Читать книгу Staan in die algemeen nader aan vensters - Loftus Marais - Страница 15
Die vroegsomerson as skilder
Оглавлениеmevrou die kurator, u is verkeerd – die son dra wel ’n baret
hy haal dit vroegoggend onder die einder af
ek weet u dink ek is laf, maar aanskou nou sy werk, mevrou:
die enkoustiek van rivierkartels, die kubisme van wolkekrabbers
akwarelle op die bodems van fonteine, die sabelpelskwas
se fyn rand van die duin
soos ’n vrou se dy, ’n naakstudie van die seisoen, mevrou
(ek bly eerder stil oor die versteekte nat klowe se ruigtes)
en jammer, maar as kurator het u geen monopolie, sien:
die lewe raam homself, hy is een groot galery:
kyk na hom deur deure, ruite, die panoramiese vlakke
van telefoonpale en hulle drade, mevrou
en die son, o, die son ken kleur, kyk:
die melancholie van roes en eikehout, die ouderdom van groenspaan
die presiese ligpers van seringe se bloeisels, die taai amber
van sekere skemers
en mevrou, die son is veelsydig:
die abstrakte ekspressionisme van groot swart voëls deur die lug
die subtiele minimalisme van daardie einste lug sekondes later
mevrou die kurator, u vind my argumente sonder krag
maar ek sê weer, die son is ’n skilder, u kan maar lag
kyk tog vanaand – sy palet gaan saam met hom onder
en hy los ons kleurloos in die donker van die nag