Читать книгу Ballade vir ’n enkeling - Leon van Nierop - Страница 6

3

Оглавление

SATERDAG 5 APRIL 2014, 19:00

Baniere. Plakkate. Opskrifte. Musiek. En boeke.

Carina soek tevergeefs tussen die menigtes na Mysi. Hulle het skaars in die Saxonwold-gebou aangekom, of haar vriendin se fotograafneus lei haar na plekke waar ’n heuningnes bekendes om Jacques Rynhard se boeke saamkoek.

Sy raak verdwaal tussen handtekeningjagters, sosiale vlinders en akademici. Rondom Carina is plakkate wat feitlik elke muur van die voorportaal van die ouditorium beset.

Die genie-in-haar-eie-etensuur met die haredos langs haar slape af wat soos boerevarings lyk, loop oë neergeslaan na die belangrikste mense in die saal sodat sy tog net nie op pad soontoe met enige plebs hoef te praat nie. Sy knik met dowwe oë wat niemand probeer raaksien nie.

Die flambojante lid van die einste leserpaneel as sy, draai haar in-die-kollig-glimlag aan toe ’n skrywer per ongeluk in haar vasloop. “Hallo! Hoe gaan dit met jou-ou?!” grynslag sy vir die meisie wie se werk sy so pas met venyn afgekeur het. “Ag lekker, man!” antwoord die einste blinkoog-vrou sonder om na die antwoord te luister.

Sy sweef verby na die hoof van ’n buitelandse TV-kanaal.

Carina ril. Haar probleem is dat sy soveel van die binnegevegte af weet wat in hierdie eng sirkel afspeel, dat sy dit eintlik humoristies vind, maar dit voel of sy vir slagoffers lag wat galgtoue om hul nekke kry. Was dit Anne Frank wat gesê het dat sy, ten spyte van alles, nog steeds glo aan die innerlike goedheid van die mens? Op hierdie slagveld sou selfs sý swarigheid gesien het.

Carina besef ook dat hierdie groep geparfumeerde valke haar gaan laat verstik. “Bad vibes, slegte karma!” sou Mysi gesê het. G’n wonder Jacques Rynhard woon selde hierdie sirkusse by nie. Maar sy druk deur.

Hy staar van orals af na haar toe. Jacques Rynhard. Dié Jacques Rynhard met die filmstervoorkoms en die sagte oë en die halfmasglimlag.

Die man wat romantiese avontuurverhale skryf wat dikwels vuurwarm is. Die liefling van honderdduisende lesers wat elke boek van hom verslind en vra vir nog. Die skrywer wat in die volk se oë niks verkeerd kan doen nie.

Die skrywer van wie sy aanhangers amper niks weet nie, want anders as die meeste skrywers is hy nie op Facebook nie, kommunikeer hy nie op Twitter nie en sit hy nie gemaklik uitgestrek op geselsprogramme se geel rusbanke en praat oor homself nie. Al wat sy van hom weet, is dat hy gewilde boeke skryf en bekend is vir spoed. Hy was al ’n keer of wat in die moeilikheid omdat hy teen duiselingwekkende vaart (Blitsnuus se woorde) op sy resiesfiets genaamd Chase rondjaag. Maar wat in sy negentien-watsenaam-motor doodluiters stadig ry.

Sit hom egter op ’n fiets …

Jacques staan geen personderhoude toe nie, selfs toe hy as jong skrywer begin naam maak het. Carina weet ook uit ervaring feitlik alle skrywers pak maar te graag teenoor joernaliste uit, want dis gratis reklame vir hul jongste boeke.

Nie Jacques Rynhard nie.

“As iemand nog een keer vir my vra ‘Waar het alles begin?’, dan …!” is Jacques eendag aangehaal.

Elke nuwe roman van hom was ’n gebeurtenis. Hy publiseer een keer per jaar, soms elke tweede jaar. Die uitgewery waar hy tot onlangs gepubliseer het, behoort aan die Franckes – die mees prominente van al die Johannesburgse uitgewerye, spesifiek omdat Alicia Francke, sosiale vlinder, gedurig by glansgeleenthede breër glimlag as die grootpad Noorde toe. Daar is selfs gerugte dat sy haar eie tydskrif wil begin saam met haar pa, John Francke.

Jacques Rynhard is Alicia se sterskrywer. Iemand wat sy ses maande gelede nog in ’n blog soos volg beskryf het: “ ’n Geniale storieverteller, ’n lieflike mens wat baie sag op die oog val, sexier in die werklike lewe as enigiets wat hy kan uitdraai. En daai skewe glimlag! ’n Man so na my hart! Ek kan my nie die Francke-Uitgewery voorstel sonder Jacques nie.”

En toe, skielik, droog haar blogs, Facebook-inskrywings en twiets oor Jacques op. En toe begin die skinderstories lepellê met die waarheid. Alicia was verlief op Jacques, maar hy nie op haar nie. Of Alicia wil eintlik Jacques se stories skryf en wou selfs al spesiale erkenning gekry het vir haar aandeel aan sy stories. Hy het hom vervies en die bondgenootskap verbreek. Sy stories is sý stories, nie hare nie.

En dan, vanuit die uitgewersbedryf, meer prontuit: Jacques wou nie by Alicia slaap nie. En: Jacques sou Lena Aucamp nooit met daardie flerrie verkul wie se grimering swaarder weeg as haar ywerige dye nie.

Carina het Jacques Rynhard se eerste roman, Baanbreker, destyds gelees. En soms sy latere romans in die CNA of in boekwinkels deurgeblaai en gespring-lees. “Om groot te word is opsioneel!” was een van die wyshede wat hy kwytgeraak het en wat haar bygebly het.

Sy kyk nou na sy lys romans in die voorportaal. Baanbreker (2008), opgedra aan Lena; Met ’n uitsig op die stad (2009), vir Alicia met dank – dit is vier keer herdruk; Brandwag (2011), opgedra aan “my buurman Fineas Guliwe”, beleef tans sy derde druk, terwyl Nagreisiger (2012) opgedra is aan sy beste vriend, Jan-Paul Otto.

En nou Die enkeling, wat vanaand die Basson-prys vir Letterkunde kry.

Volgelaaide bordjies wat wil-wil kantel met vleisrolletjies, hoenderboudjies en dik kaaspasteitjies kom soos die Titanic tussen die mense na haar aangeseil. Sy besef nou sy staan te naby die kostafel en vlug sodat sy haar iPad kan aanskakel en Jacques Rynhard kan google.

Die bestuurder van ’n rolprentmaatskappy staan, soos gebruiklik, met ’n glas in die hand en lag vir haar bende talentlose bruinneus-werknemers vir wie sy altoos beskerm.

“Lekker storie oor Miriam en die skoothondjie in Montage!” roep iemand na Carina toe.

“Jis, Cariens!” ’n Joernalis saam met wie sy joernalistiek by Tukkies geswot het. “Jy lyk stunning, doll. Wat gebruik jy?”

“Die lewe!” lag Carina.

“Jammer oor jou en Kelvin. Ons het altyd gesê hy gebruik jou net!”

Sy soek nou na nog inligting oor Jacques Rynhard op die internet. Gelukkig is hier Wi-Fi. Terwyl sy op haar tablet op sy skakel druk, merk sy dat daar wel baie foto’s van hom is, skynbaar deur Alicia Francke geneem, maar die inligting is skraps en saaklik. Sy lees:

Jacques Rynhard, gebore 18 Februarie 1980 in Kleinbegin, Mpumalanga. Pa: Klaus Rynhard, treindrywer, kondukteur en later stasiemeester. Ma: Elizabeth (Liebet) Rynhard. Hy gaan skool op Kleinbegin in sowel die laer- as hoërskool waar hy uitblink as redenaar, rugbyspeler, atleet en later opstelskrywer.

Na matriek in 1998 swerf hy tot 2001 deur Europa en die VSA, en maak in New York kennis met die bekende Amerikaanse skryfghoeroe Cynthia Olive. Hy skryf in vir ’n kursus aan haar skryfskool in 2000. Hy publiseer egter geen werk tussen 2001 en 2002 nie en voer as redes aan dat die kortverhale wat hy in daardie jare op sy tikmasjien geskryf het te persoonlik is en hy dit iewers wegsteek waar niemand dit kan kry nie.

Daardie kortverhale was vingeroefeninge of private verhale wat hy nie wil publiseer nie. Sommige is half geskryf, ander is sonder inleidingsparagrawe of eindes.

In 2003 keer hy terug na Suid-Afrika en toer ’n jaar lank deur die land. Vanaf 2004 begin hy boeke wat beskryf word as warm, erotiese romans, onder ’n skuilnaam skryf.

Hy skryf ook vir ’n kort rukkie TV-sepies, maar vind dat hy nie saam met ander skrywers kan werk of ander mense se werk kan skryf nie. En erken prontuit dat die sepievervaardigers net sy naam wil gebruik en verder sy werk na willekeur wil verander om “by hul strak agendas te pas. Soveel tam talentloses, soveel kontakte op die regte plekke”.

Jacques Rynhard was nie daarvoor te vinde nie.

Hy publiseer hierna tussen 2004 en 2007 verskeie kortverhale en doen vryskutwerk as reklamekopieskrywer by Botha en Lategan onder die bestuurder Sylvia Nieuwoudt.

In 2008 publiseer hy sy eerste roman, Baanbreker, wat lesers gaande het en opgedra is aan die meisie by wie hy in daardie stadium al vir meer as drie jaar in Newtown gebly het, Lena Aucamp, wat ook al die voorblaaie vir sy romans ontwerp het, gebaseer op haar skilderye. Sy is ’n skoolliefde.

Dit word gevolg deur Met ’n uitsig op die stad (2009), asook Brandwag (2011) en Nagreisiger (2012). Meneer Rynhard praat glad nie oor sy kortverhale, gepubliseer of ongepubliseer, of die inspirasie daaragter nie.

Hy is ongetroud. Hy is ook bekend vir sy liefdadigheidswerk onder straatkinders in Newtown, hoewel hy ook weier om daaroor te praat. Sy vriende is hoofsaaklik mense in Newtown en omtrekke.

Dit is waar die inligting eindig. Geen flambojante tydskrifartikels waarin Jacques sy gunsteling-pastagereg met ’n Pepsodent-glimlag aanmekaarslaan nie, geen radio-onderhoude gevul met die regte geluide nie, geen verskynings op TV-kletsprogramme nie en geen Facebook-inskrywings nie.

Carina onthou vaagweg, toe ’n joernalis hom eendag by die bekendstelling van ’n boek vra hoekom hy nie onderhoude toestaan nie, dat hy geantwoord het: “Waar die storie aan jou vat of nie vat nie, is al wat tel. Dit maak nie saak wat ék daarna sê nie – dis te laat. Die skrywer is nie die ster nie, net sy stories.” En toe die joernalissie met sterre in haar oë volhou met vrae: “Ek het my tande stukkend gekou op die lewe. Ek herkou vir die oomblik.”

Daar was egter baie meer inligting op die internet oor Alicia Francke, met foto’s van haar en Jacques by boekbekendstellings en teaterpremières. Hulle het gereeld saam verskyn. Sy wonder wat Lena oor hierdie vriendskap te sê gehad het.

Iemand stamp teen Carina en mors rooiwyn op haar rok.

“Oe, sor-rie, koeks!” Die joernalis met die bloederige rooi tuitbekkie trippel giggelend weg. Carina staar vies na haar rok. Nes haar skoene, dra haar rokke net soveel bewyse van haar lewe en stories as haar notaboeke.

“Jammer, vriendin, maar dit is half simbolies, dink jy nie?” giggel Mysi nou weer langs haar. “Die wynmorsery van die vampier met die uitstaan-tieties. Sy toets eers die kleur voor sy jou nekare afbyt.”

“Ek wil huis toe gaan.”

“Kom ek verbind gou die kolletjies vir jou.” Mysi beduie na die mense. “Almal pleeg soet leuentjies en loer of die nuwe aankomeling dalk hul loopbane kan bevorder. En dis die ergste. Niemand hou van niemand hier nie, net van hulleself. So. Sit jou klipgesig op, grynslag soos Jack Nicholson en kry ’n nuwe angle op die storie.”

Carina kyk rond. “Dink jy iemand hier kon Agata geskep het?”

Mysi lag. “Nie een lyk interessant genoeg nie. Ek bedoel, watter ego wat hier rondhang kan skryf Liefde is ’n man wat jou granate sal ontpit?”

“Beslis nie my eks, Kelvin, nie.”

Mysi beduie na ’n plomperige vrou met dik hare wat soos halfmasvlae langs haar ore hang: “Dalk sý. As sy verby haar selfopgelegde genialiteit kan beweeg.”

Carina kyk na waar ’n plakkaat van Jacques Rynhard byna ’n halwe verdieping hoog teen die muur pryk. Daar is iets in sy oë. ’n Selfversekerde kyk wat vanuit ’n niemandsland waarneem en teleurgesteld is met wat hy sien.

Sy glimlag verklap niks. Dit is nie ’n aangeplakte kamera-glimlag nie. En hy neem meer van jou in met een blik as nadat hy jou CV onder oë gehad het.

Jacques Rynhard dra ’n ligte stoppelbaard op die plakkaat, asof hy vir twee dae nie geskeer het nie. Dit laat hom nog aantrekliker lyk. Sy hare en sy vel is bruingebrand.

“Daai bek sal jou bewusteloos soen,” fluister Mysi.

Op ander foto’s, waar hy vollyf gewys word, is dit duidelik dat hy ’n swemmerslyf het. Geen oordadige gimgeboude spiere wat bult onder te stywe T-hemde nie. Net ’n doodgewone liggaam in proporsie.

Die reuk van die eiers, parfuum, asook die kameraflitse en die gille van bekendes wat mekaar omhels, raak nou vir Carina soos ’n oorversierde koek.

“Ek gaan huis toe.”

Mysi keer. “Jy kan nie, want jy vaar saam met hierdie bootjie deur Hurricane Katrina en jy gáán na sy toespraak luister!”

Carina wonder hoe Jacques Rynhard oor hierdie kannibalistiese sirkus voel. Wie van hierdie mense ken hy werklik? Wie is hier omdat hulle regtig hier wil wees om hom vir sy prys te vereer? En wie is teenwoordig bloot om raakgesien te word en hul eie loopbane te bevorder?

Hy is daarvoor bekend dat hy nooit na sulke glansgeleenthede kom nie. En nou moet hy vanaand opdaag omdat hy ’n prys kry. Kan nie vir hom maklik wees nie.

In haar poging om weg te kom, steek Carina haar hand uit na die tafel agter haar. Sy vat ’n boek raak en druk daarop. Twee boeke tuimel af en Mysi keer. Mense begin in hulle rigting te draai.

Sy kyk vinnig na die boek in haar hand in ’n flou poging om voor te gee dat niks skort nie. Dit is Die enkeling waarvoor Jacques vanaand die prys kry. Op die voorblad is ’n stoomtrein wat deur ’n landskap beur. Langs die trein staan ’n seuntjie wat vir die trein waai, seker nie ouer as agt nie.

Carina maak die boek oop. Uitgegee deur Meyer de Necker staan voorin. En wanneer sy omblaai: Opgedra aan die meisie wat nie weet waar sy heen gaan nie.

Carina blaai terug na die blad met uitgewersinligting. Voorblad: ’n skildery deur Lena Aucamp, staan daar.

“Presies wie is Lena Aucamp?” vra Carina.

“Maar net een van die coolste skilders in die dorp.”

“Picasso was ook. So?”

“Haar ateljee is in Braamfontein.”

“En jy weet dit omdat …?”

“Ek ’n foto-artikel oor haar moes doen toe ek nog voorskote by Die Huisvrou gevou het. Het jy dit nie gelees nie?”

Carina onthou dit vaagweg en kyk na Die enkeling se voorblad.

“En as jy in die kwart-oor-rigting kyk, sal jy haar sien aan die hand van ooglekkergoed.”

Carina kyk oor Mysi se skouer.

Hulle kom tussen die mense deurgestap – ’n pragtige, ongekunstelde meisie en ’n lang, formele man langs haar.

Lena Aucamp en haar vriend loop langs hulle verby. Vir ’n oomblik kan Carina nie reageer nie. Sy weet nie hoekom nie, maar sy voel hartseer. Onthou skielik weer die verstarde uitdrukking op die swemmer Elmien Malan se gesig waar sy in haar eie bloed gelê het.

Mysi begin foto’s neem. “Ekskuus tog! Gee julle om?” vra sy en neem nog ’n rits terwyl Lena en haar vriend asosiaal na die kamera staar. “Hoe lyk dit met so ’n klein-klein kiertsie van ’n glimlaggie?” vra Mysi.

“Wat is daar om oor te glimlag?” vra die man.

Ook Lena bly uitdrukkingloos. Om die waarheid te sê, daar is ’n soort verwilderde uitdrukking in haar oë, en dit is duidelik dat sy gehuil het. Sy kyk vinnig en senuweeagtig rond, asof sy Jacques tussen die mense soek.

Sy is ’n pragtige meisie. Carina se ma sou na Lena verwys het as ’n “rabbedoe”. Daardie wonderlike woord wat in onbruik geraak het. G’n wonder Jacques Rynhard het vir Lena Aucamp geval nie.

Sy lyk na die soort meisie wat swart koffie sal bestel en dan ys daarin sal gooi om dit af te koel omdat sy nie kan wag om dit te drink nie. Ongekunsteld, doodnatuurlik en apart van die massa. Wat ’n vloerlap om haar smal heupe en mooi borsies sal draai en steeds minnesange sal inspireer. Wat ’n man met haar sproetjies sal laat kook. Wat net so gemaklik sou gewees het indien sy kaalvoet deur die veld sou hardloop as in vanaand se meer formele uitrusting.

En wat net rooiwyn sal drink en oudhede soos antieke skaaltjies in romantiese winkels sal aanskaf.

Carina bekyk Lena se mooi bene. Bene wat gereeld fietsry. Dalk saam met Jacques. Sy wonder of Lena by die jaagduiwel kan byhou.

Moontlik verkies sy fietse in plaas van motors, loop sy eerder deur die reën op nat teerstrate as oor die strand. Haat sy sonsondergange oor die see, maar is verlief op die son wat deur die Hillbrow-toring middeldeur gesny word. Wat liefde met Jacques sal maak, ’n klokkie sal hoor en die deur kaal vir Mr Delivery sal oopmaak.

En dan die man langs haar, wat gereeld na sy selfoon kyk asof hy wag vir ’n boodskap. Lank, formeel, soos ’n model wat perkoleerders adverteer. Gesofistikeerd, selfversekerd, kiertsregop en met ’n kollietjie teen sy wang waar hy homself seker raakgeskeer het.

Sy oë kyk stip na Carina asof hy haar wil waarsku om hom nie met vrae te verveel nie. (“Waar het alles begin?”) Daar is ’n ongelukkige trek om sy mond. Maar die man is George Clooney-aantreklik – sy hare gejel. Hy moes ure daaraan spandeer het. Hy sal ’n meisie probeer verlei met oesters wat hy in haar keel laat afglip, en lang teue van sy whiskey neem. Sal noupassende hemde met smal dassies dra. En sal die blinkheid in sy oë soos Kersboomliggies aanskakel.

Maar dit is die manier waarop hy ongereeld asemhaal soos iemand wat te vinnig trappe geklim het, wat haar interesseer. Hy is ook gespanne. Kyk vinnig tussen die mense deur.

Sonder dat sy haar kan beheer, stap Carina nader.

“Ek is Carina Human van Montage.”

Hulle oë rus op haar asof hulle presies weet wat sy gaan vra.

“Ek is Lena Aucamp en hy is Jan-Paul Otto.” Mooi stem. Donker klank. Jonk, maar volwasse.

“Gee julle om as ek ’n paar vrae vra?” Haar redakteur raas altyd met haar as sy onbekende mense “jy” of “julle”. Maar sy kan die twee nie met die beste wil ter wêreld “u” nie. “Die vrae sal nie lank duur nie, Lena. Jan-Paul.”

“Ons het nie eintlik iets te sê nie,” antwoord Lena.

“Is ek reg as ek sê dat jy die kunstenaar Lena Aucamp is wat al Jacques Rynhard se boekomslae ontwerp het?”

Lena kyk rond asof sy na die ware Lena Aucamp soek. Die Lena wat stories in Jacques Rynhard se oor fluister en stil kritiek op sy manuskripte gee. Toe knik sy. En in die manier waarop Lena na haar kyk, herken Carina skielik dieselfde verlatenheid as wat sy die afgelope paar dae in haarself ontdek het. Sy voel soos ’n boom kaalgestroop deur die winter. En hoekom sou Jacques nie saam met Lena opdaag nie? Of wil hy ’n dramatiese enkelverskyning maak?

Mysi tree tussenbeide: “Julle ken natuurlik vir Jacques Rynhard?” Sy lag verskonend in Lena se rigting. “Baie goed, verstaan ek.”

Lena kyk na Mysi asof sy pas gesê het daar groei rape op Venus. Sy antwoord nie.

Maar Jan-Paul knik. “Ja. Ons was saam op skool.”

“Op skool?” Carina kyk vinnig na Jan-Paul. “Daar is baie min inligting oor hom op die internet en hy is nie op Facebook nie.”

“Vra jou vrae vir Jacques self.” Jan-Paul probeer Lena tussen die mense deurstuur, maar Carina kry nog ’n laaste woord in.

“Lena. Ek lees op die internet dat jy en Jacques al sedert skooldae …”

Lena maak ’n beweging met haar hand. Carina herken weer daardie hartseer. Die isolasie wat oor haar gesig kruip. Lena se oë beweeg tussen die mense deur asof sy die antwoorde daar gaan kry.

“Asseblief.” Moedeloos, asof sy pleit dat die vrae moet ophou. “Hy was maar soos enige ander doodgewone seun. Die nerf van ’n rugbybal afgeskop, wurms in onderwysers se laaie gesit, die stof uit die vlaktes gehardloop, baie pakgekry, fietsgery asof hy ’n weerligstraal is, lokomotiewe met kole gestook, smiley-faces in die sand geteken, kaal geswem. En later begin skryf.” Sy bly stil en Carina kan sien dat ’n gedagte in Lena se kop nesgeskop het. ’n Gedagte wat haar net vir ’n oomblik laat versag. “Hy het altyd … geskryf, soos ’n masjien, soms twee, drie stories tegelyk.”

Is dit ’n verwyt of ’n stelling?

“Maar ek verstaan julle is in ’n lang verhouding. As iemand iets van hom weet, is dit tog seker jy, Lena?”

Lena draai skielik weg: “Niemand weet iets van enigiemand nie.”

“Kan ek ten minste jou kaartjie kry, of kontakbesonderhede?”

Lena kyk hulpeloos na Jan-Paul, maar op daardie oomblik kom ’n man nader gestap.

“My magtag. Die stad se voorste argitek! Geweet jy gaan by jou beste pel se boelsaai-prys wees. Hoezit, bru?” Die man gee Jan-Paul ’n boetvaardige druk.

“Hallo, Fred. Dankie, man,” maar daar is geen emosie in Jan-Paul se oë nie toe hulle vuisstamp.

“Ek is jammer. Maar hét jy dalk ’n kaartjie?” hou Carina koppig vol.

“Maar hoekom het jy ’n kaartjie nodig, poplap?” lag die man wat Jan-Paul as Fred aangespreek het. “Sy kantore se logo is groter as Zuma se glimlag. Dis in die Mullan-gebou in Sandton! Die kantore, nie die glimlag nie.”

Fred en Jan-Paul draai weg om te praat, maar Lena staar strak voor haar. Sy oorhandig haar ateljee se kaartjie tog aan Carina.

“Dankie.” Carina kyk na Lena se kaartjie. “Ek hou van jou werk. So ’n artikel kan baie vir jou skilderye beteken.” Asof sy die aandag wat sy aan Lena spandeer om nuus oor Jacques te kry, moet verduidelik.

Lena pluk aan Jan-Paul se arm.

“So. Julle is ook vanaand hier,” sê Fred.

“Ons het hom belowe ons sal hier wees,” antwoord Jan-Paul kortaf.

“Het die nonne vir die priester in die stoombad gesê. Sien jou, pella!” sê Fred en loop laggend weg.

Hulle verdwyn vinnig tussen die mense, en anders as die ander sosiale vlinders neem hulle nie glasies wyn nie. Hulle stap na die ouditorium toe. Lena kyk een keer na Carina asof iets aan haar vir Lena interesseer.

Mysi rol haar oë. “Hoe kon jy daai twee laat wegkom?”

“Lena sal in elk geval net orgasmies reageer op hoe wonderlik Jacques is en hoe talentvol hy is. Ek ken dit al uit my kop. Vra vir enige bekende hoe dit was om saam met ’n regisseur of ’n skrywer te werk, en hulle swymel vir vyf minute, waarvan ek nie een woord kan gebruik nie! Dan kraai die haan drie keer op die agtergrond.”

Jan-Paul en Lena verdwyn in die ouditorium. “En óf hulle is onheilig arrogant, óf hulle haat hierdie perdebyneste net soveel soos jy! Elke angel dra ’n kort swart nommertjie sodat die gif net-net nie uitdrup nie.”

Carina draai terug na die boekuitstalling. Sy tel nog ’n roman van Jacques op. Met ’n uitsig op die stad. Die omslag wys drie kinders wat in ’n poel water swem. Sy maak die boek oop.

Uitgewer: Die Francke-Uitgewery. Voorbladontwerp: Lena Aucamp.

Toe Carina na die agterblad kyk, sien sy ’n foto van ’n jonger Jacques wat voor ’n tikmasjien sit. Dit lyk nie of hy daarvan bewus is dat hy afgeneem word nie. Foto: Alicia Francke, staan daaronder geskryf.

“Tikmasjien? Wie tik nog op tikmasjiene?” vra Carina hardop.

“Jacques en Woody Allen. Het jy nog nie gehoor dat Woody steeds sy draaiboeke op dieselfde tikmasjien skryf wat sy ouers vir hom gegee het nie?” lag Mysi.

“Maar Jacques seker tog nie!”

“O ja, suster. Dis die een ding wat ek van hom weet. Pas seker by sy image as ernstige skrywer. Hy het darem nie ’n pyp of ’n glas brandewyn in die hand nie. Stel jy nou in hom belang?”

“ ’n Tikmasjien!” Asof sy dit steeds nie kan glo nie.

Carina loop tussen die mense deur en kyk met hernieude belangstelling of sy Jacques iewers sien. Maar daar is geen teken van hom nie.

“As jy Jacques Rynhard gewaar, gil soos ’n diva wat ’n hoë noot benader!” beduie Mysi.

Dan is Carina buite op die balkon.

Onder haar is ’n welige tuin. En agter die bome die verligte Sandton-geboue. Iemand leun met haar rug na haar toe oor die balkon. ’n Boom gooi ’n skaduwee oor die persoon sodat sy nie kan uitmaak wie dit is nie.

Die vrou suig aan ’n sigaret en blaas die rook tydsaam uit soos ’n karakter in ’n film noir-rolprent. Wanneer Carina langs haar oor die balkonmuurtjie leun, herken sy haar van die foto’s. Dit is Alicia Francke, Jacques Rynhard se vorige uitgewer.

“Ek is Carina Human van Montage. Aangename kennis.”

“Montage?” Alicia stel skielik in haar belang. Carina is al gewoond daaraan. Die naam maak baie deure oop, pienk tapyt en al.

“Dan’s dit jý wat daai storie geskryf het oor die aktrise wie se ma haar weggegooi het en toe weer by Skouspel raakgeloop het?”

Carina was ongelukkig oor die storie. Nog een van die vele wat haar redakteur haar gevra het om te skryf. Dis eers nadat die storie gepubliseer is dat sy gemerk het hoe hy die gegewe gesensasionaliseer het. Melodramatiese beskrywings waarin die aktrise “huilend ineengestort het” en haar ma wat haar “snikkend om die hals geval het” was bykomende inligting wat Gavin, sonder haar medewete, bygevoeg het om die storie beter te laat verkoop.

Al wat nodig was, was ’n sepie-kenwysie.

En Gavin het sy naam onder die hoofkoppe gesit en hare aan die einde geplaas onder Addisionele beriggewing.

“Ja. Maar ek wil eintlik vrae vra oor Jacques Rynhard.”

Alicia Francke vat ’n laaste trek aan haar sigaret, trap dit dood en druk haar hare agter haar oor in. Carina besluit op haar gunstelingvraag, waarop mense gewoonlik dadelik reageer: “Som Jacques in ’n paragraaf op.”

Alicia kyk op en toe haar oë Carina s’n ontmoet, lyk dit of Alicia deur haar kyk. Sy draai haar rug dramaties op Carina en staar oor Sandton uit. “ ’n Verwaande vark.”

Sy dink aan die man met die sagte oë op die plakkate. “O.”

“Ons eie Dorian Gray, and you can quote me on that. Mooi van buite, maar die dorp se grootste cock-teaser.”

Dit tref Carina ontkant. “Wel, ek …”

“En hy is verskriklik temperamenteel.” ’n Oordrewe handgebaar. “Meedoënloos oor wie hy gebruik en hy gee nie om hoe nie. Belowe altyd met daai mooi oë van hom, maar hy gee net iets as dit sy loopbaan kan bevorder.” En amper as ’n nagedagte: “En vol eiewaan.”

Die deeltjie oor die mooi oë sê meer as al haar ander uitlatings saam. Carina het haar iPad ongemerk aangeskakel en neem die gesprek op.

“Maar wat die res betref. Jacques is,” en Alicia handhaaf ’n kort, dramatiese stilte, “ ’n wese sonder siel wat van uitgewer na uitgewer spring en by die hoogste bieder aanmeld.” Sy druk weer ’n lastige krul agter haar ore in. “Ek het sy eerste boeke gepubliseer. Ek het hom gemaak, gehelp, raad gegee, sy bas gered, toe smyt hy my uitgewery weg nadat ek gewaag het om hom te kritiseer. Dis een ding van Jacques. Hy kan glad nie kritiek hanteer nie.”

Alicia klink na iemand wat ’n resep op die radio aframmel en alles probeer inpas voor die stippe van die tydsein. Carina wil reageer, maar Alicia is nou onstuitbaar: “Hy verbeel hom hy kan alles doen. Is die beste skrywer op sy patetiese klein mishoop. Luister nie as ’n mens wil help nie en hou homself so hoflik. So blerrie vriendelik, mens kan kots daarvan!” En selfs harder: “Ek hoop sy skildklier gaan op ’n staking, dan rus Lena Aucamp ’n bietjie. Ek sou nie so baie van myself gedink het as ek hy was nie!”

“Hoe het julle ontmoet?” gryp Carina die kans toe Alicia asem skep.

“Hoe het ons ontmoet?” Aan die manier waarop Alicia dit herhaal, kan Carina hoor dat sy eintlik net op daardie vraag gewag het.

“Ek het een van sy kortverhale in Die Huisvriend gelees. Wanneer was dit tog, 2004, of was dit 2005?” Sy kyk na Sandton City hier na aan hulle. “Gedink daar is talent wat ernstig bestuur moes word. Wat teen homself beskerm moes word. Gehou van wat ek sien … lees.” ’n Huiwering, asof sy haarself korrigeer.

“Hoe het julle ontmoet?”

“By ’n restaurant wat ek gelukkig gekies het. Hy wou in die een of ander boheemse vlooines aan die verkeerde kant van ’n hoerhuis ontmoet. Ek het besluit op ’n Taiwannese restaurant in Mandela Square.” Sy lag. “Ek het hom uit sy gemaksone geneem. En ek wou sien of hy soos ander skrywers lyk: sigaret in die een hand, drankglas in die ander soos in flieks, gewoonlik in ’n saal afgeneem net groot genoeg vir sy ego. Met …” en sy soek na woorde, “rooi tekkies en vuil klere met gate op die regte plekke in sy jeans.” Sy beduie dramaties met haar hand. “Dalk met ’n vetterige poniestert. Vuil naels.”

“Was sy naels vuil?” waag Carina dit.

’n Effense sagter klank. “Nee.” Carina kan sien Alicia dink deeglik na. Sy kyk voor haar uit soos iemand wat op ’n kosbare vaas bie en besluit hoe hoog sy die volgende bod moet insit. “Jacques was toe nog ongekunsteld. Fietsrybene waarmee hy die hel uit Chase gery het …” Sy raak ’n oomblik weg en ruk haar dan reg. “Hy was toe nog onbekend. Net ’n doodgewone boerseun wat langs ’n treinspoor grootgeword het en nog nie die krag van sy eie talent besef het nie.” Sy staar oor die stad uit. “Maar dit was destyds. Nou het die meneer mos uit sy boksie gepop en gedink sy onderarmhare ruik na rose! Luister nie!”

Luister nie na háár nie, dink Carina. Doen nie wat Alicia verwag nie.

’n Stem kondig aan dat die verrigtinge gaan begin.

“Kan ons later verder gesels?” vra Carina en oorhandig haar kaartjie.

“Wat help dit tog? Hy kry vanaand ’n prys. Nou sal sy kop seker nog groter swel as sy ander talente.”

“Ander talente?” Carina herhaal nou alles wat Alicia sê soos ’n jong joernalis wat haar eerste onderhoud doen. Maar dit het die gewenste uitwerking.

“Talente,” haar oë dwaal asof sy iets onthou, “wat hy net vir sekere mense hou.” Sy maak haar pakkie sigarette toe. “Praat liewer self met die ego nadat dit geland het. Enige uitgewer se nagmerrie. Ek moes al sy reklame doen terwyl hy en daai verfkwassie lê en vry het. Skurk.”

Die ligte word nou aan en af gedompel en die laaste oorblywende mense stroom die ouditorium binne.

Alicia loop haastig verby Carina. Sy sluit by ’n gryskopman aan wat Carina herken as John Francke, Alicia se pa en die bestuurder van die Francke-Uitgewery.

Dit neem Carina ’n rukkie om Mysi op te spoor waar sy saam met ’n klomp ander fotograwe by die deur saamdrom. “Ons weet nie van watter kant af hy gaan kom nie!” babbel sy. “Daar is drie ingange en hy is nog nie by een van hulle gewaar nie!”

Die laaste mense wat by die deur saamgedrom het, neem nou hul sitplekke in.

Lena Aucamp en Jan-Paul Otto sit reeds in die middel van die ouditorium. Lena leun agtertoe en knik hoflik wanneer iemand haar ’n kompliment gee. Jan-Paul groet iemand, maar sy gesig bly strak. Hy en Lena kyk weer albei na die verhoog, maar dit is duidelik dat hul gedagtes elders is.

Lena pik selfs ’n traan weg. Of sy raak dalk net aan haar wang.

Toe stap John en Alicia Francke in. Die gehoor bedaar. Almal kyk na hulle en Carina, wat nog by die deur staan, wonder opnuut hoekom Gavin Greeff nie ook vanaand hier is nie. Hy gaan na vele glansgeleenthede, gewoonlik alleen – sy vrou vergesel hom selde. Daar is gerugte dat Gavin se huwelik besig is om te wankel, en dit kan dalk iets met sy afwesigheid te doen hê.

Die Franckes stap verby Meyer de Necker, Jacques se huidige uitgewer, en gaan sit. Alicia en John knik wanneer mense hulle groet en Alicia glimlag, maar dit is ’n gedwonge glimlag – soos die meeste mense hier vanaand. Venynige lippe wat weggetrek word om slagtande te openbaar.

Carina en Mysi gaan sit.

Jacques se ma, Liebet Rynhard, moet tog vanaand hier iewers wees. Sý sal seker meer oor haar seun te sê hê as die ander.

Agter Carina praat mense gedemp en sy hoor een stem uitstyg: “Arrogante vleeskoek sal seker sy eie kollig op die verhoog wil hê!”

’n Ander stem val in: “Wat verwag jy van ’n seuntjie wat langs ’n treinspoor grootgeword het? Ek was by sy eerste boekbekendstelling. Jy kan die seuntjie uit die agterbuurtes haal, maar nie die agterbuurtes uit hom nie!”

“Ek hoor hy’t sy pad in die bedryf ingeslaap!”

“Skynbaar begin by daai vrou in New York wat hom alles geleer het.”

Carina draai om na die stemme agter haar, maar op daardie oomblik verdof die ligte sodat sy nie die pratendes behoorlik kan identifiseer nie.

’n Kollig val op die verhoog en Carina rek om beter te kan sien. Mysi kom halfpad orent om die eerste foto van Jacques Rynhard te neem, maar ’n gryskopman verskyn. Die gehoor gee beleefd applous.

“O Oklahoma! Natuurlik sal hý die prys oorhandig! Watch die lang druk wat hy Rynhard gaan gee! Donnerse ou queen.” Weer die stemme van agter af.

Die gryskopman gaan staan agter ’n kateder. Agter hom verskyn ’n reuse-skyfie van Jacques Rynhard met dieselfde rustige kyk in sy oë. Uit die foto kan Carina sien hy is gemaklik met homself. Geen pretensie, geen aansit nie. Net Jacques Rynhard.

Die professor stel homself bekend en verwelkom die aanwesiges. Hy vertel enkele anekdotes wat die gehoor hoflik laat lag. Sommige aanwesiges bly egter stug, asof hulle die spreker wil ontsenu, en kyk vinnig rond na wie nog in die gehoor sit.

Nou bepaal Carina haar by wat die professor kwytraak: “Jacques Rynhard staan nie onderhoude toe nie – dit is ’n welbekende feit.” Weer ’n hoflike gelag, behalwe van die uitgewers se kant. “Ons weet ook almal dat hy gereeld die pad Punda Maria toe of Prins Albert toe vat om op sy eie te gaan skryf.” En dan met ’n glimlag en geligde wenkbroue: “En altyd op ’n tikmasjien.”

Mense knik of kyk betekenisvol na mekaar.

“Ons weet ook dat hy ’n alleenloper is. Hy skryf graag oor mense, maar hy stel hom nie maklik aan hulle bloot nie, vandaar miskien die vele gerugte wat oor hom in omloop is.”

Skielik is die venynige skinderbekke agter Carina stil en sy verbeel haar dat die spreker in hulle rigting kyk.

“Wel. Laat ek eerlik wees, oor sy enkelingskap.” Hy beklemtoon nou elke woord: “Enkellopend op een uitsondering na.” Die professor skerm sy oë teen die skerp ligte. “Lena, waar is jy?”

Mense kyk rond. Lena lig ’n onwillige hand.

“Behalwe die skilderes Lena Aucamp: Die liefde van sy lewe.” ’n Ligte applous gaan deur die mense om haar. “Dis ’n welbekende feit dat Jacques en Lena al sedert skooldae ’n verhouding het. Ek weet nou nie of ek uit my beurt praat nie, maar ek het iewers ’n voëltjie hoor fluit dat daar binnekort huweliksklokkies gaan lui!”

Lena maak ’n hulpelose beweging met haar hande en ’n paar kameras flits in haar rigting. Sy klou skielik aan Jan-Paul se elmboog asof sy hom wil vra om haar teen al die aandag te beskerm.

Die professor vervolg: “Nadat Jacques uit New York teruggekeer het, het hy elke jaar of twee ’n roman geskryf. Daardie resensies was gemeng. En intussen was daar verskeie tydskrifverhale, selfs ’n verhoogproduksie, maar hy het geen geheim daarvan gemaak dat hy romans verkies nie.”

Laatkommers skarrel vir oop sitplekke en Carina kyk of sy Jacques dalk tussen hulle kan sien. Die professor knik na iemand in die gehoor.

“Sy roman Baanbreker was inderdaad baanbrekerswerk. ’n Avontuurverhaal van hoë gehalte wat Jacques ook in ’n verhoogstuk verwerk het. Kunstefeeste en kunstekabinette het die teks aanvanklik afgekeur as te kommersieel, maar toe dit uiteindelik in die Staatsteater opgevoer is en rekords gebreek het, was dieselfde kritici se monde gesnoer.”

Akteurs wat in die produksie opgetree het, maak geesdriftige geluide en verskeie mense fluister onthuts vir mekaar.

“Feit bly staan, of Jacques Rynhard avontuurverhale of rillers geskryf het, waarin hy aanvanklik gespesialiseer het, of romans van ’n meer ernstige aard soos Brandwag en Nagreisiger, hy het met elkeen grense verskuif en het vreesloos geskryf. Kommersieel, ja, maar sy werk was steeds van literêre gehalte.” ’n Dramatiese stilte. “Maar hy het ook baie vyande gehad.”

Die skuldiges is nou doodstil.

Die professor blaai tussen sy notas rond soos iemand wie se toespraak opgedroog het en wat nou na ’n ander onderwerp wil spring. Dan beweeg sy oë na Alicia en John Francke. “Vele het hom nie werk gegee nie omdat hy hulle geïntimideer het – hul verskoning was dat hy reeds te veel hooi op sy vurk het. Of dat hy met te veel bagasie gekom het.” Carina verbeel haar dat hy in die rigting van ’n vrou links van haar kyk wat strak voor haar uitstaar. “Jacques sou later jare ook ernstige meningsverskille met uitgewers hê wat hom ongewild sou maak. Hy het altoos gesê dat hy nie kan skryf soos ander mense wil hê hy moet skryf nie, al was dit sogenaamd vir sy eie beswil.”

Dit is nou doodstil in die ouditorium. Alicia skuif rond en vir ’n oomblik dink Carina dat sy gaan uitstap, maar haar pa keer haar.

“Maar toe verskyn Die enkeling. In ’n private gesprek wat ek destyds met Jacques oor ’n glasie ystee gevoer het, want Jacques drink mos nie eintlik nie,” en daar is ’n gegiggel uit die gehoor, “het ek genoem dat die roman dalk ’n prys kan wen. Maar hy het net gelag en gesê dat sy bekendheid as skrywer sy eie grootste vyand geword het, omdat die kritici en die publiek sekere stories van hom verwag het wat hy nie meer wou skryf nie. En dat hy nie die soort skrywer is wat met pryse vereer word nie.”

Die professor kyk op en dit voel vir Carina of hy reguit na haar kyk. “Toe die komitee dus onlangs ’n wenner vir vanjaar se Basson-prys vir Letterkunde moes toeken, en dit het uit nuwe en jonger keurders bestaan as die gewone groep …” Een of twee mense gee flou applous en hy gaan voort: “… is hierdie veelbesproke en kontroversiële roman gekies.”

“Dink jy daar’s nog wyn in hierdie plek?” vra ’n stem sag agter Carina. “Dit raak nou erg boring.” ’n Resensent twee stoele van haar af maak vulgêre masturbasiebewegings oor sy kruis terwyl hy na die professor kyk.

“Daarom is dit vanaand my voorreg om die Basson-prys vir Letterkunde … aan Jacques Rynhard te oorhandig!”

Wanneer die kollig na agter op die verhoog skuif, draai die professor om en wys na die ruimte agter hom. “Dames en here.” Hy skep asem. “Applous vir die skrywer van die jaar!” Weer ’n dramatiese pouse soos daar altyd in advertensies is. “Jacques Rynhard!”

Lede van die gehoor kom op hulle voete. Sommige mense bly egter sit, arms dramaties gevou, maar diegene voor Carina staan op en klap met hul hande bokant hulle koppe. Mense rek hul nekke om Jacques te sien. Fotograwe loop na die verhoog toe. Hier en daar gaan ’n “bravo!” op. Selfs “Jacques!” van ’n paar mense.

Die professor herhaal: “Jacques Rynhard!” Hy beduie. “Komaan, Jacques, moenie skaam wees nie! Ons wag vir jou!”

Die applous word volgehou en mense begin sy naam in ’n koor sê: “Jacques! Jacques! Jacques!” Daar is fluite en selfs voete wat gestamp word.

Carina kyk na Lena wat ook nou staan, haar gesig uitdrukkingloos. Mense begin ongemaklik met mekaar praat. Die kollig skuif oor die verhoog en soek na Jacques Rynhard terwyl sy naam uitgeroep word.

“Jacques Rynhard? Wo bist du?”

Mense kyk oor hul skouers na die deure agter in die ouditorium. Ander soek hom in die gehoor. Daar is ’n beroering tussen die mense, asof Jacques tussen hulle is en probeer om sy pad vorentoe te baan.

Maar Jacques Rynhard verskyn nie.

Die professor kug selfbewus terwyl die gehoor mompel en rondkyk.

Mysi hou haar kamera bokant die mense se koppe om ’n foto van Jacques te neem as hy sou verskyn.

Geen Jacques Rynhard.

Die applous bedaar. Mense begin hardop praat. Die professor tik-tik verleë teen die mikrofoon soos iemand wat ’n klanktoets doen – sy toespraak klaar gelewer met geen woorde of verskonings meer op die papier voor hom nie. Die tikklanke klink hard deur die ouditorium.

“Jacques? Waar is jy?”

Maar Jacques Rynhard is nie daar nie.

Alicia Francke kyk om, reguit in Carina se oë. Sy gee ’n effense glimlaggie en loop dan tussen die verbaasde mense deur. Sy leun oor en oorhandig ’n nota aan Carina. Haar pa volg haar.

Hier is ’n storie. Ontmoet my môreoggend tienuur by Corner Café, Craighall. Moenie laat wees nie. A.

Carina kyk na die warboel om haar.

En sy dink dat sy die Corner Café sal moet google, want sy het nie ’n idee waar dit is nie.

Ballade vir ’n enkeling

Подняться наверх