Читать книгу Die goudkewers - Lerina Erasmus - Страница 10
Hoofstuk 6
ОглавлениеLente. Die eerste botsels is oop. Dis omtrent die enigste teken daarvan in Johannesburg, dink Karl en verlang met intense heimwee na dié seisoen se malse skoonheid in Europa.
Wat soek hy nog hier? Sodra hy volkome herstel het, sal hy weggaan; geld is geen probleem meer nie en daar is eintlik niks wat hom bind nie. Tog, sý is hier, Deborah. Hoe sou sy reageer as hy haar vra om hom te vergesel? Sy en sy pa is van vroegdag tot laataand besig by die myne. Kurt neem haar deesdae glo ook na die Kettings toe. Sy het Karl met onverbloemde trots meegedeel dat sy besig is om ’n portefeulje uit te werk. Sou Deborah haar van die myne kon wegskeur en hom volg? Hoe wonderlik sou dit nie wees nie – hy sal Londen opnuut deur haar oë leer ken en ontdek. Miskien kan dit hul verhouding weer herstel na wat dit was voor sy brutale optrede. Maar eintlik weet hy dat dit futiele optimisme is om op so iets te hoop.
Gedurende die laaste paar weke het daar wat hom betref ’n wonderwerk plaasgevind. Deborah het op haar eie manier toenadering gesoek. Miskien is “toenadering” ’n te sterk woord, miskien sou “hoflikheid” nader aan die waarheid wees. Want dit is waarop hul eienaardige verhouding op die oomblik gebaseer is.
Karl glimlag wrang toe hy hul eerste normale gesprek weer voor hom sien afspeel: Hy sit op die sofa in die sitkamer voor die vuurherd, waarheen Sam hom gedra het, en gaan sy stapeltjie opgehoopte pos met min belangstelling deur. Daar is geen rekeninge nie, net kwitansiestrokies – sy pa moet sy skuld vir hom vereffen het – enkele briewe van ou Oxford-vriende, en ’n koevert van ’n uitgewery in Londen. Lank sit hy daarmee in sy hand. Hy kan nie die moed bymekaarskraap om die koevert oop te skeur nie. Want in die koevert sal ’n brief wees wat aandui of die klompie gedigte wat hy kort voor sy oorhaastige vertrek uit Oxford aan die uitgewery gestuur het, aanvaar of afgekeur is. Hy steek die imposante koevert onoopgemaak onder in die hopie briewe. Dit was so lank terug, soek hy vir sy eie lafhartigheid rede. Om die waarheid te sê voel hy nog nie sterk genoeg vir nuus van enige aard nie. Hy leun oor en sit die briewe op die okkerneuthouttafeltjie naas hom neer, leun dan terug en staar melancholies in die vuur, sy kop ’n warboel.
Sy pa is laat, later as gewoonlik; dit is al amper skemer. Nie dat hy hom juis mis nie. Deborah het die huis voor drie verlaat. Deur sy kamervenster het hy haar dopgehou toe sy ’n huurkoets bestyg het. Elegant in haar sjokoladebruin uitrusting, mooi soos ’n Viking-prinses. Ook sý is dus gedurende hierdie beklemmende skemeruur afwesig … Hy is, afgesien van die bediendes, op sy eie. Eensaamheid en selfbejammering oorval hom. Sy lewe is tog eintlik sinloos; as hy net die moed gehad het, sou hy dit beëindig. Waarom het hulle hom gedwing om aan die lewe te bly? Hy wóú homself om die lewe bring in die opiumhool. Watter wrede deus ex machina het tussenbeide getree om hom te red?
Hy hoor die geluid van ’n naderende koets buite, maar in sy sombere toestand steur Karl hom skaars daaraan. Toe kom sy die vertrek binne. Deborah. Sy steek vas, want sy het hom duidelik nie daar verwag nie. Hoe mooi is sy nie, selfs al is haar bleekheid opvallend in die vertrek wat nog net deur die een koperlamp verlig is.
“Karl, dis goed om jou uit die bed te sien …” sê sy uiteindelik.
Hy draai sy kop stadig na haar, sonder skaamte oor die trane wat ongehinderd oor sy vervalle wange rol. Hulle staar mekaar oomblikke lank in stilswye aan.
“Voel jy sleg, sal ek Sam en Ma-Fytjie …?” mompel sy verbouereerd.
“Nee!” roep hy bars uit en trek sy bene op sodat hy sy kop daarteen kan verberg. Hartverskeurende snikke ruk deur hom.
“Los my in vrede!” stotter hy eindelik. “Julle gee in elk geval nie om nie … nie een van julle gee ’n hel om vir my nie!”
Toe sy nader aan hom beweeg, is Karl ten spyte van sy histeriese uitbarsting daarvan bewus dat haar teenwoordigheid hom omhul soos die geur van lemoenbloeisels op die wind. Sy kom sit by hom op die sofa. Sit net. Seker tien minute lank, voordat hy die eerste aanraking van haar voel, ’n skugter gebaar, net ’n hand wat kortliks oor sy kop streel. Hy kan haar woorde skaars hoor so sag is dit:
“Moenie huil nie, Karl, daar is geen rede vir jou om meer te huil nie.”
Omdat hy voel sy ore bedrieg hom, lig hy sy betraande gesig om na haar te kyk, om vas te stel of hy reg gehoor het.
Daar is ’n treurigheid op haar mooi gesig wat hom laat wonder. Die rebelse uitdrukking wat die laaste paar weke om haar mond was, is nie meer daar nie. Sy probeer glimlag, knik haar kop.
“Noudat jy beter is, moet ons daaraan dink om ’n nuwe begin te maak – miskien ’n nuwe vriendskap op te bou.”
’n Mosterdsaadjie van hoop begin in hom ontkiem. “Is so iets moontlik, prinses?” roep hy skor uit, sy stem steeds rou van emosie.
Deborah knik stil, staan dan op. “Ek gaan Sam roep om jou te kom haal en weer in die bed te sit. Vir ’n eerste poging uit die siekekamer het jy jouself miskien oorvermoei.” ’n Ligte, bolangse opmerking, woorde van ’n besorgde ouer suster, of selfs ’n ma aan haar kind, maar wat van belang is, is dat sy weer met hom praat, praat soos iemand wat omgee. Daarom stribbel Karl nie teë nie.
Karl beweeg ingedagte weg van die venster, na waar die oop vleuelklavier se swart en wit klawers dof glim in die lig. Die bladmusiek is ’n bekende étude van Chopin. Een van sy geliefkoosde oefenstukke. Sy lang vingers vind sonder veel inspanning hul eie weg oor die klawers. Miskien het sy hande ’n wil van hul eie, kan hulle ’n selfstandige bestaan voer sonder die res van sy liggaam. Hy wens die res van sy liggaamsdele kan so onafhanklik funksioneer, mymer hy met ’n wrang glimlag. Sy groeiende seksdrang is byna ondraaglik sedert hy en Deborah vrede gesluit het. Omdat daar op die oomblik weer ’n gemaklike kameraderie tussen hulle is, wil hy dit nie weer bederf deur te vroeg seksueel toenadering te soek nie. Miskien moet hy maar iewers anders uitweg gaan soek.
Meeste getroudes in die stad het so ’n reëling as die vrou onwillig is om blootgestel te word aan te veel swangerskappe, maar in dié stadium kan hy skaars so iets met haar bespreek. Selfs al sou hy iemand in die geheim gebruik, sou hy te bang wees dat sy sal uitvind. Maar sal Deborah werklik omgee as hy iemand anders het? Hy is te bang om te waag, besef hy terwyl sy vingers oor die note dwarrel. Sy gedagtes dwaal weer terug na daardie aand toe sy na hom uitgereik het…
Sy het ná ete sy kamer, húlle kamer, binnegekom met die briewe wat hy in die sitkamer agtergelaat het. Toe kom sit sy by hom op die bed en hou die briewe uit.
“Ek het die briefoopmaker saamgebring as jy jou pos wil oopmaak.”
In stilte lê hy haar en betrag. “Sal jy dit vir my oopmaak, prinses? Dit vir my voorlees?”
“Dis tog joune, Karl … dis sekerlik privaat.”
“Ek het niks meer om vir jou weg te steek nie, jy het my op my dierlikste gesien.” Hy kyk na die portret van sy ma voordat hy sag verder verduidelik. “Deborah, daar is twee mense in my – een is ’n dier … Ek was altyd bang dat jy sou uitvind. Ek het gehoop jy sou nie, maar gedeeltelik ken jy dáárdie Karl nou ook. Ek hoef dit nie meer weg te steek nie, miskien kan jy my help om hom te bowe te kom … die ander een het jou so lief.” Hy neem haar hand en hou dit teen sy voorkop. “Lees asseblief vir my voor, my oë voel seer en geswel.”
Huiwerig gehoorsaam sy en skeur die eerste brief oop. Haar gemoduleerde stem bring nuus vanuit ’n ander wêreld, van ’n ander halfrond, wat vir Karl so oneindig ver voel dat dit die maan self kon wees. Hy probeer sy voormalige beste vriende se gesigte herroep, maar hulle bly vae skimme. Tog dink hy met nostalgie aan die pret wat hulle saam beleef het. Sy mymeringe word onderbreek toe Deborah die laaste brief oopmaak. Sy skeur dit oop en trek die opgevoude vel papier uit die koevert, maar voor sy dit kan oopvou, sluit sy hand oor hare.
“Nee, hierdie een moet jy nie voorlees nie … Ek bedoel, lees dit stil en as dit slegte nuus is, gooi dit weg, dan wil ek nie weet nie.”
“Dit kom van ’n uitgewery, Karl, het jy iets voorgelê?”
Hy knik. “Waarskynlik gemors … studente-ydelheid.”
“Karl!” roep sy uit, haar volle aandag nou by die brief waarmee sy besig is. Hy reageer nie, hy wil nie, nie totdat sy uiteindelik opkyk nie. Daar is ’n blydskap op haar gesig, ’n glimlag wat onverwagse hoop laat ontbrand.
“Siende dat ek almal voorgelees het, kan ek dié een ook netsowel …”
“Wat sê dit?” vra hy, ademloos van spanning.
“Dat hulle jou gedigte in ’n bundel wil publiseer! Karl, dis wonderlik! Waarom het jy my nooit daarvan gesê nie?”
“Ek het self vergeet daarvan.” Dit is waar, hy hét daarvan vergeet tot hy die naam van die uitgewery op die koevert gesien het. Vir hom voel dit asof dit eeue gelede gebeur het, in ’n vergete leeftyd, toe hy nog deel was van Europa, deel van ’n ou beskawing. Die gedagtes maal deur sy kop terwyl hy die brief met ’n honger drif lees. ’n Brief waarin hy met respek aangespreek word. Waarin daar vermeld word dat hulle sy talent as uitsonderlik kan beskryf. Dat hulle hul uiters geëerd sal voel indien hulle uitgewery verantwoordelik mag wees vir die druk van sy debuutbundel! Karl laat sak die brief en bedek sy gesig met sy hande. Daar is iemand, mense op hierdie ondermaanse planeet wat tog dink dat daar iets in hom steek.
“Karl?” half onseker raak sy hom aan. “Dis uitstekende nuus, hoekom maak dit jou treurig?”
Uiteindelik neem hy sy hande weg. “Onverwags, dit is so onverwags, prinses. Ek weet nie wat om daarvan te dink nie!”
Sy glimlag voordat sy orent kom. “Ek verstaan,” sê sy, byna lighartig. “Ek gaan jou vader se toestemming vra om ’n bottel sjampanje oop te maak. Ek dink hy sal ten volle saamstem dat dié geleentheid sjampanje regverdig!”
Karl beweeg sy hande foutloos deur die laaste rondo voor die finale. Dié aand is in sy geheue gegraveer, want daardie aand, sy vroeëre bedruktheid ten spyt, is hy twee maal nuwe hoop gebied. Daar was vir hom ruimte as digter, en Deborah was terug by hom. Hy het skielik geweet dat hy die rondte gewen het; miskien sou hy haar kon terugwen, want hy weet nou dat hy nie meer gevaar loop om haar af te staan aan Malloy nie.
* * *
Net soos elke Vrydagmôre ná die Kettings, vergesel Deborah vir Kurt huis toe. Sy merk met onrus dat haar skoonvader besonder uitgeput lyk. Dis asof die las van die myne se verlies daagliks swaarder op hom rus. Kurt is egter nie enig in sy kommer nie. Ná die sluiting van die Orion-myne het drie ander myne gevolg, en die paniek oor Johannesburg se lot het skielik ’n epidemie geword. Dit kom ná die pessimistiese mynverslag van die geoloog Edward P. Mathers, waarin hy gewaarsku het dat die lot van die Oos-Transvaalse delwerye ongetwyfeld ook vir Johannesburg sou tref indien daar nie ’n dramatiese deurbraak kom om die goud te verfyn nie. Die swak gehalte van die erts en die kompleksiteit van die herwinningsproses het dit bykans onmoontlik gemaak vir die mynbedryf om enige wins te maak.
Mathers se beweringe het soos ’n veldbrand versprei en die nuwe immigrante, wat in die laaste jare in hul honderdtalle die stad binnegestroom het, het mekaar nou weekliks by die koetshalte vertrap om sitplek – of selfs staanplek – op die oorvol koetse te kry. Almal wou weg uit die verdoemde stad waarvan die lewensbloed, goud, nou onreduseerbaar geword het.
“Deborah …” onderbreek haar skoonvader haar gedagtegang.
Sy draai haar kop weg van die koetsvenster, waardeur mens die eerste groen skynsel van lente oor die veld kan waarneem. Sy word opnuut getref deur Kurt se uitputting. Dis asof hy skielik jare verouder het, en sy gelaatskleur is ongesond grys.
“’n Week gelede, toe ek my aandele in Struben se Confidence Reef op die mark gesit het, was jy daarteen, het jy gepleit dat ek dit moet oordink. Hoekom?”
Verleentheid kleur Deborah se wange liggies. “U as my leermeester, meneer Mannheim, het my geleer dat mens net in uiterste gevalle in ’n dalende mark verkoop, of miskien as jy die aanstigter was van die tydelike onstabiliteit. Daardie dag was daar vir my ’n onnatuurlike paniek – die mark het wel getuimel, maar dit was vir my asof dit ’n gesimuleerde val was.” Sy sien hoe hy frons en voel skielik verleë. “U sal sekerlik rede hê om my te beskuldig van irrasionaliteit, van ’n tipies vroulike waarneming. Dit was daardie dag miskien ook voorbarig van my om u –”
“Nee! Ek het jou verlede week daaroor aangepraat, maar jy het bewys dat jy reg was en ek verkeerd om nie na jou te luister nie. Ek verstom my nou oor my eie stiksienigheid. Ek soek nie verskoning nie, maar dit is waarskynlik die pandemonium van die laaste paar weke wat nou aan my begin vat. Jy het miskien ’n vermoede, maar ek twyfel of jy die volle omvang van my benarde posisie besef.”
Kurt verwag nie ’n antwoord nie, hoe sou sy weet? Deborah het nog nie ten volle insae in sy sake nie – ’n voorsorgmaatreël indien sy hulle sou verlaat. Tog vrees hy nou genadiglik nie meer daarvoor nie. Die gevaar, glo hy, is vir eers verby. Kurt tuur met somber, onsiende oë na die verbysnellende landskap buite die koetsvenster. Sy gedagtes is benouend. Sou hy besig wees om oud te word, sou ouderdom sy oordeel benadeel? Hierdie jong vrou het ’n week gelede ’n voorspelling gemaak dat die Confidence-aandele weer gaan styg. Hy kon dit nie glo nie, nie ná die spulletjie reeds in so ’n chaos was nie. Hy het teen sy eie beterwete presies gedoen waarteen hy Deborah gewaarsku het. Hy het sy paniek die oorhand laat kry en sy aandele laat loop. Vandag is haar redevoering reg bewys. Daar was ’n skielike en onverklaarbare nuwe belangstelling in die aandelemark. Deur sy oorhaastigheid het hy ’n groot verlies gemaak – iets wat hy nou allermins kan bekostig. Nie dat dit hom ’n arm man maak nie – daarvoor sorg sy buitelandse bates en sy aandele in die Krupp-wapenfabriek. Nietemin dwing omstandighede hom nou om kapitaal uit Europa die land binne te bring om te verhoed dat hy van sy myne verloor. Hoe haat hy dit nie om te verloor nie!
Kurt draai sy kop terug na Deborah. “Vertel my daarvan … Was dit ’n soort aanvoeling?” Hy glimlag stroef. “Wat noem hulle dit – vroulike intuïsie?”
Deborah glimlag maar skud haar kop. “Wel, miskien speel intuïsie tog wel ’n rol …”
Sy verduidelik aan hom hoe sy gedurende die laaste paar stormagtige weke begin aantekeninge maak het van wie die manne was wat prominent opgekoop en verkoop het, en wie volgens haar mening die paniekverkopers uitgebuit het.
“Ek het agtergekom dat dit altyd dieselfde persone is wat self, of deur hul makelaars of klerke, opkoop. En indien hulle die dag teenwoordig is, is daar altyd ’n radikale verandering tussen die Kettings. Ek kon dit telkens fisiek voel, dit is soos … soos statiese elektrisiteit.” Benjamin Rosenberg se gesig flits deur haar brein. Sy is oortuig daarvan dat hy tussen die Kettings bie en aankoop volgens Kit se instruksies. So was daar ook ’n hele paar ander wat vermoedelik optree as makelaars vir die ware kopers.
“Dis nie buitengewoon dat die groot aandeelhouers hul jongens as skildmanne gebruik nie,” sê hy fronsend.
Deborah bly ’n wyle stil. Haar teorie is grotendeels gegrond op blote agterdog, maar haar vermoede is dat ’n sekere groep manne, onder wie Kit en waarskynlik Mac ook, ’n konsortium gestig het wat juis nou inklim terwyl myne en mynaandele vir ’n appel en ei weggegee word. Dit dui vir haar daarop dat iemand ’n plan het wat miskien die onmoontlike situasie van die onreduseerbare riwwe kan oplos. Waarom anders sou enigiemand by sy volle verstand opkoop in die mark van ’n stad wat gevaar loop om vir goed in ’n spookdorp te verander?
“Meneer Mannheim …” begin sy weer half ongemaklik. “Ek het ook agtergekom dat die kêrels wat hulle oor die laaste weke veral toegespits het op opkoop – en ’n mens kan daardie manne op jou een hand tel – belanggestel het in een blok aandele of ’n hele myngebied. So was dit verlede week met die Welverdiend-rif se aandele en toe ook met Confidence … Maar waarom dié se aandele vandag juis op die mark bulletjie geword het, is vir my duister. Waarvan ek persoonlik oortuig is, is dat daar opgekoop word volgens ’n plan en dat daar ’n klandestiene konsortium agter alles is wat die situasie uitbuit.”
“Tot watter nut, wie kan baat by aandele in ’n mynstad wat leegloop? Binne ’n jaar of twee groei daar dalk gras in die strate van Johannesburg!” roep Kurt bars uit. Maar haar woorde het ’n nuwe onrus in hom aangewakker. Indien daar tog iets steek in Deborah se bewerings, dan beteken dit dat iets onderduims aan die gang is. Hoekom weet hy nie daarvan nie? Hy maak ’n punt daarvan om altyd op hoogte te wees van wat aangaan – daarom is hy steeds die magtigste man in die stad. Hy het wel laat slap lê toe Karl siek was. Kan dit wees dat daar tóé iets gebeur het?
“Kon jy enige van die persone, hetsy die makelaars of werknemers, koppel aan enige van die ou mynmanne?” vra hy gemaak kalm.
Deborah knik huiwerig. Sy gaan hom nie van Rosenberg sê nie, want dan moet sy Kit se naam noem, en sy is nog te rou om enigiets oor hom te sê. “Ja. Die prokureurs Liebermann en Schultz tree byvoorbeeld op vir J.B. Taylor. Ek weet nie of u opgemerk het nie, maar mens sien hom deesdae nooit meer persoonlik by die Kettings nie, ook nie meneer Robinson nie, en –” Sy steek vas. Indien sy Mac se naam sou noem, sal Kit vanselfsprekend ook opduik. “Daar is vier opsetpersone wat voortdurend bul speel … Ek is oortuig nie een van hulle is vermoënd genoeg om sulke risiko-aankope te maak nie, en ek glo ek kan hulle suksesvol koppel aan die mense met geld wat agter hulle is. Maar daar is iets anders …”
“Wat is dit?” vra Kurt kortaf, sy gedagtes steeds by wat sy kort tevore gesê het.
“Dit gaan oor die mense wat die uitskotslik – die mynsand – opkoop,” begin Deborah huiwerig. “Ek onthou dat u my vertel het van die chloreringsproses se duur suiweringstoerusting wat meneer Robinson laat installeer het by die Salisbury-mynaanleg. Volgens wat u my vertel het, was dit kostegewys ’n aansienlike mislukking.”
Kurt knik. Waarom sou sy dit nou ophaal? wonder hy.
“U weet ook dat die Salisbury-myn maande lank verwaarloos en in onbruik was? Vanoggend toe u by die raadsvergadering van die Kamer van Mynwese was, het ek soontoe uitgery. Die hele mynaanleg is toegespan met sekuriteitsdrade, dit lyk soos ’n tronk. Al wat mens deur die drade kan sien, is massiewe sandduine, berghoog! Daarby die geharwar van mense wat steeds nog meer sand aanry en aflaai. Dit is dáár waar die erts gestort word, dié wat hulle by ons en die ander myneienaars koop.”
Kurt se swaar wenkbroue bondel saam. “Is dit bloot ’n stoorplek?”
Deborah skud haar kop. “Nee, ek glo Salisbury is weer produktief, meneer Mannheim. Daar word beslis nie gemyn nie, maar daar is aktiwiteit. Miskien moet ons saam uitry soontoe. U sal waarskynlik veel beter as ek kan verstaan wat besig is om daar te gebeur.”