Читать книгу Ballade vir ’n enkeling - Leon van Nierop - Страница 9

6

Оглавление

APRIL 1993

Jan-Paul voel die lus in hom opstyg soos dit net met ’n dertienjarige skoolseun kan gebeur. Karlientjie sit op die stoepmuurtjie gedurende pouse en eet haar toebroodjie. Hy het nooit gedink ’n meisie kan so mooi wees wanneer sy ’n kaastoebroodjie eet nie, maar Karlientjie is. Hy probeer al sedert hy ’n week gelede van Pietersburg Afrikaanse Hoër na Kleinbegin Hoër geskuif het om genoeg moed bymekaar te skraap om met haar te praat.

Sy pa het skielik besluit dat hy genoeg van groot dorpe gehad het. Dat hy sy argitekbesigheid na Kleinbegin wil skuif, want hy wil rustig en ongesteurd werk. Een keer per week ry Jan-Paul Otto senior Pietersburg toe, of selfs Johannesburg en Pretoria, maar oor die algemeen kom kliënte hom hiér sien. “Ons wil jou op die platteland grootmaak waar jy kan leer om nog ’n seun te wees,” het sy ma destyds gesê, “en die regte tyd is aan die begin van hoërskool.”

Dit is hoe hy op Kleinbegin beland het. En Jan-Paul het sy ouers nog nooit so gelukkig gesien nie. Hy het altyd die indruk gekry dat daar fout is tussen hulle, maar vandat hulle getrek het, het dinge verbeter.

Hy het ook gehoor sy ma sê wanneer hulle eendag genoeg geld gespaar het, moet hulle stad toe trek, want dit is waar sy eintlik wil bly. Jan-Paul het maar altyd aangeneem sy bedoel Johannesburg.

Terwyl Jan-Paul na Karlientjie kyk, wonder hy of sy pa en daardie rooikopvrou op Pietersburg nie dalk iets aangehad het nie. Maar dan kyk Karlientjie op.

Jan-Paul het sy ma gevra om vandag ’n ekstra spesiale toebroodjie te maak met gisteraand se lekker vulsel op, sodat hy dit vir Karlientjie kan aanbied. Dit is sy strategie. Sy toebroodjie in ruil vir haar vriendskap.

Hy maak sy kosblik oop en wil net na haar toe gaan, toe ’n ander seun nader loop. Hy is die slimste ou in die klas, die ou van wie al die meisies hou. En hy het baie vriende. Almal hou van hom. Sy naam is Jacques Rynhard en hy bly in ’n spoorweghuisie waar sy kwaai ma en treindrywer-pa woon. Hulle is arm, maar mens sal dit nie sê as jy sien hoe Jacques sy lewe geniet nie. Dit lyk nie of iets hom ooit kan pla of omkrap nie.

Jacques stap tot by Karlientjie. “Is dié plek bespreek?” Hy beduie na die oop plek langs haar.

Karlientjie bloos en skud haar kop.

“Gee jy om?”

Jan-Paul gaan Jacques Rynhard vandag bliksem. Hy weet dit. Hy voel dit kom.

Karlientjie glimlag en skud haar kop. “Nee. Jy mag maar sit.”

Jacques gaan sit langs haar – net naby genoeg vir hom om sy hand uit te steek en aan haar te raak. Karlientjie eet haar toebroodjie in stilte. Jacques bring selde toebroodjies skool toe, hoor hy van die ander seuns. Daar is gerugte dat sy ma nie toebroodjies wil maak nie. En dat, indien hy wel kos skool toe bring, die tannie van die bakkery, tannie Trudie Linde, ook bekend as Chivas, dit maak.

“Ek is Jacques.”

“Ek weet,” glimlag sy skaam. “Al die meisies weet wie jy is.”

Jacques krap deur sy hare. “O. Oukei.”

“Ek is Karlientjie.”

“Sjoe. Mooi naam.”

“Was my ouma s’n gewees,” sê sy en bloos.

“Dan hou ek sommer van jou ouma ook.”

Jan-Paul voel of hy hierdie verwaande vent aan sy kuif kan gryp en moerland toe kan moker.

“Sy soen my altyd met sulke stywe lippe,” lag Karlientjie. “O, jig!”

Jacques steek weer sy hand uit.

“Nou kan ons offisieel kennis maak!” Jan-Paul kan sien hoe daardie belangrike woord Karlientjie beïndruk. “Hallo, Karlientjie.”

Karlientjie hou sy hand net ’n bietjie te lank vas en Jan-Paul kan sien dat sy vinnig na Jacques se fris bene kyk. Sy byt sommer ekstra diep in haar toebroodjie. Wil praat, maar vind duidelik nie die woorde nie. En wanneer sy sluk, sien Jan-Paul dat sy amper verstik van die groot hap wat sy gevat het.

Jan-Paul maak gereed om tussenbeide te tree, maar word verhoed.

“Juffrou Fick se klas was maar simpel vandag,” sê Jacques terwyl hy oor sy maag vryf. “Sy’s nie ’n wiskunde-onnie se dinges nie.”

Dit laat Karlientjie vlamvat.

“En hoe!” Sy neem nog ’n hap en praat dan met ’n vol mond. “Ek het nul vir my toets gekry! Ek het niks verstaan nie!”

“Ag, man. Ou Fick verstaan haarself nie eers nie!” troos Jacques.

“Maar …” ’n Dramatiese pouse, soos die karakters altyd maak in die radiostories waarna Jan-Paul se ouma luister. “… vandag het jý al die somme reg gehad.” Sy vee ’n rooi krul uit haar gesig. “Ek weet nie hoe jy dit regkry nie.”

“Ag, elementêr, Watson.” Jan-Paul kan sien dat hierdie grappie by Karlientjie verbygaan. “As jy wil, kan ek jou help.”

“Oe, ja, seblief. Enige tyd.” Karlientjie skuif nader en draai na hom toe. Sjoe, sy is mooi. “Hoekom is x gelyk aan y kwadraat as p gelyk is aan q? Dit maak nie sin nie!”

Jacques se antwoord kom gladweg: “Want q het ’n identiteitskrisis en x kan nie sy mind opmaak nie.”

Sy kyk verras na Jacques en bars uit van die lag. Weer Jacques se been teen hare. Dit is vir Jan-Paul genoeg. Hy storm vorentoe en pluk Jacques van die muurtjie af.

Jan-Paul begin Jacques te slaan. Maar anders as wat hy verwag het, verdedig Jacques hom. Hy spring op, duik vir die houe en pen Jan-Paul toe teen die grasperk vas. Die ander kinders storm nader en drom om hulle saam. “Fight! Fight!” skreeu almal.

Jan-Paul slaag daarin om onder Jacques uit te kom. Hy ruk los en slaan Jacques onderstebo. Maar weer kry Jacques maklik die oorhand en pen hom vas. Waar ander seuns met wie Jan-Paul gereeld gevegte begin het aggressief en gewelddadig raak, skud Jacques net sy kop. “Hei, pella. Tjil.” Hy koes weer. “Dis nie die moeite werd nie.”

Jacques kan hom nou genadeloos slaan as hy wil, hy weet. Hy kan sy gesig papslaan as hy wil. Maar hy doen niks.

“Is jy nou oukei?” vra Jacques, sy oë kalm. “Ek wil nie baklei nie.”

Jan-Paul is nog steeds die hel in. Jacques steek sy hand uit soos iemand wat wil vrede maak. Of vriende maak. Jacques kyk na Karlientjie wat nou oor haar skouer kyk, en Jacques knipoog vir Jan-Paul asof hy wil verduidelik dat hy dink Karlientjie is koel.

Jan-Paul vee sy regterhand aan sy broek af, sy kneukels nerf-af geslaan, en wil Jacques se aanbod aanvaar, toe is daar harde voetstappe. Die kinders maak pad oop.

Oomblikke later staan ’n onderwyser tussen hulle. “Julle twee mannetjies kom nou saam met my!” Meneer Oosthuizen kry vir sowel Jacques as Jan-Paul aan hulle nekvelle beet en stuur hulle vooruit na meneer Steenkamp, die gevreesde skoolhoof, se kantoor toe. Jacques ruk egter los.

“Ek kan self loop, dankie, meneer.”

“Jou verdomde arrogante bliksem!” skreeu die onderwyser. “Maar wat verwag mens dan ook anders van ’n spoorwegkind?!”

Jacques krap die hare reg wat Oosthuizen deurmekaargedruk het en kyk vinnig oor sy skouer na die onderwyser. Selfs Jan-Paul voel dat Jacques nou bietjie te ver gegaan het, want daar is veragting in sy oë teenoor die boelie-onderwyser. Hy moes tog gesien het dat hulle besig was om vrede te maak.

Hy stoot die twee seuns met die gang af tot by meneer Steenkamp se kantoor. Die sekretaresse kyk met groot oë op en beduie dat hulle kan ingaan. Sy kyk vinnig na Jacques en dit is duidelik dat sy van hom hou. Sy krul haar onderlip op ’n manier wat “o hel!” beduie en Jacques glimlag effens.

Dan het Jacques selfs die sekretaresses hier in die kantoor in sy sak gesteek!

Oosthuizen klop hard aan die deur. Dit kraak wanneer hy dit oopmaak.

“Hierdie twee belhamels het baklei, meneer. Maar dit is hierdie agteraf klein heethoof wat gedurig terugpraat! Rynhard van die spoorweghuisies, wat alles begin het, meneer!”

Steenkamp knik. “Dankie, meneer Oosthuizen. Ek sal met hulle gal werk.”

Oosthuizen verlaat die kantoor en gee vir Jacques ’n vuil kyk. Jacques knik net vir die onderwyser met ’n effense glimlaggie asof hy verstaan hoekom die onderwyser dit doen, wat Oosthuizen nog meer ontsenu.

Steenkamp, die skoolhoof, kyk lank na Jacques asof Jan-Paul nie bestaan nie.

Hier kom dit … Steenkamp is berug vir sy preke voor hy foeter. “Kyk hoe lyk dit in die strate. Die vyand neem oor. Dis net plakkate en marse en opstande waar jy kyk. En nou julle twee ook.” Hy kyk om die beurt na Jacques en Jan-Paul. “Wie het hierdie bakleiery begin?”

“Ek, meneer,” sê Jacques dadelik. “Jan-Paul het niks hiermee te doen nie.”

“Is dit so, Jan-Paul?” vra meneer Steenkamp en tel sy dik rottang op.

Jan-Paul wou vir Jacques opkom, maar kyk dan na Steenkamp se gevreesde rottang wat al voos geslaan is, veral onder aan die punte waar dit begin uitrafel. Maar in die middel is dit spierwit en glad. Dik.

Dit is die eerste ding wat Jan-Paul gehoor het toe hy onlangs in Kleinbegin Hoër aangekom het: hoe streng en ongenaakbaar Steenkamp is, hoe hard hy slaan, en dat selfs die matrieks nie uit sy kantoor kom sonder om te huil of te soebat nadat hulle slae gekry het nie. Hy weet glo presies hoe om te slaan dat jou vel opswel daarvan. Selfs bloei.

En dan die wrede glimlag waarmee hy dit doen. Die genadelose terugstamp van die seuns se koppe op sy tafel as hulle orent vlieg na die eerste hou. Sy harde stem bokant die soebatte. “Buk, boetman, buk! Jy wou mos!”

Jan-Paul se mond is nou te droog om te antwoord. En hy is te bang. Hy is ’n nuweling hier en as die storie by sy pa uitkom dat hy pak gekry het, kry hy weer ’n loesing by die huis. Jan-Paul Otto senior het hom gewaarsku om nie hier moeilikheid te maak soos in die laerskool waar Jan-Paul dikwels in gevegte betrokke geraak het, hoofsaaklik omdat hy verveeld was en nie ’n maat kon kry van wie hy hou nie.

“Jy het pas in hierdie skool aangekom, Otto. Ek wil nie hê my skool moet ly onder die barbaarse optrede van spories nie.”

Jan-Paul wil vir Jacques opkom, maar Steenkamp is nou soos ’n stoomtrein wat bult-af loop. “Jou pa sal nie daarvan hou as hy moet weet dié klein blikskater het jou aangerand nie.” Toe weet Jan-Paul. Sy pa gaan finansiële bydraes maak tot die skool, nes tot die ander waar hy al was. Hy koop gewoonlik mense se vriendskap en gewilligheid.

Steenkamp neem die rottang en buig dit. Hy swiep dit ’n paar keer deur die lug en net daardie klank laat Jan-Paul al seerkry. “Ek vra vir die laaste keer. Wie het die geveg begin?”

“Ek het, meneer,” sê Jacques. “Jan-Paul is onskuldig.”

’n Vreemde lig kom in Steenkamp se oë. Hy gaan staan voor Jacques en buig die rottang enkele sentimeters van sy gesig af. “H’m.”

“Dit was my skuld, meneer.”

Jan-Paul weet hy moet praat. Dalk sal die skoolhoof hulle dan laat gaan. Nie sy gevreesde rottang om- en ombuig voor hom nie.

“Buk.”

Jacques knik en buk. Hy haal ’n slag diep asem asof hy hom voorberei want hy ken Steenkamp se reputasie dat sy rottang jou vel elke keer stukkend sny. Daar is ’n gedetermineerde trek om sy mond. Steenkamp lig Jacques se skoolbaadjie met sy rottang, maar dit val terug. Hy lig die skoolbaadjie nou met sy hande en raak aan Jacques se boude. Dit laat Jacques verbaas omkyk.

“Kyk voor jou!”

Jacques kry ’n grimmige trek om sy mond en kyk dan voor hom.

Nou mik-mik Steenkamp met die rottang na sy boude. Jan-Paul wil praat. Hy wil weer erken dit is eintlik hý, maar hy het nie die moed nie.

Hy kyk na Steenkamp se gesig wat opnuut in ’n grynslag vertrek. En Jan-Paul dink hy het nog nooit so ’n lelike man gesien nie, of iemand vir wie hy so bang is nie. Jacques gaan seerkry.

Toe val die eerste rottanghou met soveel geweld dat Jacques eintlik steier daarvan. Hy raak bleek. Dit klink soos ’n geweerskoot en Jan-Paul dink dat Jacques gaan bloei hiervan.

“Staan stil, Rynhard!”

“Goed, meneer.” Sy stem is donker, maar selfversekerd, soos iemand wat gewoond is daaraan om gestraf te word.

Jan-Paul besef dat dit eintlik hý is wat nou daar moes gestaan het.

“Hou vas aan die tafel!”

“Ek is oukei, meneer, want ek weet nou wat kom.”

Toe slaan Steenkamp ’n tweede keer, nog harder as die eerste keer. Maar dié keer staan Jacques stil. Hy staar net stip voor hom uit en knip slegs sy oë as die gewelddadige hou sy vel sny.

Steenkamp grynslag weer asof hy lekker kry, merk Jan-Paul. Hy buig-buig die rottang opnuut asof hy die sterkte toets en lig Jacques se baadjie dié slag met sy hand. Hy mik-mik na sy boude.

“Jy het ’n paar sterk boude, lyk dit my,” sê Steenkamp, en dit lyk of hy ’n vreemde soort respek vir Jacques kry.

“Kom van my pa se kant af, meneer.”

“En dan is jy nog bekkig ook.”

“Ek sê maar wat ek dink, meneer.”

Dit veroorsaak dat die skoolhoof hom ’n derde brutale hou gee wat deur die vertrek weergalm. Selfs die sekretaresses langsaan hou op met tik. Jan-Paul se hande maak vuiste van vrees. Sy kniekoppe bewe. As dit hý was wat hier gestaan het, het hy lankal gehuil.

“Genoeg gehad, Rynhard?”

Jacques lig sy skouers. “Ek weet nie hoeveel meneer in gedagte het nie.”

“Maar jou klein bliksem …”

Die grynslag verdwyn. Steenkamp gee Jacques ’n vierde hou – harder as enige van die ander en Jan-Paul verbeel hom dat hy iewers bloed deur Jacques se broek sien vlek, maar Jacques staan roerloos. Die skoolhoof lyk half verbaas dat hy nie reageer of soebat nie.

“Jy het nie dalk ’n stuk skaapvel hier ingedruk nie? Van die seuns doen dit partykeer.”

“Net as hulle weet hulle gaan by meneer pak kry. Ek het mos nie geweet nie, meneer.” Jacques grinnik. “Anders het ek dalk.”

Steenkamp loop tot by Jacques en raak aan sy boude. Hy voel-voel met sy hande. Dit laat Jacques verbaas orent kom.

“Ek het nie gesê jy kan opstaan nie.”

Jacques meet Steenkamp met sy oë en buk dan weer.

Weer sien Jan-Paul ’n vreemde uitdrukking oor die skoolhoof se gelaat sprei, asof hy die vattery nog meer geniet. Hy vee met sy hand oor Jacques se boude.

Jacques kyk om, glad nie gediend met hierdie vattery nie. Dit laat Steenkamp terugtree.

“Lyk my, voel my, jy het nog nie genoeg gehad nie.” Jacques draai sy kop terug en Jan-Paul kan sien dat hy hom vervies het vir die vatterige ou man.

Steenkamp gee Jacques ’n vyfde hou, maar hy staar net uitdrukkingloos na die muur. Stilte. Afwagting. Jacques maak gereed vir die sesde hou.

“Jy kan nou maar opstaan, Rynhard.”

Jacques kom stadig orent en as hy geweldige pyn het, wys hy niks. Dit ontsenu Steenkamp nog meer. “Hoop meneer het dit net soveel geniet soos ek.” Jacques se oë is nou donker en stip op Steenkamp.

Die ouer man se oë skiet vuur. “Jou verdomde klein bliksem! Het jy nog nie genoeg gehad nie?”

Jacques kyk hom reguit en vreesloos in die oë. “Net as meneer voel … dit was genoeg.” Hy plaas klem op die laaste drie woorde.

Steenkamp staar verstom na Jacques. Hy swaai-swaai die rottang deur die lug en blaas boosaardig. Hy gryp Jacques agter sy nek en stamp sy kop met soveel geweld op sy tafel dat sy blikkie met penne omval.

Jan-Paul kan dit nie meer hou nie: “Meneer! Seblief, meneer. Moenie Jacques weer slaan nie. Hy … dit … ek …” Maar die bekentenis kom nie oor sy lippe nie.

Dit laat Steenkamp kalmeer. Jan-Paul kyk na Steenkamp, wil hom waarsku dat hy gaan vertel hoe hy Jacques bevoel het. Steenkamp moet die boodskap kry, want hy word bleek.

“Ons sal nie weer nie, meneer,” sê Jan-Paul afgemete.

Die man skep asem, draai weg, staan voor die venster. “Ek wil julle spories nie weer hier in my kantoor sien nie, verstaan jy my, Rynhard?”

“Kan ek maar opstaan, meneer?” Sarkasme in sy stem.

Steenkamp draai stadig om, moord in sy oë. Jacques kom nou met ’n effense glimlag orent en laat sy baadjiepante oor sy boude sak, sy oë stip op Steenkamp gerig. Jacques lig Steenkamp se penneblikkie wat omgeval het en plaas die penne weer presies terug op hulle plek.

“Vra Jan-Paul om verskoning.”

“Dis nie nodig nie, meneer,” begin Jan-Paul, “regtig, ek …”

“Stil!” Steenkamp se stem dreun deur die vertrek. “Vra Jan-Paul om verskoning, Rynhard. En vee daai verdomde glimlag van jou gesig af.”

Jacques loop vorentoe en steek sy hand uit. Sy oë is helder en ten spyte van Steenkamp se waarskuwing, glimlag hy asof niks gebeur het nie, hoewel hy wit in sy gesig is. “Ek’s jammer, tjomma.” Hy skud Jan-Paul se hand.

“Nee, ék is jammer,” mompel Jan-Paul.

“As ek jou ooit weer in hierdie kantoor sien, sporie, neuk ek jou dat jy bloei. Verstaan jy?”

Jan-Paul wil sê dat hy dink Jacques bloei wel, maar besluit daarteen.

“Ek verstaan, meneer.” Jacques se stem is betekenisvol, sy oë weer stip op Steenkamp. Daar plooi weer ’n effense skewe glimlaggie om sy mondhoeke.

“Lag jy vir my, Rynhard?”

“Nee, meneer.”

Steenkamp blaas soos ’n padda op wat water gesluk het, sy gesig rooi en verontwaardig. “Uit my kantoor uit, albei van julle!”

“Goed, meneer. Dankie, meneer.” Jacques gee weer sy skewe glimlaggie wat Steenkamp nog meer woedend maak, maar hy slaan hom nie weer nie. Kyk Jacques net met wrewel agterna tot hy die deur toemaak. En net voor hy die deur toemaak, merk Jan-Paul dat Steenkamp se hande bewe. Die skoolhoof vee die sweet van sy voorkop af.

Toe Jan-Paul en Jacques uiteindelik in die gang uitkom, staar twee seuns wat sit en wag om Steenkamp te sien benoud na hulle. Jacques lig sy skouers. “Dis nie so erg nie. Dink aan ’n meisie, dan voel jy niks. En na die derde hou is jou boude verdoof, dan voel jy niks.”

Die seuns staar hom met openlike bewondering aan.

Toe Jacques verby die skoolhoof se sekretaresse stap, vee sy trane uit haar oë.

“Koebaai, tannie. My pa stuur groete.”

Sy sluk en knik, kyk hom met openlike simpatie aan.

Op die speelgrond kan Jan-Paul Jacques amper nie in die oë kyk nie. Hulle praat nie oor Steenkamp se voelery nie.

“Thanks.”

“Sy’s oulik, huh?”

“Wie?”

“Karlientjie. Ek het gedink sy’s die moeite werd om voor geneuk te word.”

Jan-Paul knik en gaan sit waar sy kosblik steeds staan. “Dankie dat jy …”

Jacques lig sy skouers. “Dis stupid dat ons al twee gemoer word.”

“Ek skuld jou,” sê Jan-Paul.

“Jy skuld my niks, pella.”

“Luister, ek dink jy bloei.”

Jacques lig sy skouers. “Dan moet my ma vir my ’n nuwe skoolbroek koop. Hierdie een is in elk geval te klein.”

Jan-Paul sit, maar Jacques bly staan. Daar is ’n oomblik se stilte tussen hulle. Jan-Paul wil praat, wil dreig om te gaan vertel wat Steenkamp gedoen het. Maar hy vra: “Wat doen jy die naweek?”

Jacques krap deur sy hare. “Niks. Jy?”

“Lus om swemgat toe te gaan?”

Jacques knik. “Klink cool. Maar ek het ’n beter voorstel. My pa is ’n treindrywer. Ek gaan hom vra of ons Lydenburg toe kan ry op sy trein, dan tjil ons bietjie daar. Saterdagmiddag na rugby. Wat sê jy?”

Enigiets om uit die huis te kom. Maar Jan-Paul se ouers mag dalk dink Jacques is nie in dieselfde klas as hy nie. Hulle waarsku hom hoeka altyd teen verkeerde vriende. Veral dié wat naby die spoorlyn bly.

Te hel daarmee. Hy skuld Jacques. “Piele. Ek’s daar.”

Jacques gaan sit nou stadig. Jan-Paul se hande bewe wanneer hy die kosblik oopmaak, sy toebroodjies nog ongeëet. Hy hou dit na Jacques uit.

“Thanks.”

“Plesier.”

Nou eers skraap Jan-Paul die moed bymekaar: “Steenkamp is ’n flippen pervert. Jy moet jou pa en ma sê dat hulle hom by die skoolraad aankla.”

Jacques skud sy kop. “Dis oukei, buddy. Ek sal tog verloor. Steenkamp is beste pelle met die burgemeester en ’n paar ander groot omies op die dorp. So ek probeer nie eers nie.”

“Maar dis nie regverdig nie.”

“Life is not fair,” sê Jacques, maar glimlag nie.

Daardie aand slaap Jan-Paul min. Sy gewete pla hom. Hy oorweeg dit om Maandag na Steenkamp toe te gaan en te erken dit was eintlik hý wat die geveg begin het. Maar dan onthou hy daardie houe, die geweld waarmee Jacques geslaan is, die genot in Steenkamp se oë.

Saterdag voor die rugby-oefening kom Jacques na Jan-Paul toe gestap. Hy steek sy hand uit. “Hoezit?”

“Cool. Jy?” Hulle skud hande.

“Piele!” lag Jacques.

“Die ouens sê hulle’t jou rottanghale gesien. Twee het die vel gebreek en die ander is blou opgeswel. Hoe de hel sit jy?”

“Maak of dit nie bestaan nie. As iets in jou lewe jou pla, dink aan ander goed, dan gaan dit weg.”

“Jy dink te veel, Jacques.”

Jacques kyk na hom asof niemand dit al ooit vir hom gesê het nie. Hy antwoord nie.

“Ons kan Steenkamp se wiele afblaas. Of ’n waterbom op hom laat val,” stel Jan-Paul voor.

Jacques dink.

“Dude. Doen dit net,” sê Jan-Paul.

“Hy gaan weet dis ek, en dié slag word jy ook gemoer.”

“Hy sal nie weet nie.”

“Hy’t sy oog op my. Hy sal my uitcheck en jy saam met my.”

“Hy’t meer as sy oog op jou, pella,” waarsku Jan-Paul.

Die seuns word bymekaargeroep om strekoefeninge te doen en Jan-Paul besef: Hy hou van Jacques. Hy’t nog nie eintlik vriende by dié skool gemaak nie, maar Jacques gaan beslis sy eerste vriend word. Dalk nog sy beste vriend.

“Kom ons vat Karlientjie saam uit volgende week!”

Jan-Paul hou nie van die voorstel nie. Hy wil Karlientjie alleen uitvat. Maar hy wil nie hê die Karlientjie-sage moet tussen hulle kom nie.

“Om ’n meisie uit te vat kos geld, bru.”

“Waarvan jy baie het.”

“Ek weet nie of ek nog lus het nie,” verdedig Jan-Paul.

“Wel, ék het.” Hulle begin strekoefeninge doen. “Ek sê jou wat: kom ons vra haar al twee, dan kyk ons wie kies sy.”

Jan-Paul grinnik. “Oukei. Dis ’n deal!”

“Julle twee mannetjies!” roep meneer Venter, die rugby-afrigter. “Wil julle vry of wil julle rugby speel?”

Die ander ouens lag. “Rugby speel, meneer!” sê al twee.

“Nou kry julle gatte in rat!”

Hulle speel rugby en meneer Venter prys Jacques en Jan-Paul vir hulle spel. “Jy gaan nog eendag ’n dêm goeie senter wees, Rynhard.”

Jacques lag. “Ek weet nie of ek verby standerd agt gaan rugby speel nie, meneer.”

“Nou wat’s jou probleem?”

“Geen probleem nie, meneer. Ek wil atletiek doen. Mens kan nie albei doen nie.”

“Jy is ’n koppige mannetjie, is jy nie, Rynhard?” vra die rugby-afrigter. “Ek hoor maar die stories so in die skool.”

“Ek weet wat ek wil hê, meneer.”

“Moenie verkeerde besluite neem nie, Rynhard.”

“Ek neem altyd die regte besluite, meneer.”

Die onderwyser lig sy wenkbroue en brom: “Moeilikheidmaker.”

Na middagete verduidelik Jan-Paul aan sy ouers dat hy die middag “saam met maats” gaan tjil. Hy is verbaas toe hulle sonder argumente inwillig; sy ma se aandag is afgetrek deur ’n nuwe Persiese mat wat sy pa vir haar gekoop het. Sy gee sy pa selfs ’n ligte soentjie, iets wat hy lanklaas gesien het.

Jan-Paul en Jacques hardloop ’n kwartier later verby die sinjaal, al met die spoorlyn af stasie toe. Jacques beduie na die sinjaal: “As mens hier opklim, kan jy die trein van ver af sien kom!” Hy draai terug en draf na die sinjaal toe. Dan begin hy teen die leer langs die paal uitklim.

Nog nooit daaraan gedink nie! Nou is hý die een wat dink!

Jan-Paul kyk hoe Jacques gemaklik met die leer opklim. Toe hy bo is, roep hy uit: “Hy kom! Dis die toeriste se trein!”

Jan-Paul aarsel. Hy is nie baie goed met hoogtes nie, maar Jacques se entoesiasme is aansteeklik. Hy wink na Jan-Paul en dié besef: Jacques Rynhard het die manier om mens dinge te laat doen sonder dat jy wil, en hy hou daarvan.

Hy klim agterna tot hy net onder Jacques aan die leer hang. Hy kyk nie af nie, hy probeer sy aandag by die trein bepaal.

“Hoeveel waens is daar, dink jy?” vra Jacques.

Jan-Paul kyk na die toeristestoomtrein wat nader stoom. “Met of sonder die koletrok?”

“Mét.” Jan-Paul probeer vinnig tel. “Hei. Jy mag nie cheat nie!” waarsku Jacques.

“Elf.”

Jacques skud sy kop. “Dertien.”

Die trein stoom verby. Jacques se pa, Klaus, is in die kajuit. Hy sien Jacques en trek die fluit. Jacques waai. Klaus waai terug en trek weer die fluit. Jan-Paul en Jacques tel hardop.

“Tien, elf, twaalf, dertien!” Jacques gil. “Hei, bru!”

Hulle klim af. En toe hulle onder is, gee Jacques Jan-Paul ’n druk met sy elmboog om sy nek. Dit is die eerste keer dat ’n vriend dit met hom doen. Toe stap hulle verder.

Die treinrit is onvergeetlik. Hulle sit saam met Klaus in die kajuit en lag en praat sommer oor allerhande kleinighede asof hulle ou vriende is. Jan-Paul trek kort-kort die fluit, maar Jacques wys hom hoe om dit reg te doen sodat die geluid in twee oktawe deur die klowe weergalm.

“So hoe was skool vandag, Jakkie?” vra Klaus en gooi weer kole in die vuurherd.

“Onnodig, Pa.”

“Hulle leer jou darem lees en skryf en somme maak en Engels praat!”

“Soort van. Maar dit kon ek myself ook geleer het … met ’n cool onderwyseres by die huis wat my al die ins and outs van somme kan leer. Die res is stjoepit. ’n Mors van tyd, Pa.”

Klaus sit die graaf neer en vryf deur Jacques se hare. Hy druk Jacques vir ’n oomblik teen hom vas en Jacques steek sy kop onder sy pa se arm in en lag. Hulle stoei ’n bietjie.

“Waar dink jy leer mens dan, Jakkie?”

Jacques breek los, lag, kom terug na sy pa toe en gooi sy arms om hom en stoei verder. “By die regte mense. Soos Pa.”

Klaus blaas die aftog en sit sy arm om Jacques se nek.

“Regte antwoord, seuna!”

Jacques lig sy hand in ’n vatvyf vir Jan-Paul asof hy nou presies die regte ding gesê het. Jan-Paul beantwoord die groet en Klaus plant ’n soen in Jacques se hare.

“Met daai bek gaan jy nog ver in die lewe kom.”

“Dis my doel, Pa.”

“Maar onthou. Om iewers te kom, moet jy die regte mense ken wat die regte deure vir jou oopmaak.”

“Ek sal hulle ontmoet, Pa. En leer ken en sommer die sleutels afvry!”

“Jy leer vinnig, seuna.”

Daar is ’n warmte in die kajuit wat Jan-Paul nog nie by sy ouers ervaar het nie. Hy kyk hoe Klaus nou weer kole in die vuurherd gooi en Jacques hom help. Jan-Paul probeer ook, maar dis ’n moeiliker taak as wat hy gedink het. Tog hou hy van die hitte teen sy gesig, die manier waarop Jacques lag wanneer hy kole mors.

Jan-Paul was lanklaas so onbevange gelukkig soos hier. En as sy klere vuilgesmeer word, gee hy nie eers om nie. Hy weet egter hoe sy ma vanaand met hom gaan raas.

Hy verluister hom aan die tjoef-tjaf van die trein. Die geklik-klak van die wiele. Gaan sit plat op die vloer en gooi Jacques met kole. Jacques gooi terug. Maar anders as wat sy eie pa sou, raas Klaus nie dat hulle mekaar nie moet vuilsmeer nie. Lag net saam.

“Ons is vir altyd!” skreeu Jacques.

“Ons is vir altyd!” skreeu Jan-Paul.

“En vriende!” lag Jacques.

“Vriende vir altyd!” Hulle vuisstamp mekaar.

Jan-Paul kyk na Jacques wanneer hy sy gesig by die trein uitsteek – hoe lekker hy kry as die wind deur sy gesig en sy hare waai. Op ’n kol maak Jacques sy arms oop asof hy die buitelug omhels. Klaus druk sy seun teen hom vas, en anders as baie seuns wat nie gemaklik is met sulke toenadering voor vriende nie, gooi Jacques, soos tevore, weer sy arms om sy pa.

Jan-Paul se pa raak nooit aan hom nie, behalwe wanneer hulle mekaar formeel met die hand groet. En hy mis skielik hierdie soort aanraking.

En terwyl Jan-Paul hier sit met Jacques wat by die lokomotief uithang en skreeu, dink hy: Jacques sal vir altyd sy vriend wees. Hy smee hier ’n bondgenootskap met hom wat hy nog met geen ander vriend gedoen het nie.

En net daar staan Jan-Paul op en trek die fluit ’n paar keer. Dis die gelukkigste oomblik in sy lewe dié.

Die volgende Donderdagoggend sit Jan-Paul en Jacques weer en toebroodjies eet op die muurtjie waar hulle ontmoet het. Dié slag bied Jacques vir Jan-Paul sy toebroodjie aan.

“Wow. Dis great, pella,” sê Jan-Paul. “Nie geweet jou ma kan so goed bak nie.”

Dit is asof daar ’n skaduwee oor Jacques se gesig val. “Dis Chivas se toebroodjie. Een van dié wat sy altyd in haar restaurant bedien.”

Dus is die stories waar oor sy ma wat nie van kosmaak hou nie. Hulle eet ’n rukkie in stilte.

“Ek het vir Karlientjie gevra of ek haar môreaand vir raspberry milkshake kan uitneem,” sê Jacques. Jan-Paul wag dat hy hom saam moet uitnooi, maar hy doen dit nie. Hy voel effens jaloers en trek sy skouers op.

“Oukei.”

“Maar ek het nog nie genoeg geld nie.”

Jan-Paul verwag dat Jacques geld by hom gaan probeer leen, maar hy lag net. “Ek sal ’n plan maak. Jy ken die dorp se enigste robot hier anderkant die hotel?”

Jan-Paul knik.

“Watch my vanmiddag.”

Toe die skool uitkom, en Jacques 100% vir ’n opstel gekry het, stap hy na sy fiets toe. Jan-Paul se ma het hom nog nie met die motor kom oplaai nie. Jacques klim op sy fiets. “Oukei, pella. Check jou môre uit.”

“Waarnatoe gaan jy?” vra Jan-Paul, gedagtig aan Jacques se aanmerking oor die verkeerslig vroeër.

Jacques maak sy boeksak oop. Dis ’n ou leertas, groter as die ander s’n.

“Waar kry jy die ding?” vra Jan-Paul.

“Van my pa af. Hy’t skool toe gegaan daarmee.”

Hy wys vir Jan-Paul die strepies aan die boeksak se binnekant. “Vir die kere wat Oosthuizen my geneuk het, of Skellie Steenkamp. Of juffrou Matthee. Sy slaan nogal seer.”

Hulle lag.

Jacques haal nou ’n karton uit wat hy oopvou. Daarop staan geskryf: Wil meisie uitvat. Kort geld. Help seblief.

Jan-Paul lag. Jacques beduie dat Jan-Paul agterop die fiets moet sit. Hy kyk vinnig na die plek waar sy ma hom altyd oplaai, maar sy is nog nie daar nie.

Hulle ry tot by die verkeerslig. Orals sien Jan-Paul plakkate van politieke partye. ANC. AWB. NASIONALE PARTY. HERSTIGTE NASIONALE PARTY. Dit is volgende jaar verkiesing en daar is groot spanning op die dorp hieroor. Sy pa sê dat daar ’n burgeroorlog kom. Maar op die oomblik is dit die minste van sy bekommernisse. Jan-Paul merk ook meer swart mense in die straat op as gewoonlik.

“Sal jy my fiets oppas?” vra Jacques.

“Sure.”

Jacques hang die karton om sy nek en gaan staan sonder skroom by die verkeerslig. Hy glimlag vir elke motoris wat verbyry. En voor Jan-Paul se oë gebeur ’n wonderwerk. Feitlik elke motoris stop vir Jacques iets in die hand. Dit is veral die boere in bakkies wat mildelik gee.

“Dankie, oom!”

Van die tantes gee hom ook geld. “Dankie, tannie!”

Jacques bedank elkeen, skud sommige boere se hande, lag as sy skoolmaats se ouers verbykom en vir hom geld gee. Dans rond van skone baldadigheid as iemand hom ’n tienrandnoot gee.

Binne vyftien minute is hy terug by Jan-Paul. “Nege en veertig rand en sestig sent,” spog Jacques, natgesweet van die son en die rondspring.

“Jy verdien Karlientjie.” Jan-Paul kan nie glo wat hy sê nie, maar hy glimlag vir Jacques.

“Ek het gedink én gedoen,” grinnik Jacques.

Daardie middag speel hulle langs die treinspoor, stoei, jaag mekaar oor die spoorstawe, klim bome en gil van plesier, tot Jacques se ma hom roep.

“Jy moet kom stort, Jacques. Ons gaan vanaand by jou pa se baas eet.”

“Maar Ma, ek en Karlientjie …”

“Moenie teëpraat nie! Wil jy ’n pak slae hê?”

“Nee, Ma.”

“Nou kom dan.”

Jacques sit sy arm om Jan-Paul se nek en stap na sy ma toe. Jan-Paul wil nog anderkant toe hardloop, want hy is bang vir die onvriendelike tannie, maar Jacques stel hom trots voor. Hy klap Jan-Paul trots op die rug. “Ma, dis my pel, Jan-Paul,” en hy sit weer sy arm om sy beste vriend se skouers.

“Moenie so aan ander mense vat nie, Jacques.”

Jacques verwyder sy arm.

“Jan-Paul. My ma.”

Liebet Rynhard se mond is strak, onvriendelik, sonder ’n sweem van ’n glimlag. En Jan-Paul dink hy het lanklaas so ’n onvergenoegde mens gesien. Miskien net Steenkamp, die skoolhoof – behalwe as hy oor rugby praat, wat hy dikwels met die seuns doen. Hy rig ook rugby af. Dalk het die twee dieselfde frustrasies.

“Jan-Paul wie?”

“Jan-Paul Otto.”

Daar kom herkenning in haar oë. “O, van die ryk Otto’s wat hier bo teen die kop bly? Skuldbult?”

Jan-Paul kan sien dat dit Jacques in die verleentheid stel. “Maaa!”

“Netnou sê hulle jy het ’n slegte invloed op die mannetjie,” waarsku Liebet vir Jacques. “Ek dink nie julle moet verder speel nie.”

“Ma. Hy’s my vriend. Ek belowe ek sal nie ’n slegte invloed op hom hê nie.” Daar is ’n soebatklank in Jacques se stem.

“Toe, Jacques. Gaan stort.”

Aan die gebiedende klank in haar stem is dit duidelik dat Liebet nie teëstribbeling sal duld nie. Jacques sug en draai na Jan-Paul.

“Pella. Sal jy haar mooi oppas vanaand?”

“Jy bedoel ek en Karlientjie …?” vra Jan-Paul verbaas.

Jacques druk die geld wat hy by die verkeerslig verdien het in sy hand. “Happy times, dude.”

Jan-Paul skud sy kop en gee die geld terug. “Ek het geld.”

“Geniet,” sê Jacques toe hy die geld neem.

“Sal dit nie help as ék met jou ma praat nie?”

“Jacques, as ek jou wéér moet roep!” waarsku Liebet nou van die spoorweghuisie se stoep af in antwoord op Jan-Paul se vraag.

Jacques hardloop terug na sy ma toe. Maar op die stoep draai hy een keer terug. Jan-Paul hou sy duim in die lug. Jacques doen dieselfde.

Die aand is ’n volslae mislukking. Karlientjie is duidelik vies dat Jan-Paul haar nou skielik uitvat en nie Jacques nie. Hy het nog nie eers sy bruismelk klaar gedrink nie, toe wil Karlientjie al huis toe gaan.

“Ek het gehoor ou Skellie het Jacques stukkend geslaan. Hy moes jou eintlik geslaan het, want jý het die fight begin,” sê sy toe hulle by haar ouers se huis se voordeur kom.

Jan-Paul antwoord nie. Voel net hoe sy gesig bloedrooi word. Hy groet Karlientjie nie eers nie.

Daardie aand baie laat, toe Jacques saam met sy ouers van die ete af terugkom, sluip hy uit die huis na Jan-Paul s’n toe. Sy ouers slaap al en Jan-Paul moet die voordeur saggies oopmaak. Hy kan sien hoe Jacques na die duur meubels kyk, die oudhede wat sy ma versamel, die groot vertrekke, die Persiese tapyte. En skielik voel hy skaam oor al die luuksheid. Sou hy veel eerder in ’n eenvoudige huis soos Jacques s’n wou gebly het. Saam met Jacques. Wil hy elke dag trein ry en bome klim en die sinjaal uitklim om te raai hoeveel waens daar is. En Jan-Paul besef: vriendskap is die belangrikste ding wat daar is.

“Hoe was die date?” vra Jacques.

Jan-Paul skud sy kop. “Date! Disaster, bru. Sy’t jou gesoek, nie vir my nie.”

Jacques glimlag. “Oukei.” Toe klap hy Jan-Paul op sy arm. “Dankie dat jy haar uitgevat het.”

Hierdie ou is te goed om waar te wees, dink Jan-Paul.

“Jacques. Jy’s te nice, dude.”

“Te nice?”

“Jip. Mense gaan jou nog baie moer en gebruik, soos Skellie-die-pervert,” sê Jan-Paul.

Jacques trek sy skouers op. “Ek kan vir myself sorg.”

“Ek hoop so. Met bietjie hulp van jou pelle.”

“Soos die song sê: With a little help from my friends. En vriende is moerse belangrik.”

Hulle raak ernstig. “Ons is vriende vir altyd.” Jan-Paul lig sy duim en hou dit in die lug. Jacques lig ook sy duim en druk dit teen Jan-Paul s’n.

“Vriende vir altyd.”

Toe Jan-Paul Otto senior teen tweeuur die oggend kom kyk wie so in sy seun se kamer praat, lig hy sy wenkbroue wanneer hy Jacques sien. Die twee sit en skyfies eet. Jan-Paul steek die bier wat hy uit die yskas gehaal het net betyds weg.

Jacques vee sy hand aan sy broek af en steek dit toe uit. “O. Skies. Ek’t nie gesien hoe laat dit is nie. Naand, oom.”

Jan-Paul Otto senior kyk na sy hand vol skyfiesout en knik net.

“Drink julle mannetjies?”

“Nooit nie, Pa/oom!” sê hulle in ’n koor.

Jacques hou ’n Hubbly Bubbly-bottel op. “Vir die pyn, oom!”

“Op die lewe, Pa!”

Jan-Paul Otto senior is beslis nie gediend met hierdie kuier nie.

“Jy moet in die bed kom, Jan-Paul.” Sy pa kyk na Jacques. “En jy moet huis toe gaan. Wees net versigtig. Die kommuniste lê ses voet dik in die lokasies. En partykeer spoel hulle oor hiernatoe. Jy moenie dié tyd van die nag alleen op straat wees nie.”

“Lekker om oom te ontmoet. Nag, oom. En jammer, oom.”

“Nag.”

Die oomblik wat die deur toegaan, knak elkeen nog ’n Lion Lager oop en klink dit teen mekaar.

“Op die lewe, bru!”

“On life, poephol!” lag Jan-Paul en neem ’n diep sluk.

Jacques en Jan-Paul gesels nog. Later haal Jan-Paul ’n Playboy onder uit sy kas uit nadat hy sy vinger op sy lippe gesit het asof hulle ’n groot geheim deel.

“My oom werk by doeane. Elke keer as hulle iemand met ’n Playboy vang, konfiskeer hulle dit vir hulle eie versamelings. Dis hoe ek dié een gekry het.”

Hulle vatvyf mekaar en kyk saam na die tydskrif.

“Sê vir jou oom hy’s my pel for life!”

Jacques maak die tydskrif stadig oop. “Wow.” Hy blaai om. “Frieken wow, pel!” Jacques vee oor sy voorkop. “Fokkit, pella.”

Jacques blaai met ontsag na die middelblad en draai die tydskrif om beter te sien. “Oukei. Oukei Oukei.”

“Wag tot jy bladsy sewe en dertig sien.”

“Kan ek dit leen?” vra Jacques saggies.

Jan-Paul dink bietjie na.

“Please, please, please, pel. Dis mos waarvoor vriende daar is!”

“Net as jy jou volgende meisie vir my gee.”

“Hei.” Jacques raak ernstig, maar kyk dadelik weer na die volgende meisie in die tydskrif. “Moenie eise stel nie.”

“Dis my voorwaarde!”

Jacques dink ’n oomblik na. “Karlientjie wil jou nie hê nie en ek vry nou in die bondel!”

“Soek jy daai Playboy of nie?”

Jacques dink ’n oomblik na. “Ja, man. Oukei. Ek verkoop my siel vir ’n pot lensiesop en ’n girl!”

Jan-Paul glimlag en knik. “Vat dit. Moet jouself net nie verongeluk nie.”

“As jy jouself nog nie beseer het hiermee nie, sal ék beslis nie!”

Voetstappe in die gang. Jacques klim haastig met die tydskrif deur die venster. Jan-Paul grinnik. “Haar naam is Kom Terug en Donners Vinnig.”

“Piele, pel!”

Toe die deur weer oopgaan, waarsku Jan-Paul Otto senior: “Hy is nie ons mense nie, Jan-Paul. Hou jou by jou portuur.”

En vir die eerste keer in sy lewe staan Jan-Paul teen sy pa op. “Hy is my vriend, Pa.”

Die ouer man kyk lank na sy seun. “Jy gaan nog lang trane oor hierdie mannetjie huil. Hy is moeilikheid.”

Jan-Paul en Jacques se vriendskap verstewig daarna deur baie skelm ontmoetings, fietsritte, pakke slae, bergklim-ekspedisies, kattekwaad, nuwe Playboys van Jan-Paul se doeane-oom, uitkamp en vakansies. Tot Jan-Paul besef dat Jacques binne die bestek van ’n jaar ’n onvervangbare deel van sy lewe geword het. En dat hy enigiets vir hom sal doen of vat. Selfs, noudat hy meer moed het, ses van die bestes van die gevreesde Steenkamp.

MAANDAG 7 APRIL 2014, 10:15

Carina kyk na Jan-Paul. “Het jy toe later teenoor Steenkamp erken dat jý eintlik die pak slae moes gekry het?”

Jan-Paul kyk ingedagte na haar. Toe skud hy sy kop.

“En Karlientjie?”

“Na daai mislukte aand het dit nie meer saakgemaak nie. Maar Jacques het altyd die meisies gekry na wie ons saam gevry het. Maar haar dan weer gedrop as hy sien dit pla my.”

Jan-Paul Otto se kantoordeur gaan oop en ’n jong man loer in. “Vergadering!” beduie hy.

“Ek kom.”

Carina het nog baie vrae om te vra, maar besef dat sy dit nie nou sal kan doen nie.

“Kan ons weer gesels?”

“Ek het regtig niks meer om te sê nie. Ek het reeds te veel nuttelose inligting gegee.”

“Dit was nie nutteloos nie.”

Jan-Paul antwoord nie.

“Kan ons later oor die dwelms gesels?”

“Juffrou Human.”

“Carina.”

“Hier is geen skandale of dwelmsessies of skelm rokery agter die fietsloods nie. Jacques het nie eers gerook nie. So wie ook al daardie dwelmstorie vir jou vertel het, probeer net moeilikheid maak. ’n Storie waar daar nie een is nie.”

“Het Jacques baie vyande?”

Jan-Paul Otto raak ernstig. “Te veel,” antwoord hy.

“Hoekom?”

“Jaloesie,” sê Jan-Paul. “As jy mense in die bedryf oor hom ondervra, sal jy die kaf van die koring moet skei. Jy gaan baie leuens hoor. Vat dit van my: daar is nie ’n beter mens, ’n meer lojale vriend, as Jacques Rynhard nie.” Hy kyk skielik weg, duidelik hartseer oor sy vriend se skielike verdwyning.

“Nou hoekom dan verdwyn?” vra Carina.

Jan-Paul kyk stip na haar. “Moenie vir Jacques Rynhard beswadder nie.”

“Ek soek net die waarheid.”

“Soms het die waarheid niks met ander mense te doen nie, juffrou Human.”

“Wie het toe die meisie gekry?”

Jan-Paul kyk verbaas na haar.

“Die Playboy-belofte.”

Die jongman steek weer sy kop om die hoek. “Die kliënte raak moeilik!”

“Tot siens, juffrou Human,” sê Jan-Paul toe hy uitloop.

Ballade vir ’n enkeling

Подняться наверх