Читать книгу Die goudkewers - Lerina Erasmus - Страница 4

Proloog

Оглавление

“Jammer … ek is jammer …” prewel Karl aan die witkopvrou wat oopgespalk op sy bed lê. Hy sien die bloed wat die lakens donker vlek. Deborah! Hoe kón hy so iets gedoen het? Hy draai haar om. Sy is iemand anders, iemand wat met groot, starende oë na hom kyk.

“Clancey! O my God, Clancey!” roep hy uit. Hy druk sy langverlore liefling teen sy hart. Maar die liggaam is koud en leweloos, soos daardie verskriklike dag toe kanovaarders die lyk uiteindelik uit die maalkolk gelig het. Hy moet hier wegkom! Hy moet Clancey hier wegkry voor Deborah terugkom! Karl hardloop ylings in ’n liglose tonnel, die vrag in sy arms word al swaarder. Hy moet wegkom … wegkom! Sy asemhaling ruk hortend oor sy gebarste lippe. Dit voel of sy longe gaan bars.

In sy yling is Karl onbewus daarvan dat hy kreun, dat geel vlokkies speeksel skuimend om sy mondhoeke koek. Die pupille van sy wydgesperde oë verduister die irisse. Wydgesperde oë wat die Sjinese meisie in haar rooi satyn-slooprok nie raaksien nie. Hy self is nie in staat om enigiets raak te sien of in te neem wat nie binne die folterkelders van sy verstand gebeur nie, want hy lê nou al etlike dae in ’n diep beswyming.

Die meisie wat langs die houtafskorting sit waarin Karl hom bevind, weet dat dit die stadium is waarin die opiumverslaafde se blik martelend inwaarts gerig is. Die stadium waarin drogbeelde ’n man tot waansin kan dryf. Liu-Hohan, ’n gesellin van die Dragon Queen, weet egter glad nie hóé korrek haar waarneming van die onbekende blonde man se toestand is nie.

In die newelagtige wêreld van sy verbeelding is Karl omring deur gedrogte soos dié in ’n Hieronymus Bosch-skildery. Hy bevind hom skielik by ’n afstootlike Walpurgisnag-party. Waar? Waar is hy? Dit is Oxford, besef hy opeens. Die huis op die linkerkantse rivieroewer. In ’n vertrek verlig deur kandelare bevind hy hom nou tussen malende kreature wat dierkoppe dra. Hy herken van sy vriende onder hulle. Bob Heath, met die kop van ’n takbok, beweeg sy onderlyf suggestief heen en weer in Karl se rigting. Prins Edward, oftewel Prinnie, soos hy algemeen bekend is, kom met uitgestrekte arms op Karl afgeloop. Ten spyte van die skubberige vismasker, weet Karl dat dit Prinnie is, want hy herken hom aan sy peulende wit buik wat in voue oor sy geslagsorgaan hang. Karl wil wegkom, hy sal dit nie kan verdra as Prinnie nóú aan hom moet raak nie! Maar hy kan nie beweeg nie! Hoekom nie?! Hy moet wegkom … waar is Clancey?

Die viskop spoeg ’n straal water in ’n sierlike boog. Die water word bloed. Die viskop lag. “Wat! Wat! Kyk wat het ons hier – jong Mannheim uit Afrika,” roep hy hard uit. Hy lag honend, en sy volgelinge se hoë, skril stemme krys in Karl se ore. Om hom trek die demone laer. ’n Swart hond – halfmens, halfdier – se bek drup van die bloed. Die hond praat: “Daar is hy, Karl Mannheim! Die maal kan begin!”

Medusa met haar wriemelende haardos van slange lag hoog en skel langs hom. Sy maak haar bene oop. Uit haar stort ’n gebakte varkkop met ’n appel in die bek. In die appel woel ’n wurm vir hom ’n tonnel uit. Die wurm het ’n gesig! Die gesig van Rheed, sy pa se bestuurder! Die appel val uit die bek van die vark toe dié tot Karl se afgryse begin praat. Die varkkop word sy pa, Kurt Mannheim!

“Is jy nou tevrede, Karl? Jy en jy alleen het ons in hierdie hel laat beland.”

Karl probeer nog protesteer, maar die geluid van naderende perdepote en ’n gelag oordonder sy patetiese poging. Kit Malloy – halfperd, halfman – sirkel om die omstanders wat verskrik plek maak. Die sentour Malloy hou ’n naakte Deborah in sy arms, en hy tas besitlik oor haar liggaam. Karl probeer sy oë sluit, maar hy kan nie. Hy sien Deborah in Malloy se arms, haar lang blonde hare hang los en is vol bloed. Hy wil na haar toe, maar hulle maal om hom, dans om hom.

’n Vrou met kobra-agtige arms lig haar masker en word Eliza Tarlton. Die twee slangarms vou om hom; hy voel hoe die gesplete tong sy wang aanraak. Hy skreeu.

Die meisie langs Karl se slaapbank sien met toenemende kommer hoe die sweet die jong man nou deurweek. Die mooi blonde man met die hemeloë het meer as ’n maand gelede vroeg een oggend hier ingeslinger gekom. Hy het eers die gedeelde pyp gerook, en toe wou hy jig-jig hê, soos hulle almal maak. Hy was haar kliënt en hy was goed. Beter as die gewone klandisie wat niks weet van die kuns van stimulasie en vervulling nie. Liu-Hohan het daarom haar heel beste vir hom gegee.

Maar dit was nie genoeg nie. Die man was soos ’n onversadigbare dier. Veral in sy groeiende drang na opium. Dit het nie by die pyp gebly nie, ná die pyp was dit belladonna-druppels en gomstokkies. As ’n man dit só ver voer, en oor só ’n lang tyd, verloor hy alle sin vir tyd, dan besef hy nie eens dat die opium sy wil en denke totaal begin oorheers nie. Gewoonlik gee hulle dan nie meer om nie. Hulle raak gou bewusteloos. Dat die man met die blou oë so lank wakker gebly het, is verbasend. Dit was eers teen die einde van die vierde week dat hy in die diep slaap gesink het. Die witslaap, soos die opiumverslaafdes dit noem. Liu-Hohan was toe nog nie juis bekommerd nie. So raak hulle tog almal. En ná ’n dag of wat maak die drang na nog meer opium hulle altyd wakker. Maar hierdie slag het dit nie gebeur nie.

Sy skrik toe haar kliënt se liggaam skielik krampend begin ruk. Sy kom haastig orent. Sy durf nie langer wag nie. Sy moet Lu-Shi gaan vra wat sy moet doen. Sy haas haar tussen die houtslaapbanke deur waarop mans in verskillende stadiums van die witslaap lê. Vlugvoetig draf sy verby, ook verby die hokkies waar daar gekoppel word. Sommige hokkies se gordyne is nie eens toegetrek nie. Maar Liu-Hohan sien nou niks raak nie. Sy weet net die man met die blou-blou oë – blouer as die poue van haar moederland – is die seun van ’n belangrike man. Dit het sy uit sy eie mond gehoor. Sy wil nie deel hê daaraan as hy iets moet oorkom nie.

Terwyl sy haastig ’n verslete jas van die rak in die voorportaal afhaal en aantrek, verduidelik sy die doel van haar sending aan die deurwag. Dan draf sy na buite, waar sy stop om haastig haar skoene aan te trek. Sy hardloop in die smal stegie af. Sy gaan seker ’n paar klappe kry omdat sy Lu-Shi so vroeg pla, maar niks kan opweeg teen dít wat met haar sal gebeur as die blonde jong man iets oorkom terwyl sy na hom moes omsien nie.

Lu-Shi, op wie die mantel van Cockney Liz geval het ná haar dood, dwing Karl se mond oop. Die roggelgeluide wat uit die blonde man se keel kom, laat Lu-Shi dadelik vermoed dat die man aan sy eie tong begin verstik. Hy is reg. Hy trek die geswolle orgaan weg en beveel Liu-Hohan om dit vas te hou terwyl hy kussings agter die jong man inprop om hom regop te hou. Karl se kop val eienaardig skeef.

Lu-Shi vloek onderlangs. Verduiwelse slegte joss dat die man in so ’n toestand hier is! Lu-Shi het nie die vaagste benul gehad dat die vermiste jong Mannheim hom in een van die konsortium se opiumhutte bevind nie. Hy het hom onmiddellik herken as die jong man op die foto’s wat Von Brandis se manne hier rondgewys het – die invloedryke Kurt Mannheim se seun. Het hy vroeër daarvan geweet, kon hy selfs wins daaruit gemaak het. Maar nou, noudat hy in so ’n toestand is?

Lu-Shi kom orent en gee die meisie, wat steeds roerloos met geboë hoof langs hom kniel, ’n klap, ter wille van dissipline. Hy weet sy verwag dit.

“Dis goed dat jy my kom roep het.” Dan ignoreer hy haar weer. Hy draai na sy lyfwag en onderhandel kortaf in Mandaryns – hy weet dat Liu-Hohan, wat bloot ’n eenvoudige Sjinese meisie is, nie die hoër taal van Sjina kan verstaan nie. Hierdie man is Karl Mannheim. Hoef hy verder te verduidelik? Hy moet onmiddellik uit die Dragon Queen verwyder word! Hulle kan onder geen omstandighede bekostig dat die man hier sterf nie.

“Neem hom na een van die eethuise wat agterkamers het.”

“Vergewe my, hoogeerbare Lu-Shi, maar niemand sal ’n man in so ’n toestand inneem nie, as …”

“Doen wat ek sê! Ons het oral mense; betaal as dit moet, solank ons hom net hier wegkry!”

Lu-Shi se adjudant buig eerbiedig en swaai om om te gehoorsaam. Hy haas hom by die hool uit.

Lu-Shi wend hom na die meisie. “Wat het hy aan hom gehad toe hy ingekom het?” Hy weet dat dit algemeen die gebruik is dat die jig-jig-meisies hul kliënte beroof wanneer hulle beneweld raak.

Liu-Hohan huiwer net ’n oomblik voordat sy Karl se sakhorlosie en portefeulje oorhandig.

Lu-Shi deursoek laasgenoemde haastig. Nie te veel geld het in die beursie oorgebly nie. Dis te verstane – die man was lank genoeg hier. Sy vingers raak aan ’n ronde voorwerp. Hy haal dit uit. Dit is ’n outydse goue amulet van die soort wat dames soms nog dra, gewoonlik met ’n foto of ’n haarlok van ’n kind of geliefde daarin. Hy draai dit om. Die naam van ’n vrou is op die agterkant gegraveer: Jutta Mannheim. Lu-Shi maak die amulet oop. Dit bevat ’n kunstig geskilderde miniatuurportretjie van ’n uitsonderlike mooi jong man. Jonger as die een wat hier in doodsweet lê. Lu-Shi kyk weer na Karl se vervalle gesig. Dit kan tóg hy wees. Wat traak dit hom? Hy klap die amulet toe en plaas dit terug in die portefeulje.

“Jy kan die geld vir jou vat. Al die ander goed sit jy terug,” beveel hy die jig-jig-meisie. “Presies soos dit was en waar dit was, verstaan.”

Liu-Hohan buig twee maal diep om haar respek en begrip te toon. Lu-Shi is magtig en hy is die vader van Happy Valley se jig-jig-meisies.

Lu-Shi ignoreer haar en loop by haar verby na buite, uiters bekommerd.

Liu-Hohan hurk langs Karl en vee die sweet van sy gesig af met ’n reeds deurweekte laken. Sy sal hom was, hom skoonmaak. As hy in só ’n toestand van hierdie lewe die boot neem na die ander lewe, sal hy beslis die lot van ’n armsalige bedelaar tref. Sy werk flink om hom skoon te kry, want die tyd is min voor hulle hom kom haal.

Iewers in haar roer daar ’n gevoel van jammerte vir hom. Uit sy gebrabbel het sy te hore gekom van sy ma. Sy was sy koningin. Sy het ook gehoor van ander: Sam, Clancey, Deborah … vir haar onbekende, betekenislose name. Hy is bang vir sy pa; sy pa maak almal dood, het hy gesê. Sy wens nou sy het gevra wie sy pa is, wie sy mense is. Maar sy ken nie eens sy naam nie. As sy geweet het waar om sy mense te kry, kon sy hulle miskien laat weet het … Maar dit sou dom gewees het. Dit sou haar ’n swaar straf op die hals gehaal het, want dit is wet in die Dragon Queen dat kliënte naamloos en klasloos geëer word. En gewoonlik eindig die meeste van die opiumpelgrims se reis juis hier tussen die rooi paneelmure.

Liu-Hohan kom orent en kyk weer na die bewustelose man. Dan buig sy om die god in sy siel te groet. ’n Laaste eerbetoon.

Die windklokkies aan die buitedeur rinkel. Sy hoor naderende manstemme. Hulle is hier. Hulle het hom kom haal. Liu-Hohan kom regop en staan eenkant en wag in die verwagte eerbiedige houding.

Karl word orent gelig tot in ’n sittende posisie. Dan forseer hulle die stutstok agter by sy hemp en broek in. Daarna word die horisontale kruisbalk wat sy skouers moet stut flink aangeskroef. Die mans werk haastig en geoefend. Binne sekondes sal hulle die half bewustelose jong man op sy voete by die deur van die Dragon Queen uitmarsjeer. Twee sal hom wel stut, asof hy te diep in die bottel gekyk het, maar niemand wat hulle dophou, sal ooit raai dat die skynbaar beskonke mans wat die Dragon Queen so verlaat, eintlik lewende lyke is nie.

“Mamma, help my! Help my, Mamma! Deborah – hulle kruisig my!” roep die jong man uit, en sweet pêrel weer op sy liggaam. “Moenie weggaan nie! Moet my nie verstoot nie … Deborah!”

Liu-Hohan druk haar ore toe tot die krete in die verte wegsterf.

Die goudkewers

Подняться наверх