Читать книгу Kaapstad Karma-Polisie - Louis de Villiers - Страница 5
3
ОглавлениеWeet jy as die voorspelers grond toe gaan in ’n eersterangse rugbywedstryd en jy hulle nie meer van die kant af behoorlik van mekaar kan onderskei nie, bliksem hulle amper altyd daar iéwers onder vir mekaar, of probeer ten minste bliksem?
Waarskynlik nie.
Jy dink waarskynlik dis iets soos jou weeklikse gholfwedstryd met kontak en ’n moerse hoop geld, mededingendheid, lekker yskoue bier agterna …
Jy’t nie die vaagste benul nie.
Hulle moer mekaar daar onder in die duisternis, móér mekaar; verdien natúúrlik meer, op ’n slegter manier, as jou basies gemiddelde kinderdokter hiervoor ook, maar dan weer: Hulle verdien dit darem veel eerbaarder as jou basies gemiddelde aandelemakelaar of bankier, en hulle verdien nou weer veel minder as dié ook.
Kakker en ryker mense as kinderartse, beter en armer mense as aandelemakelaars of bankiers, dis beroepsrugbyspelers gemiddeld vir jou.
Ewenwel, hulle moer mekaar aanmekaar. Moet maar.
Hoe harder en fyner hulle mekaar moer, hoe sagter en groter die teddiebere wat hulle vir hul kinders kan bekostig.
As jy egter daai manne vra wát daar is van hul gemiddelde werk-Saterdag wat niemand anderkant die kantlyn ooit rêrig sal verstaan nie, grinnik die meeste van hulle en gee dieselfde antwoord.
Die moegheid.
Dis die eerste ding wat jy langs die kantlyn nie sommer kop of ooit sal kán kop nie.
Dôner, jy raak móég daar binne.
Verskriklik moeg.
Jy kan bulte uitdraf en jy kan roeimasjiene breek, maar jy’s nóóit rêrig heeltemal fiks genoeg vir tagtig minute se rugby saam met die groothonde nie, selfs al ís jy self ’n superfikse rugby-groothond.
Allan September is einste een van dié – ’n superfikse rugby-groothond – en hy staan, ná ’n uur teen die Bulls, op Nuweland se suidpawiljoen-kwartlyn, hande op sy knieë.
Allan probeer sy asem herwin.
Dis min of meer maak of breek hierso vandag, dis die gatkant van die Super14 en die Stormers loop op een of ander manier voor teen die Bulls op Nuweland. Maar daar is nog twintig minute speeltyd oor en die reën het weer opgehou.
Een of ander manier voor?
Dis grotendeels danksy Allan se skopskoen en een van sy kenmerkende onderskep-drieë, maar ’n belowende twaalfpunt-voorsprong met rustyd het intussen tot vier gekrimp en die Pretorianers het hul vertroue herwin, met ’n noordwester nou boonop ook nog in hul blaaie.
Aan die moegheid is Allan al op ’n manier gewoond, maar hy verwonder hom steeds dikwels aan hoe eensaam hy kan raak saam met veertien ouens wat sy vriende is en boonop min of meer luister na wat hy sê. Hoe eensaam hy kan raak tussen iets oor die veertigduisend mense wat almal duim vashou sy span …
Of dan, ook nie heeltemal veertigduisend nie, want jare lange gesukkel op die veld en middelmatige bemarking in die Kaap het reeds vir ’n stywe kwota manteldraaiers gesorg. Daar is deesdae ’n klomp Kapenaars wat vir die Bulls skree.
Staatsdienspakkette het boonop ’n hele tros Pretorianers hier laat beland waar hulle die plaaslike rugbyspan kan kom sit en uitjou en daar is, derhalwe, ’n goeie stuk of tienduisend hier wat ’n ander antwoord het op die grootste vraag in Suid-Afrikaanse provinsiale rugby: kies jy Allan-hulle of kies jy die Bulls?
Die kwessie kook weer ’n skoot op die pawiljoene oor wanneer die nuwe Stormers-losskakel die bal aanslaan weens een of twee blakend onkant losvoorspelers van die Pretorianers.
Die skeidsregter gee ’n skrum vir die besoekers.
Nuweland boe.
Ekskuus.
Nuweland BOOOOOOOOOOOOOOOOOOOOOOOOOOOOOOOOOOOOOOO!!!
Nuweland BOOOOOOOOOOOOOOOOOOOOOOOOOOOOOOOOOOOOOOO!!! BOOOOOOOOOOOOOOOOOOOOOOOOOO-OOOOOOOOOOOOOOOOOOOO-OOOOOO!!!
Jasper van Ellewee, die grasgroen jong Matie-losskakel, se skouers sak sigbaar.
Hy moes eintlik net vandag die atmosfeer op die reserwebank inasem, maar is gisteraand sewe-uur in die span opgeneem nadat Noel Barends tydens die gewone kapteinsoefening Vrydag sy dyspier gerek het met ’n flambojante skepskoppoging pale toe voordat hy behoorlik opgewarm het.
“Dis nie vir jou nie, Jasper,” loop Allan al paaiende nader, “dis die ref op wie hulle skree …”
“Nee, nee, ek weet,” antwoord Jasper, maar Allan besef die seun is koud tot op vriespunt en begin homself vet smeer vir die ergste.
Die arme entoesiastiese drommel wat daar iewers in die sement agter die stadion se klanktoerusting skuil, smeer hom ook vet vir die ergste, want hy begin een van die gevreesde CD’s met opgeneemde applous speel – synde die Super14 op die oomblik, is dit 1999-applous wat moet help.
Die stadion se klankstelsel kraak aamborstig en die louerige, blikkerige S-s-t-t-o-or-r-m-m-e-e-r-r-s-s begin maak die teenwoordige toeskouers se feitlik volslae stilte soveel meer van ’n vernedering.
Dieselfde arme drommel speel tydens die Curriebekerreeks ewe skaamteloos opgeneemde dreunsang uit die tagtigs. Sweerlik instruksies, dink Allan, is daar g’n skaamte in hierdie unie …
Allan hardloop na die pak voorspelers en begin die gepaste rararara-geluide maak, wel, die handjievol geluide wat ’n binne-senter dan nou ook vir ’n vaskopstut kan maak.
Komaan, manne, dis net óns, vergeet van ons unie … dis nét ons, dis onse Kaapstad … kry net vir ons daai bal, kry net vir ons daai bal en hou hom so ’n rukkie, vat hom twee, drie maal vorentoe … Ons sal verder sôre …
Ná die volgende skrum slinger Jasper die bal egter só belaglik ver voor hom neer dat Allan g’n ander keuse het as om krieketstyl te duik en vir sy kop te keer terwyl hy rol om die bal, so stadig as wat hy moontlik wettiglik kan, fetusstyl vir sy spanmaats aan te bied nie.
Daar is natuurlik geen manier om aan jou te verduidelik hoe dit is wanneer die Bulls jou probeer kéér om juis dit te doen nie. Allan September speel al teen ’n hele paar van dié kêrels vandat hy sewentien jaar oud is, teen een of twee van hulle selfs vyf jaar langer.
Dis sewe – en, in een of twee gevalle, twaalf – jaar later en die spul Bulle tref hom oudergewoonte soos ’n orkaan.
Hy het geweet wat kom, maar ’n oomblik lank het Allan g’n kans op asem nie, net hande oor die kop en tyd vir die sweem van ’n skietgebedjie.
Allan raak daarvan bewus dat sy slot Carlo de Wet, ’n tradisionele Stormers-slungel waaroor hulle die tradisionele grappies maak in Pretoria, moedig dog ondoeltreffend bo-oor hom probeer om die Bulls terug te dwing en die bal los te hark met sy stewel.
Mense het Carlo heeltemal verkeerd, flits dit deur Allan se kop, dis nie dat hy nie wíl nie; Carlo wíl, maar hy kán nie …
… en ’n drietal Bulle ploeg bo-oor Allan met genoeg wrewel dat hy weet sy skrumskakel, Eddie Windvogel, was nogmaals heeltemal te vinnig vir hulle.
Allan sien hoe ’n Bulls-skoen reg maak om hom in die gesig te skop, hou sy kop vinnig vas en hoor dan een van die stemme wat hy op aarde die beste ken, wat brom: “Skop hom en ek fokken moer jou later dóód, Tyres.”
“Sal nie, Chippa, fokkit, man,” hoor Allan en sien die drie pare Bulls-sokkies dwars beweeg. Toe hy terug op sy plek gaan staan, het Jasper die bal uitgeskop. ’n Flouerige skoppie boonop, en Allan begin by voorbaat sy skouers te rol en homself te staal vir wat kom.
Hy ken sy rugby, ken Allan September; een van die Bulls-lynstaanspringers vee vir Carlo met minagting eenkant toe op pad boontoe en gooi die bal behendig agtertoe voor hy weer begin val.
Chippa van Metzinger skil van voor af en gryp die bal met gemaak kinderlike vreugde – Allan sién eintlik hoe sy ou vriend vir hom grinnik voordat hy deur Jasper van Ellewee se arms hardloop.
Allan sit hom agterna.
Hy was nog altyd aansienlik vinniger as Chippa, maar ná hy hom oor die afgelope twaalf jaar in totaal al ongeveer tweehonderd-en-vyftig keer moes duik, weet Allan September ook maar alte goed daar is g’n manier om dit lekker te maak nie.
Die plus-minus tweehonderd-een-en-vyftigste keer is ook niks beter nie.
Chippa lag sommer kliphard vir hom soos hy sy knieë aspris ’n bietjie hoër pomp, druk ’n elmboog in Allan se gesig sodat niemand anders dit eens sou agterkom nie en slaag daarin om, ná hy val, ’n ekstra tree of drie vorentoe te rol met die Stormers-senter om sy middellyf.
“Wel, hallo, matrosie,” lag hy vir Allan en skuif die bal agtertoe asof dit g’n moeite hoegenaamd is nie, “julle fokken Kapenaars raak ook niks harder nie … doen jy deesdae alles hierso?”
“Jissis, Chippa,” sê Allan en spring op, stamp sy boesemvriend uit die pad om eerste by die aksie uit te kom en vervloek, vir die soveelste maal in sy relatief kort professionele loopbaan, die Westelike Provinsie se werwingsbeleid toe die yslike Bulls-vleuel Ronnie Tshivhase vir die arme Luandré van den Heever teen die kantlyn afstamp dat jy die pawiljoene behoorlik kan hoor stik.
Chippa sou kon help. Om die waarheid te sê, as Chippa maar net vir ons in die Kaap aanhou speel het, was ons nie nou vandag hoegenaamd hier in die moeilikheid nie, dink Allan September.
En as Thando ook nog steeds hier kon wees, was die semi’s ’n volslae formaliteit – wat, semi’s, sommer die eindstryd … jaarliks, ai tog … maar Chippa speel vandag hier vir húlle.
Hulle, die Bulls.
Thando speel vir die Sharks. Daai amperse rastafarianisme van hom het mos nie eintlik destyds gewerk vir die siele in Nuweland se hogere gestoeltes nie.
Sestien, graad tien al het Thando destyds die eerste maal ’n hele Cravenweek bang geskrum. Daarna twee jaar vir SA Skole.
En na matriek, nét toe die hele rugbywêreld gans té entoesiasties aan hom begin neul het, het Thando Mkhaliphi die berge ingevaar en van die aarde af geleer leef, om nie te praat van van die aarde af geleer rook nie, aangesien Broeder Edward en Broeder Morrie darem toe lank reeds ’n paar netjiese Swazi-hibriede buite die grot teen die Steenberg aan die gang gekry het.
Vir die WP was dit alles gans te grillerig.
In Durban het die Sharks egter vir mekaar geknipoog en skouerophalend gewag vir Thando om homself in die berge buite Kaapstad te vind. En toe hy die dag vir eers oorgenoeg dagga gerook en oorgenoeg skorsies en pampoene vir die rasta-gemeenskap van Philippi gekweek het, het hulle hom ’n yslike klomp geld aangebied om onmiddellik na die Ooskus te trek.
Die verwoesting wat Thando die afgelope maand in Australasië saai, het die Sharks tot dusver drie van hul vier wedstryde op ’n taai toer daar help wen. Vanoggend se wen teen die Reds was nogmaals die produk van sy sterk regterskouer.
En Chippa? Té Afrikaans, té uitgesproke, té dikwels raakgesien naby een of ander dronk bakleiery, en gans en al, sommer op die oog af, té traak-my-nie-agtig vir die ringkoppe van Nuweland.
“Chippa van Metzinger? Ja-a-a, hy’s glad nie sleg nie, hoor, maar Chippa is nie … nie … nie ’n markiésspeler nie,” het die WP se CEO aan ’n ontstelde Allan verduidelik dieselfde dag toe die WP-unie besluit het Mkhaliphi en Van Metzinger was oorskatte en oorbodig.
Nét mooi die dag ná hy wat Allan is ’n driejaar-kontrak geteken het.
Mense kom immers na die binnesenter met die goeie hande kyk, of hoe?
Die einste binnesenter byt weer ’n skoot op sy tande, vat die kortste pad na die spoorwegpawiljoen se kantlyn.
Daar’s ’n bevredigende brul om die veld.
Allan September soek daai ekstra tien persent, en Allan September vind dit, soos amper altyd – hardloop hy nog of spring hy teen dié tyd al sulke ente? Die verligting: Arme ou Luandré het darem so ’n biétjie van Ronnie Tshivhase se stoom afgeblaas.
Allan skraap die Bulls-vleuel net neffens die 22, maar soos hy onder Tshivhase se ribbekas inseil, hoor hy Chippa se stem oor sy skouer skreeu: “Hierso, Ronnie, hierso! Binne!”
En dan dieselfde stem: “Whoo-blêrrie-hoo!”
Daar is deesdae baie mense in Kaapstad wat vir die Bulls skree, tot Allan se konsternasie, en wanneer hy dié mense hoor juig, en ’n klomp WP-oudstryders hoor jou, weet hy Chippa het weer dáái haas kotsenswaardige drie-dansie van hom uitgevoer, daai ene wat hy al doen sedert hulle graadagts was.
Daai einste besonder on-Bullerige flambojansie het waarskynlik daarvoor gesorg dat Chippa sy Springbokkleure ’n jaar later verwerf het as Allan en Thando, sy twee beste tjommies al sedert destyds.
“Én julle was natuurlik die regte kleur,” het Chippa laas November geskerts toe hy eindelik ook sy kans gekry het, net voor die drie van hulle ’n skrikbewind in Londen en Parys gelooi het, soos hulle ook al in graad agt begin dink het hulle dalk eendag sou. “Ons wit mense …”
“Nee, Chippa, jy’t net ’n bietjie stadiger as ons twee ontwikkel. Daai ’n wit ding?” het Thando nog geglimlag.
Die einste Chippa draf nader na Allan toe, gooi die bal oënskynlik ongeërg vir die doelskop na sy stelskopper, hou sy handpalm boontoe oop in ’n verspotte basketbalstyl en sê in die verbyhardloop vir Allan: “Praat agterna! Ons twee moet darem nou wragtig weer ’n skoot saam kuier, my broer!”
Allan kan net “Ja-ja-ja, sal” brom en by sy gebomskokte spanmaats gaan staan. “Toe nou,” sê hy. “Ruk julle reg! Daar’s net een punt in dit …”
’n Brul oordonder hom.
“Drie punte,” sug Luandré van den Heever.
Die dreigende reën bars skielik weer met geweld los.
“Drie blêrrie punte, allamagtig, man! Luister nou hier …”
’n Laaste vlammetjie vuur maak dat die Stormers hul afskop terugwen.
Die flank Mervyn Rees skéúr in die middelveld op voordat hy, in lyn met die pale, op die kwartlyn gestop word.
Nog ’n Stormer of drie vat beurte om die bal op te tel en vorentoe te beur en ná die derde ene dit doen, skuif Eddie Windvogel die bal verby Jasper na Allan reg aan sy losskakel se buitekant toe.
Allan knyp sy oë skrefies teen die reën, maak-maak net of hy effens buitentoe beweeg en sien hoe hul senters hom volg.
Dertig sekondes voor die eindfluitjie verbyster Allan weer eens die Bulls-driekwarte, trek die aanval reguit, trap nog ’n skoot buitentoe en wip ’n haas perfekte aangee binnetoe vir Mervyn Rees, met ’n yslike gaping voor hom en tien skoon treë doellyn toe.
Nuweland brom by voorbaat behaaglik.