Читать книгу Staan in die algemeen nader aan vensters - Loftus Marais - Страница 7
Elementêre fisika
Оглавлениеmy broer skryf nie gedigte nie
hy is ’n fisikus
sy skryfblok is vol somme wat hiërogliewe
of abstrakte miró-krabbels vir my is
daar’s een wat onsekerheid presies bepaal:
en schrödinger het volgens hom ’n gemmerkat
ongesteweld en noodlottig in algebra vertaal
tog het sy vergelykings ’n danser se balans
en saans aan die werk
weet hy die lig van rekenaars en leeslampe
is nie noodwendig onromanties nie
aldus redeneer my broer die fisikus:
die heelal is: materie wat stadig en volgens reëls
losfok
ons albei bemoei ons met die ware onsigbare
soos gravitasiekrag en nyd
hy lag as ek sê die sterre kan konfetti
planete in wentelbane hoelahoep
maar ons al twee vermoed entropie is ’n soort verdriet
ek stipuleer dit
hy impliseer dit
koelbloedig eksplisiet