Читать книгу Kaapstad Karma-Polisie - Louis de Villiers - Страница 6
4
ОглавлениеHy’s al twee jaar gelede vort uit die Kaap, effens teësinnig, bygesê, en Chippa van Metzinger se binneste bons behoorlik soos Allan die draai vat bo-om die hartoorplantingshospitaal, onder Duiwelspiek verby, en De Waal Drive op die onderhange daarvan kies.
“Aaag nou ja,” sê Chippa van Metzinger, “jy speel maar vir ’n ou kak span, maar jy woon darem nog altyd hierso …”
In ’n poging om sy vriend op te beur, beduie hy met gemaakte drama na die ingedrukte middestad in die kom en na die hawe se honderde liggies in die reën.
“Is seker so,” beaam Allan September stillerig van agter die stuur.
“Hoewel, Pretoria is ook nogal mooi. Al daai lang strate. In Oktober. As die jakarandas blom en ons die Curriebeker nogmaals gewen het.”
Die Stormers-kaptein trek sy skouers op, krul sy mondhoeke af. Swyg. Sien uit die hoek van sy oog ’n gebou met sy eie bakkies en dié van Chippa en Thando wat hul gunsteling-wegneemhoender adverteer. Chippa maak ’n paar vrolike geluide by die aansig, wat Allan net dieper laat frons.
“Ai tog, Allan, ek trek net jou been. Moet nou nie dat ons ’n kak ou aand hê omdat julle verloor het nie. Was nie jou skuld nie. Weer fokken eens.”
“Chippa, óns gaan nie ’n kak aand hê nie, ék gaan. En dit wás ook nie mý skuld nie, dit was óns skuld.”
“Wharra-wharra-wharra. Die hartseerste ding is dat jy daai stront glo wat jy praat. Kom speel vir ons, man. Loftus makeer ’n nuwe Liefling,” lag die groot flank.
“Ons kom by deesdae, hierso, dankie. Een aanslaan, vandag, dis al.”
“Ja, maar daai aanslaan gaan altyd van julle Stormers af kom as julle ouens soos arme ou Carlo de Wet op slot aanhou kies. Maar, fokken, áltyd.”
“Carlo is orraait, man.”
“Ai, Allan, as mens, já,” trek Chippa sy skouers op. “Carlo is ’n prins. As ’n mens … As ’n slot, egter … soos my oorle pa altyd gesê het: Jy kan versiersuiker en ’n kersie op ’n hondedrol druk en uit volle bors ‘Veels geluk liewe maatjie’ langs dit loop sing, maar daai kak gaan nie sommer maklik sjokoladekoek word in die proses nie.”
“Hy’s ten minste ’n ordentlike mens. Daai kollega Mauritz van jou …”
“Ja,” sug Chippa, “toegegee. Ek gaan eerder visvang met Carlo as met Mauritz, maar dan – ek sal waarskynlik nooit met enige van die twee gaan visvang nie. Om saam mee rugby te speel? Mauritz. Met myle. Hy is nou nie van die slimste nie, maar ek het Mauritz se pa al ontmoet en dié is ook nie te waffers nie. Mauritz se vrou is nog blêrrie dommer as wat Mauritz is; ek verbeel my daai kind van hulle het nie ’n kans nie.”
Soos altyd, grinnik Allan uiteindelik teen sy eie beterwete vir Chippa se brutale humor. “Sjoe,” moedig hy hom aan, “wat is die teenoorgestelde van ewolusie?”
“Ontwolusie? Jinne, ja, nog so sewe geslagte en die Mauritz-familie begin terug in die bome te klim. Dit tersyde …”
“Noel was ook nie vandag daar nie,” begin Allan so effens ontdooi en sy verskonings poleer. “Anders het ons julle hierdie keer gehad.”
“Noel Barends? Ja-a-a, hy’s nie te sleg nie,” erken Chippa na ’n seldsame paar sekondes stilte. Dan: “Maar jy poep dan net op hom, dan trek hy ’n dyspier. Elk geval, genoeg geblêrrie rugby. Waar kuier ons? Waar klub jy deesdae?”
“Ag, ek gaan loop maar in Langstraat rond. So dan en wan. Ás ek die dag stad toe gaan. Selde. Langstraat is nie rugbywêreld nie. Amper niemand in Langstraat weet wie ek is nie,” sê Allan en begin fokus op een van sy geboorteregte as kind van die Kaap, daai rits regs-links regs-links S-draaie, net voor jy die middestad van De Waal Drive af tref.
Die aand is goor genoeg en die stad leeg genoeg dat hy maklik in Breestraat geparkeer kry en ’n stemmige duim in die lug druk vir die karoppasser in sy geel reënjas. Chippa, wat drie jaar gelede tydens ’n voorseisoen ’n maand of twee vir ’n Franse tweedeligaklub gaan vuisslaan het, probeer ’n geradbraakte weergawe van dié taal en die Sentraal-Afrikaan glimlag breed.
Almal hou van Chippa en Chippa hou van almal; hy wat Allan is, wil net ’n slag met blêrrie rus gelaat word. Asseblief en amen.
Sy moed sak verder in sy skoene toe sy vriend uit Pretoria uitbundig roep: “Kyk, daar sit Wayne!” Hy beduie ’n kort halfblok straataf, na ’n enkeling wat onder ’n sambreel onder ’n balkon probeer om ongeag die weer sy drankie te geniet.
“Wayne?”
“Wayne, man! Wayne Duraan. Wayne die karate-attie.”
“Die Bokke se fiksheid-ou?” sê-vra Allan en sien dan, tot sy verbasing, dat een van Langstraat se uitgedunde clientele op hierdie goor en reënerige aand inderdaad die Springbokke se fiksheidsafrigter is.
Voor hy Chippa kan vermaan, draf dié koes-koes tussen die stadig bewegende karre in Langstraat deur, sit ’n vinger op sy mond vir die kelnerin en maak dan dat Wayne die helfte van sy bier op die sypaadjietafel mors wanneer hy sy hande oor die man se oë hou en hom vra om te raai wie dit is.
Wayne spring orent, swaai in die rondte en punt skoon sy vingers, Bruce Lee-styl, voor hy deur die woede ’n bos van die bekendste rooi hare in Suid-Afrika uit die hoek van sy oog optel.
Hy ontspan onmiddellik, gee Chippa ’n hipermanlike druk, en teen die tyd dat Allan tussen Langstraat se ewige laataandverkeer deur gekoes het, sit die kelnerin al klaar ’n Windhoek Light vir hom en ’n brandewyn-en-Coke vir Chippa neer.
“ … en ek vertel nou juis vir Allan van die Vagina Monoloë,” tel hy Chippa se diep, immer vrolike stem op terwyl hy vir Wayne Duraan hallo sê.
“Hallo, Allan,” sê Wayne. “Hoe gaan dit? Die Vagina Monoloë, Chippa?”
“Dis Chippa se bynaam vir Boychie, Wayne, en dit gaan goed,” sê Allan, so half skuldig, voel dan verlig as Wayne uit sy maag lag oor dié belediging vir sy baas, die Springbokbreier. En wonder, twee sekondes later, hoe lank dit Wayne gaan vat om die grappie met Boychie te deel.
“Wel,” gaan Chippa onverstoord voort, “ek hoor daar word geskinder die Vagina Monoloë dink ek is te jonk vir die All Blacks. Maar ek het dan iewers oor die laaste twee seisoene ’n litteken iewers op my kop van elke liewe enkele een van die All Blacks se hele fokken pak voorspelers én twee van die reserwes gekry. En ene vir sewe uit die tien van die bliksems teruggegee … en teen Engeland en Frankryk in November …”
“Ai, Chippa,” sê Allan, “Wayne probeer ook maar net ontspan, nou gee jy hom hierdie oorvol strooi …”
“Jong,” trek Wayne egter sy skouers op. “Manne. Aag wat, manne. Jonk. Jonk. Toe ek so ’n klein bietjie jonger as julle was, toe kon jy eers op een-en-twintig begin suip. Suip en stem, een-en-twintig. Toe kom hulle so ’n rukkie later agter hulle is nou so diep in die kak, hulle het nodig dat jy op agttien moet kan begin doodmaak.
“Toe protesteer mense jy kan darem nie op agttien doodmaak en op een-en-twintig eers suip en stem nie. Toe werk die Broederbond uit dat dit meer prakties sal wees om die manne op agttien te laat suip en stem as om te wag dat hulle een-en-twintig is voor jy hulle laat doodmaak …”
“Sjoe, Wayne,” onderbreek Chippa, “daai prekie verdien ’n Jägermeister,” en roep vir drie, met Allan wat vergeefs probeer nee sê.
Hulle bêre die ronde, klap hul lippe op die korrekte teatrale manier en stamp man-man hul dopglasies twee maal op die tafel in die gedempte manier wat lank gelede fatsoenlik genoeg geword het dat geeneen van hulle eens wonder hoekom nie.
“Maar moenie worry nie, manne,” grinnik Wayne en vee ’n druppel drank uit sy mondhoek, “ons het ’n lekker ou spanbou-verrassing vir julle.”
“Spanbou-verrassing?” vra Allan senuweeagtig.
“Ja-a-a, so ’n half militêre enetjie, maar moenie worry nie …” Op daai einste oomblik skree iemand straataf iets oor ’n handsak en Wayne skiet daar weg soos ’n koeël uit ’n geweer, trek die sakkeroller twee straatblokke later op die sypaadjie plat.
Allan en Chippa stem saam dat hulle nie hiervoor kans sien op ’n aand uit nie, betaal die rekening en vat Wayne se beursie vir hom. “Ons gaan maar so ’n bietjie rondloop, Wayne.”
“Ja, gaaf. Gou-gou hierdie help uitsorteer,” beduie hy na ’n polisieman wat nader staan, sy kollega reeds op die radio in die vangwa. “Daarna seker maar huis toe.”
“Waar woon jy? Jy OK om te bestuur?”
“Seepunt, Seepunt … natuurlik … ek het nog maar min gedrink,” kry Wayne uit terwyl die sakkeroller op die grond ’n laaste bietjie stoei-stoei in die vergeefse hoop op ontsnapping.
Die twee rugbyspelers maak hulself uit die voete wanneer die polisieman byderhand is om oor te neem. “Sjoe, ek het nou net bekommerd begin raak dat ons aand …” begin Allan.
“Oorgelewer gaan word aan karate-attie Wayne? Jy nou mal? Ons twee gaan vanaand geniet. Al wil jy nou nie herken word nie.”
“Chippa, ek geniet dit net nie juis wanneer ek herken word nie,” skerm die Stormers-kaptein.
Oënskynlik g’n kans daarop as hulle ’n stegie na links binnedwaal en ’n stampvol kroeg sonder ’n uithangbord vind nie. Die grootste held hier dra ’n cowboy-hoed en speel bekfluitjie terwyl hy twee dosyn sampler-pedale met sy voete kielie, sing sulke rockerige country wat die klante gereeld laat whoep-geluide maak en fluit.
En Allan raak vir die eerste maal op die eerste manier verlief, op daai sien-manier.
Sy sit tussen vriende, praat net nou en dan, en dan lag hulle met haar, ’n paar sulke hippierige tipes, ’n swart ou met dreads, ’n ouballie wat almal groet en die pad vat. Gladde koffievel, rooi mond, ronderaambrilletjie en die belofte van ongelooflike borste onder ’n onvleiende trui.
Hy wag nie eens vir aanmoediging van sy kameraad nie; hy gaan sit op die vertrekte ouballie se sitplek. Sy kyk hom so half verbaas aan. “Hallo?”
“Hallo, gee jy om as ek hierso sit?”
“Vry land hierdie, deesdae. Jy kan sit net waar jy blêrrie wil.”
Allan is onmiddellik geïntimideerd. “Skuus, ek is Allan September …” sê hy en hou sy hand uit.
“Ava Reskot Dampies,” sê sy en skud dit, draai dan om en deel in haar vriende se grappie. Sy beduie so oor haar skouer na hom en sê: “Almal, die ou se naam is Allan September.”
’n Langerige kêrel skuins oorkant die tafel raak skielik lewendig. “Allan September! Fokkit, man …” en twee of drie ander deel sy entoesiasme.
“Jy ’n musikant?” vra sy oënskynlik ongeërg.
“Ava! Fokkit, Ava,” sê die langeraat, “Allan September. Dié man is die mán! Weet jy nie eens wie Allan September is nie?”
“Wie is Allan September?” vra sy dan vir Allan. “Wat maak hy dat my vriende so tekere gaan?” Sy glimlag aanmoedigend, wag vir sy antwoord.
“Ek is ’n rugbyspeler …” sê hy en raak drie grade dieper verlief.
“Rugbyspeler,” sê sy, onverhoeds betrap, “O. Ummm …”
“En-ne … wat doen jy?”
“Ek is sekretaresse by ’n NGO. Die Liga Teen Doodstraf, noem ons dit.”
“Liga Teen Doodstraf? Daar is dan nie meer doodstraf nie?”
“Ek werk ook nie vreeslik hard nie,” erken sy en draai dan terug na die gesprek van die vroue langs haar op die bank. Die lang ou begin tussen die drinkers deur stoei en Allan vrees die gesprek oor vandag se Bulls-wedstryd, verskoon homself en begin soek na Chippa. Paartie is oor.
Die bekfluitjiespeler sit sy gereedskap neer en beduie hy vat ’n blaaskans. Voor dié sy eerste sluk bier kan vat, staan daar al ’n sestal rugbykoppe rondom Allan. Chippa het homself op die een of ander manier klein gemaak en langs Ava ingeskuif.
Sy lag uit haar maag vir die groot Pretorianer, sien Allan tot sy irritasie en wens vir die soveelste maal hy kon ook boe of ba sê as dit die dag moet. Hy antwoord geduldig die ondersteuners se vrae, berispe een of twee ouens liggies as hulle iets leliks oor ’n ander speler probeer sê om sy guns te wen en staan en kyk oor hul skouer hoe lekker Chippa met die mooi meisie met die ronde brilletjie gesels.
Maar op pad kar toe omhels hy amper vir Chippa toe dié hom vertel. “Ek het haar foonnommer vir jou gekry, broer. En sy’t my vertel waar sy môremiddag kuier. Dônerweer, liewe ou Allan, as ek my darem ook nie oor jou ontferm het nie …”