”

Sy handdruk is stewig, vriendelik. Hy het digte wenkbroue wat sy gelaatstrekke beklemtoon, en ’n mooi neus. Alicia het nog altyd van mans met mooi neuse gehou. Maar dit is sy oë wat haar aantrek. Vriendelike oë wat sonder inspanning na haar kyk, nie oorweldig deur haar status of haar mag nie.

Hy gaan sit nie en wag eers op toestemming. Goed grootgemaak, dink sy en hou al hoe meer van hom. Hy sal netjies aan haar sy lyk.

“Meneer die kortverhaalskrywer. Sit.”

’n Skewe glimlag. “Dankie.”

Hy leun terug, sy hande agter sy kop. Sy T-hemp lig effens en sy sien fyn haartjies om sy naeltjie wat onder die jeans se lyfband verdwyn. Sy kyk vinnig weg en probeer haar stem neutraal hou. “Kom ek val met die deur in die huis, Jacques.” Sy haal ses tydskrifte uit met sy werk daarin. “Jou kortverhale.”

Gewoonlik ontsenu sy nuwe skrywers op hierdie manier, want hulle begin dadelik verskoning maak vir twyfelagtige skryfwerk, maar nie Jacques nie. Hy vee oor sy maag en kyk oor sy skouer asof hy na iemand soek wat hy ken.

“Jou stories het potensiaal.”

“Sommige illustreerders moet gekielhaal word.” Sy is verbaas oor sy kennis van dié woord. “En party van die tantes wat daardie verhale illustreer het, moet liewer koeke versier.”

“Ek stem. Maar ek hou steeds van die inhoud ten spyte van die illustrasies.”

“Dankie. Maar die stories is net vingeroefeninge.”

Sy gryp die kans. “Ek weet. Bietjie mooiskrywery oor romanse, sinne soms te kortaf, selfs deklamerend, en jy soek nog na ’n styl. ’n Identiteit. ’n Weet uit wie se perspektief jy skryf, wie jou ankers is. Maar,” sy kies haar woorde versigtig, “publiseerbaar.”

Hy vryf met sy hande deur sy hare en sit nou eers sy fietsryhelm op die vloer neer en knik sonder om haar te bedank. Sy laat ’n ruimte oop vir hom om homself aan haar te verkoop, maar hy roep net oor sy skouer: “Yo, bro! Love the hair!”

Die boheemse man gee ’n duim-op-teken en suig aan iets wat net ’n daggasigaret kan wees.

“So. Hoe skryf jy, Jacques?”

Hy kyk onbegrypend na haar. “Met my vingers op sleutels. Een na die ander.”

Hy is ’n taaier neut as wat sy verwag het.

“Enige opleiding, bedoel ek.”

Sy kan sien dat hy iets onthou, iets aangenaams. ’n Emosie gaan lê in sy oë. “Ek skryf maar op instink. Ken nie eintlik die reëls nie.” Geen dankbare glimlag of onderdanige knik van die kop nie. Dit gooi haar nog meer van balans af.

“Maar tog – daar is ’n struktuur. ’n Kennis van die basiese reëls.”

“Iemand het my mooi touwys gemaak.” Net die manier waarop hy die woord ‘mooi’ inkleur, verraai dat daar seks betrokke was.

“Maar om ‘die reëls’ te breek moet jy eers ‘die reëls’ ken, Jacques.” En toe, sonder dat sy dit eintlik beplan, glip dit uit: “Mooi naam. Jacques.”

Sy wag dat hy moet reageer, maar hy kyk deur die venster na sy fiets. ’n Pouse, soos in ’n verhoogdrama.

“By wie gee jy uit?”

“Ek is nie by ’n uitgewer nie.”

“Wil jy graag uitgee?” vra Alicia uiteindelik.

Hy kyk op. “Ek geniet wat ek nou doen. Arbei soggens by ’n reklame-agentskap. Skryf flitse vir radio, soms televisie. Halsoorkop-lekker as dit werk en die regisseurs verstaan hoe om jou konsep op die skerm te laat ruk. En smiddae en saans …” Hy glimlag nou vir die eerste keer. “ ’n Storie of twee, soos daardie in jou hand. Ek stuur nie almal in nie.”

Sy leun vorentoe. “So. Jy het nie die ambisie om ’n roman uit te gee nie.”

“Nog nie eintlik daaraan gedink nie.”

“Jy speel!” wil sy vir hom sê, “almal wil die een of ander tyd ’n roman uitgee!” Maar sy kies dan ’n ander strategie. Enersyds wil sy hom inasem en aan sy hande raak – hom nader trek, persoonlike vrae vra, maar sy doen niks.

“Wel.” Weer ’n netjiese pouse. “As jy nie belangstel nie.”

Maar hy neem nie die aas nie.

Die kelnerin plaas ’n glas water voor Jacques neer en gee ’n effense kniebuiging. Dan plaas sy ’n pot met tee en ’n koppie voor Alicia.

“Siyabonga, mama,” sê Jacques en sy glimlag weer voordat sy loop. En Alicia sien hoe die vrou met ander kelnerinne oor Jacques praat wanneer sy gaan staan. Almal kyk na hom, maar hy is skynbaar gewoond daaraan.

Hy proe aan die water, maar weerlê nie haar stelling nie en neem steeds nie die lokaas nie.

“Vertel my bietjie van jouself, Jacques,” probeer sy weer en dink dat sy nou nes die radio-omroepers klink wat altyd onderhoude met haar voer.

Hy gee ’n skewe glimlaggie met net die regterkant van sy mond. “Wat wil jy weet?”

Hemel. Hoekom ontsenu hy haar skielik? Sy is nie daaraan gewoond dat skrywers so sonder respek optree nie! Maar juis dit maak haar opgewonde. Jacques Rynhard moet getem word. “Getroud, verloof, gehuud? Ambisie? Ek bedoel: jy wil tog seker eendag iets sinvols doen behalwe net waspoeierflitse skryf!”

Dit lyk of hy werklik nog nooit daaraan gedink het nie. “Ek wil doen wat ek nou doen en gelukkig wees. En waspoeierflitse betaal dêm goed.”

“En wat maak jou gelukkig, Jacques?”

“Die lewe.”

“Die vraag is net, kan jy ‘die lewe’ op papier verewig sodat ander mense gaan betaal om daarin te deel?”

“Ek probeer – maar ek dink nie so tegnies daaraan nie. Ek dink nie eers tegnies as ek flitse skryf nie. Die waspoeier word my beste pel. Ek slaap met haar, eet haar, drink haar, ry saam met haar op my fiets en pleeg dan iets.”

Sjoe. Sy hou net meer en meer van hom. “Want jou stories is,” weer die doelbewuste verhoogpouse, “gangbaar.”

Hy knik effens asof hy met haar saamstem.

“Maar wat van iemand wat jou verby ‘gangbaar’ neem, Jacques? Wat na jou werk kyk en professionele leiding gee. Jou help.” Sy neem ’n slukkie tee en wink die kelnerin nader. “Could I have hot tea, please? This is cold.”

Die kelnerin knik afgetrokke.

Jacques proe aan sy water. ’n Waterdruppel loop teen sy ken af. Dit is skielik vir haar eroties.

“Dit hang af of die persoon wat my wil help meer van stories weet as ek.”

Die gesprek raak nou ’n boksgeveg en sy geniet elke hou wat sy kry. “Het jy al ’n kritikus gekry wat jy vertrou?”

“My meisie.”

Aha. Uiteindelik. Hy is betrokke by iemand.

“So. Jy is nog nie gereed om ’n roman te skryf nie?”

“Net wanneer die regte storie kom klop.”

Nou goed. As hy hardekoejawel wil wees. Sy tel haar selfoon op as ’n aanduiding dat die gesprek verby is. “Ek het ’n paar oproepe om te maak. Dankie dat jy kom kennis maak het.”

Hy ledig sy glas, staan op en steek sy hand uit. “Dankie. Lekker om jou te ontmoet.”

Hy kyk na die glas en steek sy hand in sy broeksak.

Sy skud haar kop sonder om na hom te kyk. “Dis op my. Lekker dag, Jacques.”

“Ek dink ook jy moet nog iets weet,” sê Jacques asof hy nou eers daaraan dink.

A! Hier kom dit. Uiteindelik ’n swakheid. ’n Ruimte wat sy kan annekseer. Iets wat sy kan gebruik.

“Ek tik al my stories.”

“Wel, solank jy dit net deur ’n spell-checker sit …”

“Ek bedoel ek tik op ’n tikmasjien.”

“Jy’s nie ernstig nie.”

Hy boots ’n tikmasjien na. “Soos ’n hartaanval.”

“Regtig?” Sy vergeet nou van haar foon. “Waarom?!”

“Want dis al waar ek met ’n storie kan baklei. Op ’n tikmasjien. Jy val daai sleutels aan. Hulle praat terug met jou, maak soms beswaar. Jy moet ekstra hard werk om van een reël na ’n ander te beweeg. Jy moet die papier uithaal, die wa skuif, wag vir die klokkie. Jy durf nie foute maak nie, want dan staan hy daar ingegrafeer, al Tipp-Ex jy hom uit. Die letters staar na jou toe terug en die hardheid waarmee jy die sleutels slaan, wys in jou teks soos harde en sagte note in ’n stuk musiek. Ek dag net jy moet weet. Ek tik. Ek gebruik nie rekenaars nie.”

Hy knik asof hy die saak as afgehandel beskou.

“Ek neem aan dit is ’n nuwerwetse tikmasjien. Ek bedoel, soos in die tagtigerjare toe elektriese tikmasjiene mode was. Die voorloper van die rekenaar.”

Hy skud sy kop. “Lena het dit vir my gegee. Dis my gelukkige tikmasjien. En ek kan net daarop skryf. Mens maak nie liefde met twee verskillende meisies nie. Tot siens, juffrou Francke.”

Sy kyk verbaas hoe Jacques wegstap sonder om op reaksie te wag. Gemaklik. Seker van homself. En hoegenaamd nie afhanklik van haar goedkeuring nie.

Alicia staar hom agterna tot hy uit die restaurant is. Toe tik sy weer ’n SMS vir dieselfde vriendin: En ek gaan hom mooi grootmaak.

Sy plaas ’n twintigrandnoot op die tafel. Die kelnerin stap nader met ’n vars pot groentee en sien die geld, maar Alicia het reeds opgestaan.

Jacques staan by sy fiets en gesels met twee rastas asof hy hulle jare reeds ken. Al drie bulder van die lag. Gelukkig staan haar motor naby die restaurant. Sy klim in en kyk hoe Jacques sy fietsryhelm op sy kop plaas. Dan trek hy teen ’n verbysterende spoed weg.

Alicia volg hom tot op die Mandelabrug, waar hy draai. Hy steek al die motors verby, beduie dankie met sy duim as iemand hom ’n kans gee, lê plat as hy nog vinniger ry, maar moet noodgedwonge by besige verkeersligte gaan staan. Dan haal sy hom in.

Alicia volg hom met Carrweg af en draai dan links tot by ’n blok woonstelle. Twee keer verloor sy hom byna, maar gelukkig is die verkeer nie druk nie.

Naby die ou Park-stasie haal sy hom weer in in Gerard Sekotostraat, net betyds om hom deur ’n hek te sien ry wat hy met ’n afstandbeheerder oopmaak. Alicia glip agter hom in, maar hy is nie bewus van haar nie.

Hy tel sy fiets gemaklik op en stap teen die trappe uit.

Sy parkeer en spring uit – volg hom.

Alicia loop met die gang af, net betyds om hom die fiets deur ’n woonsteldeur te sien maneuver. Hy maak nie die deur toe soos sy verwag het nie.

Sy loop met die gebou se gang af. Dit raak nou stil.

Die oop deur trek haar aan. Alicia kyk versigtig by die woonstel in waarin hy verdwyn het.

Wat haar eerste opval, is die skilderye teen die muur – almal van stoomtreine. En die twee fietse wat teen die muur staan.

Die volgende oomblik kom ’n meisie uit die stort gestap, ’n handdoek om haar kop. Alicia tree terug sodat hulle haar nie kan sien nie.

Die meisie sit haar arms om Jacques. Hy tel haar op en soen haar, maar maak steeds nie die deur toe nie.

Daarna verdwyn sy weer in die badkamer en Alicia hoor ’n haardroër aangaan. Sy merk ’n tikmasjien, maar ook ’n rekenaar wat aangeskakel is met ’n skermstut vol deurmekaar woorde.

Jacques loop teen die trappe op na die boonste verdieping. Alicia gebruik die kans en stap haastig na die rekenaar toe.

Elke boodskap op die skermstut is in ’n ander font geskryf en in verskillende grootte letters. Dus moes Jacques die boodskappe op verskillende tye na die meisie gestuur het, toe het sy uiteindelik die boodskappe saamgroepeer as ’n skermstut. Alicia kyk in die rigting van die slaapkamer bo, en toe die badkamer. Sy fokus op die skermstut.

Lena. Hoekom ek van jou hou, staan boaan. En dan: Want ek voel by jou. Weet ek leef nog.

Omdat jy alles van my weet en steeds van my hou.

Jy hou van warm soene wat nooit ophou nie.

Want elke storie is net vir jou.

Omdat al my dae anders eindig as wat hulle begin het, want jy is daarin.

Want jou melkkos is lekkerder as Daleahs s’n.

En elke golf wat ons snags saam ry breek net beter en groter.

Die toilet spoel bo en die haardroër word terselfdertyd afgeskakel. Alicia haas haar uit die woonstel.

“Wat’s vir lunch?” hoor sy Jacques van bo vra terwyl ’n kraan oopgedraai word.

“Marshmallows. Ons braai saam met Fineas!”

Alicia loop haastig met die trappe af en verlaat die gebou.

Sy wag ’n rukkie in haar motor. Toe sien sy vir Jacques met sy fiets, en die meisie, seker Lena, ook met ’n fiets uitgestap kom.

Hulle klim op en Jacques trek weer vinnig weg, maar Lena is natuurlik al gewoond daaraan en hou by. Alicia volg hulle.

Jacques en Lena ry deur die hekke en Alicia glip net betyds agterna deur. Af met Carrweg tot waar die M1 sy dubbelverdieping maak. Daar plaas Jacques sy fiets teen ’n pilaar. Vir ’n oomblik druk hy Lena teen die pilaar vas en soen haar.

Alicia parkeer agter ’n taxi.

Jacques en Lena stap nou ’n swart man tegemoet wat sy hande warm maak by ’n vuur in ’n konka. Lena het ’n pak malvalekkers van haar fiets afgehaal, wat die man aan houtstokke druk. Hulle praat maar Alicia kan nie hoor wat hulle sê nie, en Jacques druk kort-kort sy elmboog om die man se nek as hy met hom praat.

Hulle gaan sit op stompe, Lena tussen Jacques se bene, en braai malvalekkers. Lena leun met haar kop teen Jacques se kruis en maak haar tuis daarteen terwyl hy in haar hare krap. Hulle is volkome gemaklik met mekaar, asof hulle in mekaar inpas soos legkaartstukkies. Alicia probeer weer hoor waaroor hulle praat, maar sy is te ver. Jacques draai ’n malvalekker om en skuur dit teen Lena s’n asof hy nie genoeg van haar kan kry nie. Hy soen haar lank in haar hare en druk sy kruis weer teen haar.

’n Rukkie later voer hy sy malvalekker vir haar, en sy hare vir hom. Hulle eet terwyl hulle sonder ophou praat. Alicia dink aan die mans met wie sy kortstondige verhoudings gehad het. Wanneer daar nie seks was nie, het hulle eintlik niks gehad om oor te praat of om die tyd mee te vul nie.

Sy sien die manier waarop Jacques gedurig in Lena se nek vroetel, merk hoe sy later opstaan en agter hom gaan staan. Sy vroetel met haar vingers deur sy hare en knibbel aan sy oor.

Nou stap Lena weg van Jacques af na die fiets toe en haal iets uit haar groot sak. Dit is ’n sketsboek. Alicia neem selfoonfoto’s van hulle.

Lena gaan sit op ’n klomp stene en begin Jacques te skets. Hy sit-lê gemaklik teen sy fiets, sy een knie effens opgetrek. Alicia dink aan haar eie lewe. Die vele jong skrywers wat gedurig aan haar sy by boekbekendstellings opdaag, almal maar net te gretig om saam met haar gesien te word voordat hulle later met allerlei verskonings vorendag kom om haar nie meer te vergesel nie. Een na die ander.

Sy is bewus van die stories wat in die bedryf rondlê. “As jy by die Franckes wil publiseer, publiseer Alicia jou eers. En as jy deur haar hande is, boeta, is jy geskool vir die skrywerswêreld. Hoe mooier jy is, hoe beter jou kans om te publiseer.”

Die een kortstondige verhouding na die ander, selde langer as ’n maand, dalk twee as sy gelukkig is. En as die flirtasies skielik eindig, haar pa John wat sy kop skud. “Waarna soek jy, ounooi?”

Sy kan hom dan nie antwoord nie, want sy weet eintlik self nie.

“Ek en jou oorlede ma was baie gelukkig. Dalk streef jy ook onbewustelik daarna.”

“Die regte man, Pa.”

“Maar hy moet ook mooi wees.”

“Vanselfsprekend.”

“Dan moet jy met ’n plakkaat trou en dit bokant jou bed hang. Op dié manier bly hy vir ewig jonk en mooi. Skoonheid vergaan, ounooi. Dis die mens hier binne, dit waaroor hulle net in hul intiemste oomblikke skryf, wat bly. Nie hoeveel vel hulle wys om in jou goeie boekies te kom nie.”

Haar pa is die enigste mens wat sy ken wat dit waag om so eerlik met haar te wees. En sy waardeer dit. By hom is sy ounooi. Nie die uitgewer nie.

Sy dink aan haar luukse kantoor in Morningside met sy uitsig oor die stad. Die vele vriende wat sy het, na wie mense as haar onderdane verwys. En dan die een sekretaris na die ander. Sy verkies manlike sekretarisse. Hulle is meer betroubaar en mooier om na te kyk.

En nou Jacques met hierdie mooi, jong plaasmeisie aan sy sy, met die skerp oë en die sterk persoonlikheid. Hulle is duidelik versot op mekaar en Alicia besef sy het nie ’n kans nie.

Nog nie.

Sy ry huis toe, en nadat sy deur al die sekuriteitshekke is, stap sy na haar rekenaar toe. Sy soek Lena Aucamp op die internet op en word gelei na die webwerf van die Umzombi-galery, De Beerstraat, Braamfontein. Dit moet net oorkant Daleahs Restaurant wees. Hoe kon sy dit misgekyk het?

Sy staan op, maak tee en probeer dan om tekste te lees wat op haar lessenaar lê, maar kan nie konsentreer nie. Sy sien net die man met die ligbruin hare en die skewe glimlag en die sagte oë voor haar.

Daardie aand staan sy alleen op haar luukse dupleks se balkon wat oor Saxonwold uitkyk. Sy is dol oor hierdie uitsig op die stad.

Sy beantwoord haar slimfoon geduldig, handel sake af, skakel een of twee skrywers, maar kry Jacques Rynhard steeds nie uit haar kop nie. En besluit wanneer sy in die bed klim: Jacques gaan deel word van die Francke-Uitgewery. Op háár voorwaardes. Sy sal hom tem.

Sy wil daardie hoflikheid uit hom soen, sy goedheid uit hom skok, hom hard en ongenaakbaar maak – iemand wat gaan skryf soos sý wil, wat oor húlle gaan skryf. Gedigte, kortverhale, romans, liefdesbriefies op flenters papier, vinnige foonoproepe, romantiese SMS’e. Iemand wat saam met haar na romantiese plekke sal gaan en op bootreise sal vertrek en soggens saam met haar wakker word en saam met haar gim toe gaan en die soort motor koop waarvan sy hou.

Sy trek die laken oor haar kop en probeer slaap. Maar Jacques Rynhard wil haar nie los nie.

Later gaan staan sy weer op haar balkon. Dis warm. Sy voel nat en sweterig. Kyk na die neonrivier van motorliggies op pad Hyde Park toe. Dink aan Jacques.

Sy slaap feitlik die hele Sondag om en beantwoord nie haar selfoon nie. Sy lees Jacques se kortverhale oor en oor en gaan soek op die internet na nog. Probeer ’n foto van hom kry.

Maar daar is niks.

Maandagoggend staan Alicia twee skrywers in haar kantoor te woord en handel ’n reklamevergadering in ’n japtrap af.

Sy beantwoord e-posse en soek na sy naam tussen die ander, maar daar is niks. Sy oorweeg dit ’n oomblik lank om ’n e-pos na hom te stuur, maar dan bedwing sy haarself. Sy stuur nóóit uit haar eie e-posse na mense wat van haar afhanklik is nie. Sy wag dat hulle reageer. Want op dié manier hou sy beheer oor hulle. Wys sy hulle wie’s baas.

Maar dalk gaan dit anders wees met Jacques. Want sy het skielik die begeerte om met hom te kommunikeer. Iets soos: Hoe was jou aand? Of het jy al oor my aanbod gedink?

Maar sy sal dit nooit doen nie. Sy is te trots.

’n Halfuur later kom Alicia Francke aan by Lena Aucamp se ateljee in Braamfontein, skaars ’n klipgooi van Daleahs Restaurant af, maar die ingang is in ’n systraat. Lena is besig om op haar selfoon te praat toe Alicia instap.

“Daar’s ’n partytjie by Cafe Hu en, wag hiervoor! Hulle’t drie van my skilderye gekoop.” Sy luister. “Dis ’n date. Dis mos jazz-aand.” Sy kyk op haar horlosie. “Lief jou.” Sy skakel die selfoon af en kyk dan op. “Hallo. Kan ek help?”

“Mooi skilderye,” beduie Alicia. “Gee jy om as ek rondkyk?”

“Gerus.”

“Ek is Alicia Francke.”

“Lena Aucamp.”

Nou kan sy Lena behoorlik beskou. Die meisie wat aan Jacques behoort. En Jacques aan haar.

Sy is mooi, maar op ’n natuurlike manier. Sy sal nie werk as model vir ’n voorblad nie, maar het ’n onbetwisbare hartlikheid. Die soort meisie wat mans graag aan hul ouers voorstel.

Lena Aucamp dra feitlik nie grimering nie. Sy het dit nie nodig met daardie sterk gelaatstrekke nie. Sy is ongekunsteld, met fyn sproete. Of dan ligte suggesties van sproete. En sy dra gemaklike klere, loop kaalvoet, haar sandale eenkant.

Die olieverfskilderye het ’n effens naïewe aanslag, byna kinderlik. En dis kleurvol. Getuig van liefde vir die lewe. Lena hou van natuurtonele, grasvelde, klein dorpies, maar daar is ook skilderye van Newtown wat die voorstad baie mooier laat lyk as wat dit in werklikheid is. Hoe iets geïnterpreteer word, hang af van deur wie se oë dit gesien word.

Toe gewaar Alicia die skets op die tafel. Jacques wat teen sy fiets leun. Sy moet haarself keer – loop eers kamtig daarby verby, toe draai sy terug en tel dit op.

“Interessant.” Sy probeer haar stem normaal hou.

“Dankie.”

“Hoeveel kos dit?”

“Dis nie te koop nie.”

Alicia sit dit teleurgesteld neer en kyk verder rond. Sy hou inderdaad van Lena se skilderye. Onbewustelik het Lena Aucamp ’n styl wat goed op ’n boek se omslag sal lyk. Die kleure is helder, die kwasstrepe duidelik, soms dik, en die onderwerpe mooi. Veral die treine.

“Ek sien jy hou van treine?”

“O. Dis eintlik Jacques se invloed. Hy,” sy glimlag, “is ’n vriend van my.”

Alicia kyk weer na die skets. Dit is duidelik met liefde en baie emosie geteken.

“Net ’n vriend?” spot sy.

“Ons is saam.”

Lena bloos.

“Ek hou regtig baie van jou werk, Lena.”

Lena neem die skets van Jacques en sit dit onder ander sketse asof sy bang is Alicia loop daarmee weg.

Alicia bestudeer elke skildery noukeurig. Sy sal hiermee kan werk.

Toe oorhandig sy vir Lena haar kaartjie. “Ek is ’n uitgewer. Ons is altyd op soek na nuwe illustreerders vir boekomslae. Sou jy omgee om ’n proeflopie te doen?”

“ ’n Proeflopie?”

Alicia knik kamtig onbetrokke. “Ek stuur ’n hoofstuk of wat van ’n ongepubliseerde roman en ons kyk waarmee jy te voorskyn kom?”

Lena lyk gretig en verbaas. “O, ja. Dankie. Ek sal graag wil.”

Dit was makliker om haar oor te haal as vir Jacques.

“Ek neem aan jy het ’n e-posadres?”

“Op my kaartjie wat jy het.”

“O ja, natuurlik.”

Alicia is nou nog ’n treetjie nader aan Jacques. En toe, kamtig weer neutraal: “Die vriend van jou. Hy lyk na die romantiese tipe.”

Lena glimlag. “En hoe.”

Die manier waarop Lena hom geskets het, getuig van liefde. Van ’n romantiese siening. Natuurlik is Jacques mooi. Maar soos sy hom op daardie skets geteken het, lyk hy eerder na ’n held in ’n romantiese storie. Geïdealiseer. Te goed en te mooi om waar te wees.

“Hoe het julle ontmoet?” vra Alicia terloops.

“Op skool.”

“O. ’n Skoolkys?”

Lena knik.

“Hy lyk na die vriendelike tipe.”

“Jacques is net Jacques. So gemaak en so wonderlik gelaat staan.”

Interessant.

“Wel. Ek hoop ons werk dalk eendag saam.” Sy voeg haastig by: “Ek en jy.”

“Dankie. Mens weet nooit.”

Terug in haar kantoor stuur Alicia vir Lena die eerste drie hoofstukke van ’n nuwe roman elektronies aan met die opdrag: Kyk of jy die gevoel kry en of dit met jou praat. Hoe dink jy moet die omslag lyk? As jy wil, stuur iets? Ek plaas jou onder geen verpligting nie. Ek is maar net ontvanklik vir nuwe style.

Die volgende oggend ontvang sy twee voorstelle vir omslae van Lena. Sy kan dit self eintlik nie glo nie, maar sy hou van albei. Sy skakel haar.

“Kan jy illustrasie twee bietjie aanpas? Maak die kleure helderder. Die boom moet duideliker en groter wees, tipies Afrika, jy weet? Nie so maer nie, maar oorheersend met ’n knoetserige stam. En die son meer pertinent, nie verskuil agter die takke nie. Neem die frons van die karakter se gesig weg. Dit laat haar oud lyk. Onvergenoeg. Sy is eintlik die heldin, nie ’n treurkoekie nie.”

“Graag,” antwoord Lena.

Dit was maklik.

Alicia ontvang die nuwe illustrasie die volgende dag. Sy wag ook onbewustelik dat Jacques haar moet skakel en sê dat hy haar graag wil sien. Dat hy besluit het om wel te publiseer. Maar niks gebeur nie.

Toe Alicia Lena se aangepaste illustrasie aan haar pa voorlê, knik hy. “Mooi aanslag, dink jy nie, ounooi? Natuurlik. Bietjie naïef, maar kleurvol. Aandagtrekker. Sal uitstaan tussen ander omslae.”

’n Week later gee sy Lena opdrag om nog ’n boek se buiteblad te ontwerp. Ook dit word aanvaar, wat Alicia uiteindelik die verskoning gee waarna sy gesoek het.

“Ek eet graag saam met my illustreerders. Hou daarvan om bietjie nader kennis te maak. Wat doen jy Donderdagaand?”

“Niks.”

“Kom eet by my. Dis in Saxonwold. Nommer 13, Alistair Road.”

“Kan ek my vriend saambring?”

Moet net nie te entoesiasties klink nie. Alicia haal ’n slag asem en probeer ongeërg klink. “Natuurlik.”

En so sal sy Jacques Rynhard weer “toevallig” ontmoet.

Woensdagaand slaap sy byna glad nie en Donderdag gaan Alicia vroeg huis toe.

Sy kook vir die eerste keer in weke, maak haar gunstelingresepte, sorg dat die tafel keurig gedek is en haal die eksklusiewe eetstel uit wat haar pa vir haar uit Turkye saamgebring het. Berei ’n keurige slaai met vars bestanddele. Bestee ekstra aandag aan die plek waar sy Jacques gaan laat sit, haal haar duurste kristalglase uit Venesië uit en plaas die servette wat sy in Rusland gekoop het op die kleinbordjies. Sy streel effens daaroor, asof sy aan Jacques raak.

Stiptelik seweuur lui die deurklokkie. Alicia verstel effens aan haar toppie, wat laag oor haar borste sit. Toe stap sy deur toe en maak dit oop.

Lena staan voor, eenvoudig en informeel aangetrek, maar haar hare nou in haar nek vasgebind.

En agter haar, Jacques Rynhard.

Alicia veins verbasing. “Lena en vriend!” Sy glimlag en steek haar hand uit om die bottel wyn by Jacques te neem. Sy raak aan sy hand en vee toevallig vinnig met haar wysvinger oor sy vel. Sy hand is warm.

“Genade. Dis nou toeval.”

Jacques glimlag, en as hy bewus is van haar slenters om hom op haar drumpel te kry, verraai hy niks.

“Juffrou Francke.”

“Ek hoor julle ken mekaar?” sê Lena.

Alicia glimlag. “Ek sien baie skrywers. Hy is maar een van vele wat ek ge-headhunt het. Ons het vinnig in Daleahs ontmoet. Welkom. Kom in. En noem my Alicia.”

Lena kyk rond, duidelik beïndruk deur haar skilderye, die duur meubels en die groot vensters wat afkyk op Saxonwold. Maar dit is asof Jacques deur alles sien – hoegenaamd nie oorweldig deur al die rykdom nie.

Sy wag ook vir die gewone stopsin: “Lekker plekkie wat jy hier het,” maar Jacques kyk net na die uitsig. En sê nie een van die gesprekvuller-sinne wat sy so goed ken nie.

Later gaan sit Jacques op die rusbank, sy bene gemaklik voor hom uitgestrek, met Lena langs hom. Dié slag het sy jeans nie gate in nie, dink sy geamuseerd. Alicia merk hoe Lena haar hand op Jacques se bobeen plaas asof sy hom besit, en Alicia dit wil laat verstaan.

Hy dra ’n oopnekhemp.

Wanneer Jacques of Lena praat, is dit asof hulle eers met mekaar praat en dan met haar. Jacques openbaar ’n besitlikheid teenoor Lena wat Alicia laat besef dié man sal nie sommer in haar kraaltjie beland nie. Hy is ’n uitdaging.

En Lena is duidelik versot op hom.

Hulle praat oor ditjies en datjies, maar Alicia sorg dat sy die gesprek in die rigting van skryfwerk stuur.

“Ek het weer ’n hele klomp nuwe manuskripte ontvang, onder meer van ’n televisieskrywer. Maar hulle kan mos nie eintlik romans skryf nie. Dis net dialoog, dialoog, dialoog en geen substansie nie. Kan nie in die karakters se koppe kom nie. Dis so oppervlakkig, want daar is nou skielik nie ’n kamera wat die emosies wys nie.”

Lena kyk na Jacques. “Hoekom stuur jy nie vir Alicia die eerste vier hoofstukke van daai storie waaraan jy nou skryf nie?”

Jacques skud sy kop. As sy hom net kan beetkry en skud om sin in sy kop te dwing.

“Wel, soos tevore: as Jacques nie wil nie …”

“Maar jy wil. Nie waar nie, Jacques?”

Vir die eerste keer lyk hy ongemaklik. Hy lig sy skouers en Alicia besef nóú is haar kans. Lena is die enigste vrou wat volle toegang tot hom het. Sy moet haar gebruik en haar kaarte mooi speel.

“Ek het al baie nuwe skrywers gehelp om hul eerstelinge te publiseer. Want dan neem ek ’n opsie, mits ek daarvan hou, en begin saam met die skrywer aan sy manuskrip werk. Die kopiereg bly Jacques s’n. Maar as hy dit nie wil doen nie …” Alicia staan op. “Ek maak nog ’n bottel wyn oop. 2001-merlot. Is julle …?” Sy laat die sin in die lug hang en sien duidelik dat Lena alleen met Jacques wil praat. Dit is natuurlik die idee.

Lena knik. “Dankie, Alicia.”

“Ek sal,” bied Jacques aan.

“Nee, toemaar. So hulpeloos is ek darem nie.”

Terwyl sy die bottel wyn in die kombuis oopmaak en kans gee om asem te haal, hoor sy Jacques en Lena praat. Hy klink ongeduldig, maar sy praat paaiend met hom. Gerusstellend. Alicia gee hulle kans om die gesprek te voltooi wat sy hoop in haar guns sal swaai.

Sy stap terug en Jacques staan op. Hy neem die bottel uit haar hand om te skink.

“Dankie, Jacques.”

Sy staan naby hom terwyl hy dit doen, asem hom in, ruik die skoon geur aan hom: asof hy onlangs uit die stort geklim het, maar sonder die verstikkende sterk reuk van naskeermiddel wat so baie mans het.

Hy oorhandig haar glas aan haar en sy sorg dat sy aan sy hand raak, maar hy maak of hy niks merk nie. Hy gee Lena se glas aan haar, soen haar liggies en draai dan om.

Alicia lig haar glas. “Op ’n nuwe begin.”

Iets in Jacques roer. Sy sien dit. Hy kyk stip na haar. “Op ’n nuwe begin.”

Lena staan ook nou op, nestel haar teen Jacques aan. “Op ’n nuwe begin.” Sy kyk na Jacques asof die sin ’n spesiale betekenis vir hulle het.

Alicia speel nou haar troefkaart. “Na alles, Jacques, wat beteken ’n storie as dit nie met ander mense gedeel word nie?”

Hy dink na, glimlag effens, proe aan sy wyn. “Party stories skryf mens net vir jouself.”

“Hy steek dit van ander mense weg,” lag Lena.

“Selfs van jou?” Daar is ’n effense spot in Alicia se stem.

“Selfs van my.” Sy soen Jacques op sy wang.

Alicia wil aan hom raak. Wil daardie ligte nattigheid van sy lippe afsoen.

“Jy onthou dat ek net op ’n tikmasjien werk,” sê Jacques.

Sy is moedswillig. “Op Lena se tikmasjien.”

“Jy het haar vertel?” lag Lena verbaas.

“Jip.”

“My personeel sal dit op ’n rekenaar oortik mits ek daarvan hou. Maar is jy nie bang dat die enkele kopie kan wegraak nie?”

“Ek maak altyd kopieë van sy werk soos hy dit tik,” verduidelik Lena. En terwyl Alicia na haar kyk, besef sy: Lena is self ’n sterk vrou. Sy lyk maar soos ’n plaasmeisie. Om Jacques te behou, moet sy sterk wees, seker van haarself en van hom. Sy laat haar ook nie intimideer nie. Sy lyk net so breekbaar en fyn. Agter daardie fynheid skuil ’n sterk vrou wat weet dat sy die vangs van die dekade by haar het. Sy sal hom nie sommer laat gaan nie.

Dit is hoe Baanbreker by Alicia beland het. Sy het dit na twee interne keurders gestuur, berug vir hul venynige en bitsige kommentaar. Maar albei het met lof na haar toe teruggekom, melding gemaak van sy sensuele, warm styl, sy goed gekonstrueerde sinne (soms bietjie kortaf), sy raak beskrywings, die gebrek aan clichés en mooiskrywery. En sy natuurlike dialoog.

Sy ontbied Jacques na haar kantoor, presies ses maande nadat sy hom in Daleahs ontmoet het.

Toe hy by die Francke-Uitgewery instap, begin die sekretaresses opgewonde onder mekaar gesels. Hy het weer daardie ligte stoppelbaard wat hom ouer en meer volwasse laat lyk. Dit maak ook sy gesig sagter.

Sy kyk met trots na haar nuutste ontdekking, Jacques Rynhard, asof sy die veldtog van ’n nuwe roman goedkeur. Bemarkbaar. Onbedorwe. Gemaklik. Manlik. Talentvol. En baie, baie mooi.

“Ek vra gedurig hoekom,” sê Alicia. “Hoekom jou heldin skielik begin bergklim. Hoekom sy so maklik op die held verlief raak. Hoekom sy so ’n vrees vir die donker het.”

“Sy klim skielik berg omdat sy instinktief reageer wanneer sy verlief raak, soos die toneel in die bad verduidelik. Sy raak op die held verlief omdat hy graag malvalekkers in die veld oor oop vure braai, soos in hoofstuk sewe. Dit sluit aan by haar spontaneïteit. En is ons nie maar almal bang vir die donker nie?”

Alicia is katswink geslaan. Hy is weer eens nie geïntimideer of verskonend of oorentoesiasties om haar kritiek te implementeer, soos haar ander skrywers nie. Hy stel net doodgewone feite. Dit is soos dit is.

Jacques is so gemaak en wonderlik so gelaat staan, soos Lena gesê het.

Na ’n paar geringe veranderings, anders as die besware wat sy vroeër genoem het, word Baanbreker vir publikasie aanvaar.

Maar dit is die drie woorde net na die titelbladsy wat Alicia grief. Sy het dit in ’n stadium oorweeg om dit “per ongeluk” in die slag te laat bly. Maar dan sou sy Jacques van haar vervreem het.

Opgedra aan Lena.

Alicia sorg natuurlik dat Lena die omslag illustreer.

Sy moes die manuskrip laat oortik op ’n rekenaar, soos sy belowe het. Sy kon steeds nie glo dat hy nog op ’n tikmasjien werk nie, maar haar pa se drie sekretaresses het letterlik tougestaan om Baanbreker oor te tik, en het Jacques gereeld gebel met beuselagtige navrae. Hy moes ook soms inkom om iets “van aangesig tot aangesig te verduidelik”.

Hy het eendag in ’n kortbroek en met sy valhelm opgedaag, en die sekretaresses het ure daarna steeds oor sy mooi bene gekwetter.

Toe die manuskrip volledig op die rekenaarsisteem oorgetik is, bring Jacques drie bosse blomme vir die tiksters. Hulle is bloedrooi van verleentheid, maar ook opgewondenheid, veral toe hy hulle om die beurt op die wang dankie soen.

Baanbreker word op ’n Woensdagaand in 2008 in ’n restaurant in Pretoria bekend gestel. En anders as met die meeste skrywers wat hoogstens vyf boeke op sulke geleenthede verkoop, word al dertig kopieë binne ’n japtrap uitverkoop. Toe begin Alicia besef wat sy hier beet het. Die kritici, joernaliste en lede van boek- en skryfklubs wat gewoonlik by hierdie soort byeenkoms is, staan letterlik tou om met hom te praat.

Sy kyk na die gemaklikheid waarmee Jacques met sy lesers omgaan; sy luister na die natuurlike wyse waarop hy sy toespraak lewer, asof hy dit elke dag doen. Na sy innemende en persoonlike manier van praat. En sy merk hoe die mense deur hom aangetrek word en luister na wat hy sê, want hy praat eerlik, sonder opsmuk, sonder onnodige grappies.

En sy stem. Sy kan haar verluister aan sy stem.

Soos die geluksgodin dit wil hê, is Lena nie daar nie, want sy moes na haar pa toe gaan wat glo siek geword het. Maar Lena en Jacques is gedurig op hul selfone met mekaar in verbinding gedurende die bekendstelling.

Dit reën toe hulle uitkom. Alicia kan haarself skop omdat sy so ver van die kompleks geparkeer het. Maar Jacques, gemaklik aangetrek in ’n ligblou gholfhemp en jeans met sy gebruiklike sandale, stap in die reën in. “Jy sal nie smelt nie, Alicia. Kom.”

Teen hierdie tyd het hulle al ’n goeie vriendskapsverhouding. Sy is verbaas dat Lena nie jaloers is dat hulle so baie tyd in mekaar se geselskap deurbring, of dat sy hom vanaand in Newtown gaan oplaai het nie. Maar óf Jacques is baie naïef óf hy is onbewus van Alicia se gevoelens vir hom. Gevoelens wat daardie aand deurskemer.

Alicia wil deur die reën hardloop om so gou moontlik by haar motor te kom, maar Jacques skud sy kop. “Toe ek ’n ruk in die Kaap loseer het, het ons elke dag in die reën gestap. Ek en die ouens van my kommune het elke dag natgereën. Dit word tweede natuur. Geniet dit net.”

Sou Lena en hy ook in die reën loop? Sý gee seker nie om om nat te reën nie. Maar Alicia se duur bloes en romp is nie watervriendelik nie. Tog moet sy kies. Soos ’n natgereënde hoender deur die gietende reën hardloop, of saam met die man loop wat sy die afgelope paar jaar deur sy stories leer liefkry het.

Alicia trek op ’n ingewing haar skoene uit. Die teer voel grof onder haar voete. Sy struikel en Jacques keer dat sy val. Hy sit sy arm om haar nek om haar te stut. Sonder dat sy beheer het daaroor, lê sy met haar kop op sy skouer.

“Wanneer het jy laas so kaalvoet in die reën geloop, Alicia?”

“Eintlik nog nooit nie.”

“Wat?” Hy gaan staan. “Nooit?”

Sy skud haar kop en voel skielik soos ’n bleeksiel wat gevra word of sy nog ’n maagd is. Net die gedagte laat haar effens glimlag.

“Jy lag min,” sê Jacques toe hy dit sien.

“Daar is maar min om oor te lag.”

“Dan leef jy verkeerd. Met jou oë wawyd toe.”

Sy is nou deurnat. Hy ook.

“Dis soos daardie toneel in jou boek,” stuur sy die gesprek in ’n ander rigting.

“O ja,” asof hy nou eers daaraan dink.

Hy het steeds sy arm om haar, maar hy hou haar vas soos hy sy vriende vashou wat hom by tafels in restaurante kom groet. ’n Geesdriftige, warm druk en dan, met sy elmboog om die vriend se nek, loop hulle toonbank toe om iets te gaan bestel terwyl sy by die tafel moet wag.

Sy is selfs jaloers op sy mansvriende.

Jacques is ’n geliefde mens, veral onder sy vriende. ’n Karaktertrek wat hom net nog meer bemarkbaar maak indien sy dit reg aanwend, besef Alicia weer.

Hy hou haar nou weer op daardie manier vas, asof sy ’n man is met wie hy bloot vriende is. Sy lig haar skouers asof sy ongemaklik is. Hy verslap sy greep om haar. Sy arm ontspan. Dit beweeg nou om haar skouers.

Sy maak haar oë toe, wil sê dat sy nie kan onthou wanneer sy ’n wandeling laas so geniet het nie. En wil hom vra om haar stywer vas te hou.

Dit reën nou minder en Jacques kyk op. “Amper verby.”

Dit is nog twee straatblokke na haar motor toe. “Jy oukei?” vra hy in sy sagte stem.

“Ek kry nou bietjie koud.”

Hulle stap by ’n wassery verby. Dit is leeg.

Sy stap op ’n ingewing daar in. Hy volg haar.

Alicia vee die nat hare uit haar gesig en sorg dat sy naby Jacques staan. Haar borste skyn deur haar bloes. Sy sien dit in die vensters weerkaats, en sy sien dat Jacques dit ook opmerk.

Sy trek haar bloes uit, vroetel in haar handsak en haal muntstukke uit. Sy beduie na ’n droër. Hy hou van die idee, sien sy. Hy kyk vinnig na haar bra wat laag oor haar borste span.

Hy maak die tuimeldroër oop en gooi haar bloes in.

“Nou jy, Jacques.”

Weer die verbasing. “Ek hou van my klere as dit nat is.”

“Wel. Ek gaan beslis nie alleen halfkaal hier staan nie.”

’n Skrapse glimlag. Hy raak aan sy hemp asof hy oorweeg of hy dit gaan doen of nie. Toe trek hy dit uit. Jacques gooi sy hemp by die bloes in die tuimeldroër en klap die deur toe. Sy steek haar hand uit om aan sy bors te raak, maar hy beweeg weg.

Sy kyk hoe die kledingstukke om en om tuimel.

Hy gaan sit op ’n wasmasjien, lag skielik en kyk na haar wat bedremmeld en verleë in die vertrek staan.

“Blou. Sjoe.” Hy beduie na haar bra. “Pas by jou uitrusting.”

Alicia kyk na hom. Dink dat sy vir die res van haar lewe by hierdie man wil wees. Dat hy die een storie na die ander vir háár moet skryf. En merk die tatoeëermerk op sy boarm, maar sê niks.

“Ek is besig met ’n nuwe storie,” sê Jacques terwyl hy kyk na die klere wat omtol.

“Het dit al ’n naam?”

“My name kom laaste. Maar in hierdie geval,” hy kyk deur die venster, “onthou ek altyd daai mooi uitsig op die stad uit jou sitkamervenster.”

Sy wag dat hy die naam moet sê.

“Met ’n uitsig op die stad.”

“Jy bedoel daardie aand het vir jou inspirasie gegee?”

Sy skewe glimlaggie verberg weer waaraan hy dink.

“Mooi titel.” Sy kyk na hom waar hy op die wasmasjien sit. Wil tot by hom loop en aan hom raak, maar iets keer haar. Die kyk in sy oë.

Asof hy weet wat sy beplan, gly hy van die wasmasjien af toe die tuimeldroër ’n pienggeluid maak. Hy buk en haal die kledingstukke uit. Sy kyk na sy swemmerslyf en sy heupe, sy natuurlike houding.

Jacques gee haar bloes aan en trek sy hemp aan. Die materiaal is warm om haar lyf.

Sy stap na hom toe terwyl hy sy hemp aantrek en plaas haar arms om hom. Sy wil hom nou soen, maar hy is verstrengel in die hemp.

“Whoa-whoa-whoa,” lag hy. “Jy hoef nie te help nie.” Hy trek die hemp reg en draai dan weg van haar. “Ek dink jy’s in staat om nou op jou eie te loop. Moet ek jou dra soos in die flieks?” Hy stap deur toe. “Of wil jy hier slaap vannag?”

Weet hy wat sy wou doen? Gee hy maar net voor om nie te weet nie? Of is Lena Aucamp se teenwoordigheid werklik so sterk in sy lewe dat hy van geen ander vrou bewus is nie? Hy, wat enigiemand kan kry, is blykbaar absoluut getrou aan die plaasmeisie.

Alicia stap deur toe. Jacques hou dit vir haar oop. Sy stap uit sonder om iets te sê.

Hulle ry die hele ent pad in stilte terug Johannesburg toe. Af en toe sê hy iets, maar sy moedig nie die gesprek aan nie. Voel gefrustreerd en kwaad vir hom.

Sy laai Jacques later by sy woonstel in Newtown af.

Hy steek sy hand uit en skud hare. “Dankie vir die launch.”

“Dankie dat jy saamgekom het.” Kortaf. Saaklik. Sy wil vir hom sê dat sy alles vir hom kan gee wat hy ooit wil hê. Toe raak sy aan sy boarm en skuif die hemp op sodat die tatoeëermerk wys. Sy raak daaraan, maar dit verbreek die oomblik. Hy klim haastig uit.

Skielik lyk Jacques stug, selfs kwaad.

“Jacques.” Alicia probeer glimlag, maar sy is op die oomblik te vies om een op te tower. “Ek en jy is eintlik baie dieselfde. Ek ken jou. Ek verstaan jou. En al wil jy dit nie erken nie, onder my lewer jy jou beste werk.”

Jacques wil haar in die rede val, maar sy keer hom. “Hou maar net in gedagte: hoe gelukkiger ’n skrywer soos jy is, hoe middelmatiger die werk wat hy lewer. Want jy is in ’n gemaksone en dit is die hel vir jou, Jacques. Uitgewers hou dalk daarvan, want jy maak vir hulle geld, jou publiek slurp dit op soos ’n slush puppy, maar jy weet en ek weet wat jy nou doen is nie jou beste werk nie, want jy is te gelukkig.”

Sy sien dat die woorde inslag vind. Selfs bekend klink. Dat hy skerp na haar kyk en dan omdraai omdat hy nie meer die waarheid wil hoor nie.

“Soms moet mens jou huis afbrand om die maan te sien, Jacques.”

Hy draai om, kyk onbegrypend na haar.

“Die veilige Lena Aucamp is nie goed vir ’n skrywer soos jy nie. Sy maak jou blind vir wat die lewe jou kan bied. Vir wie jy kan wees.”

“Ek het haar lief.”

“Maar as sy by jou is, is jou werk middelmatig. Nes sy is. Nag, Jacques.”

Toe trek sy vinnig weg.

SONDAG 6 APRIL 2014, 10:00

Die kelner sit die rekening tussen Alicia en Carina neer, wat Alicia ’n oomblik lank in haar vertelling oor Jacques stuit.

“Wat het jy bedoel met ’n huis afbrand, Alicia?”

“Figure dit uit, joernalis. Jy is mos slim.”

Alicia sit ’n honderdrandnoot neer en verlaat die tafel.

“Alicia!” keer Carina.

“Ek weet nie waar hy is nie. Ek weet regtig nie. As ek geweet het, was hy nou in my huis. Maar al wat ek weet, is hy het moeg geraak vir geluk. Ek weet dit klink soos iets uit ’n hygie, maar dis waar. Behaaglikheid kan so dêm vervelig wees.” Toe is sy weg.

Carina se kop werk oortyd. Alicia weet iets. Iets belangriks wat lig op sy verdwyning kan werp, maar sy wil dit nie met haar deel nie.

Huis afbrand? Sy skryf dit in haar notaboek neer. Maar verstaan glad nie wat Alicia daarmee bedoel nie.

Ballade vir ’n enkeling

Подняться наверх