Читать книгу Ballade vir ’n enkeling - Leon van Nierop - Страница 8

5

Оглавление

MAANDAG 7 APRIL 2014, 08:30

Gavin Greeff is ’n groot man – bonkig, ongemaklik, lomp en grimmig. Carina wonder of hy ooit glimlag. Dalk grynslag hy soos ’n doodskop. Hy het ’n permanente frons en daar word gespekuleer dat sy wenkbroue eintlik tussen sy oë in ’n reguit lyn ontmoet. Hy moet dit glo daagliks skoonskeer.

Sy sekretaresse het eendag toevallig gemeld dat sy seker is Gavin het popgespeel toe hy nog ’n kleuter was, veral vanweë die aksiefigure uit rolprente soos die X-Men-reeks wat hy versamel. Iemand het eendag vir hom ’n lappop gegee en hy het die verrinneweerde speelding op sy lessenaar neergesit, waar dit met stom oë na sy slagoffers oorkant hom gestaar het tot dit eendag gesteel is. Of verlos is.

Gavin is permanent gespanne. Die geringste krisis laat hom uithaak. Mysi het eendag gesê dié bleeksiel kry die ritteltits wanneer ’n probleem opduik. “Daar gaan eendag nog Help my! op sy bors verskyn soos die werklike Gavin probeer om uit te kom, nes in The Exorcist. Ons hou maar altyd die noodhulpkissie gereed wanneer hy ’n joernalis beetkry.”

Carina werk tans aan ’n exposé oor ’n akteur wat in advertensies optree teen dwelmmisbruik, maar self dwelms gebruik. Haar navorsing het tot dusver ’n paar ander bekendes in die modebedryf ontmasker, maar sy wil eers baie seker van haar feite maak alvorens sy skryf. Sulke stories vernietig mense se lewens, maar indien hulle skade aanrig, moet dit aan Montage se groot klok gehang word, elke Saterdagoggend wanneer die blad verskyn.

Hiervoor doen sy weke lank navorsing, kontak die regte persone, ontmoet dwelmsmouse skelm, kry vriende uit die modebedryf vir inligting, en maak gebruik van die baie kontakte wat sy opgebou het. Sy skryf al die inligting op kaartjies neer wat sy om haar rekenaar rangskik wanneer sy met die storie begin. En dan skryf sy. Op dié manier het sy al twee joernalistiekpryse gewen. Maar dit was vir harde misdaadstories wat sy feitelik en op die man af geskryf het.

Harde misdaadstories soos ’n mafiabaas wat vasgetrek is, dwelmbendes wat gearresteer is en drie opspraakwekkende moordsake.

En toe die moord op Elmien Malan. Om ’n meisie teenoor wie sy dikwels in ’n onderhoudsituasie gesit het so oopgekerf te sien, het die einde van haar hardenuus-loopbaan beteken. Soos so baie ander joernaliste het sy vir terapie gegaan, maar selfs dit kon haar nie help nie.

En nou doen sy sagte stories vir Gavin Greeff by Montage. Iemand moet die rekeninge betaal. En nou nog die verdomde e-tol-dreigemente ook wat sy gereeld per SMS ontvang omdat sy nie geregistreer het nie.

Gavin Greeff kyk sy joernaliste selde in die oë. En wanneer hy praat, wend hy gedurig lipsalf aan en sluk-sluk sodat sy adamsappel grimmig op- en afspring.

“Vandag is dit appelkoos-lipsalf, gister het mens verstik aan die aarbei!” Mysi se kommentaar toe hy nou die dag in ’n vergadering gedurig aan sy lippe geraak het.

Van sy joernaliste wat witvoetjie soek, gee dikwels vir hom aksiefigure present – die mees onlangse is Iron Man. “Ironies. Want grillerige Gavin het vla in sy pype, nie yster nie,” het die nuusredakteur onderlangs gemompel toe hy dit sien.

“Ek wens Agata wil ’n bietjie in gruwelike Gavin se kantoor kom uithang. Sy sal weke lank woordorgasmes hê,” het Mysi nou die dag gelag toe Agata weer ’n wysheid kwytgeraak het: Liefde is as jy sy oggendasem kan gedoog.

Gavin oefen twee keer per dag fanaties in die gimnasium in die Montage-gebou – soggens vir ’n uur voordat hy begin werk en smiddae selfs langer nadat hy sy werk afgehandel het. Soms gaan draf hy daarna. “Hy werk baie duiwels in hom dood, en as hulle nog steeds kriewel na al daai bench-presses, draf hy hulle onder sy tekkies flenters.” Dit was Mysi se kommentaar nadat hy haar nou die dag amper onderstebo gehardloop het.

Na sy draf- of gewigtesessies bring Gavin minstens tien minute in die stort deur, asof hy ou sondes probeer afskrop tot sy vel rooi is daarvan.

Joernaliste beskryf sy gimnasiumroetine as “masochistiese sessies wat die Marquis de Sade sou ontstem”. Hy draf verbete op die trapmeul tot die sweet hom aftap, seker om te sorg dat daar nie ’n ons vet aan sy liggaam is nie, maar net spiere. (Vir wie om te bewonder? Hyself?) Sy ruie borshare blink daarna van die sweet as hy uit die gimnasium kom. Hy dra altyd los, oop hemde juis om dit te beklemtoon.

“Ek sweer hy dra ’n borshaar-pruik,” giggel Mysi.

“Is daar so iets?” het Carina gewonder.

“Jong, as hulle boskasies op pankoppe kan inplant, kan hulle Gavin se borshare voed.”

Carina het eendag per ongeluk in Montage se gimnasium beland en gesien hoe Gavin gewigte wat duidelik te swaar is vir hom verbete bo sy kop uitstoot, sy hemp papnat van die sweet en met are wat op sy arms wou ontplof. En elke keer as hy gim, dra hy een van twee T-hemde met I am away from my computer! en Jou ma se stasie! daarop. Sy het altyd gedink hy sal kaalbolyf gim, maar hy stel nie sy spiere ten toon nie. In elk geval nie sover sy kon sien nie.

Vir Carina is Gavin ’n homp harige vleis met ’n wrede gesig en ’n prominente kakebeen wat sy gesig na ’n doodskop laat lyk. Daar is permanente blou kringe onder sy oë wat haar laat wonder of hy ooit slaap. En die kringe in sy doodskop kan beslis nie van ’n oordadige sekslewe wees nie, want die gerugte loop rond dat sy vrou eintlik lesbies is en hy met haar getrou het vir haar geld. Haar miljardêr-oom besit Montage en Gavin het destyds hier as ’n onervare joernalis begin werk. Toe skryf hy die een sensasionele storie na die ander. Hy het hulle soos wors in ’n worsmasjien uitgeryg en Montage se verkope laat verdubbel.

Vyf jaar later was hy redakteur, danksy Mariaan, sy vrou, en haar skatryk pa. Nou wonder Carina wat gaan gebeur indien die huwelik finaal inmekaartuimel. Sou die familie-uitgewers die indringer uitskop?

Wanneer hulle vergaderings hou, teken Mysi graag ’n onderstebo smiley-face omdat Gavin se mondhoeke dikwels ’n ontstemde trek het asof iemand pas vir hom gesê het daardie pyn waarvan hy nou bewus word, is aambeie. En Mysi beklemtoon die ruie wenkbroue wat soos ’n reguit pad deur die Karoo oor sy oë strek. Frankenstein, thou hast met thy creature again! skryf sy as sy regtig vies is vir Gavin.

Gavin praat in kort, saaklike sinne met die joernaliste. Geen “Hoe gaan dit?” of “Lekker storie, goeie terugvoer” of “Ek moes jou artikel net drie keer herskryf” nie. Altyd net opdragte in ’n nukkerige stemtoon asof hy nie genoeg asem het om volsinne te praat nie, en altyd daardie skelm oë wat selde direk na ’n mens kyk. Hierdie afknouerigheid het die nuusredakteur, Ben, laat gis dat hy ’n opperste boelie op skool moes gewees het.

Nog gerugte wil dit hê dat sy oog lekker ronddwaal en dat hy elke jong vroulike joernalis wat by Montage wil werk, eers probeer “inwy”, maar selde slaag. Ook dat hy daarvan hou om met leer geraps te word – daarom dat hy altyd sulke groot lyfbande dra. En dat die fisieke geseling beslis nie deur sy vrou toegepas word nie. Dit doen sy met haar tong. En daar word baie gepraat oor haar en haar familie se geldelike houvas op hom en Montage.

Terwyl hulle op Gavin wag om die Maandagoggend-nuusvergadering te open, kyk Carina na haar notas oor Alicia. Sy het daarna nog navorsing op die internet gedoen en redelik baie oor die sosiale vlinder en uitgewer te wete gekom.

Toe doen sy navraag oor hoe ander mense die werkverhouding tussen Alicia as uitgewer en Jacques as skrywer ervaar het.

Carina het gister twee teksredigeerders opgespoor wat vir die Francke-Uitgewery werk en hulle gebel, en hulle kommentaar was dat Alicia “nog altyd in Jacques se broek wou inkom, maar dit nooit kon regkry nie”. Haar onderhoud met Alicia gisteroggend het dit bevestig. Want al het Alicia hoe hard probeer, Carina se instink het bevestig dat Jacques nooit ontrou aan Lena was met Alicia nie. Indien dit sou gebeur het, sou daardie inligting lankal uitgelek het. Daarvoor sou die bedryf en Alicia gesorg het.

Nou, hier waar sy saam met die ander joernaliste om die tafel sit, kry Carina Jacques steeds nie uit haar gedagtes nie. En vandag is dit ekstra moeilik omdat sy foto in feitlik elke koerant pryk. “ ’n Reklamefoefie,” het een van die twee redigeerders met wie Carina gister gepraat het dit genoem.

En iemand anders: “Ek dink hy vlug van Alicia. Ek sweer sy’s by die mafia betrokke! Hy is dalk iewers in sement toegemessel. Of in ’n mynskag afgegooi.”

Mysi loer oor haar skouer na Stefan Loots, ’n nuwe joernalis wat onlangs begin het en wat nou ingestap kom. “Die liewe Heer seën sy voorsate wat die Groot Trek oorleef het.”

“Hy’t jou gehoor!” waarsku Carina.

Stefan is een van Gavin se nuwe aanstellings – ’n ondersoekende nuusjoernalis wat tot by die fondament van ’n storie sal delf, veral vir die brokkies inligting wat dikwels deur ander joernaliste se vingers glip. Feite wat aanvanklik nutteloos skyn te wees, maar uiteindelik die deurslaggewende faktor is wat die waarheid agter die verdigsels en ontkennings ontbloot. Maar omdat hy Gavin se nuwe ster-aanstelling is, is hy tans besig met drie groot stories “waarvan een die ANC-regering se korrupsie na ’n landsdienskamp sal laat lyk” (Stefan se woorde). En hy is glo op die punt om ’n deurbraak te maak.

Dit is die soort stories wat Carina eintlik moet doen. Maar nie nadat sy by Blitsnuus bedank het juis oor die aard daarvan nie.

Carina kan die spanning aanvoel, soos by ’n klas wanneer die onderwyser laat is en hulle sy haastige voetstappe hoor nader kom. Albert en Katy, twee van Montage se voorste joernaliste, wag gespanne op Gavin. Albert is op sy selfoon doenig en Katy blaai deur ’n oggendkoerant en veins gemaklikheid, maar haar hand bewe.

Teen die kennisgewingbord staan taalreëls wat Gavin in groot swart letters aangebring het: Bemoei met, beywer vir, op ’n dorp, in ’n stad. En ’n Agata-strokie is eenkant vasgedruk: As jou pad jou deur die hel vat, foeter voort! Carina wil dit herken as ’n aanhaling van Winston Churchill.

“Terwyl ons wag,” sê Ben, die nuusredakteur, en vroetel deur sy notas, “het die nuwe-politieke-party-storie tande? Moet ons iemand uitstuur?”

Katy skud haar kop. “Geen befondsing. Glo ’n verbitterde ANC-kader wat na die verkiesing ’n nuwe party wil stig, maar ons dink dis ’n wank.”

“Sommer net in die algemeen,” en Ben vee oor sy iPad, “die meeste stories is te lank. En die koppe trek nie genoeg aandag nie. Dit moet sappiger wees, met minder woorde, maar meer punch. Kry beter insae en meer aanhalings van betrokkenes. Vra vrae wat ander te bang is om te vra. En daar is te min menings.”

Gavin kom onverwags ingestap en ’n stilte sak neer. Selfs Hitler in sy raadsaal kon nie so ’n stilte veroorsaak het nie. Hy strek sy nek asof hy ’n spier verrek het. Sy hemp is weer oopgeknoop en sy borshare blink oudergewoonte asof hy dit eers met water bespuit het.

Dit ís ’n pruik! skryf Mysi in haar notaboek.

Gavin pluk sy hemp heen en weer asof sy bolyf nog nie behoorlik droog is na sy stort nie. Sy hare is nat en sy gesig blink van die vogroom wat hy pas aangewend het. Hy roep kombuis se kant toe na twee joernaliste: “Buya lapa wena! Julle kan later drink en vreet!”

Mysi en Carina kyk vinnig na mekaar. Die twee groentjies skarrel gespanne met polistireen-koppies vol kitskoffie nader en kom sit.

Gavin is klinies gladgeskeer asof hy ’n sementmuur met ’n troffel skoongeskraap het sodat nie eers die geringste stoppel kon oorleef nie. Sy hemp span styf om sy borskas om sy spiere deur die materiaal te beklemtoon. En sy jeans sit soos ’n tweede vel aan hom.

“Daar’s nie eers plek om ’n wind te laat nie,” fluister Mysi.

“My inboks is leeg.” Gavin gaan sit en leun aggressief vorentoe. Selfs hier waar sy sit, ruik Carina die duur naskeermiddel wat hy gebruik. “Praat met my!” Hy draai na Carina en Mysi. “Het die tannies iets op die hart?”

Carina sug. Stefan werk op sy selfoon.

“Kan ek julle aandag kry?” Gavin klop met sy kneukels op die tafel en kyk na die selfone wat nou op stil gesit word. Stefan tik vir oulaas ’n SMS.

“Huur jou hoere in jou eie tyd, nie in vergaderings nie, Loots.”

Stefan stuur vinnig en skakel die selfoon af.

Gavin wend hom weer na Carina. “Jou naam is so afwesig in my inboks soos Justin Bieber in ’n komkommertuin. Hoekom?”

“Daar is nie op die oomblik ’n groot storie nie.”

Gavin draai sy rekenaar met mening na die joernaliste toe. Hy leun oor die sleutelbord van agter en druk telkens Next.

Dit bevat die voorblaaie van vanoggend se koerante:

Bekende skrywer verdwyn!

Jacques Rynhard gee middelvinger vir prys.

Rynhard verdwyn soos ’n rekenaarvirus.

Famous local writer fails to show up for prize.

Is Jacques Rynhard vermoor?

Wie is die ware Jacques?

Reklamefoefie deur uitgewer?

“Wat is jou definisie van ’n storie, Carina?”

“Want die storie is vanoggend doodgeskryf! En jy het gesê ons mag nie sy boek reklame gee nie.”

“ ’n Storie word oud die oomblik wat dit gebeur. Kyk na die twiets wat ons telkens voorspring!” Hy haal diep asem. “Dit gaan oor hoe jy ’n storie lewendig hou. En hierdie een word al deur kluite bedek! Gebalsem en in Toetankamen se sarkofaag weggesluit! Ek weier om te glo dat hierdie storie se koekie toegeklap het!”

“Wel, ek het gister met Alicia Francke gepraat.”

Sy oë helder op. “Starship Enterprise makes contact, finally! Wat het jy uitgevind?”

“Dat sy warm was vir Jacques, maar hom nie kon kry nie.”

“Poplap, dit is so algemene kennis soos die e-tolstelsel wat flop. Gooi my met iets wat ek nie weet nie.”

“Toe kritiseer Alicia sy jongste manuskrip, hy verander van uitgewer en wen ’n prys met daardie einste roman.”

“En jy sê steeds daar is nie ’n storie nie?”

“Dit is die soort storie wat Die Huisvriend reeds gedoen het, of wat die skinderkoerante vat. Dis nie ’n Montage-storie nie!”

Hy pluk weer vinnig aan sy hemp asof hy homself daarmee koel waai. “Wil julle hê Montage moet toemaak?”

“Gavin.” Carina probeer haar stem kalm hou, maar haar keel trek saam van woede sodat sy die woorde beswaarlik kan uitkry. “Die oggendkoerante spekuleer net en skryf die storie dood omdat daar nie tans ander stories is nie. Montage verskyn Saterdae, soos jy weet. Teen die naweek is hy moontlik al opgespoor. Wat meer verwag jy van my?”

“Dat jou bloedhondneus ophou om ander brakke se sterte te besnuif. En nog ’n ding. Die gepeupel wat by sy boekebekendstelling was: ek soek skinder oor hulle. Enige storie! Skryf dus oor Rynhard, maar kry die ander drolle ook wat in die drinkwater dryf.”

Carina sit terug en maak haar oë toe. Sy gaan hierdie man klap. Nou. En dêm hard.

“Hoekom het Rynhard destyds onder ’n skuilnaam begin skryf? Is hy in hotelle se voorportale gesien? Op treinstasies, op busse? Wat sê sy mentally challenged fans, sy kritici, sy frieken girlfriend, sy sielkundige, sy masseur, sy toiletskoonmaker, die ander uitgewers, sy maatjies op skool saam met wie hy ge-circle-jerk het? Het hy al plagiaat gepleeg? Het hy ’n fan pregnant gemaak? Is hy verslaaf aan porn? Huur hy hoere? Moet ék al jou vrae vir jou vra?”

Rondom Carina beweeg haar kollegas se koppe heen en weer asof hulle ’n tenniswedstryd op Wimbledon dophou. Maar die vloermoer is nog nie verby nie. Gavin haal nou al sy frustrasies op Carina uit.

“Ek wil weet hoe dikwels hy sy naels skoonmaak. Ek wil weet of hy Post Toasties vir brekfis eet, hoe hard hy skreeu as hy kom, wat op sy T-shirts staan, watse kakpapier in sy trollie is. Ek wil weet wie hy almal die moer in gemaak het, by wie hy slaap.” Gavin staan op. “Ons berei solank Montage se voorblad voor vir Saterdag: Die kop: Alles wat jy nie van Rynhard geweet het nie! En jy, skattebol, gaan grawe waar dit nie jeuk nie!”

Carina is lus en storm by die deur uit met haar middelvinger in die lug. Maar iets in Gavin se uitdrukking keer haar. Sy voorkop is nou natgesweet en dit lyk of ’n aar in sy voorkop klop. Sweet loop teen sy dik nek af.

Sy klap haar notaboek toe en is bewus van almal se blikke op haar. Daar is elektrisiteit in die vertrek. Sy stoot haar stoel stadig agteruit en neem haar sak.

“Ek sê dit nou hier voor almal terwyl jy jou stertjie wip.” Gavin vee sy nek met sy hande af. “Indien jy, Carina, en al julle donners nie jul vingers uit julle holle trek nie, maak hierdie tydskrif toe!”

Dit is doodstil in die konferensiekamer. Die joernaliste wat in nabygeleë kantore aan stories werk, raak ook nou stil.

“Die uitgewer wil Montage op die mark sit. En as iemand hom nie koop nie, sit ons almal rooi ligte voor ons donnerse deure en koop Clicks se hele kondoomvoorraad uit!”

Carina staan op. “Dan sal ek Montage seker moet red.”

Gavin staan ook op. “Ek soek nie die Sunlight-witgewasde weergawe nie. Die ander tydskrifte het so in sy hol opgekruip, hulle sal nie eers met ’n GPS uitkom nie! Ek soek die waarheid!” Hy storm uit die konferensiekamer.

Ben, die nuusredakteur, maak sy iPad oop en probeer kalm voorkom, maar sy hande bewe te veel. Hy maak keelskoon. “Stefan. Hoe ver is jy met die storie oor die bordeel?”

Carina stap na haar kantoor toe en gooi haar sak op die tafel neer. Sy haal Jan-Paul Otto se kaartjie met sy foonnommer en kantooradres uit en skakel hom. ’n Vrou antwoord.

“Kan ek met meneer Otto praat, asseblief?”

“Hy is besig met ’n kliënt.”

“Vra hom asseblief om Carina Human van Montage te bel.”

“Indien dit oor meneer Rynhard gaan – meneer Otto het opdrag gegee dat niemand van die pers na hom deurgeskakel word nie. Hy het geen kommentaar nie.” En die verbinding word verbreek.

Carina stap na die deur toe en loop met die gang af na Gavin se kantoor toe. Die sekretaresse probeer keer, maar sy pluk die deur oop.

Gavin is op die telefoon. Carina stap tot voor hom. Hy hou sy vinger in die lug, nes Alicia gister. Carina wag geduldig dat hy klaarmaak. Toe draai hy om, sy oë skerp en intens op haar.

“Jy is ’n vark, Gavin. Jy moet oppas dat iemand nie jou semels vergiftig nie.”

“En jy, madame, is so donners sentimenteel, jy huil as ’n koevert oopgemaak word. G’n wonder jy kon dit nie vat by die boere van Blitsnuus nie. En dis jou grootste swakheid. Jy is te sag vir hierdie bedryf!”

“Iewers moet daar nog ’n mens in die joernalis wees, Gavin.”

“Jy mag nie emosioneel by jou stories betrokke raak nie. Dis wat jou aanvanklik gekelder het. En met Rynhard, oor wie almal fantaseer, is jy dalk nie die beste kandidaat om die storie te doen nie.”

“Hy is ’n doodgewone skrywer wat verdwyn het. Die man is aantreklik, so what? Indien daar ’n storie is, sal ek dit na jou toe bring. Maar ek gaan nie een uit niks skep nie. Met ander woorde ek gaan nie die waarheid lieg nie!”

Gavin stap nader. “Net sodat ons op dieselfde bladsy is: ek doen self navorsing. Op daardie manier gaan ek agterkom hoe goed jou feite is, en of jy iets wegsteek. En as ek agterkom dat jy hierdie storie gyppo, girlfriend, is dit die einde van jou.”

“Indien daar ’n storie is, sal jy dit van my af kry.”

Sy draai om en stap weg. Toe draai Carina om. “As jy ooit weer so op my skreeu voor die ander, rand ek jou aan. Ek is nie jou verdomde bediende nie.”

MAANDAG 7 APRIL 2014, 09:30

Toe Carina drie minute later in een van Montage se motors klim, sit sy eers ’n paar oomblikke stil om kalm te raak. Toe spring Mysi langs haar in. “Ek dag jy het ’n shoot oor kos vandag?” vra Carina, eintlik maar net te dankbaar dat Mysi saamgaan.

“Dit kan wag. Dis tog net ’n sanger wat sy lensiesop-resep met ons deel terwyl hy sy boyfriend in die closet wegsteek. Ek het Lienkie met die lankstaanskoene omgekoop om daardie foto’s te neem. So. Ry, Riens!”

Hulle draai in Katherinestraat af en ry oor Rivoniaweg verby ’n klomp nuwe geboue wat onlangs opgerig is. “Ek is so bly hierdie verdomde bouery trek al so ver!” knor Carina.

“Vir al wat jy weet, het Jan-Paul Otto van hierdie geboue ontwerp.”

Sy het skaars by die Pretoriastraat-verkeerslig in Sandton stilgehou, of ’n ruitwasser gooi vuil water oor haar ruit uit. Carina swets en soek na die ruitveërknoppie, maar Mysi spring uit met die gebottelde water waarvan sy pas gedrink het. Sy loop om die motor en neem die wasser se bottel uit sy hand.

Met die gebottelde water wat sy nou oor die ruit gooi, verwyder Mysi die vuil skottelgoedseep. Die wasser staar haar stomgeslaan aan. Sy neem ook sy ruitskoonveër uit sy hande en was dan die motor se ruit skoon.

Carina kan nie help om te lag nie, want Mysi het ’n paar stewige heupe en boude wat lekker wikkel. Een of twee motoriste toet vir haar en gee die duimop-teken.

“Watch and learn!” skreeu Mysi vir die wasser toe die ruit uiteindelik skoon is. “And use clean water!” Sy druk die waterbottel in die ruitwasser se hande en klim terug in die motor toe die verkeerslig na groen oorslaan.

“Way to go, girl!” skree ’n motoris vir haar.

“En seën jou koelboks ook, meneer!” skree sy terug.

’n Paar treë verder begin hulle eers lag. Hulle lag so dat Carina byna uit haar baan swenk. ’n Taxi toet ongeduldig. “Feel what it feels like if somebody pushes in front of you!” skree Carina. Sy en Mysi gee mekaar ’n vatvyf.

Toe hulle voor Jan-Paul Otto se gebou stilhou, bedaar hulle eers. Daar is min parkering, maar Carina eis een op toe ’n BMW met blou ligte uittrek. “Teer op die bietjie vet van die land wat Zuma oorgelos het!” brom Mysi.

Carina skakel die motor af.

“Wat is die strategie?” vra Mysi.

Carina klim uit. “Jy is ’n befoeterde kliënt wat ontevrede is met ’n plan wat Jan-Paul Otto opgetrek het, en jy trek die koekie by ontvangs se aandag met jou vloermoer af. Kom.”

Mysi swik amper op haar hoë hakke, maar herwin haar balans en Carina dink in die stilligheid dat sy nie weet wat sy sonder Mysi se vriendskap sou gemaak het nie. Hulle kan saam lag oor die absurditeit van die lewe. “As Leon Schuster jou raaksien, is jy in sy volgende fliek.”

“Dan kan die mense ten minste lag vir ware humor!”

Hulle loop tot by ontvangs, waar ’n swart vrou hulle vra om in te teken. “Do you have an appointment?” vra sy.

“Of course,” antwoord Carina gesaghebbend. “With mister Jan-Paul Otto. We made the appointment an hour ago.”

“Second floor.” Die vrou oorhandig twee sekuriteitskaarte.

Terwyl hulle deur sekuriteit beweeg, sê Mysi deur stywe lippe: “Dit was maklik.”

“Vertrou my en lyk of jy weet hoe ’n goeie vloermoer werk.”

Hulle klim by ’n hysbak in en druk 2.

Die vrou by ontvangs is besig om twee mans in pakke klere met opgerolde planne onder hul arms in te teken.

Toe hulle uitklim, sien hulle dadelik Jan-Paul Otto se logo en naam op ’n glasdeur. Alles spreek van luuksheid.

OTTO EN SEUN, staan daar.

“Trek hulle aandag af,” mompel Carina. Mysi knik en stap na ’n meisie toe wat pas die telefoon neergesit het.

“Ek is woedend oor die manier waarop Otto en Seun my behandel! Ek gaan my beswaar pers of televisie toe neem. Verwag Carte Blanche op julle drumpel!” skreeu Mysi.

“Net ’n oomblik, juffrou.” Carina is verbaas dat die meisie Afrikaans praat. Sy sien geraamde foto’s van geboue wat Jan-Paul Otto en sy pa seker ontwerp het.

Terwyl Mysi met die ontvangsdame argumenteer, glip Carina verby die geraamde foto’s met die gang af. Orals sit koppe gebuk oor tekenborde. Jong manne en meisies, almal jeugdig en modieus aangetrek. Elke kantoor spreek van byderwetse luukshede.

En heel onder is ’n deur met Jan-Paul Otto se naam daarop.

Sy loop vasbeslote daarheen, skep ’n slag asem en klop. Dan stap sy in.

Jan-Paul Otto sit by sy lessenaar. Maar anders as wat Carina verwag het, is hy nie op die foon besig of kop omlaag oor ’n plan nie. Hy kyk verbaas op.

“Meneer Otto, jammer om so in te bars, maar dit is noodsaaklik dat ek met jou praat oor Jacques Rynhard!”

Jan-Paul se hand beweeg na die telefoon toe en Carina besef dat hy sekuriteit gaan bel.

“Daar word tans ’n storie oor hom geskryf en ek probeer dit keer. Die enigste manier om die gerug te keer, is om met jou te praat.”

Sy hand huiwer op die gehoorstuk. “Watse storie?”

Carina se brein werk in hoogste versnelling. Sy maak haar sak oop en pluk ’n klomp notas uit. “Iemand sê dat jy en Jacques Rynhard by ’n dwelmskandaal betrokke is en dat hy daarom verdwyn het.”

Jan-Paul staan stadig op. “As julle sulke snert publiseer, dagvaar ek julle tot julle nie ’n sent oor het nie.”

“Want ek verneem dat meneer Rynhard hom in Newtown met dwelmtipes opgehou het en dat jy glo voordeel daaruit getrek het.”

Jan-Paul se telefoon lui. Carina kyk gespanne hoe hy dit lig. “Sê vir haar ek praat later met haar en ek gee nie om hoe ontsteld sy is nie. En geen oproepe nie tot ek jou weer skakel.”

Hy gooi die foon neer. Carina kan dit self nie glo nie, maar haar plan het gewerk.

“Dwelms.” Hy lag. “Jacques drink skaars.”

“Nie volgens my informante nie.”

“Snert, man. Wie is hulle?”

“Ek mag nie sê nie. So. Wat is jou kommentaar oor Jacques as dwelmslaaf?”

“Wil jy die waarheid oor Jacques Rynhard weet?”

Carina haal haar notaboek uit. “Asseblief. Anders sal ons met hierdie storie moet voortgaan.”

“Dit is loutere bog, man.” Hy staan op en gaan staan voor die venster wat op Katherinestraat afkyk.

“Wie is Jacques Rynhard presies?” waag Carina.

“Die mees lojale vriend wat enigiemand kan hê.”

“Julle ken mekaar van skooldae af, het ek Saterdagaand verneem.”

Hy draai om. Sy kan sien dat Jan-Paul diep terugdink. Hy knik en daar is nou ’n hartseer in sy oë.

“Wanneer het jy hom laas gesien, meneer Otto?”

“Woensdagaand. Ons het die dag gevier toe ons op Kleinbegin ontmoet het. Dit was in 1993 toe ons albei dertien was.”

Carina skryf die inligting in snelskrif neer.

“Het hy bekommerd gelyk? Getraumatiseerd? Bitter?”

“Nee. Dit is een van die min kere dat hy meer as een bier gedrink het. Ons het gelag. Grappe gemaak soos gewoonlik. Karaoke gesing, slaptjips geëet in sy gunsteling-restaurant in Newtown.”

“Was daar hoegenaamd ’n aanduiding dat hy beswaard is? Dat hy dwelms gebruik, dat hy …”

“Juffrou …”

“Human. Carina Human.”

“Juffrou Human. Kry die storie vir eens en vir altyd uit jou kop dat hy by dwelms betrokke was.”

“Nou wat is die waarheid dan?”

Jan-Paul draai weg. “Vriende vir altyd.”

“Ekskuus?”

Jan-Paul staan roerloos.

“Die enigste rede hoekom ek jou hierdie storie vertel, is om die drek wat julle wil publiseer se rug te breek. Luister. En luister mooi na wat gebeur het.”

Ballade vir ’n enkeling

Подняться наверх