Читать книгу Die goudkewers - Lerina Erasmus - Страница 8

Hoofstuk 4

Оглавление

Deborah kan nie meer konsentreer op die boek wat sy lees nie. Sy kyk nikssiende op na die lamp wat saggies sis – ’n mot wat om die hitte van die glaskegel getol het, is pas verkool. Vanaand hou niks haar aandag nie, want haar gedagtes is soos patrysies wat wegskarrel in die ruigtes … Sy dink aan die somer toe sy en Kit saam was, die gelukkigste tyd in haar lewe. Daarteen vervaag alle vorige ervarings – selfs haar gelukkige kinderdae op Sorgenfrei voel ver en onwerklik in vergelyking met die volkomenheid en ekstase wat sy saam met hom ervaar het. Hoe hunker sy nie nou daarna nie! Nadat sy hom meer as twee weke gelede by Onderkopjes gesien het, is sy des te meer bewus van die intensiteit van haar verlange om voortdurend by hom te wees.

Sy was daardie middag nadat sy van Kit afskeid geneem het so hoopvol en so vasbeslote om daardie selfde aand nog met die eerste aanvoorwerk te begin. Sy sou minstens vir vader John konfronteer. Daarna sou sy oop kaarte speel met haar skoonpa. Sy sou hom meedeel dat sy beplan om Karl te verlaat sodra hy sterk genoeg is om die nuus aan te hoor.

Van hierdie voortvarende doelstellings het daar toe niks gekom nie. By haar tuiskoms daardie dag is sy deur Sam ingelig dat sy seurtjie longontsteking het. Die infeksie wat vader John van meet af aan gevrees het, het nou met alle geweld toegeslaan, en Karl was baie siek – dit het sy met die intrapslag in sy kamer onmiddellik besef.

Die susters van die kloosterhospitaal het mekaar nou in dubbelspanne afgelos langs Karl se bed. Ook vader John het Karl drie of vier keer per dag besoek. Gedurende daardie besoeke was hy duidelik gespanne oor sy pasiënt se toestand, en dit was skaars die geskikte tyd om met hom te praat oor die totnietverklaring van haar huwelik. Sy het in elk geval geen kans gehad nie, want hy en Ma-Fytjie was die laaste paar dae so innig verweef soos steekgras in wolkouse. Ma-Fytjie met haar boererate en kruiekennis was die vader se uitverkose vertroueling, en saam-saam het hulle agter geslote deure gekonfereer hoe om die koors te breek en watter kruiemiddels om in die stoomtent te laat trek. Vader John het selfs toegestem om Ma-Fytjie se bisarre raad te volg en ’n kompres van vars, warm bokmis om Karl se bors te slaan. Dit was dan ook gedurende daardie Woensdagnag dat Ma-Fytjie en Sam vir die eerste keer Karl se koors gebreek het met herhaaldelike mosterd-en-Engelse-sout-baaie.

Gedurende dié week se bedrywighede was Deborah en Kurt magtelose toeskouers. Hulle het gou genoeg aangevoel dat hul teenwoordigheid in die siekekamer meer steur as help. Sy en Kurt was saans stom teenoor mekaar aan tafel. Gesprekke wou nie vlot nie, en die Amerikaanse staanhorlosie het oorverdowend getik in die stil vertrek. Hulle was daardie eerste paar dae bewus van mense wat kom en gaan, gedempte stemme in die gang wat Karl se toestand fluisterend bespreek, en die verskeurende roggelhoes uit sy kamer.

Deborah het met ’n sinkende hart besef dat dit skaars die ideale tyd is om met Kurt te praat. Om só meedoënloos te wees, om hom onder sulke omstandighede te sê dat sy Karl gaan verlaat, kon sy nie oor haar hart kry nie. Maar haar onuitgesproke planne het loodswaar tussen hulle gelê wanneer hulle saans aan tafel was of in die lang ure wat hulle gedwonge omgesit het tot slapenstyd.

Vanaf daardie middag toe sy by haar tuiskoms moes uitvind dat Karl se toestand versleg het, was daar ook geen verdere daaglikse ritte na die myne nie. Kurt Mannheim het tuis gebly. Miskien was dit sy manier om boete te doen – sy weet dat dit vir die groot, energieke man ’n straf was om daagliks in die huis ingehok te wees. Dit was asof hy geglo het sy teenwoordigheid kon bydra tot Karl se herstel. Dit het Deborah die eerste keer laat besef hoe lief haar skoonpa sy seun in werklikheid het, al verberg hy dit so dikwels agter snedigheid en outokratiese gedrag.

Kurt het hom meestal in sy studeerkamer afgesonder. Net af en toe kon sy sy swaar voetstappe in die gang hoor. Telkens het die voetstappe voor Karl se kamer tot stilstand gekom. Dan was daar enkele oomblikke se stilte waarin Kurt roerloos voor die siekekamer se deur gestaan het, asof hy vir iets wag. Daarna het die treë weer hol in die gang af geklink, terug na sy plek van afsondering.

Soos Kurt was Deborah ook sku vir die siekekamer, maar sy het haarself gedwing om daagliks minstens ’n uur daar deur te bring. Of dit ’n goeie ding was, weet sy nie. Terwyl hy ylend was van koors het Karl geen aanduiding gegee dat hy omgee of sy daar is of nie. Tog vermoed sy dat hy op ’n eienaardige manier ’n aanvoeling het oor wat sy hom wil meedeel oor Kit. Sy was ’n hele paar keer bewus van die koorsige blou oë wat skerp en beskuldigend op haar rus voordat hy weer sy gesig na die muur gedraai en sy rug op haar gekeer het. Miskien was dit bloot haar eie skuldgevoel wat haar so fyngevoelig gemaak het.

Sy dink nie meer helder nie, besluit sy toe sy uiteindelik moeg orent kom uit die stoel waarin sy gesit het. Stram strek sy haar liggaam uit en loop doelloos na die kaggel waar sy haar hande ’n paar oomblikke lank verwarm. Vreemd, dink sy terwyl sy met onsiende oë in die gloeiende vlamme staar, dat Ma-Fytjie nou Karl se kampvegter geword het. Ten spyte van die Katolieke susters se teenwoordigheid, is sy amper dag en nag naby die siekekamer om ’n oog oor hom te hou.

In teenstelling daarmee is Deborah op die oomblik in Ma-Fytjie se slegte boekies. Daar heers ’n kouefront tussen hulle sedert Deborah daardie Maandag haar rebelse uittog na Onderkopjes gemaak het. Ma-Fytjie het van haar kant geen poging aangewend om weer alleen met Deborah te praat nie. Sy word nou wel besig gehou deur Karl se siekte, maar dit is duidelik dat sy Deborah opsetlik vermy. Deborah besef nou dat die onmin haar diep raak. Sy en Ma-Fytjie het in die verlede al baie maal vasgesit, en sy moes al net soveel keer deurloop onder die ou vrou se giftige tong – maar nou is dit anders. Hierdie afsydigheid is vir haar ’n veel erger beproewing as een van Ma-Fytjie se tirades.

Sy kyk na die staanhorlosie met sy oordadige versierings. Dis nog nie nege-uur nie, en in haar bedruktheid oorweeg sy dit om uit die huis te vlug, maak nie saak waarheen nie … Sy sal Kit gaan soek, hom sê dat sy haar intrek by hom neem en dat niemand ’n sê het daaroor behalwe hulle nie. Sy sal hom beveel om sy arms om haar te sit en haar dig teen hom vas te hou totdat alle eensaamheid en vrees uit haar siel vlug soos die najaarsmis voor die Hoëveldse son.

Sy draai gefrustreerd van die vuur af weg. Gek! Dís wat sy is! ’n Idioot. ’n Kind soek so ontvlugting, en dit is sy nie meer nie. Sy is nie vry om na Kit te gaan nie, nie voor sy die saak op die regte manier uitgepraat het nie.

Sy draai sugtend om en loop terug na haar stoel waar sy die boek wat sy gelees het, optel voordat sy die lamppit afdraai. In die donker beweeg sy deur die vertrek. Sy het beplan om te wag op vader John se laaste aandbesoek, in die hoop om ná die tyd met hom te praat, maar die uitputting wat nou al dae lank aan haar knaag, het vanaand die oorhand gekry. Oudergewoonte kies sy koers die lang gang af na Karl se kamer. Sy huiwer voor sy ingaan – in haar donker bui het sy skaars lus om weer in sy beskuldigende oë te kyk. Nietemin maak sy die deur oop en gaan in.

Daar heers ’n rustigheid in die kamer. Karl slaap, en in die onskuld van die slaap lyk hy jonk soos ’n seun en net so weerloos. Die twee nonne wat by sy bed waak, is diep betrokke by hul afsonderlike meditasies en die uittel van hul gebedskrale. Dit moet goed wees om deurentyd spirituele krag van iewers te tap, dink Deborah moeg. Saggies, om nie een van hulle te steur nie, draai sy om en trek die deur weer geluidloos agter haar toe. Onder in die gang hoor sy die studeerkamer se deur oopgaan. Sy kyk om en sien haar skoonvader se figuur geraam in die lig wat uit die kamer skyn.

“Deborah!” roep hy gedemp. Hy wink haar nader. Sy gehoorsaam en Kurt staan beleef opsy om haar in te laat, voordat hy beduie dat sy moet sit.

Kurt gaan sit agter sy lessenaar. Daar heers ’n ongemaklike stilte. Sy sien die halwe fles konjak wat op die werktafel van die boekery staan en weet aan die reuk van alkohol wat die oorverhitte vertrek vol hang dat Kurt meer as sy gewone glas of twee moes gehad het. Daar is egter geen beduidenis daarvan aan sy spraak nie.

“Volgens vader John is Karl nou buite gevaar. Indien daar nie verdere komplikasies intree nie, is ons deur die krisistyd,” merk hy bot op.

Sy knik, onseker waarom hy dit nou noem, want sy was tog teenwoordig toe die Katolieke dokter hulle die goeie nuus gegee het. Sy wonder egter nie lank nie, want Kurt praat weer.

“Ons kan nie bekostig om langer die dae hier te sit en omwag nie. Van môre af moet die lewe weer sy ou gang gaan.”

Kurt se oë soek oor die stil, onleesbare gelaat van sy skoondogter. Hy wag op reaksie, maar word teleurgestel. Hy merk wel op dat sy besonder moeg lyk, maar dis seker te verstane.

“Dis in orde, meneer Mannheim. Hoe laat moet ek gereed wees?” antwoord sy uiteindelik. Dit sou ’n goeie tyd wees om hom te sê, skiet die gedagte haar te binne. Dit sou eerlik wees. Sy sal hom kort en bondig meedeel: Ek sou u graag wou vergesel, want om aan u sy te wees en te leer omtrent die myne is geweldig stimulerend, maar dit sou vir u en my ’n mors van tyd wees. Ek gaan weg, meneer Mannheim, ek verlaat Karl … Ongelukkig het die man wat ek liefhet, geen belang by goudmyne nie …

Die woorde vloei so glad soos water oor rivierklippies in haar gedagtes. Dit sou so maklik wees om dit te sê, maar steeds het sy nie die moed om die woorde hardop uit te spreek nie. Daarom knik sy bloot toe Kurt haar die vertrektyd meedeel en kom dan orent om die studeerkamer te verlaat.

“Goeienag, meneer Mannheim.”

“Goeienag, Deborah.”

Kurt kyk fronsend na die geslote deur waardeur die jong vrou verdwyn het. Vanaand, meer as ooit tevore, is hy maar te bewus van die verandering by Deborah. Dis asof die ou kameraderie wat tussen hulle was plek gemaak het vir ongemak en inkennigheid. Kurt is oortuig dat dit te make het met haar besoek aan Cohen twee weke gelede. Hulle het dit nooit bespreek nie. Hy wou haar allermins die idee gee dat hy inmeng. Tog het hy gehoop dat sy uit haar eie met hom daaroor sou praat. Maar sy het nie, en vanaand het die lusteloosheid waarmee sy sy planne vir die volgende dag aanvaar het, hom gekwets. Dit was in direkte teenstelling met haar gewone bruisende entoesiasme. Miskien is sy maar net moeg, besweer hy sy onrus toe hy opnuut poog om sy aandag by die hoop opgestapelde mynverslae wat die week by hom aan huis afgelewer is, te bepaal.

Daar sal na ’n nuwe uitweg gesoek moet word. Finansieel begin dinge handuit ruk by sy myne, dink hy terwyl hy die grafiek bestudeer wat oor die laaste maande ’n dramatiese val toon – wat astronomiese verliese beteken. Die vervloekte piritiese erts! dink hy met magtelose woede. Hy het so gehoop dat die erts wat van onder uit die nuwe gange na bo gehys sou word, beter sou wees. Maar dit was nie, net soos die res was dit ook hopeloos. Al kan hy as mynman die goud daarin met die blote oog uitken!

“Verdomp!” Hy slaan die lessenaar met sy vuis. Hy en die ander myners het nou soveel meer kennis. Hulle weet presies hoe die rif loop, die rykste goudrif ter wêreld, maar nou word hulle gekniehalter deur die verdomde pirietkristalle! Daar móét ’n manier wees om die goudkorrels daaruit te verlos. Sy drif laat die bloed in sy slape tamboer.

Kurt vee moeg oor sy oë en dwing homself om kalm te word. Dit sal hom beter loon om nou liewer sy posisie as mynbaas in oënskou te neem.

Hy kon hom nog altyd daarop beroem dat hy weet wanneer dit belangrik is om te waag, selfs geld te verloor. Maar ’n mens moet ook weet wanneer om jou rug te keer op ’n mislukking, veral een wat jou dalk verder gaan stroop van jou kapitaal. Waar staan hy nou met sy myne? dink hy met ’n hernude gevoel van desperaatheid terwyl hy deur die verslag oor Jutta’s Rand blaai. Karl se myn, ook hul modernste diepmyn. Daarom is Jutta’s Rand se oorhoofse kostes drie maal soveel as dié van die ander myne. Jutta’s Rand … Karl s’n om mee te maak wat hy wil, maar op die oomblik is sy seun se belange in sy hande, terwyl hy siek is.

Hy kom orent en beweeg na die venster, waar hy die luike toetrek. Buite lê die nag stil en sterloos. Jutta’s Rand vreet daagliks meer in sy profyt in. Dit sou ’n verstandige besluit wees om die myn toe te maak, hoe dit hom ook al teen die bors stuit. Sal hy dit met Deborah bespreek? As Karl se vrou is sý die een wat verantwoordelik is vir sy sake terwyl hy siek is.

Dan onthou Kurt weer Deborah se gebrek aan vertroue in hom. Hy weet van die skenking wat Malloy aan haar gemaak het. Johannesburg gons oor die dorp se nuutste miljoenêr. Die man se ooglopende bravade steek Kurt dwars in die krop en hy is bekommerd. Hy het verneem dat Malloy openlik navraag doen oor ambagsmense, die beste vakmanne om vir hom ’n huis te bou. ’n Huis vir hom, of vir hom en Deborah? Waarom anders sou ’n vrygesel soos Malloy vir homself ’n huis laat bou? Sou hy die huis beplan op daardie uiters waardevolle stuk grond teen die noordwestelike rant wat hy aan Deborah geskenk het? Was dit omkoopgrond, om haar na sy kant oor te haal?

En Deborah? Ná al die weke dat sy hom na die myne vergesel het, het hy tog gehoop dat hulle ’n soort vertrouensverhouding opgebou het, maar sy was die laaste twee weke geslote, geheimsinnig teenoor hom. Vanaand het hy ’n oomblik verwag dat sy gaan weier om weer myne toe te gaan, dat sy oop kaarte met hom sou speel en hom sou meedeel dat sy beplan om die huis te verlaat noudat Karl beter is. Maar sy het nie. Miskien is dit sy verbeelding, miskien is alles tog nog nie verlore nie. Hoe sien hy nie daarna uit om haar net vir homself te hê die volgende dag nie! Hy sal dit vir haar die moeite werd maak, besluit hy terwyl hy die luike beslis toemaak en omdraai om te gaan slaap.

Die stompgeknipte kersies op hul skuthelms flikker in ’n dansende ligpatroon teen die ondergrondse rotswande. Deborah gaan staan om ’n gruisklippie uit haar skoen te haal en leun ’n oomblik teen een van die mynstutte aan. Met ’n gevoel van paniek raak sy bewus van haar eie moegheid en dat sweet koud op haar uitslaan ten spyte van die versengende hitte ondergronds. Sy is skielik bang dat sy flou gaan word, en sy weet dit sal Kurt geweldig in die verleentheid stel voor meneer Rheed en die ander myners. Sy kners op haar tande. Nooit nie! Sy mag nie so iets oorkom nie. Sy moet dit beveg, die inspeksie van die nuwe tonnel het nog skaars begin.

“Deborah?” roep Kurt op ’n afstand uit.

“Ek kom,” stel sy hom gerus en dwing haarself om die swymelende gevoel te onderdruk deur dieper asem te haal, maar die klam, muwwe lug in die ondergrondse tonnel doen min om haar toestand te verbeter. Ten minste is dit vandag nog net hierdie myngang, dan behoort hulle klaar te wees vir die dag, moedig sy haarself aan terwyl sy die mans tegemoetloop.

Rheed oorhandig die nuutste ertsmonsters aan Kurt en verduidelik dat dit getrek is uit ’n nuwe vertikale skag wat hulle op Kurt se bevel gesink het. Die resultaat is ooglopend. Kurt kyk daarna, maar hy sê niks nie, want ’n gevoel van magteloosheid oorweldig hom. Dis dieselfde as die res. Hierdie skag sal ook maar net soos die ander skag wat hulle gesink het ton vir ton onreduseerbare gemors oplewer. Hy oorhandig wrewelig die driltoetsmonster aan Deborah. Hy merk nou eers hoe bleek sy is, en dat haar gesig nat is van sweet.

“Is alles in orde met jou?” vra hy onrustig.

Sy knik, vee haar gesig af en draai dan na Rheed. “Wat ek nie kan verstaan nie, meneer Rheed, is dat u gesê het dat daar sedert twee weke gelede kopers is.” Sy hou die drilmonster omhoog. “Mense wat belangstel om die uitskotslik, ons sandhope, op te koop?”

Rheed knik. “Dit het my ook dronkgeslaan, maar nou ja, as hulle wil geld mors …” Hy wend hom weer na Kurt. “Ek dink u sou saamstem dat ek hulle dit in die toekoms maar moet laat kry, meneer Mannheim. Die berge sand hoop op by die myne en lê die hele wêreld vol. As hulle gek genoeg is om daarvoor te betaal, kry ons ten minste iets daarvoor in.”

Kurt knik. Sy gedagtes is duidelik nie by wat Rheed sê nie. “Maak soos jy goeddink,” sê hy kortaf. “Maar hulle moet hul eie vervoerreëlings tref.”

“Hoeveel?” klink Deborah se stem weer links van Rheed op. Sy vee haar gesig weer af, maar sy voel darem beter. Rheed se mededeling interesseer haar en dit lei haar gedagtes af. Indien iemand bereid is om te betaal, al is dit ook hoe min, moet die artikel wat gekoop word tog vir hulle van waarde wees. Watter waarde kan geheg word aan daardie berge onverwerkbare mynsand?

“Twintig pond ses sjielings per ton.”

“Hoekom? Wat wil hulle daarmee maak?” vra sy fronsend.

“Wat kán hulle daarmee maak?” vra Kurt kortaf. “Dooie sand! Mens kan nie eens iets daarin plant nie.”

“Maar dis gouddraend! Ons weet dit almal. Daardie kopers is bereid om te betaal, koste aan te gaan om die sand weg te ry iewers heen. Daar moet ’n rede voor wees,” hou sy koppig vol. “Sê my …” Sy wend haar na Rheed. “Koop hulle ook by die ander myne op?”

Rheed knik bevestigend, maar voor hy kans kry om te antwoord, spring Kurt hom iesegrimmig voor.

“Dis waarskynlik weer daardie opportunis J.B. Robinson! Asof die sot nie sy kop hard genoeg gestamp het met die chloreringsdebakel nie.”

“Robinson?” roep Deborah uit, haar nuuskierigheid nou éérs geprikkel.

Kurt knik nukkerig. “Ja, ek verstaan daar is ’n nuwe gewerskaf by sy Salisbury-myn –”

“Weet u wie die mense is wat kom opkoop het … Ek bedoel, was dit van meneer Robinson se manne?” vra Deborah aan Rheed.

Hy skud sy kop. “Vreemdelinge, mense wat ek nog nooit tevore gesien het nie.”

“Genoeg!” onderbreek Kurt hulle kortaf. “Vir watter geklike rede ook al die spul die sand opkoop, dit traak ons nie … Ons het genoeg probleme van ons eie.” Hy kyk weer na Deborah, haar bleekheid verontrus hom. “Kom, laat ons boontoe gaan.”

Die oorpak en spesiale onderklere wat sy ondergronds gebruik, is so deurweek van die sweet dat sy dit sal kan uitwring. Naak loop sy onder die stort in, en die bytende koue water is lawend op haar warm, beswete lyf. Sy mag die bestuurders se ablusieblok eerste gebruik op die dae wanneer sy Kurt vergesel, en sy maak altyd ’n punt daarvan om nie te lank te draai nie, sodat die mans ook ’n kans het om skoon te kom.

Gewas en afgekoel maak sy die kraan toe en begin haarself energiek afdroog. Sy voel steeds onverklaarbaar benoud. Sy haal diep asem om vars lug in haar longe te kry. Sy was nog nooit vantevore ondergronds benoud nie. Wat sou vandag met haar aangaan? wonder sy terwyl sy haastig haar gewone klere aantrek.

Haar gedagtes steek vas by dit wat Rheed vertel het. Waar berg hierdie geheimsinnige kopers die massas sand? Sy maak haastig haar vlegsel los en probeer die nat hare uitkam en vleg, maar besluit dan om dit maar net losweg op te steek, uit haar nek uit, waar die sweet weer ten spyte van die koue stort begin uitslaan. Sy moet uitkom buitentoe! Sy moet meer vars lug hê, skiet ’n laaste paniekerige gedagte haar te binne voordat ’n swart newelrigheid haar soos ’n verstikkende kombers oorweldig en sy afgetrek word in ’n donker tonnel.

“Deborah! Deborah!” Vaagweg is sy bewus van stemme wat praat, iemand wat na haar roep. Asof sy iemand anders is, voel sy hoe daar aan haar geraak word, hoe iemand haar wange liggies tik.

“Hier, ek het die medisynekissie gebring …” praat ’n uitasem manstem. Die stem behoort aan Rheed, besef sy, haar verstand nou helderder. Die skerp reuk van vlugsout brand skielik in haar neus en laat haar stik.

Sy maak haar oë oop en kyk vas in haar skoonpa se bekommerde gesig. Wat het gebeur? wonder sy. Waarom lê sy op die vloer van die washuis, terwyl Rheed en Kurt by haar hurk? Haastig dwing sy haarself om regop te sit, en dan voel sy hoe die newels om haar brein verdwyn. Sy moes flou geword het, besef sy met ’n gevoel van irritasie. Die verleentheid daarvan dryf bloed na haar wange.

“Jammer, meneer Mannheim, ek weet nie wat my oorgekom het nie,” mompel sy verleë.

“Sit doodstil,” beveel haar skoonpa. “Ek het gevra dat hulle die koets nader bring. Ons sal jou dra en …”

“Goeiste, nee!” roep Deborah uit. Die skande dat sy soos die een of ander porseleinpop flou geword het, is al erg genoeg om te verduur! Sy druk Kurt se beskermende arms beslis uit die pad uit en staan op. “Ek makeer niks nie, dit was net die bedompigheid onder in die myn wat my effens gevang het. Dis al.”

Hulle hoor die koets aankom. Die twee mans kyk betekenisvol na mekaar, dan na haar.

“Ek neem mevrou Mannheim huis toe. Ons sal môre verder praat,” sê Kurt sonder verdere omhaal.

“Ma-Fytjie …” Kurt keer die groot vrou in die gang voor, sy stem growwer en dieper as gewoonlik.

Sy kyk hom ondersoekend aan; iets skort beslis. Uit respek wag sy vir hom om te praat, maar dit duur ’n hele paar oomblikke.

“Gaan na Deborah … mevrou Mannheim toe, sy het jou nodig. Sy is … ’m … ongesteld, glo ek …”

“Siek? My missie Deborah?” vra Ma-Fytjie in ongeloof. Afgesien van die gewone kindersiektes soos masels en pampoene was Deborah nog nooit in haar hele lewe siek nie. Angs wel in haar op. Kurt Mannheim sou nie sommer so iets in die wind sê nie!

Kurt sien die onrus in Ma-Fytjie se donker oë raak. “Dis dalk niks nie, maar sy het flou geword in die aantrekkamers by Jutta’s Rand … Dis miskien maar net die spanning van die laaste paar weke.”

Die ou dame se gesig word skielik onleesbaar. Sy maak ’n effense kniebuiging. “As mister Mannheim my sal verskoon …” Sy wag nie op ’n antwoord nie, draai haar net so in die buiging om en haas haar in volle vaart in die lang, donker gang af na die spaarkamer.

Die kamer is in donkerte gehul, maar die bleek winterlig syfer tog in helder strepe deur die luike. Deborah se figuur is swart afgeëts teen die venster waar sy met opgetrekte bene op die vensterbank sit.

“Missie?” roep Ma-Fytjie uit nadat sy die deur agter haar toegetrek het. Sy kom nader toe die roerlose figuur geen reaksie toon nie.

Die afgelope twee en ’n half weke se onmin hang nou hinderlik soos slegte asem tussen haar en haar geliefde grootmaakkind, dink sy spytig. Om haar eie ongemak te oorbrug, loop sy na die ronde tafel waarop die koperlamp staan en steek dit aan. Sy tel die lamp op en loop na Deborah, haar wyse ou oë skerp en ondersoekend.

Deborah lig uiteindelik haar kop van haar knieë op. “Dis niks om ’n bohaai oor te maak nie, Ma-Fytjie,” sê sy en kom effens stram orent uit haar sittende posisie. “Dit was net die bedompigheid onder in die myn wat my gevang het, dis al.”

“H’m …” sê Ma-Fytjie betekenisvol en sit die lamp op die vensterbank neer. Sy draai Deborah onseremonieel om, sodat sy met haar rug na haar gekeer staan. Ma-Fytjie vee die vag blonde hare weg en begin om die bostuk van Deborah se uitrusting los te knoop. Haar tong werk nou so ywerig soos haar hande.

“Ek was nog nooit daarvoor dat jy soos ’n mol in daardie gate onder die aarde loop rondkruip nie! As ons Liewe Heretjie dit so bedoel het, sou hy vir ons knypers gegee het om onder die aarde in te woel, maar in sy wysheid het Hy nie. Weet jy hoekom nie, missie?”

Sy gee Deborah kans om haar vraag te oorweeg terwyl sy die losgeknoopte bostuk vir haar uittrek. Haar oë kyk spekulerend na die slanke jong liggaam. Tensy ouderdom haar oordeel aangetas het, glo sy sy weet maar te goed wat met Deborah skort. Tog, daar is nog geen teken te bespeur nie. Maar dan was die kind van meet af aan so lenig soos ’n jong duikertjie.

Deborah glip uit die romp en kardoesbroek, aanvaar die japon wat Ma-Fytjie na haar uithou en trek dit aan. “Ek wil net ’n rukkie rus, dan is ek weer reg en –”

“Ja, dié kan jy … Maar laat ek nou vir jou sê, missie, jy sal moet uitsny … Die gekerjakkery met ouseur, die gerondkruipery in die myne, is sonde soek, sê ek jou nou. In daai diep en donker gate soek jy vir die ou duiwel, dis altevol gemaklik vir hom want sy nes is net onderkant!”

Ten spyte van haar bedruktheid kan Deborah haar glimlag nie bedwing nie. Sy slaan haar arms om Ma-Fytjie se groot skouers en druk haar vas. “Toemaar. Hy sal hom morsdood skrik vir die geraas van die drilmasjiene en die dinamiet. Ma-Fytjie, dis goed dat ons weer praat! Glo my, ek wou jou nie seermaak nie, maar ek kon daardie Maandag …”

“Missie Deborah …” Ma-Fytjie se verrimpelde bruin hand sluit oor dié van haar lieflingsversie, dan lei sy haar oor na die koperbed waar sy haar laat sit voordat sy versigtig begin voorbrand maak.

“Jy kan spot soos jy wil, kind, maar noudat jy só is – jy sal moet begin inkort, missie.” Sy sien die onbegrip op Deborah se gesig. “Jy is nou meer as drie weke oor jou tyd, of het dit jou nie opgeval nie?”

“Wat daarvan?” vra Deborah fronsend. Wat Ma-Fytjie sê is waar, maar sy was so verwikkel in ander probleme dat sy haar nie veel daaraan gesteur het nie. Drie weke? Maar wat beteken dit, waarom lyk Ma-Fytjie so ernstig?

Ma-Fytjie sug swaar en wens dat sy vroeërjare met die kind oor dié dinge gepraat het. Sy wis maar te goed dat miss Lisha – ladytjie soos wat dié was – nooit met haar dogter oor so iets sou praat nie. Tog, Deborah het deur haar pa soos ’n jongetjie op die plaas opgegroei, op haar eie manier weet sy tog seker genoeg van dié dinge. Hoekom is sy dan nou so dikkop om die kloutjie en die oor te paar? Sy moet tog self weet wanneer die inlê tussen haar en mister Karl gebeur het?

“Waarom so ’n bohaai maak? Dis seker maar ’n koue. Mamma het altyd –”

“Nee, dis nie ’n koue nie, jy’t oorgeslaan oor daar ’n kindjie by jou aan’ t kom is … Jy gaan ’n mamma word, missie Deborah, so by Maart, April reken ek, as ek dit nou nie mis het nie. ’n Ou Paaskindjie –”

“Nou is jy skoon gek, Ma-Fytjie!” Deborah ruk haar hande los uit Ma-Fytjie s’n en spring onthuts orent. “Dis twak! Verstaan jy my? Dit kan en sal nie gebeur nie!” Sy loop driftig weg, maar die engte van die kamer perk haar in.

Sy swaai om. Op die bed sit Ma-Fytjie nog net soos vantevore, maar in haar toestand van skok ervaar Deborah haar as die een of ander dreigende orakel. Hoe durf sy haar kom bangpraat met sulke snert? Dis ondenkbaar dat sy swanger is, dit kan nie! Kit is die enigste man met wie sy ooit liefde gedeel het, en dis agt maande gelede. Dit ís tog onmoontlik? Karl en sy het niks meer in gemeen nie, hy was weke lank weg ná die nag toe … Skielik dring ’n verlammende besef tot haar deur … daardie nag toe Karl weerwraak geneem het op die vernedering wat hy verduur het deur Kit se toedoen. Die herinnering daaraan laat die mislikheid weer in haar keel opstoot.

Haastig draai sy weg van Ma-Fytjie om haar ontsetting te verberg. Hoe kan so iets gebeur? Dit was nie ’n normale samesyn nie, nie soos wat dit was tussen haar en Kit die dag by die fontein nie. As hulle dááruit ’n kindjie verwek het, sou haar hart oorgeloop het van geluk. Maar tussen haar en Karl, soos dit daardie nag was? Dit was onnatuurlik en wreed. Sy sidder toe haar brein flitse daarvan oproep, dit sny deur die dun lagie vergetelheid wat sy daaroor probeer vorm het. Die minagtende en vernederende manier waarop hy haar liggaam misbruik het. Dit was nie normaal nie. Hoe kan sy swanger wees ná daardie verskriklike verkragting?

“Missie?” Ma-Fytjie raak aan haar skouer.

Toe Deborah uiteindelik omdraai, eien sy simpatie in die ouer vrou se donker oë.

“Dis wat ek vir jou probeer sê het die dag toe jy agter mister Kit aan is Onderkopjes toe. Ek wou hê jy moes verstaan dat jy nie meer vry is nie.”

“Hoe kan dit wees, Ma-Fytjie …” prewel Deborah deur stram lippe, haar gesig bleek.

Ma-Fytjie trek die verwese meisie teen haar bors aan, sy sus haar teen haar groot boesem soos sy kleintyd gemaak het.

“Missie, as ek nie verkeerd is nie, dan was dit die nag ná die konsert gewees. Daai aand toe Sam Naudies vir my kom sê het ek moet bed toe, dat jy my nie nodig het nie … Is dit nie so nie, missie?”

Deborah kyk op, sy skud haar kop. “Dit kán nie wees nie … nie soos dit gebeur het nie! Asseblief, Ma-Fytjie, dis nie soos jy dink nie!” Daar is ’n noot van histerie in haar stem.

Fytjie knik simpatiek. “Ek het daardie môre van ek my ou oë op jou gelê het, geweet dat daar fout was, jy was al aangetrek. Van toe af, tot knap die begin van die nuwe maand, wou jy nie dat jou ou Ma-Fytjie vir jou help nie … Jy wou wegsteek, missie, maar die ou vrou is al te oud. Hy … mister Karl … Dié het vir jou liederlik bygekom daardie nag … En toe hy eers soek was, het ek, wat ’n goeie Christenmens behoort te wees, geloop en wens dat hy moet dood. Maar toe begin ek die tekens sien by jou, missie, en ek gaan knieë toe en ek sê askies vir ons Liewe Heer, want ek weet dat ek jou kindjie se pappa dood wou dink. Is dié wat ek toe ook vir mister Kit gesê het dat hy moet vergeet en ander pad loop soek, dat dit verby is.”

“Ek kan Kit nie afstaan nie, Ma-Fytjie! Ek kán nie!” roep Deborah uit. “Hoe kan ek swanger wees?” Skaam en aanvanklik hortend verduidelik sy die afgryslike klimaks ná die aanranding en voel haar wange brand. Sy vee die trane van vernedering weg wat ten spyte van haar woede opwel. “Dit kán nie wees dat ek swanger is ná die manier waarop Karl …”

“Missie …” Ma-Fytjie sug swaar, dan lei sy die bewende meisie na die hoëruggemakstoel waar sy haar sit maak voor sy praat.

“Dit kán so gebeur, my missie Deborah. Dis soos die saaier, missie, die saad val met die groot uitstrooi, maar soos hy ’n handvol hou en hy sy hand laat kroptrek vir die groot strooi, dan val daar tog van die sade uit en hy weet nie eens daarvan nie. Dis soos dit is met die manne ook. Die ding kom nie net by die fyndraai nie, nooientjie, dit kom sonder dat jy weet. Dink nou so, my missie, dit was die wil van ons Liewe Heretjie laat dit so moes gebeur het …”

“Ek weier om dit te aanvaar! Hoor jy my, Ma-Fytjie?” roep Deborah hees, en trane stroom nou vryelik oor haar wange. “Watter regverdigheid is daar dan as ék die nagevolge moet dra van so iets afskuweliks? Loop! Ek wil niks meer hoor nie … ek wil alleen wees.”

Fytjie knik woordeloos. Sy self is nou te gedaan om verder te probeer praat. Sy sal later vir Deborah iets ligs bring om te eet, en haar dan iets gee teen die ontsteltenis, maar nou moet die kind op haar eie manier vrede maak met die waarheid, dink sy toe sy uitstap en die deur agter haar toemaak.

Deborah loop na die wastafeltjie waarop die porseleinwaskom en -beker staan. Sy skink water in en begin haar gesig driftig was asof sy daarmee ook Ma-Fytjie se boodskap kan afskrop. Sy droog haar gesig nie af nie maar loop na die venster waar sy eers die luike en daarna die venster oopmaak. Die winterlug slaan koud en rokerig teen haar nat gesig aan. Sy dwing haar gedagtes met mening weg van haar eie dilemma en dwing haar aandag na die myne se probleme.

Hoe sou mens kon vasstel wie die geheimsinnige persone is wat by die myne rondgaan om uitskotsand op te koop? Sy is oortuig daarvan dat daardie manne iets moet weet … Haar skoonpa het melding gemaak van J.B. Robinson, en sy het die man met sy wit sonhelm al ’n keer of twee ontmoet, maar sy kan hom skaars trompop loop en vra of hy iets daarvan weet. Robinson … Sy verstaan hy is vindingryk en het waagmoed, ’n man met visie – so praat hulle oor hom. Gestel dat die sandkopers wel vir J.B. optree: weet Robinson en sy manne dan van iets wat nog vir die ander goudkewers ’n geheim is? Daar móét ’n manier wees om meer uit te vind.

Haar gesig, drooggewaai deur die koel nagwind, voel yskoud toe sy uiteindelik kalm die venster toemaak. Maar dis asof die koue van buite nou ook in haar siel ingekruip het. Ma-Fytjie se wyshede lê haar loodswaar op die hart. Die moederlike ou vrou, wat nooit kinders van haar eie gehad het nie, maar wat soveel babas in die wêreld ingehelp het. Haar waarnemings kan nie verontagsaam word nie. As Ma-Fytjie se voorspelling waar is, as sy wel swanger is, dan gaan sy op ’n manier ’n tweede keer boet, en nie net sy nie maar ook Kit. ’n Oomblik sien sy sy gesig agter haar brandende ooglede, sien sy die hoop en ongeloof daarin opflikker toe sy aan hom verduidelik het dat haar en Karl se huwelik bloot ’n gerieflikheidsreëling was. Hoe gaan sy nou aan hom hierdie nuus oordra? Hoe sal hy daarop reageer? Kit sal Karl waarskynlik doodmaak as hy ooit uitvind van die verkragting.

Deborah gaan lê uitgeput op haar bed en bid dat die slaap moet kom, dat slaap die teisterende gedagtes ’n paar ure kom uitblok, maar dit is haar nie beskore nie.

Tog maak sy of sy slaap toe Ma-Fytjie later met ’n skinkbord kos aan haar deur klop. Ma-Fytjie bedek haar liefdevol met die los verekombers en blaas die lamp uit voor sy weer die vertrek verlaat met die onaangeraakte skinkbord.

Toe die staanhorlosie in die voorhuis ses slae slaan en Deborah ’n sekonde later die klokslae van die Katolieke kerkie se ruwe kloktoring hoor, kom sy stram orent uit die warm bed. Die nag se koue byt nog deur die dun materiaal van haar japon, maar sy is skaars bewus daarvan. Hoewel sy nie geslaap het nie, is haar verstand kristalhelder, het sy die situasie opgesom en verwerk. Sy is nie bereid om haar geluk, haar lewe op te offer vir die misdaad wat teen haar liggaam gepleeg is nie.

Op die plaas het sy soms die werkersvroue hoor praat oor ’n uitkoms. Gefluisterde gesprekke … Saar wat gepraat het oor Mina wat drie bottels Vaaljapie gedrink het en toe van die dresser afgespring het. Johanna, wat uiteindelik weggeloop het, het ’n hele dag op die wilde vleidonkies se rûe deurgebring. Dié vroue was reeds moeders, daarby werkers vir wie die vrug in hulle skoot op ’n ongeleë tyd gekom het. Nog nooit tevore het Deborah soveel begrip gehad vir wat daardie vroue gedoen het nie. Daar was reeds te veel monde om te voed, en die mans met wie hulle getroud was het min genade gehad. Vir hulle was die kort plesier van omgang iets wat gou vergete was, tot die volgende keer. Wat die gevolge daarvan was, was die vroue se probleem, dink Deborah met groeiende bitterheid.

Deur die getrekte luike bespeur sy die eerste skemergrys van die daeraad. Sy loop doelgerig na die wastafel en gooi weer water in die waskom om haarself te reinig. Reinig? Sy weet nie of die woord nog in haar woordeskat hoort nie, maar in die ysige water voltrek sy die oggendritueel asof haar lewe daarvan afhang. Wat gedoen moet word, moet gedoen word. Ma-Fytjie moet haar help. Ma-Fytjie is die beste vroedvrou in die wêreld, die beste in die hele kontrei van Graaff-Reinet. Sy is haar oppasser, haar grootmaakma, as sy enigsins iets vir haar omgee sal sy bereid wees om haar te help. Ma-Fytjie het genoeg kennis om te weet wat om te maak!

Fytjie se gesig wys min van haar ontsetting oor dit wat haar geliefde versie van haar verwag, en in haar hart skiet sy ’n gebed boontoe om vergifnis, nie net vir Deborah nie, maar ook vir haarself bloot omdat sy bereid is om na die kind te luister. Vrugafdrywing! Moord! Om die grootste geskenk wat die Liewe Heretjie aan die mens gee, uit te spoel in ’n slopemmer! Dis wat Deborah nou van haar vra, en sy, Fya Fortuin, het begrip vir die kind se gevoelens, sy verstaan hoekom. Sy verstaan haar grootmaakkind se rebelsheid. Noudat sy só is, is daar geen kans meer vir haar om na die man van haar hart te gaan nie. Of sy daarvan hou of nie, is Deborah gesnoer aan Karl Mannheim, die man in wie sy nou so ’n renons het.

“Waarom praat jy nie, Ma-Fytjie? Waarom sit jy net daar?” roep Deborah ongeduldig uit. “Is wat ek van jou vra te veel verwag? Jy is die een mens wat weet wat gebeur het, hoe dit gekom het. Verstaan jy nie – ek wíl die kind nie hê nie! Nie nadat dit op so ’n manier in die lewe geroep is nie.” Sy kyk die stilswyende Ma-Fytjie gefrustreer aan. Hoekom sit sy net daar soos ’n oordeelsfiguur wat onheil uitspel?

Ma-Fytjie sug swaar. “Missie Deborah, by hierdie twee ou knieë van my het jy kleintyds geleer om te bid, ek het vir jou die gebed geleer wat die Liewe Heer self vir ons gegee het … Wat sê daardie woorde, missie?”

“Om liefdeswil! Moenie nóú met so iets na my toe kom nie. Verstaan jy nie in watter ellende ek is nie –”

“Dit wat ons elke dag moet sê as ons Hom prys, is: ‘Geheilig sy u naam. Laat u wil geskied, soos in die hemel so ook op die aarde …’ Dis waaroor ons lewe gaan, my missie … dit sê die Woord. Selfs vir die ou mossietjies wat nie eens ’n stuiwer werd is nie, is daai woorde van ons Groot Meester ook ’n troos …”

“Moenie bog praat nie! Is dit die wil van God dat ’n vrou verkrag en misbruik moet word? Watse wrede beeld het jy van God!”

“Moenie laster nie, missie, het jy nie al sorge genoeg nie!” berispe Ma-Fytjie haar skielik kwaai. “Dit wat mister Karl gedoen het, praat ek nie goed nie, maar my kom die afrekening nie toe nie. Wat daaruit gekom het, dié is van Bo, missie, en nóg jy nóg ek kan teen daai prikkels skop sonder dat ons die toorn van Bo op ons roep.” Sy hou haar hande omhoog. “Dié twee ou hande van my het al soveel kindertjies, gans te veel om te tel, in die wêreld gebring. Dis wat hulle voor daar is, om nuwe mensies in die ou sleg lewe in te help. Hoe kan jy dan vir jou ou Fya vra dat sy met dié twee hande ’n kindjie, jóú eie baba, moet ombring? Dit kan ek nie, nie Fya Fortuin nie, nooientjie! Nee! Dit kan ek nie, nooientjie, want dan kan jy my maar ook sommer doodslaan en toegooi, en sal ek weet dat die ou duiwel regstaan met sy vurk om die ou vrou op sy spit te braai.”

Deborah, wat in stilte na die lang relaas geluister het, verstaan Ma-Fytjie se besware: sy moes gek gewees het om dit selfs aan die goeie ou mens te noem. Tog, wat anders? Sy is in ’n hoek gekeer … Tensy … ’n Gedagte skiet haar skielik te binne: Happy Valley! Die plakkersdorp waar baie van die Oosterlinge woon. Dis waar Karl was. In die opiumhole kan jy glo enigiets gedoen kry as jy bereid is om te betaal. Maar hoe? Waar begin mens? Kan sy straataf loop en die eerste die beste vrou vra waar sy ’n vrugafdrywer kan kry? Sy sluit haar oë in walging, die gruwel van die daad laat haar ingewande saamtrek.

Asof Ma-Fytjie haar gedagtes lees, klink die ou vrou se stem weer agter haar op.

“Daar is ander mense wat dit sal doen, missie, met breinaalde, en messe wat nog nooit kookwater gesien het nie. As jy na een van hulle loop, kan jy netsowel weet is ek ook klaar met jou saam. Ek het al sulke vroutjies gesien nadat hulle bygekom is deur daardie hekseheulers – as jy soontoe gaan, na een van hulle toe, missie Deborah, dan wil ek liewerster vir jou nooit weer sien nie. Dan sal ek my rouklere aantrek, want ek sê jou nou, ou Fya Fortuin se hart sal nie kan staan om jou so verwoes terug te kry nie, en te weet dat ek niks kan doen om my versie te help nie.”

“Watter sin hou die lewe vir my in as ek soos ek nou leef moet voortploeter? Daar is niks goeds meer tussen my en Karl oor nie. Vir my bestaan daar net een man – Kit Malloy! Sonder hom kan ek netsowel omkom.”

“En wat reken jy sal mister Kit daaroor te sê hê? Sal dit dinge vir hom beter maak as hy ’n dooie Deborah terugkry? Of ene wat so verinneweer is dat sy nooit weer ’n kindjie kan kry nie? Dink jy dit sal hom bly maak?” Ma-Fytjie wag nie op ’n antwoord nie, maar kom moeisaam uit die stoel orent. “Jy is nou groot, missie, voorsê vir jou kan ek nie meer nie, opsluit kan ek jou ook nie meer nie. Maar as jy die ou vrou se raad sal vat dan sal jy knieë toe gaan, dan sal jy na Bo vra hoe jy jou kruis moet dra.” Sonder ’n verdere woord draai sy om en loop uit.

Deborah sit minute lank na die deur en staar, totaal verpletter. Sy is vas! Daar is geen skuif wat sy kan maak nie, geen skuiwergat waardeur sy kan ontsnap nie. Dit sou oneerlik teenoor haarself wees om dit nie te erken nie. Sy weet nou dat ten spyte van haar vroeëre bravade, sy skaars die moed sou hê om die een of ander agterstraatkwak te gaan opsoek. Maar selfs al sou sy haar walging kon oorkom, weet sy ook dat Ma-Fytjie reg is, dat so iets altyd tussen haar en Kit sou staan. Al verlaat sy Karl, al word sy Kit Malloy se vrou of houvrou, sal die vrugafdrywing, selfs al sou sy dit oorleef, vir ewig op haar gewete wees. Sou dit regverdig wees om met so ’n gewetenslas ’n nuwe lewe saam met Kit te begin? Die besef dring stadig tot haar deur soos die bitter sap van die aalwyn snags op die plant uitpêrel: Daar is vir haar geen ander uitweg as om vrede te maak met die situasie nie. Sy sal moet leer om dit wat onvermydelik is te aanvaar.

Deur die toe blindings gloei die vroeë sonlig nou in helderwit horisontale stroke. Sy weet sy behoort die luike oop te maak, die daglig in te laat, maar sy doen dit nie. Dit sal die donkerte in haar eie siel bespot.

Sy loop na die tafel. Met hande wat lomp en onhandig is, steek sy die lamp aan. Die klein eiland van lig verlig die ronde tafel waarby sy gaan sit nadat sy haar skryfgoed uit die dresser se boonste laai gehaal het, waar sy ook haar dagboek hou. Sy skroef die inkpotjie oop en doop die pen daarin, huiwer, begin dan skryf. Sy moet dit so vinnig moontlik afhandel, dit verby kry. Dit is die enigste teengif teen hierdie pyn.

Hoe begin mens so ’n brief, wonder sy desperaat. Hoe sweer mens die liefde vir goed af? Hoe skryf sy aan Kit dat hy wat deel is van haar siel en hart, daaruit geruk moet word, dat alles wat was en dit wat sou kom, deur dié skrywe nietig verklaar word? Dat hulle liefde opgeoffer moet word vir hierdie kind wat nog geen plek in haar lewe het nie, maar wat sy nie kans sien om te vernietig nie?

Die goudkewers

Подняться наверх