Читать книгу Die goudkewers - Lerina Erasmus - Страница 9

Hoofstuk 5

Оглавление

Kit kyk fronsend na die koevert in sy hande. Volgens sy sekretaris is dit die vorige dag afgelewer terwyl Kit uitstedig was. Op die koevert is sy naam in sterk maar elegante letters geskryf: Mr Kit Malloy Esquire – ’n handskrif wat hy onmiddellik geëien het. Hare!

Amper drie weke lank was daar geen kontak van haar kant af nie, maar hy het sy ongeduld besweer. Hy was bewus daarvan dat jong Mannheim by die dood omgedraai het met longontsteking. Dit is algemene kennis in die stad, aangesien die nonne wat hom versorg het maar te gewillig was om te berig oor hul pasiënt se vordering. Dit is dus te verstane dat Deborah te besig was om hom te ontmoet of aan hom te skryf. Nietemin kon hy sy teleurstelling nie heeltemal verhelp nie. As haar verlange na hom so intens en knaend is soos syne na haar, kon sy tog ’n plan gemaak het! Hy loop terug na sy lessenaar, tel die briefoopmaker op en skeur die koevert oop. Die geur van haar sagte parfuum kleef aan die papier toe hy dit uit die koevert trek, en hy hou sy neus daarteen. Die liefde wat in hom opwel, maak hom week. Hy vou die brief oop, maar dis skaars wat mens ’n brief kan noem, slegs enkele reëls:

Geagte meneer Malloy …

Meneer? Waarom sou sy hom “meneer” noem, wonder hy terwyl sy oë oor die niksseggende sinne flits.

Deur omstandighede buite my beheer was dit onmoontlik om u vroeër te kontak. Ook is dit op die oomblik nie vir my moontlik om ’n skriftelike verduideliking te gee nie. Daarom versoek ek ’n geleentheid om u op kantoor te mag spreek. Indien u aan my versoek gehoor gee, sal ek dit waardeer as u vir April sal stuur om my te laat weet.

Die uwe

Deborah Mannheim

Mannheim! Die naam laat ’n onredelike ergerlikheid in hom opwel, maar ten spyte daarvan tel hy sy pen op en doop dit in die inkhouer. Op ’n vel papier waarop die adres van sy sakeonderneming gedruk is, skryf hy vlugtig:

Liefste Deborah,

Waarom so formeel? Jammer dat ek nou eers reageer, maar ek het pas teruggekom. Jy is altyd welkom, maar teen drie-uur vanmiddag is ek ongetwyfeld vry.

Al my liefde

Kit Malloy

Met ’n gevoel van onrus vou hy die brief toe. Iets het skeefgeloop. Hy weet dit instinktief. Die toon van haar brief spreek van onttrekking. Hoe sal hy die lang ure omkry tot vanmiddag?

Fytjie eien die naderende getrippel van die perd as dié van Heuning, Deborah se merrie. Sy stuur ’n dankbare skietgebed boontoe. Kort ná hulle pratery douvoordag is die kind te perd uit, waarheen sou g’n mens weet nie, en sy wat Fytjie is, moes die waarheid taktvol omseil, elke keer omdraai net kort voor ’n leuen, om ou mister Mannheim se vrae tydens ontbyt en middagete af te weer. Dit is duidelik dat mister Mannheim ontstig is deur Deborah se afwesigheid tydens albei etes, maar genadiglik het hy niks verder gesê nie. Daarvoor was Fytjie dankbaar, want sy was bang dat hy haar in ’n hoek sou keer om uit te vind wat met Deborah skort. Sy sal mos nie weet hoe om te antwoord nie, en as iemand hom die waarheid moet sê, dan moet dit Deborah self wees.

Maar haar versie het nou tyd nodig op haar eie, sodat sy die ding op haar manier kan uitmaak. Die kind aard na haar pa, sy is sterk in hart en kop. Fytjie, wat lank op haar knieë was, se vertroue in haar Liewe Heer is nou opnuut gepantser. Sy het dié kind van Heinrich en Alisha von Albein van die wieg af grootgemaak, en die kind is geleer om die reguit pad te loop. As sy oor die skok van die baba kom, twyfel Fytjie nie een oomblik daaraan dat haar versie sal weet wat reg en verkeerd is nie. Daarom moet sy nou tyd hê om die ding self uit te spook.

Ná sy toegesien het dat haar perd versorg is, spoel Deborah haastig haar hande en gesig af en knap haar windverwaaide hare op. Sy besef dat sy middagete gemis het, en dat Kurt seker gewonder het waar sy is. Toe sy nie sy koets gewaar nie, het sy by Basjan verneem dat hy nie soos gewoonlik sy middagrusuur geneem het nie, maar dadelik terug is na die myne.

Deborah voel nou half skuldig toe sy die kamerdeur oopmaak en in die lang gang af loop. Sy wonder waar sy vir Ma-Fytjie sal kry. Moontlik in die siekekamer, maar om daar in te gaan, sien sy nie nou voor kans nie. Sy sal Ma-Fytjie liewer gaan inwag in haar kwartiere, besluit sy toe sy die agtertrap klim na die solderverdieping waar Ma-Fytjie en Sam Naudies se kamers is.

Soos sy verwag het, is die deur ongesluit, en sy maak dit oop en gaan in. Sy adem die reuk van die vertrek in; dit ruik soos die woonhuisie wat Ma-Fytjie op Sorgenfrei gehad het – die skoon geur van byewas, terpentyn en rou lynolie wat die enkele meubelstukke gloeiend ’n lewe van hul eie gee. Daarby die vae reuk van kruie, afkomstig van die talle medisinale konkoksies wat Ma-Fytjie voorberei uit haar kruietuintjie. Sy het die plante oorgebring van hul woonplek af oorkant die Arms and the Soul, en kort ná haar aankoms hier ’n nuwe tuintjie begin.

Die bed is krakend wit oorgetrek met linne omsoom met gehekelde kant en ’n sneeuwit lappieskombers. Alles Ma-Fytjie se handewerk, nes die wit macramé-matjie wat voor die bed lê. Deborah voel skielik ongewoon emosioneel. Op ’n manier is Ma-Fytjie en April al wat sy van haar mense oorhet, en soms is sy so moeilik en ondankbaar, veral teenoor Ma-Fytjie. Wat sou sy sonder haar Ma-Fytjie doen? Die blote gedagte is ondenkbaar! Sy gaan sit in die enigste stoel, waaroor ’n kunstig geborduurde antimakassar gesprei is. Sy sal terwyl sy wag ’n voorraadopname maak van hoeveel sy en haar hele familie verskuldig is aan die bruin vrou wat haar lewe aan die Von Albeins gewy het ter wille van haar liefde en lojaliteit teenoor Alisha.

Deborah se gedagtes slaan oor na haar ervaringe die oggend aan vader John se sy. Sy het hom vergesel op sy rondtes in die plakkerskampe. Vader John en Ma-Fytjie se onbaatsugtigheid maak Deborah altyd beskaamd omdat sý so selde bereid is om opofferings te maak, veral teenoor wildvreemdes.

Ma-Fytjie kom tien minute later uiteindelik die vertrek binne en steek verras vas toe sy Deborah gewaar. “Ek het jou loop soek, missie, en was net bekommerd omdat jy skoonveld was en dit nadat ek jou perd gehoor kom het.”

Deborah knik. “Ek het besluit om hier vir jou te wag.” Sy kom orent uit die stoel om plek te maak vir Ma-Fytjie, wat haar stip betrag.

Dis verseker dat Deborah nie een of ander malligheid aangevang het nie, dink Fytjie dankbaar. Sy lyk soos tevore, en ná die rit te perd is daar selfs ’n bietjie kleur in haar bleek wange.

Deborah gaan sit op die bed oorkant Ma-Fytjie. “Ek het nagedink oor wat jy vanoggend vroeg gesê het, Ma-Fytjie, en sonder rede het ek daarna my perd laat koers kies Braamfontein toe …”

“Na die kerk, missie?” vra Fytjie versigtig.

Deborah knik. “Ek was betyds om vader John te vang voor hy uit is op sy rondtes, dit het my laat besluit om saam te gaan … soos ek gemaak het toe ons nie herwaarts of derwaarts geweet het nie en by die nonne beland het.”

Deborah kyk oor Ma-Fytjie se skouer na die klein skilderytjie wat teen die muur agter haar hang. Dis ’n kunswerkie wat Alisha destyds as Kersgeskenk vir Ma-Fytjie gemaak het. Dit beeld Ma-Fytjie se huisie tussen die goue herfsakkerbome op Sorgenfrei uit. Dis waarskynlik Ma-Fytjie se kosbaarste besitting. Die eenvoud en sonnigheid van die toneel laat Deborah se keel saamtrek in weemoed en verlange na haar geboortegrond.

“Dit was net soos altyd,” sê sy uiteindelik met haar blik steeds gevestig op die skilderytjie. “Saam met hom op sy gehawende ou karretjie deur die vuil, krotterige strate van Brickfields, waar daar te veel honger kinders en te min kos is …”

Debora se oë blink van ongestorte trane. “Daar by die bedompige kamertjie wat vader John so deftig sy ‘kliniek’ noem, het die mense al tougestaan toe ons daar aankom, elk met sy eie mankement of probleem. Soms dink ek hulle wil net met hom praat, net die versekering hê dat daar iemand is, een mens op aarde wat vir hulle omgee. Dis wonderlik hoe rustig hy na almal luister … Hy weet hoe om liefde te gee, Ma-Fytjie … Ook jy het daardie gawe. Ek het nie. Ek het nie die vaagste benul hoe om sonder voorbehoud lief te hê nie, en ek weet nie of ek dit ooit sal leer nie. Afgesien van hóm … met wie dit anders is.” Sy kyk weg, noem nie sy naam nie. Fytjie sien hoe sy sluk aan die trane wat haar wil oorweldig.

“Daar was ’n meisie, seker so oud soos ek, met ’n baba. Vader John het hom glo die lewe ingehelp. Sy het hom die kind kom wys, kom dankie sê. Die baba was toegedraai in ’n vuilerige kombersie en net so verslons soos sy ma, maar ek het nog nooit iemand gesien wat so trots is op haar kind nie, wat sulke liefde uitstraal toe sy in sy lelike pienk gesiggie afkyk nie! Ma-Fytjie, hoe moet ek dit doen? Hoe kan ek myself dwing om liefde te voel vir dít wat nou onder my hart groei? ’n Kind wat my altyd sal herinner aan daardie nag?”

“Dit sal kom, missie, die liefde is ’n gawe van Bo, en dis so natuurlik soos reën wat val en die seisoene wat altoos terugkom. By jou sal dit ook nie anderste wees nie.”

Dit lyk of Deborah haar stelling wil betwis, maar sy doen dit nie. “Ek weet nog nie watter kant toe nie,” sê sy uiteindelik. “Tot dan, wanneer ek weet wat my te doen staan, sal dit help as niemand daarvan weet nie.”

“Missie, die ou vrou sal mos nooit praat nie! Met wie sal ek praat behalwe met jou saam? Jou ma was ses maande só en net ek en sy het geweet tot sy jou self gesê het.”

“Ek weet, en ek is jou dankbaar daarvoor.” Deborah sit ’n rukkie in stilte, dan sê sy half lomp voor sy orent kom: “Ek moet gaan aantrek …”

Ma-Fytjie kyk haar verbaas aan. “Waarheen gaan jy dan, my missie?”

Deborah huiwer, dan kyk sy Ma-Fytjie vol in die oë. “Ek gaan na hom toe, na Kit Malloy. Ek het ’n afspraak vir drie-uur.”

“Jy gaan die ding vir hom sê, missie?” Die onrus op die groot gesig is duidelik leesbaar.

Deborah kyk haar in stilte aan, dan antwoord sy eerlik: “Ek weet nog nie, ek het geen benul hoe ek dit gaan oordra nie, wat ek aan hom moet sê nie. Maar Kit Malloy moet weet. Hy verdien dit nie om langer aan ’n lyntjie gehou te word nie.”

Sy moes gewig verloor het, sy is skraler as ooit tevore, dink Kit besorg van waar hy haar deur sy kantoor se balkonvenster dophou. In sy matelose opgewondenheid was Kit heeloggend elke nou en dan voor die venster. Hy het Deborah se aankoms op die plein gesien. Dit het hom onmiddellik opgeval dat sy van ’n huurrytuig gebruik gemaak het, en nie van een van die Mannheims se koetse nie. Hoop het sy hart vinniger laat bons. Dan is haar besoek aan hom in die geheim!

Hy voel ’n oorweldigende drang om die drie verdiepings se trappe af te hardloop, haar tegemoet te storm en haar in sy arms op te raap. Kit sug oor sy eie malligheid en draai van die venster weg toe hy haar uit sig verloor. Nog net enkele minute, dan sal hy hom in haar geliefde gesig kan verlustig. Hy sal haar parfuum weer kan indrink wanneer hy haar slanke liggaam teen syne aantrek en koester. Hy vee oor sy oë – verduiwels, hy moet homself inkort! Hy is soos ’n oorhoopse bruidegom. Die uiters kriptiese notatjie wat hy vandag by sy aankoms gekry het, voorspel niks goeds nie.

Kit loop na sy ontvangskamer. Sy sekretaris, die jong Benjamin Rosenberg, kom gedienstig orent. Kit glimlag om die jongeling op sy gemak te stel. Rosenberg is ’n pas afgestudeerde ekonomiestudent van die kollege op Grahamstad. Hoewel hy nog skaars ’n maand vir hom werk, is Kit reeds beïndruk deur sy deeglikheid en sy skerpsinnige sakevernuf, al lyk die jong man altyd half verstrooid en dromerig.

“Ek verwag ’n besoeker, Rosenberg, en ek wil, afgesien van koffie – die beste wat jy kan maak – nie gesteur word nie.”

Benjamin Rosenberg glimlag, en sy diklensbrilletjie laat hom soos ’n wyse uil lyk, gretig om Kit Malloy se wense tot op die laaste letter uit te voer. Haastig lig hy sy werkgewer in oor die lêers op sy lessenaar wat Mac MacIntyre so pas laat aflewer het. “Meneer MacIntyre het gesê hy het heelwat om met u te bespreek, en of u hom vanaand in die Hussar kan ontmoet.”

Kit se gedagtes is duidelik elders.

“As dit reg is met u, sal ek ná werk aandoen by die Arms, meneer Malloy, en hom sê dat dit u pas …” bied Rosenberg gewillig aan.

Kit vryf sy ken nadenkend.

Hoe kan hy aan die jong man sê dat hy van harte hoop dat hy nié vry sal wees nie? Dat Deborah sy aand sal vul? “Baie hang af van wat tussen nou en dan gaan gebeur, Rosenberg. Daarom vertrou ek dat jy sal toesien dat ons nie gesteur word nie.”

Die ondeunde glinstering in Kit se oë ontgaan Benjamin nie. “Ek sal sorg dat niemand eens weet dat u op kantoor is nie, meneer Malloy,” glimlag hy.

“Reg! Jy verstaan goed,” lag Kit. Hy loop met Mac se lêers terug na sy kantoor. “Jy sal my besoeker na my kantoor begelei, my vriend, ek wil die dame beïndruk!”

In sy kantoor gaan sit Kit agter sy lessenaar. Hy moet seker probeer om besig te lyk, dink hy half geamuseer en vat-vat ongemaklik aan sy krawat, maar daar is nie genoeg tyd om seker te maak dat dit nie skeef sit nie.

Doelgerig maak hy die portefeulje voor hom oop en kyk na die inligting wat Mac vir hom laat kry het. Dis Mac se taak om seker te maak dat hulle nie ingeloop word deur Robinson en sy mense by die Salisbury Gold Mining Company nie. Robinson het dié fasiliteite beskikbaar gestel vir die Skotse apteker se eksperimente, en volgens hom is alles gereed. Die Salisbury-aanleg lyk by die dag meer na ’n woestynkamp, met reusagtige sandduine wat steeds ophoop agter hoë doringdraadheinings. Indien die apteker wel bewys kan lewer dat sy sianiedproses uitvoerbaar is, sal dit ’n geweldige ommekeer vir hierdie stad beteken.

“Meneer Malloy …” Rosenberg staan in die deuropening.

Kit stoot die lêer haastig van hom af weg. “Ja, Rosenberg?”

“U besoeker het opgedaag. Mevrou Mannheim is hier.”

Kit kom orent. “Moenie die dame laat wag nie! Laat haar inkom!”

Rosenberg buig formeel, dan draai hy om en buig na waar Deborah vermoedelik buite die deur wag.

Deborah kom die vertrek binne. Sy is sober geklee in ’n bruin-en-swart uitrusting waarteen haar besonderse blondheid soos ’n kers in ’n donker nag brand. Haar hare is vasgepen in ’n chignon en vir die eerste keer sedert hy haar ken dra sy ’n hoed, ’n modieuse jagtershoed met rooibruin vere wat van die opgeslaande rand hang en amper haar skouers raak. Vir Kit is sy onbeskryflik mooi, maar in haar formaliteit ook onbereikbaar.

Hy ruk homself reg toe Rosenberg die deur agter hom toemaak en glimlag effens voordat hy na haar buig. “Madame, mag ek u komplimenteer? Ek is daarvan oortuig dat u die son vandag iesegrimmig maak, want teen u stralendheid moet hy bleek voel!”

“Asseblief, Kit,” pleit sy stil, “moenie vandag met my spot nie.”

Kit stap haastig om die lessenaar. Sy arms omvou haar, sy lippe soen haar voorkop en wangbene. “My liefste, liefste mens, my meisiekind, my vrou …” prewel hy teen haar slape. “Dis nie spot nie, dis trots wat praat! Mý trots omdat jy vanmiddag my oninteressante kantoor binnegeloop het – soos ’n koningin!”

Sy hand streel oor haar rug en hy voel die spanning in haar liggaam aan. Hoewel sy nie van hom wegbeur nie, verontrus dit hom. Hy hou haar ’n armlengte weg en kyk haar ondersoekend aan. Sy hoop sink soos ’n loodswaar klip. Hy laat egter niks blyk nie. Met uiterste hoflikheid begelei hy haar na die gemakstoele voor die lessenaar en gaan sit oorkant haar, sy donker oë vraend op haar gerig.

“Wat dink jy van die Ierse dobbelaar se nuwe kantore?” probeer hy haar op haar gemak plaas.

Sy kyk op en sê sonder veel entoesiasme: “Dis deftig, baie mooi ingerig, daarby ook die uitsig oor die stad …”

Deborah kyk weg: Die liefde en besorgdheid in Kit se donker oë laat haar byna besluit om van haar sending te vergeet. Hoe moet sy begin? Sy het alles uitgewerk gehad in haar kop. Sy sou reguit met hom praat, op die man af. Dan sou sy uitloop en dit sou verby wees. Maar nou is alles anders as wat sy haar voorgestel het.

In die ontvangsvertrek was ’n massiewe bos rose met ’n banier by wat gelees het: Welkom in Kit Malloy se empire! Sy weet maar te goed daardie blomme en verwelkoming is vir haar bedoel. Die blink opgewondenheid toe hy haar tegemoetgeloop het … sy kon die brandende verlange in hom voel toe hy haar aanraak. Dit het ysere inspanning gekos om nie in Kit se arms te versmelt nie, om nie toe te gee aan die honger van haar liggaam nie. Sou dit saak maak? Al was dit net hierdie een keer? Al sou dit die heel laaste keer wees, sou sy dit vir altyd in haar geheue kon vertroetel. Tog het sy nie, want sy wis maar te goed sy sou nie weer die moed bymekaar kon skraap om hom te vertel nie.

“Wat is dit, Deborah?” vra Kit sag, sy gesig nou onleesbaar. “Ek aanvaar dat dit wat jou hierheen gebring het, nie noodwendig goeie nuus gaan wees nie?”

Sy knik. Nou moet sy praat, dink sy, maar haar lippe is stram.

Uiteindelik klink haar stem vreemd en heserig op: “Ja, Kit, en die gedagte aan die pyn wat dit jou sal veroorsaak, maak dit vir my die moeilikste …”

“Pyn? Watse pyn?” Hy dwing haar blik om syne nie weer te ontwyk nie.

“Ek kan Karl nie verlaat nie, Kit, en ek sal jou ná vandag moontlik nie weer sien nie … Wel, nie weer alleen soos wat dit was toe …” Sy sluk swaar.

Sy is na aan trane, merk Kit. Hy wil haar so graag vertroos, haar verseker dat niks ooit tussen hulle sal staan nie, wat die ellendige spul Mannheims haar ook al wysgemaak het. Niks sal hom van haar laat afsien nie. Hulle hoort bymekaar!

Daar is ’n sagte klop aan die deur. Dis natuurlik Benjamin Rosenberg met die ellendige koffie wat hy bestel het. “Kan ek vir jou koffie aanbied?” vra Kit. Hy kom orent toe sy haar kop skud en loop na die deur om Rosenberg weg te wys. Dan maak hy die deur toe en staan op ’n afstand na haar en kyk. Daar is iets anders aan haar, iets wat hy nog nooit tevore gesien het nie. Vrees! besef hy met ’n skok. Deborah is bang vir hom!

“Ons sal nie weer gesteur word nie.” Hy kom nader en gaan sit oorkant haar, en daar is nou ’n ligte frons van ergerlikheid tussen sy oë. “Hoe ek ook al probeer, kan ek nie verstaan wat jy met die onsinnighede bedoel wat jy pas kwytgeraak het nie. Ek het jou lief en jy weet dit en niks kan dit verander nie. Karl Mannheim se siekte het sake vertraag, maar –”

“Kit, ek is swanger.” Die woorde is uit. Sy sien hoe sy kop ruk asof sy hom ’n hou toegedien het. Hy staar in ongeloof na haar, skud dan sy kop. Sy moet klaarmaak, dit wat sy begin het verbykry, dit sal die genadigste wees vir albei van hulle.

“Swanger?” spring hy haar voor. “By Onderkopjes het jy my onder die indruk gebring dat –”

“Ek weet.” Hierdie keer ontwyk sy nie sy blik nie. “Dit is moeilik om te verduidelik, maar dit was nie ’n leuen nie, Kit. Vroeër wás dit platonies, streng volgens ooreenkoms, maar toe … Dit wat gebeur het …” Sy huiwer, soek na woorde, sien die kilheid wat sy gesig nou verander in ’n klipmasker, en haar moed begewe haar byna. Maar sy gaan dapper voort. “Dit was nie soos met jou nie … ons saamwees nie. Ek het dit nie aan jou genoem nie omdat … omdat ek dit wou vergeet, Kit. Ek wou dit uit my geheue wegdink … Ek het dit amper reggekry, tot gister toe ek uitgevind het dat ek ’n kind verwag. Syne. Karl Mannheim se kind.”

“Het Mannheim jou verkrag, Deborah?” Kit vra dit so dodelik stil dat ’n koue rilling langs Deborah se ruggraat afgly. Kit se oë verhard skielik. “Antwoord my, Deborah!”

“Ek kan nie, Kit. Asseblief, moenie meer vrae vra nie. Hoe minder ek daaroor hoef te praat, hoe draagliker maak jy dit vir my.”

“Waarom sal ek dit vir jou draagliker maak?” In sy woede kom hy orent. Hy voel asof hy haar orent kan pluk om die waarheid uit haar uit te pers. Dan was sy tog saam met Mannheim! Dan het die agterbakse klein stront tóg sy sin gekry. Hoe? Het hy haar dronk gemaak? Of was dit soos hy dadelik vermoed het – ’n verkragting? “Ek móét weet, Deborah!” sê hy afgemete.

Sy kyk stadig op. Hy merk aan die lig in haar oë dat sy eie woede hare aangesteek het. Haar bleek wange verkleur van ergernis.

Sy staan op, kyk hom strak aan. “Goed, as jy moet weet. Dit was die aand met jou terugkoms, toe jy nie alleen vir my nie, maar ook vir Karl in die openbaar verneder het. Voorheen het Karl nooit aan my geraak nie, nie meer as wat ’n broer aan ’n suster sou raak nie, maar jy met jou blatantheid, jou gespog oor wat jy met my bereik het, het Karl gekwets. Hy het geweet dat ek jou liefhet, en steeds liefgehad het nadat ek die tyding ontvang het van jou dood, maar hy het nie geweet dat … dat ek en jy saam was nie. Dit het hom blind gemaak van woede …” Sy sug, voel skielik asof sy jare ouer geword het. Ouer as die man voor haar, en baie ouer as Karl Mannheim, wat in elk geval nooit soos ’n volwasse man sal optree nie.

“Dan wás dit dwang, verkragting!” roep hy uit.

“Karl het opgeëis wat hy geglo het hom ook toekom. Aanvaar dit so.”

Hy sak in die stoel neer, sy kop in sy hande. Met ’n gevoel van mislikheid besef hy sy eie skuld. Hy is vir hierdie gemors verantwoordelik.

Deborah sien dit, en dis asof haar liefde en medelye vir hom haar uitmekaar ruk. Met die uiterste selfbeheersing weerhou sy haarself daarvan om by hom te kniel en sy kop teen haar bors vas te hou … Maar dan sal alles weer van voor af begin, en dit mag nie. Sy tel haar retikule op.

“Totsiens, Kit,” sê sy saggies. Loop net weg, dink sy. Draai jou rug op hom, moenie omkyk nie, Lot se vrou het in ’n soutpilaar verander …

“Deborah!” Kit se wanhopige kreet laat haar vassteek kort voordat sy die deur bereik. Toe sy omdraai, is Kit reeds orent. Met lang treë bereik hy haar en neem haar hande in syne. “Deborah, kyk na my! Wat de duiwel maak dit saak! Trou met my! Ek is bereid om die kind ook te neem, dit ’n huis te gee … Ons kan weggaan, ek het wel nog een groot transaksie om af te handel, maar dit sal nie meer lank duur nie. Dagvaar Mannheim vir ’n egskeiding – my prokureur sal môre die hele ding aan die gang sit! Komaan, Deborah, wil jy dat so iets vir die res van ons lewe tussen ons staan?”

“Dit sal in elk geval vir die res van ons lewe tussen ons wees, Kit, verstaan jy dit nie? Jy wil kinders hê, kinders van jou eie. Waar gaan hierdie kind van Karl inpas?”

“Hy is joune ook,” mompel hy skor. “Joune, alles wat jy is, wat joune is, sal ek eer en respekteer. My liefste Deborah, asseblief …”

“Moet dit nie moeiliker maak nie! Jou prokureur kan ’n siviele egskeidingsgeding aan die gang sit, maar die kerk, jóú kerk, sal dit nooit aanvaar nie, ek het dit reeds aan jou gesê. Dit was daardie dag by Onderkopjes vir jou van groot belang. Jy wil stabiliteit hê, respek van die gemeenskap vir jou en jou kinders … dis wat jy gesê het. Om jou daarvan te beroof en jou van jou geloof te vervreem, en daarby nog op te saal met ’n kind waarvoor jy niks voel nie … Dis te swaar ’n las op enige verhouding. Dit sal nie uitwerk nie.”

Kit word verwonderd bewus van ’n ou wysheid wat Deborah uitstraal. Dis asof sy blonde meisiekind hom in haar lewenservaring verbygesteek het. Sy maak haar retikule oop en neem ’n koevert daaruit.

“Ek het amper vergeet hiervan,” sê sy stil. “Dis die oordragkontrak van jou grond, Kit. Neem dit …”

“Nee!” Hy vat die kontrak en haar handsak by haar, maak die handsak oop en sit die kontrak weer daarin terug. “Onderkopjes is joune! Ek het dit aan jou geskenk. Noem dit ’n soort huweliksgeskenk,” poog hy met sy ou sardoniese glimlag, maar pyn keep diep lyne langs sy mond.

“Kit, dis nie reg nie, dit hoort nie –”

“Hoekom nie? Dit was mý grond waarmee ek kon maak wat ek wil. Op die oomblik wil ek dink dat jy … dat jy eendag daarop sal woon, op die grond wat myne was, óns grond, iets wat nie aan die Mannheims behoort nie!”

Hy kyk haar in magtelose frustrasie aan, dan kry die versoeking die oorhand en hy trek haar teen hom vas. Hy vou sy arms om haar asof hy haar nooit weer wil vrylaat nie en sy mond sluit honger oor hare. Sy voel sy begeerte aan, en haar weerstand verkrummel, sy koester die hardheid van sy liggaam teen haar eie. Sy hande vind die opening agter die los boesel en sluit om haar heupe, dan haar boude. Hy kreun sag en trek haar nog digter teen hom aan.

“Bly! Bly, Deborah!” pleit hy saggies voordat sy mond dwingend besit neem van hare. Hy voel hoe haar liggaam begin ontspan, hoe haar borste teen sy borskas druk. Sy regterhand streel oor haar gespanne rug, dan vind sy vingers die boonste knopie van haar uitrusting. Die eerste knopie, dan ’n volgende …

“Kit, moenie!” In een onbewaakte oomblik het sy sy arms ontglip, staan sy teenoor hom, paniekerig soos ’n bok wat vasgekeer is deur ’n jagter.

“Waarom nie, my meisiekind? Waarom verloën jy ons?” Hy kom versigtig nader, sy gee nie pad nie, en hy sien dat ’n siddering deur haar trek toe hy sy hande op haar skouers plaas.

“Deborah?” fluister hy en kyk haar ondersoekend aan, maar sy knyp haar oë toe. ’n Vreemde huilgeluid skeur uit haar binneste los, en dít ontstel hom meer as enigiets anders.

“Asseblief, Kit, moet my nie verder in die versoeking stel nie,” fluister sy. Traag laat hy sy hande van haar skouers af val. Hy kyk haar hulpeloos aan.

“Ek is jammer, Kit,” sê sy oplaas.

“Jammer? Jammer waaroor?” Sy stem is skor en skielik vyandig. Hy kyk haar in stilte aan, dan krul sy mond in die ou glimlag, maar die kurwe van die regtermondhoek neem ’n bitter loop.

“Miskien is jy reg, miskien sal dit beter wees dat jy nou gaan, madame.” Hy plaas sy hande agter sy rug, draai weg en loop na die balkonvenster waar hy met sy rug na haar gaan staan.

Deborah maak van die kans gebruik om die knopies wat hy losgemaak het weer vas te knoop, maar in haar haas is haar hande lomp en dom. Toe sy klaar is, drink haar oë vir oulaas die forse gestalte voor die venster in, nou donker afgeëts in die laatmiddaglig. Kit se lyftaal is duidelik, sy is nie meer welkom nie. Stil neem sy haar handsak. Sy verlaat die kantoor geluidloos.

Kit draai om en kyk wrewelig na die deur waardeur sy pas uit is, asof dit skuld het aan haar verraad teenoor hom en ook teenoor haarself. Maar hy moet dit aan homself erken, sy aandeel was van meet af aan groter. Hy is die oorsaak van alles wat skeefgeloop het. Tog! Die vloeksel van ’n Mannheim het dit terdeë uitgebuit. Hy dink nou met spyt aan die kans wat hy verspeel het om jong Mannheim bokveld toe te stuur. Die keer toe die klein strontkop, so besope soos ’n drostersoldaat, hom tot ’n tweegeveg uitgedaag het.

Diep ingedagte loop Kit na die deur waardeur Deborah nou vir goed uit sy lewe verdwyn het. Hy is oortuig daarvan dat Mannheim hom op haar afgedwing het. Hy wens hy kon op hierdie oomblik sy hande op daardie misgeboorte lê … Tog, sou hy werklik in staat wees om Karl Mannheim koelbloedig dood te maak?

Hy onthou nou hoe hy en Harrison mekaar ná tien jaar aan boord van die Rheinländer vir die eerste keer gekonfronteer het. Harrison het hom misreken met die bom wat hy geplant het op die skip se stoomketel, en gruwelik verbrand. Dit was duidelik dat hy nie meer lank gehad het om te leef nie, tog kon Kit hom nie in die brandende ruim agterlaat nie. Hoekom nie? Waarom het hy sy gehate vyand teen wil en dank boontoe gesleep? Indien hy Harrison aan sy lot oorgelaat het en dadelik die skip verlaat het, sou hy self ongedeerd daarvan afgekom het. Sake kon so dramaties anders verloop het.

Onverwags onthou hy iets uit sy kinderjare. ’n Geveg van lank gelede, toe hy so elf jaar oud was. Sy opponent, die gevreesde klasboelie Ian O’Sheaw, was vier jaar ouer as Kit, en veel groter en sterker.

Kit het geweet sy kanse om te wen is skraal, maar hy kon nie uit die situasie kom sonder om sy eie eer en die respek van sy makkers op die spel te plaas nie. Hy het O’Sheaw se uitdaging aanvaar, maar sy brein was flink besig om planne te beraam.

O’Sheaw het Kit sommer gou bygekom met ’n venynige hou teen die bors. Dit het Kit laat terugsteier. Maar hy was kleiner en vinniger en het nou buite bereik van die boelie se lang arms gebly, op die uitkyk vir die geleentheid om na genoeg aan sy opponent se lyf te kom.

O’Sheaw het sy humeur begin verloor en Kit het sy kans blitsvinnig uitgebuit. Hy het ’n geweldige hou in O’Sheaw se maag geplant en toe sy knie met mening tussen die boelie se bene opgeruk. O’Sheaw het van pyn gegil en dubbel gevou. Kit se benerige vuis het sy opponent op die kakebeen onder die oor getref. Nog ’n hou het op die boelie se neus en mond geland en bloed getrek, maar dit was die derde hou op die strottehoof wat O’Sheaw op sy knieë gedwing het. Kit onthou die insident nou met ’n gevoel van skaamte. Die pyn en verbystering in O’Sheaw se oë. Hy onthou hy was intens bewus van sy opponent se vernedering en fisieke pyn.

Om hom het sy makkers hom juigend gelukgewens. Maar sy oë was gerig op die boelie wat half dronkerig ’n koers iewers heen ingeslaan het. Kit het hom losgeruk van sy klasmaats en agter die groter seun aangehardloop. “O’Sheaw,” het hy uitgeroep. “Wag! Ek is jammer.” Ian het vinniger begin hardloop. Agter hulle het die ander seuns spottend gejil. Hulle het gevolg, want miskien kom daar nog ’n bakleiery.

Kit was vinniger as O’Sheaw. Hy het hom ingehaal, maar moes toe verleë terugtree. Ian se gesig was nat van trane en besmeer met bloed en mukus. Kit wou sy oorwinning ongeldig verklaar omdat hy vuil gespeel het, maar sy woorde het op sy lippe gestol. Die openlike haat waarmee O’Sheaw hom aangegluur het, was die laaste flenter selfrespek wat hy oorgehad het. Kit het onmiddellik gesnap dat enige simpatie Ian se vernedering net sou vererger. Hy het woordeloos omgedraai en teruggeloop na sy makkers.

Waarom dink hy nou daaraan, aan iets so ver terug in sy verlede? Skielik weet hy hoekom. Dit is hoe hý nou voel. Hy proe vandag sy eie medisyne. Verduiwels! Watter prys om te betaal vir daardie nag van besopenheid. Net soos ’n O’Sheaw is hy ook onkant gevang en verslaan. Karl Mannheim het vuil gespeel en gewen.

“Gek! Gek wat jy is …” sis Kit teenoor homself. Hy was so oorbluf deur die nuus dat sy swanger is dat hy nie sy kop gebruik het nie. Hy het haar laat gaan! Hy moes haar nie toegelaat het om ’n voet uit die vertrek te sit tot hy haar na sy kant oorgehaal het nie!

Kit storm verby ’n verbaasde Rosenberg, by die drie stelle trappe af en verby die verstomde deurwag, wat die gebou se deure net betyds voor hom oopswaai. Hy móét haar inhaal. Sy kan nie te ver weg wees nie!

Buite bly Kit ’n oomblik staan om sy omgewing te bespied, dan sien hy haar waar sy aanloop na die staanplek van die huurrytuie buite die Kettings. Hy laat nie op hom wag nie en baan vir hom ’n pad tussen die voetgangers op die besige sypaadjie deur. Stadig maar seker haal hy haar in. Hy bereik haar kort voor sy die dwarsstraat kan oorsteek.

“Deborah!” Hy swaai haar om.

Deborah kyk hom verskrik aan. Só het sy hom nog nooit gesien nie. Sy gesig is vertrek van spanning en sy mond ’n dun, harde lyn.

Mense stroom verby hulle – makelaars met bolhoedjies, handelaars en kopers in allerlei uitrustings. Dis spitstyd, want die dag se bedrywighede op die aandelemark tussen die Kettings is kort gelede afgehandel. Nóg Kit nóg Deborah is enigsins bewus van wat om hulle aangaan.

Kit gryp Deborah se hande in ’n ystergreep vas. Hy is uitasem en sy stem klink ongewoon skor bo die rumoer uit. “Ek sal jou nie laat gaan nie! Deborah, toe ek in daardie helse tronk in Mosambiek was en ek nie geweet het of ek dit sou oorleef nie, het ek besef watter idioot ek was! In my gierigheid, my koppigheid, was die transaksie waaraan ek vier jaar van my lewe gewy het van allesoorheersende belang. Wat sou dit my gebaat het as ek daar in Forte Rosetta se kerker omgekom het? het ek myself afgevra. Al wat my toe aan die lewe gehou het was jy, die gedagte dat ek jou weer moes sien. Jy is en was die spilpunt van alles wat vir my sinvol is. Ek het besef dat die liefde wat tussen my en jou gebeur het die enigste en grootste skat is wat ’n man voor kan vra, en dit het ek in gevaar gestel!”

Hy lig haar hande en laat sy voorkop soos in ’n gebed teen haar kneukels rus. ’n Lang ruk praat hy nie, maar uiteindelik lig hy sy kop. “Ek het pas besef dat ek amper dieselfde fout begaan het!” roep hy uit en kyk dankbaar na haar. “Ek en jy kan gelukkig wees in ’n hartbeeshuis, selfs ’n hut, sou dit daarop aankom. Solank ons mekaar het.”

Debora bly stil, vreemd passief. Hy gryp haar skouers vas en skud haar liggies in sy opgewondenheid.

“Wat ek eintlik aan jou probeer sê, is dat daar geen verdomde transaksie meer is wat my sal terughou nie. Na die duiwel daarmee! Ek is bereid om álles, nóú, op hierdie oomblik agter te laat. En jy sal nie in ’n hut hoef te leef nie, my lief. Ons het meer as genoeg om oor te begin, en goed oor te begin iewers anders!”

Hy lag skielik uitbundig, sy donker oë skitter van opwinding. “Jy hoef nie eens terug te gaan na die Mannheims se mislike grafkelder nie, my liefste. Ons sal nou koop wat jy nodig het, daarna vertrek ons, so gou ek ’n huurkoets gereël kan kry. Die modernste en vinnigste wat Hay’s aan ons kan verskaf!”

Deborah maak haar skouers saggies los uit sy hande se warm greep. ’n Oomblik het sy haar die weelde toegelaat om sy voorstel te oorweeg, om in haar verbeelding saam met hierdie man wat sy bo alles liefhet in die niet te verdwyn, na ’n plek waar hulle mekaar onbeskroomd kan liefhê. Soos altyd het haar verstand egter die oorhand gekry, wou dit haar nie toelaat om die droom te lank te koester nie. Kit se impulsiewe Ierse streep maak hom blind vir die realiteit, vir die verantwoordelikhede wat op haar rus, besef sy met ’n suwwe hartseer.

“Waarheen? ’n Huurkoets waarheen, Kit?” vra sy saggies, om tyd te wen. Sou hy dan nie besef dat geen koets, hoe modern ook al, hulle ooit sou kon wegdra van dit wat gebeur het, van dit waaraan hulle gebonde is nie?

In sy opgewondenheid bespeur Kit nie die somberheid in haar toon nie. “Ons sal voor sononder kan vertrek en deur die nag reis, want dis genadiglik volmaan vanaand. Met twee spanne drywers kan ons teen môremiddag die bergpas haal, net voor mens afdaal na die Natalse Middellande.”

Hy lag ingenome. “Ek het ’n plasie daar, naby die Van Reenen-poshalte, ek het dit kort terug aangeskaf met die oog op stoetperde. Ek en jy sal daar kan bly. Bergwêreld, mooi, selfs mooier as jou kontrei se berge, al sou jy met my daaroor stry … Maar as dit te onherbergsaam vir jou is, kan ons net daar uitrus vir ’n week of twee, tot verhaal kom. Daarna is dit net ’n skamele vier, miskien vyf dae na Durban se hawe toe. Van daar kan ons ’n passasiersboot haal na waar –”

“’n Bergplaas!”

Die openlike hunkering in haar gesig verbly sy hart. Hy knik, soen haar hand en praat verder, maar sy woorde word verswelg in ’n skielike oorverdowende geraas.

“Read all about it! Read all about it!” gil ’n twintigtal koerantknapies dit op die trap van die Rand Herald se gebou uit, waar hulle met hul swaar stapels koerante afgestrompel kom.

“Orion Mine closure! Orion Mine closure!” verkondig een van die seuns luidkeels. Sy jong kollegas beaam die sensasionele nuus in ’n koor.

Deborah moet hard praat om haarself hoorbaar te maak. “Weghardloop? Is dit wat jy voorstel, Kit Malloy?”

“Ja! As dit die enigste manier is waarop ek jou kan behou!” roep Kit terug. “Ek gee nie ’n duiwel om wat jy dit noem nie, laat Johannesburg en sy mense in hul moer vlieg! Ek gee ook nie om waarheen ons gaan nie! Solank jy net by my is, my liefste …”

“A thousand miners out of work … buy my paper, Si-rrr! Read all about it!” neul ’n vuilgesigseuntjie om hulle ore.

Kit swets onderlangs. Hy’t lus en gee die kind ’n oorveeg, hy was so na daaraan om haar te oortuig! Hy bedwing homself en steek sy hand in sy sak om dan met ’n muntstuk vorendag te kom, wat hy aan die kind oorhandig. “Hier, hou die kleingeld, maar skoert, kêreltjie!”

Die kind druk haastig die koerant in Deborah se hande, grinnik bly en laat spaander. “Read all about it …” klink sy skril stemmetjie straataf, en oomblikke later verstil dit skielik om hulle. Dis asof die straat ná hierdie laaste aanslag plotseling verlate geraak het sonder dat hulle dit agtergekom het. Die Kettings het leeggeloop, net enkele geselsende makelaars staan nog op die aandelebeurs se plein en beraadslaag.

Kit word toenemend bewus van die ongemak wat skielik tussen hulle hang. “Deborah?” vra hy saggies, sy oë angstig op haar uitdrukkinglose gesig. “Sal ons gaan? Ons reëlings begin tref voordat die winkels sluit?”

Sy bly hom ’n wyle ’n antwoord verskuldig, skud dan haar kop. “Nee, Kit, wonderlik soos jy dit laat klink, is dit nie moontlik nie. Hier …” Sy gee die koerant aan hom. “Al neem jy my na die Suidpool of die Noordpool, kan dit geen verskil maak aan wat vir my, vir ons almal, voorlê nie.”

Vlietend dink sy aan haar eie desperate poging om ’n uitweg te vind, toe sy Ma-Fytjie probeer ompraat het om die kind af te dryf. Dít kan sy nooit aan hom noem nie, dis iets waarvoor sy haar nou skaam. Sy kyk hom vol in die oë.

“Ek is nie vry soos jy nie, Kit. Behalwe Karl en die kind is daar die ander, Heinie en Ma-Fytjie. Hoe moet ek met my gewete saamleef as ek hulle haweloos agterlaat en van die aardbol verdwyn saam met jou? Dink jy vir een oomblik dat iemand anders in hierdie hartelose plek na hulle sal omsien? Daar is ook die –”

“Moenie redes, verskonings soek nie!” keer hy haar, nou ergerlik. “Ek sal voorsorg tref. Ons kan hulle later na ons laat kom. Ek het genoeg invloed om –”

“Ek weet, maar nie genoeg om al die probleme ongedaan te maak nie. Weghardloop was nog nooit ’n uitweg nie, altans nie vir my nie, en soos ek jou ken ook nie vir jou nie …”

Sy lê haar vinger teen sy mond toe hy weer wil begin praat, bewus van die knop wat weer in haar keel saamtrek.

“Die enkele kleinood wat ek besit en wat net myne is, is die liefde wat ek vir jou voel, Kit. Ten spyte van wat gebeur het, is dít nog net soos dit tevore was. Dit moet so bly, dit mag nie besoedel word nie.”

Kit merk die vogtigheid in haar oë.

“Ek sal dit in my hart en my siel dra vir altyd, dit sal wees soos ’n roos wat nooit verwelk nie en nooit sy geur verloor nie.”

Hulle kyk mekaar in stilte aan.

In sy magteloosheid wens Kit hy kan haar oor sy skouer gooi en haar wegdra en iewers gevange hou, tot hy haar koppigheid oorwin het. Maar met ’n sinkende hart weet hy dat hy dié rondte verloor het, dat sy plan ’n dwase ontvlugting is. Weet hy ook dat wat sy gesê het, nie summier verwerp kan word nie. Hulle is in ’n hoek gekeer deur omstandighede, en ’n vrou soos Deborah sal nie haar rug keer op verantwoordelikheid nie. Is dit nie juis een van die redes waarom hy haar van meet af aan so bewonder het nie?

“Ek moet gaan, dit word laat,” sê Deborah en poog om so gewoon moontlik te klink. Sy is pynlik bewus van die finaliteit van haar besluit, weet intuïtief dat daar ná vanmiddag vir haar geen omdraaikans gegun sal word nie.

Kit knik, verberg die teleurstelling en pyn in sy hart. “Goed, ek sal vir eers jou gevoelens respekteer, miskien het jy meer tyd nodig. Maar ek is nie bereid om op te gee nie, Deborah, so maklik is dit nie. Jy beteken té veel vir my!” Hy glimlag skeef. “Skryf dit toe aan ’n immergroen optimisme! So grap almal mos maar oor ons spul Iere …”

Onverwags neem hy weer haar hand en buig daaroor. Sy lippe rus ’n paar sekondes warm en begerig teen haar vel. “Totsiens, my geliefde madame … Net ’n laaste kwessie, voordat ek jou vir eers laat gaan!”

“Wat is dit?” vra Deborah stug, nou naby breekpunt.

“Ek sal altyd hier wees as jy my nodig het, my liefling Deborah, belowe my om dit nooit te vergeet nie.”

Die goudkewers

Подняться наверх