Читать книгу Die goudkewers - Lerina Erasmus - Страница 11
Hoofstuk 7
ОглавлениеDis ’n ongewoon deftige konvooi van vier koetse en twee transportwaens wat op die slingerende stofpad begin afdaal na Vanwyksvlei se laagtes.
Dit was J.B. Robinson se idee om die lank verwagte besoeker uit Skotland reeds by sy aankoms te beïndruk met ’n koninklike verwelkoming. Die toekoms van Johannesburg lê per slot van sake in die hande van dié mannetjie met die welige snor wat oorkant hom in die skommelende koets sit.
John Stewart MacArthur, die Skotse apteker wat met sy sianiedproses soveel kontroversiële opspraak van Europa tot in Australië en selfs verre Rusland veroorsaak het, het net meer as ’n week gelede voet aan wal gesit, en Robinson was daar om hom in te wag. Nou, ná ’n week, is die reis na die binneland feitlik op ’n einde en Robinson voel die krieweling van opwinding oor wat nou vir hulle voorlê. MacArthur sal, sodra hy uitgerus is, met proefnemings begin. Alles by die Salisbury-aanleg was reeds voor Robinson se vertrek na Durban gereed.
Robinson is oortuig dat die onindrukwekkende kêreltjie weet waarvan hy praat, veral ná hul lang gesprekke op die terugreis. Nietemin moet die finansiële haalbaarheid van die proses eers deeglik bewys word. Hy en die res van die konsortium het reeds swaar belê in die hoop dat MacArthur wel sou slaag, maar Robinson glo dat hy die een is wat op die ou end die meeste geld moes instoot. Met ’n tikkie bitterheid dink hy nou hoeveel hy reeds ingeboet het met sy mislukte poging om sy myne aan te pas vir chloorbehandeling … Nietemin, as alles verloop soos wat sy besoeker hom verseker het dit sal, sal sy geldelike opoffering deur en deur beloon word. Maar nie net dit nie: Hy, Joseph Robinson, sal in die geskiedenis bekend staan as die man wat Johannesburg gered het!
MacArthur, wat deur die koets aan die slaap gesus is, ruk wakker en kyk dan skaam en half gedisoriënteerd na sy reisgenoot.
Robinson glimlag toegeeflik. “Ons is amper daar, meneer MacArthur.” Hy beduie na die landskap wat buite die koetsvenster verbyrol. “Dis Vanwyksvlei … die laaste poskoetshalte voor die stad.”
MacArthur knik dankbaar. Die tog was lank en vermoeiend. Ja … selfs vreesaanjaend! Hy is ’n Glasgower, deur en deur ’n stadsmens, en die oop veld, gebergtes en ruigtes staan hom min aan. Hy sal dit aan niemand beken nie, maar hy het homself een nag in die berggebied byna bevuil van angs toe hy die roggelende gebrul van leeus gehoor het. Hoewel almal hom verseker het dat die leeus ver was en dat leeus dit nie naby so ’n gesofistikeerde kamp sou waag nie, is hy glad nie gerusgestel nie. Hy het daardie nag nie ’n oog toegemaak nie. Hoe het hy nie verlang na die drukte en oorvol strate van sy geboortestad nie!
Tog, noudat hulle aan die einde van die reis is, voel hy ook die adrenalien deur sy are pomp. Ná die verslae wat hy oor die maande van die Salisbury-konsortium ontvang het, is hy oortuig dat hy hier vir eens en vir altyd sal kan bewys dat sy sianiedmetode die enigste praktiese en boonop ekonomiese metode is om goud uit komplekse erts te bevry. Hy dink wrewelig aan sy Amerikaanse toer. Die ellendige Amerikaners het hom behandel asof hy nog steeds die aptekersklerkie van lank tevore was. Geen respek, geen eerbetoon vir sy uitvindings … onnosele en arrogante kolonialers! Dit is soos hy nou vir altyd aan hulle sal dink – beterweterige pseudowetenskaplikes wat sy teorie aangeval het sonder om hom ’n kans te gee om dit te bewys. Hier sal dit anders wees, dink MacArthur toe hy in die verte die eerste skagtorings van die myne gewaar. Die rykste en diepste goudrif ter wêreld! Waarvoor meer kan hy vra? Hy gaan sy teorie bewys! Hy, John Stewart MacArthur, wat grootgeword het in die agterbuurte van Glasgow, gaan hier sy eie rykdom versamel. Elke myn en elke konsortium sal voor hom buig en toustaan om die regte te bekom van die MacArthur-Forrest Company wat reeds voor sy vertrek uit Skotland in die lewe geroep is.
Hy raak aan die soliede waspunte van sy goed versorgde snor, wat trouens die enigste uitstaande uiterlike aspek aan hom is. Die Goeie Boek sê immers: Daar is ’n tyd om die saad te saai, maar daar kom ook ’n tyd wat die komynsaad gemaai moet word. Dit is nou sý tyd om komynsaad te maai, dink MacArthur met groot entoesiasme toe hulle die stad binnery. Hier ry hy die stad in soos ’n adellike, in ’n koets deftiger as wat hy nog ooit gehad het. Dit is die manier waarop die Johannesburgers hul eer reeds aan hom betoon. Wat gaan gebeur as hy hul stad van ondergang red? wonder hy nou. Hiér in Johannesburg gaan hy sy naam en sy fortuin maak. Dit sal hom die moderne Archimedes van die mynbedryf maak.
Deborah hou haar asem op sodat Ma-Fytjie haar korset soos altyd in die eerste ry gaatjies kan toeryg. Ongemaklik wonder sy hoe lank sy nog met die voordoenery sal kan aangaan. Hoewel daar nog geen opvallende veranderinge aan haar te bespeur is nie, is sy self bewus van haar borste wat groter is en haar heupe wat vir die eerste keer in haar lewe kurwes maak. Net so raak sy nou ook al hoe meer bewus van die ongemak wat haar kleredrag haar veroorsaak, en sy weet dat Ma-Fytjie in die stilligheid al twee tabberds se middellywe wyer gemaak het.
“So, dis styf genoeg, Ma-Fytjie …” pleit sy.
Die ou dame knik beterweterig. “Dit kan jy weer sê, nooientjie. Elke keer as ek nou vir jou vasmaak, is ek bekommerd dat jy weer sal omkap. Van nou af aan sal dit beter wees as ons die tweede ry se gaatjies inryg. Jy moet maar maak of jy baie lekkernye eet, laat die ander kan dink dis van dié dat jy so uitsit …”
Deborah lag en trek Ma-Fytjie se kop teen haar aan. “Jy het ook raad vir alles, Ma-Fytjie!” sê sy liefdevol.
“Nee, dié het ek nie, ek sê steeds dit sal beter wees as jy nou maar praat, missie. Jy en seurtjie Karl is nou weer so half bevriend, of dan nie?”
“Nog ’n rukkie … Ek sal praat voordat ek regtig begin wys, ek belowe ek sal jou nie in die skande steek nie. Nou moet ons gou maak, Karl wag al op my.”
Fytjie knik stil, dan draai sy om en haal die uitrusting wat reeds aan die kas hang af. Dis ’n rooi rok. Na Fytjie se sin is die diep wynrooi ’n gans te blertsende rooi vir ’n jong dame om in die publiek te dra, maar dan dra Deborah dit ook darem nooit as sy uitgaan nie. Fytjie weet dat die kleur haar versie aanstaan, soos ’n vlam lyk haar missie Deborah in die gloeiende fluweelrok met sy fyn roomkleurige Brusselse kant. Die ander ding wat ook vir Fytjie oor die rok laat wonder, is juis die feit dat Deborah dit nog nooit aangetrek het om uit te gaan nie. Dis net vir saans voor ete en vir die aandmaal wat sy dit ooit dra, dink Fytjie nou terwyl sy die laaste knopie van die bostuk vasknoop.
Daar is ’n klop aan die deur. “Mevrou! Ma-Fytjie! Kom gou! Seblief, kom gou, dis ouseur!”
Ma-Fytjie en Deborah kyk verskrik na mekaar, dan kom Deborah tot verhaal, storm na die deur en pluk dit oop. Sam se oë is wydgerek. Sonder om te dink gryp hy Deborah se hand en trek haar half die kamer uit.
“Kom gou, ouseur is besig om te sterwe, mevrou!”
In holderstebolder haas volg die vroue vir Sam na die konservatorium, waar Kurt hom altyd vir ’n uur of wat ná werk afsonder om aandag te gee aan sy geliefde orgideë.
In sy haas praat Sam hortend. “Ag genade, mevrou Deborah, ek het die ouseur se tweede whisky loop skink. Toe ek terugkom, toe lyk dit hy wil-wil so half orent kom en sy mond gaan oop om te praat, maar dié trek skeef en hy gryp na sy hart en net daar vou hy inmekaar. Ek was net betyds om te keer dat hy nie val en lelik seerkry nie!”
Hulle bereik die konservatorium en vind Kurt op die sofa waar Sam hom neergelê het. Die ou man klem sy bors vas en is duidelik in uiterste pyn. Sy gelaatskleur is ’n sieklike grys en daar is ’n wit kring om sy mond.
In haar skok storm Deborah op hom af en kniel langs hom neer. “Pa, wat het gebeur?”
Dit is die eerste keer in baie maande dat sy hom weer só noem, en dit dwing ’n skadu van ’n glimlag na die ou man se mond. “Goed dat jy hier –” ’n Nuwe hartkramp trek deur sy borskas en voorkom dat hy sy sin voltooi. Sy woorde gaan oor in ’n kreet.
Ma-Fytjie neem oor. “Gou, Sam! Skreeu vir Pollie! Sy weet waar my medisynesak is, en sy’t kiewietbene wat vinnig kan draf. Sê sy moet dit bring, Sam Naudies! En stuur vir Basjan, laat hy vir vadertjie John loop haal! Miss Deborah, jy bly hier, ons probeer om vir ouseur gemaklik te maak …” Sy begin Kurt se krawat loswikkel, dan knoop sy die onderbaadjie se knope los en beduie Deborah moet ontslae raak van sy hoë oprygskoene.
Pollie, wat verskrik binnekom met die sak wat Ma-Fytjie se kosbare medisyne bevat, word onmiddellik weer weggestuur om komberse te gaan haal.
Ma-Fytjie het een van haar flessies reeds uit, skroef dit oop en deurweek ’n katoenlappie. Sy hou dit voor Kurt se neus.
“Ruik in, ouseur, al ruik jy eers maar net so effentjies, dit sal die ou are laat ontspan, want dit lyk vir my dié is nou saamgebondel in die ou borskas … Ruik vir ou Fya, seur!”
Kurt probeer gehoorsaam, maar ’n pynlike kreet skeur weer tussen sy lippe deur.
Ma-Fytjie kyk verskrik op na Deborah, dan fluister sy: “Loop soek vir mister Karl, laat hom na sy pa kom kyk, ek weet nie of die dokter betyds gaan wees nie.”
Vader John trek die inspuitingnaald uit Kurt se skouerholte. ’n Druppel bloed wel donker uit die wond op. Die priester plaas ’n pluisie gesteriliseerde watte daaroor en kyk met toenemende kommer na sy jare lange skaakvriend se grys gesig. Die ou man het ongetwyfeld ’n ernstige hartaanval gehad. Op die oomblik is die inspuiting teen die pyn die enigste manier waarop hy hom kan help.
“Meneer Mannheim, kan u my hoor? Dis ek, vader John.”
Daar is ’n roering agter die geslote ooglede, ’n geringe teken van herkenning.
Vader John spreek hom weer sag en kalmerend aan. “Ek het u nou ’n sterk pynstiller gegee. Binne ’n paar oomblikke sal u gemakliker wees. Probeer om u liggaam soveel moontlik te ontspan.”
Vader John wag totdat sy pasiënt se asemhaling meer reëlmatig klink en hy aan die slaap raak. Dan kom hy saggies orent. Hy neem sy doktersak, wat nog halfoop is, maar klik dit nie toe nie, ingeval hy sy pasiënt in sy slaap steur.
Saggies beweeg hy deur toe. Hy sal Ma-Fytjie in bevel plaas om hom kans te gee om reëlings by die klooster se hospitaal te gaan tref. Van die susters daar sal weer moet kom uithelp. Hy sal weliswaar dié slag geen moeilikheid hê om die moederowerste te oorreed nie, want ná hulle so goed omgesien het na Karl, het Kurt Mannheim ’n baie ruim skenking gemaak aan die hospitaal. So groot was dit dat dit suster Agatha op die twyfelpad geplaas het oor hoe om dit te gebruik – hetsy vir nog ’n hospitaalvleuel of vir ’n tweede en selfs derde ambulanswa en perde.
Deborah, Karl en Ma-Fytjie wag hom in die gang in toe hy die kamerdeur oopmaak en weer toetrek. Hy knip sy gehawende drasak toe.
“Hy slaap nou, maar hy mag nie alleen gelaat word nie. Ek sal so gou moontlik terugkom.” Hy spreek Ma-Fytjie aan. “Ek het hier ’n flessie met tablette wat net in ’n noodgeval gebruik mag word. Stap saam met my eetkamer toe, ek wil aan jou verduidelik hoe jy dit moet gebruik.” Hulle loop in die gang af.
Deborah en Karl kyk hulle stilswyend agterna.
“Ek sal by hom bly,” sê Deborah.
Karl knik. Sy mooi gesig registreer ’n vreemde radeloosheid wat hom jonger as ooit laat lyk. Sy vingers hark deur sy blonde hare, wat maar weer oor sy voorkop val.
Teen die tyd dat Deborah hom kom roep het en hulle hul teruggehaas het, was dit te laat om met sy pa te praat – Kurt het sy bewussyn verloor. Karl voel sy eie hart teen sy ribbes tamboer. Hy is bewus van ’n dowwe pyn. Is dit skuldgevoel? Of is dit angs? Vrees dat Kurt sal doodgaan – waarom sou hy dit vrees? Hy en Kurt was nooit juis dol oor mekaar nie. Waarom is hy dan nou so intens bewus van sy eie verlies? Van verspeelde kanse om ’n brug te slaan na die outokratiese ou man, sy pa wat sy lewe so baie keer hel gemaak het. Daar was nog nooit veel liefde tussen hulle nie. Kan dit wees dat daar iewers in sy eie donker siel tog ’n greintjie liefde is vir die man wat daar binne lê en worstel met die dood?
Moet wees, want Karl het skielik die behoefte om soos toe hy nog ’n klein seuntjie was, in ’n kas weg te kruip, die deur toe te trek, en vas te glo dat niemand hom sal vind nie. Dáár kon hy altyd in die donker engte vrede maak met homself, omdat hy so ’n bangbroek was en omdat hy elke nag sy oë rooi gehuil het oor sy ma. Kurt het hom verbied om te huil, gesê dis onmanlik, maar daar in sy kas was dit nie nodig om manlik te wees nie, daar was hy deel van die donkerte wat hom omhul het soos ’n koesterende kombers.
“Karl?”
Hy kyk verward na Deborah, het sy hom iets gevra? “Ja?” antwoord hy bot.
“Voel jy sleg?”
“Sleg? Hoekom sou ek?” vra hy verdedigend. Dan vervolg hy sagter: “Nee, ek makeer niks, miskien ly ek net aan skok. Die verbrande ou bliksem is so sterk soos ’n bees, ek kan nie onthou dat hy al ooit siek was nie, en nou dit …” Sy vingers hark weer deur sy kuif.
Sy wil hom berispe oor die manier waarop hy oor Kurt praat, maar sy doen dit nie. Dis duidelik dat Karl weer nie homself is nie.
“Sal ons by hom gaan sit tot Ma-Fytjie ons kom aflos?” vra sy sag.
Karl huiwer, dan neem hy haar hande in syne. “Ek kan nie, prinses …” Hy weet nie hoe om te verduidelik nie. “Ek moet uitkom buitentoe, vars lug kry … ek is jammer …” Hy haal sy skouers pateties op.
Deborah knik, en hoewel sy nie verstaan waarom Karl so vreemd reageer nie, is daar iets in die smekende blik wat hy op haar vestig wat haar meer vertel as sy stomp antwoorde.
“Miskien moet jy ’n perd laat saal en uitry veld toe, dit maak mý kop altyd helder.”
Hy knik verlig, glimlag, buig dan vorentoe en plaas sy lippe koesterend teen haar linkerhand, dan haar regterhand.
“Dankie dat jy verstaan, prinses!” Sonder ’n verdere woord kies hy haastig koers in die gang af.
Deborah kyk hom agterna, maar vergeet oombliklik van hom toe sy dofweg ’n roggelgeluid van agter die geslote deur hoor. Haastig gaan sy na binne.
Kurt lê op sy sy, met sy prominente oë groot en starend op haar gevestig. ’n Kort oomblik flits dit deur haar brein dat hy dood is.
Maar dan beveel hy skor: “Deborah … laat … haal vir Cohen!”
Deborah beweeg haastig nader en gaan sit langs die bed. “Moet u nie nou oor sake bekommer nie, meneer Mannheim, probeer om nie daaraan te dink nie –”
“Cohen! Haal … Cohen …!” roggelskreeu hy, en ’n donkerrooi gloed sprei oor sy gesig.
“Wat gaan hier aan?” klink vader John se stem in die deur op. Hy kom die kamer haastig binne, gevolg deur Ma-Fytjie.
Deborah kom orent. “Ek vrees ek het meneer Mannheim ontstel …” prewel sy.
“Maak soos ek sê, verdomp!”
“Kom, kom, meneer Mannheim, u help my hoegenaamd nie as u uself so opwerk nie!” sê die dokter streng, dan soek sy blik na Deborah. “Doen wat hy jou gebied het, Deborah, op die oomblik is dit belangrik dat niks hom ontstel nie.”
“Hy wil met meneer Cohen, sy prokureur, praat,” protesteer Deborah.
“Maak gou, Deborah, in godsnaam!” roep Kurt uit.
Vader John knik vir haar en Deborah haas haar uit die vertrek.
Karl het teen dagbreek eers by sy woonplek in die Palace Towers ingeslinger, en hy word met ’n skok wakker. Dit neem etlike minute voordat dit tot hom deurdring waar hy hom bevind. Hy kom orent en beweeg soos ’n slaapwandelaar uit die slaapvertrek – alles voel skielik so vreemd. In die woongedeelte draai hy stadig in die rondte. Daar lê ’n dik laag stof oor die klavier, die verdorde palm, en oor sy boekrak met sy kosbare boeke. Sy woonplek rou oor die verwaarlosing van baie weke. In die digte stilte hoor Karl nou die fluistering van verraad. Sy verraad teenoor dit waarvoor hy omgegee het.
Hy wil nie terugdink aan die nag toe hy die laaste keer hier was nie, maar hy sien die opiumwaterpyp wat nog op die vloer staan waar hy gesit het toe Eliza Tarlton haar opwagting gemaak het. Eliza. Die aktrise met die lang, lang bene en die seunslyf. So was Deborah ook, maar tog is daar deesdae ’n sagter ronding aan haar … Waarom vergelyk hy hulle met mekaar? Hulle is teenpole – die een ’n prinses, die ander ’n ambisieuse klein slet. Maar Eliza se beeld spook by hom, hy sien haar soos hy haar die laaste keer gehad het. Haar lang bene wat hom nader, sy hurk, strek haar uit, haar bene vou om hom terwyl sy hom aanraak … Demmit! Hy hark sy vingers deur sy hare. Verdomp! Is hy besig om mal te word? Mal! Mal! Mal! Die woorde skok deur hom. Mal soos jou ma, fluister Kurt se stem in sy kop.
“Nee!” roep hy hardop uit, en sy stem in die grafstil vertrek verskrik hom. Hy moet hom regruk, hy is nie mal nie, natuurlik nie! Dis bloot sy lyflike behoefte wat so dwingend is. Hy sweet toe hy oorloop na die venster en die luike oopmaak, daarna die raam oplig om dan ten laaste die buiteluike oop te trek.
Lug en lig! Stofspikkels dans in die strook sonlig wat na binne val. Die rumoer van Rissikstraat verbreek genadiglik die doodse stilte wat hom so beklem het. Hy sal weer deel moet word van die stroom mense daar onder, die drade van sy lewe moet optel. Op die oomblik voel dit asof hy ’n toeskouer is op die wal van ’n rivier. Dis inderdaad wat hy geword het, ’n toeskouer, dink Karl terwyl hy met onsiende oë afkyk na die samedromming van mense onder hom, aan die oorkant van die straat.
Karl wil nie meer sien nie. Met drif trek hy die skuifraam af en draai om. Sy blik rus op die opiumpyp wat goud glim in die sonlig asof dit self ’n stuk van die son is. Hy het nog ’n paar stokkies iewers … Sal hy? wonder Karl. Sy pa se pynverwronge gesig flits voor sy oë. Dit sal die vrees wegneem … net een … hy het dit só nodig!
Gladys Smith se rooi hare vlam in die lenteson toe sy haar kop agtertoe gooi en skater oor die uitdrukking op Kit se gesig. Die kulkunstenaar het so pas met groot panache ’n wit haas uit Kit se breërandhoed getrek. Die man plaas die haas in Kit se arms, die dier staar met platgetrekte ore bevange na haar en Kit, en sy neusie bewe asof hy iets slegs ruik.
Die omstanders gee luide applous en Kit, duidelik verleë omdat hy die man se toertjie bevraagteken het, gee die haas aan sy eienaar terug in ruil vir sy hoed.
“Goed, my vriend, ek gee toe jy is jou sout werd,” sê hy en gooi ’n ruimhartige skenking in die kissie vir donasies.
“Now me, Ivan zee Great, weel play zee balalaika for you, beautiful lady!” sê die Kosak terwyl hy laag voor Gladys buig. Hy wil die daad by die woord voeg, maar Kit kry Gladys aan die arm beet.
“My keel is stofdroog, ek koop vir jou iets koels by die Imperial.”
“Wat? By my kompetisie? Beslis nie!” sê Gladys ferm terwyl sy haar hand deur sy arm haak en hulle begin aanloop. “Die Jolly Mermaid is net om die hoek en wat óns het is koeler en beter as enige van die ander kroeë s’n.”
Hulle loop in volmaakte pas en ’n oomblik kan Gladys skaars ’n tyd onthou toe sy gelukkiger gevoel het as juis nou. Kit het haar na die Rooikruis-kermis op die stadsplein tussen die Kettings genooi, en die towenaar se verskrikte haas in Kit se hoed was vir haar een van die snaaksste dinge wat sy nog ooit gesien het.
Die lewe in die stad gaan tog nog voort, ten spyte van al die gerugte, ten spyte van waens en koetse oorlaai met mense wat daagliks ’n uittog maak na ander oorde waar die goud hopelik nie onreduseerbaar sal raak nie. Selfs in haar kroeë sien sy ’n aansienlike daling in die getal klante, en as dinge so moet aanhou, sal sy genoop wees om een te sluit. Sy sidder en verban dan die somber gedagtes. Die dag saam met Kit is te mooi en te wonderlik om dit deur haar eie onrus te bederf.
Die son wat vrolik deur die veelkleurige gebrandskilderde vensters skyn, verander die pers en blou skubbe van die stoute meerminnetjie in ryk smarag- en amatiskleurige juwele. Ook die ronde rooi tepeltjies op die glasmeermin se waswit lyf glim nou vurig soos twee robyne in die lig wat van buite deurval.
Kit, wat geamuseer daarna kyk, onthou hoe hy destyds ’n rondloperkunstenaar gehuur het nadat hy uitgevind het dat die vent gebrandskilderde kerkvensters maak. In ’n vlaag van nostalgie het die Deen ’n legende van ’n meerminnetjie herroep. Nou in glas vir Kit Malloy, maar jare later in brons vir ’n kaai in Kopenhagen. Kit het die kunstenaar met geld omgehaal om van katedrale te vergeet en hom toe te spits op die smaak van die belustigde besoekers aan die salon.
Die meermin het binne ’n week meer lyf gekry en haar borsies was so realisties en begeerlik dat sy die versugting geword het van meer as een man, veral as hulle oë hoër gedwaal het na die stout glimlag en die uitnodiging in die oë. Daarom het sy summier ’n nuwe naam gekry: Die jolige meermin!
Sy gedagtes word onderbreek toe Gladys twee skuimende bekers bier op die tafel neersit en oorkant hom gaan sit. “Dis op die huis …” sê sy toe hulle die bekers klink. “Vertel my álles! Jy sê die man het aangekom – MacArthur? Hoe lyk hy? Wat sê hy, is daar hoop vir ons?”
Kit lag en kyk liefdevol na Gladys, sy protégée wat hy lank gelede saam met haar suster uit ’n bordeel gered het. Toe het hy nog die salonne besit, en spoedig het Gladys haarself onmisbaar bewys as sy regterhand, veral wanneer hy op lang ekspedisies weg was. Sy en haar jonger suster is vir Kit nader as familie, hulle is die susters van wie hy so vroeg in sy lewe ontneem is.
“Watter vraag eerste?” vra hy, en sy donker oë vonkel van terglus.
Hoe lief het sy die man nie! Gladys versluier haar blik toe sy haar bier optel en ongeërg ’n slukkie neem. Net een maal het sy haar mond verbygepraat, hom gesê dat sy hom liefhet, maar Kit was waarskynlik daardie oggend ná die geveg in die Theatre Royal in so ’n toestand dat hy skaars enigiets daarvan sal kan onthou. Sy luister aandagtig na wat hy vertel oor die Skot wat vroeër die dag sy intog in die stad gemaak het … van die spoggerige ete wat vir hom voorberei is in die Arms and the Soul … van die kordate mannetjie in bruin met sy welige snor wat, ten spyte van sy voorkoms, so ’n besielende toespraak gelewer het.
“Gladys, ek het hoop! Die kêrel het wel ’n kinkel in die oor oor sy eie belangrikheid – soos dit maar is met alle ventjies wat klein van bou is.” Hy lag. “Hy is wragtig ’n opregte klein Napoleon. Maar sodra hy begin praat oor sy eksperimente, neem sy briljantheid oor. Die man is ’n genie! Volgende keer sal ek sorg dat jy ook by is, jy het immers ook belê …”
“Moet dit nie invryf nie,” sê sy snipperig, maar hy sien die kommer in haar oë. “My en Delphine se neseier is belê in MacArthur …” Sy swyg ’n paar oomblikke lank. “Ek het sover vyf salonmeisies verloor, hulle stroom na Barberton oor die nuwe goudgerugte daar.” Sy kyk na Maxine wat verveeld met haar hande onder haar ken teen die kroegtoonbank aangeleun sit en droom. “Maxine, Doris en Claudine van die Hussar gaan ook loop … wat gebeur as die Skot se sianiedeksperiment faal?”
“Waarom sou dit? Dis reeds oor en oor suksesvol bewys – sy Tharsis-maatskappy in Skotland floreer! Die wêreld is gaande daaroor.” Kit noem nie aan haar sy eie kommer nie. Hy het gehoor dat die Kamer van Mynwese ’n verslag uit Amerika bekom het waarin MacArthur se proses aan flarde geskeur word.
“Kit,” neul Gladys. “Daar is tog die moontlikheid dat dit kan skeefloop? Die stad is vol paniek en mense gee pad. Wat as dit in ’n spookdorp verander soos Eldorado in die Oos-Transvaal? Van die ouer meisies wat daar was, het my vertel …”
Kit sit ’n oomblik in stilte, dan glimlag hy skeef. “Hou op om jou mooi kop daaroor te breek. Ek belowe jou, sou dit gebeur, my liewe Gladys, koop ek met my laaste geld vir jou en Delphine ’n kroeg in Barberton en word ek jou kroegskiewie en dobbeluitlokker!”
Gladys lag skalks. “Jy? Jy is te gebonde aan dié stad, Kit, gebonde aan Johannesburg en gebonde aan haar, Deborah.” Te laat besef sy sy’t haar mond verbygepraat. Sy sien hoe Kit merkbaar verstyf en sy verwens haarself. “Ek bedoel net –”
“Staak dit, Gladys!” roep hy uit, so skerp dat die luie Maxine by die kroegtoonbank uit haar drome wakker skrik en opkyk.
Kit sit ’n wyle in stilte, dan tel hy sy bierbeker op en ledig ’n kwart daarvan in een teug. Hy sit die beker te hard op die houtblad neer, sodat die geluid deur die leë kroeg dawer. “Ek moet gaan.” Hy kom orent.
Gladys bekyk hom met haar koel groen oë. “Ja, dis goed, Kit, loop en vertroetel jou drome in ’n ander kroeg, die Imperial, as jy wil. Jy drink deesdae genoeg om vir enige kroeg ’n uithalerklant te wees.”
“Gladys, Gladys, waarom so kwaai? Waarom bederf jy die dag? Ons het pret saam gehad.”
Sy knik, haar oë waaksaam. “Ja, dit is wel waar en ek bedank jou daarvoor. Maar die tyd vir speletjies en pret is verby. Kit Malloy, jy droom soos ’n oorgroeide skoolseun oor iemand wat nou totaal buite jou bereik is, wanneer gaan jy dit eendag besef?”
“Gladys, jy verstaan nie, hou liewer jou raad vir jouself.”
“Goed, ek sal in die vervolg, maar ek hoop van harte jy bepaal jou aandag en energie van nou af by MacArthur en sy projek. Dis belangrik vir almal van ons, en my en Delphine se toekoms is in die weegskaal as die Skot misluk.”
“Jy het nie so groot gewaag soos ek nie,” sê Kit stil. “Ek het byna my hele fortuin verwed op MacArthur se sianiedproses, soveel glo ek daarin. Van almal wat belê het, is dit Robinson en ek wat die meeste gaan verloor as dit op ’n misoes uitloop. Maar dit gaan nie gebeur nie, ek verseker jou, MacArthur gáán slaag. Nie Robinson óf ek kan die alternatief bekostig nie!”
* * *
Kurt, wat sedert sy aanval die vorige dag onder verdowing gehou is, is onaangenaam bewus van ’n dofheid wat hom weer wil bemeester. Hy moet dit ten alle koste beveg, tot sy sake met Cohen afgehandel is.
“Verstaan jy goed wat ek sê, Cohen?”
Cohen, wat bleek lyk van skok, knik ongemaklik. “Ek sal u opdrag uitvoer, meneer Mannheim, maar ek sou ’n swak regsman wees as ek u nie wys op die gevaar nie … U wil Deborah … ek bedoel, die jong mevrou Mannheim, volmag gee om u plek vol te staan terwyl u ongesteld is?” Hy haal sy skouers op. “Sy is baie jonk vir so ’n taak.”
“Sy is bekwaam en sy is skerpsinnig, sy het in die tyd wat sy my vergesel het, meer bewys van goeie oordeel gelewer as Rheed wat my gedurig napraat om in my goeie boekies te bly.” Die inspanning laat hom na asem hyg. “Asseblief, Cohen, ek is moeg, laat ons nie verder redekawel nie.”
“Meneer Mannheim, ach … maar dink u aan haar? Dis ongehoord dat ’n vrou só ’n posisie volstaan, u weet self dat sy te doene gaan kry met myners, met ruwe manne …”
“Rheed sal haar bystaan. Dis my bevel! Jy as trustee sal as haar borg optree, en jy en Rheed moet julle oordeel gebruik oor finansiële risiko’s. Maar ek wil nie hê dat sy goedsmoeds gekniehalter moet word nie, verstaan? Sy sal vinnig haar oordeel moet gebruik om sake te red. Dinge is nie rooskleurig nie, dit mag nodig wees om een van die myne te sluit. Jutta’s Rand, Karl se myn, is die een wat ons finansieel die meeste tap. Indien sy dit sou goeddink, en sy Karl kan oorreed om te verkoop, dan staan julle haar nie teë nie …” Hy word weer gedwing om op te hou praat en voel gefrustreerd hoe sy tong begin dik word. Die neerdrukkende moegheid begin hom nou teen wil en dank oorweldig.
“Nog iets, Cohen … jy … moet …” klink Kurt se stem nou hortend van inspanning, “verkoop … kennis gee … dat ek bereid is … om die aanbod te aanvaar vir die tekstielfabriek in Aachen … aanvaar die laaste aanbod wat gemaak is … geld moet so gou moontlik inbetaal word in die Rothschild-bank … my rekening … indien nodig, maak daardie fondse beskikbaar vir Deborah …” Hy kom nie verder nie. Sy kop val terug teen die kussing en hy hyg pynlik na asem.
Cohen kom verskrik orent en storm die kamer uit. “Mevrou Mannheim! Oi vey, mister Karl!”
Ma-Fytjie, gevolg deur Deborah, kom uit die voorhuis te voorskyn en storm hom tegemoet.
“Hy lyk nie goed nie, die dokter moet kom!” roep Cohen verskrik uit.
“Ek het dit verwag. Vader John moes hom nog nie toegelaat het om oor sy besigheid te praat nie,” sê Deborah, bleek van ontsteltenis.
Fytjie het reeds die kamer in verdwyn, sy het die tablette wat die goeie vadertjie haar gisteraand gegee het, reeds byderhand en breek die flessie oop. Dis ’n nood dié, as sy al ooit in haar sondige ou lewe een gesien het!
“Ouseur … ouseur,” sê sy paaiend, “ek gaan jou dié ingee … die vadertjie sal nou kom, maar drink dié maar eers vir ou Fya se onthalwe.”
Kurt kreun van pyn toe sy sy kop lig om hom die medisyne te laat drink.
“Deborah …” klink dit skor oor sy lippe.
“Ek is hier, Pa,” sê sy stil.
Kurt knik, sy oë soek na Cohen, dan sê hy met sy laaste kragte: “Cohen … sal jou sê … jy is in beheer, maak soos jy goeddink. Vind uit oor Salisbury-myne … Robinson se gekke …” Hy sluit sy oë. Sy asem begin reëlmatiger te raak.
Dit is eers ’n halfuur later, nadat vader John en twee nonne hul opwagting gemaak het, dat Cohen die kans het om alleen met Deborah te praat. Hy vertel haar van Kurt se wens en sien dat die nuus vir haar eweneens ’n skok is.
Sy skud haar kop verskrik. “Meneer Cohen, ek is ’n beginner. Hoewel ek ontsaglik belangstel in die myne en baie geleer het by … by my skoonvader, is dit vir my op die oomblik ondenkbaar! Hoe kan ek besluite neem? Hoe kan ek bevele gee aan meneer Rheed, aan manne wat jare ouer is as ek?”
“Ek verstaan u konsternasie, maar dit is u skoonvader se uitdruklike bevel aan my. Ek is verplig om dit uit te voer.”
Cohen was aanvanklik agterdogtig oor die jong meisie, hy het gedink dat sy moontlik met haar skoonheid en sjarme die ou Mannheim se kop laat draai het. Sy lyk egter so ontredderd dat hy nie anders kan as om simpatiek te voel nie.
“Meneer Mannheim het baie vertroue in u oordeelsvermoë. Hy sou so iets nie oorweeg het as dit nie nodig was nie. Ek kan u van my eie solidariteit verseker, ek sal u bystaan waar moontlik.”
Deborah antwoord hom nie. Haar kop werk teen ’n koorsige snelheid. Miskien kan sy Karl oorhaal om haar te help. As hy net gewillig sou wees om aan haar sy te wees … As sy as vrou net nie die een is wat die bevele hoef te gee nie, as dit uit Karl se mond kan kom, sal dit al klaar help.
“Ek glo dat as ek meneer Mannheim se wense aan meneer Rheed oorgedra het, daar van sy kant ook geen probleem sal wees nie,” sê Cohen. Kortliks deel hy haar mee van die besluit wat sy sal moet neem oor Jutta’s Rand. “Meneer Karl het natuurlik daar die volle sê, mevrou, maar as dit van my afhang, sou ek probeer uithou, so lank moontlik, want dit is die modernste van die Mannheim-myne, en in die huidige klimaat sal dit nie deug om dit vir ’n verspotte prys te verkoop bloot om die volgende maand se uitgawes te dek nie.”
“Volgende maand se uitgawes is geen geringe saak nie, meneer Cohen!” roep sy skerp uit. “Ons het meer as tweeduisend myners wat ons moet betaal.”
Cohen knik. “Kan u vir my ’n inventaris maak van wat onmiddellik uitstaande is? Ons kan saam moontlik ’n oplossing vind.”
Deborah knik moeg. “Ek kan die state teen oormôre vir u gereed hê.” Sy sal enigiets belowe, solank hy net loop! Wat hy haar meegedeel het, het as so ’n skok gekom dat sy tyd nodig het om dit te verwerk. Dat sy nie veel van ’n keuse het nie, is duidelik, maar as Karl haar bystaan, kan hulle saam die ding deursien. Waar sou Karl so laat wees? Dis al ná sewe.
Toe die staanhorlosie talmend twaalf slae laat galm deur die stil huis, kom Deborah uiteindelik orent uit die leunstoel waarin sy vergeefs gesit en wag het op Karl se tuiskoms. Sy blaas die koperstaanlampe dood en tel die brandende kers in sy blaker op, dan loop sy saggies gangaf om niemand te steur nie. Sy was ’n halfuur vroeër by haar skoonpa, toe sy vader John op sy laaste rondte vergesel het. Vader John wou min sê oor Kurt se toestand, maar hy is duidelik uiters bekommerd. Hy het die susters bevele gegee vir die nag, en vir Sam aangesê om hom onmiddellik te kom haal indien Kurt se toestand ’n ernstiger wending sou neem. By sy afskeid aan Deborah het hy haar dit weer op die hart gedruk dat Kurt so min moontlik ontstem mag word en dat sy alle sake rakende die myne so goed moontlik van hom af moet weghou.
In haar kamer verklee sy haastig en laat sy in haar moegheid haar klere net so op die vloer lê. Sy skuif tussen die yskoue lakens in. In die donker lê sy en kyk na die ligpatrone wat deur die venster se kantgordyne val. Slaap. Sy moet probeer slaap, dwing sy haarself, maar gedagtes begin nagmerrieagtig deur haar oormoeë brein warrel: By Mitzie’s Gold gee die waterpompe probleme. Dit sal Maandag se hoofprobleem wees … of is dit? Sy sal moet besluit of hulle wel ’n nuwe sygang moet oopskiet by die Gloriana-myn. Omdat dit een van die ouer myne in Langlaagte is, het Kurt hoop gehad dat die erts moontlik van beter gehalte sou wees. Maar enige nuwe skuinsskag sal die onkoste nog meer laat ophoop. Tog, sy moet die myners besig hou … Wat sou Kurt besluit het? Sy dink aan die oorverdowende geluid van die stampmeulens, meulens wat skaars kan volhou om die hope erts te verwerk, en waarvoor? Bloot in die hoop dat hulle met die nou ontoereikende kwikproses daardie geringe dertig persent goud daaruit kan reduseer? Hoekom koop die drogbeleggers op tussen die Kettings? Dit terwyl hulle ander almal vrees vir die toekoms van die stad? Wat is aan die gang by die Salisbury-myn?
Uitgespook en moeër as tevore, sit Deborah uiteindelik weer orent en steek die kers langs haar op die bedtafeltjie aan. Dit flikker warm en gerusstellend. Sy staan op en trek haar kamermantel aan. Dalk het Karl nou al teruggekeer, maar nee, sy sou hom tog gehoor het as hy in die gang af gekom het.
Miskien sal dit haar help om aan die slaap te raak as sy lees. Sy tel die kers op. Sy sal ’n boek gaan soek in haar skoonpa se studeerkamer, hy sal nie omgee nie.
In die studeerkamer, met die onmiskenbare reuk van die eienaar wat die vertrek vol hang, soek haar oë oor die boekery. Maar sy weet sy sal skaars haar gedagtes by ’n boek kan bepaal. Meeste van haar skoonvader se boeke is boonop tegnies van aard. Nietemin haal sy een uit die rak, ’n boek oor geologie en die vorming van gesteentes. Sy gaan sit by die skaaktafeltjie en probeer hard om daarop te konsentreer, maar daar kom niks van nie, want haar aandag word getrek na die skaakbord.
Die rangskikking van die skaakstukke dui vir haar daarop dat die spel wat gespeel was, nie voltooi is nie. Swart is in die sterkste posisie, want die koningin van die wit skaakstukke word bedreig. Sou ’n flink Rochard-beweging die situasie verander? Nee. Dit sou min help, want die ridder wat deur die swart koning beskerm word, beperk die wit koningin se beweeglikheid. Haar oë som die skaakbord op vir ’n uitweg terwyl haar verstand ander paaie loop …
Rosenberg, wat sy nou daagliks tussen die Kettings opmerk, tree op as makelaar vir Kit. Hoe lojaal sou hy teenoor Kit wees? Sou sy hom kan nader? Omkoop, miskien? Skok ruk deur haar. Waaraan dink sy tog! Om so laag te daal om agter Kit se rug inligting uit te vis?
Byna instinktief reik haar hand uit na die skaakstukke. Die enigste uitweg sal wees om die wit koningin op te offer. Daarom troef sy die swart ridder met die wit dame, en die swart ridder word verwyder. Na verwagting slaan die swart koning dadelik toe en die wit koningin word ook van die skaakbord afgehaal. Dit stel Deborah in staat om nou die Rochard-beweging toe te pas en so die swart koning vas te keer in skaakmat …
Wat de duiwel is jy besig om te doen? vra sy haarself af. Waarom sit sy hier? Drie-uur in die môre en sy speel skaak teen haarself!
Sy leun agtertoe en sit ’n paar oomblikke lank baie stil. Skielik val dinge in plek, presies soos die skaakbord se skuiwe nou net vir haar in plek geval het. Sy kom orent, bewus van die kalmte wat oor haar daal noudat sy weet wat haar te doen staan en hoe sy die probleme die volgende dag gaan benader.
“Jy wil op die myne gaan rondflenter in dié tabberd, missie?” roep Fytjie geskok uit toe sy na Deborah kyk wat reeds die rooi kreukelfluweel-en-kantrok aanhet, die een wat sy nog nooit tevore buitenshuis gedra het nie.
Deborah knik en draai om sodat Ma-Fytjie vir haar kan vasmaak. “Ek moet eers ’n ander draai gaan maak, Ma-Fytjie,” verduidelik sy. “By die myne hou ek mos my werksklere aan. Ek sal nie droom om daar in dié rok rond te dwaal nie!”
In die stilligheid dink Fytjie dat die myners hulle flou sal skrik – die rok is vir die aand en haar nooientjie lyk soos ’n bruid daarin. Maar sy spreek die gedagtes nie uit nie en in stede daarvan sê sy slu: “Maar waar gaan jy dan heen, missie?”
Deborah huiwer, dan systap sy die vraag netjies. “Kettings toe, daar is iets wat ek moet gaan uitvind; daarom wil ek hê die koetsier moet ’n briefie gaan afgee by meneer Rheed, om te verduidelik dat ek laat gaan wees, dat hy solank moet voortgaan met sake soos gewoonlik. Die meeste van meneer Mannheim se mynbestuurders weet nog nie eens dat hy siek is nie.”
“Hulle weet, missie, in dié ou duiwelstad weet almal van almal se kom en gaan. Van vroeg af aan was die hoofmanne van die myne hier. Almal van hulle, so sê Sam Naudies my. Hy sê hulle het kom hoor hoe dit met die ouseur gaan.”
“Hoe op aarde sou hulle weet?” roep Deborah verstom uit terwyl Ma-Fytjie haar sitmaak op die boudoirstoeltjie voor die spieëlkas om haar hare te skik.
“Dit wis ek nie, maar Sam sê –”
“En nou, prinses? As jy so aangetrek is? Jy sal die koningin van Skeba jaloers laat voel!” sê Karl se stem agter hulle. Hy kom nader, kom staan agter haar, sodat sy hom in die spieël kan sien.
Deborah herken met ’n sinkende gevoel die eienaardige helderheid in sy oë – hy moes weer opium gebruik het.
“Het daar iets uitsonderliks gebeur waarvan ek nie weet nie? Is dit jou verjaardag wat ek vergeet het?”
Deborah kom orent en sê stil: “Ma-Fytjie, sal jy ons asseblief alleen laat? Ek sal self my hare opsteek.”
Fytjie gee Karl net een kyk, dan gee sy bes en verlaat die kamer.
“Waar gaan jy heen, prinses? Só mooi aangetrek op ’n Maandagmôre?”
Sy beantwoord sy vraag met ’n teenvraag. “Was jy weer in Happy Valley?”
Hy lag, skud sy kop. “Wat gee jou dié idee?”
Sy kyk hom in stilte aan, want toe hy nader kom, word sy ook bewus van iets anders: die reuk van ’n vrou – dit, en van goedkoop parfuum – wat hom nog omgewe. Vreemd hoe koud dit haar laat, dink sy verbaas. Die man voor haar is tog die vader van die ongebore kind in haar skoot en dit skeel haar skaars dat hy by iemand anders was, dink sy nou effens skuldig.
“Karl, ek en jy moet praat, sake finaal uitsorteer … Daar is ’n belangrike kwessie oor Mannheim Enterprises wat jou pa …”
Deborah se stemtoon laat Karl vassteek. “Daarmee wil ek niks te make hê nie!” roep hy nors uit.
“Miskien nie, maar dis nodig dat jy sekere dinge moet weet, met jou pa se siekte is dinge in chaos. Ek het gehoop dat jy Saterdag terug sou wees sodat ons koppe bymekaar –”
“Is dit ’n verwyt, prinses?” Hy glimlag spottend. “Of behoort ek geëerd te voel daaroor?”
Deborah besluit om sy smalende opmerking te ignoreer. Sy sê saaklik: “Ek gaan nou om sake te probeer uitpluis. Daarna moet ek ’n draai maak by al die myne, maar ek behoort teen vieruur terug te wees. Kan ons … mag ek jou dan sien, Karl?”
“Wil jy oor jou en my praat, of oor Pa se myne?”
“Oor albei. Om hemelsnaam, Karl, ons het ’n krisis op hande! Jy moet my help, jy kan jou pa help!”
“Ek?”
Die verstomming op Karl se gesig frustreer Debora mateloos. “Ja, jy! Sal jy hier wees?”
Hy haal sy skouers op, maar knik tog uiteindelik. Waarheen sou sy op pad wees, wonder hy, veral soos sy nou aangetrek is? Na Malloy? Die ou jaloesie vreet weer aan hom. Hy wil haar met die vraag troef, maar besluit daarteen en draai woordeloos om voordat hy die vertrek verlaat. Miskien het hy slaap nodig. Die naweek saam met Eliza was lank en plesierig genoeg!
Deborah voel verlig toe Karl die deur agter hom toetrek. Haastig gaan sit sy, lig dan haar swaar haarvag op haar kop waar sy dit behendig vaspen. Die stilering sal nie so goed wees soos Ma-Fytjie s’n nie, maar dit sal moet deug, want die tyd is min. Sal sy hom op kantoor aantref? Sy weet hy is in die stad. April het haar gesê, toe hy hier was.
Uiteindelik voel sy tevrede met haar beeld in die spieël. In haar ore hoor sy Kit se afskeidswoorde in die verlate straat naby die Kettings: Ek sal altyd hier wees as jy my nodig het …
“Ek het jou nou nodig, Kit Malloy, ek het jou so bitter nodig!” prewel sy aan haar eie weerkaatsing in die spieël, en dit gee haar moed vir wat voorlê.