Читать книгу Staan in die algemeen nader aan vensters - Loftus Marais - Страница 14
Ode aan Sarah se voete
Оглавлениеo, sarah se voete dirigeer op die maat van mozart
soos sy sit op die muur van die opelugteater
hierdie voete, effe stink, dui alles in kaalte aan
die tone krul en strek, die brug lig en sak
en die pianis moet volg, dan sag, dan hard
selfs, o sarah, gee jy ritme aan die somer se krieke
ook die aandverkeer en die vliegtuie oorhoofs
kyk, dit maak sin, beslis, dat daar op die maan
voetspore is, en dat komponiste heroïese musieke
oor achilles en oedipus tot jou eer sal komponeer
my sarah, gaan toer die sale van europa met jou voete
die duurste pedikure vir jou, asook refleksioloë
in manelpakke, in die agtergrondskemer
sonates oor die naelmaantjies van jou tone
en ’n virtuoos bloos by ’n rokflits van jou enkels
nee, sarah, nee wag, dit alles is te ver, te vol fantasie
jou voete hier voor my weet van vratte en skimmel
en die geklop van stap, tog steeds dui hulle aan
hoe die note die aandlug moet tint, jou voete gebied:
daar is iets stewiger en meer ritmies as musiek