Читать книгу Kaapstad Karma-Polisie - Louis de Villiers - Страница 3

1

Оглавление

“M-m-a-a-r-i-a … D-ô-ô-l-lôres,” lees Boy hardop, pynlik stadig soos die groter boot verder en verder suid van Kaappunt af verdwyn op pad terug na Patagonië.

Boy is een van daai ouens wat alles hardop lees, winkelname, padtekens, skuite se name inkluis en dit maak Raymond altyd bedônerd.

Dit nog op ’n klipnugter maag ook, dink Raymond, kyk oos en verbeel hom hy sien die eerste spatsels daglig anderkant Hangklip, agter ’n paar wolke, waar is dit daardie, Walkerbaai? Ja, Walkerbaai se kant toe.

Weswaarts begin bou ’n kouefront.

“Ons sal moet wikkel, Boy.”

“Moerse skuit.”

“Dié kan jy weer sê, Boy.” Raymond delf in sy baadjie vir sy Luckies, bied een vir sy assistent aan, teug diep en tuur skreefoog na die Maria Dolores soos sy in die laaste donker in die algemene rigting van Antarktika verdwyn. “Moerse skuit, maar dié manne het moerse geld.”

“Trek hulle darem partymaal rêrige vis ook? Vis … Kreef … Enige so iets? Enigiets lekkers uit die water? Wonder ek.”

“Tuna, Boy, kos sowat eenduisend vyfhonderd dollar per ton. Colombiaanse marsjeerpoeier? Sowat vyf-en-veertigduisend dollar per kilogram. So, dalk vang daai manne ’n paar visse op pad terug Suid-Amerika toe, maar ek sou nie gebodder het as ek hulle was nie.”

“En tuna raak al hoe minder en cocaine raak al hoe meer.” Boy skud sy kop.

“Einste dié dat tuna al hoe duurder raak en cocaine al hoe goedkoper, Boy. Oor ’n jaar of vyftien, twintig smokkel daai manne op die Maria Dolores heel moontlik tuna hiernatoe. En teen daai tyd het ek en jy hopelik al lankal genoeg geld dat ons nie tuna verby Kalkbaai-hawe se cocaine bars van daai tyd sal hoef te smokkel nie.”

“Ek wonder maar net, dis al.”

“En jy sal natuurlik ook nooit die tuna kan afwater met ’n ou Grandpa’tjie of ’n maagpoeiertjie vir babas nie, Boy.”

“Wonder maar net, dis al.”

Die twee staan en suig aan hul sigarette, besef eindelik die klip begin wit raak teen die berge rondom die Baai. Daar’s g’n spoor meer van die Maria Dolores nie en die see is lekker plat, nie ’n briesie nie.

“Boy, dis nie vandag ons werk om te wonder nie. Vandag laai ons op en dan laai ons weer af. Einde van die storie. Ek sal jou sê as dit die dag ons werk is om te wonder, dan wonder ons dat die kak spat. Vat die stuur, ons is haastig.”

“Maak so.”

“Waar’s Lewies?”

“Weet nie. Laas gesien toe ons net klaar gelaai het.”

“Lewies! Waar’s jy?”

“Hierso, Baas,” kom ’n diep stem uit die kajuit; dan ’n kop wat stamp, ’n harde vloek en die res van Lewies se gestalte wat op die dek uitwurm. Hy nies in sy hand, kyk ’n oomblik ingedagte na die produk en vee dit dan halfhartig aan die agterkant van sy jeans af.

“Watse wit korrels sit daar onder jou neus?” skel Raymond. “Jy het mos …”

“Twee van daai sakkies was al klaar gesny, Baas … jy’t dit dan self geproe om seker te maak …”

“Ai, bliksems,” sug Raymond. “Gaan tog net iewers en kry iets om jou mee besig te hou. Ek radio gou dat hulle die lorrie kan stuur.”

“OK,” sê Lewies en snuif so ’n skoot ingedagte, “ek gaan hou vir ou Boy geselskap.”

Die nie meer ver na hul bestemming nie, ’n private jetty tussen Miller’s Point en Smitswinkelbaai. ’n Heerlike plek om te gaan vasmeer as jy die regte mense ken. Raymond ken die regte mense.

Hy jaag die manne aan, kyk ’n bietjie rond oor die blinkblou baai en sien niks wat hom onnodig onrustig stem nie. Raymond verbeel hom hulle kan dit net-net voor dagbreek wal toe maak.

Hy druk sy kop onder die boeg in, staan ’n rukkie en kyk na die stapels verseëlde toksakke doer onder en skud sy kop. Raymond glimlag so breed as wat hy kan.

Nog twee súlke vragte en hy kan ’n provinsiewye pizza franchise en drie of vier klein hotelle begin. Nog drie of vier sulke vragte en hy hoef nie eens nie.

Dalk maar die ekstra rukkie vasbyt.

“Raymond! Raymond!” skree Boy van bo af, duidelik beangs.

’n Polisieboot?

Dié tyd van die oggend?

“Baas! Kom! Baas, hier’s kak!” eggo Lewies.

Raymond swaai om.

Daar’s ’n skip op pad, ’n seilskip, ’n outydse fokken seilskip, ’n moerse fokken outydse seilskip, al sy seile span styf en die ding skiet teen ’n moerse vaart in hul algemene rigting in.

Die ding is omtrent so lank soos ’n rugbyveld en die ding het vier blêrrie maste en die ding se seile is vol, die ding fokof of hy haastig is badkamer toe, dink Raymond.

Maar daar’s dan g’n wind nie.

Die wind … daar is dan nie vanoggend wind nie, g’n niks nie, g’n wind nie, die bietjie wat daar is, is noordwes, kouefront op pad, maar die seile is vol … Die dônerse seile bol vol en die dônerse skip kom uit die suidooste …

Wat de fok, dink Raymond, waar de hel, daar is dan nie ’n windjie oor Valsbaai nie, wat de fok …

“Boy!” skree hy, maar hy sien sy tweede-in-bevel lê bibberend op die dek na die aankomende seilskip en staar.

Stomme ou Lewies het die stuur beet, maak vervaard dat hulle uit die pad uit kan kom.

“Maak gat skoon, Lewies! Lewies! Jissis! Maak gat skoon!” skreeu Raymond en Lewies behaag so goed hy kan, trek die enjin voluit oop en draai stuurboord, mik skoon verby Simonstad in Glencairn se rigting.

Raymond vis onder die boeg vir sy AK, wat kan hy nou anders, en toe hy bo uitkom, geweer gespan, sien hy.

Niks.

Daar’s niks.

Die skip skoonveld, die see so plat soos vaneffe.

Raymond knip sy oë, kyk weer, niks.

Net ’n donkerpienk gloed soos die son agter Sir Lowry’s Pass oorkant die Baai opkom, slegs die plat silwer water wat jy net hierdie tyd van die oggend of hierdie tyd van die aand kry.

En Lewies is teen ’n snotspoed op pad na ’n klompie rotse net voor Vishoek. “Wat de fok doen jy, jou fokken skaapkop?” skreeu Raymond op hom, en dis sy fatale fout.

Lewies, doodbang vir sy baas, swaai om om te verduidelik.

Maar hy los nie die stuur nie en die boot swaai dronk bakboord, tol so hittete en tref iets sy-aan met die allerverskriklikste slag, ’n skrale sekonde nadat hulle al drie onder die boeg in gekoes kry.

Die boot begin sluk soos ’n alkoholis, maak so ’n liederlike skurende skreeugeluid en kom dan langsamerhand op die bodemsand tot ruste.

Dis ’n hele paar oomblikke langer voordat Raymond tot verhaal kom.

“Uuuuuuuuuh,” hoor hy Boy iewers vandaan sê, sien dan hoe die bloed uit ’n sny op dié se voorkop kom. “Uuh.”

“Eina fok fok fokkitie fok fok fok fokkitie fok fok fokkitie eina,” prewel Lewies.

“Boy,” sê Raymond, “Boy! Ruk jou reg, allamagtig! Bind daai blêrrie ding toe en skrik wakker. Lewies, jy kan later seer voel. Ons het perde! Groot fokken perde …”

Die dag breek.

’n Paar hengelaars staan so ’n honderd treë daarvandaan langs die treinspoor na hulle en afkyk, vislyn vir eers minder interessant.

Een van hulle skree iets, beduie vervaard na sy selfoon. Raymond trek sy skouers vir die visserman op, beduie hy kan nie hoor nie en die man skree weer, dié keer harder.

Daar’t ewe skielik ’n wind iewers vandaan opgesteek, van voor oor die berge, noordwes.

Hy maak uit “Seeredding … gebel …” en besef hulle sal hul litte moet roer as hulle nie die volgende paar jaar in die tronk wil kaboemielies eet nie, om van al die selfs onplesieriger moontlikhede nie eens te praat nie.

En al kom hulle vandag hier weg, begin hul probleme waarskynlik dan eers.

“Boy, begin gooi die toksakke in die see,” beveel Raymond, “dalk kan ons later iets daarvan red. Lewies …”

“Hulle sal nou-nou hier wees!” kom die hengelaar met die selfoon se stem skielik hard en duidelik in ’n windstil oomblik oor die water aangedrywe.

“Fok!” sê Raymond. Die dag begin sleg vir jou as jy op die Nasionale Seereddingsinstituut vloek, dink hy. Hy verbeel hom hy sien die wit boot al in die verte. “OK, Boy,” sê hy weer, “begin gooi die toksakke af. Ek kom help. Lewies …”

“Ja, Baas?”

“Voor jy my en Boy help afgooi, kap jy gou eers vir ons die drie vetste lyne wat jy al in jou lewe van gedroom het.”

“Alte seker, Baas,” sê Lewies stralend, sy bui genoegsaam verander deur die vooruitsig van ’n lyn kokaïen so lank en dik soos ’n baba se arm dat hy vir eers vergeet in watter penarie hulle hul bevind.

Boy gee die toksakke uit die kajuit aan, Raymond gooi oorboord. Darem seker waterdig genoeg, praat hy homself moed in, darem seker genoeg te redde dat ons nie voor die einde van die naweek met ons gatte sal hoef te betaal nie.

Hy hoor ’n yslike gesnork van binne af.

Lewies skree triomfantelik: “Yee-ha!”

Raymond weet hy sal die volgende uur of vier waarskynlik kan baat by die selfvertroue en wakkerheid wat ’n dik lyn kokaïen hom nou sal bied, en gaan neem sy beurt.

Lewies het Raymond letterlik opgeneem: daar lê twee lyne halfpad so dik soos die kalk langs ’n rugbyveld en wag op hom en Boy. Hy wil-wil iets sê, dink dan dit sou tydmors wees en druk die styfgerolde vyftigrandnoot in sy neusgat. Hy moet soos ’n werfhoender skrop om alles opgesnuif te kry.

Terug op die dek sien hy weer die wit boot, naby genoeg dat hy dié keer die NSRI-vlaggie sien, en gooi met hernieude ywer sakke van die boot af.

Daar’s nog sowat agt toksakke in die boeg wanneer die NSRI teenaan kom en toue begin oorgooi.

Boy het ook nog nie sy lyn gesnuif nie, dink Raymond.

’n Paar honderd onplesierige gedagtes skiet soos ’n pynlike knal deur sy sinusse sodat hy wens hy’t sy Voltarens onthou.

Gelukkig het hy sy selfoon. Hy begin vervaard skakel.

Kaapstad Karma-Polisie

Подняться наверх