Читать книгу Die goudkewers - Lerina Erasmus - Страница 6
Hoofstuk 2
ОглавлениеDis al sterk skemer toe vader John uitgeput sy perdekarretjie teen die laaste skuinserige hoogtetjie voor die kerk opstuur. Vir ’n Saterdag was dit ’n bedrywige en vermoeiende dag. Die winter het gemaai onder sy mense, wat in hul ontoereikende sink-en-sakskuilings skaars bestand was teen die ysige nagtemperature. Kroep en brongitis is aan die orde van die dag, en hy het amper-amper ’n kind aan longontsteking afgestaan. Toe hy sy gehawende rytuig tot stilstand bring voor die stalle, lui die eerste klokke al vir die aandmaal. Sy moegheid is vanaand egter groter as sy honger. Die vooruitsig van sy bed direk ná die aandmis is vir hom veel aanlokliker.
Vader John se hoop word verydel die oomblik toe hy van sy kapkarretjie afklim. ’n Figuur tree uit die skadu, en in die lig van die stalle se lanterns eien hy die jong Sjinese seun as die kind van een van sy gemeentelede in Happy Valley. Die seun stotter in sy gebroke, sangerige Engels sy boodskap uit: Iemand het sy ma gevra om ’n brief aan die priester te skrywe. Hy oorhandig die opgevoude brief aan vader John. “As u nie na die man gaan omsien nie, sal hy vannag nog doodgaan!”
Vader John kan die boodskap skaars ontsyfer, maar hy kom nietemin daaruit agter dat ’n man in ’n bedenklike toestand in een van die agterkamers van Rosie’s Eating House in Ferreira’s Dorp lê.
“Vader!” dring die seun se stem weer tot hom deur. Die donker blik is pleitend op die priester gerig. “Vader, moet asseblief vir niemand sê dat ek jou gesê het nie. Baie slegte joss vir my dan, ook vir my ma en ander kinders. Hulle sal ons kom doodmaak.”
“Wie sal julle doodmaak?” vra vader John fronsend. Die kind antwoord nie. Sy donker oë bly pleitend op die priester gerig. Vader John sug en knik gerusstellend vir die knaap. Dit was in elk geval ’n onsinnige vraag – Happy Valley is vrot van bendes en sindikate wat die inwoners se reeds miserabele lewens nog verder versuur.
“Asseblief, vader …” Die seun prop ’n paar toegebinde muntstukke in sy hand. “Dis vir die man, eerbare vader …” Net so onverwags as wat hy sy verskyning gemaak het, verdwyn die kind weer die donker nag in.
Vader John bly ’n oomblik nog beteuterd staan voordat hy sugtend omdraai. Hy sal eers sy twee staatmakerperde moet versorg en kos en water gee. Hulle is waarskynlik moeër as wat hy self is. Dit sal dalk beter wees as die ab sy toestemming gee dat hy twee vars perde mag gebruik. Skaars ’n halfuur later, toe die eerste gelui vir die aandmis opklink, ry vader John weer by die kerkgrond se hek uit op die tweesitplektreppie, dié keer getrek deur die ab se eie uitgeruste merries.
Gelukkig weet hy waar Rosie’s Eating House in Ferreira’s Dorp is, dink vader John toe hy spoed optel teen die afdraande af. As die man so siek is soos wat die kind beweer het, sal hy hom moet oorneem na die nonne se kloosterhospitaaltjie teen die heuwel wat nou Hospitaalheuwel heet. Dit lê reg aan die ander kant van die dorp. Hoe wens hy nou die kind was nie so oorhaastig en verskrik nie. As hy meer inligting gehad het oor die man se toestand sou hy beter toegerus gewees het om die arme siel te probeer help.
Vader John word deur die lywige Libanese eienares van Rosie’s Eating House begelei. Hy luister geamuseer na die vrou, wat haar man in sy afwesigheid genadeloos uitkryt. Sy sou die vieslike stommerik nooit oor haar drumpel toegelaat het nie, maar haar idiotiese man het hom natuurlik weer laat ompraat!
“Mans dink met hul agterstewes!” tier sy voort. “Nou sit ek opgeskeep met ’n sterwende opiumverslaafde in my agterplaas!”
“Opiumverslaafde?” roep vader John skerp uit, en hy het skielik ’n sterk vermoede wie hy in die kamer gaan aantref.
“Deurtrek van die duiwelsdrek!” sê Rosie snedig toe sy die deur oopmaak en die lantern hoër ophou sodat die priester die man op die kaalgestroopte matras beter kan sien. Sy het die linne verwyder. Sy wil niks wat aan haar behoort, bevlek hê met die stink afskeiding wat uit die skepsel se liggaam syfer nie. Die matras is ’n voos ou ding, dié sal sy na die tyd weggooi. Sy hoop en bid net dat die priester die man hier gaan wegneem, en gou ook.
Vader John vee die gelerige skuim om Karl se mond af en voel met ontsetting hoe flou en onreëlmatig die jong man se pols onder sy vingerpunte fladder. Met die eerste oogopslag was dit duidelik dat Karl se lewe aan ’n baie dun draadjie hang. Vader John haas hom na buite om komberse uit sy kapkar te gaan haal. Karl is duidelik ook aan die verkluim, en dit gaan sy toestand beslis vererger. Hy sal hom so gou moontlik in die hospitaal moet kry.
Kurt Mannheim! dink hy met ’n skok. Sy skaakvriend is ’n vooraanstaande man. Al probeer hy om dit dig te hou, sal dit tog op die een of ander manier uitlek dat die jong man as gevolg van ’n opium-oordosis in die hospitaal beland het. So ’n gerug sal, ná die debakel die aand in die Theatre Royal, nie net vir Kurt skaad nie, maar ook vir Deborah. Vader John dink vinnig terwyl hy die bondel komberse en ’n seiltjie onder die sitplek van sy kapkar uithaal. Dit sal waarskynlik die beste wees as hulle Karl in die privaatheid van die Mannheim-huis versorg. Hy sal opgeleide verpleegsters moet gebruik; hy sal die moederowerste, suster Agatha, moet omhaal om twee van die hospitaal se nonne af te staan.
Terwyl vader John sy planne agtermekaar kry, werk hy flink en onverpoos om die bewustelose jong man so gerieflik moontlik te maak vir die reis na sy vader se huis. Met die hulp van ’n herbergbediende dra hy die slap liggaam na buite en laai hom agter in die kapkar. Hoewel dit nie te gemaklik kan wees vir so ’n siek man nie, is hy nou minstens warm toegedraai in die komberse.
Vader John por die ab se perde aan en die karretjie kom in beweging. Hy het van Ma-Fytjie vergeet, dink hy toe hy die kapkar straataf stuur. Die ou dame met haar unieke kennis van kruie kan dalk nou haar gewig in goud werd wees. Hy voel verlig, want sy sal na Karl kan omsien terwyl hy reëlings gaan tref by die kloosterhospitaal.
Agter hom bring Karl skuimende bloed op. Vader John kyk onrustig oor sy skouer en besef dat daar ’n kans is dat die jong man nie meer gered kan word nie.
Waar Kurt langs Deborah in die koets sit wat voortspoed na die huis van die Albu-gesin, voel hy uitermate trots op sy skoondogter se voorkoms. Vanaand lyk sy besonder mooi, geklee in ’n uitrusting van ryk koningsblou fluweel wat haar opvallende blondheid komplementeer. Hy merk dat sy haar geruite mantel wat sy daagliks werk toe dra, saamgebring het as beskutting teen die koue. Sy moet ’n pelsmantel kry! besluit Kurt summier, een wat haar sal warm hou in die harde Hoëveldse koue. In Jeppe is daar ’n pelsenier uit Litaue. Hy sal net Maandag vir haar ’n jas en ’n mantel by die man gaan bestel.
Hoe lekker is dit om ná soveel eensame jare weer geskenke te kan gee aan iemand vir wie hy omgee! En hoe aangenaam is dit om so ’n bekoorlike vrou aan sy arm te hê! Sy is ’n aanwins aan enige man se sy. Dié meisie waarteen hy so bitter gekant was, wat hy ’n gewetenlose fortuinsoeker genoem het en vir ’n kroegmeisie aangesien het, het hom deeglik verkeerd bewys. Deborah, sy skoondogter … so mag hy aan haar dink: skoondogter. Tog mag hy homself soms die weelde toelaat om op so ’n spesiale aand met haar te spog.
Die Albu’s is ook uit sy heimat afkomstig en hulle tel al die afgelope drie jaar onder sy klein maar uitgelese groepie vriende. George Albu is een van die min sakemanne in die stad met integriteit, en Kurt Mannheim respekteer hom. Daarom sien hy al die hele dag uit na hierdie aand. Hy wonder skielik ongemaklik hoe die jong meisie daaroor voel. ’n Aand in die geselskap van ’n spul middeljariges kan skaars haar idee van pret wees, dink hy toe hy haar afgetrokkenheid opmerk.
“Jy is besonder stil vanaand,” sê hy.
Deborah is diep in haar eie gedagtes versonke, en sy neem ’n rukkie om te antwoord. Sy kan skaars aan hom verduidelik hoe Mac se verhaal oor Kit se wedervaringe in Mosambiek haar ontstem het. Sy het nog beswaarlik tyd gehad om dit te verwerk. Kurt se vraende blik dwing haar nou om verskoning te maak. “Vergewe my, ek was ingedagte. Wat het u gesê?”
Kurt kyk haar vraend aan en plaas dan sy hand oor een van hare. “Dit gaan oor vanaand, nie waar nie? Voel jy senuweeagtig?”
Sy het nog nie ’n enkele gedagte vermors op wat dié aand vir haar voorlê nie, maar sy gryp nietemin dankbaar na die uitkoms wat sy vraag haar bied. “Ja … ja! Ek ken hulle net van sien. Mevrou Albu was op die dameskomitee wat die liefdadigheidsbal gereël het. Sy het groot gesag by die dames. Dis deur haar bemiddeling dat ek werk gekry het as klavierspeler.”
Kurt en Deborah raak albei ’n oomblik stil. Want die onaangename herinnering aan daardie aand, toe Karl hom weer skandelik wangedra het, is nou bykans nege maande later nog vlak in hulle geheue.
Dit is Kurt wat eerste weer praat. “Jy is nou ’n Mannheim en jy hoef niemand ooit weer in die oë te kyk vir werk nie,” sê hy kortaf. “Noudat ek jou beter leer ken het, kan ek my skaars indink dat jy jou tyd kan verwyl in die geselskap van die stad se dameskliek met hul onsinnige sosiale onderonsies. Dit sal ’n tydvermorsing wees wat jou bitter gou sal verveel …” doen Kurt versigtig sy eerste aanvoorwerk.
“Ek het geen twyfel daaroor nie,” beaam Deborah. “Hoewel my ma my na sulke byeenkomste gesleep het toe ek jonger was, was dit vir my onuithoudbaar.”
Kurt knik tevrede en hy besluit om tot die punt te kom. “Jy het my die laaste paar weke beïndruk deur jou bekwaamheid en jou gewilligheid om te leer. Ek glo mens sal ’n myner van jou kan maak.”
“Dis ’n groot kompliment, meneer Mannheim. Glo my, die weke aan u sy was sekerlik van die opwindendste ervarings in my lewe.”
Kurt lag kortaf. Hoe ironies! Dit sou meer sin gemaak het as daardie woorde uit die mond van sy seun gekom het, maar wat kan hy nou daaraan doen?
“Dan is dit goed,” sê hy saaklik, met sy gesig weggedraai. “Van Maandag af gaan ons ’n ander roetine volg …” Hy draai weer terug na haar. “Dis hoog tyd dat jy ook vertroud raak met die sakekant van die mynbeleggings.” Hy glimlag baie effens. “Weet jy hoe die transaksies op die aandelebeurs uitgevoer word?”
Deborah skud haar kop, maar hy voel dadelik aan dat hy haar belangstelling geprikkel het. Dit laat hom goed voel om weer al haar aandag op hom gevestig te hê.
“Ek gaan jou tussen die Kettings inneem, Deborah, die aandelemark se reëls leer. Mits mens wakker is en jou verstand en aanvoeling met elke transaksie skerp is, is dit die plek waar jy jou winste kan verdubbel. Jy kan ook net so maklik verloor as jy nie kophou nie!” Hy sien met ’n gevoel van genoegdoening hoe die jong vrou se gesig verhelder.
Deborah glo skaars haar ore. Sy sou wat wou gee om deel te wees van die bedrywighede tussen die Kettings. Maar vir haar, wat nou deel is van ’n sekere sosiale stand, is selfs ’n besoek taboe; tot dusver moes sy in die koets sit en wag wanneer Kurt soontoe moes gaan. Daar is wel ’n paar dames soos Maisie en Eliza Tarlton wat daar rondhang aan hul beskermhere se arms. Sy het verneem dat die aktrises se mansvriende gewoonlik as hul makelaars optree.
“Vir die eerste paar weke sal dit tot jou voordeel wees om my bloot te vergesel, soos na die myne toe. Dan moet jy jou oë en ore wawyd oophou vir die suksesvolle onderhandelinge en ook vir die foute wat mense begaan wat te vinnig en te voortvarend aankoop. Daarna, sodra jy gereed voel, gaan ek jou ’n bedrag geld gee om vir jou eerste portefeulje te gebruik …” Deborah kyk hom nou met openlike verbystering aan. Kurt se vrygewigheid, veral gedurende die laaste tyd dat Karl soek is, strook skaars met die beeld van die suinige ou vrek wat Karl aan haar voorgehou het. Waarom sou hy soveel vertroue in haar stel – sy wat nog steeds vir hom ’n betreklike vreemdeling is? Hoe eienaardig dat hy ’n som geld aan haar wil toevertrou vir wat neerkom op ’n dobbelspel!
Kurt lees Deborah se stilswye as oorstelptheid en voel tevrede met homself. Hy hoop dat sy versigtig gekose woorde soos goeie saad in vrugbare grond sal wortelskiet.
Agter die bewegende koets klink naderende perdehoewe skielik dawerend op. Deborah en Kurt kyk om. In die skemerte herken hulle vir Basjan, die Mannheims se junior stalkneg, wat sy hoed in die lug waai om die aandag van die koetsdrywer te probeer trek.
Daar moet fout by die huis wees, dink Kurt dadelik, maar sê dit nie. Hy klop met sy wandelstok teen die ruit om die koetsier se aandag op die stalkneg te vestig, maar die koetsier het reeds die perde ingekort.
Die stalkneg bereik hulle uitasem kort nadat Kurt die koetsvenster se raam afgeskuif het. “Wat gaan aan, Basjan?” vra Kurt vinnig.
Die ruiter praat hortend ná die moordende rit. “Dis Sam, ouseur … hy het my gestuur … hy sê die ouseur moet gou-gou huis toe kom.”
Kurt se ruie wenkbroue bondel saam. Hy is min lus om die aand waarna hy uitgesien het op te offer. Tog, hy het skaars ’n keuse. Sam sal hom nie vir enige bakatel vra om terug te gaan nie.
“Waarom moet ons huis toe kom?” vra hy nietemin kortgebaker.
Basjan skud sy kop. Hy weet nie hoekom nie, sê hy, maar vader John het by die huis opgedaag met iemand wat siek is. Hy wat Basjan is, weet ook nie wie dit is wat siek is nie, maar Sam het hom aangesê om dadelik die ouseur te loop haal.
Kurt knik, duidelik ontsteld. Karl! Sou die siek man Karl wees?
Deborah kyk stilswyend toe terwyl Kurt ’n visitekaartjie uit sy sak neem en haastig iets daarop skrywe voordat hy dit aan Basjan oorhandig.
“Neem dit onmiddellik na die Albu’s se huis, Basjan, en sorg dat jy dit persoonlik aan meneer Albu oorhandig. En sê hom ook dat ek môre sal oorry om te verduidelik.” Basjan knik en tree met sy perd uit die pad uit. Die koets word linksom gemaneuvreer en dan draai dit terug op die fyngetrapte stofpad, terug van waar dit gekom het.
* * *
Cornelia, die jongste dogter van Sarah en Henry Bailey, probeer met aandag luister na haar suster Elizabeth en die twee Albu-susters se lewendige gesprek. Hulle is besig met die stadjie se skindernuus, en hulle konsentreer op die eskapades en skandes van Johannesburg se hubare vrygeselle. Op hierdie oomblik is dit ’n man genaamd Kit Malloy wat druk onder bespreking is.
“Hy is om van te droom!” fluister Felicity Albu. “Dis nie net sy aantreklikheid nie, hy het iets anders …”
Haar suster, Lillian, giggel. “Daar is iets wilds en so geheimsinnig aan hom!” sê sy entoesiasties. “Hy laat my bene lam voel – ek dink hy is gevaarlik! Pappa sê die man is ’n fortuinsoeker, ’n dobbelsaloneienaar wat slinks sy fortuin bekom het.”
“Jy is glad te snipperig vir jou ouderdom, Lillian! Jy het natuurlik weer afgeluister toe Pappa en Mamma agter toe deure gepraat het.”
Lillian haal haar skouers op. “So? Ek het dit vanaand gehoor toe die stalkneg die verskoningsnotatjie van meneer Mannheim kom aflewer het …” borduur sy selfvoldaan voort.
“Meneer Mannheim het net vanoggend laat weet dat hy sy skoondogter gaan saambring,” fluister Felicity.
“Die een waaroor almal so praat?” vra Elizabeth Bailey geskok.
Lillian knik. “Dit is juis waarom Pappa so ontsteld was omdat Mamma ook vir meneer Malloy uitgenooi het. Hy’t gedink dat dit miskien ’n insident kan veroorsaak. Almal weet tog van die fiasko tussen Karl en Deborah Mannheim en Kit Malloy.”
Elizabeth se skril laggie sny soos ’n skeermes deur die fluistergesprek. “Oe-la-la!” sê sy smalend. “Jammer dat hulle nie opgedaag het nie. Dit sou beslis ’n sirkus afgegee het. Ek was saam met Pappa en Mamma in die teater die aand toe die bakleiery uitgebreek het.” Verlustiging straal uit haar perdegesig. “Kit Malloy het die nuwe mevrou Mannheim begin rondpluk, daarna het hy Karl Mannheim uitgetart en gesê dat sy danige bruid eers sý maîtresse was …” Sy sug teatraal en rol haar oë. “Wees verseker, ek stel dit elegant – hy’t Deborah Mannheim sonder omhaal iets anders genoem. Julle weet wat, nè?”
Die Albu-susters knik. Almal in die stad weet wat daardie aand gesê is. Die meisies se oë blink van opwinding terwyl hulle die drie partye verder uitmekaarskeur met hulle venynige tonge.
Elizabeth se buitengewoon nydige stemtoon val Cornelia op. Sy ken haar suster goed genoeg, en sy wonder met kortstondige simpatie wat die stomme Deborah Mannheim aan Elizabeth gedoen het om haarself soveel venyn op die hals te haal. Dit was waarskynlik wys van die Mannheims om nie vanaand op te daag nie, besluit Cornelia toe sy begin wegbeweeg. Die kletspraatjies begin haar nou erg verveel.
Cornelia beweeg ongemerk tussen die kuiergaste deur. Sy sug innerlik, want die aand strek eindeloos voor haar uit. Afgesien van die Albu-familie is hier skaars iemand anders wat sy ken, en sy wens vurig dat sy liewer tuis gebly het – by haar boeke en haar geliefde klavier.
Haar ronddwalery kom tot ’n einde onder die hoefystervormige trap wat na die eerste verdieping lei. Haar effense bysiendheid verleen ’n skynbaar naïewe verwondering aan haar blik terwyl sy die deftig geklede Johannesburgers dophou wat nou tussen die marmerpilare rondstaan. Die aantreklikste dame teenwoordig is sekerlik Josie Dale Lace, dink Cornelia. Sy is geklee in ’n asemrowende roos-en-roomkleurige kantskepping. Op die oomblik is sy die een dame om wie van die manlike gaste soos spreekwoordelike bye om nektar saamgekoek staan, ten spyte van die streng etiketreëls.
Die ander here in hul swart aanddrag en gestyfde wit boordjies volg wel die sosiale reëls en staan geselsend in groepies rond. Dié aanvanklike skeiding tussen die geslagte is volgens Cornelia se moeder ’n ongeskrewe wet van Mede en Perse hier in Johannesburg. Gedurende die eerste uur ná hul aankoms soek almal die geselskap van hul eie geslag op.
Die mans het dan die geleentheid om saketransaksies te bespreek of selfs te beklink. Die dames gebruik die geleentheid om skinderbrokkies uit te ruil. Terwyl hulle met mekaar wedywer in swier, geklee in veelkleurige tafsy-, fluweel- en kantuitrustings, bespreek hulle babas en bediendes en ongehudes wat aan mekaar voorgestel moet word sodat hulle verhef kan word tot die staat van die huwelik. Cornelia onthou dat haar moeder vertel het dat dié dames ook nou ’n uiters elitistiese klub gestig het, genaamd “The Society of the Johannesburg Married Ladies”. Florence Phillips is blykbaar die president. Onder die dames hier teenwoordig is Florence glo soos ’n moederowerste.
Die fyngeboude Cornelia begin weer tussen die groepe dames deur beweeg. Sy mik na die deure van die balsaal wat pas oopgemaak is.
Niemand merk haar blykbaar op of gee enige aandag aan haar nie. Afgesien van haar weelderige bos rooibruin hare is Cornelia baie gewoon – mens sou haar by eerste aanblik selfs as kleurloos kon beskryf – en daarom kan sy tussen mense ronddryf sonder om raakgesien te word.
Kelners met oorlaaide skinkborde vol canapés en sjampanje slaan nou op die gaste toe. Cornelia glimlag en weier die sjampanje wat na haar uitgehou word. Deur die oop deure van die balsaal word haar aandag getrek deur die bedrywighede op die galery, waar die musikante hul instrumente begin uitpak.
Hoe beny sy hulle nie, dink sy terwyl sy met verlangende oë na hulle opkyk. Om darem musiek jou lewe te kan maak en jou lewe uit musiek te maak! Musiek is vir Cornelia belangriker as die suurstof wat sy inasem. In Genève, waar sy soos Elizabeth twee jaar deurgebring het aan die Allenstein Internaat, ’n Switserse afrondingskool, was dit haar musiekstudies wat haar die meeste geïnspireer het. Al haar onderwysers, maar veral haar klaviermeester, professor Holdebein, was beïndruk deur haar talent. Soveel so dat hy sonder haar medewete navraag gedoen het by die gesogte École du Louvre in Parys, wat beskou word as die beste klavierinstituut ter wêreld. Tot haar verbasing en grootste vreugde het sy kort daarna berig ontvang dat sy nie net aanvaar is nie, maar in aanmerking sou kom vir ’n beurs. Haar blydskap was ongelukkig van korte duur. Die oomblik toe haar ouers daarvan te hore kom, was beide so geskok dat hulle dogter daaraan dink om haarself as ’n professionele musikant te bekwaam dat hulle Cornelia sonder meer laat terugkom het.
Ná skaars ’n week hier voel sy soos ’n totale vreemdeling tussen hierdie materieel georiënteerde Johannesburgers wat altyd geld, goud en alles wat daarom wentel die hoofonderwerp van bespreking maak. Dit maak aande soos vanaand vir haar ’n foltering, dink sy sugtend terwyl sy steeds met verlangende oë staar na die musikante wat nou hulle instrumente begin instem.
“Mag ek ’n stuiwer daarop verwed dat u naam ‘Alice’ is, juffrou?” fluister iemand skielik agter haar. Cornelia swaai vervaard om en kyk op na die bruingebrande, gebeitelde gesig van ’n man so aantreklik dat sy vlinders in haar bors voel fladder. Die man glimlag wittand oor haar opsigtelike verwarring. Sy moet haar regruk, weet sy, maar sy kan haar blik nie van sy gesig wegskeur nie. Hy is so lank dat dit haar seker behoort te intimideer, maar vreemd genoeg voel sy vir die eerste keer in haar lewe op haar gemak by ’n man. Sy dwing haarself nietemin om van hom af weg te tree.
Dit laat hom diep uit sy keel lag, en terwyl hy haar nou openlik van kop tot tone opsom, merk sy warm tergliggies in die donker oë. “Is dit my reputasie? Want u is klaarblyklik skrikkerig vir my, juffrou Alice.”
“Alice? U verwar my beslis met iemand anders, meneer,” kry Cornelia uiteindelik gesê.
“Werklik? ’n Oomblik lank was ek oortuig dat u dié Alice is – Alice wat deur die hasegat in Wonderland in geval het!”
“O … u bedoel Alice uit meneer Lewis Carroll se boeke?” lag sy.
Kit kyk verwonderd af na die meisietjie, want haar helder glimlag het haar betreklik gewone gesiggie ineens getransformeer. Skielik is sy mooi. Hy merk nou ook haar fyn bou. Sy laat hom dink aan die klein rooiborsies van sy geboorteland. Miskien is dit die rooibruin hare en die sagte, wydgerekte bruin oë wat die indruk by hom wek, dink Kit. Met die eerste aanblik het hy gedink dat sy waarskynlik nog ’n skooldogter is, maar hy sien nou dat hy ’n fout begaan het, dat sy wel ouer is.
Half geamuseer maar onberispelik galant buig hy oor haar hand om dit liggies met sy lippe aan te raak voordat hy orent kom. Weer ontmoet hulle oë vlugtig voordat hy homself bekendstel.
“My naam is Kit Malloy. Mag ek so voorbarig wees om u naam te vra, juffrou?” Hy lag tergend. “Want u het my nou die versekering gegee dat dit nié Alice is nie.”
Sy plotseling sedige uitdrukking laat haar weer skaterlag. ’n Helder, rinkelende lag wat soos vloeiende water voortkabbel. “U mag dit sekerlik vra. Ek vrees ek het ’n doodgewone naam, Cornelia Bailey, en ek was nog nooit in Wonderland nie.”
“Nie?” Sy oë kyk warm in hare. “Dan wil ek die voorspelling waag dat u eendag ’n baie spesiale heer ’n uiters gelukkige man gaan maak, deur hom die kans te gee om u daarheen te begelei.”
Tot haar verleentheid voel sy hoe die bloed na haar wange styg en sy vrees dat sy so rooi soos ’n beet moet lyk … Haar skaamheid verwek ’n soort deernis by Kit. Hy verberg dit dadelik omdat hy haar verdere ongemak wil spaar, maar die meisie se bekoorlike blos maak hom vir die eerste keer bewus van die fyn sproete wat soos ’n sterreboog oor haar wange en neus span. Sonder rede laat dit hom nóg meer van die klein, hartvormige gesiggie hou, so welig omraam met rooibruin hare.
Cornelia probeer haar uiterste bes om haar ongemak te versluier. “Is u ’n Johannesburger, meneer Malloy?” vra sy asof sy nie reeds weet nie.
“Ja, ek is. Van meet af aan, vanaf die stad se proklamasie …” Die skitterende glimlag wat haar van die eerste oomblik bekoor het, verhelder weereens sy gesig. “Maar in u kringe is ek nog ’n vreemdeling. U teenwoordigheid laat my vir die eerste keer welkom voel. Juffrou Cornelia, mag ek later ná ete die voorreg hê om met u te dans?”
Maar voordat sy hom ’n antwoord kan gee, lê ’n groot man met ’n sonverweerde gesig sy hand op haar prins se skouer en dwing sy aandag weg van haar.
“Meneer Malloy!” roep die man uit. “Dit is ’n gelukkige toeval – ek het nie geweet jy gaan vanaand hier wees nie.”
Kit glimlag en skud hartlik blad met Joseph Benjamin Robinson, oftewel J.B., soos hy in mynerskringe bekend staan. Soos Barnato is hy ook een van die goudkewers wat sy eerste fortuin op die diamantvelde gemaak het. Hy is ’n moeilike man en word in Britsgesinde kringe beskou as ’n Boereheuler vanweë sy buitengewone partydigheid vir die Boere en sy goeie verhouding met die Volksraad van die ZAR en veral met Kruger.
Kit koester egter respek vir Robinson, veral vir sy kennis en sy waaghalsigheid, maar ook vir sy belangstelling in nuwe mynbouprojekte.
“Ons moet praat, Malloy. Ek het die artikel wat jy my gegee het uiters insiggewend gevind. Jy is reg. As dit waar is wat die man van Glasgow in sy artikel beweer en ons kan dit hier in Johannesburg finaal bewys, kan dit ongelooflike moontlikhede vir die Rand inhou.”
“Dan is ek verheug. Ek moet erken, ek het gehoop om u geïnteresseerd te kry. Ek verstaan die nuutgestigte Cassels – wat nou in besit van MacArthur en die Forresters se formule is – het pas wêreldwye patentregte opgeneem. Hulle verteenwoordigers is reeds reg oor die wêreld gestuur, van Kanada en Rusland tot in verre Australië en Nieu-Seeland. Twee dae gelede het ek ook verneem dat hul verteenwoordiger reeds op pad is na die Rand en dat MacArthur, die voorbok, glo kort op sy hakke sal volg.”
“Goeie nuus, kêrel! Dan is die tyd min.”
Albei mans neem ’n glas sjampanje van ’n skinkbord wat voor hulle gehou word. Hulle drink ’n oomblik in stilte.
“Het jy al gehoor van ’n Duitser genaamd doktor Werner von Siemens?” vra Robinson uiteindelik.
Kit se oë vernou. “Hy is glo geniaal op die gebied van elektronika, nie waar nie?”
“Juis. Hulle verwys na hom as Berlyn se beste elektrisiën.” J.B. lag. “Vreemde humorsin wat die Duitsers het … die man is ’n genie.”
“Is hy nie ook die neef van meneer Adolf Goertz van die Aurora-myne nie?” vra Kit en hy wonder waarom Robinson nou die onbekende Duitser bysleep.
Robinson hou hom nie lank in die duister nie. “Dis korrek, ja, en dit is Goertz wat my gesê het dat Von Siemens hierheen op pad is. Volgens Goertz het ook hy nou glo ’n onfeilbare oplossing gevind vir die suiweringsproses van goud.”
Kit se gesig word onleesbaar. “Interessant. Ek vertrou u het Goertz nie vertel van MacArthur en …”
“Vanselfsprekend nie. Dit bly streng privaat tussen jou en my,” sê Robinson vertroulik. “Maar ek moes jou vertel van Von Siemens, omdat ek glo daar gaan wedywering wees tussen die twee partye om te bewys watter tegniek die beste is. Die vraag ontstaan nou by my … op watter perd mens jou weddenskap moet sit …”
“Daardie keuse is seker die reg van elke entrepreneur, meneer Robinson,” sê Kit met ’n glimlag. “Ek weet waar ek mý belegging gaan maak.”
Die twee mans som mekaar in stilte op. By albei ontstaan dieselfde gedagte: Hoe ver kan die ander man vertrou word, en hoe gaan elkeen vir homself die grootste deel van die wins verseker indien hulle tot ’n vergelyk sou kom?
“Sou u bereid wees om u mynaanleg se fasiliteite beskikbaar te maak?” vra Kit uiteindelik.
“Dit is moontlik, afhangende van die finansiële voordeel. Ek het geweldige onkostes gehad het met die nuwe chloreringsprojek.”
“Dis een van die redes waarom ek ú genader het, meneer Robinson; u is nie bang vir vooruitgang nie.” Kit glimlag sardonies voordat hy die ander man se wantrouige blik met ’n ligte knik van sy hoof erken. “Op u beurt mag u miskien sê dat my voortvarendheid en dobbelaarsinstink teen my tel?”
Robinson lag droog. “Allermins! Ek sou wat wou gee om jóú vernuf en geluk by die dobbeltafel te hê, Malloy. Dog, dit gaan hier om iets van ’n heeltemal ander aard …”
“Werklik? Wat is die verskil? Is alle transaksies hier aan die Rand nie tog maar ook ’n dobbelspel nie?”
“Hang af hoe jy daarna kyk. In my ondernemings is ek die kaptein van die skip. Ek laat selde toe dat iets deur toeval beskik word.”
“Dit weet ek. Daarom het ek ú eerste gekontak, en nie meneer Hamilton van Orion-myne nie.”
Kit se aanmerking tref die kol. Dis duidelik dat Robinson nie van die idee hou dat Kit dalk na Hamilton toe kan gaan nie. Die twee manne som mekaar op soos wolwe, hulle waaksame oë meet die krag van die ander maar verklap niks nie.
Robinson verbreek uiteindelik die ongemaklike stilte. “Ek glo ek en jy moet mekaar volgende week ontmoet.”
Kit knik. “Noem u die tyd en plek.”
“Die Rand Club?”
Kit knik weer. “Indien ek toegang kan kry as u gas. Ek vrees ek is nog nie ’n lid van u eksklusiewe bende nie.”
“Nie?” roep Robinson gemaak verbaas uit. “My liewe kêrel, maar dis ’n saak wat in aller yl reggestel moet word!”
Kit glimlag skeef. “Dankie vir u aanbod. Ek sal dit dalk later opneem. Wat nou van belang is, is hoe vinnig ek ’n nuwe maatskappy kan begin. Indien u belangstel, stel ek voor dat ons mekaar met ons prokureurs byderhand ontmoet om die saak so gou moontlik te beklink.”
Cornelia hou die twee mans wat nou so diep in gesprek is teleurgesteld dop. Sy het gesien hoe Kit se gesig verlewendig gedurende sy gesprek met meneer Robinson, en met ’n sinkende hart het sy besef dat hy in ’n ommesientjie van haar bestaan vergeet het. Vreugdeloos bepaal sy nou weer haar aandag by die orkes wat hul openingsmelodie speel. Sy het die ensemble al gehoor speel. Volgens die Johannesburgers se standaarde is hulle seker nie te swak nie, maar haar fyn oor vind geen harmonie tussen die musikante nie. Snob! betig sy haarself dadelik. Miskien spruit haar irritasie bloot daaruit dat sy Kit Malloy maar net nie uit haar gedagtes kan verdryf nie. Hy het nie eens gewag op haar antwoord tot sy uitnodiging om te dans nie! As hy weer vra, sal dit haar plesier gee om hom weg te wys – dit sal hom leer! Maar Cornelia weet dat sy haarself kul, dat sy nooit iets vir die donker Ier sal kan weier nie.
Die meisies het baie kere in die internaat gepraat oor die liefde, en van al die jong dames daar was Cornelia sekerlik die groenste wat dié kwessie aanbetref, omdat sy vir haar musiek geleef het. Vanaand herroep sy hul eindelose filosofiese gesprekke en ineens weet sy met sekerheid dat die loom, warm gevoel wat sy by die eerste aanblik van Kit Malloy ervaar het, ’n nuwe betekenis gee aan ’n woord wat tevore vir haar bloot ’n abstraksie was. Alles is skielik mooier, opwindender. Sy ondervind ’n dwingende begeerte om die droë siele wat oral in die vertrek rondstaan dansend wakker te skud terwyl sy sy naam uitbasuin. Hulle sal haar in stomme verbasing aanstaar, dink sy en bedwing haar lag met moeite.
Toe mevrou Albu Cornelia ná ete versoek om vir hulle ’n klaviersolo te lewer, stem sy onmiddellik in. Gewoonlik sou sy te beskroomd gevoel het om voor so ’n klomp onbekendes te speel. Maar nou het alles verander, dink sy terwyl haar geoefende hande soos vlinders oor die swart en wit klawers vlieg. Vanaand speel sy vir een enkele mens, ’n man wat binne ’n sekonde van haar bestaan vergeet het, maar wat onafwendbaar haar hart verower het toe hy soos ’n sprokiesprins haar lewe binnegeloop het. Dis aan hom, Kit Malloy, dat haar musiek ’n boodskap moet uitdra.
Kit sit vasgevang en luister na die jong meisie se vertolking; hy voel vreemd ontroer. Hy is geen kenner van musiek nie, maar hy het nog nooit tevore musiek so suiwer en so soet gehoor nie. Dit is asof Cornelia Bailey voor die klavier deur haar musiek getransformeer word na ’n hoër sfeer waar haar alledaagsheid omskep word in ’n poëtiese skoonheid. Cornelia … sy moet Bailey se jongste dogter wees. Kit het kort gelede in die koerant gelees van haar aankoms in die stad, en haar akademiese prestasies aan een van die beste en duurste afrondingskole in Europa. Hoe verfrissend is sy nie, veral in teenstelling met haar ouer suster Elizabeth, wat ongetwyfeld rak se kant toe begin staan. Hy kan sy hoed daarop verwed dat die jonge Cornelia nie ’n soortgelyke probleem sal hê nie. Na alle waarskynlikheid sal ou Bailey se drumpel binnekort deurgetrap word deur die stadjie se windmakerige jonkers!
Gou verskuif sy aandag egter na dringender sake. Hy is bly dat hy en Robinson die openingskuiwe gemaak het. Getrou aan sy reputasie was Robinson ’n gedugte teenstander, maar Kit sien kans om met die man oor die weg te kom. Moeilik en uitgeslape soos wat J.B. mag wees, is hy een van die mees gerespekteerde myneienaars. Sy kennis en reputasie sal beslis gewig dra in hul beplande maatskappy. Hy kyk op sy sakhorlosie. Sodra die klaviersolo verby is, sal hy so ongemerk moontlik padgee. Dit is nog vroeg genoeg om Mac raak te loop in die Red Hussar, waarvan Kit sedert verlede week nie meer die eienaar is nie. Dit behoort nou aan die trotse Smith-susters, Gladys en Delphine. Kit het Gladys die geld voorgeskiet om die Jolly Mermaid en die Hussar by hom oor te neem. Hoewel Gladys aanvanklik steeks was omdat hy, volgens haar, die salonne uit liefdadigheid op ’n skinkbord aan hulle wou skenk, het hy haar tog op die ou end oorgehaal deur enkele aandele in die twee salonne vir homself te behou.
Kit is bly dat sy dit oorgeneem het, en hy is daarvan oortuig dat Gladys met haar koel sakekop ’n uiters suksesvolle saloneienares sal wees. Ná al die jare beskou hy die susters as sy familie, en daarom wou hy hulle graag onafhanklik en goed versorg sien.
Toe die gehoor in luide applous uitbars, kom Kit saggies orent en sluip geluidloos om die dekoratiewe pilare na die agterste uitgang.
Buite in die kil, sterbesaaide winternag, bestyg hy sy nuwe rytuig. Ter wille van die sosiale gebruik en sy nuwe status, het hy sy barouche laat inspan. Sy Mosambiek-fortuin het hom skielik uiters gewild gemaak onder die Johannesburgse gasvroue. Die afgelope week of wat is hy, ten spyte van die insident in die Theatre Royal, oorlaai met uitnodigings waarvan hy skaars die helfte kon of wou aanvaar. Geld het vir hom sedert sy terugkeer ’n vastrapplek in die Johannesburgse sosiale hiërargie besorg, ’n status waartoe hy as saloneienaar nooit verhef sou word nie, dink hy met selfspot en ’n goeie dosis minagting toe hy April aansê om hom na die Red Hussar te neem.
April is nou meestal sy koetsier wanneer hy sy rytuie gebruik. Die oorlamse ou perdeman voor wie Deborah grootgeword het, is goed gevestig in Kit se lewe, al is dit dan ook net omdat April hom aan haar verbind. Deborah. Hy wonder wat sy vanaand doen. Sou sy haarself in daardie onvriendelike ou huis van Kurt Mannheim bevind? Waar anders. Karl Mannheim word immers nog steeds vermis.
Sou sy ooit as sy opkyk na die sterre, soos wat hy nou maak, aan hom dink? wonder hy treurig. Sou sy ooit die somernag onthou toe hy haar ná die bal in sy arms geneem en die eerste keer sy liefde aan haar bely het? Die nag toe hy haar gevra het vir die voorreg om haar die hof te maak? Sy hart mis ’n slag oor die felheid van die emosie wat die blote herinnering aan daardie magiese somernag verlede November by hom opwek.
Kit staar melancholies voor hom uit terwyl hulle die dorp binnery. Maandag sal Cohen haar inlig oor sy skenking. Cohen het hom laat weet dat sy ingestem het om sy kantore om nege-uur te besoek. Hy sal miskien teen daardie tyd al brandend van ongeduld by Onderkopjes op haar koms wag. Sal sy kom? Sal sy brief haar hart genoegsaam versag om hom te vergewe? Hy het daarin ’n uitdaging aan haar gerig en nou wonder hy opnuut of sy die moed sal hê om dit te aanvaar.
* * *
Die huishorlosie slaan talmend twaalf slae. Middernag, die uur van spoke, die donker duiwelsuur, dink Kurt Mannheim waar hy moeg sit en wag met sy kop aangeleun teen die hoërugstoel se rugleuning. Sedert hy en Deborah tuis gekom het, sit hy hier in hierdie stoel en wag op nuus uit Karl se kamer. Vader John was twee maal hier, een maal om Karl se toestand aan hom te verduidelik en later om van die omstandighede waarin hy gevind is, te vertel. Hy het ook gesê dat hulle Karl se maag gespoel het en hoop om hom uit die koma te haal. Indien hy verder verswak, moet hy hospitaal toe. Kurt wonder hoe dit moontlik is dat sy seun se toestand nog verder kan verswak sonder dat hy sterf.
Die skok wat hy ervaar het toe hy sy seun se uitgeteerde gesig gesien het was onbeskryflik, want juis op daardie oomblik het ’n erge spierspasma Karl se liggaam beetgepak. Die jong man is in die klem van die stuiptrekkings agteroor getrek totdat sy kop feitlik aan sy hakke geraak het. Deur sy saamgeklemde kake het vreemde, dierlike krete gekom wat Kurt Mannheim so ontstem het dat hy uit die kamer gevlug en hier kom wag het. Deborah het hom kort daarna gevolg. Dit was draagliker saam met haar, om saam met haar te waak, al het hulle in stilte teenoor mekaar gesit voor die kaggelvuur. Sy is nou weer by Karl. Vader John het haar kort gelede kom roep, want Karl het sy bewussyn herwin en na haar gevra. Hy moes ten alle koste kalm gehou word en haar teenwoordigheid skyn die gewenste uitwerking te hê. Dit is nou al ’n hele ruk vandat die geskreeu uit die siekekamer verstil het.
Kurt kom sugtend orent. Dis sinloos om langer hier te sit en wag. Daar is drie mense om sy seun se bed geskaar, dis nie nodig dat hy ook wakker bly nie, dink hy en voel uitgestoot toe hy met swaar treë gangaf loop.
Voor Karl se kamer huiwer Kurt ’n oomblik. Dan maak hy die deur saggies oop en gaan in. Vader John en die twee vroue kyk swygsaam na Kurt waar hy in die deur aarsel, maar hy kom nie nader nie, kyk net enkele oomblikke na sy seun wat nou in ’n diep slaap verval het. Karl se hand is soos dié van ’n kind geklem om Deborah s’n.
Ontroering dwing ’n mistigheid na Kurt se oë wat hom beskaamd laat wegdraai. Jutta … so onthou hy haar ook. So was sy ook teen die einde toe hulle haar pal onder verdowingsmiddels moes hou. Sy blik verstar momenteel op die skildery van sy vrou wat Karl se suite domineer.
Vader John kom sag orent en beduie dat hy buite met hom wil praat. Kurt knik, draai om en verlaat die vertrek. Buite die deur spreek vader John hom gedemp aan.
“U moet rus kry, gaan slaap nou, meneer Mannheim. Karl is deur die ergste … wel, vir nou altans, hy sal waarskynlik deurslaap tot dit lig word. Ons drie sal om die beurt by hom waak.”
“U het gesê vir nou altans. Watter ander gevaar is daar?”
“Longontsteking, en natuurlik die onttrekkingsimptome. Wanneer dít die opiumslawe beetpak, kan dit hulle na waansin dryf. Ek glo nie ons sal vannag nog daardie probleem hê nie, maar ons moet by hom bly om seker te maak.”
Kurt kyk stil na die priester, en sy streng gesig verraai nie wat in sy hart omgaan nie. Hoe verduidelik hy watter pyn dit hom as vader veroorsaak het om te hoor dat die naam van sy seun gekoppel word aan die woord “opiumslaaf”. Dit is wat hy is. Dit is wat Karl geword het. Woordeloos knik hy.
Die priester wag skaars op ’n antwoord voordat hy weer in die kamer verdwyn en die deur sag agter hom toemaak.
Stadig loop Kurt na die eensaamheid van sy kamer. Sy jare weeg skielik swaar. Hy wat dit so haat om te verloor het tog iewers misluk. Iewers het die kind uit die krotbuurte van Hamburg gefaal. Hy kon nie ’n houvas kry op sy persoonlike lewe nie. Sy vrou het hom verag en verwerp as ’n ploert. Sy seun verwerp hom ook. Jutta was dan seker reg. Dis asof die lewe hom, sover dit sy familie betref, afgooi soos ’n fyngeteelde perd ’n ongeskoolde ruiter afgooi. Hy begeer die warmte van iemand wat hom ken en verstaan soos nooit tevore nie.
Moeg lê hy in die donker na die plafon en staar, maar die slaap bly uit. Uiteindelik staan hy maar weer op en gaan na sy studeerkamer waar hy die lampe aansteek. Om in sy bed rond te rol sal hom niks baat nie. Werk. Dit was nog altyd sy redding.
Hy gaan sit by sy lessenaar en slaan die lêer met die myne se maandelikse finansiële verslae oop. Soos hy dit deurwerk, slaag die gegewens allermins daarin om sy depressie te verdryf, want soos hy Rheed se inskrywings bladsy vir bladsy nagaan, groei Kurt se onrus. Sy myne, van Jutta’s Rand in Langlaagte tot by Mitzie’s Gold in die ooste, begin nou onrusbarende en aansienlike verliese toon. Verdomp!
Hy kom orent en gaan staan bedruk by die kaggel. Hy staar ingedagte na die vuurtonge wat opvlam om die nuwe houtstomp en dennebolle waarmee hy die kaggel gevoer het. Gedurende die aanvangsjare net ná ses-en-tagtig was hul winste astronomies. Die onkoste van die destydse oppervlakmynaanleg was nie net veel laer nie, maar die wêreldwye gebruik om die goud met kwik uit die ruwe erts te haal, is in daardie stadium ook met groot sukses hier gebruik. Noudat hulle dieper in die aarde begin tonnel, raak die mynbase se probleme al groter en duurder. Die riwwe wat die afgelope maande gevind is, is vrot van die piriet, en hulle kon net dertig present van die goud deur die gewone amalgameringsproses herwin.
Hy hou sy yskoue hande uit na die vuur se hitte, sy swaar gesig fronsend. J.B. Robinson het ’n rukkie terug met ’n nuwigheid begin, glo ’n Amerikaanse foefie, waarvolgens hulle gebruik maak van chloorgasse wat goudherwinning na bewering tot twee-en-sestig persent verbeter. Maar hy verstaan dat Robinson nie te ingenome is met die resultate van sy massiewe uitgawes nie.
Na Kurt se mening was dit ’n verkwisting van geld. Hy kon Robinson vooraf gesê het dat dit ’n nuttelose eksperiment sou wees, een wat reeds in Rusland gefaal het en te duur bewys is. Die klein persentasie goud wat daardeur herwin kan word regverdig skaars die bou van so ’n duur aanleg.
Rusteloos draai hy van die vuur af weg en neem weer sy plek by die lessenaar in. Tou opgooi is nie in sy aard nie; dis waarskynlik net ’n slegte ondergrondse kors waar hulle moet deur. Hulle sal dieper sink volgende week en die goeie erts sal weer na die oppervlak gebring word. Hy maak sy boek toe en kom orent. Deur die toegetrekte luike kan hy die dag gryserig sien breek. Môre sal hy die probleem met nuwe energie benader. Môre sal hy weer vir Deborah aan sy sy hê, dink hy toe hy uitgeput in die bed kruip om ’n paar uur te slaap.
Sy is alleen by hom en het aan die slaap geraak in die stoel. Deborah is langs sy bed. Sy het hom nie verlaat soos hy gevrees het nie. Hy strek sy hand uit asof hy haar gaan aanraak, en hy kan, maar hy doen dit nie. Hy trek weer sy hand terug, en draai hom op sy sy sodat hy sy volle aandag op haar kan toespits. Dit het die gewenste uitwerking, want Deborah skrik wakker. Half deurmekaar van die slaap vee sy oor haar gesig, merk dan vir Karl wat met groot, starende oë doodstil lê.
“Karl?” vra sy besorg, en leun vorentoe om aan sy pols te voel.
Karl se lang benerige vingers omsluit hare in ’n krampagtige greep. “Prinses …” klink die enkele woord oor sy droë, koorsige lippe. “Jy het gebly … ek was bang, bang jy sou weg wees …”
“Ek het mos belowe.” Sy poog tevergeefs om haar hand uit sy greep los te maak.
“Ek praat nie van nou nie … maar van dit wat gebeur het … daardie nag …”
“Ek wil nie daaroor praat nie!” roep sy skerp uit.
Karl, skynbaar onbewus van haar reaksie, gaan voort. “Nadat ek tot my sinne gekom het …” In die greep van sy emosies klem sy hand wat hare gevange hou dit stywer en stywer vas. “Ek sê jou, ek het myself gehaat, hoor jy, Deborah! Ek wou … ek wou myself om die lewe bring …”
“Karl, asseblief!” Dié keer maak sy haar hand beslis van hom los. “Laat ons nie verder daaroor …”
“Dis waarom ek Happy Valley toe is,” ignoreer hy haar pleidooi. “Nugter kon ek die daad wat ek teenoor jou gepleeg het nie aanvaar nie.”
Karl maak sy oë ’n oomblik moeg toe, dan praat hy weer.
“Opium verdoof en stimuleer mens tegelykertyd. As jy dit behoorlik gebruik, gaan jy ’n ander wêreld binne, waar alles helder en beter is, maar as jy te veel gebruik, sterf jy. Dit vreet jou liggaam en siel op, want as jy eers verslaaf is, los dit jou nie maklik nie. Ek het sulke gevalle gesien in Soho … nooit gedink ek sou ook so word nie …” Hy hoes kroeperig, sweet bars op sy vel uit, dan vroetel sy hande senuweeagtig en aanhoudend met die kantinsetsel van die sylakens. Asof die hoesbui hom te veel uitgeput het, praat hy nie, lê hy net en staar in die niet.
Verlig maak Deborah van die geleentheid gebruik om die gesprek in ’n ander rigting te stuur. “Dis verby, jy is veilig. Slaap nou,” sê sy rustig, maar dit het die teenoorgestelde uitwerking. Pateties soek sy hand weer na hare en hy druk dit teen sy wang waaroor trane nou begin vloei.
“Hel! Ek was in die hel!”
“As jy die gevare so goed ken, waarom het jy dan die ellendige goed so misbruik?” vra sy ergerlik. “Sam het my vertel dat jy voorheen ook –”
“Nog nooit vantevore het ek dit misbruik nie! Glo my, nooit was dit só erg soos nou nie!” roep Karl uit. “Verstaan jy dan nie, ek het met opset al hoe meer gevat – om jóú te vergeet, van jou verraad teenoor my, om te vergeet wat ek jou aangedoen het. Ek het gedink: Kom ek om, so kom ek om, dan kan jy teruggaan na jou Malloy! Ek wil nie sonder jou lewe nie, Deborah, verstaan jy nie?”
“Sjjj … moenie so opgewonde raak nie, Karl,” probeer sy hom weer kalmeer, maar dis nutteloos. Die woorde stroom onkeerbaar uit sy mond.
“Met opium is dit soos met ’n seestroom; as dit jou vat, ruk dit jou in, dan het jy geen wil meer nie. Niks kan jou help nie, behalwe miskien meer opium. Maalstroom …”
Hy snak na asem en sy oë verstar in angs. “Die maalkolk …” prewel hy nou onverstaanbaar, “dis soos die maalkolk in die rivier wat Clancey ingesuig het.”
“Clancey?” vra sy onbegrypend, oortuig dat hy ylend is. Sy kry geen antwoord op haar vraag nie, want Karl rammel nou vervaard voort oor ’n vreemde skemerwêreld waaraan sy nie deel het nie en ook geen deel wil hê nie.
“Ek kan nou min van die plesier onthou, daar wás wel … mens voel warm, voel of jy behoort … asof jy tuisgekom het … dit onthou ek van die kere toe ek nog helder kon dink. Dit is dán wanneer jy selfverseker word. Nou is daardie oomblikke ver en vaag, soos eilande in digte mis wat sigbaar word en weer verdwyn. Ek kan nie onthou wanneer die stroom my begin intrek het nie, my gevoer het na daardie plek op die linkeroewer van die Teems. Deborah, ek het toe gebid om dood te gaan …”
Deborah luister met toenemende verwarring. Waarskynlik word Karl nou geteister deur die drogvisioene wat ’n nadraai is van sy oormaat. Vader John het gewaarsku dat hulle dit te wagte moet wees. Sy luister halfhartig na ’n beskrywing van sy deelname aan ’n heksesabbat. Die detail daarvan vervul haar met afsku.
“Kit … Kit Malloy was daar!” Karl se gesig is verwilderd. Sy lees verwyt in sy blik. “Sentour! Die verdomde sentour wat jou liggaam onteer met sy smerige pote! Ek wou hom doodmaak maar ek kon niks doen nie!”
“Dis nou genoeg!” sê sy ferm en kom orent.
Karl laat haar hand nie vry nie, hy gryp die ander hand ook. Hy merk nie haar verleentheid en afgryse nie. Die golf van woorde wat uit hom stroom is nou van hoofbelang. Al wat nou vir hom tel is sy smagting om sy siel voor haar te ontbloot, hom te reinig. Deborah se absolusie sal die mag hê om die drogskimme uit sy brein te verwilder.
Gedwonge gaan Deborah weer sit. Vader John se bevele was uitdruklik – Karl mag onder geen omstandighede ontstel word nie. Miskien sal hy na hierdie histeriese ontboeseming tog weer slaap. Sy probeer doelbewus om haar gedagtes elders te fokus, om so Karl se sinnelose gebrabbel te ontwyk. Gisteroggend, nadat Mac MacIntyre hier was, is daar ’n versoeknota afgelewer wat konfidensieel gemerk is. Dit was aan haar gerig en het van Cohen, die prokureur, gekom. Sy word daarin versoek om hom die volgende dag op ’n tyd wat vir haar geleë sal wees te kom spreek. Sy het laat weet dat sy hom om nege-uur sal kan sien, maar nou met Karl wat só is, en haar skaars kans gee om hom vir tien minute te verlaat, twyfel sy of sy die afspraak sal kan nakom. Sy wonder waaroor dit gaan, waarom Cohen háár juis wil sien.
“Prinses … prinses! Jy sê niks nie. Jy glo my nie!” dwing Karl se dringende stem haar gedagtegang binne.
“Ek is jammer, ek was net ingedagte. Lê gemakliker, ek sal jou toemaak. Jy moet warm gehou word …”
Karl ignoreer haar woorde en in sy drif is hy nou half orent en uit die bed. “Jy moet my glo!” pleit hy opnuut by haar. “Al sou jy my nooit weer vertrou nie … Dit was julle … jy en Clancey wat my lig was! Julle twee in een was al wat tussen my en die monsters gestaan het. Julle was my beskermengel!”
“Wie is Clancey?” vra Deborah ’n tweede keer, nou met ’n skuldgevoel omdat sy hom nie haar volle aandag gegee het nie.
“Jy ken hom beter as ek! Hy is deel van jou! Soos hy van my ook is, maar soveel te meer van jou, want julle is een. Daardie dag toe die kano … toe hy in die rivier se maalkolk beland het … toe hy dood is …” Trane vloei vrylik oor sy wange. Hy probeer haar nader trek, maar sy sit haar teë. “Deborah, prinses, ek het nie geweet dat ’n mens ’n tweede maal ’n kans sal kry nie, nadat mens reeds een maal só liefgehad het!” Sy oë soek na die vrou in die skildery. “Mamma! Dit was Mamma wat jou gestuur het! Ons hoort bymekaar, Deborah! Jy mag my nooit verlaat nie! Toe Clancey dood is, is jy in sy plek vir my gestuur! Verstaan jy dit? Sê jy begryp dit!”
Karl se liggaam begin weer sidder asof hy kouekoors kry, ten spyte daarvan dat die sweet blink op hom uitslaan. Deborah vermoed dat hy weer afstuur op stuiptrekkings. Sy voel paniekerig. Tot dusver het sy gefaal om hom enigsins kalmer te maak. Sy moet vader John gaan wakker maak, besluit sy.
“Sê dit, prinses … gee my jou belofte dat jy my nooit sal verlaat nie!”
Hierdie keer slaag sy daarin om haar hande uit syne los te maak. “Later.” Sy kom orent en probeer so lig moontlik sê: “Jy moet nou eers probeer rus …” Sy buk langs die bed. “Kyk, die helfte van jou kussings lê op die grond.” Sy tel dit op, klop dit lig en begin dit agter hom stapel. Skielik omsirkel Karl se arms haar soos dié van ’n seekat. Sy poog verskrik om weg te tree, maar hy dwing haar neer op die bed langs hom. Tot haar ontsetting en ongemak laat hy sy kop teen haar bors sak en begin snik soos ’n verwese kind wat onregverdig slae gekry het.
“Belowe my … belowe my! Ek kan nie sonder jou leef nie … asseblief … asseblief, prinses!” herhaal hy dit oor en oor.
Sy voel hoe sy warm trane die hoë beffie van haar beste rok vlek en voel besmet daardeur. Die arms wat haar so krampagtig omsluit laat haar benoud voel, asof dit die asem uit haar liggaam gaan pars. Hoe kan sy met so iemand redeneer? Vir hom sê dat dinge nooit tussen hulle sal uitwerk nie, dat dit van die begin af gedoem was, ’n fout was. Dat hulle veral noudat hý terug is, nie met hierdie huwelik kán of durf voortgaan nie.
“Karl …” kies sy haar woorde versigtig, “ons sal later daaroor praat, wanneer jy beter is. Nou ontstel dit jou meer …” Ongemerk probeer sy sy greep losmaak, maar dit laat hom net meer verbete aan haar vasklou.
“Belowe my!” eis hy. Daar is nou ’n onmiskenbare noot van histerie in sy stem. Hy staar na haar met betraande blou oë wat in hulle intensiteit vertrek is deur ’n vreemde soort hartstog wat sy nie begryp nie. “Belowe! Jy mag my nie alleen laat nie!”
Deborah sug. Dan slaag sy uiteindelik tog daarin om van hom af weg te beur. Sy raak gerusstellend aan sy wang.
“Natuurlik sal ek jou nie alleen laat nie, Karl, ek het jou dit gisteraand al belowe.” Haastig kom sy orent.
Op dieselfde oomblik kom Sam die vertrek in met Karl se oggendkoffie. Hy kyk verskrik na sy grootmaakkind, wat nou van alle hoop ontneem met sy arm oor sy gesig lê en snik. “Seurtjie Karl!” roep Sam ontsteld uit, en hy kom haastig nader en sit die skinkbord op die geleentheidstafeltjie.
“Alles is in orde, Sam,” stel Deborah hom sag gerus. “Meneer Karl sal beter voel ná sy koffie. Dit sal ook goed wees as jy hom miskien kan afspons.”
“So was die plan, mevrou,” antwoord Sam terwyl hy ’n koppie koffie skink en dit langs die huilende man neersit. Van Deborah se bestaan het hy reeds vergeet. “Kom, my kleinseurtjie, luister nou mooi na jou ou Sam …” sê Sam terwyl hy gaan sit op die bed, wat kraak onder sy groot lyf. Deborah kyk hulle ’n oomblik aan, dan draai sy om. Sy voel verslae en tot die dood toe moeg. Ook vir haar was hierdie nag ’n lang en ontstellende een.