Читать книгу Kaapstad Karma-Polisie - Louis de Villiers - Страница 9
7
ОглавлениеDie atmosfeer in die huurkar raak des te meer somber toe Mike Bonavita weier om stil te hou sodat Joey Bonavita gou-gou ’n dronk tiener in Cavill Avenue kan gaan pakgee. Die kind se sonde was om ’n oomblik effentjies in die pad te kom voor sy maters hom kon help terugsteier op die sypaadjie.
Mike is kalm, maar erg de vieste in vir sy tweelingbroer wat ’n uur tevore hul week in Surfers Paradise aan die Gold Coast van Queensland met drie dae kortgeknip het toe Joey ’n lekker sjampanje-kokaïen-skemer gekroon het deur ’n man by ’n vyfdeverdieping-balkon af te smyt.
Gelukkig was die swembad reg onder die balkon, maar dis deel van die rede hoekom Joey nou so omgekrap is.
Mike weet dat die moeilike klein rooikop langs hom, wat ’n hele twee uur ná hom uit hul oorlede moeder gebore is, dié bui heelpad langs die M1 Pacific na die lughawe buite Brizza sal volhou; te oordeel na ervaring … watwo Brisbane-lughawe, Joey kan de moer in bly al die pad tot in Pappa se Melbourne-kantoor …
Om die waarheid te sê, dink Mike, Joey is amper altyd de moer in, buiten daai tye soos pas nadat hy iemand iewers lelik gedôner het.
’n Oomblik lank oorweeg Mike om om te draai sodat Joey tog maar wel die dronk tiener kan loop uitsorteer, kraak dan hul ou familiegrappie as hulle by die Queenslandse strandoord uitry grootpad toe verby die velkankerkliniek: “Jy seker jy was nie te lank in die son nie?”
Joey vloek binnensmonds, bly stil terwyl Mike met die verkeer terug stad toe worstel deur die voorstede wat als oerwoud was toe hulle as kinders hierheen begin kom het toe hul pa ’n paar eiendomme langs al hierdie myle en myle leë goue strand kom koop het.
Hy praat eers weer ’n halfuur later, toe hy die Hungry Jackteken van ’n vulstasie in die verte sien skyn. “Stop hier,” sê Joey.
“Luister, Boetie,” sê Mike en vat die afdraai. Dalk makeer Joey iets in sy maag. “Jy’t g’n rede om so suur te wees nie. As daar môre weer in een of ander koerant oor al jou ewige kak geskrywe word, praat hulle weer van die ‘berugte Bonavita-broers’. Nie oor Joey Bonavita, immerse aartskont, nie.”
“Fuh juh,” brom Joey.
Mike gaan saam met sy broer die padwinkel binne voordat dié weer amok maak as iemand hom dalk per ongeluk skielik skeef aankyk, of as Joey dalk die idéé kry dat iemand hom dalk per ongeluk skeef aangekyk het.
Terug in die kar hou die hamburger Joey so ’n stuk of vyf minute besig, maar as hy die sportblaaie van die Sunday Courier-Mail oopmaak, spoeg hy só dat Mike ’n klam stukkie kropslaai uit sy oor en krummels vleis en tamatie van die voorruit se binnekant moet vee voor hy weer behoorlik op die M1 Pacific kan konsentreer.
“Die f … die f … die f-f …” Joey is so kwaad dat sy seldsame geleentheidshakkel behoorlik deurslaan.
“Haal ’n slag asem, Boetie.”
Joey skud die koerant en beduie na ’n foto. Mike hou sy oë op die pad, kyk dan naderhand skalks links en sien ’n foto van ’n groot swart ou met dreadlocks in ’n swart-en-grys sporttrui.
“Daai fokken S … s … s … daai fokken Saffa!”
“Waai fokken Saffa? Daar’s vyftig miljoen van die fokken fokkers, Joey.” Soms moet jy ook maar net skouers optrek en lag vir Joey.
“N-n-neee-e … Eu-uuu … g-g-g-gène … R-r-rr …!”
“Wat het arme ou Eugène Rademeyer nou weer aangevang?”
Joey skud sy kop, vat nog ’n hap uit sy dubbel spek-en-kaas en beduie, kouend en slukkend voordat hy eindelik tot verhaal kom. “O-onthou jy d-daai vyftien miljoen dollar wat e-ek jou gesê het e-ek s-sou was?”
“Daai geld van laas Desember? Die opale vir die Chinese? My en jou vyftien miljoen dollar?”
Mike begin nou self ’n bietjie warm te word. Wat het hierdie mal bliksemse broer van hom nou weer …
Joey sit en staar by die voorste passasiersruit uit, skielik stom.
“Waar’s ons fokken vyftien miljoen?” raak Mike skielik driftig genoeg dat Joey hom ernstig opneem, iets wat so al om die ander jaar gebeur.
Joey stotter eensklaps erger as ooit. “Die ô … d-die ô-ô, d-d-d-die-ô-ô-ô …” en Mike besluit om dit maar vir later te los, wanneer hulle by ’n hotel ingeboek en Joey weer kalm is. Die verkeer Brisbane toe is erg genoeg vir sy senuwees aan die einde van die naweek, reken hy.
Nes Mike Brisbane se buitewyke binnery, sê Joey skielik: “Die All Blacks.”
“Die wat?”
“Die All Blacks.”
“Die all blacks? Swart mense? Waaroor prewel jy al weer, Boetie?”
Joey word nogmaals met stomheid geslaan, fok-fok-fok in sy gedagtes en Mike wag.
Die verkeerslig by die groot kruising van George en Queens vang hulle en hy staar na die rooi, wag vir die groen, sentreer homself en wens vir die soveelste keer dat Joey rustiger was.
Dan dink hy aan die ma wat hulle nooit geken het nie, kruis homself en maak vir die soveelste keer ’n belofte boontoe.
Daar’s ’n paar dosyn mense wat heen en weer stap in die tropiese nag, kelners wat al van die Queen Street Mall se rye restauranttafeltjies begin opslaan en binnetoe dra, tieners wat in winkelingange bo-op mekaar lê en slaap en iets of iemand, iewers, wat Joey se immer wakker ogies getref het.
“Joo-ee-y?” probeer hy weer. “Wat was daai van ons vyftien miljoen dollar?”
Maar sy broer luister nie.
“My goeie, goeie fok,” sê Joey. “Kan jy nou meer.” Hy klik die paneelkissie oop en haal die pistool uit. “Hier’s een van hulle dan nou j-juis!”
“Een van wie?”
Woede inhibeer nogmaals Joey se spraak: “D-die d-drie f-f-f … Mmm … Usketiers, f-f-ff … h-hou net gou stil …”
“Die lig is rooi, Joey, ons gaan nêrens nie. Wat wil jy nou met daai …”
Die eerste knal oordonder die laaste stukkie van Mike se vraag. Joey kry nog twee skote afgevuur voordat sy korrel skeefgetrek word deur sy tweelingbroer, wat die voorste passasiersruit opwen so gou as wat hy kan.
Voor die lig nog groen raak, skiet Mike blitsvinnig vorentoe.
Teen die tyd dat hy ’n sirene hoor, is dit in die verte, want hulle is al in die verte. Ver genoeg dat hy langs die rivier kan stilhou dat Joey eers die pistool daarin kan smyt.
Joey stry nog so ewe halfhartig voor hy dit doen. Dan lyk hy heel rustig in die passasiersitplek die res van die pad lughawe toe, sy lus vir chaos tydelik gestil.
Dalk is Pappa ook al gatvol van al sy streke, dink Mike hoopvol, dalk sal Pappa tog nou ’n skoot met Joey praat …