Читать книгу Kaapstad Karma-Polisie - Louis de Villiers - Страница 10

8

Оглавление

“OK, maar as jy nié nog ’n dop wil hê nie, bliksem – jissie, man, ons verdien om fees te vier! Dôner, man, daai girl dáár, sy’t my dan na jou gevra …”

“Ek is seker dis omdat sy al my mistieke eienskappe gewaar het,” glimlag Thando Mkhaliphi. “Julle raas almal soos al hierdie ander poepholle, ek bly stil en nou lyk ek interessant … Boonop, hierdie dreads van my …”

Die voorryman trek sy skouers met gemaakte windgatgeit op, betrap homself dat hy wel so effens meerderwaardig voel in hierdie luidrugtige kroeg in die middel van Brisbane.

Donker gepoleerde houtafskortings en tafels, spesiale aanbiedinge op ’n swartbord, groen waslappe met flou Ierse gesegdes in die panele gedrukspyker, en om jou darem te herinner jy is in Australië: ’n rockerige weergawe van ’n Abba-liedjie deur die vier geesdriftige amateurs agter die mikrofone in die hoek.

Red Bull-en-vodka is die plek se Sunday Special en dit raak ’n bietjie benoud rondom hom. In ’n gangetjie begin iemand ’n kotsplas skoonmaak, by die deur sleep twee groot Suidseeeilandmanne die braker sypaadjie toe.

“Ja, broer, OK,” sê Harry Kowalski, “jissie, moet tog nie so … Kyk hoe kyk daai poephol vir ons – hierdie Australiese kroegmanne is selfs groter etters as hul skeidsregters. Met die kroegmanne kan jy ook nie eens appelleer nie. So lýk ten minste of jy jouself geniet. Glimlag! Dis Brisbane en ons het die Reds gister gefokken verneder! En ons speel dan eers weer Sondag in Perth!”

“Ontspan, Harry! Hel. Ons het gister ons derde uit vier … jy weet … maak dit rêrig saak dat ek nou ’n glas water wil drink?”

“My broer, snaakse ding vir my. Ek het ’n vraag vir jou. Rugbyvraag. Ja, ja, ja, rugbyvraag. Wag, wag, wa-a-ag, gee kans! Lááste rugbyvraag. Ek het dan altyd vóór vandag gedink hierdie Tom Lewis van die Reds is die heel kákste Aussie-loskopstut … ?”

“Tom Lewis van die Reds is inderdaad die heel kakste Aussie-loskopstut.”

“Nou hoekom het jy dan so ge- … ge- …?”

“Ge- … gewat?”

“Nie-e-e gesúkkel-sukkel nie, jy weet, maar jy was nie jouself nie … Die skrums was OK, jy’t ’n hele paar tackles gemaak …”

“Ja?”

“Maar nooit, broer … ek weet nie …”

“Wat nie?”

“Ma-a-an. Jy we-e-et. Ek sou gedag het Tom Lewis sou na ’n halfuur van die veld moes …”

Thando glimlag vir sy spanmaat: “Hey, kan jy jou bek hou, Harry?”

“Kak vraag, broer, kak vraag! Spoeg!”

“Ons sou mos in elk geval vandag wen, ons almal weet mos nou al min of meer heelweek ons sou áltyd daai vyf punte kry …?”

“Shit, natuurlik. Al van ons die Blues so getrap het in Auckland, ja, al van Johnson en Ducasso Dinsdag onttrek het … So?”

“So? So daar was toe nou vandag vir my die opsie beskikbaar om Tom Lewis reguit binne-in die Wallaby-toetsspan te speel. Ek het hom orent gehou toe ek ná vyftien minute besef hy vou. En as jy dit ooit herhaal …”

“Dan wat?”

“Dan vertel ek vir Anne van daai …”

“OK, OK, OK. Jy weet, Thando, jy moes eintlik by die blêrrie ou Bulls gewees het. Hulle is nét so ’n ou klomp koeke soos jy. Té ordentlik. Jou tjom Chippa, nou ja … hoe de moer hou hy dit daar by hulle uit? Hý, klink dit dan nou weer vir my, hoort hier by ons.”

“Ag, Harry. Chippa makeer ewe min veertien ouens om saam met hom te gaan jôl as wat ek veertien ouens makeer om my nou hotel toe te vergesel. Chippa sôre vir homself. Chippa is cool.”

“Ek vermoed al lankal so. Dis jóú waaroor ek my bekommer, Regverdige Rastaman. Jy hét die haarstyl, origens kon jy my ouma gewees het. Kom nou, man, kom ons gaan ’n bietjie Valley toe met hierdie mense … die blondie kom saam as die rooikop saamkom en die rooikop kom saam as jy …”

“Here, Harry. Van het my nou net weer vertel ek moet saam met hom South Bank toe. Ek wil huis toe bel, bietjie met daai TV-meisie praat. Ek is moeg en ek het vyf drankies meer in as gewoonlik.”

“Hey, Thando, jy hét net vyf drankies in, broer.”

“Jy sien.”

“Kom nou, man, die Valley is meer jou scene, man, dis waar Brisbane se cool mense …”

“Brisbane se cool mense?”

“Jy weet wat ek bedoel …”

Thando Mkhaliphi lag ’n skoot uit sy maag uit, plant ’n lug-soen iewers bo die kroon van sy hardegat skrumskakel en blaas half oordrewe kussies na die vroue teen die kroeg met wie hy vroeër gekuier het.

“Harry, ek belowe jou, by die huis …”

“Nee, jou moer. Jy’s ’n kakhuis,” sê Harry voor hy lag, ’n vuis met Thando stamp en homself by die kroeg se agterste uitgang by die Haaie se ander jôl-honger jongelinge gaan voeg. Edward le Roux en Chunky Dlazo staan daar en maak sulke ooparm vraende gebare.

“Thando! Ek het sulke yslike stories van jou gehoor! En dit was alles stront!” lag Chunky so half aspris vir hom.

“Jip, my ou. Ek gaan slaap vroeg. Dis nou-nou Maandagoggend,” beduie Thando met albei duime totsiens terug oor sy skouer.

Die vars lug van die rivier se kant af lawe hom as hy buite kom. Iewers vandaan ruik Thando ’n wenkie dagga, lag saggies daaroor en dink sjoe, dis ver na November; vat dan so ’n ekstra draai voor die Tuine verby voor hy in Georgestraat regs mik by Queens oor, weg van die rivier af, na die peperduur, generies gemarmerde hotel waar die Sharks die week in Brisbane gebly het.

Dis daardie tyd van die aand dat die Georgestraat-kroeë se vrotste klante hulself skielik op die sypaadjies beginne bevind.

Dit ís Queensland en Thando is nie totaal uit die veld geslaan wanneer ’n op die oog af papdronk oukêrel op ’n munisipale bank iets onvleiends oor sy velkleur sê toe hy verbyloop nie.

Hy gaan maar altyd eerder vir waardigheid wanneer hy die w-woord hier hoor, die k-bom by die huis, welwetend hoeveel beter hy opgevoed is as wie sy terggees ook al is en welwetend hóé maklik hy wat Thando Mkhaliphi is die paslike snotklap sou kon toedien.

Dis immers waarom hy dit nie doen nie.

Die meeste mense hier in Brisbane is in elk geval vriendelik genoeg, plat op die aarde … miskien moet ’n man tóg so ’n ou ’n snotklap gee sodat hy dit nie wéér doen nie? Daai vorige keer in Umhlanga toe ’n ou hom gekaffer het, was dit tog baie lekkerder om uit te deel as wat dit sleg was?

Aaag, nee wat.

Iets vlieg verby sy gesig voor hy die knal hoor; iets maak ’n ronde gaatjie in die staalplaat wat die busroetes verduidelik.

Thando swaai om en ’n oomblik lank kan hy sweer hy sien uit die hoek van sy oog so ’n klein blas mannetjie, rooierige hare, regmaak … kan hy sweer iets blink in die nag … dan voel hy ’n steekpyn in sy skouer, dan brand dit iets allerverskrikliks en hy hoor nog ’n knal.

Hy voel aan sy skouer, voel die nattigheid, kyk boontoe en sien nie ’n wolkie nie.

Thando lek aan sy vingers, proe die water is sout en het so ’n metaal-ondertoon. Thando sien die water is donkerrooi.

Dis nie water nie.

Hy duik net betyds, val plat om te hoor hoe iets oor hom fluit.

Iewers agter hom skreeu iemand, ’n kar se bande raas en dan jaag dit weg.

Die oomblik nadat hy klaar geskrik het, begin klop die wond in die vleis bo sy sleutelbeen, raak dit dôners seer. Hy kyk daarna, ril, sien selfone flits, stap so half hinkepink nader.

“Bliksem, jy bloei!” sê iemand. “Sit net daar!”

Thando Mkhaliphi is slim genoeg om te besef dat, watter laster hy ook al voorheen oor Queenslanders moes aanhoor, daar na alle waarskynlikheid bitter min tot g’n torre in Brisbane skuil wat hom werklik sou wou probeer dóódmaak oor sy velkleur en sy haarstyl nie.

Oor sy rugby? Nottenwiel – dié mense verloor deesdae belangstelling in die Reds. Só geesdriftig ondersteun hulle nie meer in Queensland die vyftienmanspel nie. Hy wat Thando is, was maar net ongelukkig om iewers in die pad te wees.

“Watse kroeg is dit hierdie?” vra Thando en syg pootuit in ’n ysterstoel met genadiglik sagte kussings neer. “Wat de dôner gaan hier aan? Wie skiet op wie hierso?”

“Maat, sit jy nou net daar doodstil dat ons jou kan help,” sê ’n ou met ’n voorskoot. “Maar ek wil nou nie skinder nie – ek kon sweer dis op jóú wat hulle geskiet het.”

Kaapstad Karma-Polisie

Подняться наверх