Читать книгу Ballade vir ’n enkeling - Leon van Nierop - Страница 5

2

Оглавление

SATERDAG 5 APRIL 2014, 16:15

Ek is nou so bedruk, ek begin sommer ’n affair op Facebook.

Carina Human se vinger soek oor die strokiesprent. Sy betrap haar dat sy altyd eerste hierheen blaai noudat die Agata-strokie ook in die dagblad verskyn. Agata is ’n Afrikaanse strokiesheldin met miljuisende aanhangers – om haar beste vriendin, Mysi, se uitdrukking te gebruik. Dit skyn ’n teenreaksie te wees op die stroperige Love is-kreatuurtjies wat koerante vir soveel jare ontsier het. Nou, hiér, verstaan Carina die woeste Agata met ’n nugterheid wat haar vir ’n oomblik hartseer maak.

Die meisietjie met haar breë heupe en boerbroodboude is Carina se gunsteling naas Calvin & Hobbes. Sy hou opnuut van die skeermesbek-karikatuurtjie met die roekelose boskasie en eier-in-die-pan-oë wat vele wyshede kwytraak. Haar hare, wat langs haar kop met twee haarnaalde vasgesteek is, laat Carina aan Saartjie Baumann dink – die tienerboeke wat sy as kind so verslind het. En nou lig Agata haar uit haar bedruktheid.

Liefde is as jy ’n vuurhoutjie naby sy asem trek en jy slaan nie aan die brand nie, basuin ’n ander Agata-strokie teen haar kennisgewingbord dit uit, een wat Mysi Moolman per e-pos aan die hele kantoor gestuur het.

En ’n ander een: Jy weet hy is jou sielsgenoot as jy op sy mat mag naar word. En hier sit Carina in haar leë slaapkamer, maar sy wil nie op haar mat naar word nie. Nie nou al nie. En sy besluit onomwonde: Daar is niks so eensaam soos ’n kas wat ’n vrou met haar geliefde gedeel het wat skielik leeg is nie – die openinge waar eers klere gehang het so prominent soos gate wat ’n mot in ’n weeskind se trui gevreet het.

Kelvin het alles gevat, maar het darem die hangers gelos asook twee paar deurgetrapte skoene wat hy altyd in die tuin gebruik het. Sy verstaan hoe daardie sloffies moet voel: voos gebruik.

Die CD-rak lyk of dit geplunder is. En sy misdaadromans, waarvan sy hom die helfte present gegee het omdat hy te arm was om dit self aan te skaf, is weg. Hy het selfs van die yskasmagnete gevat wat hulle saam gekoop het.

En tog, asof moedswillig, het Kelvin McDonald enkeles agtergelaat wat haar altyd aan hom sal herinner, nes die broodkrummeltjies wat Hansie en Grietjie in die bos gelaat het. ’n Foto van hulle saam op Times Square in New York wat as yskasmagneet verewig is. Kelvin in ’n hasie-kostuum op ’n partytjie. Hulle twee in Kroasië langs ’n ruïne.

Ja-nee. Daar staan sy met ’n glimlag en verliefde oë vol verwagting terwyl Kelvin met sy arms oor haar leun, kompleet met sy halfmasglimlaggie maar koue oë wat nie saamlag nie asof hy ’n ander agenda het. Een waarvan hy bewus was, maar nie toe met haar wou deel nie.

Jy is my tussenin-meisie tot ek die regte een gekry het. Haar eie woorde in die laaste kaartjie wat sy vir hom gegee het. Dalk moet sy dit vir die skepper van Agata stuur, as sy net geweet het wie dit was. Daar verskyn nooit ’n naam by die strokie nie.

Ware liefde beteken jy vind selfs sy opgefrommelde onderbroeke sexy.

Snaaks dat sy nou aan die Agata-karaktertjie dink terwyl sy haar wonde lek. Agt jaar van haar lewe moerland toe, om haar ma se uitdrukking te gebruik. Agt wonderlike, fantastiese jare waarin sy ’n man vanuit haar siel liefgekry het ten spyte van sy tekortkominge, ten spyte van vriende se waarskuwings, ten spyte van die feit dat hy meer aandag aan hul swembad gegee het as aan haar.

Ook ten spyte van die feit dat hy onlangs naweke saam met “vriende” deurgebring het “van wie jy in elk geval nie sou hou nie, Carina”.

En nou is hy weg.

Carina stap uit op die patio met die blou-en-groen stoele wat hulle al giggelend ses maande gelede by die Outdoor Warehouse gekoop het. Sy sien die blare op die swembad dryf. Noudat hy dit nie meer elke dag skoonmaak nie, gaan die Kreepy Krauly binnekort verstop, want dit is herfs. Die bome wat hulle met soveel entoesiasme geplant het toe hulle hier ingetrek het, strooi hul nikotienkleurige blare asof hulle saam met Carina in rou is.

“Your electricity usage is too high. Please switch off all non-essential appliances that you do not need. The geyser, pool pump and all non-essential appliances.” Hoe het sy en Kelvin nie die dreigende stem op die DStv-aankondiging nageboots nie, dink sy terwyl sy die Kreepy Krauly afskakel. Dan lag hulle en sy koester Kelvin se bossiekop teen haar bors en hy prewel die een of ander aanhaling wat hy daardie dag gehoor het, want hulle was aanhaling-verslaafdes. Die hele huis was vol daarvan.

In a completely sane word, madness is the only freedom! In groot, swart letters op die kennisgewingbord in hul studeerkamer – daar waar vriende sommer lawwe sêgoed of aanhalings neergepen het. En Kelvin kort-kort vir haar ’n boodskappie of ’n Agata-strokie gelos het.

Kelvin McDonald het haar nie verlaat na ’n vulkaniese uitbarsting of ’n traumatiese stroom verwyte nie. Hy het haar in die pad gesteek met ’n aanhaling: Life is not a problem to be solved, but a mystery to be lived.

Die bliksem. Kon hy nie ten minste ’n dankiesê-afskeid-treurmare geskryf het en sy naam onderaan geteken het nie!

Gaan vlieg, Kelvin.

Asof dit nie erg genoeg was nie, het hy die poging tot ’n briefie onder een van die oorblywende magnete op die yskas vasgeklamp. Háár yskas waaraan sy tot twee jaar gelede nog afbetaal het!

Ja, Kelvin, dink sy, ek is maar net die hand wat al jou deure vir jou oopgemaak het. En nou voertsek jy my.

Nou fladder Kelvin-die-selfsugtige bloot van die een veilige nessie na die volgende. Na ’n joernalissie toe wat hy op ’n partytjie ontmoet het. Dit is waar alles begin het – die kluitklap op die kis, toe Carina hom aan Erna Pretorius voorgestel het. Die fietse Erna wat deurgaans vir Kelvin vertel het hoe aantreklik hy is, hoe hy sy tyd mors as lektor by die universiteit, hoe lekker hulle twee saam sou kerjakker, hoe hulle ’n saketransaksie moes aangaan, hoe verkeerd sy, Carina, vir hom is.

En hier sit sy. Vier en dertig jaar oud met net die groot huis waarin Kelvin steeds in elke vertrek teenwoordig is, dit maak nie saak hoe hard sy probeer om sy tekens uit te wis nie.

Skielik is sy terug in die kamer. Elmien Malan se kamer, die swemmer wat vier maande gelede deur haar kêrel vermoor is. ’n Maand voor die moord het Carina die laaste artikel oor Elmien geskryf. Sy is toe amper beroof nadat sy by haar hek stilgehou het. Sy is aangerand en telkens met ’n wapen deur haar gesig geslaan en Carina moes daaroor verslag doen.

Sy het twee jaar lank harde misdaadstories gedoen. Hierdie keer het Frans Oberholzer, haar voormalige redakteur by Blitsnuus, gevoel sý moet die storie doen omdat sy al vantevore onderhoude met Elmien gevoer het. Drieuur die oggend kry sy toe die oproep van die koerant se kontakpersoon in die polisie.

“Carina. Ons het twee uur gelede op Elmien Malan se lyk afgekom in haar huis in Bryanston. Sy is deur haar kêrel vermoor. Ons het hom pas in Fourways in hegtenis geneem. Hy het alles erken.”

Elmien se kêrel, die sliertige Edwin van wie niemand gehou het nie en met wie Carina eens ook ’n onderhoud moes voer – nou het hý Suid-Afrika se mees belowende swemmer vermoor.

Toe Carina weer voor Elmien se huis stilhou, het sy reeds geweet dit gaan haar laaste storie wees. Na twee jaar kon sy nie meer met ’n uitdrukkinglose gesig verslag doen oor die misdaad en geweld wat die land daagliks besmet nie. Nog minder kon sy die galgehumor-grappies verwerk wanneer sy daar aankom, soos: “Kon die perd nie na ontbyt selfdood gepleeg het nie? Wie doen dit nou as ons almal nog in die bed is?”

Sy het met die gang afgestap na waar die polisiefotograaf pas uit die kamer gekom het. Sy onthou die gedempte stemme, die geskokte reaksies om haar, die pad wat die beamptes vir haar gemaak het waar sy mag geloop het.

Elmien het op haar rug gelê. Bebloed, verrinneweer, asof sy deur mensehande oopgeskeur is. Die bloed en derms oopgesprei vir almal om te sien.

Toe hardloop Carina uit, word naar in die gang – die eerste keer dat dit gebeur – klim in haar motor en jaag terug na Blitsnuus se kantoor toe.

Haar kollegas het haar vreemd aangekyk toe sy met die gang af loop na Frans Oberholzer se kantoor toe. Hy was besig om twee joernaliste te roskam wat nie ordentlik navorsing gedoen het voordat hulle ’n storie geskryf het nie. Maar een blik na Carina Human en hulle het woordeloos Frans se deur toegemaak. Sy kon sien hy weet: Sy het die einde van ’n pad bereik.

Sy het haar linkerskoen uitgetrek en dit op sy tafel geplaas. “Ek gaan hierdie skoen aan die misdaadmuseum skenk.”

Frans, wat intussen nog twee SMS’e gelees het, het onbegrypend na haar gekyk.

“Weet jy deur hoeveel bloed en derms dit al geloop het? As die polisie dit ooit in die hande kry en ondersoek, sal hulle dink ek is ’n reeksmoordenaar.” Frans wou nog iets sê, maar sy het haar hand opgehou. “Ek is klaar met harde misdaadstories, baas. Ek bedank.”

Frans het haar probeer oorreed om weer daaroor na te dink, maar sy was ferm. “Ek gaan van nou af sagter stories by ’n veilige tydskrif doen.”

Soos gewoonlik was Frans se siniese reaksie: “Jy bedoel opgedoende dollies wat verstaan hoekom Miley Cyrus famous is en wat steeds dink Justin Bieber is ’n alien in drag?”

“Enigiets, net om weg te kom hiervan.”

Sy het haar skoen van Frans se lessenaar af opgetel. Daar was ’n kolletjie taai bloed waar sy dit neergesit het. Nog woorde, nog komplimente van Frans, maar sy het nie verder geluister nie.

“Carina. As jy ooit sou besluit om terug te kom …”

Toe sy die deur toemaak, kon sy sien hoe Frans na sy lessenaar staar. Die lessenaar waar soveel storiebloed reeds gevloei het. Maar dié slag was dit die ware Jakob.

Dit was die einde van haar loopbaan as misdaadverslaggewer. Sy het aansoek gedoen om werk by die glanstydskrif Montage, en na ’n kort onderhoud met die redakteur, Gavin Greeff, is sy aangestel.

En nou doen sy artikels oor wat sepiesterre van mans met borshare dink, of skryf sy tranerige stories oor verlore ma’s wat bid vir hul kinders wat nou by Liewe Jesus is.

“Liefde is as hy sy Wi-Fi hotspot-sitplek aan jou afstaan,” sê Carina hardop. Dít moet sy aan Agata stuur! Sy giggel. Darem ’n onverwagse skeutjie humor in haar lewe. Dus is sy emosioneel darem nog nie op die put se bodem nie.

Al is dit laat Saterdagmiddag, lig Carina die hoorbuis van die huistelefoon en skakel ’n huisagent. Sy gaan die huis in die mark sit sonder ’n idee waarheen sy gaan of wat sy met al haar meubels gaan maak. Alles hier is iets van Kelvin, ís Kelvin, herinner haar aan Kelvin. En sy besef nou sy het haarself na vier weke jammer genoeg gekry. Sy moet hier uitkom! Daarom dat sy besluit het om Montage se fotograaf, Mysi, wel na vanaand se prysoorhandiging te vergesel, al wil sy elke snesie wat sy stukkend gehuil het raam.

Die een of ander skrywer kry ’n prys, en die ongure Gavin het gevra dat hulle foto’s moet neem van bekendes wat daar saamkoek, en ’n paragraaf of twee moet skryf oor die geleentheid. “Onthou, dis nie die bliksem se boek wat reklame moet kry nie, maar wie daar was!” in sy gewone hiëna-stemtoon. “En kyk sommer wie slaap by wie en wie kruip gat by wie.”

Montage staan bladsye af aan foto’s van glimlaggende geesdriftiges by premières en boekbekendstellings. En indien Gavin dit goedkeur, word die boek of film se naam darem genoem by die geleentheid waar die foto’s geneem is. Indirekte reklame.

Carina tap ’n bad vol water en week daarin tot dit skemer begin raak. Hulle het gedurig saam gebad. Nou is dit ook daarmee heen.

Die koudheid van die water laat haar na ’n halfuur uit haar gedagtes opskrik. Sy moet nog besluit wat sy gaan aantrek, maar sy het skaars die energie om uit die bad orent te kom.

Sy droog af en trek soos ’n zombie haar swart nommertjie aan.

Haar voordeurklokkie lui. Sy dink momenteel dat dit Kelvin kan wees wat besef het hy het ’n fout gemaak. Kelvin, wat na vier weke sy laaste CD’s kom haal het. Kelvin wat tog wil praat. Kelvin wat altyd net Calvin Kleins gedra het omdat dit soos sy naam klink. (Verdomde egoïs!) Hoeveel het daardie duur onderbroeke haar nie gekos nie. Kon sy ma nie vir hom ’n goedkoper naam gegee het nie?

Maar nee, dit sal nie hy wees by die voordeur nie. Daarvoor is hy te lafhartig. Hy sal haar nie wil sien of met haar wil praat nie, want hy vermy konfrontasies omdat dit hom buite sy gemaksone neem. En hy is boonop te trots.

Weer die voordeurklokkie. Sy besef nou dis Mysi Moolman wat haar kom oplaai het.

Carina drentel na die deur toe. En selfs voordat sy dit oopmaak, weet sy dat Mysi haar immer teenwoordige kamera om haar nek gaan hê.

“Hierdie rok verdien my, dink jy nie ook so nie?” Mysi draai in die rondte en Carina vrees dat die noupassende rok enige oomblik by haar heupe gaan oopskeur.

“As jy ’n smartvraat wil wees, ek’s nie op daai memo ge-cc nie. Hierso.”

Mysi haal ’n boek uit haar handsak en oorhandig dit aan Carina. Die versamelde strokies van Agata. “Pas verskyn, Exclusive Books Hyde Park. Dis beter as daggakoekies op ’n eerstejaarspaartie.”

Carina neem die boek. Liefde is as jy sy broodkorsies vir hom afsny! staan in die borrel bokant Agata se kop op die voorblad. Dit laat Carina aan die huil raak. Lank en innig soos ’n wolf wat vir die maan tjank.

“Skoon whiskey of Prozac?” vra Mysi terwyl sy by haar verbyloop.

“Ek hét altyd sy flippen korsies afgesny!” sê Carina.

“Kom ek haal jou boeie af, girlfriend,” sê Mysi. “Gee jou oor. Toe. My naam is Mysi, nie Misery nie. En dis net misery that loves company.”

Dit is al aanmoediging wat Carina nodig het na een van die aakligste dae in haar lewe. Sy gaan sit op die vloer en huil weer. En sy gee nie om dat haar grimering smeer nie. Sy huil met oorgawe, sommer vir al die trane wat sy dalk nog in die toekoms gaan stort.

Om die situasie te ontlont, sê Mysi: “Luister, pel. Ek weet e-tol is ’n disaster. Maar jy hoef nie jou grimering daarvoor te konfoes nie.”

Sy moet noodgedwonge lag. “Nou moet ek ’n nuwe gesig gaan opsit!”

“Ek hoef nie eers ’n nuwe een op te sit nie, niemand sal die verskil agterkom nie!” lag Mysi.

Hulle loop saam na Carina se slaapkamer toe terwyl Mysi babbel oor Liam Hemsworth se jongste fliek en die nuwe joernalis met die stewige boude wat by Montage begin het en die wisselkoers wat verhoed dat sy ’n ryk Amerikaner kan gaan soek.

Terwyl Carina haar grimering opknap, kreun sy: “Ja. Inderdaad. Kyk net na hierdie gesig! Ek is ver verby my sell-by date.”

“Dan microwave ons jou vinnig, want vanaand is een van daardie la-di-da do’s waar al die eye candy oopketel voor my kamera is! Iewers gaan ’n prinsie uitpop! Of dalk iets wat aan die prinsie behoort!”

“Ek het nie vanaand lus vir daai venyniges nie.”

“Mooi titel vir ’n boek. Die venyniges!” giggel Mysi.

“Of wat van: Die rugstekers. Dit sal die bedryf goed opsom!”

Hulle stap voordeur toe.

“Wat het Daniël vir die leeus gesê toe hy in die leeukuil ingewals het?” vra Mysi terwyl sy die voordeur oopmaak.

“Ek weet nie, Mysi. Wat hét Daniël vir die leeus gesê toe hy in die leeukuil ingewals het?”

“‘Kom hier, kietsie-katte. Ek hou my vriende naby, maar my vyande nader!’ En ons hét so baie vyande. Kom ons gaan drink van hulle gif! Dit het ten minste skop in!”

Ballade vir ’n enkeling

Подняться наверх