Читать книгу Die goudkewers - Lerina Erasmus - Страница 7
Hoofstuk 3
Оглавление“Nie koffie nie, Sam,” sê Deborah. “Net swart tee en roosterbrood, asseblief.”
Sam knik, en beveel die tafelmeisies ongemerk uit die pad uit sodat hy self gehoor kan gee aan mevrou Deborah se versoek. Sam dink heimlik dat sy besonder bleek lyk vanoggend, maar dit is seker te verstane. Sedert Saterdagnag toe sy seurtjie Karl hier aangebring is, is hier maar bitterlik min geslaap.
Gister, Sondag, hier teen die laatmiddag, het dinge liederlik begin handuit ruk. In sy drang na opium het Karl skoon berserk geraak. Veral omdat Deborah op daardie oomblik nie daar was nie. Vader John het probeer mooipraat, probeer verduidelik dat sy nie lank sou weg wees nie, dat sy bloot uitgery het om asem te skep, maar dit het net Karl se histerie aangeblaas tot ’n soort waansin. Hy was soos ’n oorgroeide tweejarige kind wat in ’n onkeerbare woedebui alles wou breek omdat sy ma nie daar was nie.
Almal was duidelik verlig toe die getrippel van perdepote op die werf Deborah se terugkoms aankondig, maar hulle verligting was van korte duur. Karl se woede het weer opgevlam die oomblik toe sy die kamer binnekom. Swak soos hy was het hy, voordat iemand kon keer, uit die bed gespring en Deborah stormgeloop. Hy het haar geklap dat sy terugsteier.
“Gee mý ook wat jy nou aan Malloy gegee het! Jy is my vrou, demmit!” het hy verwoed uitgegil en die verskrikte Deborah met ’n besete drif vasgegryp. Met sy een hand het hy haar rok bo oopgeskeur.
Die skok daarvan het Deborah laat reageer. Sy het haar peits gelig en Karl ’n venynige hou oor die gesig en nek gegee. Dit het bloed getrek, en Karl verdwaas agteruit laat steier.
“Jy het my geslaan! Jy het my geslaan!” het hy verward uitgeroep. Eers toe kon Sam en die vader hom vaspen en terug in die bed kry.
Deborah, steeds met die peits in haar hand, het roerloos daar bly staan. Soos die een of ander standbeeld. Sam het mevrou Deborah se gesig nog nooit só gesien nie. Sy was so wit soos ’n laken, en toe sy eindelik haar mond oopmaak, was haar praat soos dié van ’n sissende luiperdwyfie.
“Jý raak nooit weer aan my nie, Karl Mannheim! Verstaan jy my? Ek mag jou vrou wees, maar jy sal nooit weer met my regkry wat jy daardie nag reggekry het nie!” het sy gesê, so sag dat g’n mens dit amper kon hoor nie. Daarmee het sy die peits voor die bed neergesmyt, omgedraai en die kamer verlaat. Sedertdien was sy nie weer in sy kamer nie.
Karl het ’n paar oomblikke lank nadat sy uit is met oë wydgespalk van vrees gesit. Toe het hy skielik weer in histerie versmelt. Sy gehuil en gepleit vir opium het ure lank aangehou. So opgewerk was hy later dat die vader hom ’n morfieninspuiting gegee het. Maar selfs dit het hom eers teen nege-uur gekalmeer en laat slaap. Van toe af waak daar voortdurend twee mense by hom. Sam hoop van harte dat die goeie vader John reg is, dat dit verlede nag die krisisnag was, want so iets wil hy nie weer beleef nie. Al is Karl sy geliefde grootmaakkind.
Deborah peusel langtand aan die roosterbrood en die swart tee, skuif dit uiteindelik weg. Sy het deesdae geen aptyt meer nie, maar dan is dit mos maar altyd so as sy emosionele traumas deurmaak, soek sy verskoning.
Soos gewoonlik klink Kurt Mannheim se swaar voetval in die gang op presies toe die horlosie sewe slae slaan. Hy kom die vertrek binne, groet en gaan sit op sy plek.
Sam haas hom om Kurt te bedien.
’n Somber stilte hang oor die tafel terwyl die eerste gang van geregte vir Kurt voorgesit word. Hy het dadelik sy skoondogter se geslote gesig bemerk, en wyslik besluit om geen melding te maak van wat die vorige dag plaasgevind het nie. Beswaard wonder hy hoe hy in ieder geval aan haar ’n verskoning kan bied vir Karl se gedrag.
Kurt knik uiteindelik na Sam om die borde weg te neem. Hy kyk ’n oomblik stilswyend na Deborah.
“Bly vandag tuis, jy het min rus gehad,” beveel hy dan grof.
Deborah se blik is onleesbaar. “Ek makeer niks,” sê sy stil. “Maar ek sal dit tog waardeer as u my vandag sal verskoon. Ek het nie kans gehad om u te sê nie, maar meneer Cohen het Saterdag ’n versoek aan my gestuur om hom vandag te kom spreek.”
“Cohen? Wat wil hy van jou hê?”
Sy haal haar skouers op en bly hom ’n antwoord verskuldig.
“So?” Die enkele woord hang oomblikke lank die vertrek vol. Sy vraende blik probeer ’n antwoord uit haar dwing, maar die afgetrokkenheid waaragter sy haar verskans, gee hom geen aanmoediging om verder uit te vra nie.
“Hoe laat moet jy hom sien?” vra hy uiteindelik stil.
“Om nege,” antwoord Deborah.
“Ek sal teen elfuur by Jutta’s Rand wees. Ek het gehoop dat ons daarna die Kettings kon besoek,” sê Kurt hoopvol. Sy kan hom by Jutta’s Rand ontmoet, dink hy. Maar Deborah knik net afgetrokke, sonder om te reageer op sy uitnodiging.
Vasgevang in haar gedagtes kyk sy na die wit damastafeldoek waarop ’n see van rose en wit swane gebosseleer is. Sy weet maar te goed wat Kurt van haar verwag, maar sy kan nie. Vandag moet sy op haar eie wees, anders sal sy waarskynlik ook gek word, en iets onverantwoordeliks aanvang waaroor sy later spyt sal wees. Sy gaan ook nie naby Karl se kamer kom nie, al weet sy maar te goed waar haar plig lê. Na die duiwel daarmee, besluit sy rebels. Laat hulle almal na die duiwel vlieg! Hy ook, ou Kurt Mannheim, wie se broeiende blik steeds op haar rus. Karl se optrede die vorige middag het ’n opstandigheid by haar ontketen. Dis die tweede keer dat hy haar te lyf gegaan het, en hierdie keer was dit voor Sam en vader John. Die vernedering daarvan het haar haar laaste simpatie met Karl laat verloor.
Ná die traumatiese naweek sien sy Karl in ’n geheel ander lig. Hy is nie veel meer as ’n bedorwe kind nie, wat mense om hom manipuleer en boelie om sy sin te kry. Deborah weet almal in die huis moes die naweek deurloop onder sy selfbeheptheid en gejammer, maar sy weet ook dat die ander mense minstens sy ontboesemings gespaar is. Sy was nie so gelukkig nie. Sy wou later verstik aan die deurmekaar belydenisse oor sy studentelewe in Oxford en sy ervaringe in die ellendige opiumhool. Een ding weet sy nou, en dit is dat die man met wie sy getrou het, radikaal verskil van hierdie Karl. Daarby is sy gewalg deur sekere van die dinge wat hy haar vertel het. Sy het sy vertellings toegeskryf aan die opium, maar die afstootlikheid van sekere insidente het hinderlik in haar kop bly vassteek. Dit sal vir haar moeilik wees om ooit weer respek vir hom te hê.
Sy sien nie kans om vandag weer langs sy bed te sit nie. Vir minstens hierdie een dag wil sy verlos wees van die neerdrukkendheid van daardie vertrek waar die skildery van sy ma alles oorheers en waar Karl met sy eindelose gebrabbel dreig om haar in sy morsige sielekolk in te suig.
“Deborah …” dring haar skoonvader se stem uiteindelik tot haar deur. Sy kyk op. Kurt het opgestaan, sy skouers geboë. “Dink na en onthou waaroor ons gepraat het … Saterdagaand, op pad na die Albu’s se huis.” Hy bly stil, vind niks meer om te sê nie, wink dan vir Sam om sy jas en wandelstok te bring en verlaat die vertrek sonder ’n verdere woord.
Deborah luister hoe hy afskeid neem van Sam in die voorportaal, en oomblikke later hoor sy die wiele van sy koets oor die gruis. Sy is sielsdankbaar dat die ontbyt uiteindelik verby is. Sy kom orent en haas haar na haar kamer om haar retikule te kry. Dis nog meer as ’n uur voordat sy by die prokureur se kantoor moet wees, maar nou wil sy net ten alle koste uit hierdie donker, benouende huis kom.
“Jy het haar gesê? Jy het haar die brief gegee?” vra Kit gespanne, sy donker blik vraend gerig op Cohen.
Die regsman knik. “Ek het, ja, presies soos u beveel het. Daarby het ek ook, soos u aan my voorgeskryf het, seker gemaak dat sy u brief lees.”
“En?” roep Kit gespanne uit.
Cohen haal sy skouers op.
“Wat kan ek sê? Ek kan u niks meer vertel nie. Mevrou Mannheim is ’n dame – sy stel nie haar emosies ten toon nie.”
Kit knik toegewend. “Ek is jou baie dankbaar, Cohen.” Maar Cohen se openlike ongemaklikheid laat hom vermoed dat iets skort. “Is daar iets verkeerd? Is daar iets wat jy nagelaat het om my te vertel?”
“Nee, nee!” Cohen se hande waaier voor sy gesig. “Maar ek is in ’n predikament, meneer Malloy … ek hoop u sal verstaan. Tot dusver was u en die Mannheims beide my kliënte. Ek kon altyd al twee partye se sake met gemak hanteer. Maar noudat julle belange … ’m … sake met mekaar bots … ek kan tog nie vir beide partye optree nie, dit sou uiters oneties wees.”
“Wat probeer jy sê? Dat ek vir my ’n ander prokureur moet soek?”
“Ja, meneer Malloy, ek sal dit waardeer.”
Kit glimlag sardonies. “So, die Mannheim-fortuin weeg steeds swaarder as dié van Malloy, die entrepreneur en dobbelsaloneienaar!”
“Probeer tog verstaan in watter situasie ek is. Ek is ’n regsman, meneer Malloy, nie ’n jenta of marriage broker nie. As juris durf ek nie op twee stoele probeer sit nie.” Hy sug swaar. “U sien, op ’n manier het ek die huwelik aangemoedig …” Hy hou sy hande verskonend op toe hy sien dat Kit hom in die rede wil val. “U was lank weg, dood gewaan …” Hy vertel Kit van die testament se bepalings wat Karl sou verhoed het om sy erfporsie te bekom.
“Ek was daarteen toe ou meneer Mannheim dit gestipuleer het, en daarom het ek die jong man verseker dat ek nie in sy pad sal staan om met die meisie van sy hart te trou nie. Veral nie aangesien hy sy leefwyse drasties verander het nie. U sal nou kan verstaan hoe ongemaklik die aangeleentheid vir my is, gesien in die lig van u en mevrou Mannheim se vroeëre verhouding. Hoe kan ek as u tussenganger optree en daardeur ’n ander kliënt se belange ondermyn? Dit was presies wat ek vanoggend moes doen. Nee, nee – ek kan tog nie een kliënt teen ’n ander afspeel nie!”
Kit kom orent en tel sy hoed op.
“Ek verstaan jou dilemma, Cohen. Ek sal jou nie weer in die verleentheid stel nie. Daar is ’n nuwe kêrel in die dorp. ’n Boertjie, ek verstaan hy is briljant. Sy naam is Johannes Wessels – weet jy iets van hom?”
Cohen se verligting is so ooglopend dat dit byna komieklik is. Hy slaan sy hande saam in entoesiasme. “Hy is briljant, meneer Malloy! Hy is geniaal! Baie beter as ek. Ek sal persoonlik u sake aan hom oorhandig en verduidelik …”
“Nee dankie, ek kan namens myself praat.” Kit steek sy hand na Cohen uit. “Dankie vir wat jy gedoen het. Ek beskou jou steeds as ’n vriend.” Hulle skud hand en dan plaas Kit sy breërandhoed op sy kop en loop deur toe. Voordat hy die kantoor verlaat, draai hy vir oulaas om. Hy kyk Cohen nadenkend aan, asof hy na woorde soek.
“Jy is reg … Jy kan nie vir my én die Mannheims optree nie, want daar sal altyd gramskap tussen ons wees. Deborah is wat my aanbetref in die verkeerde kamp. Ek gaan my uiterste bes doen om die saak reg te stel. Slaag ek nie, is jy die enigste een wat werklik na haar belange kan omsien. Doen dit vir my, Cohen. Enigiets wat jy vir háár doen, sal my in dankbaarheid in die skuld plaas by jou.”
Cohen knik swygend.
Sonder ’n verdere woord verlaat Kit die kantoor.
Cohen sug. Hy is verlig dat Malloy so redelik en begrypend was, maar hy voel nietemin bedruk toe hy om sy lessenaar loop en gaan sit.
Kit Malloy het die laaste klompie jare ’n indruk op Cohen gemaak as ’n intelligente man. Op sy ongeslypte manier is Malloy ook onbesproke in sy eerbaarheid. Hy is ’n uitsonderlike mens, dapper en flink van verstand. Hoe weerloos en veranderlik is ’n man nie as die liefde hom verstrik nie!
* * *
Drie ure nadat sy die huis verlaat het, keer Deborah terug, en sy gee skaars die landauer waarmee sy na Cohen geneem is kans om tot stilstand te kom voordat sy sonder die koetsier se hulp uit die rytuig afspring.
“Dankie, Johannes. Sê asseblief vir Basjan dat hy Heuning vir my moet opsaal. En hy moet gou maak, ek wil binne tien minute in die pad val!” beveel sy die koetsier en storm die trap op.
Sam, wat die landauer hoor aankom het, maak die deur oop. Hy verwonder hom aan haar voorkoms. Vanoggend tydens ontbyt was sy bleek en lusteloos, nou is daar veerkrag in haar tred, kan mens op ’n afstand die energie voel wat sy uitstraal.
“Dankie, Sam,” sê Deborah vinnig in die verbystap. “Was vader John al hier?”
“Ja, mevrou. Hy het twee ander susters gebring om te help, maar my kleinseurtjie slaap darem. Hy is nou kalm.”
Deborah knik net en loop by Sam verby na die spaarkamer waarin sy sedert die naweek haar intrek geneem het. Uit die kas neem sy die ry-uitrusting wat sy die vorige dag aangehad het. Sy het nog nie haar klere laat oordra nie, en sy wil nie nou in Karl se kamer ingaan om ander klere uit te haal nie. Die bostuk van die bloes is geskeur, sy sal maar die bloes moet aanhou waarmee sy by Cohen was. Haastig stroop sy die baadjie en romp van haar af en raak ontslae van die geboeselde onderrok. Geklee in haar kardoesbroek en bloes swaai sy die ryromp om haar lyf en begin dit vasmaak. Sy wens sy kan mansklere dra sodat sy wydsbeen kan ry soos wat sy gewoond was op Sorgenfrei, maar Ma-Fytjie sal ’n oorval kry.
Asof aangelok deur Deborah se gedagtes, maak Ma-Fytjie die deur oop. Sy kyk Deborah ’n oomblik verbaas aan. “En nou dan, missie?” vra sy agterdogtig.
Deborah antwoord nie dadelik nie. Sy maak die laaste knope van die romp eers vas, dan verruil sy haar elegante skoeisel vir haar rygstewels.
Ma-Fytjie se verpruimde mond dui haar afkeuring aan. Deborah weet dat sy beslis nie ’n preek gaan vryspring nie. Sy is reg.
“Jy kom nou nét terug en nou wil jy weer gaan rondflenter op ’n perd?” trek Ma-Fytjie weg. “Dink jy dis stigtelik? Jy is nou ’n dame, missie Deborah, en een in posisie. Wat dink jy sou jou ma gedoen het?”
“Ek weet nie, Ma-Fytjie, maar ek is nie sy nie, en sy is in elk geval dood,” antwoord Deborah stil.
“Waarheen gaan jy op die perd? Myne toe? Agter ouseur Kurt aan?” Fytjie hoop van harte dat Deborah bevestigend sal antwoord, maar sy weet by voorbaat dat haar hoop beskaam sal word. Met die intrapslag het Deborah se hele voorkoms ’n gans ander storie vir haar vertel, en sy wat Fya Fortuin is het ’n sterk spesmaas wie en wat daarvoor verantwoordelik is. Daar is net een man wat Deborah so kan verander.
Deborah draai om en kyk Ma-Fytjie vol in die oë. “Nee. Nee, ek gaan nie agter hom aan nie. Ek ry uit na Onderkopjes,” antwoord sy eerlik.
“Om te wat?” Ma-Fytjie se groot vuiste maak nes op haar breë heupe.
Deborah kyk weg. “Om meneer Kit Malloy te ontmoet. Hy het die grond op my naam oorgeplaas en ek moet met hom daaroor praat,” antwoord sy sonder skroom.
“Ai, ai, meisiekind, jy kan mos nie vir ou Fya probeer vertel dat perdedrolle vye is nie. Jy gaan soontoe omdat jy anys van die man loop soek!”
Uitgevang vlam Deborah se wange in ’n ergerlike blos. “Dis uiters onbeskof om net aan so iets te dink!”
“Onbeskof? Is dit so? En wat dink jy is jy, missie? Jy is ’n getroude vroutjie, maar jy rinkink rond en raak loops agter ’n vreemde man aan …”
“Hy is skaars ’n vreemde –”
Ma-Fytjie stoomroller voort: “Ja, dié kan jy weer sê, want julle het mekaar voor die tyd net té goed beken. Ons het siekte in die huis! Mister Karl is nou jou man, en of jy daarvan hou of nie het jy ’n verantwoordelikheid –”
“Genade, Ma-Fytjie, hou op torring! Ek beplan bloot om met Kit Malloy te praat,” roep Deborah uit, nou self ergerlik. “Ek moet nou gaan …” Sy probeer om by Ma-Fytjie verby te kom, maar die ou dame versper haar weg soos ’n formidabele sfinks.
“Jy loop haal nou vir jou ekstra moeilikheid, hóór tog wat ek jou sê, missie Deborah. Moenie nou uitry nie. Skryf vir mister Kit wat jy wil sê, dis stigtelik en wat ’n dame behoort te maak, maar allenig praat in die oop veld …”
“Ma-Fytjie, staan om hemelsnaam opsy! Ek wil nie laat wees nie.”
“Jy vat vir my aan die hart, missie Deborah. Die ou vrou vra vir jou mooi, moenie vandag uitry nie. Moenie vossies uit die bos gaan jaag wat jy nie weer kan vang nie. Want wat jy nie weet nie, is dat jy klaar gekniehalter is!”
“Jy praat in raaisels, Ma-Fytjie, en vandag het ek nie tyd of lus daarvoor nie.” Deborah druk haar sag maar ferm opsy en glip by haar verby. “Ek gaan, Ma-Fytjie, en nie jy of iemand anders gaan my dié slag keer nie.”
Basjan kyk onderlangs na mevrou Mannheim terwyl hy die perd wat sy wil ry flink opsaal. As ’n man nie vinnig werk nie, druk sy jou alte gou uit die pad uit en vat oor. Hy loer om die perd se breë bors terwyl hy die buikgord verstewig. So het niemand mevrou Deborah seker nog ooit gesien nie. Nie eens op die dag van haar troue toe hy een van die sambreelmanne was, het sy vir hom so goed gelyk nie.
“Hoe ver is jy, Basjan?” vra Deborah toe sy nader kom.
“Ampertjies klaar, mevrou, nog net die stiebeuels …” Hy toets die lengte daarvan, want hy weet al hoe dit vir haar moet wees. “Heuning is opgesaal, mevrou!”
Deborah gaan haal ’n peits van die haak af en loop na Basjan waar hy die perd by die klimblok aan die teuels vashou.
“Dankie, Basjan,” sê sy toe sy haar linkervoet in die stiebeuel sit en die ander oor die stut van die damesaal swaai. Sy neem die teuels oor.
Heuning, wat reeds opgewonde begin rondtrap het toe Deborah die stalle binnegekom het, begin kopspeel. Deborah streel oor die warm goudbruin vel, dis asof die perd haar eie opwinding aanvoel en wil ewenaar.
Sy buig oor na die stalkneg en stop hom ’n muntstuk in die hand. “Ek weet dat Sam jou aangesê het om op ’n afstand te volg wanneer ek uitry. Staak dit in die vervolg – ek wil op my eie wees, verstaan?” sê sy sag.
“Maar mevrou, Sam Naudies sal vir my moor! Sam het gesê daar’s skelms en rondlopers wat vrouens …”
“Ek wil nie ’n stertjie hê nie. En ek het dit pas vir Sam self ook gesê.” Sy gee die teuels lig skiet en die drukking van haar dye gee Heuning haar vryheid. Kopspelend trippel die perd die stalle uit na die groot ou peperbome, waar die tuinman reeds die hek oopgemaak het. Buite in die stofstraat slaan perd en ruiter oor na ’n stywe drafpas. Hulle kies ’n noordelike rigting … die pad na Onderkopjes.
Die verbleikte wintergras ritsel en kraak toe perd en ruiter daardeur beweeg. Deborah se hart klop opgewonde terwyl sy die perd teen die steilte van die kop uit stuur. Onderkopjes! Die laaste keer toe sy hier was, was sy verpletter deur die tyding van Kit se dood. Dit was twee dae ná MacIntyre se terugkeer, nadat Cohen haar meegedeel het van die erflating. Onderkopjes en die herinneringe daar het haar teen haar beterwete aangetrek. Dit was ’n fout om daardie dag hierheen te kom, want sy was nog te rou van skok en te bitter oor die omstandighede waarin hy dood is. Onderkopjes, die plek waar hulle mekaar liefgehad het, was toe bloot ’n bespotting van haar skreiende fisieke gemis, en haar diep verlange na Kit Malloy en ’n verlore somer.
Vandag is dit anders. Nou sien sy skaars die doodsheid van die verwinterde aarde raak en is sy bewus van die stuwing van nuwe lewe. Dit was Kit se brief wat die hoop weer in haar siel laat oopblom het. Die eerste keer in weke was sy uitbundig, bly dat sy lewe, maar meer nog dat hý lewe! Kit se geskenk aan haar, hierdie grond waarop hulle saam was, was toe hy dood gewaan is net ’n nuttelose wildernis wat sy nooit sou verkoop nie, maar ook nooit weer na sou terugkeer nie. Maar nou, saam met hom, by hom, een in siel en in liggaam, word hierdie aarde heilig.
Háár Kit! Nadat sy die brief gelees het, het sy geen oomblik getwyfel oor wat haar te doen staan nie. Sy sou Kit se uitdaging aanvaar en hom hier kom ontmoet. Niemand sal haar dié slag daarvan weerhou om haar geluk met al twee hande aan te gryp nie.
Sy ry die ruigte binne en die geur van sondeurdrenkte wilde proteas walm in haar neus op. Met elke tree bring haar goudbruin merrie haar nader en nader aan hom. Binne minute sal sy die oopte om die murasie bereik, en dan sal sy vir Kit sien. Maar sy voel skielik benoud toe die bosse begin yl raak na die werf se kant toe. Sal hy daar wees? Sal hy op haar wag? Watter bog! Waarom sou hy nie?
Heuning runnik sag, haar sintuie skerper as dié van haar ruiter. Sy het op die wind berig gekry van ’n hings se teenwoordigheid ’n kort entjie hoër op. Haar gerunnik word beantwoord deur die ander perd, wat die merrie teruggroet.
Deborah se hart mis ’n slag toe sy dit hoor. Toe sy uit die ruigte beweeg op pad na die murasie, sien sy hom waar hy haar op Caesar sit en inwag.
Kit gee Caesar teuels, en hulle loop Deborah tegemoet. Hulle kom reg voor haar tot stilstand, en sekondes word minute terwyl die twee mekaar indrink asof hulle mekaar vir die heel eerste keer sien.
Dit is Kit wat eerste tot verhaal kom. “Gaan ons hier gestewel en gespoor op die perde praat? Of vertrou jy my genoeg om saam met my hoër op te loop?” vra hy spottend en sy bekende glimlag pluk aan haar hart.
Sy knik stil. “Ek vertrou jou, anders sou ek nie gekom het nie.”
Kit spring van sy perd af en lei Caesar en Heuning na die naaste bosse, waar hy die perde se teuels vashaak. Dan kyk hy op na haar.
“Laat my toe …” sê hy bruusk en hou sy arms na haar op om haar af te help. Deborah lig haar regterbeen uit die ongemaklike damesaal, leun oor na hom toe en plaas haar hande op sy skouers.
Kit lig haar uit die saal en hou haar in die kring van sy arms. ’n Asemlose oomblik volg waarin al twee intens bewus is van die brandende begeerte in hul liggame.
Die fyn tekstuur van haar vel val Kit weereens op en vul hom met deernis. Dis steeds vlekkeloos soos dié van ’n kind.
Daar is reeds ’n skadu op sy wange, sien Deborah, al is dit nog skaars voormiddag. Hy het eenmaal gespot en gesê dat hy ’n skeermes in sy sak behoort te dra. Sy het selfs die donker skadu om sy ken lief! Hoe donker is sy hare. Dit herinner haar aan die blouswart vlerke van ’n raaf.
Hy merk opnuut die opwaartse kurwe van haar mondhoeke wat hom die heel eerste maal toe hy haar gesien het so onweerstaanbaar aangetrek het. Net soos destyds ondervind hy nou weer ’n dwingende behoefte om haar lippe aan te raak met sy mond, en met die punt van sy tong te liefkoos.
Sy lees sy emosie in die klein spiertjie wat in sy kakebeen spring, aan sy adamsappel wat vinnig beweeg, en die bewustheid van sy begeerte laat haar warm en gelief voel. Deborah glimlag, en haar glimlag vind weerklank in sy oë, dan om sy mond.
Kit lag saggies en trek haar teen sy hart vas. “My meisie, my liefste, ek was so bang jy sou nie kom nie.”
“Niemand sou my kon weghou nie.”
Hy laat sy kop sak, sy mond vind hare. ’n Kort rukkie hou die wêreld vir hierdie twee mense op om om die son te wentel.
Toe Kit uiteindelik sy kop lig, is sy stem skor van ingehoue emosies. “Ek het dit nie bedoel nie … nie bedoel om jou so storm te loop nie. Daar is baie wat ek moet verduidelik, waaroor ons moet praat.”
“Jy hoef nie, ek weet reeds wat gebeur het. Mac het my alles vertel. Hy was Saterdagoggend by my.”
“Mac?” roep Kit verbaas uit.
Deborah knik. Dit was net eergister, tog laat die gebeure rondom Karl se tuiskoms dit voel asof dit lank terug was.
Die treurigheid om haar mond val hom op, en hy lê sy hand teen haar wang. Deborah vang sy hand vas en liefkoos dit met haar lippe.
“Sal ons boontoe stap?” vra hy saggies.
Sy knik. Hand aan hand stap hulle op in die smal voetpaadjie tussen die verdorde gras. Op pad praat hulle min, elkeen te intens bewus van die ander se fisieke teenwoordigheid. Toe hulle die fontein bereik, neem nie een van hulle die troosteloosheid van die vergange somer waar nie. Merk hulle nie die slyk in die fontein op nie, of die blare en rommel wat die uitvloei van die fontein verstop nie. Hulle gaan sit teenoor mekaar op die warmgebakte rotsplaat en verval weer in stilte terwyl hulle mekaar met oë en hande en reuksintuie verken.
Met ’n kreun trek Kit vir Deborah teen hom aan. “Deborah, my liefste Deborah! Ek kan jou nie weer laat gaan nie!”
Sy mond soek hare, brandend met baie maande se opgehoopte passie. Hy drink die lieflike geur van haar nek se kuiltjie in. Deborah snak na haar asem.
Dit vul hom met vreugde, want hy sien dat hierdie vrou wat hy liefhet, wat hy so gemis het, ook aangevuur word deur dieselfde verterende begeerte. Dit dwing hom tegelykertyd tot sy sinne. Hy móét hierdie slag kophou. Haar bereidheid om hom te vergewe – waarskynlik te danke aan Mac – het Kit onkant gevang. Hy het homself voorberei om al sy oorredingsvermoëns in te span om haar vertroue weer te wen. Nou is dit asof die weke en maande wat tussen hulle gestapel was, skielik weggeval het.
Nou sien hy wel die groen slyk in die poel raak, die barheid van die doodgerypte Hoëveld om hulle. Dis nie soos hy haar hierdie keer wil besit nie! Hy wil haar liefhê waar sy hoort, in sy nuwe blyplek. Dis nog half ongemeubileer en sielloos, maar dis syne en dit sal hare word, tot hulle hul huis hier gebou het.
Deborah voel die skielike verandering by hom aan en sit orent. Sy kyk hom vraend aan.
Kit se glimlag versag sy hoekige gesig. Hy neem haar hande en soen hulle. Toe hy opkyk, is sy blik ernstig.
“Daar is geen struikelblokke wat ons uitmekaar mag hou nie, my lief. Ek wil nie meer tyd verspeel nie. Hoe vinnig kan ek jou uit die Mannheims se kasarm wegruk? Ons sal die huwelik tussen jou en Mannheim laat ontbind.”
Onrus roer in hom toe sy wegkyk en hy skielik bewus word van ’n somberheid wat haar gesig vertroebel.
“Deborah?” vra hy stil. “Dis tog wat jy ook wil hê? Of is ek verkeerd? Jy het geen verpligting teenoor die Mannheims nie. Veral nie nou nie. Karl het geloop … of so verstaan ek. Is dit waar?”
“Ja …” antwoord sy skor met haar gesig weggedraai. Toe sy uiteindelik na hom kyk, is haar donker kykers onverklaarbaar blink. “Maar hy is nou terug … Vader John het hom gevind en teruggebring. Was dit nie vir hom nie, sou Karl dood gewees het …” Sy kyk weer weg. Met ’n toonlose stem lig sy Kit kortliks in oor die situasie en wat met Karl gebeur het.
“Voor Karl nie op die been is nie, sal ek nie vry wees nie. Kit, ek is dit aan die Mannheims verskuldig. Hy is swak en so afhanklik soos ’n kind.” Sy swyg. Dis beter dat hy nie weet wat die vorige dag gebeur het nie.
Kit verwens vir Karl in sy gedagtes. Ellendeling! Hoe goed ken hy nie sy soort nie! Parasiete wat op die meegevoel en deernis van ander teer. Maar hy spreek nie sy gedagtes hardop uit nie.
Hy plaas sy hande om haar gesig en kyk fronsend na haar. “Wanneer dan? Hoe lank kan ’n man in sy toestand ons uitmekaar hou?”
Die bitterheid in sy stem ontgaan Deborah nie. Sy kyk hom ’n wyle in stilte aan, dan neem sy haar besluit.
“Ek sal vanaand met vader John praat, hom vra hoe lank …” Sy kyk weg na waar die blou rooknewels swaar hang oor die stad ver onder hulle. “Ek twyfel of vader John sy toestemming sal gee om die huwelik ongedaan te maak. Tensy Karl bereid sou wees …” Sy kom nie verder nie. Ter wille van hom en haar eie selfrespek kan sy Kit nie vertel waarop haar enigste hoop berus nie. Niemand behalwe vader John, vir wie sy noodgedwonge sal moet sê, sal weet wat daardie nag gebeur het toe Karl haar liggaam onteer het nie. In stede daarvan vertel sy hom van haar besoek aan die priester dieselfde dag toe Mac die tyding gebring het dat Kit leef en teruggekom het.
“In my paniek het ek gehoop dat hy die huwelik onwettig sou verklaar. Ek het hom gesmeek en verduidelik dat die huwelik net op skrif was, wat nie werklik deur man en vrou voltrek is nie en …”
“Sê dit weer!” roep Kit saggies uit. Hy trek haar orent en dwing haar om na hom te kyk. “Is dit wat jy gesê het? ’n Huwelik op skrif? Karl … julle het nie …”
Waarom is daar soveel leed in haar oë toe sy na hom kyk, wonder hy, ’n pyn so diep dat dit haar van haar jeug beroof?
“Dit was ’n persoonlike ooreenkoms tussen my en Karl, iets waarop ons voor die tyd ooreengekom het,” antwoord Deborah sag. Sy voel die onrus aan haar knaag. As dit soveel vir Kit beteken dat sy onaangeraak is deur Karl, hoe sal dit hom raak as hy tog moet uitvind? Maar hy hoef nie! Sy sal Karl waarsku om nooit ooit daaroor te praat nie. Indien hy dit wel sou doen, sal Kit Malloy hom doodmaak. Nee, Kit mag nooit weet nie, dis verby. En miskien eendag, gekoester in Kit se liefde, sal sy self ook daarvan kan vergeet.
“Deborah? Is iets verkeerd?”
“Nee. Maar wat my aanbetref, het ek nie vader John of die kerk se seën nodig nie. Ek was nog nooit juis kerkgebonde nie, een is vir my soos ’n ander. As jy tevrede sal wees om my as jou vrou te vat, wetend dat ons miskien nooit sal kan trou nie, dan is ek bereid … Die res maak nie saak nie.”
“Ek wil jou kinders hê, my liefling,” protesteer hy sag, “en dis ter wille van jou en hulle.” Hy soen haar. “Ek sal self met die priesters gaan praat, laat vader John na die duiwel vlieg! Die ou ab is die man met gesag, ek sal hom oorhaal. My liefste meisie, dié keer wil ék die voorreg hê om jou aan my arm die kerk in te begelei,” sê Kit selfversekerd.
“Daarsonder … sou ek dan daarsonder vir jou onaanvaarbaar wees?” vra Deborah ademloos.
Kit skaterlag, dan vou hy haar in sy arms toe. “My geliefde gek! Hoe kan jy ooit vir my onaanvaarbaar wees?” Hy plant warm, koesterende soentjies op haar gesig, wat haar verwarm soos die middagson die winterlandskap warm maak. En teen haar eie beterwete sus dit die onrus in haar.
“Ek dink hier nie aan myself nie, my liefste, maar aan jou,” sê Kit en wieg haar saggies in sy arms. “Jy weet self die gemeenskap hier is kleindorps en bekrompe.” Hy lag. “’n Skynheilige ou spulletjie, maar …”
“Ek gee nie ’n duiwel om vir konvensies of die gemeenskap nie, Kit. Ons hoef ook nie hier te bly nie …”
Skielik merk sy die veraf uitdrukking in sy oë terwyl hy oor die stad staar. Johannesburg? Sou Kit tog verknog wees aan die stad? Onrustig onthou sy vader John se woorde daardie dag: “In jou selfsug dink jy net aan jouself. Wat van die mense om jou? Karl Mannheim het jou lief, jy sal hom vernietig as jy hom nou verlaat. En Kit Malloy? Hy is ’n Ier, Deborah, en hoewel geen kerkman en geen heilige nie, is hy ’n Katoliek. Die kerk is inherent deel van sy agtergrond en herkoms, so iets skud mens nie af sonder gewetenswroeging nie.”
“Deborah …” dring Kit se stem tot haar deur. Sy draai haar kop en sien dat sy blik op haar rus. “Ek het ’n fortuin gemaak met die Mosambiekse wapentransaksie. Ek is bereid om met jou ’n weddenskap aan te gaan dat ek voor die jaar uit is daardie fortuin gaan verdriedubbel.” Hy lag saggies en sy is bewus van die opwinding wat hy uitstraal. “Ongelukkig is dit juis hier, in hierdie ongoddelik lelike stadjie, waar my welvaart op die oomblik rondgesaai lê!” Die ondeundheid in sy uitdrukking laat haar onseker of hy nou spot of ernstig is.
Kit trek haar in sy arms in. Hy soen haar ’n laaste keer met al die passie van sy honger hart, dan fluister hy met sy mond teen hare: “Dit kan die vent seker nie vir ewig neem om homself reg te ruk nie. Ek sal wag. En intussen sal ek die saak uitsorteer met die ab of vader John, selfs die pous as dit daarop sou aankom!”